Thursday, May 24, 2007

God en God se tuin. Oor groen spiritualiteit

Die eerste maal is ons in Nederland in die lentetyd wanneer Keukenhof besoekbaar is. Ons drie val vroeg-oggend in die pad, stasie toe. Met die trein tot in Schiphol en vandaar per bus tot by die voorhek van Keukenhof - met nog skaars iemand in die omgewing.

Dit is vir ons, plein boere uit die land van die son, sommer net winterkoud, maar as 'n mens leer om die halfvol-glas houding in te neem, is dit 'n Hollandse lente-oggend. Koel, sonder byt in die lug, maar jy moet 'n trui aanhou.

Eintlik is ons 'n week te laat. Van die April-dae hier in 2007 was die warmste ooit in heugenis. Almal praat globale verwarming, en al is ek 'n grasgroene, is ek maar dankbaar want my lyf wil nie met koue saamboer nie.

Ek vermoed die tulpe het hul hoogtepunt gehad, want hier en daar is 'n bedding haasbek met Hollandse werkers wat begin uitsny aan dooie kolle. Maar dit is nogtans verruklik mooi. Dit is nie verniet dat die eerste plek waar mense gewoon het en dan nog in God se teenwoordigheid, 'n tuin was nie.

Die kleure van die tulpe is tegno. Die tekstuur van die blomme smeek jou om jou vinger daaroor te streel. Die kelke is eenvoudig, gekrul, gesplit, dubbel, driedubbel. Die tyd dat 'n tulp 'n tulp was is verby. Nou is dit 'n tulpebasaar, 'n mengelmoes van die gewone tot by die eksotiese: Daar is kleines en grotes, langes en kortes, staankoppe en hangkoppe, in kleure wat 'n mens nie met blomme verbind nie. Pure skoonheid . Dit is 'n simfonie van kleure en vorme.















Langsamerhand kom daar warmte in die lug, soos die tyd aanstap. Ons dwaal deur die tuin, neem foto's, soek tulpe uit, verwonder ons, vergaap ons, word stil, weet nie waar om oral te kyk nie, draai terug, doen weer 'n rondte, praat oor vorige tulpe en ons dag word voller en voller, ryker en opwindender.

En na die oop, stil oggend, daag die hordes, hordes mense nou op. Toeristebusse wors hulle uit en in strome vloei hulle oor die paadjies. Jy moet jou loop begin ken. Die tuin word 'n toring van Babel. Jy vergaap jou nie meer aan die tulpe nie, maar aan die toeriste - die meeste uit die Ooste.

Teen een uur is ons op die bus op pad huis toe. Die toerbusse kom in strome aangery.

Maar ek trek my terug in 'n stil gemoed. Ons is net 'n paar in die gemaklike, netjies, stil Hollandse bus.

Ek dink terug aan my ma wat na hul toer in Nederland by die huis aangekom het en heel eerste oor Keukenhof begin vertel het in die deel van haar wedervaringe.

Die tuin wat 'n mens se gemoed vul, wat jou herinneringe ryk maak, wat beelde by jou laat voortleef.

Jesus was 'n tuinmens. Soos God in Genesis se begin, neem hy ons na die berg en vra ons in daardie stilte om na die lelies kyk. Selfs Salomo, die ryk, uithangerige koning kan hul skoonheid nie ewenaar nie. En die lelies werk nie, hulle spin nie, hulle bodder nie met depressies en angste nie. Hulle is net daar as iets wat mooi is. Wie by God is, is soos iemand wat by 'n tulp staan - jou hart is vol van skoonheid, en, ook, van dankbaarheid. En jy loop vertel by die huis dat van al jou reise oor die aardbol, die eenvoudige oomblikke in God se tuin die mooiste tye was.

'n Tuin? Tulpe? Wat van Madonna in 'n reuse-stadion in Rome waar die rumoer kilometers ver trek, jou in jou kampbedjie in die park langs Rome laat wonder of jy nie na so bietjie opwinding in jou lewe saam met 'n jillende skare sal gaan soek nie. Wat van die sokkerbeker-eindstryd waar 'n enkele doel duisende mense in een oomblik die lug in laat spring? Wat van Disneyworld met sy koeelsnelle karretjies wat jou maag teen jou tone laat vasslaan as hulle wegtrek? Soek dit, man.

Tulpe in 'n tuin op 'n lentedag. Maar ook dit kan bo-langs bly. Want, besef ek, die tuin van God herinner ons aan hoe God die skepping wou gehad het, wat God met die aarde bedoel het: 'n plek wat in liefde gemaak is deur 'n liefderyke Skepper sodat die groot familie van mense onbesorgd daarin kan woon. Nie die familie is tog die eintlike saak nie, maar die Skepper van die familie. Wie, dan, is hierdie Maker, hierdie Een met die groen vingers, die Bergprediker wat ons naby en styf vashou sodat ons tot die diepste rus kan kom? Hoe bly ek steeds in hierdie mistieke teenwoordigheid? Hoe tog, kom ek weer tot verwondering oor dit wat werklik saak maak?

Die hart van 'n Vader wat soveel skoonheid skep, is soos 'n tulp - Self pure skoonheid.

















Kopiereg: pieter g r de villiers. Kontak: pgdevilliers@mweb.co.za

Blog Archive