Sunday, November 19, 2006

Inspuiting en alarm: Immauel

Seuntjie, vertel Elizabeth, het hom letterlik stom geskrik toe die rookalarm in hul Dallas-huis afgaan. Hy het heeltemal verstyf en stokstil bly staan. Sy het getroos en bemoedig, opgehef en bygestaan, moederlik en ontfermend. En hy het verstaan, maar die skrik was nie minder nie.

Vroeër die week het hy gegaan vir sy inspuiting en droewiglik, met totale oorgawe gehuil, geskree. Tuis, met aandete, het sy vir pa vertel dat hy darem nie so verskriklik gehuil het toe die verpleegster hom ingespuit het nie. “Nee,” korrigeer hy haar met kinderlike oorgawe en onbesmetheid, “ek het verkriklik hard gehuil.” Hy kan, soos sy pa, maar net by die waarheid hou. Die trauma moet sterk aangepak word.

Seuntjie het dus ‘n traumatiese week gehad. Na die alarm uiteindelik stilgeraak het en hy aangaan met sy spelery, kom sy naderhand agter sy hoor hom nie. Sy soek in elke kamer van die huis totdat sy hom uiteindelik in hulle kamer onder die komberse ingekruip, in die donkerte kry. Hy het die veiligheid van die bed, by pa en ma se skuiling, gaan opsoek.

Kan ons tog maar altyd net so ‘n nessie gaan belê as ons getraumatiseer word! En, ons wil nie, ons wil nie ons kinders en veral nie die kleintjies so sien skrik nie.

Maar dan, hoe kan dit anders – die groot leerskool teen ons seerkry en skok, begin kleintyd al. Ons huil en ons kan die warmte van veiligheid opsoek. Ons moet daardeur. Niemand en dan ook geen enkele een, selfs die kleinstes en die onskuldigstes onder ons kan dit gespaar bly nie. Wat tel is, waar ons gaan skuil en by wie ons gaan huil.

Gelukkig is daar ‘n pa wat kan luister na die hartseer-verhaal, met oorgawe vertel. Gelukkig vir ‘n ma wat gaan soek en so bietjie ekstra liefde na die donker skuilplekkie aandra.

Immanuel.

Spiritualiteit: Jan van die Kruis 3: Hoe lyk iemand aan die begin van die geestelike reis? Die noodsaaklikheid van self-erkenning.

Hoofstuk 1 van die Donker Nag handel oor die onvolmaakthede van die “beginners.” ‘n “Beginner” in die oë van Jan van die Kruis is iemand wat ‘n eerste, unieke ervaring met God ondervind het. So ‘n persoon het nog ‘n groot stuk van haar of sy eerste lewe in hom – die gefokusdheid op jouself, op wat jou lewe makliker en gemakliker kan maak. Dieselfde fokus word geplaas op die besonderheid van die eie godsdienstige werke: hoe gereeld ek bid, hoe gereeld ek stiltetyd hou, hoe vroom my lewe ingerig is, hoeveel ek doen om God te volg. So ‘n persoon is ook sterk gefokus op “sonde”, op mislukkings, gebreke, op eie fale.

‘n Mens moet iewers soos ‘n vlieg op ‘n dak kan sit en na jouself kyk – veral wanneer jy die oorweldigende ervaring van ‘n ontmoeting met God gehad het. Wat het God aan my gedoen? Hoe reageer ek hierop? Hoe lyk die geestelike reis waaraan ek deel begin kry het? is vrae wat ‘n mens nadenkend en stil moet vrae. Dit is ‘n manier om selfondersoek te doen.

Om God te sien! Hoe keer dit ‘n mens se lewe nie om nie. Hierdie aanskoue van wat so totaal anders as ons gewone lewe, die normale is, van die Heilige, die Een wat Volmaak is. Die profete het daarvoor gesidder (Jesaja 6) en gevoel hoedat dit alles in hulle omkeer. Om hierdie God te kan ontmoet, is om geroep te voel, om ‘n getuienis opgelê, ja, selfs opgedwing te word. Niemand kan God teenkom en dieselfde bly nie. Daardie geheimnisvolle, oorweldigende oomblik, die verborge moment, die oomblik van ekstase, wat jy skaars in woorde kan uitdruk, wat jou hart uit jou lyf skeur, wat vir ewig ‘n merk op jou sal laat – die merk van daardie wedergeboorte tot wat jy moet wees en word. In die moederskoot het God my gevorm en my tot nuwe lewe geskep.

Wat ‘n mens moet word in die reaksie op die oorweldigende moment: die entoesiasme van ‘n pas bekeerde kan ongebreideld wees. Dit is pragtig, hierdie nuwe energie en drif wat in ‘n mens losgelaat word. Maar dit is ‘n energie wat jou tot ‘n skokkende self-herkenning dwing. Hoe groot is God, maar ek, hoe kan ek myself in die oë kyk. Vandaar ons innerlike ondersoek – ons fynkam van ons binneste, ons begeerte om met God te praat, om oor God na te dink, om weer en meer by God te wees. Laat die oomblik van ontmoeting, ‘n voortdurende lewensreis word, saam en by U.

In reaksie op ons ontmoeting met God kan ons “ongebreideld” raak. God sien dit raak – en weer eens, is God daar, mistiek en onbepaalbaar, om ons aan die hand te vat en te neem op die reis wat God weet vir ons sal bring waar ons moet wees. En daardie reis is ‘n suiwering, ‘n stroping, ‘n wegneem van alles wat ons dink vir ons goed en gunstig is. Dit is ‘n reis vol onverwagte draaie. Voordat en terwyl ons daardie reis aanpak, wil God dat ons stil terugsit. Soos ‘n vlieg aan die dak, en ons self raaksien. Jan van die Kruis gaan ons daarmee help. Die Donker Nag begin daarom by ‘n beskrywing van wie ons as geestelike entoesiaste is.


Vertaling van Hoofstuk 1:

1. Hierdie donker nag begin siele ingaan wanneer God hulle weghaal uit die staat van die beginners – d.w.s. van die mense wat stil nadink en mediteer oor die geestelike weg. God begin om hulle oor te plaas in die staat van die gevorderdes – d.w.s. die wat reeds aanskou – sodat hulle ook daardeur gaan en kom tot die staat van die volmaakte van die goddelike vereniging van die siel met God.

Om beter te verstaan en te verklaar wat die nag is waardeur die siel gaan en waarom God die siel in die nag plaas, is dit goed om eers enkele kenmerke van beginners uit te spel. Dit word so kort moontlik gedoen, maar dit sal ongetwyfeld vir beginners self nuttig wees. Want wanneer hulle insien hoe hoe swak die staat is waarin hulle hul bevind, sal hulle ter wille van die onskatbare genot van God se liefde, moed skep en verlang dat God hulle in die nag sal plaas – daardie nag waarin die siel versterk en gevestig in die deugde word. Ons staan kortliks hierby stil, maar nie langer as wat nodig is nie om daarna dan oor te gaan tot die behandeling van die donker nag.

Dat 'n mens kan verlang om in die nag geplaas te word! Dat 'n mens kan bid om God se donker nag in te gaan!

Saturday, November 18, 2006

Nouwen oor blydskap en hartseer

Ons geestelike ouers

Nouwen se Dagboek (sien hieronder vir verwysing) bevat op 2 Januarie die volgende inskrywing:

Blydskap en hartseer kan nie geskei word nie.

Wanneer ons ’n ongelooflik mooie natuurtoneel met harte vol vreugde indrink, word ons blydskap dalk getemper omdat ons afwesige vriende mis, met wie ons dit sou wou deel.

Wanneer ons deur smart oorweldig word, kom ons dalk juis agter waaroor ware vriendskap gaan. Blydskap is weggesteek in hartseer en hartseer in blydskap. Albei laat ons groei. As ons hartseer tot elke prys wil vermy, smaak ons dalk nooit blydskap nie. As ons agterdogtig is oor uitbundige vreugde, sal ons diep pyn ook nooit naby ons toelaat nie.

Blydskap én hartseer is die ouers van ons geestelike groei.

'n Mens kan net groei in die geloof, as jy met albei jou voete op die weg agter Christus aanloop. Voete op die aarde. En die realiteite van hierdie lewensweg is dat dit donker en lig, vreugde en smart insluit. Die punt is nie dat jy die realiteit hiervan as 'n stuk lot moet aanvaar nie. Wat saak maak is wat jy daarmee doen. Soos die einde van 2006 nader, kyk 'n mens terug en jy sien hoeveel seerkry die pad agter Christus meebring. En jy weet ook dat daardie sweet-tye jou meer as ander tye gedwing het om vorentoe te kyk - wat doen die Een wat voor loop. En jy sien die opgewekte Gekruisigde - die Een wat nie gehuiwer het om lyding te omhels nie. Maar Hy is ook die Een wat die volmaakte vreugde van die opstanding ervaar het. En as jy dan omkyk en dink aan die lyding van die jaar wat verby is, weet jy in jou diepste hart dat dit jou nader aan God gebring het. Dit het jou goddelike groei laat beleef.

Friday, November 17, 2006

Unieke lyding: spiritualiteit en de Lubac

Henri de Lubac (Paradoxes of Faith, 171) skryf:

Alle lyding is uniek – en alle lyding is dieselfde. Ek moet myself gedurig aan die laaste aspek herinner wanneer ek ly – en van die eerste wanneer ek ander sien ly.

Dit is ‘n eenvoudige stelling, maar terapeuties belangrik. ‘n Mens kan maklik teenoor ander wat swaarkry, die opmerking kwytraak dat jy verstaan wat hulle deurmaak. Kán ‘n mens dit werklik regkry om ander se lyding te peil? En is dit nie die ellendige van sulke maklike opmerkings dat dit ander se lyding intenser maak nie – juis omdat hulle voel dat hulle deur sulke goedkoop bejammering des te meer aan hul lot oorgelaat word?

Minder woorde, mede-Jobsvriende, minder woorde in die aanskyn van ander as swaarkry. Elke mens se lyding het dimensies wat ons nie kan peil nie – is uniek.

En dan aan die ander kant is daar die verdrinkingsindroom: ek gaan onder aan my lyding. Niemand, dink ek, het nog ooit deurgemaak wat ek deurgemaak het nie. En is dit nie die ellendige van hierdie soort lyding wat omslaan in oewerlose selfbejammering, dat dit lyding net meer uitsigloos maak? Minder self-flagellasie is soms ook nodig – net daardie gepaste relativering van my donkerte wat my op my voete kan hou. Ek is nie die enigste een wat al hierdie pad geloop het nie.

Aan die kruis op Golgotha was daar die “ek het dors”-oomblik, die selfbewuste moment van eie konkrete lyding. Daar was die oomblik van vyandsliefde (vergewe hulle!) met sy uitreik en omgee vir ander. En dan, dan was daar die oomblik van gebed – die hand uitsteek na boontoe. Dit is miskien die dieptepunt om by te bly: om in ‘n mens se godverlate lyding uit te reik na die Ander, weg te kyk van jouself, selfs al is die donkerte verstikkend om jou, jou blik weg te draai van al die simpatiseerders – in die rigting van die Een wat wéét, wat by my bly in my lyding: “In U hande...” Wat ‘n veilige uitkoms, want wee ons as ons in ander mensehande beland, of, nog erger, onder ons eie hand deurloop.

Thursday, November 16, 2006

Spiritualiteit en Nouwen : Verrassing

Uit:
3 Minute stilte by God. ’n Jaar se gedagtes oor wysheid en geloof. Vertaal deur Pieter G R de Villiers. Gepubliseer deur Lux Verbi in 2000. Vir bestelling van 'n kopie, skryf aan pgdevilliers@mweb.co.za

Ek het dikwels gepuzzle oor die eerste dagstukkie in Nouwen se indrukwekkende Dagboek. Die Afrikaanse vertaling lui so:

1 Januarie

Verwag ’n verrassing!

In elke dag is daar ’n verrassing.

Maar net wanneer ons dit te wagte is, sal ons dit kan sien – of hoor of voel – wanneer dit oor ons pad kom.

Laat ons nie huiwer om ons oop te stel vir elke dag se verrassing nie, of dit nou tot ons kom as hartseer of as blydskap.

Met so ’n instelling maak ons nuwe ruimte in ons harte oop, skep ons ’n plek waar ons nuwe vriende kan innooi en waar ons ons gedeelde menslikheid met groter oorgawe kan vier.

En mettertyd het ek besef dat daar sekere sleutelwoorde in hierdie gedeelte is: "ons moet dit te wagte wees," "ons moet ons oopstel," ons moet 'n "instelling" hê. Waarom dit hier gaan is die ons innerlike gereedheid vir God se werking in ons lewe.

Ek het vanmiddag 'n lekker muurbal wedstryd gehad: dit was taai, 'n tweestryd want altwee van ons is ernstig om te wen. Ons onthou elke punt, ons praat oor ons foute en ons fiksheid, oor ons inspanning om gesond te bly, oor die terugslae wat oor ons lywe kom, oor ouderdom, oor opwarming. Ons is ingestel op die sport muurbal, want ons weet dit gee aan ons lewe kwaliteit, dit help ons om druk te hanteer, om die skadukante van die lewe te oorleef - ons instelling kweek 'n hele kultuur van gesond bly en skep allerhande sosiale kontakte en verhoudinge.

Maar toe ek terug ry huis toe in hierdie lentetyd, terwyl die lentelug, die sagte son van die bloeityd in die natuur as 'n bietjie van God se wonder-teenwoordigheid oor my tuisdorp hang, kon ek my instel op iets heel anders. By die swembad aangeland, kom daar drie studente uit. Een van hulle is 'n parapleeg, in 'n rystoel. 'n Jong man met twee pelle wat daarop ingestel is om ook hierdie lentetyd in die koel water te baljaar. Hy het sy lyf sekerlik leer aanvaar. Hy geniet normaalweg bloot sy swempie op hierdie laat lentedag, al is sy lewe dikwels sekerlik gelaai met vrae en opstand omdat hy "anders" (?) moet leef as ons wat sommer so maklik in 'n motor kan klim, ons klere kan aantrek, ons muurbalraket kan optel en 'n game gaan speel (of patroniseer ek hom nou? Mense kan ongelooflik naby aan God lewe juis in sulke omstandighede en het nie nodig om jammer gekry te word nie).

Maar tog: Vir 'n oomblik stel ek my in op die ongelooflike voorreg wat ek het om te kan hardloop op die muurbalbaan, die balletjie kan rondjaag, byna my binnegoed kan uitwoel.

Ek moet baie meer dankbaar wees, baie, baie meer, dryf ek weg in my gedagtes. En dan besef ek: Ek is ingestel op my middag, hierdie wonderskone tyd van liggaamlike verkwikking, op wat ek sien, wat ek doen en beleef. Dit beteken dubbele genot, en, die ontdekking, die groeiende insig, die verrassende blootlê van die simpel wete van hoe geseënd ek is. Die instelling self, om op wag te wees, om uit te kyk, die bewyssyn wat 'n mens moet koester - dit is wat eintlik tel, wat jou jou dankbaarheid laat terugvind - selfs al het jy jou muurbalgame (onnodiglik) verloor!

Monday, November 13, 2006

Lewensbande en die dood.

Ek kry vanoggend ‘n e-pos van iemand wat skryf dat hy dalk nie ‘n byeenkoms, gereël vir môre, sal kan bywoon nie omdat sy bejaarde skoonpa sterwend is en hulle vermoed dat die einde vandag nog kan kom.

Gisteraand hoor ek per e-pos die slegte nuus van ‘n vriendin van baie jare, dat sy môre vir ‘n kwaadaardige gewas geopereer gaan word. Sy self vra, kenmerkend vanuit haar predikant-vir-ander wees en haar omgee-ma-van-kinders wese, bloot vir ‘n gebed om krag veral vir haar kinders.

Met die jare bevestig sulke berigte vir ‘n mens hoe fragiel die lewe is – en hoe kosbaar. Maar eerder as om bloot clichee-agtige gedagtes kwyt te raak oor ons vlugtige bestaan wat ons moet koester (Ek kry so ‘n onheilige gevoel as ek in November elke jaar by herhaling hoor – die jaar is al weer op sy rug), roep sulke berigte by my ‘n behoefte op om na te dink oor die baie treurige gevoel wat op my toesak as sulke nuus my bereik.

Vyf jaar gelede moes ek ‘n begrafnisdiens hou van ‘n bloedjong Rhodes student (“in die fleur van sy lewe”) wat verongeluk het. Ek onthou nog goed hoe ek gesteun het op Nouwen se opmerkings oor jongmense wat hul lewe verloor en hoe dit ‘n mens meer skok as normaalweg – want die kapelletjie sit toe vol van sy getraumatiseerde vriende. Nouwen skryf, troostende, dat nie die lengte van ons jare tel nie, maar die kwaliteit daarvan. Iemand kan in ‘n paar jaar meer lééf as ander oor jare heen. Dit is hoe ons die moeilike skokkende dood van ‘n jongeling verwerk – moeiliker as wanneer ‘n ouer persoon skielik sterf.

Dit is sekerlik waar, miskien bloot net omdat dit die mense wat agterbly daaraan herinner dat hulle lewenskwaliteit moet jaag. En tog, bly die gedagtes oor die afgelope vyf jaar by my draal oor daardie boodskap by die begrafnis van ‘n onverwags gestorwe jongman. Want terwyl sy dood my skok en treurig laat voel, ondervind ek by my en in my lewe dat die dood van ouer mense en die lyding van tydgenote vir my swaarder verwerkbaar is – dikwels selfs ongeag hul lewenskwaliteit.

Jare se liefdevolle bande weef ‘n hegte, warme bokhaar-duur kombers waaronder jy kan gaan inkruip in die wintertye van jou lewe, wat jy kan bewonder as ‘n kunswerk in die goeie tye van jou mooi dae. En as dit skeur waneer jy totaal verknog is daaraan, kruip die koue ysterhard en yskoud daardeur. Die skeur wat flarde maak, besteel jou van jou vreugde wat nie sommer op enige ander plek opgetel kan gaan word nie, van jou vreugde wat geknoop as aan honderde herinneringe, duisende gewoontetjies, tientalle sêgoed of net deur ‘n daar-wees-vir-jou.

Dit werk dus nie vir my om te sê dat ‘n mens die dood makliker aanvaar omdat iemand ‘n vol en gelukkige lewe gelei het waneer hy of sy op ‘n bejaarde en ryke ouderdom sterf nie. Die dood bly wreed – dit ontneem mense ‘n Godgegewe steunpilaar, ‘n troos-maat, ‘n praatvriend, ‘n oupa met die lawwe stories, ‘n ouma met die karringmelkbeskuit-kombuis, ‘n eenmaal-in-die-jaar-saam-koffiedrink maat. En as iemand swaarkry en jy sien agter die swaarkry presies daardie onselfsugtigheid (bid vir my kinders om krag), daardie liefde om die welsyn van die ander, dan sny dit skerper as ooit – jy weet watter geryptheid in ouerskap lê in sulke woorde weggebêre en jy wens dit kan anders wees, baie anders. Jy hoor daardie woorde en jy ken, jy weet, jy onthou die ryke bestaan, die gewone, normale lewe waarin dit inpas, die intense gedagtes wat agter hulle skuil, te fragiel, te edel om uitgespreek te word. En hoe weerloos is hulle tog nie teen die swart vuis van lyding en dood nie.

Niemand kan die aanslag weerstaan nie en niemand gaan daarvan gespaar word nie. Lyding en die dood is afgryslik. En die oorwinning in die opstanding ‘n groot, ver, merkwaardige misterie.

Dit is nie vir ‘n mens sommer net maklik om te glo nie, veral nie as jy van liefde ontneem word nie. Daarom, juis daarom moet geloof geskenk word. En die gawe ontvang ‘n mens wanneer jy die liefdevolheid van die versoek om gebed ráákhoor, die wankelrige, maar moedige vashou aan God opmerk (bid vir my kinders), ‘n geskenk van God in die tyd van nood.

Waters het gedreig om my te verswelg, maar U, U was by my. U liefde het my nie verlaat nie.

Sunday, November 12, 2006

Spirituality: Embracing our weaknesses - a voice from Africa

The experience of a religious after a tour of the Cape. Cf : http://capetownnovitiate.blogspot.com/2006_03_01_capetownnovitiate_archive.html
Cape Of Good Hope:

The outing to the Cape of Good Hope is an experience that will never fade from my memory. While I was resting upon the smooth oval shaped rocks, naturally heaped along the beach, and spreading as far as my eyes could see, I noticed certain weeds floating above the ocean like large farms of sweet potato vines. Their leaves, however, were broad and dirty rust brown. They gave the ocean a scary and ugly look.

What impressed me about these weeds was their ability to float and remain still despite the strong sea tides. I also noticed that they were a home for many creatures, and beneath them skilled people went searching for cowrie shells.

Out of this simple experience, I learned how to appreciate my weakness and stand my ground without being a victim of peer manipulation. I also learned that, hidden in our weaknesses and ugliness are many treasures that only openness and welcoming attitudes can unveil.
(Joash Diemo Sigu)

Born in a town on the shores of Lake Victoria in Kisumu, Kenya on 2nd March 978, I, Joash Diemo Sigu am my mother’s fifth child but the first born son in a family of eight children, four of who have died. I grew up in Eldoret Town where I did my schooling. I joined the Christian Brothers’ come and see programme in September 2003.

Innerlike skoonheid: Aap-lelik


Joekie e-pos ‘n foto van ‘n pasgebore bybie van vriende. Die kindjie is skreeulelik, maar duidelik dierbaar en in elk geval diep geliefde deur sy moeder en vader en os en esel en almal wat in hul poorte is, want die foto’s word die wêreld ingestuur. Wat my laat dink aan die ou clichee dat jou kind in jou oë altyd vir jou die mooiste is. Wat my weer laat dink het aan die grappie, in Engeland opgetel vroeër vanjaar toe ‘n Ingelse koerant die funnieste jokes in die wêreld gepubliseer het (hul bron: British Association for the Advancement of Science Laughlab Survey). Volgens hulle is een van die snaakste grappe ooit die volgende een:

‘n Vrou klim met haar baba op die bus. Die bestuurder sê: “Sjoe, dit is darem die lelikste kind wat ek nog ooit gesien het.” Die vrou gaan woedend en diep gebelgd op haar sitplek sit. Sy sê vir die man langs haar: “Daardie bestuurder het my nou net beledig.” Die man antwoord: “Gaan sien hom reg. Dan hou ek solank jou bobbejaan vir jou vas.”

Wat my weer laat dink het aan wat ek nie meer weet waar ek dit iewers gehoor het nie: lelikheid het niks met die uiterlike te doen nie. En dan – die punt: Wéét ons dit tog nie: ons ken hoeveel mense wat eers vir ons lelik was, maar soos ons hulle leer ken en liefkry het, hoe mooier het hulle vir ons geword.

Dis waar, dis waar. Innerlike skoonheid maak mense uiterlik mooi.

(Darem ‘n troos: die drie van ons, skreeulelik met geboorte, was darem toe op die ou end almal mooi kinders). Maar ook dit sien ‘n mens uiteindelik nie raak nie – ‘n mens vra net een ding van die Here, dat hulle naby aan jou innerlik vervuld sal wees.

Spiritualiteit: Salvador Dali en Jan (Johannes) van die Kruis

Die flambojante surrealistiese Spaanse kunstenaar, Salvador Dali, merk in ‘n televisie-onderhoud wat ek ‘n paar jaar gelede gesien het, op sy tipiese manier op dat daar net drie groot kunstenaars in die geskiedenis is – “natuurlik” die sewentiende eeuse skilder Velazquez, Picasso en dan hyself. (Velazquez se skildery van die Kruisiging verdien self ‘n eie bespreking wat hopelik nog hier volg). Sy ekstroverte en omstrede lewensstyl (hy het onder ander snorre versamel - afgesien van sy netjies gekrulde eie snor wat sy uitstaande kenmerk was!) maak dat ‘n mens sy briljantheid, maar veral ook sy “mistieke klassieke fase” (sien http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm) miskyk.

Vir Dali was die mistieke in die gewone sin van die woord al intens aan kunstenaarskap gekoppel. Hy het in sy unieke werk van 1948 oor die skilderkuns vertel van tipiese dinge wat iemand tot 'n groot kunstenaar maak: tegniek, kleur, aanbieding, komposisie, oorspronklikheid. Maar dan voeg hy by, 'n kunstenaar moet nie te eksplisiet wees nie. Daar moet altyd 'n geheimsinnigheid oorbly. Hierdie werk van Dali oor sy eie kunstenaarskap en kuns in die algemeen het die Engelse titel: “The Fifty Magic Secrets of Painting”! Iemand wat só oor die skilderkuns dink, het ‘n besef van die groter, die andere, die transenderende as net dit wat voor hande lê. As 'n mens dink jy het "iets" verstaan, ontdek jy maar altyd dat die egte, die werklike is dat "verstaan" juis so moeilik is omdat ons nooit beheer het nie. Daar is altyd die diepere wat 'n mens nooit ten volle kan vasvat nie. Dit is waarom kuns gaan en - kuns kan hierin juis van die mistieke leer.

Dali is ‘n meester in komposisie. Hy werk met die fynste besonderhede, beplan in detail en skep met besondere presiesheid. Sy skilderye is versigtig opgebou en gelaai met simboliek. Daar is twee baie bekende skilderye met die kruisigingstoneel van hom. Die een (hierbo afgebeeld) wat ook seker een van sy gewildste werke is, het die titel, “Christus van die Heilige Jan (Johannes) van die Kruis.” Hy het dit as gevestigde, bedrewe kunstenaar in 1951 geskilder. Dit hang, van alle plekke, in Glasgow se kunsgalery. Mens moet dus 'n draai ry om dit te kan kom (gelukkige Skotte!).

Dali het, soos die titel duidelik maak, sy werk gebou op ‘n skildery wat Jan van die Kruis gemaak het. Jan van die Kruis het duidelik 'n estetiese kant aan sy lewe gehad. Sy tekening het ongekende invloed uitgeoefen. In die Nederlandse vertaling van sy Donker Nag is hierdie tekening op bladsy 52 opgeneem: Daarop hang Jesus ook kop onderstebo aan die kruis en is van bo-af geteken. Die Nederlandse onderskrif lui dat die tekening opval deur sy groot mistieke simboliek. "Dit vorm 'n nuwigheid in sowel die geskiedenis van die kuns as in die teologiese opvatting van die Gekruisigde." Die tekening is te sien in die karmeliete klooster (La Encarnacion) in Avila.

Vir sommige is dit vreemd dat Dali so sterk op die tekening gesteun het – hy het dan self oorspronklikheid so hoog aangeprys. Maar Dali het het sedert die veertigerjare van die eeu ‘n mistieke fase gehad en daarom is bronne wat hom hierin sou inspireer, te verwagte, te meer omdat Jan van die Kruis 'n Spaanse katoliek was wie se werke so bekend en diepsinning was. Wie Jan van die Kruis ken, kan begryp dat Dali by hom inspirasie gevind het.

Die skildery is reeds al in sy komposisie boeiend en mistiek. Dali, wat deur Picasso die enigste oorblywende Renaissance skilder in die wêreld genoem is, neem hier in sy skildery die Renaissance se wet op goddelike proporsie oor (sien http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm - Dali was ‘n groot bewonderaar van Rafael, die Renaissance skilder). Dink: Leonarda da Vinci se allerberoemde tekening van die Veruviaanse man (die goedgeboude man met die welige bos swart hare wat met uitgestrekte hande in ‘n sirkel pas), om te verstaan dat hierdie beginsel werk met die veronderstelling dat God alles geometries perfek geskape het.

As ‘n mens na Dali se skildery vanuit hierdie hoek kyk, sien ‘n mens die Chistus figuur, ook met uitgestrekte hande( !) uitgestrek op ‘n baie lang, byna uitgerekte kruis wat parallel met die aarde hang, oor meer onder ‘n oop, oneindige hemelruim. Die manier waarop Dali die kruis deur boeiende komposisie in die lug laat "hang" skep die gevoel van oneindigheid, van ruimte wat eindeloos uitbrei, van tyd wat gaan stil staan. Die ligspel, die skaduwee van Jesus se regerhand op die horisontale dwarsbalk, die prominensie van Jesus se skouers, die liggaamlikheid, so sterk en esteties so bevredigend, die oopgevlekte handpalms, die briefie met sy skaduwees bo aan die kruis - alles fyn, presiese detail wat 'n mens van die besondere, die voorhandliggende verplaas na die ondeursigtige, die ewige. Dit bied ‘n boeiende oefening vir nadenke oor die goddelikheid van die Gekruisigde – uitgebeeld met sereniteit as ‘n mistieke, figuur, kop na onder (na die wereld vir wie Hy so lief was?). Daar is suiwer, presiese, argetipiese, skone menslikheid wat juis daarom so goddelik is.

Dit oorweldig mens oor die lig, helder, helder lig wat van bo af op die geboë, sterk, donkerharige hoof van ‘n sterk liggaamlik uitgebeelde Jesus val. Die lig is soveel helderder omdat dit omring word deur ‘n pikswart hemel as agtergrond. Die lig word weer onder die skildery opgetel deur ‘n idilliese, vreedsame prentjie van ‘n hawe met vissers met mistieke, sagte wolke in die hemel bo die meer. Op die oog af wil dit ‘n mens onwillekeurig terugvat na die Meer van Galilea, daar by die vissersdorpie Nasaret. Maar, wie dieper, presieser kyk, sal ontdek dat die toneel ‘n presiese weergawe is van die Lligat hawe, die stil, rustieke vissersdorpie aan die Costa Brava in Katalonië waar Dali gebly het in ‘n huis (mettertyd vergroot deur dit te verbind met buurhuise - hy wou sy paradys daar skep) wat vandag ‘n beroemde museum is. Dali het ook twee skilderye van die Madonna van Lligat Hawe geskilder – en die destydse pous gevra om een te seën. Duidelik dan was die plek, die lokaliteit, die hawe, vir hom ‘n inspirasie, ‘n serene plek, die konteks van sy skeppende werk.

Hier in die skildery word Jesus aan die kruis op Golgota dus getransformeer: daar is harmonieuse kontradiksie, want Golgota is nou Lligat. Deur die skildery só aan te bied dat dit sy oorspronklike konteks transendeer, kom die mistieke, tydloosheid van die kruisgebeure verder los. Die Woord het vlees geword, in ‘n jong, Palestynse man en onder ons, in ‘n vissersdorpie aan ‘n meer kom woon. Hoe nader kan God aan ons kom? Jesus van Nasaret, die kusdorpie aan die meer, is ook by/in Lligat en by/in Gouritsmond. “Saam met die stilte, die sereniteit wat uit die skildery straal word Christus se teenwoordigheid oor die hele wêreld daarmee uitgebeeld” (http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm). Per slot van sake dan: God self het onder ons kom woon....

As ‘n mens die skildery bekyk, tref dit jou dat, soos in Titiaan se Christus wat die kruis dra, die skildery vry is van enige uitbeelding van lyding: Daar word nie bloed, spykers en vernieling geteken nie - opvallend anders as in Jan van die Kruis se tekening waarop die spykers in Jesus se hande prominent geteken is en amper eerste van alles die oog vang. By Dali is die spykers weg, Jesus is gesuspendeer voor die kruis. Sy hande, sy handpalms wat saam met sy skouers 'n sirkel vorm, is in 'n baie stil, teruggetrokke gebaar seenend uitgestrek oor hulle wat op aarde woon. Iets anders is in hierdie skildery aan die gebeur as om die swartheid en swaarheid van die kruis uit te beeld. Die aandag val nie meer bloot net op wat tóé in lyding aan Christus gedoen is nie - die kruis is wel nog daar. ‘n Mens sien nou eerder ‘n ander Jesus, post sy lyding. Dit is die lewende Jesus, wat by ons kom woon, daar op die stil plek waar ons ons lewe elke dag met eenvoud voer, maar ook in gedurige nadenke oor die dieper dinge wat regtig saak maak. Hier is die mistieke, dit wat so inherent deel van Jan van die Kruis se denke was. Jesus, die mooie, maar ook die hemelse, leef sereen-weg by ons in ons dorpie aan die see. Hy weet, Hy kan, omdat Hy self 'n see-mens was.

“The only model that Dalí acknowledges himself to have had is Velázquez, of whom Léon-Paul Fargue has said: “in this universe of affirmed feelings and dreams that is painting, Velázquez symbolises a soul as it should be, violent and meticulous in its forms; it is the art of living serenely”. This art is also Dalí’s art.” (sien http://www.salvador-dali.org/serveis/ced/articles/en_article1.html).

Friday, November 10, 2006

Spiritualiteit en lyding (Thomas Merton)

In die mens wat op homself gerig is, is lyding 'n vernietigende krag. Maar juis wanneer ons uitreik na ander, weg van onsself, kan lyding iets moois van ons maak.

Dit is die punt van die volgende opmerkings uit Merton se "No Man is an Island" (89-90) waar hy skryf oor die gevolge van lyding op ons.

As ons onsself selfsugtig lief het, is lyding bloot iets aakligs. Dit moet ten alle koste vermy word. Dit bring al die kwaad wat in ons is, na vore sodat iemand wat net homself liefhet enige sonde sal doen en ander sal kwaad aandoen net om self nie te ly nie.

Nog erger - 'n mens wat homself lief het en ontdek dat lyding iets onvermydeliks is, kan selfs 'n perverse genot uit lyding put. Hy onthul dan hoe hy homself terselfderty lief het en haat.

In elk geval, as ons onsself lief het, bring lyding selfsugtigheid na vore en dan, nadat ons onsself weggegee het, dryf dit ons om selfs erger te word as wat ons is.

As ons ander lief het en vir hulle ly, selfs sonder dat ons 'n bonatuurlike liefde vir ander in God het, kan lyding vir ons op 'n sekere manier veredel en goed maak. Dit bring iets moois in mense na vore en gee eer aan God wat die mens gemaak het om sterker as lyding te wees. Maar op die ou end kan 'n natuurlike selfsugtigheid lyding nie keer om ons en almal wat ons lief het, te vernietig nie.

Thursday, November 09, 2006

Spiritualiteit: Die verborge omgang: wat regtig saakmaak.

N.a.v. Miskotte (Beumer p.111).

Ons vra dikwels ons vrae oor die lyding in die wêreld en waarheen die wêreld op pad is. Dit is groot en belangrike vrae. Maar daar is iets dieper agter al ons vrae. En as ons antwoorde kry, skyn daar ‘n ander lig oor ons antwoorde. Ons soek en reik uit na lig, na die helder lig. Maar die lig is nie die finale nie. Ons wag op die daad, die groot daad, maar die daad is nie die diepste nie. Ons kan nie hierdie finale en hierdie diepste in woorde vasvang en uitspreek nie. Dit kan maar net gesuggereer word. Ons het iewers 'n aanduiding daarvan.

Die finale en die diepste is Die verborge Omgang. Ons is nooit ten volle bewus van die verborge Omgang nie, maar dit word deur al ons vrae veronderstel.

Om by God te wees, voordat ons ons vrae vra. Om by God te wees voordat en terwyl die antwoorde klink. Om iewers voor God te kan staan, in die verborgenheid, in die stilte. In die binnekamer. Sonder dat ons dit in woorde kan uitdruk. Dit is verborge, dit is gemeenskap met die Here.

Tuesday, November 07, 2006

Spiritualiteit: Die groot dorheid, Miskotte en die dieper werking van die Heilige Gees

Beumer, J. (red.). Als de Hemel De Aarde Raakt. Spiritualiteit en Mystiek.

–Ervaringen– .

Kampen: Kok, 1989. Normaalweg E15, speciale prys E5.


Jurjen Beumer skryf in die boeiende bundel ‘n artikel oor die vraag: “Was Miskotte een mysticus?” Die subtitel van sy bydrae is: “Oor die mistieke en politieke trekke in Miskotte se werk.”

Hy haal as motto ‘n opmerking van Miskotte as 24-jarige student aan: “My eintlike ‘liefde’, d.w.s. fassinering, is tog in die finale instansie die mistiek (veral Eckardt) en na alles wat daarna lyk in die Romantiek, die Duitse Idealisme ens – dit bly die bepalende. Die ander ‘liefde’, d.w.s. die gewetensroep, wat nou onlangs na vore kom: die sosialisme.”

Miskotte (1894-1976) was veral bekend as iemand wat intens en diepsinnig nagedink het oor sulke onderwerpe soos die verhouding van die jodedom tot die Christendom, bybelse teologie, kultuur en literatuur. Hy was iemand wat bekend was daarvoor dat hy baie ingesit het om die teologie van Barth in Nederland te bevorder – dieselfde Barth wat met sy klem op die openbaring wat van buite ons (“direk van bo” –zenkrecht von oben) aan ons geskenk word, dus gevolglik maar bietjie sku was vir die mistiek en vir geloofservaring. Daarom sou dit miskien ‘n bietjie geforseerd kon voorkom om Miskotte met die mistiek te verbind en kan dit as ‘n modegier gesien word omdat spiritualiteit nou so oral gevind word.

Hoe Breumer Miskotte in die essay as mistikus lees, is ‘n eie bespreking werd, maar sy ander opmerkings wat die artikel inlei is boeiend omdat dit nog steeds so waar klink soos toe hy dit destyds in 1989 geskryf het:

Hy skryf oor die “groot dorheid” wat ‘n mens tans in die kerk aantref. Ons hoor nog wel, skryf hy, van hoe die heil jou aan jou hart gryp en ons sê dat ons dit glo, maar die vraag is of ons dit regtig ervaar. En as ons as mense in die kerk nie die “gloed van die geloof” self ervaar nie, hoe kan ons dit dan na buite straal?

Dit beteken nie dat ons nou almal in reaksie hierteen ‘n “hoera-geloof” moet jaag nie. Aan hierdie soort van geloof het ons in ons tyd beslis nie ‘n tekort nie. Ons het juis nie dit nodig nie, want dit is goedkoop. Dit is die tipe geloof wat bo-oor die alledaagse en harde realiteit van ‘n wêreld vol sorge met ‘n “fatale omweg” spring om reg in die individuele binnekamer te beland. Dit is dus ‘n geloof wat ‘n wêreldvreemde verskynsel is wat sy kop in die sand druk.

Let op, skryf hy, hoe ons tot dusver hierdie probleem probeer oplos het en ‘n uitweg uit hierdie geloofsdorheid soek deur elke geloofstema te bevra na sy maatskaplike tersaaklikheid. Dan wil ons elke keer weet: Wat sê ons geloof oor allerhande kwessies in die samelewing? Ons vra dit sodat ons weer ‘n bietjie “vuur” kan terugkry in die kerk en ons geloof lewe vertoon.

Nie dat ‘n mens hierdie tendens moet verwerp of veroordeel nie. ‘n Mens moet dankbaar wees dat mense uiteindelik besef dat die evangelie alles met die wêreld te doen het en prakties verskil maak aan die alledaagse omgewing waarin ons lewe en waarin daar soveel onreg en swaarkry voorkom. Dit is indrukwekkend dat mense besef dat die Bybel iets te sê het oor die prestasiedwang in die kapitalisme waar geld meer werd is as menselewens, waar vroue gedegradeer word, waar wapens massief geproduseer word en waar die natuur toenemend vernietig word. Dit is dus wel tog ook nodig dat ons in hierdie wêreld ons geloof moet ervaar.

Ons kan die geloof dus ook op hierdie manier sien, ja. Maar dan geld die eis dat ons dit altyd weer moet kwalifiseer met ‘n “nietemin.” Ons leef op die snykant van ons geloof aan die een kant en die verskeurende koerant-opskrifte aan die ander kant – dit is die werklikheid wat ons wel in die oë staar. Maar, soos Miskotte skryf, aanvaar ons nie die “majesteit van die feite” nie. Iewers moet ons ons ook inoefen in die perspektief van die nuwe hemel en die nuwe aarde, wil ons leer van die apostels en die profete. In die aanskyn van alles wat oor ons kom, moet ons kan leef met ‘n “nietemin....” Om dit te kan doen, sal die dorheid in die kerk en die dorheid van ons hart moet plek maak vir ‘n nuwe spiritualiteit, vir ‘n inaseming en aanvuring van die Gees (in Latyn: spiritus).

In Afrikaans vertaal, skryf hy: “Stadigaan besef ek dat ‘n progressiewe maatskappy-analise, hoewel dit onmisbaar is en helaas te min in die kerk beoefen word, nie genoeg is vir ‘n nuwe spiritualiteit nie. Ons sal baie dieper moet grawe om die tekens van ons tyd te kan lees. Ons sal ‘onder’ ons analises moet kom en hulle deur die Gees van God se kant af laat belig. As ons nie dit doen nie, gaan die tye ons te lyf. Ons raak vermoeid en afgemat. Ons sê dan: ons sal wel die tydjie oorleef. Dan is ons inderdaad so ver dat ons die Heilige Gees ingeruil het vir die tydsgees. Dan slaan oorgawe op ons toe en het die Christelike gemeente ‘n kopie van die wêreld geword.”

Ek lees hierdie opmerkings van Beumer met ‘n groeiende meelewendheid. Ek verkneukel my in hoe lekker die Hollands lees en hoe poëties die taalgebruik van Beumer klink. ‘n Mens kan vandag nog steeds in Suid-Afrika in 2006 identifiseer met sy opmerkings.

En ‘n mens staan dan nuuskierig nader om na sy antwoorde op die probleem van die geloofsdorheid te kyk. Beumer het soveel verwagtinge ten opsigte van spiritualiteit as die rigting waarin ons moet stap om van ons dorheid weg te groei. Maar, skrywer Beumer, vra ons nou as hy so entoesiasties hieroor skryf: wat is spiritualiteit? Ja, ons besef saam met jou: dit is die werking van die Gees wat ons vernuwe en ons “groot dorheid” tot ‘n einde bring. Ons sien in jou beredeneerde formuleringe iets wat ons herinner aan wat Esegiël so visueel vir ons beskryf het in sy visioen van die geraamtes wat vlees kry. Ons sal uit ons geloofsgraf en geloofsdorheid moet opstaan tot die nuwe lewe.

Maar hóé gebeur dit? Hoe werk die Gees van God? Die spiritualiteit fokus op die transformatiewe geloofservaring – iets gebeur in jou lewe wat jou met totaal nuwe oë en hart vir God in die wêreld te leef.

Met my eie agtergrond waaruit ek kom (verwerp apartheid, verwerp fundamentalisme, verwerp ‘n skewe, verarmde piëtisme), kan ek my instemming op die basiese insig wat hy onderstreep, betuig: die evangelie moet iewers getoets word aan sy maatskaplike relevansie. Dit het ek jare lank geglo. Maar tog knaag die dieper vraag: Hoe spreek ons die groot kwessies van ons tyd aan – armoede, rassisme, diskriminasie, bewapening, geweld. Die kerk en die gelowige moet die profetiese woord daaroor bedink en laat hoor. Maar lank voordat dit gebeur, moet die kerk besef dat hierdie groot kwessies slegs vanuit ‘n “geloofsywer” volhoudend begryp en verstaan kan word. Beumer is reg dat ons dikwels in al ons ywer om die wêreld tog nie veel anders as die wêreld self begin lyk het nie. Die maatskaplike ywer van die kerk kan en het inderdaad dikwels meer vervreem as versoen. Die profetiese kritiek van die kerk kan soms meer vernietig as wat dit opbou – en dit het ook gebeur. Die sosiale aktivisme van die kerk kan dikwels groter leegheid bring as wat dit vervul. Dit is ‘n fyn balans tussen ywer vir die Here in ‘n wêreld in nood en ‘n ywerige geskarrel om mense se wêreldse behoeftes te bevorder en te bevredig. Wat baat dit ‘n mens dat jy al die dinge van die wêreld het, maar jy ly skade aan jou siel, aan wie jy as mens voor God is?

Maar selfs al doen ons alles in egte geloofsywer, moet ons aanstap met die vraag: waar kom die geloofsywer vandaan? Spiritualiteit vertel vir ons dat dit gebore word uit die verhouding met God, daardie oomblik dat jy voor God staan en innerlik “herbore” word tot ‘n nuwe eenheid met God, met die ander en uiteraard ook met jouself. Dit bly immers ‘n geloofsgloed, ‘n ywer, wat jou totaal in beslag neem omdat dit ‘n dinamiese oorsprong en karakter het.

En dan help Miskotte ons inderdaad met sy rits van gedagtes wat Beumer noem en wat die karakter van die geloofsywer invul: die vervreemding, die verborgenheid, die gebed, die versterwing, die verrukking, die verlating, die stilte. Reeds hierdie rits vertel dat dit nie ‘n “hoera-geloof” is nie, dat dit nie ‘n jollie-patrolle triomfantelike reis aan die sy van God word nie, maar ‘n donker, stil, steil, en tog vredevolle reis agter God aan en na God toe.

Ek lees tans Jan van die Kruis en dit beïndruk my hoe sinvol hierdie insigte van Miskotte Jan van die Kruis se “Donker Nag” opvang en aanvul. Maar oor Miskotte se rits volg later meer en oor Donker Nag is ek elders hier onder aan die skryf (al gaan dit stadig....).

Saturday, November 04, 2006

SPIRITUALITEIT: JAN VAN DIE KRUIS (2)

SPIRITUALITEIT: JAN VAN DIE KRUIS (2)

(Johannes van die Kruis)

Vervolg van die vertaling en bespreking van hierdie publikasie (cf. vorige blog).

Boek1

Afrikaanse Vertaling van die Verklaring

“1. In hierdie eerste stansa vertel die siel met watter houding en op watter manier hy moet loskom van sy gehegtheid aan homself en aan alle dinge, en deur werklike afsterwe te sterf aan homself en aan alle dinge, om dan in ‘n lewe van soet en kosbare liefde met God te gaan lewe. Hy vertel hoe hierdie loskom van jouself en alle dinge ‘n donker nag was. Aldus bemerk hy hierdie suiwere aanskouing (kontemplasie), soos later sal blyk, wat in die siel op passiewe manier veroorsaak dat ‘n mens nee sê vir jouself en alle dinge.

“2. Hy vertel hier dat hy die loskom kon volbring danksy die krag en die warmte wat die liefde tot die bruidegom vir hom in hierdie donker nag geskenk het. Hy loof die geluk wat op die weg na God vir hom deur hierdie donker nag ten deel val. Dit het so voorspoedig gegaan dat nie een van die drie vyande (die wêreld, duiwel en die vlees) wat altyd probeer om hierdie weg te versper, hom kon stuit nie. Want die nag van suiwer aanskouing laat alle hartstogte en passies in die huis van sy sinlikheid inslaap en tot stilstand kom, ten minste dan daardie passies en roeringe wat die weg versper. Dit vers lui dan ook:

In ‘n donker nag.”

Nota’s

Om hierdie gedeelte reg te verstaan, moet ‘n mens veral let op die “passiewe manier” waarop die mens tot die liefde met God verenig word. Die donker nag wat ‘n mens moet beleef, dra vrug. God bewerk daardeur in die mens die liefde. Die mens het nie hierdie gawe op enige manier in beheer nie. Dit val hom “ten deel” en word nie deur hom sy deel gemaak nie.

Let op hoe die liefde as soet en kosbaar beskryf word. Dit bring “krag” – nie eers die drie groot vyande kan ‘n mens van God se liefde skei nie. Maar dit gee ook warmte.” Die sterk beskrywing word ook verbind met die vreugde/geluk wat die uiteindelike uitkoms van die donker reis meebring. God word hier met die beeld van die “bruidegom” verbind. Daarom kan die reis ook as “voorspoedig” beskryf word – ten spyte van die feit dat dit ‘n gevaarlike, donker reis is waarin ‘n mens intens worstel met jou mees primêre innerlike drange en begeertes.



(c) Pieter G R de Villiers, sien erkenning van bronne in vorige publikasie

Monday, October 30, 2006

Spiritualiteit: Jan van die Kruis - kommentaar: inleiding (1)

Vertaling van die inleiding tot die kommentaar op Jan van die Kruis se Stansas van die siel:

"Hier begin die verklaring van die stansas wat handel oor die houding en die handelswyse van die siel op die weg van die vereniging in liefde met God. Deur Jan van die Kruis, 'n broeder van die ongeskoeide karmeliete.

"Voordat ons begin met die verklaring van hierdie stansas, is dit goed om te weet dat die siel hulle sing wanneer hy hom reeds in die volmaaktheid bevind. En die volmaaktheid is die vereniging in liefde met God. Die siel het reeds al deur kwellende beproewinge en benouenisse gegaan deur die geestelike inoefening van die smalle weg na die ewige lewe waaroor ons Verlosser in die evangelie praat (Mt.7:14). Dit is die weg wat die siel gewoonlik bewandel om te kom tot hierdie besondere en vreugdevolle vereniging met God. Omdat die weg so smal is en so weinig lang hierdie weg binnegaan - soos die Here ook meld (Mt.7:14) -, ervaar die siel dit as 'n groot vreugde en groot voorspoed dat hy langs hierdie weg tot hierdie volmaakte liefde gekom het, soos dit in die eerste lied besing word. Daarbenewens noem die siel hierdie nou pad heel gepas "donker nag," soos dit ook later in die verse van hierdie lied verklaar sal word.
Verheug dat hy hierdie pad geloop het wat soveel goed vir hom opgelewer het, praat die siel as volg."

Notas:
In hierdie kommentaar word uitdrukking gegee aan 'n spesiale ervaring wat die komponis van die stansas gehad het. Met die stansas wil hy die leser inspireer om ook vir so 'n belewenis oop te wees. Dit is 'n spesifieke en gefokusde ervaring van "volmaaktheid" wat op 'n spesiale manier beskryf word as die vereniging in liefde met God - en ook, 'n paar sinne later as die "volmaakte liefde." Hier gaan dit dus om 'n unieke, besondere liefde wat buite die normale is, wat daarom goddelik is in karakter. Uiteindelik is dit wat vreugde gee, dit wat uniek is, dit wat die hart van die mistiek uitmaak, om "in liefde" by God te wees.

Dit is ook verder nie 'n goedkoop, maklike ervaring nie, want die reis na die liefde van God loop 'n moeilike, berg-op paadjie. Dit is ook nie 'n gewilde, sensasionele ervaring nie, want nie baie mense begeer dit nie. Min hou vol op hierdie kronkelende, uitmergelende reis - dit is iewers soos om in die donker op pad te wees. Die ervaring word net deel van hulle wat as gelowiges bereid is om 'n moeilike, ongewone en ongewilde pad te loop.

Die reis is taai, maar die uitkoms spesiaal: as 'n mens dit goed bedink, besef jy dit gee vreugde en voorspoed.

Van spesiale belang is die aanhaling van Matteus 7:14: dit is 'n gedeelte uit die bergrede as beskrywing van Jesus se program vir sy bediening. Met hierdie interpretasie verbind die gedeelte Jesus se bediening met die ervaring van God se unieke liefde waarna die mens hom of haar moet uitstrek. Dit is nie 'n boodskap oor moralisme nie, dit is nie 'n harde, moeisame pad omdat 'n mens jou so inspan nie. Dit is eerder 'n donker reis omdat dit al die menslike vergroeisels wat die verskynsel van egte liefde bedek, moet wegsny en stroop om ons die ander, volmaakte ervaring van die liefde te laat beleef. Dit is in lyn met Jesus se boodskap dat 'n mens jou bekeer van al jou gevestigde norme en sekerhede om in lyn te kom met wie God is en wat God aan 'n mens gee. En juis daarin gee jy jou oor aan die onsekerheid van die donker, onbekende reis waarheen God jou wil neem en waarvan jy as mens nie die uitkoms kan voorsien nie - alleen maar dat dit 'n reis na die egte, volmaakte liefde is. Die liefde kom nie na 'n mens sonder risiko's nie!

Daar is wonderlike kontraste in die gedeelte: Die pyn van die reis, (kwellende beproewinge en benouenisse) word verbind met vreugde, voorspoed, liefde. Die Christelike reis is nooit triomfantlik nie, 'n spoggerige optog van uitstallerigheid nie. Dit is baie duurder en duursamer - daarom maak dit 'n mens dikwels eensaam, word dit pynlik, maar is dit juis nie sonder vreugde en geluk nie. Die pyn is dus 'n genesende pyn en die vreugde is 'n geluk wat in God gevind word. Daarmee word 'n mens gestroop van wie jy nie behoort te wees nie en omvorm om te deel in die liefdevolle karakter van God.


Hierdie vertaling volg die Nederlandse teks waarna voorheen verwys is. (c) Pieter G R de Villiers

Lyding: Henri de Lubac

"As their refinement and humaneness increase, men invent more and more new ways of making one another suffer - or of tormenting themselves. So, always, is suffering reborn, keener still, from all that tends to extirpate it."
Henri de Lubac, Uit Paradoxes of Faith (San Francisco: Ignatius, 1987, p.171).

Hoe verder ons ontwikkel en hoe mensliker ons raak, hoe meer kreatief en vindingryk word ons in die kuns om ander te laat ly of om onsself te tormenteer. Op die manier word lyding keer op keer herbore, net 'n bietjie meer kragtiger, uit alles wat neig om dit uit te wis.

God, dit wat juis bedoel is om my verby die kwaad te laat beweeg, dit wat my meer na mens laat lyk, dit is ook die voedingsbodem van die pyn wat ek in ander en in my veroorsaak. Terwyl ek smag daarna om lyding te ontsnap, te keer, te oorwin deur sensitief daarvoor te wees, vind ek steeds maar net weer nuwe maniere uit om houe uit te deel. Ek soek dus nie na meer menslikheid nie, na meer groei nie, want hoeveel ek ook daarvan sou besit, sou dit my nie bevry van my inherente drif om seer te maak nie. Meer verstand, kennis, insig, gebed, preke, niks sal my ooit daarvan bevry nie. Die lyding is in my kyk, my blik, my sagte strelende woord, my liefderike woorde.

Hoe, Here, hoe gemaak? Hoe raak ek ooit van hierdie onvryheid bevry? Neem my saam met U as U met my op reis na die plek van vryheid neem.

Neem my saam met U deur hierdie donker nag van die siel.

Thursday, October 26, 2006

Die donker nag


Ek lees Jan van die Kruis, die Spaanse Karmeliet se klassieke en beroemde "Donker Nag" op die oomblik. Hy het geleef in die tweede helfte van die sestiende eeu, was 'n vriend van die ewe bekende spiritualiteitskrywer Teresa van Avila. Na 'n wrede inkerkering deur sy opsieners omdat hy die Karmelitiese orde wou hervorm, sit hy sy hervormingsbeweging voort en stig hy die ongeskoeide Karmeliete-orde.

Die nuutste Nederlandse vertaling van die Donker Nag is 'n teks wat in 2001 gepubliseer is deur SUN / Carmelitana. Die vertaling self is deur Cees Bartels, Marika Meijer en Kees Waaijman met 'n inleiding deur Hein Blommestijn.

Maar hier in die eerste mededeling wil ek net eers die "Stansas van die Siel" wat die uitgangspunt van die kommentaar neerskryf voordat ek dit van naderby bekyk. Die Engelse weergawe kry ek by http://www.karmel.at/ics/john/dn.html uit THE COLLECTED WORKS OF ST. JOHN OF THE CROSS, translated by Kieran Kavanaugh, OCD, and Otilio Rodriguez, OCD, revised edition (1991). Copyright 1991 ICS Publications. Die Afrikaans is my weergawe, met gebruik van die Nederlandse vertaling.


Stanzas Of The Soul
1. One dark night,
fired with love's urgent longings
- ah, the sheer grace! -
I went out unseen,
my house being now all stilled.

Op 'n donker nag
aangevuur deur liefde se diep hunkeringe
- o suiwer genade! -
het ek ongemerk uitgeglip
toe alles in my huis tot rus gekom het.

2. In darkness, and secure,
by the secret ladder, disguised,
- ah, the sheer grace! -
in darkness and concealment,
my house being now all stilled.

In donkerte,
veilig by die geheime leer, vermom
- o suiwer genade! -
in donkerte en verborgenheid
toe alles in my huis tot rus gekom het.

3. On that glad night,
in secret, for no one saw me,
nor did I look at anything,
with no other light or guide
than the one that burned in my heart.

Op hierdie blye nag
in die geheim, want niemand let op my nie,
en ek let op niks nie,
met geen ander lig of gids
as wat in my hart gloei nie.

4. This guided me
more surely than the light of noon
to where he was awaiting me
- him I knew so well -
there in a place where no one appeared.

Dit het my gelei,
helderder as die son op die middaguur,
na waar hy op my gewag het
hy met wie ek so vertroud was,
op 'n plek waar niemand ooit kom.

5. O guiding night!
O night more lovely than the dawn!
O night that has united
the Lover with his beloved,
transforming the beloved in her Lover.

O nag, jy wat my gids is!
O nag, skoner as die oggendstond!
O nag, jy skep 'n band van eenheid
tussen beminde en beminde,
en omtower beminde in beminde.

6. Upon my flowering breast
which I kept wholly for him alone,
there he lay sleeping,
and I caressing him
there in a breeze from the fanning cedars.

Aan my bors, in volle bloei,
wat ek uitsluitlik vir hom behou het
het hy aan die slaap geraak,
en ek streel hom,
'n waaier van seders bring koelte.

7. When the breeze blew from the turret,
as I parted his hair,
it wounded my neck
with its gentle hand,
suspending all my senses.

Die koel bries het van omhoog gekom,
terwyl ek sy hare oopvleg,
my nek verwond
met 'n sagte hand
ver verby al my sinne heen.

8. I abandoned and forgot myself,
laying my face on my Beloved;
all things ceased; I went out from myself,
leaving my cares
forgotten among the lilies.

Ek verloor en vergeet myself,
my gesig teen my beminde aangevlei.
Alles kom tot stilstand; ek het my verlaat,
my sorge agtergelaat -
tussen die lelies vergete.

Monday, October 23, 2006

Titiaan se Christus dra die kruis

Tydens my besoek aan die Hermitage vang my oog, in 'n heel ander deel van die museum as waar die Verlore Seun skildery hang, die skildery van Titian waarin Christus die kruis dra en met 'n doringkruis op, al kykende na die toeskouer, uitgebeeld word. Titiaan, Renaissance skilder wat groot invloed uitgeoefen het op iemand soos El Greco, se skildery hang in die Hermitage. Daar is geen bloed nie... En Christus se kyk.

Dit is 'n deurdringende kyk, trek die toeskouer in met die vraag - waar staan jy t.o.v. my lydensreis?

Die skildery bly hang in my gedagtes - asof Christus na my, op hierdie stadium van my lewe, op 'n spesiale manier kyk en van my iets vra wat ek nog nie helder peil nie. En ek onthou, onlangs, merk iemand op: die evangelie vra bekering, betekenende opoffering, transformasie.

Sunday, October 22, 2006

Rembrandt en lectio divina


Vanaf 30 September tot Maandag 9 Oktober besoek ek Rusland om 'n meestersgraad-kursus aan hoofsaaklik Protestantse studente (meestal predikante) in Sint Pietersburg aan te bied. Elke dag is 'n vol en gelaaid met lesings vanaf 9vm tot 16h00/17h00. Ek doen in die paar dae lekker baie werk met die studente, veral die teologie van die boek Openbaring. Hulle is leergierig en betrokke.

Die kursus is lekker, want ek kom self ook nader aan die teks, veral in die spiritualiteit van die boek. Dit is asof ek hierdie keer meer onder die indruk is van hoe die boek die kerk aanspreek oor die kwaad in sy midde. Jezebel, die vals profeet is 'n leier van die gemeente in Thiatire, maar 'n bron van erge kwaad. Pas maar deeglik op vir hulle wat "in die boesem" van die gemeente gekoester word, skryf Johannes. Ons wat na aan die kerk is, is ook naby, verskriklik naby aan die kwaad. Met die tyd moet ek hard keer dat die idee van die kerk vir my nie totaal ontluister word deur my ervaring van die kerk vanuit 'n menslike hoek nie.

En tog, mooier en aangrypender, ontdek ek gedurende die kursus onverwags die impak van Openbaring 1:5 waar lof aan God gebring word as die Een wat ons "liefgehad" het en ons van ons sondes gewas het. Hoe het ek hierdie sleutelvers tot dusver dan misgelees? Ek wil meer werk aan die motief van die liefde in Openbaring - 'n boek wat te veel met oordeel verbind word, besluit ek summier as ek die teks vir my self toeeien. Juis om die transformatiewe krag van die teks te ontwikkel het ek tydens die week 'n spesifieke sessie met die studente afgesonder waarin ek met hulle praat oor vreugde in Openbaring - 'n egte spiritualiteitsonderwerp. Ek geniet die tema van vreugde, nadat ek in Hongary in Julie daaroor 'n aanbieding gehou het en opnuut weer getref word deur die manier waarop vreugde met liturgie in Openbaring 19 verbind word. Ek kontrasteer die perverse vreugde van hulle wat die evangelie verwerp (Open.11) met die intense vreugde (aggellomai) van hulle wat God se lof besing.Die afgelope tyd bly ek besig met die motief van geluk en vreugde.

Vrydag kry ek 'n kans om weer 'n keer die Hermitage in Sint Pietersburg te gaan besoek, waar ek vir die derde keer by Rembrandt se skildery van die Verlore Seun uitkom, maar ook geboei word deur sy uitbeelding van Abraham se offer van Isak en die afhaal van die liggaam van Jesus aan die kruis. Dit is die sober, ryk kleure waarnee die karakters in die kruisigingstoneel uitgebeel word wat my lank besig hou en diep laat nadink oor die magdom van emosies wat hierdie toneel by die geskilderde karakters oproep. Hulle verslaentheid en rou is groot en intens. Watter ontnugtering, verdwasing en vernietiging moes die dood van die Here nie in hulle lewens meegebring het nie... En as 'n mens jou, a la lectio divina, inleef in elke karakter, dan kan jy indink hoe die boodskap van die opstanding hulle moes getref het. Kan daar groter, sterker intimiteit wees as tussen die een wat Jesus se liggaam versigtig, draend, naby, troosteloos vashou terwyl dit van die kruis afgehaal word? Selfs in U dood, wil ek naby aan U wees...

Die skildery van Rembrand bied 'n goue kans tot sinvolle lectio divina: wie is die karakters? hoe reageer elkeen? watter aspek van die kruisiging word uitgebeeld? waar word dit geskilder? wat is in die kollig en waarom? En soos 'n mens daardeur werk is die opdrag: hoe vereenselwig ek my met die karakter? op watter manier is die karakter 'n uitbeelding van my en my geloofservaring?

Thursday, October 19, 2006

"It's all about life." Moskou en spiritualiteit

Sint Pietersburg, waar ek nou die derde keer kuier (die tweede keer om die M-kursus aan te bied) is 'n mooi stad, maar die Westerse kultuur, die kitskosrestaurante, die jonges se hipperige kleredrag, die selfone wat alomteenwoordig om elke hoek en draai bebel word, die westerse musiek het finaal oorgeneem. Globalisering is nerens meer sigbaar as in Rusland 2006 nie: behalwe dat die Engels gebroke is en die kommunikasie nie altyd vlot nie. Ek begin al tuis raak - ek smelt weg op die moltrein tussen die menigtes en begin al stasies herken al sukkel ek met die Sirillies. Die besoek loop dus gladder as in die verlede.

Dit is eers as ek vir die naweek in Moskou is, dat ek daardie een definierende oomblik van my besoek aan Rusland beleef: Wat staan uit, nadat mens tuis is, in jou gedagtes van 'n besoek aan so 'n ander, vreemde werelddeel? Vir my was dit op hierdie, derde besoek, 'n oomblik in 'n ruimte by God, 'n tydjie in 'n klein Oosterse-Ortodokse kerk in die hart van Moskou se middestad. Moskou is indrukwekkend, met 12 tot 15 miljoen inwoners, reusagtige geboue al is hulle nie lugkliewers nie. Eerder massief in omvang as in hoogte. Rondom die stad hang hierdie reusagtige blokke woonstelle soos die oerske trosse soetdruiwe in Karoo-Hanover se versengende hitte van my kinderdae, diep ingeprent as massief elke keer as ons as gesin gekuier het by tannie Kitty van Poortjiesfontein. Die geboue is klein stede, waar honderde gesinne gehuisves word. My verstand staan stil by die gedagte aan al die mikrokosmosse wat in daardie massiewe plekke bestaan en funksioneer. Hoe leef die massas mense in sulke plekke? Watter lewenskwaliteit kan hulle hoegenaamd handhaaf? Teenoor hulle is die ou kerkie in die middestad minuskuul: by die ingangsportaal 'n tafel met artikels soos ikone. En dan die volledige kontras: Hierdie kerkie self, soos die baie ander ortodokse kerke in die omgewing, gelaai met ikone, oral in 'n oop ruimtetjie ingedruk, staan verdwerg, oordonderd in die groot stad, verwelgd deur die polsende, jaende, maniese lewenspas. Daar is in die kerkies elke dag gereelde dienste en ek stap elke keer weer by een in, asof my siel smag na God. Ek is die Saterdagmiddag 17h00 daar toe die diens begin. Ortodokse gelowiges sit nie op banke nie. Hulle staan so op 'n lot voor die heiligdom waarbinne die priester sy rituele uitvoer. Ek verstaan geen snars van die taal van die sang en die ritueel nie. Reg agter 'n skerm, verskuild in anonimiteit, staan 'n viertal sangers weggesteek en begelei die diens a capella met 'n gesingde ritueel, terwyl die priester dikwels ook self met sy stukke sang deelneem. Daar is 'n paar helder, musikale vrouestemme, maar die basso profundo se ryk klanke vul die hoogs effektiewe akoestieke ruimte en die klanke rol in ryk lae om die ruimte buite en binne jou te vul. Hulle sing die liturgie duidelik, vinnig, maklik, glad geolie. Dit is nietemin 'n gedraagde liturgie, die eeue het een stempel na die ander daarop afgedruk. Musiek is God se manier om ons harte op te tel. Die Oosters-Ortodokse liturgie het 'n manier om treurigheid te besweer en rustigheid te genereer. Ek, Stellenbosse Nuwe-Testamentikus, Westerling, breinkind, voel hoe die vloeiende note by my inkom, insak in donker hoeke van my bestaan en sagte lig maak. Die priesters, almal mans en in pragtige goue klede aangetrek, rond die visualiteit van ikone af, met die wierook wat die sintuig van reuk intrek in die ervaring van God.

Maar vanaand tref 'n verdere stuk visualiteit my: die versameldes is 'n wonderlike potpourri van 'n gemeente. Hier en daar 'n ou vroutjie, maar meestal jongerige mense. Hulle is doodgewone burgers van die land, geen opsigtelikes wat noodwendig aandag trek nie. Hulle loop nou en dan in en uit, maar staan meestal stil en slaan in volledige deelname aan die liturgie elke paar sekondes hewig 'n groot kruis terwyl hulle hul liggame vorentoe buig in gebed of erkenning. Dis duidelik 'n liturgie waarvan hulle deel is en waaraan hulle deel neem. Oorkant my staan 'n jongman met 'n afbeen en leun op 'n kruk: is hy 'n oorlogsveteraan? Hy is alleen daar, verlore in 'n kerk, en sy geskiedenis 'n geslote storieboek wat God aan die lees is.

Na die tyd wil ek 'n ikoon koop. Ek vra een van die teenwoordiges om hulp: hy is jongerig, neig na 'n yupperige voorkoms en help my om uit te vind wat pryse is. Sy Ingels is beperk, maar dis beter as waaraan 'n mens gewoond is in die land. Hy vertel my dat dit verwag word van Ortodokse lidmate om ten minste een keer elke twee weke kerk toe te kom. En toe vra ek hom: But is this important to you? Hy kyk my vinnig aan, duidelik onvoorbereid op die vraag (waarom is jy dan hier, vreemdeling?). En dan, vinnig, oortuigd en met innerlike gedrewenheid antwoord hy: Of course it is important to me, it is all about life.

Ek dink aan die duisende motors wat die lug van Moskou so besoedel dat ek aan die hoes geraak het in die kort tydjie dat ek daar was, die blinkigheid van die nuwe winkels met as hoogtepunt die ongelooflike winkelkompleks vol Westerse top ontwerperswinkels in die beautiful winkelkompleks nogal op die Rooi Plein van alle plekke. Ek dink aan die Westerse hotelkettings wat in massas oral in die binnestad opgerig word, ek dink aan die korrupsie wat in die koerante onthul word, die moorde van donkerkleurige buitelandse studente. Ek dink aan die geweldige pas, die miljoene mense op straat wat van alle dele van Rusland kom om hier werk en geld te soek. Maar eerder hier, op hierdie plek, tussen die ikone, eeue-oud, met a capella sang wat jou hart optel en verhef, vind 'n mens die lewe. Hoe anders dan? It's all about life. Vir my is dit die definierende oomblik van my besoek aan Rusland.

Hoe meer ons sisteme tot stand bring en toelaat dat hulle ons lewens lei, hoe meer gaan ons ontdek waarom die lewe werklik gaan. Daardie stil oomblikke in die klein Plek voor God met ons afbeen en seer binnekant waar die klank van die eeue-oue, vertroude woord en Woord ons gejaagde harte tot stilstand kan bring. Die ruimte, eindig, maar ook eindeloos, waar God woon en gehoor kan word. Die liturgie kan 'n formaliteit wees, ons kan buig en kruise slaan, wierook swaai dat die wolke die kerk vol hang, ons kan ikone aanraak en soen. Dit hoef egter nie alles ydel te wees nie. Iewers, as dit ons maar selfs net vir 'n oomblik bewus maak van die egte, werklike lewe, selfs net vir die kort, eindige moment van herkenning, is dit sinvol, het ons die geestelike lewe, die werklike lewe, ontdek.

Moskou is 'n massiewe stad. Die groot sisteme het gekom en gegaan, met nuwes wat hul plek vul. MacDonalds sit gepak met jongmense wat burgers verorber en oor hul selfone praat. Motors jaag dampe deur die strate. Maar dit is in die sakrale ruimtes, stil van alle tye af net bloot daar vir hulle wat soek, met hul durende musiek, draende klanke, waar ons die egte lewe ontdek, waar die lieflike geur van die Gees om ons hang.

Terug op Stellenbosch kry ek seer, opnuut weer onder houe, onverdiend, voel ek, my toegedien. En nou, laataand, skryf ek hierdie blog in herinnering aan my besoek aan 'n ou, eeuoue, kerkie in die hart van groot Moskou, waar ek deur klank en oog iets van die lewe ontdek het in 'n poging om opnuut weer te peil hoe my geloof my orent hou in sulke omstandighede. Wat is die lewe?, vra ek my die afgelope tyd af, want 'n mens word in jou spiritualiteitsreis deur die kwaad wat so onvermydelik en so onversetlik oor jou pad kom, onverbiddellik teruggevoer na wat werklik saak behoort te maak. En my hart gee al hoe meer die antwoord - wat saak maak is die lewe by God. En dit is die lewe waarin die liefde sentraal staan. Want elkeen wat in daardie Moskou-kerkie op daardie Saterdagmiddag gestaan het, het iewers 'n liefdesband beleef, sou dit minder of meer intens wees. O God, ek staan voor U - vermink. Ek kan skaars regop bly. Maar U ken my verhaal wanneer niemand anders dit wil hoor nie. U luister na my selfs al praat nog net my lyftaal van my wanhoop. U kom na my op die stil Saterdag as alles om my na die dood ruik. As ek die liggaam van Christus in my hande hou, gekruisig, vermink, hoor ek U Gees vir my vertel van die egte lewe, die liefde wat U het, die liefde wat nuut maak, wat optel. In plekke van eenvoud, tussen al die massiewe geboue in, met al die groot aansprake van die groot sisteme, vind ek hierdie liefde, weggesteek, ontroerend aangegee in die suiwer klank van die ewige woord oor 'n God wat ons liefhet. Daar is niks groters as die liefde nie. Dit gee egte lewe.

Thursday, August 17, 2006

Die babawaentjie in die groot sinagoge van Budapest op 9 Augustus in Budapest

Ons laaste dag in Budapest: Elsje vertel vir ons die vorige aand dat Ruth beindruk was met die groot sinagoge in die stad. Ek is verbaas, want dit is my tweede besoek - en ek weet van niks. Met nog 'n halwe dag voordat ons die middag moet vlieg, sit ons twee toe af. Ons skoene is seker halfpad dunner gestap nadat ons die vorige dag die stad platgeloop het - vanaf die stasie al langs die indrukwekkende parlement (met die skoene-monument op die rivierwal!), oor die Donau na Buda se kerk op die heuwel en weer al die pad terug. Die pad voor die stasie af loop reguit op die sinagoge af. Voor ons doem 'n katedraal-agtige gebou op, die tweede grootste sinagoge in die wereld. Ek is onkant gevang, my hele lewe lank ken ek sinagoges as klein, normale gboue. Daar is 'n woelige klomp mense voor die gebou en binne in wemel dit van mense. Voor my loer 'n ortodokse Jood, in swart jas, in in die sinagoge, maar gaan nie in nie. Later hoor ek dit is omdat daar 'n orrel in die gebou is. En omdat 'n orrel ongewens is, word 'n nie-Jood gekry om dit te bespeel!
Ruimtes wat aanspraak maak op sakraliteit appelleer meestal op hoogs verskillende maniere. Hierdie gebou kom rus op jou oog. Die heiligdom voor is in ryk, dieprooi kleure. Reusekandelare hang van die dak af. Heel voor is 'n besoekersboek, byna onopvallend. Die opmerkings is hartverskeurend. Dit is nageslagte uit Amerika en Wes-Europa wat hierdie plek, onder kommunisme tot 'n pakhuis gedegradeer en grootliks beskadig, kom opsoek en vertel van hulle oupa's en ouma's, ma's en pa's. Hongary het een van die grootste Joodse bevolkings gehad en hul traumatiese geskiedenis staan in bloed geskryf.
Langsaan is die museum. Dit is kleinerig. Daar is meestal religieuse voorwerpe in. Heel agter, in 'n donker saal, is daar 'n kleinerig kamer waarin foto's van die tweede wereldoorlog uitgestal is. Groot groepe wat weggevoer word. Drie mense wat deur 'n dokter ondersoek word voordat hulle gehang word. 'n Bekende leier minute voor hy gehang is. Twee mans in nagklere. 'n Groep vroue wat iewers wag. 'n Klomp mense op pad iewers heen, met een vrou wat 'n baba stootwaentjie vashou. 'n Massagraf vol lyke.
Dit is die uitdrukkings op hul gesigte wat in my lewe inkom en ingebrand word: waardigheid, met net hier en daar iemand wat die trane nie kan bedwing nie. Die emosies word in 'n sterk greep vasgehou. Nie 'n enkele glimlag nie. Die gesigte is rou onder die kommer. Vir ewig in hierdie foto's vasgele is die skande van Christelike Europa se slagting van mense wat hul geloofsgoed met hulle deel.
Ek het 'n paar keer in my lewe dieselfde gevoel gekry van intense skaamte, wilde woede, 'n hart wat wil breek onder die skuld: die eerste keer was toe ek op 'n koue wintersdag in Desember 1969 Dachau besoek het en, in 'n dieptepunt, foto's gesien het van die mediese eksperimente wat op gevangenes uitgevoer is en van lyke in die gaskamers. Ek het dikwels daarna daaraan gedink dat dit daardie oomblik was waar ek die ideologie van apartheid herken het en geweet het ek kan nie daaraan deel nie. Die tweede keer was toe ek in Grahamstad by 'n aanddiens moes luister na die "getuienis" van 'n vrou oor die "herlewing" in haar gemeente, terwyl dieselfde gemeente juis in daardie tyd die leraar in die bruin gemeente se salaris te stop omdat hy in hulle oe 'n "onrusstoker" was. Hy het onder andere die bestuurder van Volkskas aangepraat omdat hy aparte toonbanke by sy bank behou het. Die derde keer was in Amsterdam, by 'n uitstalling in die Joodse museum van briefies wat ouers aan hul kinders geskryf het terwyl hulle weggevoer is na die kampe: hou moed, een van die dae is ons terug, was die strekking van die meeste briewe. En twee jaar terug, toe ek Bonhoeffer se briewe uit die tronk gelees het, het dieselfde emosies my geslaan. Dit is sulke tye dat ek die teodisee vraag akuut beleef: hoe gebeur dit dat mense, gelowiges, Christene, in een van die mees ontwikkelde lande tot sulke wreedhede in staat is. En in my verstaan van Openbaring het dit al hoe sterker tot my deurgedring - die rede waarom hierdie boek in die eerste plek vyf van die sewe gemeentes oproep tot bekering - dringende bekering. Dit is 'n boek wat praat van kwaad in die kerk, van die verborge, verligte, aantreklike gesig wat die antichris vir homself opsit om mense te verlei tot 'n aaklige, vernielsugtige godsdiens.
Ek staan in die donker kamer met sy klein uitstalling en dra in my hart blokke van beton.
Op pad uit is daar nog die tuin van herinnering. In die middel staan 'n reuse-beeld van 'n boom met silwer takke en blare. En op elke blaartjie, staan 'n naam geskrywe van 'n slagoffer. 'n Mens sal dit nie sommer raaksien nie. En wie sal nou al die name ooit gaan lees? En tog is dit 'n manier om te onthou. Jou naam, baba in daardie babawaentjie, gestoot deur jou Joodse mams op pad na die konsentrasiekamp, jou naam staan ook op 'n blaartjie. Ek ken nie jou naam nie. En ek weet soms nie of die geskiedenis wat jou babakarretjie vir ons uitwys, ons meer toelaat om te troos dat God jou naam wel ken nie. Of dat jou naam op die palm van God se hand getatoeer is nie. Hoe sal ons dit weet teen hierdie dier van die afgrond se werke in? Maar jou naam staan ook op 'n blaartjie en al die blare saam vorm hier in Budapest 'n silwer wolk van herinnering.
In die sinagoge se besoekersboek is daar op een bladsy 'n paar opmerkings waarin Jode gevra word om hulle eie geskiedenis te onthou wanneer dit by die Palestyne kom. Ek lees dit terwyl die bomme in Libanon ontplof en opnuut weer die kleinste, die kwesbaarste, die verwondbaarste onder ons nie ontsien nie. Iewers in my hart kan ek saamstem daarmee. Ek sug om vrede in die sinagoge in Budapest.
En as ek soms twyfel of God hoor, of sien, of iets voel, dan herinner die dwaasheid van die kruis my van beter. Te midde van al ons geweld, is daar die sterker band, die groter krag van die Liefde.
Ek wil nie praat nie en loop van die boom met sy silwer naamplaatjies na die winkeltjie. Ek koop vir my 'n swart Joodse katotjie met 'n Dawidster vir my kop. As ek die tweede kleinkind doop, gaan ek die katotjie op my kop sit. As 'n simbool van my geloof in die Seun van Dawid en sy doringkroon. Sy bloed wat in die donker gevloei het, word vir my die teken dat God in liefde teenwoordig is te midde van die donkerste geweld. Die baba stootwaentjie op die foto in die sinagoge in Budapest is iewers 'n afbeelding van die Bethelehemse krib. Die kind, die Kind wat op pad is na die dood, maar wat uiteindelik voortleef vir ewig - en ingebrand word in ons kollektiewe geheue.

Blog Archive