Thursday, July 09, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: oor die simbiose tussen Bybelteks en Bybelleser





‘n Vorige geslag van kinders moes in hulle “sondagskool” elke keer ‘n “versie” uit die Bybel uit hul kop leer en vir die “meneer” of die “juffrou” die versie opsê om ‘n punt op die klasregister te verdien. Natuurlik het die gewoonte ook uitgesterf, want daar was kinders wat óf nie die versies wou leer nie óf die nie kon leer nie – dan het hulle “dom” gelyk voor die ander. Of hulle het die einde van die jaar nie ‘n diploma of ‘n seël gekry nie. En menige dominee of onderwyser is deur vies ouers uitgetrap as hulle kinders nie daardie seël by die “prysuitdeling” gekry het nie.

Joodse en Moslem seuns in godsdienstige skole moet enorme teksgedeeltes leer memoriseer – juis omdat besef word watter invloed dit uiteindelik op hul lewens sou kon hê. Ek onthou hoe die ouer geslag maklik groot teksgedeeltes uit die Bybel opgesê het. En dit was in die meeste gevalle nie ‘n kwessie van slimmigheid of afwys nie. Die Bybel was vir sulke mense ‘n leefwyse, nie ‘n ou boek wat op die rak gelê het nie. In die dienste kon ‘n mens dikwels sien hoe mense geliefde gesange en psalms uit hul kop saamgesing het. Prys die Heer met bly galme; O goedheid Gods hier nooit volprese; Op berge en in dale en baie gesange was deel van jou lewe en jou kon enige plek en enige tyd groot dele daarvan sommer maar net so uit geheue gesing het.

Wat ons in die kerk so bietjie verloor het, kontrasteer met wat in die sekulêre lewe gebeur. Ek staan natuurlik verstom oor die jongmense se vermoë om liedjies te onthou en saam te sing (laat staan maar hoeveel flieks hulle ken en watter filmsterre hulle in detail kan bespreek). Kyk maar net na enige popkonsert en jy sien hoe hul lippe die woorde saamsing, van a tot by z en van z terug tot by a. Daar is nie ‘n probleem om versies te onthou nie. En jou mond hang oop, noudat Michael Jackson dood is, hoe sy liedjies die besit van ‘n hele geslag van mense was. Hulle leer nie die liedjies nie, memoriseer dit nie. Hulle leef dit.

Dit was hoe Bybeltekste ook gewerk het. Kyk maar nou net na Petrus se pinksterpreek in Handelinge 2. Groot dele daarvan, vertel Lukas, neem Petrus net so oor uit die Psalms. As hy oor Jesus praat, haal hy lang verse uit Psalm 16 en 110 aan. Hy begin sy preek met ‘n lang gedeelte uit Joël 2:28-32.

Nie net Petrus nie. Toe Dawid self Psalm 16 geskryf het, was hy hart en siel daarin. God “leer” hom die paaie van die lewe, hoor ons. Hy het dus God se wil vir sy lewe ontdek. Nou, wanneer hy oor hierdie wil van God skryf, raak dit hom as mens diep. Hy is met sy hele wese daarby betrokke. Die teks is vir hom nie bloot ‘n leë vorm nie. Of ‘n vervelige teksie wat gememoriseer moet word nie. Wat God leer, bring lewensverwagting (vers 26). Dit verander ‘n mens totaal van wanhoop tot hoop. Die wil van die Here gryp diep in jou lewe in en draai dit volledig om. Kyk veral na Psalm 16:8-11: dit is ‘n psalm waarin die skrywer met hart en siel in sy lof van die Here betrokke is. “Daarom is my hart bly en my tong jubel.” Hier praat ons nie van kop-godsdiens nie. Ons praat van hart-sake en lied-gesange. ‘n Tong wat jubel en ‘n hart wat van vreugde sing. En die aanhaling sluit met die aangrypende rede vir die Psalmis se blydskap: “u teenwoordigheid sal my met vreugde vul” (Hand.2:28). Die Psalmis leef in God se teenwoordigheid en dit raak hom hart en siel en tong.

Petrus sing nou na wat die Psalmis oor God sing. Hy dra hierdie Psalm voor aan die Pinksterskare. “Luister na hierdie woorde!” sê hy in Handelinge 2:22. Duidelik leef Petrus uit die Bybel. Dit is waar hy sy preekstof vandaan kry.

Petrus het duidelik hierdie teks dikwels gelees. Saam met die eerste Christene het hulle gereeld die Psalms bedink. Vir hulle was die Psalms boeke wat in Jesus lewe gekry het. Petrus sing dus die Psalm wat Dawid gesing het. Dubbele vreugde – Dawid s’n word Petrus se vreugde! En Petrus se vreugde was so aansteeklik dat mense wat hom hoor praat het, “diep getref” was (vers 37). Die Ou Vertaling vertaal die meer presies: hulle was “diep in die hart getref.” En toe vra hulle, “wat moet ons doen.” Hulle harte en hulle lywe en hulle lewens is deur Petrus se Skrif-uitleg vasgevang in ‘n onomkeerbare proses van vernuwing. Hulle is deur God se woord getransformeer. Só het hulle die Bybel aangehoor: nie as ‘n teksie wat opgesê moes word nie en waarvoor hulle ‘n diploma of ‘n seëltjie moet verdien nie. Maar as ‘n teks wat op hulle beslag gelê het en hulle lewens in ‘n nuwe koers gestuur het. Petrus, staan daar in Handelinge 2:40 het hulle met baie ander “woorde” besweer en vermaan.” “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Dawid se ontmoeting van God, word Petrus se ontmoeting met God, word die Pinksterskare se ontmoeting met die opgestane Here en Messias.

Ons praat in spirituele hermeneutiek van die simbiose tussen teks en leser. Deur die Woord van die Here vir ‘n pinksterskare te lees en te wys hoedat daardie woord in Jesus se lewe ingetrek was, het Petrus die groot geestelike reis aan die gang gesit. Daarom begin hy sy preek met die asemrowende aanhaling uit Joël: die laaste dae is hier. En nou is die tyd om te profeteer, roep Petrus uit. Om die Woord van die Here te spreek, dit is wat hier op die dag van die Heilige Gees gebeur. En almal sal hierdie profesie bring. Nie net die profete nie. Ook die oues en die jonges, die vrouens en die mans. Die Woord van die Here sal in ‘n lewegewende simbiose met alle mense opgeneem word. Hier word die Woord gelees, geprofeteer, gepraat, bedink, ingeneem, herken, toegeëien en uitgeleef. Alles begin waar mense die Bybel lees, dit hardop doen, in ‘n magtige geluid wat die skares van alle kante laat saamstroom (Hand.2:4, 6, 8) en waar hierdie leeshandeling hulle harte diep raak en hulle lewens vir altyd omkeer. Hier sal jy nie ‘n vreesagtige, soekende Bybelstudie (wat beteken die teks nou?) kry nie. Hier is lewe, transformasie, simbiose, toeëiening.

Ek onthou dat ek op ‘n keer iewers gelees het hoedat iemand wat in ‘n tronk gesmyt is omdat hy geweier het om sy geloof te verraai, vir dae lank wreed mishandel is en in eensame aanhouding opgesluit is. Hy vertel na sy vrylating dat hy in daardie donker sel in groot pyn net by sy verstand kon bly omdat hy aanmekaar vir homself gedeeltes wat hy uit die Skrif gememoriseer het, ook as kind, opgesê het.

Dit is eintlik nie so vreemd nie. Paulus, vertel Lukas ons, het in die tronk in Filippi in die middel van die nag Psalms gesing. Die Woord van die Here kan ‘n stukkende lyf en ‘n gebroke gees nuwe lewe gee. Want wie die Bybelteks geestelik lees, word liggaamlik en geestelik deur daardie Woord begeesterd.

Dalk is dit nie so onsinnig om ons kinders “Bybelversies” te laat memoriseer nie. Dit sal hulle dalk eendag meer lewenskrag bring as Michael Jackson se liedjies.

Wednesday, July 08, 2009

Bitterheid.



Ek het gereeld by die voordeur van die kerk mense voor die diens verwelkom wanneer ek nie die diens gelei het nie. Dit was altyd lekker om op die manier met iemand wat jy normaalweg nie sommer raakloop, hand te skud en vinnig ‘n woordjie van geselligheid uit te ruil. En dit is tog altyd ‘n ervaring om te sien hoeveel welwillendhied kom los wanneer ‘n mens tyd gee vir mekaar, selfs vir ‘n paar sekondes by so ‘n eenvoudige ruimte soos die voordeur van ‘n kerk.

Op so ‘n Sondag-oggend kom twee vroue verby my gestap, al pratende. Die een sê vir die ander een, terwyl hulle al geselsende in die kerk instap, met ‘n helder, besonder bitter stem terwyl sy na iemand anders verwys en terwyl ek nog elke woord kan hoor: “Wat daardie vrou aan my gedoen het, is iets waaroor ek haar nooit ooit in my lewe sal vergewe nie.” En met die woorde verdwyn sy die kerk in waar sy die Naam van die Here gaan aanroep, gaan vereer, dankbaar juig oor haar verlossing, die vergifnis van sonde wat sy genadiglik ontvang het en die nuwe lewe van vergewensgesindheid wat God aan die gemeente skenk, in ontvangs gaan neem.

Om een of ander rede is dit woorde wat sedert daardie tyd, nou reeds seker meer as tien jaar terug, gedurig by my spook. Kan ‘n mens in ‘n kerk loop om in ‘n erediens te gaan sit terwyl jy openlik uitroep dat jy willen en wetens ‘n lewe van keiharde onvergewensgesinde bitterheid leef?

Ek dra hierdie voorval in my om, omdat ek dikwels in myself sulke teenstrydighede koester. Gelowiges het die vermoë om ‘n skisofreniese geloofslewe te voer: ons vra om vergewe te word, maar ons skenk nie vergifnis nie. Ons kom na God as mense wat niks het om oor trots te wees nie, maar ons sien neer op ander wat nie aan ons standaarde voldoen nie. Ons sien die splinter, maar mis die balk. Ons verlang daarna om met ontferming behandel te word, maar ons spaar dikwels ander nie ons bitterheid nie.

Jesus het oor die noodsaaklikheid van vergifnis van ander baie helder gepraat. Moenie eers bid as jy weet iemand het iets teen jou nie. Gaan praat die saak uit en dien daarna die Here. En een van sy mooiste spreuke: julle moet bereid wees om sewentig keer sewe te vergewe.

En die Bybel weet dat bitterheid die vrug is van onvergewensgesindheid. Hebreërs 12:15 lui, “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” Efesiërs 4:31, “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedende word nie.” In Romeine 3:14 teken Paulus die onverloste mense as iemand wie se mond vol vervloeking en bitterheid is.

En toe, die week, hoor ek wat Nelson Mandela gesê het: “Die bitterheid wat ons in ons omdra is die gif wat ons dink ander mense sal doodmaak.” Dit het my diep geraak, omdat dit so helder verduidelik waarom bitterheid dodelik is.

Bitterheid is so erg omdat dit self-vernietigend is – en dit terwyl ‘n mens, ironies genoeg, met jou bitterheid die ander persoon wil straf. Bitterhheid kweek by mense griewe en wrokke, terwyl dit in ekstreme gevalle tot wraak-aanvalle lei.

Bitterheid is ‘n bitter swaar vrag wat jy saam met jou sleep.

Bitterheid maak van ‘n mens ‘n onvrye persoon, dit skep in jou gemoed ‘n doodsheid. Jy word ‘n dor mens.

Bitterheid is so 'n sweer in ons tyd dat sommige kliniese sielkundiges al daarvoor pleit dat dit as 'n geestessiekte gediagnoseer behoort te word.

Om nie bitter te wees nie, om niks teen jou naaste te hou nie, is ‘n teken dat jou lewe so vol van God se teenwoordigheid, van God se genesende liefde is, dat daar nie ruimte vir die broei van bitterhede kan wees nie.

Tuesday, July 07, 2009

Die mistiek van vriendskap



Soms wil jy net die pad vat want almal in die huis vryf jou teen die verkeerde kant op. Jou vrou het jou moedeloos, want sy kou en klou vas aan sekere dingetjies en jou kinders jaag jou teen die dakke uit. Nie eers jou ou getroue hond kan jou uit jou bui kry nie. Dis sulke dae dat jy wonder waarom jy dit ooit in jou kop gekry het om te trou, al weet jy goed waarom.

Dit is dan die tyd om met jou goeie vriend te kuier. Jy bel hom, jy los jou vrou, kinders en hond by die huis, klim haastig in jou motor. Julle gaan speel ‘n potjie muurbal of sit op die dorpshotel se stoep en drink ‘n opfrissertjie. En julle praat eers oor vrouens en kinders wat die vrede in jou lewe ernstig bedreig. En as jy stoom afgeblaas het en jy voel al stukke beter, begin julle bietjie ander goed gesels, want dis nou kuiertyd: geldsake, sportsake, politieke dinge, internet dinge en sommer net alles wat in die gedagtes opkom. Vir ‘n salige uur of twee laai jy die batterye voordat jy gedwee en weer met goeie moed huiswaarts keer om jou gesinslewe van vooraf in die oë te kyk.

Wat sal jy sonder jou vriende doen, dink jy soms.

Wilhelm Jordaan skryf in sy Van Alle Kante-rubriek vanoggend oor vriendskap, hoewel bietjie meer bedaard en mooier. Daar is glo mense op Facebook, skryf hy, wat aanspraak maak dat hulle tot 24 000 vriende het.

Hulle moet hulle koppe laas lees, voel ek saam met Willem.

Hoe kan ‘n mens 24 000 vriende hê, behawe in ‘n wêreld wat nie meer weet wat intimiteit is nie?

Deur die eeue, ook in Bybelse tye, was vriendskap een van die hartare van die menslike lewe. Vir die Grieke en Romeine was dit ‘n uitsonderlike ideaal. Van die mooiste boeke in die geskiedenis is oor vriendskap geskryf.

‘n Mens ag vriendskap soos jy hoog dink oor die huwelik of ‘n ouer-kind verhouding. Elkeen van hierdie drie verhoudinge het sy eie intimiteit: Vriendskap het nie die liggaamlike intimiteit van ‘n huwelik of die vertrouensvolle intimiteit van ‘n familieband nie. ‘n Ma is intiem verbind aan haar seun soos met geen van haar vriendinne nie. En ‘n pa se unieke verhouding met sy seun kan in geen ander relasie teruggevind word nie.

Daar is ‘n intimiteit tussen vriende wat nooit in ‘n huwelik gevind kan word nie. Dit is ‘n intimiteit wat gevoed word deur die deel van ‘n gemeenskaplike perspektief, deur wedersydse aanvaarding, deur ontspanne saamwees, maar wat tog ook gedy op tye van afwesigheid, afstand, selfs objektiwiteit. Dit is juis die gereelde afstand, die nie-onder-dieselfde-dak-woon wat perspektief in ‘n vriendskap bring, wat maak dat ‘n goeie vriend met jou kan praat soos niemand anders kan nie. ‘n Vriend kan saam met jou jou irriterende bure of kollega’s by die werk onder hulle dinges skop. Hy bedink soms saam met jou die lang pad van die tyd, van julle ervaringe saam, die sake wat jy nie met ‘n vrou kan uitpraat nie, die kwellinge waarvan jou kinders nie wil weet nie. En met ‘n vriend kan jy die safari aanpak, die jagtog onderneem, die staptog doen of die wedstryd gaan speel.

‘n Vriend is ‘n vriend wanneer hy sommer net by jou kan kom kuier, sonder om eers te bel om te hoor of jy tyd het. ‘n Vriendin is iemand wat die telefoon optel en die dak oor jou kop afpraat sonder om vir ‘n oomblik te dink sy mors jou tyd. En jy is haar vriendin omdat jy bly gesels al hou jou een oog die horlosie teen die muur so af en toe dop.

‘n Vriend is iemand vir wie jy een woord kan sê en julle verstaan dadelik hoeveel wêrelde word deur so ‘n woord opgeroep. ‘n Vriendin is iemand wat vir jou ‘n kort SMS boodskap stuur met jou verjaardag en jy loop weke daarna nog en glimlag daaroor. ‘n Vriend is iemand wat heimlik dink jy koop die verkeerde motor, maar wat jou desondanks en ten spyte van sulke “foute” nogtans bly aanvaar. Vriende is mense van wie jy wil hoor, by wie jy wil kuier, by wie jy gelukkig is, onbedreigd voel, aanvaar word, waardeer word, kortom, by wie jy ‘n soort liefde optel wat die liefde met jou maat of met jou ouers en kinders of jou broers en susters merkwaardig aanvul.

Niks is so lekker as om by vriende te wees, ‘n aandjie te kuier, om die ditte en datte van die lewe en die ditjies en datjies van die dag met mekaar deur te praat nie. Jy hoef nie jou woorde te tel nie, want dieper dinge as woorde borg jul vriendskap. En jy praat ook nie leë taal, slaan-taal nie, want jul word aan mekaar gebind deur goedheid en omgee. Al sê jou woorde soms inhoudelik min en al kan woorde nie altyd groot dinge doen nie, praat hulle van vreugde oor die saam-wees, oor die gedeelde lewe, oor die ervaring van dieselfde gedagtes, die frisheid van nuwe idee’s, die optel in dae van onmoed en swaarkry.

Vir ‘n vriend kan jy jou hart oopmaak sonder om te voel jy waag iets. Jy kan die masker laat sak, die praatjies maar praat. Jy kan verspot wees, die humor diep loop haal, maar steeds met respek, selfs oor die allerheiligste dinge. Jy kan kritiek gee, sonder dat die bloed loop, jy kan ‘n hou op die ken kry sonder dat jy uitpass. Juis omdat vriendskap eerlik is, is dit genesend en blywend.

‘n Goeie vriend kan ‘n mens gelukkig maak. Dit kan soms selfs ‘n huwelik red!

So ‘n vriendskap is skaars en daarom kosbaar. Daarom is die band tussen Dawid en Jonatan, Jesus en Johannes, Jakobus en Petrus, Paulus en Timoteus so opvallend. Dit is selfs in die Bybel duidelik sigbaar dat twee mense nou en liefdevol met mekaar ‘n lewensreis deel wat anders as ‘n huwelik en gesinsverhoudinge is.

‘n Verlore vriendskap is iewers soos ‘n egskeiding. Dit is ‘n kosbare band wat verbreek is. Soms is jy ‘n vriend kwyt om ‘n onskuldige rede – dalk omdat jy op ‘n ander plek gaan woon. Dan dryf omstandighede jou uitmekaar. Soms verloor ‘n mens ‘n vriend omdat hy of sy trou met ‘n maat wat selfsugtig en besitlik is.

Maar soms verloor jy ‘n vriend weens ‘n onbedagsaamheid wat jou in jou hart verwond. Terwyl kennisse en vreemde mense jou kan teleurstel, kan niemand jou verwond soos ‘n goeie vriend dit kan doen nie. Maar uiteindelik sal die vriendskap iewers op ‘n dag begin waar dit opgehou het. Die wonde sal heel en dalk nog die vriendskap verdiep. Kyk maar na Johannes, die man wat saam met die ander dissipels ook van Jesus in verraad weggevlug het. Maar sy vriendskap met Jesus lei uiteindelik tot daardie mistieke, aangrypende evangelie van hom, geskryf deur die “een wat Jesus liefgehad het.” En hy skryf die onvergeetlike Johannes 15: 13-15: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”

Daarmee vertel Jesus ons iets van die mistieke dimensie van vriendskap: in ons vriendskappe, in ons daar-wees vir mekaar, is ons eintlik iewers soos God wat in mense se lewens inwoon. Vriendskap is ‘n gawe van God. Maar vriendskap is meer as dit, ook die teenwoordigheid van God. Want deurdat ons so beskikbaar is vir die ander, doen ons wat God ook doen. Daarom is vriendskap goddelik.

Monday, July 06, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: Oor hardop lees (lectio)

By skoolkonserte en eisteddfodd’s word gedigte “voorgedra” of opgesê. En dit bly boeiend om te sien hoe verskillende mense dieselfde gedig verskillend kan aanbied.

Iemand wat ‘n geskrewe gedig goed kan voordra, help nie net om so ‘n gedig makliker te verstaan nie, maar maak dit ook vir ‘n mens ‘n spesiale ervaring. Rietfontein se leidam is ‘n pragtige voorbeeld van ‘n gewilde gedig wat iemand dan spook-agtig voordra om by die inhoud te pas. Dit word ‘n lekker, “angsaanjaende” ervaring om daarna te luister. As dit baie goed gedoen word, loop jy maar vinnig na die konsert in die donker saam met jou pa en jou ma na die motor. Die gedig se spokerigheid bly jou nog so bietjie bang maak.

Met spesiale geleenthede soos Pase of Kersfees geniet ‘n mens dit net so om na ‘n pragtige stem te luister wat Bybel-gedeeltes voorlees. Om nie te vergeet van musiek wat dit nog mooier maak nie. Dit maak die dag spesialer as ons met woorde, musiek en deesdae selfs met beelde ons kan inleef in die Bybelse teks.

Die Bybel was oorspronklik bedoel om gehoor te word. Min mense kon in Bybelse tye lees. Hulle moes daarom luister na hoe die enkelinge wat kon lees, die gedeeltes vir hulle voorlees. Joodse lesers van die Bybel het meestal in ‘n kring gesit en dan is Bybeltekste hardop aan hulle voorgelees. Jesus se luisteraars in die sinagoge in Lukas 4 het nie Bybels gehad nie. Jesus het ‘n rol geneem en vir hulle hardop daaruit voorgelees. Net so vertel Openbaring 1 vir ons dat dit ‘n boek is wat voorgelees moes word. Dit beteken dat die Bybel eintlik geskryf is om mondelings aangebied te word. As ‘n mens dus die Bybel “hoor”, ontvang jy dit in die medium waarin dit bedink is.

Selfs mense wat wel kon lees, het ook nie stil gelees nie. Hulle het eintlik die teks vir hulself half hardop gelees. Vandag kyk ‘n mens vreemd op as iemand ‘n teks half hardop lees. Ons sien dit eintlik nog net by kinders. Dit is jammer, want op die manier het “lees” dikwels vir ons ‘n brein-saak geword. Dit gebeur daarom nie maklik dat ons “hart” aangeraak word nie.

‘n Teks kry besondere betekenis wanneer ‘n mens dit hardop vir jouself voorlees. ‘n Mens is in die eerste plek daardeur meer betrokke by wat jy doen. Deur ‘n teks te lees, word ‘n mens se brein, tong, mond en jou hele liggaam betrek. Daarom maak dit sin om partykeer die Bybelse teks eers vir jouself hardop te lees. Dit help vir konsentrasie, maar dit help ook om die teks se betekenis uit te lig. Soos ‘n mens lees, moet jy die woorde weeg voordat jy hulle uitspreek. Kyk byvoorbeeld die sinnetjie: Ek loop deur die huis. Vyf mense kan die sin verskillend lees – “ek” loop deur die huis, ek “loop” deur die huis, ek loop “deur” die huis, ek loop deur “die” huis, ek loop deur die “huis” gee iets van die effek deur: elkeen van die vyf sou eintlik iets anders kon sê deur die klem te plaas op die woord wat tussen aanhalingstekens is. En dit alles gebeur net omdat die teks hardop gelees word.

Bybellees is daarom nie so eenvoudig soos wat dit klink nie. ‘n Mens moet maar goed oplet hoe jy “lees.” Dit kan nogal ‘n wêreldse verskil aan jou godsdiens maak. Dit kan ‘n Bybelse teks op ‘n spesiale manier vir ‘n mens laat lewe.

Ek het voorheen hier geskryf oor die leeshouding wat pas by 'n geestelike lees van die Bybel. As 'n mens die regte instelling het, naamlik dat die Bybel 'n transformerende godsdienstige boek is, is die vraag wat dan? 'n Regte leeshouding word opgevolg deur die eenvoudigste leeshandeling: naamlik om die teks reg te "lees". Lank voordat 'n mens die teks begin verstaan, moet jy dit eers goed hoor. En om dit goed te hoor, moet jy dit hardop lees.

Dit is interessant dat hierdie eerste stap later weer oorgedoen kan word. Dikwels gebeur dit dat 'n mens die Bybel oordink en beter verstaan. As 'n mens dan teruggaan na die teks, sal dit soms beteken jy lees dit anders as wat jy dit aan die begin gedoen het. Maar waar hierdie stap ook al inpas, die verstaan van die Bybel begin altyd eers by die eenvoudigste van alle stappe: om dit duidelik te lees.

Sunday, July 05, 2009

Belangriker as God se gawes

Ons verhouding tot ander mense word dikwels bepaal deur wat hulle vir ons kan “doen.” Ons maak veral moeite om met mense vriende te bly wat vir ons iets voordeligs kan inbring. Ons kan lank vriende met iemand wees, saam met iemand in ‘n kantoor werk, in ‘n span speel, sonder dat ons daardie persoon werklik ken.

Op ‘n dag word iemand vir ons ‘n persoon wanneer ons iets van hom of haar self raaksien. Gewoonlik kom dit as ‘n verrassing, ‘n onthulling en word ons eintlik lief vir daardie een.

Ek dink hieroor na nadat ek in die Cloud of Unknowing ‘n gedeelte oor ons godsdiens lees (sien vorige blog). Ons dink dikwels oor God se seëninge. Ons kyk na die mooi natuur, geniet dit en dink, “God is goed.” Dit gaan goed in ons gesin, ons voel dankbaar oor ons voorspeod en ons dink: “God seën ons ryklik.” Ons dink aan al God se toekomsbeloftes, aan God se genade, aan Bybelse beelde soos die engele, die paradys, die hemel.

Ons kan God se seëninge raaksien. Maar ons kan God miskyk en misleef.

Hierdie insig in the Cloud of Unknowing tref my en bring ‘n verdieping in my geestelike reis: Hoe kom ek op die punt dat ek voor God en voor God alleen te staan kom? Ek wil nie net oor al die goeie dinge van God dink nie. As ek alles wat mooi is onthou en raaksien en begin bepeins, dan moet dit my verder neem na die Een wat agter die mooi is en leef. Ek moet van die goeie gawes na die Gewer self kan beweeg. Ek kan sing oor al die goeie gawes wat van die hemel neerdaal, maar dan is my aandag by die gawes. En vergeet ek dalk die belangrikste: dat ek eintlik God moet aanbid.

Die is soos liefde vir jou ouers. Jy kan dankbaar wees vir alles wat hulle vir jou gedoen het. Al die opofferings wat hulle gemaak het om jou te bring waar jy is, waar jy ‘n eie salarissie verdien, ‘n eie huis besit, ‘n motor kan koop, jou kinders kan grootmaak. Maar al hierdie goed maak nog nie jou pa of jou ma nie. As jy op jou eie bene staan en jou eie lewe voer, dan het jy in elk geval al die gawes wat jou pa of jou ma vir jou kon gee. Maar as jy hulle nie meer het nie, dan mis jy hulle. Want dit is nie soseer wat hulle vir jou gegee het wat saak maak nie, maar wie hulle in jou lewe is. Hulle liefde, belangstelling, geduld, maar veral net eenvoudig hulle daar-wees vir jou. Ag, dink ons, as ek maar net nog ‘n keer by my pa of my ma self kan wees. Net hulle teenwoordigheid kan beleef.

Ons moet oor God op dieselfde manier dink. Ons moet verby al God se gawes kan kyk na wie God self is. En ons moet weet dat sonder God is al God se gawes eintlik sinloos. As ons so verlang na ons ouers, feilbaar en maar menslik, omdat ons by hulle tuis, veilig en geborge gevoel het, hoeveel te meer nie by God nie.

Wat ons moet soek, is die teenwoordigheid van God. Soms is dit daarom ook goed as ons sonder al die goeie dinge moet klaarkom. Want dan ontdek ons dat ons nog baie, baie oor het.

Paulus het dit duidelik vir ons uitgewerk: wat tel is nie wat ons het of wat ons het or alles wat ons verloor nie. Wat tel is God se liefde. As ons by God is, in die liefde, by God self, is ons veilig. Niks, hoe hoog, hoe diep, wie ook al, sal ons kan wegvat van die God van Liefde nie.

Die mistikus soek nie meer na gawes nie. Die mistikus sal selfs die goeie dinge prysgee as hulle die teenwoordigheid van God verduister.

Wat saak maak is nie wat God aan ons gee nie, maar wat God is. Niks mag ons hiervan wegneem nie. Ons mag nie eers toelaat dat God se seëninge ons oë wegneem van God self nie.

The Cloud of Unknowing 5 sluit so af: “Hoewel dit goed is om na te dink oor God se goedheid en God daarvoor te loof en prys, is dit veel beter om oor God te dink oor wie God is en om God te loof en te prys omdat God God is.”

Om oor God te dink, te bly dink, verby al die goeie gawes en seëninge, het ‘n duidelike geestelike invloed op ons. Ek kyk nie meer na God se hande, wat ek uit daardie hande kan ontvang nie, soos ‘n bedelaar nie. Ek kyk in God se oë. Ek staan voor God, van gelaat tot gelaat. En ek woon dan in volmaakte liefde, met niks wat tussen God en my skeiding maak nie.

Saturday, July 04, 2009

Die belangrikste van alles




In hierdie tyd word iemand wat sewe maande swanger skielik siek. Sy verloor vog en moet nou vir twee maande tot met die geboorte van die baba in die bed bly. Sy mag nie beweeg nie. Sy moet uit die werk bly, haar salaris prysgee en met groot pyn saamleef om die kindjie se lewe te beskerm. Al die duisende dinge wat haar aan die gang gehou het, word nou tot stilstand gebring ter wille van die kwesbare lewe van ‘n ongebore kindjie. En dit doen sy met totale toewyding. Wat nou vir haar as die moeder regtig saak maak, is dat die kindjie veilig en gesond gebore word. Die diepste begeerte in haar lewe is nou die wonderbare lewe wat sy in haar omdra.

‘n Mens staan verwonderd voor hierdie groot verborgenheid: hoe kosbaar die lewe is en hoeveel mense sal opoffer ter wille van so ‘n kindjie se lewe. Die ma se verlange om die kindjie veilig te versorg, transendeer nou alle ander dinge waarmee sy besig sou kon wees. Haar hele lewe word geïntegreer deur die welsyn van die baba. Al haar behoeftes, begeertes en belangstellings word nou saamgebind deur haar moedersinstink en haar moederliefde. Sy gee alles prys en stel haar nou totaal op net een ding in.

So gaan dit met ons lewens: alles wat ons in ons daaglikse besige program doen word deur sekere diepere behoeftes en verlange getransendeer. Alles wat ons doen word saamgebind deur hierdie diep verlange. Sekere dinge is maar net belangriker as ander. Ons verlange na God is vir mense so ‘n alleroorheersende saak. Ons hele lewe, voel ons, vind net rus wanneer ons in verlange na God kan gaan en deur God se liefde heelgemaak word – al kos dit soms pyn en al moet ons soms baie dinge prysgee. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar hierdie verlange bly by ons spook. Dit is die verlange na die Lewe en die Liefde. Daarsonder kan ons nie. Wie sonder liefde is, verloor sy of haar menslikheid en word hard soos ‘n klip, leweloos en ongevoelig.

Dit is die groot verborgenheid: God woon in liefde in ons, soos ‘n fetus in die moeder. Net soos ‘n biologiese ma alles prysgee en alles inrig op die baba, net so vind ons alleen vrede as ons ons verlange na God kan stil en ons hele lewe deur God se liefde vervul kan word. Net soos wat ‘n ma pyn verduur solank as wat die baba maar veilig is, so kan ons ook baie dinge prysgee as ons maar net by God kan wees.

Hoe weet ons dat ons lewens alleen tot rus kan kom as ons na God uitreik? Ons hart sê dit vir ons: ons bly onrustig, maar as ons in stilte en eenvoud by God is, dan kom ons hart tot rus. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar ons kan nie sonder die Liefde leef nie.

Dit is dan mistiek: dat ons menslike gees verlang na dit wat werklik saak maak en dit wat al ons begeertes tot vervulling bring – na die hoogste transendensie en die hoogste integrasie. Ons staan verwonderd en met eerbied voor hierdie totale verborgenheid wat ons nie met ons verstand kan peil nie. Ons ervaar hoe ons in eenheid met ‘n liefdevolle God verbind word en ons wéét alles wat ons het en wat ons ervaar wil ons prysgee om naby God te kan wees. Ons wy ons hele lewe aan God en ons word deel van en deursyfer van die Liefde. Dit maak van ons mense, mense met warm, kloppende harte van liefde wat omgee.

Heel eenvoudig gestel: die mistieke ervaring is wanneer ons in eerbied en met ‘n diepe vrede voor die wonder van alle wonders staan – dat God in ons woon. Ons staan voor God, die Liefde, en ons wil ons wy, volkome oorgee aan die Liefde sodat die Liefde in ons kan woon en deur ons stroom. Hoe aaklik sou die wêreld nie sonder hierdie Liefde wees nie! Dit sien ons baie keer. Maar net so dikwels, gelukkig, sien ons ook hoedat hulle wat in die Liefde woon, die onmenslikheid op ons wêreld verdryf.

'n Pa en 'n seun



Ek raak onlangs geïnteresseerd om meer te weet van Ricardo Izecson dos Santos Leite, die Brasiliaanse sokkerspeler, of, beter bekend as Kaka wat lank vir AC Milaan sokker gespeel het en nou gaa aansluit by Real Madrid (vir 59 miljoen pond!). Ons was aan sy voete toe ons die wêreldbeker in Duitsland gereeld gekyk het.

Hy is seker een van die beroemdste mense op die planeet want hy word deur vele mense as die beste sokkerspeler gereken. Hy het in 2007 juis Fifa se toekenning as sokker speler van die jaar ontvang. En, word vertel, nadat hy dit ontvang het, het hy op die vliegtuig geklim, na Sao Paulo in Brasilië teruggevlieg en die beker in sy kerk se hoofkantoor laat uitstal.

Kaka het ‘n eenvoudige lewensstyl. Hy is getroud met sy jeugliefde en hulle het ‘n kindjie. Hy jaag nie vroue nie en geld is blykbaar vir hom nie ‘n obsessie nie. Trouens, hy gee ‘n tiende aan die kerk. En hy bly beskeie: hy wil, sê hy, nie die nommer 5 trui by Real Madrid dra nie, want dit was Zidane s’n en dit word te groot verantwoordelikheid op hom as hy dit nommer gaan dra.




Net so indrukwekkend eenvoudig is speelstyl wat mense liries maak. Niks se fieterjassies en aansittery op die veld nie, bewonder die kenners hom. Hy is daar om sokker te speel en doen dit met oorgawe. Anders as Cristiano Ronaldo probeer hy nie allerhande slim bewegings, truuks en draaitjies nie. Hy speel vinnig, op die man af en met waagmoed. Mense sê daar is niks onnodigs en ekstra in sy spel nie. Maar dit is veral sy intelligente spel wat beïndruk. Die man is duidelik ‘n stuk goue talent.

Maar wat hom veral beroemd maak is sy openlike getuienis oor sy geloof voor skares van toeskouers en televisie-kykers. Hy is ‘n toegewyde Christen wat nie skaam is om openlik op die veld te bid of op sy hemp godsdienstige spreuke te dra nie – soos bv. “Jesus loves you.” Elke keer as hy ‘n doel skop, weet die toeskouers teen die tyd al, beduie hy boontoe as ‘n teken van dankbaarheid aan God. En almal weet ook goed dat op albei sy skoene geskryf is “God is getrou.”

En dit is vir hom duidelik nie net vroom praatjies nie. Hy dink blykbaar nogal diep oor die goed. Toe ‘n bekende joernalis hom vroeër vanjaar vra of sy lewe nie maar vervelig lyk in vergelyking met die vinnige lewensstyl van die ander sokkerspelers nie, het hy geantwoord dat dit nie vir ‘n oomblik vir hom ‘n kwessie is nie. Hy dink eerder hy is die een wat ‘n radikale lewensstyl het. Hy het, sê hy, waardes en sy geloof – en in sokker en in ons wêreld, voeg hy by, is dit ‘n radikale ding!

Die groot omwenteling, vertel Kaka self, het vroeg in sy lewe gekom. Hy het in Oktober 2000 as ‘n agtienjarige seun in ‘n watergeut in ‘n swembad afgegly en teen die bodem vasgeduik. Hy het ‘n rugwerwel gekraak, maar tog ten volle herstel. Hy vertel graag dat die dokters gesê het hy was “gelukkig” om dit te oorleef. Hy self skryf dit toe aan God se ingryping in sy lewe. Sedertdien gee hy ‘n tiende aan die kerk.

Ek wonder tog by myselwers of ‘n mens uit sy gepraat nie ‘n bietjie dieper moet kyk nie. Hy vertel self dat dit sy pa was wat gepraat het van God se genade in sy herstel na die swembad-ongeluk. En as ‘n mens sy lewe nagaan, sien jy die groot teenwoordigheid van sy pa, ‘n ingenieur, in sy lewe. Oral wanneer belangrike dinge met hom gebeur, is sy pa daar om raad te geen en hom by te staan.

Miskien is die grootste gawe wat hy van God ontvang het, ‘n pa wat sy seun liefhet. En hier sien ‘n mens hoe iemand wat in ‘n gesonde, liefdevolle omgewing groot word, ‘n lewe van eenvoud kan voer – selfs al is hy die grootste naam in wêreld sokker.


Friday, July 03, 2009

The cloud of unknowing. Oor 'n klasieke teks met 'n mistieke liefdesfokus

Wanneer word ‘n mistieke teks ‘n klassieke teks? As mense van geslag tot geslag dit bly lees. Die Navolging van Christus deur Thomas a Kempis is klassiek omdat dit nog steeds vertaal en gelees word. Nog so ‘n werk is The Cloud of Unknowing (Die Wolk van Nie-kennis of On-kennis) geskryf tussen 1350 en 1380. Ons weet nie wie die skrywer is van hierdie boek wat so ‘n reuse-invloed in die geskiedenis van spiritualiteit gehad nie.

Dit is ‘n boek wat treffend oor gebed praat. Die skrywer moedig mense aan tot gebed sonder woorde – wat ‘n mens amper aan die beroemde Jesus-gebed laat dink. In hoofstuk 8 van die boek skryf hy dat ‘n mens jou hart moet ophef in verlange na God. Daarvoor moet ‘n mens ‘n kort woord kies. Hoe korter hoe beter. Eintlik moet so ‘n woord nie langer as een lettergreep wees nie, byvoorbeeld “God”. Of ‘n kort woord soos “liefde” (in Engels “love”). ‘n Mens moet hierdie woord gedurig in jou hart vashou. Die woord inspireer jou, beskerm jou, herinner jou en gee jou die antwoord waarna jy hunker. Dit word amper ‘n skild teen alles wat jou gedagtes oor God afbreek. Dit is nie ‘n woord wat jy kies omdat jy oor die woord wil nadink nie. Jy ontleed nie die woord met allerhande slimmighede nie. Jy hou vas aan die woord om alles wat negatief op jou wil inwerk uit te ban. Op die manier word gebed jou brug na God, jou oop-wees vir God se ervaring en is ‘n gebed meer as iets wat jy doen net ter wille van gebed. Dit is 'n belangrike korreksie op 'n houding dat 'n mens God met baie woorde moet ompraat om vir ons goeie dinge te gee.

In hierdie boek is twee dinge belangrik:

1. Die hoogste van alles in mens se lewe is om met God in liefde verenig te word. Vereniging met God beteken nie vir hom dat die mens vergoddelik word nie. Hy verstaan dit eerder in Bybelse sin dat jy deur God in jou innerlike aangeraak word. Vir hom is ons eenheid met God nie ‘n verstandelike ding nie, hoe belangrik ook al kennis is en hoe dit ook al ‘n gawe van God is. God is juis dan ver bo ons verstand verhewe. Waar God is, kan ons verstand nie bykom nie. God woon in die wolk van nie-kennis, van nie-wetendheid. Ons moet met God verenig word deur in hierdie wolk van nie-wetendheid in te gaan.

2. Ten nouste hang hiermee die ander aspek saam wat hy in hoofstuk 43 beskryf: om met God een te word, beteken dat ‘n mens in God se liefde moet bly. Liefde word in genade aan ‘n mens deur God gegee. Juis daarom wil ‘n mens alles afsterwe en jou alleen op God instel. ‘n Mens moet dus in ‘n wolk van vergetelheid intrek deur alle aardse bindinge af te sterwe en te ontgroei. Al jou kennis en ervaring oor jouself is eintlik nietig en staan net in die pad van jou ervaring van God se liefde. Hoe kan jy God in liefde ontmoet as jy gedurig oor jou eie dinge nadink of daarmee besig bly? Sterk skryf hy: ‘n Mens moet eintlik jou aardse bande onder jou voete vertrap. ‘n Mens moet, skryf hy, selfs die dinge wat jy vir God gedoen het, vergeet. Pragtig, eenvoudig en prakties voeg hy by: “Die mens wat volmaak lief het, het dit wat hy lief het meer lief as wat hy homself lief het. ‘n Mens haat jouself in ‘n sekere sin ter wille van dit wat jy lief het.” ‘n Mens moet alle gedagtes en begeertes in jou verag as dit nie God is nie. ‘n Mens moet nie eers toelaat dat gedagtes oor jou eie bestaan tussen jou en God te staan kom nie.

The Cloud of Unknowing staan in die tradisie van die "apofatiese mistiek" van Dionusios die Areogpagiet. In hierdie vorm van mistiek wat "verby woorde" beweeg, beklemtoon die mistikus veral dat mense God nie kan ken nie. God is ver verhewe bo ons menslike verstand en ons beperkte menslike taal kan God nooit in woorde vasvang nie. God is immers die Skepper en daar is ‘n radikale verskil tussen God as Skepper en die mens as die geskapene. In hierdie boek kry ons ‘n vorm van mistiek wat die transendensie van God ernstig opneem (God wat verhewe is en uitgaan bo die menslike bestaan).

Dit beteken glad nie dat ons van God afgesny is nie. Ons kan juis een word met God. In die geval van die Cloud of Unknowing word, aangrypend, geskryf dat die mens God deur die roeringe van die liefde kan ervaar. Hier leer ons ‘n vorm van liefdesmistiek ken. Dit is juis wat hierdie mistiek so aantreklik maak. Dit vertel vir ons van die onoortreflike liefde van God wat, soos in die Verlore Seun gelykenis, liefdevolle verhoudings moontlik maak.

‘n Mens moet die Cloud of Unknowing in sy tyd lees as ‘n boek wat die kontemplatiewe mens wil begelei om die eenwording met God eg te beleef. Dit waarsku teen misplaaste vroomheid wat in die ekstatiese en in allerhande emosies belangstel en dan die belangriker dinge mis. Dit leerweer 1 Kor.13 se uitsprake dat die taal van die liefde groter is as die taal van glosssolalie of selfs van engele.

Dit is nie ‘n boek wat vir die gewone mens ‘n program vir die lewe wil uitwerk nie. Daarom praat dit nie oor die ligaam, oor ‘n mens se natuurlike begeertes en seksualiteit nie. By sommige mense kan hierdie fokus ‘n negatiewe houding teenoor jou liggaam bevorder. Die skrywer wil juis nie die daaglikse praktyk afmaak of as minderwaardig skets nie. Maar hy besef iewers te goed hoe verganklik die liggaam is, hoe gou is die materiele verby. Hy weet, in die lig van God se ewige liefde, dat daar dinge is wat baie groter en dieper is as al ons aardse bedrywighede. Dit is sy fokus. En dit is 'n boodskap wat vir ons tyd baie kan beteken.

Die skrywer is wel ‘n kind van sy tyd, maar hy stel eintlik veral belang in aanskouing van God, in heiligmaking en in gebed. Hy kom uit ‘n tyd van die Engelse mistiek uit die veertiende eeu toe mistieke skrywers gewaarsku het teen ‘n tendens dat liefde tot die ander ‘n mens se liefde tot God kan aantas. Hierteenoor fokus hy baie sterk op liefde tot God wat so ver bo ons verhewe is. Dit is ‘n belangrike fokus en in lyn met die Bybelse boodskap oor God. Ek het dikwels die gevoel dat ons hierdie boodskap dringend vir ons geloofsreis vandag nodig het.

Thursday, July 02, 2009

Om nou voluit te leef...

In ‘n meningsopname het meer as 60% mense gesê hulle glo aan wesens uit die buitenste ruimtes. Onder die terugvoer was daar ‘n opmerking van iemand dat niemand kan twyfel aan die bestaan van wesens uit die buitenste ruimtes as hulle eers van sy kollega’s by die werk ontmoet het nie....

Lekker so ‘n sin vir humor. ‘n Ander meer aardse gesegde tel ek onlangs op by Shuttleworth, ons eie bekende miljardêr wat so met albei sy voete op die grond staan. Dit boei my om te sien hoe hy hom instel om mense te bemagtig deur allerhande vindingryke dinge. Sy werk by die oopbron-sagteware is ook indrukwekkend. (The Free High School Science Texts project is funded by the Shuttleworth Foundation and run by a committed team of volunteers. It is aimed at developing and disseminating free and open textbooks and supporting materials for use in the teaching of Science and Maths for grades 10-12, based on the South African school curriculum. Kyk o.a. die webwerf: http://www.shuttleworthfoundation.org/our-work/open-and-collaborative-resources/projects/free-high-school-science-texts.)

Een van die kosbaarste geskenke wat ‘n mens aan jou kinders kan gee en een van die edelste dinge wat ‘n mens kan doen is opvoeding – en dit is duidelik ‘n groot droom van die Shuttleworth Stigting. Ek is daarom geïnspireer deur Mark Shuttleworth se manier van dinge doen.

Maar my eintlike punt is dit: Shuttleworth sê iewers in ‘n onderhoud dat hy nie groot drome het vir ‘n indrukwekkende nalatenskap nie. Hy motiveer dit heel eenvouding: oor honderd jaar weet niemand meer wie Shuttleworth is nie.

Wat my laat wonder: selfs al het ‘n mens ‘n reuse nalatenskap, ‘n roemryke naam, ‘n Moeder Teresa-reputasie, wat baat dit?

Wat my laat besef hoe kosbaar die lewe nou is. Watter verskil maak jy nou – hier, in mense se lewens.

Miskien is die humor oor jou werkskollega’s iets om oor na te dink. Ons hoor van ondraaglike spanning tussen mense in die werk, onderlinge kompetisie, korrupsie, jaloesie en baie ander negatiewe dinge. Mense sien uit na die “goue jare” van hulle aftrede omdat hulle so keelvol is vir die swart jare van hul werk saam met ander.

Kan ‘n mens so na ‘n leë toekoms leef? Moet ‘n mens nie juis dan ‘n edele doelwit jaag hier en nou waardeur ‘n mens ander se lewens verryk eerder as vermy nie?

Ons toekoms is uiteindelik by God en by God alleen. Ons hoef nie ‘n reputasie te hê om uiteindelik in God se liefde te rus nie. Maar wie nie God se liefde nou beleef en uitleef nie, gaan mos nie God se liefde kan herken as dit in die stil toekoms van die groot herontmoeting aan hulle gegee word nie?

Daarom is die mistiek so belangrik: dit leer ‘n mens om ingeënt te bly in God se oorweldigende liefde wat ‘n mens laat uitreik na ander in liefde.

Miskien sê Shuttleworth op ‘n nie-godsdienstige manier iets waaraan godsdienstige mense bietjie meer moet kou. Tyd om dan dieper na te dink en nader te leef aan die Buite-ruimtelike Wese, een wat Liefde is, wat ons besiel om met al die “marsmannetjies,” die lelike skepsels in ons werk en in ons huise in ‘n liefdesverhouding te leef.

Wednesday, July 01, 2009

Die mistieke liefde inspireer en transformeer

Die hart van die mistiek is die liefde. ‘n Mistikus is iemand wat deel kry aan die opwindende liefdesverhouding van God met die mensdom. ‘n Mens staan in verwondering voor God wat liefde aan jou skenk en wat jou in staat stel om lief te hê. Watter voorreg om te voel jy word bemin en met watter verbasing kom ‘n mens agter hoe jy deur liefde self teenoor ander kan leef.

Dit klink alles goed. Maar om van die liefde te weet is nog nie om uit die liefde te leef nie. ‘n Mens moet jou oorgee aan God se oorweldigende liefde, want dit is waaroor die lewe werklik gaan. Ons bestaan is te danke aan die goddelike liefde. Ek moet my hart instort in God se liefde, dit oopstel dat hierdie liefde volledig in my kan kom woon. Ek moet my verlustig in wat God aan my gee.

As ek die liefde my eie maak, doen dit iets radikaals aan my. Dit is deur die goddelike liefde dat mense en gemeenskappe radikaal getransformeer word. As ‘n mens jou in God se liefde verloor, wanneer ‘n mens besef God in sy grootheid stort liefde oor jou uit, dan verbind dit jou op ‘n intieme manier met ander mense. Die groot mistici van alle tye was mense wat in liefde uitgereik het na ander. Andrew Murray wat ‘n lewe van eenheid met God gesoek het, was terselfdertyd iemand wat op Wellington belangrike onderwys-kolleges opgerig het en wat sterk betrokke was by die verkondiging van die evangelie. Andrew Murray was nie net iemand wat iewers in ‘n kamertjie mistieke boeke gesit en skryf het nie. Wat in sy binnekamer gebeur het, het sy omgewing drasties verander.

Ons kan nie God se liefde opsluit in ons hart nie, in ons kerke, in ons binnekamer of in ons gedigte of liedere nie. God se liefde neem ons saam in die wêreld in.

‘n Mistikus staan verwonder oor die krag van God se liefde in sy of haar lewe. In my, met al my beperktheid, my gebreke en my eenvoudigheid, wil God innige liefdesgemeenskap hou. En God wil my insluit in die groot liefdesgemeenskap wat God onder alle mense en in hierdie wêreld wil oprig. Die mistiek maak van my nie ‘n selfsugtige, hooghartige mense wat liefde in my opsluit nie. Dit maak my ‘n mens van liefde wat deel word van ‘n omvattende liefdesbeweging.

Daarom kan ‘n mens elke dag net iewers verbaas bly staan: om te dink, om te dink dat God mý lief het, óns lief het en dat hierdie mense rondom my aan my gebind is deur God se eindelose liefde!

Tuesday, June 30, 2009

Vroomheid en godsaligheid

Vir my is “vroom” ‘n mooi woord. In die ou dae is gepraat van “godsaligheid,” maar min mense gebruik dit. Party mense hou weer nie van “vroom” nie, omdat dit hulle aan skynheiligheid laat dink, maar by my is dit anders. Ek begin egter al hoe meer dink albei hierdie woorde help ons om iets van die mistieke mens se gebedslewe te verstaan.

Daar is wel ‘n baie klein gaping tussen vroomheid en skynheiligheid. Dikwels verwar ons vroomheid met ‘n innerlike drang om mooi heilig uit te styg en om in jou godsdiens uit te blink. Daar is nie iets verkeerd met on behoefte aan geloofsgroei nie, maar dit word ‘n probleem as dit ek is wat in my geloof groei. Johannes die Doper het hieroor helder lig laat skyn: Hy moet meer word en ek (ook in my vroomheid) minder. Die mistikus is juis iemand wat weet dat die ou mens waarvan ‘n mens ontslae moet raak, ook die mens se behoefte om God as gelyke te sien en te behandel, insluit. ‘n Mens het dan die skyn van heiligheid, maar dit is ‘n heiligheid waarin jy as die goeie een uitblink (dink maar: Fariseër en tollenaar).

Egte vroomheid is iets anders as prestasie-gedrewe heiligmaking. ‘n Vroom mens is ‘n godsalige mens – iemand wat sy saligheid of geluk (salig is die vredemakers, ens.) in God vind. ‘n Vroom mens wag op God, vertrou op God en eer God. Al die aandag van die gelowige mense is weg van hom- of haarself op God gerig. “God moet meer word, ek minder.”

Dit beteken dat die vroom mens nederig is, sonder enige dunk van hom- of haarself. So iemand is leeg aan hom- of haarself, nie geïnteresseerd in wat hy of sy voor God kan presteer nie. Die vroom mens dring nie aan om dinge van God te vra of op te eis nie (Vra! Eis! Bid! Draai God se hand – hoor ek sowaar oor die naweek). Die vroom mens gee nie om om onbekend te wees nie. ‘n Egte mistikus was altyd onbewus van of onbekommerd oor sy of haar eie reputasie en roem. ‘n Vroom mens wil juis in die skaduwee leef – die skaduwee van God. En die vroom mens is iemand met leë hande. “Here, hoe kan ek tog arrogant wees en dink dat ek vir U iets kan aanbied en by U kan presteer?” Hy of sy het ‘n innerlike leegheid sodat die ruimte wat daar is heeltemal deur God opgeneem kan word.

Vroomheid soos hierdie bring egte, innerlike vrede, want dit soek niks nie, begeer niks nie, wil nie die eie wil en begeertes uitleef nie.

Om diep in die geloof in te groei is om oop te word vir wat God van my vra, vir my gee, om te wag op God, op die mistieke teenwoordigheid van God, op die vervulling met die Heilige Gees.

Dit is baie uitdagender as wat dit lyk, want soms laat God diep, swaar stormweer oor ons losbars. Soms toets God ons tot op die grein van ons bestaan. Kom daar dan swaarkry in jou lewe of oorval diepe trauma jou, hoef dit nie ‘n mens se vrede weg te neem nie. Want ons vrede gaan alle verstand te bowe. Dit bly by ons, ongeag wat ook al oor ons pad kom. Elke pyn word ‘n geleentheid om te vra hoe ‘n mens God se wil in jou lewe kan gehoorsaam. Elke teleurstelling, elke dolksteek in jou hart, elke doodshou, bied die kans om te soek na God se liefde. Elke mislukking bring ‘n mens by die punt dat ‘n mens besef die eenheid met God is al wat regtig saak maak.

Maar hoe werk dit prakties? ‘n Vroom mens is deurdrenk van God se liefde: al wat regtig saak maak, die belangrikste ding wat ‘n mens ooit kan doen, te midde van alle trauma, pyn, teleurstellings of mislukkings, is om God as die Beminde lief te hê. Hoe het ‘n mens God lief? Deur die liefde wat God aan ons gee in alles wat oor ons pad kom, te vind en te omhels.

Om dit te kan doen, moet die vroom mens soek om God in gebed te aanskou. ‘n Vroom mens is ‘n godsalige mens: hy of sy is biddende salig gelukkig in God se liefde. Egte heiligheid is om in God se liefde jou geluk te vind.

Monday, June 29, 2009

In afwagting op God se aanraking: oor die erediens en ons instelling

Vir jare kla ons oor mense so “styf” in die kerk inkom voor die diens begin en nie ‘n woord sê of kwytraak nie. Ons het hieroor nogal baie nagedink na ons studiejare in Nederland waar die Hollanders destyds in die kerk wat ons bygewoon het, soos ‘n bye-nes tekere gegaan het. Dit was nogal gesellig. ‘n Regte basaar van oor en weer groet, hand-gee, gesellig gesels was daar aan die gang. Teenoor hierdie woeligheid moes ons na ons terugkeer eers weer gewoond raak aan die stilte.

Ek begin oor stilte voor die diens veral in onlangse tye weer anders dink. Natuurlik kan ‘n stilte ongemaklik wees. Maar dit kan ook ‘n intimiteit en gewydheid reflekteer. Na al die gejaag van die week, is dit ‘n tyd om terug te sit en te voel ‘n mens is in ‘n veilige ruimte. Met musiek daarby, word ‘n mens verder in die regte stemming geplaas.

Die vraag is: kan ons nie meer doen om hierdie tyd van stil word sinvoller te maak nie?

Ons stilte voor die erediens is diep in ons Suid-Afrikaanse gereformeerde gemoed ingeprent. Ons hou daarom nie eintlik van hande in die lug druk of rondspring of hard praat nie. Dit is vir ons “tradisie” om stil te wees.

En noudat ek dikwels oor spiritualiteit nadink, word dit vir my ‘n uitstaande kenmerk van ons eie spiritualiteit. Iets waaroor ek al hoe meer waardering het.

Ek begin al hoe meer die waarde hiervan insien: as ‘n mens die Bybel lees, begin jy immers ook gewoonlik met die gebed dat die Here jou hart sal “oopmaak” vir wat daar staan. Net so kan die tyd voor die erediens op 'n individuele vlak ‘n innerlike inrigting en instelling meebring op wat in die erediens gebeur. ‘n Mens “berei jou voor” vir die ontmoeting met die Here en die aanbidding wat nou plaasvind.

Miskien moet ons meer moeite doen hiermee, veral omdat mense nogal geneig is om hierdie tyd van stilte voor die diens as ongemaklik te beleef. Of mense sit en kyk wie almal in die kerk instap en dié wat laat is voel duisende oë hou hulle dop as hulle in die kerk instap.

Ons kan dalk ‘n nota op die afkondigings aanbring wat mense help om hulle gedagtes in te stel: ‘n foto, of tekening of illustrasie daarop wat mense ter voorbereiding van die diens kan bedink. En dan kan die liturg vir mense vra om spesifiek daarop te let as hulle voor die diens hulleself voorberei. Of dit kan ‘n teksvers uit die Bybel wees wat mense kan bedink. Of ‘n kort verhaal: vandag is tradisioneel die geboortedag van Augustinus (met ‘n kort lewensbeskrywing).

Ons het feitlik oornag ons gemeentes gehelp om die erediens af te sluit met die gesonge “amen”. Dit was ‘n baie sinvol liturgiese verryking wat gou-gou in feitlik alle gemeentes oorgeneem is, veral omdat die closure gebring het en die ou manier van rustelose uitmekaarspat na die seën, omgekeer het in ‘n biddende toeëiening van God se seën. Ons kan tog dieselfde doen ter voorbereiding van die diens.

Die punt is dat ons steeds weer mense help om tot die erediens “in afwagting” toe te tree. ‘n Mens sal nie seën uit ‘n diens put, as jy nie seën afwag nie. Baie dinge kan ‘n mens help om jou hart innerlik op God te rig. Ons weet dit tog uit ons eie ervaring. Wanneer ons die Bybel in ons stiltetyd lees, is dit gewoonlik in die afsondering van ons kamer waar daar nie geraas is om ons aandag af te trek nie. Ons hou ook daarvan om ons Bybels in ‘n omslag te hou as teken van ons eerbied vir die Bybel as die Here se Woord. Uiterlike dinge help ons om ons in te stel op die geestelike oefening waarmee ons besig is. Op dieselfde manier moet ons nog meer vindingryk dink hoe kan ons ons erediens as ‘n ontmoetingsruimte voorberei. Baie plekke doen dit reeds: ‘n verwelkomingsgroet by die deur is ‘n baie sinvolle manier om mense te laat tuis voel. Pragtige blomme rangskikings, kansel-klede, selfs kerse help ook om ‘n atmosfeer van wyding te skep. Kan ons nog meer doen of kan ons die bestaande dinge spesifiek op ‘n geestelike belewing instel. Ons moet elke keer weer die vraag stel: hoe stel al hierdie dinge wat voor die diens gebeur my in op aanbidding wat in die erediens (diens tot verering van God) volg.

Des te meer ook omdat ons in ‘n tyd van die visuele leef. Mense wil nie net na die brein gevoed word nie. Hulle oor , oog en hart moet aangespreek word.

Die groot uitdaging is om ons voor te berei op die erediens in ‘n meditatiewe gees. Ons moet onsself aktief kan instel, kan bedink en oordink op wat volg.

Sunday, June 28, 2009

Jeanne Goosen se gedig oor Christus

Jeanne Goosen het 'n boeiende gedig in vandag se Rapport


Let it be

Ek sit op die stoep. Die aand kom af
Die driepootbrak huppel huiswaarts
Christus kom sit aan met sy vuil voete
en geblowavede hare
Hy breek die brood. Ek is moeg, sê hy
en ek bring vir hom ’n skottel water vir sy voete
Hy skop sy sloffies eenkant
Niks is meer heilig nie, sê hy
Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn
Let it be, sê ek. Let it be en ek skink sy glas vol wyn
Sorry, sê ek, maar Tassenberg is al wat ek het
By the way, jy’s reg niks is meer heilig nie en dit maak my sad
Hoe voel jy, vra die meester. Hoe voel jy regtig?
Ek lag. Wil jy regtig weet
Praat met my, sê hy. Hoe voel jy regtig?
Wat kan ek tog sê. Alles is in sy moer
Dit help nie om ’n woord daaroor te tjank nie
laat staan nog bid. Ek meen
my broer se as is in ’n fles somewhere in Stikland
hy stamel sonder klinkers maar ek kop wat hy probeer sê
Let it be, sê die meester. Let it be al huil jy bloed
Die oordeelsdag kom ook en my pa slaap nie
Ek kop, sê ek. Ek kop alles
maar soms verlang ek na die ou dinge
soos die mooi droewe woorde van jou daddy
Goed soos regverdigheid en ewigheid en geluk
Ja, sê die meester, dis ’n lang wag maar hy sal sy woord hou
Ek maak ons glase weer vol
Sorry weer ’n keer, maar Tassenberg is al wat ek het
en waar dit vandaan kom is daar nog baie
so moenie skaam wees nie
Cheers
Daar’s baie dinge waaroor ’n mens jou ook kan verheug, sê die messias
maar los dit vir eers
Sit daar vir ons ’n song op, vra hy
Ek doen
Somewhere over the rainbow sing Judy Garland
Ek breek ’n stuk brood en voer die meester
’n Mens moet eet ook, sê ek
and that is no bloody maybe
Soms is ek bang vir jou ou dad, sê ek
hy stuur reën maar ook goed soos droogte wat diere laat vrek
Let it be, let it be, sê die messias
Eintlik verdien aardlinge niks. Maar daar is goeie goed ook
Vat nou vir Judy Garland, sy’s tog meer as reën of droogte
Selfs een soos daai ou Patience Strong
wat sy soms tussen die lyne kwytraak
Many a true word is spoken in jest
Maar dis julle klomp, julle wat niks met rus kan laat nie
wat van die wêreld so omgekrapte onheilige plek maak
Dis julle, you must let things be, you must let it be, let it be!
Dis net, sê die meester, dis net . . .
Ag, nou weet ek ook nie meer wat ek wou sê nie
Is daar nog Tassies?


Die gedig het 'n duidelik apokaliptiese karakter en laat my aan Openbaring dink. Hier word “bloed” gehuil oor ‘n wêreld wat tot niet gemaak word. “Daar is niks meer heilig nie en dit maak my sad” kom uit die hart van apokaliptiese denke en gee aan hierdie gedig ‘n mineur-klank.

Maar dit is ook ‘n mineur-dialoog tussen ‘n sad digter en ‘n moeë Christus. Aan die een kant die vra van Christus: Hy wil praat, hy wil twee keer van die digter weet wat die digter “regtig voel.” En die digter sê reguit aan hom: Soms is ek bang vir jou ou dad (veelseggende “soms”) wanneer die rampe oor die aarde kom. “Die ou dad” is dus nie altyd so nie.

Maar daar is ook die ander aksies van wisselwerking, uitruiling, selfs intimiteit: Jesus breek die brood aan die begin van die gedig. Maar gou volg die omgekeerde bediening: die digter bring water vir Jesus se voete, gee hom brood vir sy honger. Eers is dit die digter wat vir die Messias sê: “Let it be, let it be,” voordat later, die Messias vir die digter herhaaldelik sê, “Let it be, let it be” (met die skreiende, selfs al huil jy bloed). Dit is ‘n tweegesprek, egte dialoog, wat hier voltrek word. In hierdie tweegesprek word hulle een: dink hulle albei saam oor wat rondom hulle tot niet gaan en vra hulle mekaar om te wag, “to let it be.”

Die beeld van Jesus in hierdie gedig lyk op die oog af gewaagd. Hy is die wyndrinker, met wie die digter ‘n dop deel. Dit laat my dink aan Jesus se eerste tydgenote, vertel die Bybel ons, wat hom selfs ‘n wynsuiper genoem het en daarmee vertel het van sy lewe verby pruim-bekke en prul-lippe. Per slot van sake was dit, soos ons uit die evangelies weet, hierdie randfigure, hulle wat saam met hom gedrink het, wat buite die kring van die magsorde geleef het, wat hom as messias herken het. Die res het hom gekruisig.

Tog is die taal vir Jesus selfs eerbiedig. Hy word “Christus,” “messias” en “meester” genoem.

Die digter en Christus in hierdie gedig sien en praat nie net oor mistroostige dinge nie. Hy herinner aan al die goeie dinge in die wêreld. (Daar’s baie dinge waaroor ’n mens jou ook kan verheug). Die digter onthou selfs ook die goeie met ‘n stuk melankolie: ek verlang na die “ou dinge,” die “mooi droewe woorde” van jou daddy, “regverdigheid, ewigheid, geluk.” Maar dit maak die gedig eintlik op die ou end net meer van ‘n “sad song”, want die mooi wat daar nog is laat die slegte wat nou oral uitbreek sterker afsteek. Die Jesus weet eintlik nie meer nie, is raadop, sy woorde het opgeraak. Hy sien moeg hoe die klomp niks in die wêreld met rus kan laat nie, met hul atoomafval die wêreld tot niet maak. Laat my amper dink aan Jesus se droefheid oor Jerusalem: hoe dikwels wou ek jou nie....

Vir my is die “let it be” amper dubbelsinnig. Aan die een kant: ‘n mens kan nie veel aan die ellende doen nie. Maar daar is tog ‘n dieper dimensie aan die gedig: Op die agtergrond klink die apokaliptiese klanke, dreigend, maar ingetoë: “die oordeelsdag kom, my pa slaap nie.” Christus weet sy “pa” sal sy woord hou, sal die onheiligheid uitroei. Die onrustiges se verwoesting van die aarde, die doen van onheilighede, bly nie ongestraf nie. Al is dit “’n lang wag”, dit sal gebeur. En “Somewhere over the rainbow” van Judy Garland vertel van daardie dag, maar dan in ‘n verlangende, verwagtende sin. Die toekoms bring die uitslag. Tot dan, word dit “let it be.” Wag daarop.

Saturday, June 27, 2009

Spiritualiteit as transformasie. Wat maak die verskil?




Wat ‘n los, niks-doen Saterdag het ek nie agter die rug nie. Ek kan amper nie onthou wanneer dit my laas oorgekom het nie.

Ons het die afdag voluit benut en gaan nou heerlik die nagrus tegemoet – ek gaan myself in ‘n beswyming inslaap.

Ons het onsself bederf vroegoggend met ‘n vars gebak, op s’n Hollands gesê. Toe het ons vanmiddag rugby gekyk en vanaand Slumdog Millionaire in die Labia gaan fliek, bibberend in die koue Kaap saam met net drie ander mense in die teater.

Ek kyk nie lekker na die fliek nie. Dit onstel my. Ek kan my nie verlustig aan die sogenaamde “sukses” van die “underdog” nie – dit was volgens die media die rede waarom die fliek das so ‘n sukses was. Hoe vlak tog, as dit die boodskap van die fliek sou wees – so iets soos “from rags to riches.”

Die beelde van die armoede in Indië bly by my agter en laat my maar morbied voel. Ek verteer nie lekker aan beelde van kindertjies wat deur ‘n oënskynlike Samaritaan huisvesting kry, maar dan blyk dit hy is ‘n bedrieër wat hulle oë uitbrand om uit hulle bedelary dubbel meer te verdien (blindes kry meer geld van omstanders). En die meisies laat hy in prostitusie beland en maak so ook geld uit hulle. En die eindelose moeras van ontbering, van onmenslike slums, van kriminaliteit, van miljoene mense wat aan die agterste speen suig.

As ek so ‘n fliek sien, flits die gedagte keer op keer by my op dat ek kan verstaan waarom Jesus vir die kwesbaarstes onder die kwesbares opgekom het. En iets roep in my uit: God kan tog nie dat hierdie aarde so bly bestaan nie.

Wat in hierdie fliek fiksie is, het ek vroeër vanmiddag as harde realiteit beleef met ‘n film oor History Channel. Daarin word die verhaal van die vervolging van die Mafia in Palermo aan die einde van die vorige eeu vertel. Dit gaan oor twee dapper regsluit wat teen alle teenstand in die mag van die Mafia wil breek. Dit is skrikwekkend om te dink dat in ‘n eerste wêreld land soos Italië so ‘n totale korrupsie voorkom, verdra word en deur politici onder hul vleuels geneem word. Die beelde is mistroostig, krimineel en ontstellend. Die twee regsmense word deur sluipmoorde uitgeskakel. Die weduwee van een van hulle praat met ‘n groot skare-massa wat uit protes teen die moord in Palermo op die strate bymekaar kom: “Ek sal hulle vergewe,” roep sy uit oor die luidspreker. “As hulle maar net sal verander.” En dan die rou slot van die begrafnis as sy aanmekaar in ‘n skor stem roep: “Maar hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie....”


Teen vanaand, terwyl ek Slumdog Millionaire kyk, kom daar oor my hierdie gevoel wat ek die laaste jaar of wat soms kry: dit is asof ek my inleef in hoe God hierdie spul beskou en die intensiteit van smart wat daar in die goddelike Vaderhart moet leef oor wat ons met die wêreld aanvang.

Wat my laat dink het, vanaand na ons lekker klein, ordentlike biefstuk in die braairestaurant hier op ons dorpie terwyl ek terugry huis toe: ek het vanmiddag die rugby gekyk. Vasgenael gesit dwarsdeur die spannende wedstryd, selfs toe dit maar goorderig met ons spannetjie gegaan het. En wat bly my by? Die laaste twintig minute staan vir my uit oor een enkele gedagte: watter verskil kan een persoon tog maak in die lewens van baie, baie ander mense. Heinrich Brussouw en Morne Steyn se verskyning op die veld het ‘n vuur aangesteek wat tot daardie ongelooflik spannende ommekeer en oorwinning gelei het. Watter transformasie kan twee mense nie aan ‘n span en die verloop van ‘n wedstryd bring nie.

Brussouw kan ‘n bal selfs deur ‘n sleutelgat gaan haal, sê die kommentator en ons sien dit voor ons oë gebeur. En Steyn was die top puntemaker in die Super 14 vanjaar. En ons sien in die wedstryd dit was nie maar net gelukkies nie.

Twee mense wat ‘n verskil maak. Radikaal. Wat ‘n verloor-span meesterlik in ‘n wenspan omkeer. Twee jong, nat-agter-die-ore mannetjies as ‘n mens hulle vergelyk met die ou, senior manne in die span. Maar sterk soos staal en onverskrokke.

Dikwels dink ons – wat kan ons tog doen aan al die ellende in die wêreld? Hoe sal ons die verloor-span omkeer?

Die antwoord is duidelik: deur verwoed aan die wedstryd deel te neem. Al ons kragte, na siel, gees en liggaam. Soos daardie twee bokke. Die uitkoms kan verbysterend wees.

Die mistiek was nog nooit wêreldvreemd nie. Om in ‘n verhouding met God verenig te word, transformeer jou ook in jou lewensstyl in hierdie wêreld.

Jesus het net 12 apostels gehad. En saam met Paulus het hulle, minnerig, maar begeesterd, die verskil gemaak.

Daardie twee manne het nie die wedstryd gewen nie. Hulle kon nie. Hulle het egter hulle span saam met hulle geneem om met nuwe, verwoede toewyding die stryd voort te sit. Almal was nodig, selfs Schalk Burger wat darem nie homself ‘n guns gedoen het met sy vuil spel nie. Twee manne kon die span help omdraai.

Ons moet só inspring, só deel word van God se stryd in die wêreld dat ons mense rondom ons kan inspireer, met hulle hande kan vat en in hierdie siek wêreld goddelike hoop indra.

Ons geestelike reis loop dikwels deur dale. Ons ervaar die tye dat dinge begin skeefloop. Dit kos net die enkeling om ‘n hele klomp gelowiges te inspireer tot transformasie, tot omvorming, tot nuwe lewe.

Friday, June 26, 2009

Transformasie in die goddelike natuur

Wat beteken "eenwording" met God? Vir die meeste mense is dit 'n verhouding met die Here wat besonder intiem is en waarin 'n mens deur God baie naby aan Godself gebring word.

Maar is dit regtig so eenvoudig? Die bekende beeld praat van ons wat na die beeld van God geskep is en herskep word.

Ek is geboeid deur 'n dieper uitspraak van 2 Petrus.

2 Petrus 1 vertel van die “kosbare” geloof wat ons van God en Jesus ontvang het – in vers 1 en vers 4. Dan volg in vers 4: “Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikhede in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die goddelike natuur.”

Om as gelowiges, mense deel te kry aan die goddelike natuur! Wat 'n uitspraak. Die Engelse vertaling lees dat ons “participate in the divine nature.”

Die Ou Afrikaanse vertaling is nader aan die Grieks: “sodat julle deelgenote kan word van die goddelike natuur.” Die Grieks is onmiskenbaar verhewe: qeiva~ ... fuvsew~.

Ons deel aan God se bestaan, wese!

Hoeveel duideliker kan dit gestel word?

Kosbaar is hierdie eenwording met God, ver bo wat ons gewoonlik bedink.

Maar kyk dan die lysie wat volg van daardie dinge wat ‘n mens in jou lewe jaag as hierdie eenwording met God plaasgevind het:

Geloof, deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde, liefde onder mekaar en vir alle mense. Hier gebeur iets ingrypends.

Dit is iets om oor diep te mymer: om deel te kry aan die Goddelike natuur....

Petrus maak dit nog intenser wanneer hy in hierdie gedeelte vir God beskryf: God se krag, sy heerlikheid en mag, sy ewige koninkryk, sy majesteit, eer en heerlikheid.

Dit is aan hierdie heerlike Goddelike natuur waaraan ons deel kry.

Dit is heilige woorde van Petrus. Kan 'n mens dit regtig ooit peil? Is dit werklik moontlik? Om deel te kry aan die "fusis", die natuur, die bestaan, die wese van God?

Hier is 'n mens op heilige grond.

Thursday, June 25, 2009

Jesus se opstandingskrag

Die debat oor Jesus se opstanding het weer opgevlam. ‘n Mens moet net die berigte in die koerante lees en kyk na die kommentaar van gelowiges om te besef hoe na die saak aan mense se hart lê.

Een baie gewilde opvatting onder gelowiges wat hulleself as denkende mense beskryf, is dat die Evangelies Jesus se opstanding voorstel op dieselfde manier as wat heidene in hulle tyd oor hulle gode gedink het. Daar word dan na kultusse soos die van Isis en die van Mithras verwys waar die god van daardie kultus vereer word as ‘n god wat sterf en opstaan. Hierdie mite’s van die heidense kultusse was vegetasie-mite’s wat die gang van die natuur in seisoene op ‘n mitologiese manier uitgebeeld het. Die herfs/winter is die sterwe van die god en die lente bring sy opstanding.

Hierdie denkende gelowiges redeneer nou as volg: Jesus se opstanding is ‘n deel van die dissipels en Paulus se sendingboodskap aan ongelowige mense. Hulle sê eintlik vir die mense, kyk, julle het gode wat sterf en opstaan. Ons het ook so ‘n god. Hy is Jesus wat ook sterf en opstaan.

Dit is ‘n gewilde opvatting, maar nie baie geleerd nie. Daar was wel baie gode in die Bybelse tye waarvan vertel word dat hulle gesterf en opgestaan het. Maar, daar is opvallende verskille tussen die Bybelse verhale met hul sterk Joodse inslag en die heidense verhale met hul Griekse karakter.

Die Joodse volgelinge van Jesus was so duidelik soos daglig. Jesus het een maal gesterf. Dit het op Golgota gebeur. Hy was vir ‘n lang tyd dood. En toe, skielik, uit die bloute en tot hul groot skok het hulle ontdek hy het opgestaan. Die heidense gode het elke jaar, herhaaldelik, gesterf en opgestaan. Jaar na jaar het mense die natuurprosesse op ‘n “goddelike” manier verklaar – soos hulle met baie ander gebeurtenisse gedoen het. Dit was juis vir hulle 'n ritueel, nie 'n gebeurtenis nie.

Jesus het, verder, volgens die Evangelies, liggaamlik opgestaan nadat hy ‘n tyd lank dood was. Daarteenoor gaan die heidense gode gaan nie letterlik en liggaamlik dood nie. Hulle daal neer van die aarde na die doderyk onder die aarde en keer dan weer terug. Dit kan op geen manier van enige van die heidense gode vertel word dat hulle liggaamlik dood is en toe na die liggaam opgewek is nie. As daar iewers in Griekse tekste van iemand se dood en opstanding gepraat word, is dit altyd sy of haar se siel wat sterf.

Dit is nogal ‘n verskil.

Dit is maar ‘n paar van die belangrike verskille wat hier net kortliks weergegee kan word.

‘n Mens kan verstaan waarom denkende gelowiges worstel met die opstanding. Hulle is nie die eerstes nie. En die opstanding is nie die enigste struikelblok vir mense wat graag ook met hulle verstand wil glo nie. Daarom het baie mense die wonders “natuurlik” verklaar. Jesus, redeneer hulle byvoorbeeld, het mense genees omdat hy as sensitiewe mens hulle deur vergifnis vir hulle van hul psigo-somatiese kwale bevry het. Net so word die opstanding hier ook “natuurlik” verklaar. Die dissipels, dink hierdie denkende gelowiges, praat oor Jesus in terme van wat “natuurlik” vir hulle tyd was. Hy is soos heidense gode wat sterf en opstaan.

As ‘n mens Handelinge en Paulus lees, kom jy agter dit is darem nie so maklik nie. Mense uit die Griekse wêreld wou die piep kry omdat Petrus en Paulus die opstanding verkondig het. Sommige op Pinksterdag het gedink Petrus is gesuip en het hom bespotlik gemaak. Hulle het nie gedink dit was interessant dat Jesus nou ook soos die heidense gode sterf en opstaan nie. Op die Areopagus het Paulus vir die slimmes onder die slimmes, die filosowe, vertel van Jesus se opstanding en hulle het ook gedink hy is laf. En dit terwyl die tempels van die sterwende en opstaande gode dik in rye om hulle in Athene gebou was. As daar mense was, wat Paulus se boodskap op ‘n “natuurlike” manier kon verstaan, was dit hulle. En Lukas het juis beklemtoon dat die God wat Paulus verkondig en sy dade in Jesus anders was as al hulle gode in hul vroom stad.

Jesus se opstanding kan nie met die heidense gode se opstanding vergelyk word nie. Dit sou intellektueel oneerlik wees om die groot verskille en dit absolute afstand tussen die Jesus van Palestina en die gode van Athene te misken. Jesus se opstanding is ‘n verborgenheid, 'n groot misterie wat in die hart van die kerk se belydenis staan (lees maar die Apostoliese Geloofsbelydenis) en wat niks met 'n griekse boodskap onder 'n vroom lagie Jesus-vernis te doen het nie.

Daar is nou ‘n klomp gelowiges wat uit woede teenoor denkende gelowiges na die ander kant reageer. (Ek sien ook maar min verdraagsaamheid in kommentaar teenoor hulle opponente en soms liederlike hatigheid). Hulle maak dan asof Jesus “letterlik” met sy ou liggaam uit die dood opgestaan het. As hulle bedoel dat Jesus met dieselfde liggaam opgestaan het as waarmee hy dood is, moet hulle vir ons verstel hoe Jesus deur toe deure kon beweeg en voor die dissipels se oë sommer net kon verdwyn. Hulle moet ook verklaar hoekom Maria en die Emmaus-gangers hom nie herken het nie.

In die Evangelies is nooit enige sprake dat Jesus nie na sy liggaam opgestaan het nie. Hy het. Die heel belangrikste is die dissipels, en dit weet ons wel, het hulle vaal geskrik toe hulle op een of ander manier sy liggaamlike teenwoordigheid konkreet beleef het. Hulle het nie vir ‘n oomblik aan heidense gode gedink toe hulle hom gesien het nie. Daaroor kan 'n mens die Bybel nie misverstaan nie. Ons kan egter wel vra hoe Jesus se liggaam gelyk het. Die probleem is so bietjei dat terwyl ons deesdae vra hoe het sy liggaam gelyk, die Bybel nie duidelik daaroor is nie. Die Bybel wil nie oor die liggaam van Jesus allerhande detail-praatjies maak nie, maar wil vertel wat die liggaamlike opstanding van Jesus aan die aarde waarop ons lewe verander. Wat beteken die liggaamlike opstanding, wil hulle vertel.

Paulus, wat baie Griekse gedagtes in hom omgedra het, het op die grond platgeval toe hy die opgestane Jesus ontmoet het en, om dit platterig te stel, nie gaan sit en nadink oor die verhouding van sy ervaring met Griekse opstandingsberigte nie. Hy het besef hier gebeur iets ongehoords met hom. En later het hy geskryf dat hy soos ‘n swaap voel om daaroor te praat, veral omdat baie denkende mense ‘n geloof in die opstanding as onnosel beskou.

Jesus het as ‘n verheerlikte mens met 'n verheerlikte liggaam aan hom verskyn. Die lig wat oor Paulus geskyn het toe hy Jesus beleef het, was vir hom die teken van God se heerlike teenwoordigheid wat alles in sy lewe radikaal omgekeer het. Selfs op liggaamlike vlak het Paulus geglo het Jesus 'n verskil gemaak. Later sou Paulus in 1 Korintiërs praat van die “heerlike” liggame wat ons met die opstanding sal kry en van die glans van daardie liggame, ons gaan op 'n heel nuwe manier 'n liggaamlike bestaan voer. Die glans van die liggaam was vir hom ‘n teken van die heerlike werking van God in die lewe van mense. Ons kry nie ons ou liggame terug nie, dankie tog – sal baie menses ê. Paulus het ook besef dat sedert Jesus se opstanding hy ‘n ander manier van bestaan het as alles wat ons gewoonlik verwag en bedink. En hy redeneer dat ons bestaan ook eendag baie wonderliker sal wees as wat dit ooit was. Paulus wou veral oor een ding praat en dit is dat God aan die werk is in ons lewens en dat deur God se werking ons beperkte menslike insigte totaal oorweldig word. En dit het alles vir Paulus by Jesus se opstanding begin. Jesus se verheerlikte liggaam is vir ons ‘n teken van ons nuwe lewe in Hom.

Die heel belangrikste vir Paulus is dat Jesus se opstanding ‘n krag in ons lewens losmaak wat alles in en om ons verander. En die geskiedenis van die Christendom bewys dit. ‘n Klein, klomp angsbevange en verskrikte Joodjies in Jerusalem het op ‘n dag uit hul kamertjie gestap en die wêreld met ‘n boodskap van onstuitbare krag aangevat. En, ten spyte van al die foute en mislukkings van hierdie boodskappers, Paulus en Petrus inkluis – met al hulle bakleierye, het God ‘n reguit hou met ‘n krom stok geslaan, het die Evangelie krag en troos en vreugde in miljoene mens se lewens oor die aardbol heen gebring lank nadat die sterwende en opstaande gode van die Grieke in die niet verdwyn het.

Ek self wil nie graag my geestelike reis in die geselskap van die gode van die skadu-agtige Griekse onderwêreld onderneem nie. Die evangelie bevry my te duidelik van daardie flouerigheid. Die evangelie is nie vir my 'n skrale troos nie.

Wednesday, June 24, 2009

Ons wag stil, roerloos op God om ons met liefde te vul

Ek is geboeid deur die mistici se vreugde aan die afsterwe van die ou mens – om Paulus se woorde te gebruik. As ‘n mens in Christus is, is jy ‘n nuwe mens. En hierdie nuwe mense leef na die wil van die Heilige Gees. Dit is dus ‘n “geestelike” lewe wat jy lei as jy in God jou vreugde vind.

Dikwels sien ons die “nuwe” lewe as ‘n lewe van “pyn”. Dit voel vir ons morbied.

In ‘n sekere sin is dit waar. Ons nuwe lewe bring pyn, maar dit is die pyn van afsterwe aan die ou dinge. En om af te sterf aan die ou dinge is uiteindelik goed. Een of ander tyd sê jy vir jouself: ek is deur daardie pyn gesuiwer.

Dit is verskriklik hoe ons aan die ou dinge gebind is. Al die uiterlike dinge lê sommer ook ons hart, ons innerlike vol. Ons leef nie van binne uit, van die dieptes waar God wil woon nie. Ons lewens word deur ander mense, ons aktiwiteit bepaal. Ons is nie regtig vry nie. Ons is vasgeketting soos die goedkoopste van slawe deur ander, deur ander dinge, ander mense, ander bedrywighede.

Selfs wanneer ons geestelik is, kan ons nog onvry wees. Gebind deur ons godsdiens.

Nou volg die wonderlike paradoks: wanneer God innerlik in ons kom woon, kap God die uiterlike bande af. Dan doof die helder lig van God se liefdevolle inwoning in ons, die hardheid van al die uiterlike bekoring rondom ons uit. As God in helder liefde in ons woon, verdonker alles wat ons altyd so belangrik vind.

Die merkwaardige hiervan is dat ons dit moet laat gebeur. Ons is hier eintlik heeltemal passief. Ons moet net kan terugsit dat God inkom, dat die liefde ons woning betrek. Ons moet maar alleen hierdie liefde aanvaar, toelaat dat dit deel van ons word. Ons mag nie eers probeer om hierdie liefde te soek nie – nie deur gebed nie en ook nie deur aanbidding nie, laat staan nog enige ander vroom daad nie. Al hierdie vroomheid van ons is, merkwaardig, eintlik donkerte. Dit kan alleen maar die liefde verdring. Ja, ons vroomheid! En hoe vroom kan ons tog nie wees nie.

Ons kan hieroor nogal wonder: kan ek so sit en niks doen nie? As ‘n mens op ‘n boot in ‘n rivier sit, kan jy roei dat dit klap en jou self in ‘n sweet-ekstase inroei. Of jy kan doodeenvoudig net terugsit en die vreugde ervaar van die goddelike Liefdestroom wat jou meevoer.

Dit is ‘n diepe verborgenheid: dat ‘n mens moet toelaat dat God se lewe, se vrede, se verborge teenwoordigheid in jou kom woon.

Daar is ‘n groot geheimenis hierin: as ons toelaat dat God vir ons hierdie liefde gee sonder dat ons ons hand uitsteek, ons vroomheid aanbied, ons gebede uitroep, ontvang ons hierdie liefde suiwer, so suiwer en ervaar ons God se heerlike teenwoordigheid in sy volle krag.

Dit is goed om swak te wees. Paulus het sy swakheid geroem. Hoe swakker, hoe flouer, hoe sterwender ek self is, hoe meer plek is daar vir die Groot Liefde.

Dat hierdie liefde nêrens, tog nêrens deur ons uitgehou sal word nie. Dat God se liefde suiwer, volledig en orals in ons uitgestort sal word. As ons nie passief is nie, kan ons nie aan ons uiterlike en innerlike bande ontkom nie.

In ons swakheid word God se krag volbring – dit het Paulus goed verstaan. Daarom is ons bly as ons die ou mens afsterwe. Eintlik is dit nie ‘n verlies nie. Trouens, dit is ‘n groot wins – ons wen God se liefde. En as dit pynlik is, gee die pyn ons vreugde, want deur die pyn kry ons ons gesondheid, ons lewe in God terug.

Tuesday, June 23, 2009

Spiritualiteit as liefde: oor transendensie

Hier is 'n interessante interpretasie van spiritualiteit in vanoggend se Trouw. In baie opsigte kan ek myself met hierdie artkel vereenselwig. Spiritualiteit is sekerlik om gedurig te vra na die dieper dinge in die lewe, veral omdat alles wat ek vind wat my lewe verryk, iewers verganklik blyk te wees. Ek kyk dieper as net na bevrediging van my behoeftes wanneer ek spiritueel lewe. Ek besf ek stil my verlange by tye deur met waardering vir die dieper dinge te lewe, maar dit is maar net vir 'n oomblik. Ek moet ook besef spiritualiteit is 'n proses - ek moet gedurig weer na sin soek. Opnuut weer duik nuwe vorme van verlange op wat na nuwe vorme van ervaring vra.

Spiritualiteit moet 'n mens, soos tereg in hierdie artikel gestel word, nie verbind aan die betekenis wat jy in die lewe kan ontdek nie. Dikwels kom dit na jou onverwags, uit die bloute. Wees maar nederig oor dinge wat jy dink vir jou geluk kan gee. Selfs al ontdek jy dus die dieper dinge, moet jy maar nederig wees daaroor.

Die artikel is 'n poging om spiritualiteit in toeganklike, moderne vorm oor te vertaal.

Besonder mooi vind ek sy uitspraak oor godsdiens wat "ontzag wekt voor het onverklaarbare van de wereld. Ze draagt het mysterie van de schepping onder haar hart, het geheim van de ander, het raadsel dat ik voor mijzelf ben."

Dis sekerlik waar.

Hierdie artikel is so ingestel op die "my", die "ek" en die soektog. En spiritualiteit gaan beslis tot 'n groot mate om my transformasie, die omvorming van my innerlike - nie om ander te pak en te verander nie.

Is dit genoeg? Spiritualiteit laat my nie net verwonderd voor die lewe staan nie of eindig nie by my transformasie nie.

Dit maak my bewus van die liefde wat op my inwerk, maar ook van my uitwerk.

Spiritualiteit het daarom 'n spesifieke fokus op die mistieke. En die mistieke ervaring het as wesenlike element nie net nederigheid en verlange wat op God, op die aanraking van die Ander/ander ingestel is nie.

Dit gaan dieper: dit gaan ook om nietiging. Jou besef van jou eie nietigheid, bring die agterlaat van jouself - die nietiging van aardse dinge. Nie omdat jy so sleg is nie. Maar omdat die liefde wat jy ervaar en waaraan jy jou dan oorgee so oorweldigend is, so transformerend is dat dit selfs jou vroomheid, jou ingesteldheid op jou eie nederigheid as nietig kan afmaak. Of selfs: dat jou eie vroomheid, ontdek jy, in die pad van die liefde kan staan.

Dit is die merkwaardige: die grootheid van die Liefde wat alle aardse dinge, ook al jou mooi pogings om "sin" te vind, eenkant toe skuif vir wat baie groter is.

Dit is geen wonder dat Johannes Evangelie so op die liefde ingestel is nie. Die Liefde neem ons, soos die slot van die Evangelie leer, na die punt waar ons God as liefde drie keer oor moet bely en dan, as ons in God se liefde is, kan die Liefde ons selfs die dood in lei (Joh.21:19).

Daar is 'n transendente kwaliteit aan hierdie liefde wat ons nie regtig in moderne taal kan vertaal nie. Ons kom by 'n punt uit, onvermydelik, dat ons taal ons in die steek laat en dat ons die Liefde alleen maar as goddelik kan aanbid. Dit is waar ons oorgaan in aanskouing van God, van die Liefde wat die allergrootste is en die hele skepping in stand hou.

http://www.trouw.nl/religie-filosofie/opinie/columns/article2794859.ece/Spiritualiteit_is_een_oefening__in_ootmoed_.html


Column Suurmond
23 juni 2009
Jean-Jacques Suurmond


Wat is spiritualiteit? Ho, nu niet vlug doorbladeren naar de natuurrubriek omdat u liever over concrete aardslakken leest dan over zoiets ’zweverigs’ als spiritualiteit.

Laten we heel alledaags beginnen bij de mensen die in deze krant staan. Wat doen zij? Ze verlangen. Studenten in Iran wensen meer democratie; iemand streeft naar een kerk voor alle gezindten; sommige kamerleden willen bedrijven steunen terwijl andere geen steun willen bedrijven; mensen zetten hun zinnen op een mooie woning, hopen op een nieuwe baan, een levenspartner enzovoorts.

Is dat zweverig? Nee, antwoordt u, dat zijn allemaal concrete doelen. Zelf streeft u ook naar zulke dingen.

En wat gebeurt er als u zo’n doel bereikt hebt? Dan bent u gelukkig, zegt u. U ervaart zin in uw leven. Hoe lang? Toch wel een paar weken. Of een maand. Of zelfs een jaar. Maar dan steekt de onrust weer de kop op. U wilt de huiskamer van uw woning vergroten. Een nog interessantere baan wenkt. Uw partner blijkt anders te zijn dan u dacht. Kortom, uw verlangen blijkt niet volledig vervuld.
Daar hadden de oude Grieken ook al last van. Toen de apostel Paulus in Athene rondliep, zag hij overal godenbeelden staan: een voor schoonheid, een ander voor macht, weer andere voor liefde of rijkdom. Maar de Grieken wisten dat, als je al die dingen verkregen had, er altijd een verlangen overblijft. Vandaar dat ze ook een altaar voor de ’onbekende god’ (agnostos theos) hadden neergezet. Een klassieke zet.
Wanneer ook u ontdekt dat de dingen die u nastreeft niet volledig bevredigen, dan zou u eens een stapje terug kunnen doen om naar uw verlangen zélf te kijken. Vanaf dit moment (schrik niet) bent u bezig met spiritualiteit. Wat valt dan op? Dat uw verlangen oneindig is. Het richt zich uiteindelijk op de Oneindige, die de religies ’God’ noemen en weer anderen ’Iets’ of de ’zin van het leven’. ’Onrustig is ons hart, totdat het rust in u’, bad Augustinus.

Onze hele economie draait om de jacht naar dingen. Maar die blijken bij nader inzien niet zo concreet te zijn als het leek – eerder een illusie. Huizen, banen en zelfs levenspartners voldoen minder dan u dacht en gaan vroeg of laat weer voorbij. Het enige wat echt concreet is, is uw verlangen dat immers altijd blijft. Daarom wilt u voortaan een spiritueel leven leiden. Hoewel: ’wilt’? Je kunt niet meer anders. Het alternatief is zelfbedrog.

Vroeger was spiritualiteit (‘geloof’) gebonden aan bepaalde religieuze tradities, met allerlei regels en voorschriften. Als je gereformeerd was mocht je op zondag geen ijsje kopen en moest je de drie formulieren van enigheid aanvaarden. Was je rooms, dan prevelde je weesgegroetjes en kreeg je van masturbatie een rare rug.
Spiritualiteit is vandaag aan die vaste kaders ontsnapt en wordt individueel ingekleurd. Daarom heeft ze vandaag vele verschillende vormen, wat tureluurs kan maken. Maar het onderliggende, o zo concrete verlangen naar de Oneindige is hetzelfde.

Die vroegere verboden om ijsjes op zondag te eten of te masturberen hadden de bedoeling om het verlangen op God te richten. Probleem is dat zoiets niet echt kan. Dan maak je van de Oneindige een doel, zoals een huis of nieuwe baan. Maar God is een mysterie. Dit besef is de pijnlijke kern van het spirituele leven.
Religie is dan ook niet een soort wetenschap die de wereld wil verklaren (een hardnekkig misverstand), maar wekt ontzag voor het onverklaarbare van de wereld. Ze draagt het mysterie van de schepping onder haar hart, het geheim van de ander, het raadsel dat ik voor mijzelf ben.

Hier ligt de sleutel tot levenskunst. ’Ontzag voor de Heer (en zijn naam is onuitsprekelijk) is het begin van wijsheid’, zegt de Bijbel. De doelen waarnaar je streeft, hou je voortaan los in de hand. Dat is goed voor hart en bloedvaten. Je weet dat ze je verlangen niet echt stillen. Wel helpen ze jezelf te ontplooien. Door een nieuw huis te kopen of in zee te gaan met een partner, geef je zin aan je leven.
Tegelijk besef je dat je die zin niet zelf ophoest. Momenten van geluk heb je niet in de hand. Ze zijn vonken van het goddelijk mysterie. Terwijl je niets vermoedend op de ladder staat om je huiskamer te vergroten, gaat ineens de hemel open. Of je drukt je partner tegen je aan en vergeet alles om je heen. Maar probeer je dat de eerstvolgende keer weer, dan blijf je denken aan de auto die een beurt nodig heeft.
Spiritualiteit is een oefening in ootmoed. Nederigheid is niet ontkennen wie je bent, maar afwijzen wat je niet bent. We zijn God niet.

Wat valt er dan een hoop van je af. (Lees: watter swaar las val dan nie van jou skouer af nie).

Monday, June 22, 2009

Wat is mistiek? Oor die liefde as die diepste verborge waarheid

Mistiek gaan om die eenheid of die eenwording met God.

Dit is ‘n sinnetjie wat maklik en eenvoudig klink, totdat ‘n mens begin nadink oof wie God is. Die naam "God" roep by ons as gelowiges 'n gevoel van eerbied en diepe ontsag op.

Dit klink oorweldigend: dat ‘n mens, verganklik, eenvoudig, ‘n verhouding kan hê met God, die Onverganklike. God wat so bo al ons verstand verhewe is, wat so totaal Anders is as die mens, die Heilige, die Skepper wat die mens geskep het knoop met ons ‘n intieme, persoonlike, intense verhouding aan. Om een te kan word met God is 'n verborge ervaring wat alle verstand te bowe gaan.

Tog gee God aan ons hierdie verborge ervaring.

Daar is sommige mense wat vertel dat hulle hierdie intieme eenwording met God op ‘n ekstatiese manier beleef. Hulle vertel merkwaardige dinge – hoe hulle visioen kry, stemme hoor en buite-ligaamlike ervarings het. Paulus praat daarvan in 1 Kor. 13 en skryf hy het self sulke ervaring gehad.

Maar hierdie spesiale en uitsonderlike mistieke ervaringe van sommige mense lê eintlik aan die buitekant van die mistiek. Daaroor is Paulus ook baie seker - en daarom skryf hy 1 Korintiers 13.

Die diepste mistieke ervaring word aan ‘n mens gegee wanneer jy besef jy word bemin. Dit is soos wanneer iemand oorweldig word deur haar minnaar wat vir haar vra om te trou omdat hy haar werklik lief het en in trane uitbars.

Een van die aangrypendste oomblikke in die Bybel is wanneer Jesus tydens sy doop hoor: Jy is my beminde kind. Dat die hemelse God so kan neerdaal tot ons!

Dit is egte mistiek. Om deur God bemin te word.

Daarom kon Jesus vertrouend sterf: Vader, in U hande gee ek my oor. Wie liefde ervaar, bly trou tot die dood.

Waar ‘n mens hierdie goddelike liefde ervaar, verander dit jou lewe vir altyd – soos met Jesus gebeur het.

Dit is die transformasie. En ‘n mens word deur die Goddelike, mistieke liefde getransformeer tot die liefde. Egte mistiek is waar ‘n mens so deur God se liefde aangeraak word dat jy soos God word en ook ‘n beminnende lewe lei. Geen visioen, stemme, hemelse reis is groter as die liefde nie.

Hoe verborge is dit tog nie! Ons innigste gebed is dikwels: wie sal my lief hê? Wie sal vir my kom sê : “ek bemin jou”? Wie wil vir my, hier tussen die varke, kom omhels.

God wil. Dit is ‘n verborge, mistieke waarheid. En hoe lief het ons God nie daarom nie.

Sunday, June 21, 2009

Egte menslikheid

Die televisie beelde oor die gebeure in Iran is merkwaardig. Dat demokrasie en verkiesings honderde duisende mense op die strate van ‘n staat kan laat uitstroom! En die ongekende gevolge van die mens se verset teen outokrasie en onderdrukking laat ‘n mens verstom staan. ‘n Mens kan ander net tot op ‘n punt onderdruk.

Die Iraanse polisie het ‘n elite eenheid wat in swart geklee op motorfietse as bewakers van die sedes optree. In een van die video’s vandag word gewys hoedat ‘n groep mans een van hierdie polisiemanne aangeval het. Sy motorfiets is aan die brand gesteek. Dramatiese beelde word gewys: een kant lê die brandende fiets, maar ‘n vrou in ‘n swart burka het die man op die grond te hulp gesnel en hou hom vas terwyl sy hom beskerm teen die groep wat hom met die vuis bydam en met klippe bestook. Sy hou desperaat haar hand om hom en keer met die ander hand die aanvallers vergeefs weg.

‘n Mens sit in verslae skok oor wat hier voor jou afspeel. Vir die van ons wat die halssnoermoorde meegemaak het, kom baie ou, slegte gevoelens na vore na so baie jare wat ons daar verby is.

Hier is die enigste berig wat ek daaroor op die internet kon opspoor:

STORY: Iran's state broadcaster has shown film of police officers involved
in clashes with opposition protesters in Tehran on Saturday (June 20).
In some cases they appear to have come off their motorbikes, at least
one of which was then set alight. They are then set upon by the crowd.
But in two incidents, some people on the street are clearly seen trying
to protect those under attack, while others are intent on beating them.
One woman puts her arms around one young police officer, who is
kneeling on the ground, appearing to plead for help. But he is set upon and
kicked by a number of protesters. One man slaps him across the face. But he is eventually helped to his feet and runs away.
In another incident an unidentified man is being attacked despite the
protestations of a woman standing beside him. A young medical officer then
joins the fray and tries to stop the man being beaten. Again the protesters
leave, and the man is seen being dragged away.


Hoe dapper kan mense nie wees nie. En hoe totaal onbaatsugtig, selfs tot die verloëning van hul eie veiligheid kan mense tog omgee vir ander. ‘n Mens kan maar net spekuleer dat sy hierdie man nie as ‘n polisieman gesien het nie, maar as ‘n mens wat nie maar so doodgemaak kan word nie.

Daar was ook ‘n ander video van ‘n vrou met die naam van Neda wat deur ‘n sluipskieter doodgeskiet is. Dit is net so dramaties om te sien hoe mans om haar versamel. Een van hulle is ‘n dokter en skree vir haar: “Moenie bang wees nie. Moenie bang wees nie.” Maar dit is reeds te laat. Die vrou het reeds gesterf.

Herhaaldelik bly CNN hierdie een video uitsend. Dit versprei oor die hele wêreld as ‘n simbool van wrede onderdrukking, volgens die kommentator.

Wat is die politiek tog ‘n lewensgevaarlike saak. En hoe totaal verloor mense hul menslikheid om in wrede diere te verander.

In my gedagtes bly maal daardie video van die weerlose vrou wat die gehate polisieman in haar skoot vashou en braaf keer dat hy deur ‘n klomp woedende omstanders gestenig word. Dit laat my dink aan soveel mense wat tydens die xenofobiese aanvalle verlede jaar Somaliërs en buitelanders beskerm het toe hulle ook so aangeval en gestenig is.

Die video van daardie vrou wat so uitreik na ‘n gehate polisieman en hom dapper vashou, vertel my dat daar niks skoners en edelers is as iemand wat eg menslik is nie.

Blog Archive