Sunday, February 21, 2010

Maria en die opstanding in Johannes Evangelie - 'n spirituele lesing

Dit is tog ‘n merkwaardige storie van Maria in Johannes 20:11-18. Dit bied 'n heel besondere perspektief op die opstanding en hoe die eerste gelowiges daaroor nagedink het.

Johannes 19 eindig met die mineur-noot van Jesus se weglê in die graf in die tuin (19:41). Daarmee word Jesus se laaste oomblikke afgesluit – hy was immers in die tuin in hegtenis geneem (Joh.18:1). Ons kry closure: die plek waar alles begin het, word die plek waar afronding nou moet intree. Hoewel dit 'n mineur-noot is, word die begrafnis van Jesus ook so vertel dat dit iets van Jesus se heerlikheid reflekteer.

Ek is al hoe meer geboeid hoe Johannes in die opstanding van Jesus die krag van Jesus se dood verder neem. Hy wys hoedat Jesus se heerlikheid in die kruis ook langsamerhand tot die dissipels deurdring.

Johannes ken die dood nie as 'n verskrikking nie. Die kruis wys Jesus se heerlikheid, die opstanding laat dit tot die dissipels deurdring.

By die nalees en nadink oor die eenvoudige vertelling van Maria se smart en haar ontmoeting met Jesus word ek oorrompel deur die rykheid en diepe spiritualiteit daarvan. Te veel. Daarom net ‘n paar dinge:

Dit is vir Johannes ‘n spesiale oomblik wanneer Jesus begrawe word. Jesus word in die stilte van die tuin in rus weggelê. En, ook spesiaal, is die gevoel wat by die leser opkom wanneer die leser hoor dat dit ‘n “nuwe graf” was. Hierdie “nuutheid” van ‘n graf waarin niemand nog ooit was nie, pas by die status en heiligheid van Jesus, skryf Schnackenburg.

Dit is mooi – dink ek elke keer as ek hierdie verhaal lees: dat Jesus in die “tuin”begrawe is.

En vir Johannes is dit belangrik dat die kruisiging en opstanding reeds geografies ten nouste met mekaar verbind is. Die “tuin” waar Jesus sou wandel as die Opgestane Een, was op dieselfde plek as die kruisiging. Wat met Jesus in die kruis gebeur, sy openbaring in heerlikheid (sien vorige blogs), word nou ook aan sy dissipels bekend.

Die gelowiges wat hierdie opmerking oor Jesus se begrafnis en verskyninge in die tuin lees, sou onwillekeurig, soos vele kommentators skryf, dink aan Jesaja 11:10 se voorspelling oor die wortel van Isai – die Messias: “Sy rusplek sal heerlik wees.” En in hierdie tuin rus Hy nadat hy gebalsem is. Sy liggaam word op 'n besondere manier versorg. Nikodemus, “wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het” lees ons in Johannes 19:39, was daar met “’n dertig kilogram mengsel van mirre en alwyn.”

Johannes Evangelie skep by sy lesers deur hierdie beskrywing ‘n gevoel van verwonderende aanbidding. Want, weet ons uit ander Joodse verhale oor begrafnisse, toe ‘n leerling van Rabbi Gamaliël ook so ‘n massiewe klomp speserye met sy begrafnis gebring het en gevra is waarom hy dit doen, het die leerling gesê dat as konings só begrawe is, is Rabbi Gamaliël tog, as man wat veel meer werd is as baie konings, nog meer speserye werd. Bewondering, eerbied en ook verering het Jesus nie in sy dood ontbreek nie. Die speserye en die balseming druk die diepe eerbied vir en intiemheid tussen dissipels en hul leermeester uit. Hulle laat hom nie alleen sterwe nie... En hulle laat hom veral nie oneerbiedig begrawe word nie.

Hy rus in heerlikheid. Sy liggaam word in heerlikheid bewaar.

Jesus is uiteindelik getransformeer. Hy het sy taak volbring. Hy rus in heerlikheid noudat hy God se wil volledig bekend gemaak het.

Maar – tog is daar is die onverbiddelike finaliteit waarmee mense Jesus se dood ervaar. Wat God aan die kruis gedoen het, het nog nie tot mense deurgedring nie.

Aan die einde van Johannes 19 het die leser geen twyfel nie. Jesus is deur sy volgelinge begrawe. Hulle neem afskeid van iemand wat, hoe lief hulle hom tog kon gehad het, tog nog maar soos enige iemand anders gesterf het. Met toewyding en selfs buitengewone verering het mense naby aan Hom sy “liggaam” gaan haal by Pilatus en hom daarin “neergelê,” maar vir hulle was dit per slot van sake die einde. Hulle weet van die transformasie van Jesus niks nie.

Vir die dissipels was dit die einde van Jesus se lewe. Die man wat hulle so diep bewonder het, is dood.

2. Meditasie: ‘n Tastende geloof

Maar dan kom, soos ons gesien het, in Johannes 20 die ommekeer. Maria, naby aan Jesus, gaan die volgende oggend toe dit nog donker was, graf toe. En dan ontvou die drama vinnig: Maria sou kort daarna die eerste een word wat Jesus “sien” na sy opstanding – die eerste een om te ervaar dat Hy “uit die dood moes opstaan” (vers 9). Die mans-dissipels sou eers ná Maria (in Joh.20:19-31) vir die opgestane Jesus ontmoet.

Ons ken die verhaal. Maar daar bly iets verfrissends tydloos aan die manier waarop Johannes Evangelie die verhaal vertel. Eenvoudiger kan dit nie vertel word nie – die verhaal van ‘n vrou wat ‘n geliefde leraar gaan soek na sy dood, enkele ure nadat sy liggaam eerbiediglik weggelê is. En tot haar ontsteltenis agterkom dat sy lyk nie in die graf is nie. Iemand het hom weggeneem, dink sy, en sy wil hom met alle geweld terug hê. Sy was al vroeg, voor die son opgekom het, by die graf – die eerste een om te ontdek dat die graf leeg was (Joh.20:1). Sy het Petrus en “die ander dissipel” gaan vertel, wat terstond afgesit het na die graf toe. Daar gekom, het Petrus nie verstaan wat aangaan nie. Die “ander” dissipel wel. Hy het geglo, maar dit was ook al – hy het nie verstaan wat daar gebeur het nie (vers 9).

Dit is die mistieke antifrase: Jesus is afwesig, die graf is leeg, maar tog is Jesus iewers, word Hy gesoek.

En toe is die twee dissipels huis toe.

Maar Maria wil nie weer koers kry huis toe nie. Sy is heeltemal verdrietig. Sy bly staan buite die graf en huil, maar as sy afbuk sien sy twee engele in die graf sit wat vir haar vra waarom sy dan huil. Sy antwoord dat hulle Jesus se liggaam weggeneem het – sy weet nou nie waar hulle Hom neergelê het nie. Sy word deur haar trane verblind. Haar uitsig op God is afgesny.

Die dissipels wie se verhaal neergeskryf is, is eerlik: Die Johannes Evangelie vertel vir ons juis hoe moeilik hulle tot geloof gekom het.

En dan volg vers 14: sy draai om en “sien” vir Jesus staan.

Geloof is nie so maklik nie. Johannes Evangelie beklemtoon hoe ‘n waagstuk geloof is. ‘n Mens kan Jesus sien sonder om te glo. ‘n Mens kan die opgestane Jesus raakloop sonder om hom te herken. ‘n Mens kan ‘n aardse Jesus raakloop sonder om sy goddelike heerlikheid te beleef.

Die eeu-oue uitdaging van die geloof!

Maar wat ek, vanuit ‘n spirituele hermeneutiek hier raaksien, is veral Maria se wandel met God. Sy het alles gedoen wat die geloofsweg kenmerk. Haar pad is gelaai met meditasie: sy soek Jesus, met trane - iets is tog nie reg nie, want die graf is leeg. Daar is 'n verborgenheid wat sy nie kan deurgrond nie.

Sy is by die lee graf, gaan vra by die dissipels, sy keer terug na die graf, sy ondervra die engele. Hierdie is ‘n soekende vrou wat biddend verlang na verstaan en na afsluiting. Tot op die bitter einde. Selfs wanneer sy by die Here self is, is sy, ironies genoeg, nog die mediterende een: Sy kruisvra op die ou ent ook nog die “tuinier.” Vertel my, vertel my waar ek Jesus kan vind! Die gebed is daar, die smekende verlange is daar, die biddende vra ontbreek nie.

Johannes 20: 2, 13 en 15 is simbolies, só eenvoudig, van die tastende soeke na die Here. Van die donker nag van die siel. Om die Here nie te sien nie, terwyl die Here daar is....

Dit gebeur met die trouste dissipels.

3. Kontemplasie:

Dan volg daardie dramatiese oomblik waarin Maria God se ontsagwekkende aanraking aanvaar – en hierdie keer gebeur dit wanneer Jesus haar by haar naam noem.

Dit is ‘n oomblik vir lectio divina. “Maria!” Wat is eenvoudiger as hierdie enkele woord? En wat kan meer transformatief wees?

Lank kan 'n mens jou inleef in hierdie aangrypende toneel van die treurende dissipel wat haar meester se stem hoor. Sy wat hom ure tevore in die graf gelaat het, hoor nou sy stem.

Die “Maria” kan ‘n mens jou voorstel, roep ‘n wêreld van emosie op. Maria, tot dusver met rooigehuilde oë, stromende trane en skor stem, hoor die ou bekende stem wat haar eenvoudigweg by haar naam noem.

Maar sy besef ook onmiddellik dat dit die stem is van meer as net die ou Jesus. Sy besef dit is nie 'n tuinier nie. Sy herken die Leermeester, die Een wat haar oor so 'n lang tyd liefgehad het as sy dissipel.

Hierdie keer verstaan sy iets wat niemand nog ooit tevore verstaan het nie en wat Hy tog, as sy nou daaroor dink, so duidelik "geleer" het.

Haar leermeester, weet sy uit wat hy vir haar saam met die ander reeds lank tevore geleer het, is die Goeie Herder wat die kudde bymekaar maak. Hy het sy skape op die weivelde uitgebring (Joh.21:15-17!):

In Johannes 10 vertel Jesus ‘n gelykenis van die goeie herder wat die hoorders “nie verstaan het nie” (Joh.10:7). Daar is hierdie drie verse waarin Jesus van die goeie herder sê:

“Die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”

Hierdie oomblik wanneer Maria die beelde herken as sy by haar naam geroep word, is die oomblik van kontemplasie. Die stem wat sy hoor is die stem van die Seun, die Seun van God.

Hier is sy in die teenwoordigheid van God, die goeie Herder, die Een wat liefdevol uitreik na die kudde.

Die Here raak haar uiteindelik in haar meditatiewe soeke aan. Eers as Jesus haar naam noem, met haar praat, kom geloof in haar tot wasdom, besef sy sy is coram Deo.

Ons weet dat sy onmiddellik aan Jesus se voete neergeval het – in ‘n simboliese daad van aanbidding. Maria wou dus, soos die vroue in Matteus 28:9 Jesus se voete gegryp en hom aanbid. Die aksie is dringend.

Jesus, egter, stuit haar in hierdie aanbiddingaksie. Die "groter" dinge wag. Sy het ‘n unieke taak. Sy word die eerste getuie van die opstanding. Sy het die kans om te gaan vertel wat die dissipels nog nie een werklik weet nie.Om by God te wees, is om ook by die ander te wees. Die mistieke weg het 'n heel konkrete uitkoms. Van God loop die pad na die mensdom.

Jesus stuur haar dus om die boodskap vir die dissipels te vertel. Maria, die een wat by die dissipels kort tevore met die nuus van die leë graf aangekom het, word nou die boodskapper van die opstanding.

Sy het geweet sy is in die teenwoordigheid van God. In die tuin, by die oop graf beleef sy kontemplatief die nabyheid van die Absolute Ander.

Maar ook hier is dinge nie net so maklik nie. Maria, in daardie oomblik van totale transformasie, wanneer sy die Here ontmoet, noem Hom “Rabboeni” (my rabbi). Dit lyk asof ons vir ‘n oomblik terug is by Johannes 1:38 waar die dissipels na Jesus kom. Hy vra vir hulle wie soek hulle en dan praat hulle met hom as “rabbi.” En Maria is skynbaar nog nie by die punt dat sy soos Thomas in Johannes 20:28 vir Jesus “my Here en my God” kan noem nie.

Maar dan lees ‘n mens vers 18. As Maria gehoorsaam aan die dissipels die nuus vertel, wanneer die mistieke oomblik haar lewe in die wêreld terugstuur, laat sy die dissipels weet dat sy “die Here” gesien het. Sy weet Jesus is meer as net haar leermeester.

Op pad terug na die dissipels, miskien, wie sal weet, het dit al dieper tot haar deurgedring wat met haar in die tuin gebeur het toe sy die ontsagwekkende aanraking ervaar het. Prosesmatig, hardlopende, op weg, het sy iewers net nog meer en helderder as ooit tevore ingesien dat dit God se aanraking was. Die Here het haar weg gekruis... Die eenwording met God is ‘n lewenslange proses.

Of: 'n mens sou kon dink dat die mistieke weg nie so netjies in kompartemente ingedeel kan word nie. Juis in ons oorvertel van die boodskap, ons ons meedeling van Jesus se woorde, word ons dieper ingetrek in die rykheid en verborgenheid daarvan. Die mistieke werking van die mistiek.

Kort gedagtes. Te kort om reg te laat geskied aan hierdie mistieke teks.

Saturday, February 20, 2010

Wanneer ons nie wil waag om te praat nie....

Johannes 21:12 is ‘n boeiende vers. Die vers is deel van die laaste hoofstuk van die Evangelie waarin Jesus vir oulaas aan sy dissipels verskyn. Petrus sê vir sy vriende hy wil gaan visvang. Hulle gaan terstond saam, maar vang die hele nag niks. Volgens vers 4 staan Jesus op die strand, “maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.” Jesus laat hulle hul nette aan die ander kant sak en dadelik vang hulle ‘n horde visse.

Dit vat 'n tyd vir hulle om die Here te herken. In vers 7 sê die geliefde dissipel vir Petrus eers: “Dit is die Here!”

Hulle het geweet Jesus het opgestaan. En tog, hulle ken Jesus nie! Dit sukkel.

Om te dink: volgens die vorige hoofstuk het Jesus drie keer aan Maria en sy dissipels verskyn, met twee keer aan die dissipels self. Johannes onderstreep dit versigtig in vers 14: “En dit was die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.”

En tog, hierdie derde keer herken hulle Hom nog steeds nie!

Daar is iets vreemds hier. Hoe gebeur dit dat hulle so naby Jesus is en tog weer so ver van hom kan wees - so ver weg dat hulle Hom nie herken nie.

En ook die hele verhaal het hierdie spanning tussen gewoonheid en ongewoonheid. Op die strand het Jesus al ‘n vuurtjie aangesteek, met vis en brood wat Hy aan die regmaak was. Jesus nooi hulle dan uit: “Kom eet!” Dan volg: “Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.”

Alles lyk so normaal: Jesus is maar net nog een van hulle. Hy steek vuurtjies aan, maak vis gaar en hou brood reg. Dit is brekfis-tyd saam met sy intieme vriende (vers 15: “toe hulle dan klaar was met die môre-ete”!). Jesus “kom” na sy dissipels.

En tog is alles nie so normaal nie. Hoewel Jesus nie hier vissies vermeerder nie, is Hy tog die een wat die dissipels lei om ‘n massa-vangs in te katrol. Waar Jesus is, is dinge nie meer dieselfde nie.

Dit is veral vers 12 wat die vreemdheid van hierdie oomblikke en die episode uitlig. Daar staan: “En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: ‘Wie is U nie?’, want hulle wis dat dit die Here is.”

Hierdie vers het dwarsdeur die eeue vir lesers van die evangelie besig gehou. Het die dissipels dan nie klaar vir Jesus herken nie? Waarom is dit nou nodig om te sê dat hulle nie wou waag om Hom te vra wie Hy is nie?

Maar eintlik is die vreemde vers nie só vreemd nie. Het die Emmaus-gangers dan nie ook min of meer dieselfde tipe vreemde gevoel gehad nie? Hulle het immers brandende harte by Jesus gehad en Hom eers herken nadat Hy vir hulle die brood gebreek het nie.

Een van die bekende kenners van die Johannes Evangelie dink die dissipels, wat Jesus al herken het, is nog nie regtig “by” nie. Hulle staan verwonderd. Hulle bly aan die nadink oor wat hier met hulle aan die gebeur is. Daarom kan ‘n mens die vers eintlik só formuleer:

“Is dit regtig U wat hier by ons?”

Maar ‘n mens moet ‘n bietjie dieper kyk: Die dissipels bly nie net wonder oor wat met hulle aan die gebeur is nie. Johannes skryf dat hulle Jesus “gevra” het. Hy gebruik ‘n baie skaars Griekse woord wat beteken ondersoek, fyn bekyk, bevra. Hulle dink baie diep.

Maar terselfdertyd vertel Johannes ook vir ons die dissipels het “dit nie gewaag nie.”
Hulle wil vra, maar dan bedink hulle hulleself. Hulle brand om te vra, maar dan hou hulle terug. Hulle harte brand in hulle. Daar is dus by hulle ontsag, terughoudendheid, bewussyn dat hulle in die teenwoordigheid is van iets wat hulle normale waarneming te bowe gaan. Die Jesus wat hulle ken, is ‘n Jesus wat hulle ook nie eintlik ken nie.

Daar is afstand tussen hulle en Jesus.

Maar dan weer, as hulle verwonderd is, nie eers wil waag om met Jesus te praat oor sy nuwe bestaan nie, is daar ook weer ander kant nabyheid. Hulle ontvang die brood en vis uit Jesus se hand. Hulle word deur Hom gevoed.

Wat alles beteken dat ons hier met iets verborge te doen het. Menslike woorde kan hier nie bykom nie. ‘n Mens kom soms op ‘n punt dat jy nie eers meer met woorde dinge wil uitpluis nie. Dan moet ‘n mens net wees waar jy jou bevind.

Om by God te wees....


Friday, February 19, 2010

Wanneer Jesus opstaan

Johannes Evangelie gebruik in sy evangelie ‘n woord vir die kruisiging wat twee dinge kan beteken:

  • Eerstens kan dit “oplig” beteken en wys op Jesus wat gekruisig word.
  • Tweedens kan die “verhoging” beteken. Dan wys dit op die kruisiging as Jesus se verheerliking (sien vorige blog).

Wanneer Johannes-Evangelie só oor die kruisiging praat, wil dit eintlik sê dat ons aan die kruis uiteindelik en finaal ontdek wie Jesus is. Aan die kruis, skryf Schneiders, sien ons in Jesus wat God eintlik vir die wêreld wil hê en hoe Jesus in sy sending hierdie wil van God volledig uitvoer en beliggaam. Daarom ook Jesus se merkwaardige laaste gebed in die Evangelie: “Dit is volbring.” Maar daar is meer as net 'n beeld van God in Jesus. Wanneer Jesus aan die kruis vasgenael word, is dit eintlik sy “troonsbestyging” - daar is 'n "heerlike" bevestiging van Jesus se uitsonderlikheid, sy goddelikheid.

Johannes Evangelie is ‘n mistieke Evangelie. Die Evangelie wil die lesers bewus maak van die werklike betekenis van Jesus se kruis. Dit onthul die verborgenheid in die kruisgebeure. In die eerste deel van die evangelie sien die leser hoe Jesus die Een is wat God gestuur het om vir mense te vertel wie God is. Daar is ‘n intieme verhouding tussen God en Jesus, soos ons in die vorige blog gesien het. Die kruis wys vir ons die afloop van die sending: Jesus keer uiteindelik na God terug.

Johannes Evangelie skryf dus: Wanneer mense na die kruis kyk, herken hulle in Jesus se kruis die hoogtepunt van hoe God op ‘n besondere manier aan die werk is. Hier praat God soos nêrens anders nie en God praat deur die dood van die unieke, spesiale seun van God. Die Seun van die mens sy lewe af vir sy vriende, wys vir hulle wat dit beteken om ander tot die uiterste te dien. Hier word voltooi wat hy op ‘n ander manier vir hulle laat beleef het toe hy hulle voete gewas het. Daar is niks goddelikers, niks aangrypenders as wanneer iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie. Dít kan net van God af kom.

Dit alles is boeiend en spesiaal - dit laat die kruis uitstaan as 'n uitsonderlike betekenis , as iets heerliks. Maar wat nou van die opstanding? As die kruis dan só belangrik is vir Johannes en as ons in die kruis die Verborgenheid in sy absolute sin ontdek, waarom is daar dan ‘n opstanding?

Johannes het wel opstandingsverhale in sy evangelie. Anders as wat sommige mense dink is daardie verhale nie maar net ‘n los, aangelaste slot van sy boek nie.

Volgens Schneiders is Jesus se opstanding vir Johannes ‘n vertelling oor wat met die dissipels gebeur het. Hy wil vertel hoe Jesus na sy dood na hulle terugkeer, net soos hy tydens die Laaste Maal belowe het in Johannes 14:19-20: “Ek sal julle nie alleen as wese agterlaat nie. Ek kom na julle toe. Binnekort sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien. Omdat ek lewe, sal julle ook lewe. Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in my en ek in julle.”

Hieroor gaan die vier verhale in Johannes 20 met 'n sekere klimaktiese gang.

· Eers sien en glo, soos Schneiders skryf, die geliefde dissipel by die graf – al verstaan hy en die ander dissipels nie mooi wat aangaan nie (Joh.20:9!). Hulle weet Jesus leef – maar hulle besef nog nie dat Hy na hulle gaan terugkeer nie.

· In die volgende verhaal ontmoet Jesus vir Maria. Sy “sien” Jesus self en word oor die opstanding ingelig. Sy word nou ook 'n sendeling; sy gaan deel haar ervaring met die ander dissipels (Joh.20:18!).

· In die volgende verhaal ontmoet Jesus sy dissipels self. Hier beleef die dissipels die opgestane liggaam van Jesus. Jesus wys sy hande en voete vir hulle (Joh.20:20)! Hulle ontvang die Heilige Gees en word uitgestuur om sondevergifnis te gaan verkondig.

· In die laaste verhaal wil Thomas nie Jesus se wil vir die nuwe tyd na die opstanding aanvaar nie – hy wil die ou bedeling terughê waarin Jesus fisiek gesien word voordat hy glo. Thomas besef en aanvaar dat dit nou die tyd is om te glo sonder om te sien.

Dit alles kom tot 'n hoogtepunt in Johannes 20:30-31. Hier word vertel dat die Evangelie geskryf is vir hierdie nuwe bedeling van Jesus se heerlike teenwoordigheid in die gelowige gemeenskap. Mense wat die Evangelie hoor en tot geloof kom, word deel van Jesus se nuwe gemeenskap. Hulle kom tot die lewe, ontvang 'n nuwe bestaanswyse wanneer hulle hierdie verhaal oor Jesus hul eie maak. Hulle word word getransformeer tot ‘n nuwe lewe, tot geloof, tot ‘n nuwe verhouding met Christus.

Die opstanding is tradisioneel vir baie gelowiges in die eerste plek ‘n verhaal oor wat met Jesus gebeur het. Dit is Jesus se groot oomblik – die einde van sy lydingsweg.

Vir Johannes is dit maar net 'n deeltjie van 'n groter verhaal. Vir hom is dit belangriker dat ‘n mens nie aan die opstanding van Jesus dink sonder om aan Jesus se dissipels te dink nie. Jesus se lewe word getransformeer. Maar Jesus se volgelinge se lewe word ook radikaal omgekeer.

Hier gaan dit nie om eers Jesus en dan die dissipels nie. Jesus se opstanding is Jesus se reis na hulle wat naby aan Hom was. Jesus se opstanding gaan veral om Jesus se terugkeer na hulle. Jesus se dissipels word nou deel gemaak van die intieme band met God en heerlikheid.

Wat ‘n verweefdheid tussen die goddelike en die menslike! Jesus se opstanding is Jesus se reis na almal wat Hy lief het en wat vir Hom lief is.

Dit is om gedurig oor na te dink:

Johannes 14:19-20: “Ek sal julle nie alleen as wese agterlaat nie. Ek kom na julle toe. Binnekort sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien. Omdat ek lewe, sal julle ook lewe. Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in my en ek in julle.”

Thursday, February 18, 2010

Wanneer daar net 'n sluier tussen jou en God is. Oor mistiek, ervaring en bewuswording

Bede Griffiths se outobiografie, “The Golden String,” herinner my aan ‘n verwaarloosde, of geringgeskatte aspek van spiritualiteit en spesifiek van die mistiek.

Dikwels sê ons dat spiritualiteit gaan oor die intieme verhouding van God met die mens, of dat mistiek handel oor die eenwording met God.

Maar implisiet hierin is dat die mens bewus word van sy eenheid met God. In die mistiek is die verborge dinge in fokus. Agter alles waarmee ons van dag tot dag te doen het, is daar dieper dinge. Agter die oppervlakte, verborge, skuil daar dit wat werklik saak maak.

Maar baie mense gaan deur die lewe sonder dat hulle hierdie verborge, dieper rykdomme herken. Hulle is nie bewus dat die lewe bestaan uit meer as net die daaglikse gesleur.

Bede Griffiths vertel hoedat hy aan die einde van sy skooljare een skemeraand alleen gaan stap het en voëls hoor sing het wat net daardie tyd van die jaar met sons-opkoms en ondergang te hoor was. Die tweede sin van sy eerste hoofstuk lui: “Ek onthou nog die skok van verbasing waarmee die gesing in my ore geklink het. Dit het vir my gevoel asof ek nog nooit tevore die voëls hoor sing het nie en ek het gewonder of hulle die res van die jaar ook so sing. Ek het dit dan nooit opgelet nie.” As hy verder stap, sien hy bome in volle bloei, net om weer te besef dat hy nog nooit so iets gesien het of sulke skoonheid ervaar het nie. Sy wandeltog deur die natuur oorweldig hom. Hy onthou, skryf hy, hoe ‘n gevoel van ontsag oor hom gedaal het. Hy wou op die grond kniel asof in die teenwoordigheid van ‘n engel. “En ek het skaars gewaag om na die hemel te kyk omdat dit gelyk het asof dit net ‘n sluier oor God se gesig was.”


Soms raak 'n mens bewus daarvan dat daar net 'n sluier tussen jou en God is.


Baie jare later het Bede Griffiths woorde gesoek om daardie ervaring uit te druk, maar besef woorde kan nie meer doen as om net te suggereer wat hy werklik beleef het nie. Tot op daardie stadium was hy ‘n gewone skoolseun wat heel tevrede met sy lewe was. Maar deur hierdie beslissende oomblik is hy bewus gemaak van ‘n ander wêreld van skoonheid en verborgenheid wat hy nooit van kon droom nie.

“Dit was", skryf hy, "asof ek vir die eerste keer begin sien en ruik en hoor het.”

Maar die besondere ervaring was nie net bloot ‘n sintuiglike opskerping nie. Hy het ‘n oorweldigende ervaring gehad van die natuur – ‘n ervaring wat amper ‘n sakramentele karakter gehad het. Dit was vir hom byna asof ‘n godsdienstige ontsag oor hom gekom het. In die aanbreek van die skemeraande het hy gevoel asof hy die teenwoordigheid van ‘n onpeilbare geheimenis beleef het.

Hy skryf dan dat so ‘n beslissende ervaring nie so ongewoon is soos wat 'n mens dalk sou dink nie. Sulke sleutel-ervarings kom op die allergewoonste manier oor 'n mens se pad. Mense kry so ‘n ervaring wanneer hulle verlief raak, of bergklim, of ‘n ongeluk het, of bankrot gaan (onthou ek die vrou wat op ‘n blog skryf watter ongelooflike vryheid sy ervaar het die dag toe sy besef het sy het al haar aardse besittings verloor!), of een of ander gebeurtenis wat ‘n mens se daaglikse roetine tot stilstand bring en ‘ n mens in jou diepste wese aanspreek.

Met hierdie ervarings, skryf Griffiths, word 'n mens bewus van die verborgene. “Skielik weet ons ons behoort aan ‘n ander wêreld, dat daar ‘n ander dimensie aan ons bestaan is. Ons ervaar iets wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

Twee dinge bly by my uit hierdie openingsbeskrywing van een van die beroemdste mistici van ons tyd. Die eerste is hoe “gewoon” ‘n mistieke ervaring kan wees. Die verrukking van sinne, die opraping in ‘n hemel, weg van ons daaglikse sleur, hoef nie sensasioneel te wees nie. Ons kan op ‘n simpel en eenvoudige manier in ‘n doodgewone oomblik iets ervaar wat ons lewenskoers beslissend omkeer en wat ons in aanraking met die verborgene bring.

Die ander ding is hoe Griffiths se beskrywing van sy spesiale ervaring ‘n mistieke uitwerking het. ‘n Mens lees dit en jy voel hoe sy woorde jou tot stilstand bring. Deur hom hoor jy en sien jy en smaak jy vir die eerste keer wat hy vir die eerste keer gesmaak en gesien en gehoor het. Dit is asof sy woorde jou woorde word, asof sy beskrywing vir jou laat besef maar dit is wat jy ook ervaar het.Sy bewuswording kweek as te ware by my ook 'n bewuswording.

Maar daar is ook ‘n derde ding: hierdie mistieke oomblikke kan maklik vervaag. Ons weet spiritualiteit is ‘n proses. Ons mistieke weg kan so maklik weer vervang word deur ons vaal, verdrietige ou lewensweg en –gewoontes. Dit is maklik, skryf Bede Griffiths, om die mistieke ervaring te laat verbygaan, om die oomblikke van genade agter te laat.

Die mistieke ervaring moet gevoed word, vertroetel word.'n Mens moet bewustelik daarop wag. Maar 'n mens moet ook op reis gaan daarmee.

Griffiths haal daarom aan die begin van sy eerste hoofstuk ‘n gedig van William Blake aan:

The Golden String / Die Goue Draad

I give you the end of a golden string;

Only wind it into a ball,

It will lead you in at heaven’s gate,

Built in Jerusalem’s wall.

Ons kry, skryf die gedig, die goue koord van die mistieke ervaring in die hand gegee. Ons kan dit stadig oprol en volg om uiteindelik in die wêreld wat regtig saak maak, te kan gaan woon.

Bede Griffiths se outobiografie se naam is daarom “The Golden String.”

Dus: Mistiek gaan nie maar net om eenwording met God nie. Dit gaan uiteindelik om ons bewuswording van ons eenheid met God, maar ook om die kweek van 'n bewuswording.

Die mistieke weg beteken dat ons dieper moet ingroei in die besef van ons eenwording met God.

Dit is nie altyd so maklik soos wat dit lyk nie. Trouens, dit kan heel pynlik wees, skryf Griffiths. Ons moet soms deur ‘n pynlike stropingsproses gaan.

Griffiths skryf: Ons dink dikwels ons geloof in God bring ons tot die mistieke weg. Die teendeel is eerder waar: ons ontmoeting met God, ons ervaring van God se mistieke aanraking, bring ons tot geloof. Geen woorde, geen leer, geen teologie, geen argumente, niks sal ons kan laat glo nie. Dit is net wanneer God se mistieke aanraking oor ons kom, dat ons glo.

Miskien beteken dit alles dat ons meer moet maak van spiritualiteit as ‘n proses. Die aanraking van God en die ontmoeting van God verander ons bewussyn. Ons ervaar 'n "bekering", 'n ommeswaai. Ons word gebring tot 'n verhouding met God. En hierdie "ervaring" maak ‘n lewenslange verlange in ons wakker. Ons het net die puntjie van ‘n lewenslyn in die hand ontvang. God het daardie puntjie in ons hand kom stop. Nou moet ons hom oprol soos ons die pad na God toe stap. Dikwels in die donker nag van ons stroping, sal net die goue kleur en die dun draad van die lyn ons op spoor hou. Maar altyd, altyd sal ons maar moet bly rol, moet bly soek, moet wag, moet uitkyk, ons moet instel, bewus moet bly, ons ore spits, ons oë rek.

Paulus het daarvan gepraat op so ‘n glashelder manier: ek strek my uit na wat voor is (Fil.3:14). Filippense 3 is 'n boeiende hoofstuk: Paulus is "gegryp" deur Christus (Fil.3:12). Hy is nie so arrogant om te dink dat hy self die dieper dinge "gegryp" het nie (Fil.3:13). Maar omdat hy gegryp is, omdat hy in sy hart hernuwe is, daarom strek hy hom uit. Hy "jaag" daarna om die krag van Jesus se opstanding te leer ken (Fil.3:10).

Maar om jou "uit te strek", om te "gryp" veronderstel gedurig dat 'n mens naby aan Christus bly. 'n Mens moet jou instel daarop. Bewuswording is 'n sleutelwoord in die mistiek.

Hoe kan 'n mens verwag om deur God geseën te word as 'n mens nie bewustelik op God wag nie?

Wednesday, February 17, 2010

Kan 'n mens God sonder die kruis verstaan? Oor die verstaan van Jesus se dood in die Johannes Evangelie en


Matteus, Markus en Lukas praat almal min of meer dieselfde oor Jesus se dood as die diepste punt van Jesus se pad van opoffering en lyding. Met die kruis word sy vernedering en vernietiging tot die uiterste punt gevoer. Mense verwerp Jesus totaal. Hulle word nie eers deur moord gestuit nie. En hierdie moord op Jesus kan nie meer afskuwelik wees nie. Jesus sterf soos die slegste van kriminele tipes.

In hierdie drie evangelies is Jesus se dood ‘n teken dat God se vloek oor Jesus gehang het. Die drie skrywers haal daarom, soos ons gesien het, die Ou Testament aan. Vir hulle is Deuteronomium 21:23 die bewys dat Jesus se skandelike dood ook God se vloek weerspieël.

Neem byvoorbeeld Markus 10:45:

“Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense.” Jesus is die Een wat sy lewe vir mense opoffer. Dit is dan ook die betekenis van die nagmaal: Jesus se lewe en bloed word vergiet vir baie mense (Markus 14:24).

Paulus, het ons gesien, dink ook só oor Jesus se lydensweg.

Die opstanding is nou vir hierdie skrywers die oomblik van die groot ommekeer: God wys in die opstanding dat Jesus reg was. Die pad van skande wat hy geloop het, word nou deur God omgekeer en Jesus as die Regverdige uitgewys. Die skandeweg word vervang deur Jesus se verheerliking in die opstanding en hemelvaart.

Die Johannes Evangelie kyk na Jesus se dood en opstanding vanuit 'n ander perspektief. Johannes vertel heelwat van die verhale van Jesus se lyding wat ook by die Sinoptiese Evangelies voorkom. Tog het Johannes ook ‘n unieke manier van praat oof Jesus se kruis.

In die evangelie word op ‘n baie spesiale manier oor Jesus se dood gedink. Hier word nie gepraat van ‘n ontlediging en ‘n skandelike dood nie. Vir Johannes word Jesus naamlik in sy dood “verheerlik.” Christus se “oplig” aan die is reeds die oomblik wanneer hy verheerlik word. Johannes 3:13-14 vertel dit in ryk simboliese taal:

Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die Mens. Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

En Johannes 12:32 is net so boeiend:

“En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.”

Johannes gebruik daarom doelbewus ‘n woord (oplig) wat dubbelsinnig is en wat beide kruisiging en verheerliking beteken.

Jesus se kruisdood is dus vir Johannes die oomblik van verheerliking wat vir die mensdom verlossing bring. Dit laat ‘n mens dink aan die Ou-Testamentiese beeld van die Kneg van die Here in Jesaja 52:13.

Wat dit alles beteken, word die duidelikste uitgespel in Jesus se hoëpriesterlike gebed. Daar bid Jesus op die vooraand van sy dood vir sy volgelinge en verwys dan na sy naderende kruisiging in Johannes 17:1, 5:

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.... Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

Hier kry ons een van die mees intieme kykies in die spesiale verhouding tussen Jesus en die Vader. Die kruisiging is vir Johannes die plek waar die durende, ewige en noue verhouding tussen God en die Vader die helderste na vore kom. Aan die kruis keer Jesus terug na die Vader. Dit is die plek en tyd dat Jesus weer tuis is by die Vader.

Die kruis is vir Johannes die plek waar gelowiges uiteindelik ervaar wie Christus werklik is. Dit is die oomblik wanneer Hy “almal” na Hom “toe trek” (Joh.12:32), wanneer die heilswerk van God vir die mens onmiskenbaar en duidelik blyk.

Wanneer Johannes oor Jesus se dood praat, lyk dit daarom vir baie verklaarders asof hy juis nie bloot net Jesus se lyding wil beklemtoon nie of die gruwelike kante daarvan wil uitbeeld nie. Wanneer ‘n mens sy kruisverhaal lees, is daar iets sterks aan die verhaal. Jesus is die Een wat volledig volgens God se wil sterwe: wat met hom gebeur as die soldate vir sy klere die lot werp en sy uitroep dat hy dors het, vervul die Skrif. Hy kwel hom aan die kruis nie oor sy eie pyn nie, maar bring nog sy ma en die geliefde dissipel bymekaar uit. Hy sterf ook met die tevrede uitroep: “Dit is volbring.” Sy taak is afgehandel. In sy dood doen Hy wat die Vader van hom gevra het. Hy laat sy kop sak en blaas sy laaste asem uit. Jesus behou die inisiatief. Hy is nie ‘n slagoffer van lyding nie. Hy is ‘n sterk magsfiguur.

Dit is, dus, ‘n heel besondere beeld van Jesus wat ons hier raakloop: In Johannes leer ken ons ‘n Jesus wat ‘n besondere intieme band met God het en dat Hy by uitstek die een is wat mense ‘n kyk in diehart van God kan bied. Uiteindelik is hierdie Jesus die een wat God aan die mense verkondig. Jesus maak byvoorbeeld volgens Johannes 17:25-26 hierdie besondere sterk aanspraak:

“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar ek ken U, en hulle hier weet dat U my gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Jesus is dus dwarsdeur die Evangelie in sy aardse bediening dus al ‘n uitsonderlike heerlike figuur.

Dit is dus byna te verwagte dat Johannes ook in die kruis Jesus se heerlikheid sou raaksien.

Maar hoe presies moet ons hierdie merkwaardige dubbelsinnigheid verstaan dat Jesus wat gekruisig word ook die Jesus is wat verheerlik word? Is Jesus eintlike die “heerlike” Jesus wat maar net deur die stadium van ‘n kruisdood moet deurgaan of word Jesus verheerlik omdat hy gekruisig is?

In die een geval is die kruis maar net byna ‘n “toevalligheid,” ‘n “voorlopigheid.” In die tweede geval is die kruis ‘n noodsaaklikheid.

Wil Johannes vir sy lesers vertel dat Jesus die een is wat gekruisig is en wat deur sy kruisiging tot heerlikheid gebring word? Word Jesus verheerlik omdat hy gekruisig is? Is die kruis vir Johannes die allerbelangrikste motief in sy evangelie?

Hierdie siening van Jesus se kruisdood sou kon beteken dat wanneer ‘n mens oor goddelike heerlikheid nadink, dit nie sonder die kruisweg kan gebeur nie. Die heerlikheid van God word in hierdie siening altyd gekwalifiseer deur die kruis – en dit is dan ‘n radikale herdefinisie wat Jesus daarmee aan God se heerlikheid gee. As ‘n mens goddelikheid wil verstaan, sê hierdie interpreteerders, kan ‘n mens dit nie sonder die kruis verstaan nie.


Maarten Luther, skryf Larsson in ‘n artikel, sê dat Jesus openbaar God in die mees fundamentele manier in die kruis. Om Jesus as Seun van die Mens aan die kruis te sien, is om God te sien. Wanneer Jesus sterf, sien ons die helder glans van God se heerlikheid. Alles wat ons normaalweg van God se heerlikheid dink, word deur hierdie kruisdood van Jesus ondermyn en gedekonstrueer. Dit is ‘n radikale hersiening en omkering van ons tradisionele beskouing van wie God is. En ditis nie die eerste keer dat Jesus dit doen nie. Wanneer Jesus aanspraak maak daarop dat hy die lig van die wêreld is (Joh.8:12), is Hy weer ‘n keer radikaal en ondermynend. Ons, skryf Luther, sou Hom nie kwalik geneem het as Hy gesê het Hy is die lig van hierdie land nie. Maar van die hele wêreld? Dit klink dom en laf, arrogant en aanmatigend. Dit voel vir ons na onuitstaanbare verwaandheid. Dit is net so ‘n radikale hersiening van ons manier van dink as wat die kruis ‘n hersiening en herinterpretasie van Jesus se heerlikheid is.

Of is Jesus die een wat veral verheerlik is en in wie die heerlikheid van God in die eerste plek raakgesien word? Is die kruis, soos vir sommige interpreteerders, maar net ‘n aspek van sy heerlikheid wat nie regtig enige noemenswaardige invloed op sy heerlikheid het nie? Speel die kruisweg en die lyding aan die kruis in Johannes se evangelie skaars enige betekenisvolle rol? Is die kruis vir Johannes, anders as vir die Sinoptiese Evangelies dan nie ‘n skande nie?

Calvyn, skryf die Nuwe-Testamentikus, het hierdie standpunt gehandhaaf lank voor enige moderne Nuwe-Testamentici dit verwoord het (bv. Brown). Die heerlikheid van Jesus, skryf Calvyn, kan ‘n mens raaksien selfs wanneer die Bybel Hom as swak en magteloos teken. Jesus se heerlikheid is te sien wanneer die evangelie as oorwinning oor die Satan verkondig word (Joh.3:14 en 8:28). In Johannes 17:8 sê Jesus dat sy volgelinge Sy woorde van die Vader van Hom gekry en aangeneem het en dat hulle geglo het dat die Vader Jesus gestuur het.” Dit, volgens Calvyn, beteken dat geloof op die heerlikheid van Christus gerig is. Geloof weet niks aards of veragteliks van Jesus nie. Geloof tel ‘n mens op na Christus se goddelike krag sodat ‘n mens oortuig word dat ons in Christus die volmaakte God het en alles wat aan God behoort.

Ek is nuuskierig oor wat ander hieroor dink. Skryf hieroor aan my by pgdevilliers by mweb.co.za (vervang die “by” met ampersand of @ teken).

Tuesday, February 16, 2010

Fliekpiek: Sherlock Holmes, die man met die helder verstand

Die nuwe fliek oor Sherlock Holmes is een van die baie films wat oor hierdie legendariese en onortodokse speurdersfiguur uit die laat negentiende eeu gemaak is. Dit is duidelik ‘n Britse produk aangebied in die keurigste van presisie. Hier hoor ‘n mens keurige Ingels, geniet pittige humor en ontdek ‘n mens hoe lyk London in Holmes se tyd met sy kronkelstrate vir koetse, sy indrukwekkende brue, groot fabrieke, Parlement met sy Big Ben, met sy klasse-stande – die arm massa’s en die rykes, met sy geskiedenis en kultuur. ‘n Mens kan die fliek bloot gaan kyk net vir sy historiese inligting.

Sherlock Holmes is een van die bekendste bakens van die laat negentiende eeu. Dit is die hoogbloei van die rasionalisme. Hierdie speurder is ‘n slim man. Hy ken van alles – nie net in terme van die geskiedenis nie, maar hy is ‘n boffin in die natuurwetenskappe. Maar, interessant genoeg, is hy by uitstek die waarnemer. Die kleinste detail val hom in ‘n fraksie van ‘n sekonde op: die kalk op die professor se baadjiekraag, die vorm van die pupil, die reuk van ‘n voorwerp. Maar wat hy raaksien, is net die begin. Logies bedink hy dit en trek dan konklusies daaruit wat ander mense verstom laat staan – hoewel hulle, as hulle maar net so oplettend soos hy was, dit self ook sou kon ontdek het.

Lord Blackwood, sy opponent in hierdie fliek, is die beliggaming van die Boosheid self. Daarom is ‘n mens nie verwonderd dat hy lang stukke in Openbaring lees en aanhaal nie. Lord Blackwood sien homself megalomanies as die een wat ‘n nuwe toekoms vir die hele wêreld sal bring, maar hy is duidelik die absolute teenpool van alles wat goed en reg is. Hy omhels die sataniese greep na wêreldheerskappy van Openbaring 13 vuriglik en sal nie huiwer om mense wat in sy pad staan, uit te wis nie. Hy wil inderdaad mense laat dink dat hy hulle kan "toor."

Maar wat ‘n mens die meeste opval is dat die fliek sy grypsug verbind met die okkulte, toorkuns en swart magie. Op die oppervlakte gebruik Lord Blackwood allerhande swart toorkrag om sy bose doelwit te bereik. Vrees, sê hy, is wat hy daarmee wil aanjaag. As hy die massas kan laat sweet van die angs, is sy heerskappy verseker. Die vrees kan hy net inboesem as hy hulle begelowigheid uitbuit. Daarom laat hy skynbaar allerhande geheimsinnige dinge gebeur sodat mense kan dink dat hy buitengewone magte het wat hom bystaan. Hy laat met opset die menigtes dink dat hy bonatuurlike kragte het. Hy wil dat hulle hom as 'n goddelike figuur sien.

Dit is op hierdie punt dat die fliek ‘n tipiese ontmaskeringstegniek toepas. Sherlock Holmes is by uitstek die dekonstrueerder van mitiese oortuigings en aansprake. Hy wys konsekwent en meedoënloos deur sy skerp, wetenskaplike brein en sy verstommende waarnemingsvermoë hoe ‘n mens eenvoudig alles “natuurlik” kan verklaar. Dat Lord Blackwood in die tronk gehang word, maar dan lewend word, is die gevolg van sy slim gebruik van ‘n middel wat die indruk van ‘n skyndood skep en veroorsaak dat iemand se pols nie meer gemeet kan word nie. En so onthul hy van geval na geval die werklike oorsaak van raaiselagtige gebeurtenisse.

Wat my laat dink: die toorkuns, bygelowigheid en ander sensasionele aansprake het niks te doen met die mistiek nie. Ek hou daarvan om nie in godsdienstige kontekste maklik van “geheime” te praat nie. Of op sy Engels van “secrets” nie, asof ‘n mens met spesiale, uitsonderlike dinge van towenaarskwaliteit te doen het nie. Spiritualiteit gaan nie om uitsonderlike geheime waardeur sommige mense dinge weet wat ander nie kan weet nie en wat hulle gebruik om oor ander die septer te swaai nie.

Paulus praat op ‘n stadium van die evangelie as die openbaring van die verborgene (bv. Efes.3:5). Dit is vir hom baie belangrik en 'n grondmotief in sy prediking. Hierdie "verborge" dinge het niks te doen met geheime, vreemde formule's of kennis waardeur 'n mens ander onder 'n "spell" kan plaas nie. Die verborgene is dit wat nog altyd by God bekend was en by God bestaan het, maar wat in die volheid van die tyd aan die soekers geskenk word. Vir Paulus beteken dit dat God nou in Christus al die beloftes sigbaar en konkreet in Jesus waar maak. Die verborgene is dus niemand anders as Christus nie - Christus kom verkondig God se heil aan almal. Alle mense kry toegang tot hierdie dieper, lewegewende dinge.

Hier gaan dit dus nie om duistere sake wat vrees by ons inboesem nie. In Markus Evangelie is Jesus die Verborge Een wat ontsag opwek – wie is Hy, vra sy dissipels verstom, dat Hy die storms kan stilmaak? Jesus is daarmee nie ‘n towenaar wat allerhande bygelowige kunsies bemeester het nie.

Ons kan dus nie 'n "Sherlock Holmes" op die Bybel uithaal nie. Geen verstand sal Hom kan ontsyfer of ontmasker nie, want in Christus sien ons God se teenwoordigheid en staan ons voor die onontsyferbare, ontsaglike teenwoordigheid van dit wat die sin en betekenis van alles is. Jesus is by uitstek die een in wie die soeker God se gesig van goedheid ontdek. Dit is ‘n mistieke ervaring wat slegs in die geloof toeganklik is.

Sherlock Holmes as fliek laat ons met ‘n salige gevoel: ons kan alles verklaar. Die ergste vorms van boosheid het sy logiese oorsake. Daar is niks wat ons verstand kan ontsnap nie. Net die oningeligte massas, vertel die regisseur Guy Ritchie vir ons, sal aan vrees ten prooi val.

Hierdie sterk uitbeelding en verheerliking van die menslike vermoë en verstand is in ons tyd nie onnodig nie. As ‘n mens kyk na die kwaksalwery wat aan mense verkoop word as die waarheid, is daar nog te veel mense wat deur uitbuiters mislei word en nie agterkom hulle word meedoënloos bedrieg nie. En dit gebeur soms ook van die preekstoel en kateder af. Maar dan het daardie soort van kwaksalwery en bedrog ook min te doen met wat ons as die verborge, dieper dinge van die evangelie ken.

Die mistiek as die eenwording met God wat in die geloof aan hulle wat dieper kyk geskenk word, staan nie teenoor die verstand en die rede van die mens nie. Spiritualiteit het iewers ook te doen met God wat ook ons verstand heiig. En God verwag sekerlik ook van ons dat ons ons geloof met ons vestand sou kon bedink. Juis deur ons verstand kan ons groei in heiligmaking.

Maar iewers gaan ons geloof ook verder en dieper as die menslike verstand. Hoe belangrik die verstand ook al mag wees, het ons geloof met baie meer as net verstandsake te doen.

Monday, February 15, 2010

Die opstanding vanuit spiritualiteitsperspektief.

Markus, Matteus en Lukas deel met mekaar baie dinge oor Jesus wat dieselfde is. Hulle beskrywing van Jesus se lewe en dood het dieselfde patroon: Jesus word eers met groot bewondering ontvang en beluister deur skares van mense wat na hom stroom. Maar spoedig begin die teenstand teen hom totdat hy uiteindelik doodgemaak word. Die kruis is die ergste vorm van verwerping en nederlaag. Op die agtergrond, soos Schneiders skryf, hiervan sien ons die werking van Deuteronomium 21:23 dat iemand wat skuldig bevind en opgehang word, die vloek van God dra.

Al drie sinoptiese evangeliste dink dus oor Jesus se dood as ‘n skanddood. Vir hulle is die opstanding dan God se ingryping om Jesus se skanddood om te keer en Hom uit te wys as die regverdige een. Jesus se vernedering word omgebuig in sy verhoging. Jesus se ontlediging, sy vernederend kenosis in die skanddood aan die kruis word omgekeer. Die opstanding bevestig God se regverdiging van Jesus se lewe en bediening. Die opstanding word daarom ook verbind met Jesus se hemelvaart. Jesus tree in in hemelse heerlikheid aan die regterhand van God. Dit is sy verhoging tot God se regterhand – die finale bewys dat sy lewe vir God goed was.

Ons kry dus in die sinoptiese evangelies ‘n spesifieke patroon wat ook in Filippense 2 gevind word. In daardie ou Christus-lied wat Paulus in sy brief oorneem, lees ons van Jesus wat nie vasgeklou het aan sy hemelse heerlikheid by God nie en wat as ‘n slaaf aan mense gelyk geword het. Sy menswording het uitgeloop op die kruis. “Daarom” skryf Paulus in Filippense 2:9, het God Hom tot die hoogste eer verhef en ‘n hoë naam gegee. Hy is die “Here.” Hier word die goddelike bevestiging van Jesus ten volle en uitvoerig uitgewerk.

Dit is ‘n merkwaardige ommekeer. In die oë van die Joodse wêreld was Jesus se kruis baie meer as net ‘n verkriklik aaklige lot en gruwel. Dit was uiteindelik ‘n teken van goddelike oordeel – ‘n teken van God se vloek wat oor hom gehang het. Paulus, byvoorbeeld, neem hierdie motief direk oor in Galasiërs 3:13-14: Christus, skryf hy, het in ons plek “’n vervloekte” geword. Hy haal dan Deuteronomium 21:23 aan: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.”

Hierdie skandelike kruisdood word in die opstanding op sy kop gesit. Die opstanding, vertel die sinoptiese evangelies, het Jesus geregverdig. Die goddelike oordeel word nou die goddelike verheerliking – Jesus is nou in die teenwoordigheid van God.

Die kruis en die opstanding is dus twee kante van die munt. Ons kan nie die een sonder die ander een verstaan nie.

Kyk ‘n mens na hoe Paulus oor die opstanding in sy briewe praat, kan ‘n mens voorlopige die volgende dinge uitlig:

· Die opstanding is God se inisiatief. God gryp in. Die kruis spreek nie die laaste woord nie.

· Die opstanding is ‘n kragtige gebeurtenis in die vroegste Christendom. God het magtig ingegryp. In die opstanding merk ons God se skeppende aanraking. Juis dit is waarom die opstanding soveel vrae, vrees en verwondering oproep by mense wat dit beleef. In die opstanding staan mense voor ‘n verborgenheid, voor ‘n dinamiese, magsvolle daad. Teenoor die destruktiewe mag van die mensdom wat Jesus aan die kruis vasnael, staan die vernuwende mag van God.

· Die opstanding is ‘n transformatiewe, omvormende daad. Waar God raak, word die dood ontbind en in die teendeel omskep. Waar God raak, kom lewe tot stand. God se mag word die instrument van herskepping.

· Dit weer, illustreer transformasie verder. Transformasie is baie meer as die terugkeer van die verlede. Jesus word nie na sy kruisdood bloot net tot die lewe herstel nie. Hy word tot ‘n nuwe lewe getransformeer. Jesus se menslike liggaam word nou Jesus se verheerlikte liggaam.

· Die transformasie het ook ‘n groeiende intensiteit. Die beperkinge van die verlede, die trane, word vervang deur die vreugde van die toekoms. Die proses van transformasie beteken om voortdurend nader aan God te kom, intiemer met God verbind te word totdat God uiteindelik in die groot einde alles in almal sal wees. Die proses is klimakties. Jesus se verheerlikte liggaam, verborge by God, word uiteindelik in die einde weer aan mense bekendgemaak. Sy heerlikheid sal deur almal gesien word – ook die wat hom deurboor het (Open.1!).

· Die opstanding is ‘n uitkringende gebeurtenis. Dit dy uit in wye ruimtes: dit is ‘n proses wat die hele mensdom raak. Wat in Jesus gebeur, raak ook alle mense. Die opstanding van Jesus word die opstanding van mense wat in Jesus is. Transformasie word ‘n hele proses – die opstanding stop nie by Jesus nie. Maar die proses hou nie op by die eerste Jesus-groepe nie. Dit du voort in die geskiedenis. Vir gelowiges is die opstanding van Jesus net die eerste vrug van ‘n groot oes wat deur die eeue heen onder baie groepe ingesamel sal word.

Dit is maar ‘n paar aspekte van hoe Paulus en vele Christene in die algemeen oor die opstanding gevoel het. Wanneer ek hieroor nadink, help dit my om verskeie aspekte van spiritualiteit beter te verstaan. Spiritualiteit gaan oor God se verhouding met die mens wat transformatief bly werk. Daarmee is drie kernmomente uitgewys deur die drie woorde van “verhouding,” “transformasie” en “bly werk” (proses). Maar elkeen van hierdie woorde kan weer deur verdere motiewe uitgebrei word. In die opstanding byvoorbeeld, neem God die inisiatief, tree God kragtig op, bevestig God Jesus. Die mens wat in ‘n verhouding met God verbind is, word dus opgeneem in ‘n dinamiese, sterk, regverdige verhouding. Die verhouding van God tot die skepping word aangevuur deur God se vurige liefde en sin van geregtigheid. “Transformasie” het ook baie aspekte: dit raak tyd en ruimte, mense en tye word onherroeplik verander waar God aan die werk is. En dit word ‘n proses wat voortdurend vormend bly werk. Die geskiedenis en ons geestelike reis het gedurig nuwe dinge wat ons ontdek en mylpale wat op ons wag.

Dus is, uiteindelik, die groot vraag wat die opstanding doen. Wat gebeur, wat word beleef, wat word omgekeer wanneer God ingryp en lewe skenk in die plek van die dood.

Dit is maar net nog die begin. As ‘n mens hierdie algemene patroon herken het, is dit boeiend om te sien hoe die opstanding in elke boek van die Nuwe Testament iets anders “doen” aan die spesifieke lesers van daardie boeke. Die skrywers van die Nuwe Testament wou nie ‘n algemene “leer” oor die Nuwe Testament neerskryf nie. Die skrywers het gedurig vir hul lesers ingelyf in watter verskil die opstanding aan hulle lewens maak. Vir hulle was die opstanding nie ‘n stuk teologie nie. Dit was ook nie ‘n les of dispuut oor die geskiedenis van Jesus nie. Vir hulle was die opstanding ‘n ervaring wat hul lewe op sy kop gekeer het. Jy praat nie sommer net los en vas allerhande dinge oor die opstanding nie. Deur die opstanding word ‘n krag losgelaat wat op mense beslag lê en hul radikaal omvorm. In die opstanding van Jesus, het hulle geglo, het God ‘n mistieke krag gewerk wat alles begin verander het. Maar – die boeiende is dat hierdie krag orals waar dit aan die werk was, nuwe dinge gedoen het. Daarom sien ons so baie gesigte van die opstanding in die Nuwe Testament. Elke boek bring nuwe aspekte van die opstandingskrag na vore.

Hieroor later meer.

Sunday, February 14, 2010

Om beter as God te wil weet. Oor die geestelike lees van Jona (slot).

In die afgelope tyd het ek heelwat nagedink oor die boek Jona. Ek wou meer verstaan van hoe die boek deur die eeue heen deur gelowiges verstaan is.

Die vraag is veral belangrik vir Christene. Hoe help Jona, ‘n boek wat deel is van die Ou Testament, mense om hul verhouding tot God, gevorm deur die boodskap van Jesus, te beleef? As ‘n mens hierdie boek nalees, begin jy ook breër verstaan hoe gelowiges oor die Ou Testament voel. Watter rol speel hierdie boek van Israel in die Christelike geloof? Vandag is die Jodedom en die Christendom een van die groot wêreldgodsdienste. Saam met Islam leef aanvaar hulle almal die Ou Testament as gesaghebbende, heilige boek. Die Ou Testament is dus ‘n belangrike gemeenskaplike tradisie wat hierdie wêreldgodsdienste met mekaar deel. Al drie van hulle aanvaar die getuienis van 39 boeke as getuienis oor God en sluit dit in in hulle heilige geskrifte. Maar watter rol speel die versameling van boeke in hierdie godsdienste? Hoe vorm dit die geestelike lewe van hulle gelowiges?

Die boek Jona help ons ook om die Christendom te verstaan. Van die begin af het die kerk gedoen wat Jesus gedoen het. Die “Ou Testament” was ook Jesus se heilige boeke. Daar is nie ‘n bladsy in Handelinge, die boek van die kerk, wat nie gedurig na die Ou Testament verwys nie. En dit is nie om dowe neute dat Handelinge van die eerste gelowiges reeds as “Christene” praat nie (Hand.11:19-26). “Christendom” beteken ‘n fokus op “Christus” – en daarmee bedoel ‘n mens Jesus van Nasaret wat in die tradisie bekend geraak het as Jesus Christus. Maar Christus is nie net ‘n eienaam vir Jesus nie. Dit beteken ook “Messias”. Daarmee is ‘n onlosmaaklike verband tussen geloof en Ou Testament gelê. Jesus verteenwoordig met sy lewe al die goddelike dinge van die Ou Testament. En, soos ons gesien het, het Jesus ook die boek Jona gelees en gebruik (sien vorige blogs). Jesus het sy eie bediening en persoon in die lig van die Ou Testament verstaan.

Lees ons die Ou Testament genoeg? Lees ons die Ou Testament reg? Is die Ou Testament vir ons ‘n inspirasie in ons geloofsreis? Of is dit ‘n struikelblok?

Dat die Ou Testament ‘n groot struikelblok kan wees, word goed deur die boek Jona geïllustreer. Die duiwel is gewoonlik los wanneer gelowige, goeie Christene gewoonlik begin baklei oor die vraag of Jona nou wel in die vis se maag was of nie. Sommige vind dit onverstaanbaar dat gelowiges kan twyfel hieroor. As iets in die Bybel staan, moet dit mos gebeur het – redeneer hulle. Ander weer kom in opstand as van hulle verwag word om te aanvaar dat Jona letterlik in die vis se maag was. Nog ‘n klomp kyk taamlik sinies na hierdie bakleiery: hulle sê gewoonlik dat die mense wat so onder mekaar baklei oor Jona in die vis, skynbaar net so genadeloos teenoor mekaar was as wat Jona teenoor die Nineviete was. Hulle verketter en belas mekaar. Nog ander sê: watter verskil maak dit aan mense se geloof as hulle nie wil en kan glo dat Jona wel in die maag van die vis was nie? Om dit nou bietjie sterk te stel: word sulke “ongelowige” mense dan nou slegte mense wat hatig, onverdraagsaam, selfsugtig, humeurig, gewelddadig, korrup, sedeloos, bandeloos is? Oor en weer, heen en weer, vir of teen is die beskuldigings, beledigings en verwyte wat in die naam van hierdie boek geslinger word.

En dit alles terwyl dit ongetwyfeld ‘n belangrike boek is. Jesus het die boek Jona met sy opstanding verbind (Matteus 12:38-42). Dit was dus vir hom van kardinale belang. Jona in die maag van die vis is die teken van die Seun van die Mens se dood en opstanding.

Nie vir ‘n oomblik is daar enige aanduiding dat Jesus hierdie boek gebruik het om mense te verketter oor enige letterlike interpretasies van die Ou Testament nie. Trouens, Jesus het juis die boek gebruik om mense te waarsku teen ‘n geloof wat gebou is op “wonders”. Dit is eintlik ironies dat Jesus ‘n boek oor ‘n viswonder gebruik om mense te vra om nie wonders te soek nie.

Maar was die boek Jona vir Jesus ‘n boek oor ‘n “viswonder?” Jona leer ons, sê Jesus, dat die hart van die goddelike boodskap te vind is in die kruis en opstanding. Wat belangrik is in ons geestelike reis, is dat Jesus gesterf het – drie dae en drie nagte dood was. Jesus, groter as Jona, is die een wat soos Jona, uit die dood opgestaan het. Hierdie opstanding “doen” iets, want dit “verander” mense “kragtig”. Die opstanding, sou ons in spiritualiteitstaal kon sê, transformeer mense:

Kyk, sê Jesus (in Matteus 12:38-42), na Jona. Hy was drie dae en nagte in die vis. Maar dan beweeg Jesus aan na die res van die Jona-boek en fokus op die “prediking” van Jona wat lei tot die Nineviete se kragtige bekering (Matteus 12:41). Jesus knoop die krisis-oomblik in die vis aan die uitkoms van die krisis: Jona, die een wat gesterf en opgestaan het, het die Nineviete tot besinning opgeroep. En hierdie gehate vyande van God, die Assiriërs wat die 10 stamme van Israel vernietig het, het tot bekering gekom. Die ondenkbare het gebeur. Die mense wat vir gelowiges in die ou bedeling die simbool van uiterste vernietiging was, is totaal verander. Die God van die Joodse volk bring hulle tot sak en as. ‘n Woord van God was kragtig genoeg om totale boosheid om te keer. Jona se krisis was God se kans.

As dit alles met Jona gebeur het, hoeveel te meer nie met Jesus nie – die een wat groter as Jona is.

Hierdie woorde van Jesus kry nou ‘n sterk reliëf wanneer dit met die res van die boek Jona verbind word. Hierdie Ou-Testamentiese teks gee vir ons insigte in die geestelike reis wat op ander maniere in die res van die Nuwe Testament na vore kom. Jesus se opsomming van die goddelike genade-boodskap van Jona was nie so maklik soos ons dalk sou dink ni. Die boodskap was vir Jona in meer as een opsig te veel. Hy probeer van die eerste oomblik dat God hom tot só ‘n genade-profeet wil maak, hom uit die voete te maak. Hy hou net niks van wat hy van God hoor nie. Dit is nie sy idee van hoe God behoort op te tree nie. Hy klim sommer dadelik op ‘n skip om na Tarsis te vlug. Dié stad was volgens sommige in die suidweste van Spanje geleë. Jona wil dus na die eindes van die aarde padgee – so ver weg dat God hom met rus sou laat. Hy wou so ten alle koste heeltemal van God se vreemde weë wegkom en sy eie pad met sy lewe loop.

Maar sy weë is nie God se weë nie. En Jona weet presies wanneer God hom weer inhaal. Toe daardie storm oor sy skip losbreek, toe wéét hy. Hy word van die skip afgesmyt toe hy vir die matrose vertel die storm is sy skuld. Die doodsbenoude matrose was bang dat God hulle ook sou bykom. Hulle het nie in hulle godsdienste genadige gode geken nie. Jy bly maar uit die gode se pad en assossieer veral nie met ouens vir wie die gode kwaad is nie. Dus voldoen hulle met graagte aan Jona se versoek.

Maar God is goed en red Jona. Genade onbegryplik groot: die ongehoorsame profeet kry nog ‘n kans. En Jona, berouvol, bid ‘n pragtige, aangrypende, opregte gebed (Jona 2). Ons hoor hoe naby hy aan God is. Die profeet, die reisiger, hoop ons, het uiteindelik sy les geleer. Hy word gered. Ons sien hoe naby God aan Jona bly. Hy ervaar ‘n noue, intieme band met God.

Maar helaas. Hoe voorspelbaar die weg van die mens wat God se rol wil oorneem. ‘n Hoofstuk verder en ons kry hom weer ontevrede, woedend en opstandig. Die Nineviete kom sowaar tot bekering as hy by hulle profeteer! Sy boete-prediking werk.

Maar wat het hy gedink? Dat die Nineviete, tipies heidene, horende doof sou wees? Tot sy ontsteltenis is hulle nie. En toe is die vet in die vuur: Hoe kan God, mor Jona, hierdie verdoemde nasie, die uitwissers van die 10 stamme, die simbool van uiterste kwaad, sowaar met ontferming bejeën! Hy sien nie hoe kragtig God se boodskap ‘n nasie van moordenaars en plunderaars in boete-doening op hul knieë bring nie. Selfs die koning trek rouklere aan – en – hoor hierdie boodskap – laat proklameer: “Mens en dier moet hulle van hul verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het” ! Voor hom sien Jona, die profeet, net ‘n klomp goddelose heidene wat niks anders as uitwissing verdien nie.

Ek verwonder my ook oor die spiritualiteit wat na vore kom in die karakterisering van die Nineviete. Die boete-prediking van Jona is ingrypend. Dit is nie sommer net vroom praatjies wat die Nineviete hier aanbied wanneer hulle God se aanraking ervaar nie. Hulle kom tot ‘n koersveranderende ommekeer. Hulle doen boete (Jona 3:5). Maar hulle ommekeer is meer as dit. Hulle transformasie het ‘n praktiese, etiese karakter. Dit word vir hulle meer as net gepraat en boetedoening. Hulle “ervaar” en “beleef” ‘n nuwe lewe. Want, staan daar in Jona3:8 hulle wil heel konkreet ‘n einde maak aan hul gewelddadige geskiedenis. Die tyd is verby dat hulle mense sou onderwerp, gedood, stede verbrand en as slawe wegvoer. In Jona 2:10 staan ook vir die tweede keer hoe prakties-eties hul nuwe lewe lyk: "Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hul bekeer van hul verkeerde dade, het God afgesien va die ramp."

Die krag van God se boodskap het hierdie groot boosdoeners getransformeer tot vredemakers. Jona se boodskap, die man wat drie dae in die vis was, word vir hulle die bron van radikale omvorming. God se genade is die bron-ervaring van hul nuwe bestaan in vrede.

Die ondenkbare het gebeur. Die mense wat in die geskiedenis van God se volk as die groot boosdoeners bekend geraak het, is in sak en as – sonder dat iemand ‘n swaard uit sy skede getrek het en dit teen hulle nekke hou! Die geweldlose, genadige boete-prediking van Jona het hulle tot vredemakers omvorm.

Al wat gebeur het, was dat ‘n boete-profeet met hulle oor God kom praat het. Terwyl Israel deur sy geskiedenis sy eie profete sou doodmaak, het hierdie harde kwaaddoeners die krag van die goddelike boodskap gevoel en beleef. Dit het iets dramaties aan hulle gedoen.


Maar steeds moet ‘n mens onthou dat hulle geskiedenis net ‘n binne-deel van die groter geskiedenis is. Terwyl die heidene positief reageer, is Jona as tipe van die gelowiges van alle tye in reaksie teen God se genade. Die Nineviete is, tragies genoeg, die mooi deel van die Jona-boek. Hulle “wonder-like” verhaal omraam die tragiese verhaal van Jona, van die gelowige mense se reaksie op God se oordadige genade.

Daar is iets tragies omtrent Jona se tragiese reaksie. Die boek Jona het ‘n “oop einde.” Terwyl ons weet wat van die Nineviete geword het, verdwyn Jona in die donker van die geskiedenis. Ons wonder...

Duidelik en helder bly praat die boek verder oor God se genade tot die einde toe. Ons sien Jona wat opnuut weer vir ‘n verdere keer genade ontvang: God gee vir hom ‘n skaduwee om onder te skuil daar waar hy dikbek in sy woede buite die stad gaan sit het omdat God die Nineviete nie vernietig het nie. Vir hom is daar geen vreugde-partytjie saam met die verlore kinders wat huis toe gekom het nie. Hy bly buite, kies die ruimte buite die stad. En vir oulaas praat God met hom deur die skaduwee van die plant weg te neem. As Jona kwaad is daaroor, leer God hom weer wat genade is. Jy is woedend (jona 4:9!) omdat die plant nou verdroog het. “Jy kwel jou oor ‘n plant. Maar as Ek my oor mense kwel, raak jy kwaad?”

Ons sien hier op ‘n aangrypende manier die onrustige Vaderhart wat gekweld is oor mense – keiharde boosdoeners wat hulle ook al mag wees.

Daar is niks verder in hierdie boek oor Jona nie. Wat het Jona gedoen nadat God vir hom vertel het van die gepynigde Vaderhart? God het vir hom gevra “Het jy rede genoeg om kwaad te word oor die komkommerplant?” En die laaste woorde wat ons van hom het is: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” Sou hy sy lewe só tot ‘n einde bring?

Hierdie verhaal laat my opnuut besef: Dit is tog maar ‘n ding om vanuit die krag van Jesus se opstanding te leef. Dit kan jou anders maak as wat ‘n mens ooit gedink het jy sal word. Jy kan die teken van Jona verstaan, selfs omhels. En tog, is daar 'n oomblik, 'n deurslaggewende tyd, dat jy kan besluit jy weet beter as God. Hoe verleidelik is dit om ons eie geestelike pad, weg van genade, te wil loop.

Dit is tog maar ‘n groot uitdaging om jou kruis op te neem en Hom te volg. Dit is maar ‘n waagstuk om as besielde en toegewyde apostel in jou binnekamer te gaan bid tot God en dan later berouvol te moet erken : “Wie is ek dan om God te probeer verhinder?” (Handelinge 11:17). Selfs die grootste van groot leiers kan nog laat in hulle lewe beter as God wil weet.

‘n Mens kan as getroue, oudste kind naby die ouerhuis bly. In die huis van jou vader en jou moeder woon jy vir jou hele lank, maar steeds bly jy ‘n vreemdeling in die huis van liefdevolle genade. ‘n Mens kan kilometer vir kilometer agter Jesus aanloop, selfs tot op die letter vir Jesus se geldsake sorg, saam met hom die goddelike ritueel van die pasga, die bevryding vier, maar steeds ‘n verraaier wees. ‘n Mens kan in groot getalle na die Nasarener stroom en sy wonders beleef, maar nog steeds vir hom aan ‘n kruis vasnael.

Christus merk sy volgeling met die teken van Jona, die krag van sy opstanding. Wie daardie teken ontvang, moet gereed wees vir groot dinge – groter as wat hy of sy ooit voorsien het.

Jesus het die profeet Jona se boek gelees. Hy het dit geleef. Maar, anders as Jona, het hy nie van God se wil weggevlug nie, afdraaipaadjies gevat of onder skaduryke bome gaan bly nie. Hy wou, soms. In die woestyn het hy drie keer ‘n ander pad vir sy lewe bedink. En elke keer weer uit die Ou Testament ‘n antwoord gekry om eerder God se moeiliker pad te loop. In die tuin wou hy liewer ‘n ander beker ledig, maar tog toe die beker van bloed gepleng. Jesus is hiervoor sekerlik ook geïnspireer deur Jona – ‘n boek wat hy geken en beleef het. Maar dit was meer as boeke-kennis wat hom die pad laat loop het. In die woestyn, in die stilte van afsondering kon hy uiteindelik in God rus vind toe engele hom kom voed het en hy saam met die wilde diere vertoef het. In die tuin, in ‘n worstelgebed kon Hy hom afsonder om in die Vader se teenwoordigheid te wees. Dit was uiteindelik sy nabyheid aan God wat Hom die pad van vrede laat opsoek het – al het dit sy dood gekos.

Die kruis-verhaal het nie ‘n oop einde nie. As Jesus willens en wetens vir die wêreld sterf, is daar ‘n duidelike slot, onmiskenbare closure, deurtrek met kinderlike vertroue en oorgawe: “Vader, in U hande gee ek my gees oor” (Luk.23:46).

Die skaduwee van die boom waaraan hy hang, die donker van boosheid wat hom omring het, het die kragtige wete van die goddelike teenwoordigheid in sy lewe nie uitgewis nie. Hy kon nog, in sy finale oomblik, sy hart biddend aan God toevertrou. Sy lewe was deurtrek met die krag van die Gees.

Hy het krag gehad, maar vir ‘n moeilike reis. Hy het krag geput uit God se verhaal in die Ou Testament. Dit was die krag wat hy herken het uit sy intieme, direkte verhouding met God.

Wie weet. Miskien het daar ook in Jesus se laaste oomblikke ander gebede stilweg uit sy hart opgeklim na God. Wie weet. Dalk was hierdie een ook onder hulle:

“In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed gehoor.
Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor.”

Jona 2:2.

Saturday, February 13, 2010

Om wonderlike dinge te onthul....














Albert Herbert (gebore 1825), wat twee jaar gelede dood is, se skilderkuns word deur sommige mense met die groot mistieke kunstenaars in die Britse kunsgeskiedenis soos William Blake vergelyk. Hy teken in sy skilderye op ‘n eie, besondere manier Bybelse figure wat vir hom ‘n mistieke, godsdienstige boodskap ingehou het. Hy wou nie deur sy kuns ‘n blik gee op die wêreld daarbuite nie. Sy kuns was vir hom ‘n manier om uitdrukking te gee aan die mens se innerlike lewe en ervaring. Hy het dus dinge geskilder soos hy gevoel het hulle lyk – nie soos hulle “regtig” sou gelyk het nie.

Hy het Bybelse motiewe gebruik om uiting hieraan te gee omdat hy geweet het dat mense wat na sy kuns kyk, die motiewe sou herken en dus die ervaring ten grondslag van en in sy kuns sou kon deel.

Op ‘n sekere stadium het hy ‘n Koreaanse klooster opgesoek om in kontak met die Zen-Boedisme te kom, juis in sy soeke na die diepere dinge. Maar juis daar het hy besef dat hy volledig ‘n Westerling is en dat sy wortels in die Christendom lê. Ook daarom het hy Bybelse motiewe herontdek. Hy het lank kinderkuns bestudeer, soos ‘n mens duidelik uit sy latere skilderye kan agterkom. In sy naïewe kinderfigure wou hy ‘n diepsinnige ervaring uitbeeld. Sy figure het ‘n primitiewe karakter, maar hulle is besonder kleurryk. En gedurig is ‘n mens bewus daarvan dat hy besig is om onder die oppervlakte te delf. Hy wil met sy kuns die diep, innerlike wêreld van ervaring bekyk. En hierdie ervaring is ook vir hom polivalent. Dit kan nie in een betekenis vasgevat kan word nie. Daar is gedurig verborge insigte en ervaring wat in ‘n mens wakker word – nie net wanneer ‘n mens die Bybel lees nie, maar ook wanneer ‘n mens sy skilderye bekyk.

Daar is in ‘n sekere sin ‘n skynbaar logiese gang van sake in sy lewe. Herbert het as ‘n jong, onervare agtienjarige seun in die Britse weermag as soldaat ervaar hoedat driekwart van sy groep deur Duitse opponente tydens die inval in Normandië doodgeskiet is. Hy sou as ‘n godsdienstige mens van die oorlogsveld terugkom. Vir die res van sy lewe was hy in godsdienstige kuns betrokke. So sou hy veel later net een openbare kommissie ontvang to ‘n kerk hom gevra het om 14 stasies van die kruis te maak. Maar uiteindelik het die kerk die finale produk nie geskik bevind nie. Dit sou dan “te ontstellend” gewees het. Vandag hang dit in ‘n kapel iewers in London. Hy het, volgens sy familie, as laaste woorde op sy sterfbed gesê: “Ek dryf op ‘n meer.”

Green verwys in haar artikel oor die geestelike lees van die Ou Testament na Wendy Beckett wat ‘n skildery van Herbert oor Jona in die walvis bespreek. (Herbert het ten minste drie skilderye oor Jona in die walvis geteken - Beckett bespreek die derde een van bo). Jona, skryf sy, verteenwoordig mense wat in ‘n tipiese reaksie vir God wegwys en vir God “nee” sê. En wanneer dit gebeur, laat God “in sy desperate liefde” vir Jona besef wat gebeur met mense wat nee sê vir God. In die walvis se maag word Jona gekonfronteer met die vraag waartoe hy geroep is en wat hy met sy menslike talente moet doen. Jona moet kies: hy kan of veilig in sy eie vertroude omgewing bly. Óf hy kan waag, himself prysgee en hard aan die werk gaan. (Waarom dink ek hier aan Eckhart se interpretasie van Martha! – sien vorige blog).

Dit is nie ‘n maklike keuse nie. Die skildery beeld Jona uit as ‘n armsalige, kaal, verskrikte mens wat die wêreld staan en bekyk. Gaan hy die volwasse ding doen en sy verantwoordelikheid nakom? Hy is in ‘n verskriklike dilemma. Hy moet die keuse maak. Dit is alles in sy gedagtes. Maar, en dit is wat saak maak, skryf Green: “In alles is God se liefde by hom….”

In ‘n sekere sin is Herbert se skildery van Jona outobiografies. Hy was amper verlei tot die modernisme in sy skilderkuns. In sy tyd het al wat ‘n kunstenaar op die mode-wa van die abstrakte kuns geklim, want figurasie, is geredeneer, was swak kuns. Hy wou egter dieper kyk, die mistieke dinge ontdek, agterkom hoe veelvoudig en ryk aan betekenis ons lewe is. Kuns, het Herbert geskryf, is om die wonderbaarlike te onthul. Daarom het hy uiteindelik die risiko gewaag om nie abtrak te werk nie, maar figure uit te beeld. Daarvoor het hy ‘n hoë prys betaal. Hy is nie gereken nie, of selfs by ‘n geleentheid of twee geminag deur die manier waarop sy skilderye eenkant uitgestal is.

Herbert wou vir die moderne mens daaraan herinner dat ‘n mens nog verheffende ervarings kan hê. Hy wou mense herinner aan die transendente, aan die dieper Verborgenhede wat van ons verantwoordelikheid en reaksie vra. Ek kyk na sy ander skilderye. Aangrypende beeld hy Christus wat van sy klere gestroop word uit. Of Moses by die brandende bos. Of Die Vrou en die kind.

Mistieke onderwerpe. ‘n Mistieke aanbieding. En iewers kom die Bybel en kuns saam om ‘n mens innerlik só aan te raak dat jy opnuut weer nadink oor dinge wat in jou eie lewe werklik saak maak, oor keuses waarvan ‘n mens soms in vertwyfeling terugstaan. Opnuut weer besef ek – spiritualiteit gaan om ‘n mens se verhouding met God wat jou al hoe meer, soos jy deel in ander se ervaringe, maar soos jy aangeraak word deur God se liefde, verander, laat groei en dryf tot die volwasse lewe van toewyding.

Meimaand in London kry vir my ‘n proposisie by: ‘n besoek aan ‘n kapel in London….

Blog Archive