Friday, April 22, 2011

Golgotha, Goeie Vrydag en gebed



Gary Lessord, Christus se gesig. 1979.




Hoe anders, hoe anders is dit dan, hierdie dag van Jou kruis?

Net nog Maandag, toe Jy in die heilige plek ingeloop gekom het, was Jy die Man van Woede. Toe Jy daardie eerste tafel, met al sy smousware opgetel het en omgekeer het, was Jou oë vol vuur. Hoe sterk was Jy, tog, toe jy tafel na tafel omgesmyt het en die smouse uitgedryf het.

Iemand, bedink ek, sou Jou sekerlik nog wou keer. ‘n Dapper een het sekerlik vinnig nadergestaan om Jou aan te vat. Maar toe Jy die tweede tafel met ‘n veegslag omgestoot het, sou selfs die dapperste een ook begin terugstaan het.

Maar dit was met Jou brand-woorde, jou profete-roep wat met een enkele sin die weggesteekte, bedekte donker in hul vroom dade oopgeruk het, dat hulle verskrik, maar vies, die pad gevat het. Toe Jy gepraat het, skreinend, oor die huis van gebed wat ‘n rowerspelonk geword het, het hulle, tóé nog dalk in staat tot skaamte, weggesluip.

Hoe na aan die hart, die sagte hart, is die huis van gebed vir Jou.

*

En nou hang Jy hier. Magteloos, dink hulle nou, tevrede, almal wat so teruggeskrik het van jou Woede.

Hoe anders, hoe anders is dit dan nou?  Die Sterke, die Profeet, is die swakke, die sterwende, die kruiseling.

Waar, bedink ek, toe hulle teruggeslaan het en jou begin vasspyker het, is Jou krag nou?

*

Maar hoe het Jy ook, stilweg, sterk, van hierdie moordenaars-nes op die galge-heuwel ‘n heilige plek gemaak. Toe Jy, helder, sterk, die eerste keer in Jou laaste oomblikke, aan ‘n kruis, gebid het vir húl vergifnis, vir ontferming teenoor hulle wat Jou dit aangedoen het. Hoe ánders, vreemd, selfs heilig is Jou biddende stem van vergifnis en ontferming teenoor hulle wat Jou geweld aandoen.

Ek kan my indink, hoe jou stil gebed vir ‘n oomblik ‘n hand laat huiwer, dit terughou om Jou vas te nael, dit stuit om Jou vir oulaas nog te gesel. Jou woorde wat vir ander smeek, kon vir ‘n oomblik, maar net ‘n oomblik, ook daardie felle kwaad stuit.

Dit was toe Jy, die Man van Gebed, weer, biddende, verlangend uitgeroep het na die Een wat Jou in hierdie eensaamheid toegelaat het, wat Jou in die donker agtergelaat het, dat ek die ánder Vuur uiteindelik in Jou herken het. Die stil vuur van gebed, van die Gees van gebed wat die wil en die krag gee om die goddelike las te dra wat juis daarom so lig is, so lig is.

Selfs die kruis, die plek van geweld, het Jy tot ‘n huis van gebed gemaak.

Want hoe naby is dit, in die donkerste oomblik daardie laaste tyd van vrede, waarna ons hart soveel verlang, waarvoor ons altyd bid. Hoe naby, roep die hart biddend, met waagmoed, is die sagte Stilte, die Tuin-vrede, die Paradys-tyd. Hoe hou ons biddend vas, in tye van pyn en sterwe, aan die Oomblik van aankoms by die Een wat ons hart skoonbrand, ons lewens suiwer, ons deur lyding heen tot volkome vrede bring, ons trane afdroog.  Só naby, dat ‘n mens dit reeds in Jou, in Jou smeek-gebede voel brand, sodat dit die dodelikste las lig maak.

Jou woorde van toevertrou, Jou verlange na die hemel-hande, en, uiteindelik, jou laaste Oorgee al biddende van daardie gebroke yster-gees,van daardie donker, smekende hart aan die Vader, roep vir altyd, deur alle tye, van jou onbreekbare trou aan die Een van jou liefde.

En as Jou oë breek met die oomblik van afskeid, wéét ek, hierdie swakke, hierdie sterwende Bidder, is die Lam, die Kneg van die Here, die Leeu van Juda, die blink Môrester. Hy is, waarlik, die Seun van God. Hy, ons Vriend, Jy, o Vriend, leer ons op die Goeie Dag die verborge krag van gebed.

Dit het Jy dáár bly weet: Reeds in ons gebede is U teenwoordig.

Thursday, April 21, 2011

Gestroop van alle sekerhede. Oor die radikaliteit van geloof en Goeie Vrydag


Die geliefde strand



Ek draf by my geliefde strandplekkie my agt kilometer roete al langs die see op die vooraand van Goeie Vrydag.  Dit is ‘n geseënde dag gewees, met ‘n boeiende artikel oor Kierkegaard se Fear and Trembling wat ek so pas van Jos Huls ontvang het en met groot belangstelling gelees het. 

In die beroemde boek van Kierkegaard, wat in die filosofie soveel opspraak verwek het, is daar ‘n uitvoerige bespreking van die verhaal van Abraham se offerande van Isak. Vanuit vier verskillende perspektiewe neem Kierkegaard die lesersuimte in die teks en wys hoe ‘n mens dit in die geestelike reis op vier maniere kan vul.

Die offer van Isak is is een van die bitterste verhale waaroor ‘n mens ‘n preek kan maak.  Hoe praat mens met ‘n gelowige klomp mense oor Genesis 22:10: “Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag”? Dit is sweepslag-woorde.  

Dit is ‘n baie moeilike verhaal, veral omdat dit geweld in die hart van godsdiens inbring.

Soos die kruis.

Ek wil meer oor Kierkegaard se teks en sy Bybelgebruik skryf, want dit is ‘n wonderlike mistieke teks wat diep nadink oor lyding en geweld.

Maar terwyl ek my geliefde grondpaadjie in my strandplekkie draf om net weer die kop helder te kry tussen al die lees- en skryfwerk, bly Jos se artikel en Kierkegaard se teksuitleg by my.

Dit is immers die dag voor Goeie Vrydag. Die dag van die Afskeid, van die afbreek van die nabyheid, van die verbygaan van die ou dinge. ‘n Dag om oor verganklikheid te dink.

En tog is dit ingebed in iets grotes en breërs. Ek bedink, al drawwende, die eindelose kom en gaan van die branders. Hulle breek nou al jaar vir jaar hier in ‘n nimmereindigende Sisifus-proses van oor-en-oor op die strand en die rotse van my drafpaadjie. Eeue gelede het die inheemses hier hul vis-oewers gebou, spore daarvan sien ‘n mens nog op party plekke. Mense het gekom en gegaan, maar in oneindigheid bly die branders herinner aan iets wat eindigheid oorstyg.

Ons moet verganklikheid bereken en bedink.

Abraham die aartsvader, die man van geloof, het alles prysgegee, al sy sekerhede, om blindelings te doen wat God van hom gevra het. Deur die eeue heen het mense hom bewonder vir sy blindelingse sprong in die duister van ‘n onseker toekoms. Die skrywer van die Hebreër-brief sê : “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (11:8). Paulus het ‘n hele Romeine 4 nodig om oor Abraham se geloof te skryf as iets wat ondanks alle omstandighede bly vashou het aan God se belofte.

Geloof is die vashou aan God se belofte. Dit is om alle sekerhede prys te gee.

Op die Donderdag voor die kruisiging het Christus dieselfde keuse gemaak om God se wil te gehoorsaam. 

Alles is egter van Hom weggeneem.  In die donker nag is van sy laaste stutte hom ontneem. Sy getrouste vriende het verdwyn. Aan die kruis sou die stroping voortgesit word. Totdat, eindelik, ook die sekerheid van God se teenwoordigheid Hom ontneem is. Duidelik het Hy dit uitgeroep in die woorde: Waarom het U my verlaat?

Só loop die geestelike reis. Mens kom soms by die punt dat jy niks het om op terug te val nie. Nie eers geloof nie. Soms word mense se kennis van God, mense se wete van die goddelike hulle ook ontneem. Diepste vertwyfeling bly oor. Snydende vrae bly treiter. Selfs jou Godsbeeld word verduister. Dit is dubbele treitering: Oor die lyding sak ook die donker van vertwyfeling neer.

Abraham, terwyl hy die berg op is, het ook die ervaring gehad. God se belofte, waargemaak in sy seun Isak, is op die spel. Hy, lyk dit vir hom, het niks om meer op terug te val nie.

Wat sal hy doen?

Eeue later het Christus gedoen wat Abraham ook gedoen het:  in die verstikkende duisternis, in die verskriklike godverlatenheid, het Hy bly bid: “Vader, in U hande gee ek my gees.”

Geloof is om teen alle sekerhede in, teen alle onsekerhede in, biddend vas te hou aan die teenwoordigheid van God - teen alle verlatenheid en verwildering in.

Gedurig weer, soos ‘n refrein, soos branders wat minuut na minuut, jaar na jaar, eeu na eeu breek, só ervaar ‘n mens in die geestelike lewe dat ‘n mens niks het om op te vertrou nie – selfs nie op ‘n mens se eie geloof nie. Net op God. Dit bly die onverganklike te midde van al die verganklikhede.

Terwyl die see langs my breek, neem die kruiswoorde oor die godverlatenheid my in my gedagtes na die interteks in Psalm 22, waar die Psalmis reeds die ervaring van godverlatenheid in woorde uitgedruk het. En, besef ek, hoe naby is daardie teks, daardie verlatenheid aan Psalm 23 se doodsvallei. Al gaan ek in ‘n diep, donker dal, in ‘n dal van doodskaduwee....

Dan, opmerklik, volg die geloofsroep: “Ek sal geen onheil vrees nie. Want U is met my. U stok en U staf dié vertroos my...”

U is met my. Selfs in die dal van die doodskaduwee.



Wednesday, April 20, 2011

Donderdag van die Gebod. Jesus se laaste liefdesdaad



Ford Maddox Brown skilder Jesus wat die voete van sy dissipels was.

Op Donderdag van die Heilige Week word Jesus se laaste ete saam met die dissipels herdenk. Johannes 13 vertel van ‘n ete wat Jesus saam met sy dissipels gehad het waartydens Judas besluit het om Jesus te verraai. Maar Johannes 13:1 wys die konteks waarin Jesus hierdie ete aanbied: Jesus het geweet dat sy uur gekom het. Maar, staan daar dan, Hy het sy mense in die wêreld liefgehad – liefgehad tot die einde toe.

Die laaste maal van Jesus staan in die teken van die liefde.

Dit was geen swewende, blink liefde nie, lippetaal van Jesus oor sentimentele gevoelens tussen mense nie. Johannes maak van die begin af duidelik hoe Jesus die liefde verstaan. Daarom sou Jesus die dissipels se voete was. Dit was sy konkrete, nederige liefdesdaad aan sy vriende. Dit is daarom die simboliese, profetiese daad wat Jesus verrig voordat hulle die tafelgemeenskap deel.

Só nederig was hierdie daad, dat Petrus aanstoot geneem het en geweier het dat Jesus dit doen (Joh.13:8).  Die liefde kan soms minder mooi lyk.

Hierdie verhaal word op die Donderdag van die Heilige Week herdenk. Hierdie Donderdag is in Engels bekend as “Maundy Thursday”. “Maundy” verwys na ‘n opdrag of ‘n gebod. Dit is dus die Dag van die Gebod. En dit roep in herinnering Johannes 13:34-35 wat skryf: “’n Nuwe gebod gee ek julle, dat julle mekaar moet liefhê, soos Ek ook julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”

Die lydenstyd is dus veel meer as net herinnering aan Jesus se self-gawe. Dit is ook ‘n tyd om die nuwe gebod te bedink, om ‘n mens in te leef in die nuwe gehoorsaamheid. Dit word die tyd vir voete was. Vir die liefde.

Die Donderdag voor Jesus se kruisiging is die dag waarop die kerk Jesus se laaste wens vir die geloofsgemeenskap herdenk – dit is die wens dat hulle ‘n liefdesgemeenskap moet wees. Tot aan die einde van sy aardse bediening is Jesus die Een wat die Liefde verkondig en vra. Maar dit dan ook uitleef deur sy dissipels se voete te was.

Die maaltyd wat Jesus met sy dissipels gehad het, was ‘n gemeenskapsmaaltyd, sê ons altyd – en beklemtoon daarmee op ‘n ander manier dat daar ‘n liefdesband tussen die dissipels moet wees. Maar hierdie gemeenskapsmaal, wat ‘n sakrament geword het, ‘n ritueel, is net die begin van die geloofsreis. Dit is inderdaad ‘n heilige daad, ‘n afsonderingsmoment met ander waardes en ander norme en ander insigte as waaraan mense gewoond is. Wat die aand voor Jesus se kruisiging begin, soos Rahner dit stel, vind sy hoogste waarheid en vervulling wanneer daardie gemeenskap deel word van die gelowige se daaglikse lewe. Die gebod van Jesus tot liefde beteken ‘n liefdeshandeling teenoor die armes en gebrokenes van ons alledaagse lewe. Die gebod is belangrik: want dikwels, heel dikwels, is dít hoe mense Christus ontmoet. Dikwels is dit tot heil van die verworpenes en randfigure – dat hulle Christus herken in die liefde wat teenoor hulle betoon word.

Die Donderdag van die Gebod begin ‘n transformasie-proses in mense se lewens wat deursuur is van liefde. Lyding gebeur ter wille van die liefde.

Tuesday, April 19, 2011

Verswelg deur die nag. Die dun lyn tussen lig en duisternis.


Vandag is die dag in die Heilige Week waarin nagedink word oor die besluit van Judas om Jesus te verraai.

Die gebeurtenis is beskryf in die heel eenvoudige vertelling in Matteus 26: 4-6, 14-16 waarin vertel word hoe planne beraam is om Jesus gevange te neem.

In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Vergelyk nou hierdie vertelling met Johannes se vertelling:

Johannes 13.21—32:

Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?” Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.

Johannes teken ‘n episode waarin ‘n mens die gebeure van die binnekant bekyk. Dit is ‘n baie menslike Jesus wat hier geteken word. Jesus wat in Johannes Evangelie die mag het om mense uit die dood op te wek (bv. Lasarus), is hier oorweldig deur wat gebeur. Jesus is “in sy gees ontsteld” (O.V.).

Aan die ander kant kry ‘n mens die beeld van Jesus se dissipels: hulle is verwilderd oor Jesus se emosionele onthulling van die verraad. Hulle begryp nie wat aan die gebeur is nie. Hulle onbegrip staan helder uit teenoor die duidelik insig van Jesus. Hy besef die implikasies van hierdie oomblik: dit is die draaipunt. Van toe af stuur alles op sy einde af.

Twee keer word daar in hierdie gedeelte vertel dat Judas die brood geneem het. Daar is by hom nie ‘n greintjie twyfel nie. Hy neem willens en wetens die besluit. Terwyl al die ander dissipels aan die raai is, weet hy goed wat Jesus bedoel.

Aan die einde van die episode is daar die veelseggende opmerking dat Judas die brood vat en uitgegaan het. Sy besluit is geneem. En dan volg daar die hoogs simboliese opmerking: “Dit was nag” (vers 30).

Johannes Evangelie vertel van die groot teenstelling tussen lig en duisternis. Judas, vertroueling, dissipel, deel van die ligkring, kies die duisternis. En verdwyn daarin.

Die Heilige Woensdag van verraad is ‘n tyd om in ‘n spiel te kyk: Judas, man van die lig, is ‘n simbool van die vernietigende potensiaal in elke mens. Dit waarborg niks om in die lig te leef nie. Net ‘n enkele besluit kan ‘n mens bring om deur die duisternis verswelg te word.

Geen wonder dat Jesus so ontsteld was nie.

Monday, April 18, 2011

Rowers word Bidders. Oor Heilige Maandag en die ingang in die goddelike teenwoordigheid


In die lange lydenstyd kom ‘n mens met hierdie week uiteindelik uit by die hoogtepunt en einde van Sy bediening. Hier vier die kerk die “Heilige Week” wat op die kruisiging en opstanding uitloop. 

Dit is ‘n tradisie wat tot in die derde eeu n.C. strek. Ons kerklike wortels is dus diep daarin geanker.

Elke dag in die week word ‘n spesiale moment in Jesus se laaste dae herdenk. Die “Heilige Maandag” in die kerklike tradisie van die Heilige Week, is nie ‘n opsienbarende of baie spesiale dag nie. Só skryf feitlik die meeste van die kommentatore. Dit is ‘n dag waarop die insident in die tempel herdenk word toe Jesus die verkoopsmense uitgedryf het. Die verhaal word in Matteus 21:12-17 vertel onder die opskrif (O.V.): “Die reiniging van die tempel”.

Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.” Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing ?” Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

Baie eksegete konsentreer op Jesus wat die handeldrywers uitjaag en die tafels omgooi. Dit word as een van die min gewelddadige aksies van Jesus bespreek.

Maar minder word gepraat oor Jesus se woorde oor gebed. Hier praat hy met mense wat hul geloof gedeformeer het tot ‘n winsmakery. Hulle ontbreek enige aanvoeling vir die tempel as ruimte waar God woon en aanbid word. ‘n “Rowersnes” het hulle van hierdie heilige plek gemaak. Mense wat hul eie identiteit as mense vir God nie meer begryp nie. Geld maak, dit is vir hulle wat saak maak.

Ek lees die gedeelte weer en vind die woorde oor gebed wat met Jesus verbind word, nuut en spesiaal. 

Hierdie "gewone" dag, 'n dag waarin Jesus "net" die tempel gereinig het, word deur die gebedswoorde ‘n besondere dag.

Die spiritualiteit van Jesus bestaan uit ‘n dringende verlange dat die rowersnes getransformeer sal word tot ‘n gebedshuis – daar waar God onder die volk woon. ‘n Huis in plaas van ‘n nes. ‘n Gesin in plaas van ‘n bende rowers.

Op Heilige Maandag ontdek mense hoe Jesus in die heiligste van ruimtes in die heilige stad sy intense verbintenis tot gebed demonstreer.  Só moet mense Hom onthou: Jesus, die Man van Gebed, wat in die tempel voor God wil staan en met eerbied in God se teenwoordigheid wil leef.

Op daardie Maandag het Jesus die tempel tot gebedsruimte "gereinig". Maar, skaars weer weg, het sy opponente hulle plekke teruggevat. In die volgende paar dae sou hulle Hom uit die weg ruim, verjaag, tot niet maak. Die transformasie was van korte duur. Die stryd het pas begin. Dit gaan, lei die leser af, ‘n hele lange proses wees om hierdie gebedsruimte vir God op te eis.

Die transformasie van die tempel was Jesus se boodskap aan sy volgelinge oor wat hulle te  doen staan as hulle die geloofsweg sou loop. Hulle ook moet in hierdie stryd deel. Ook in die rowersnes wat gelowiges bewoon, moet reinigingsaksies plaasvind. Hulle word ingetrek in Heilige Maandag. Dit is nie maar net 'n "interessante" dag nie.

In hierdie week word mense herinner aan die diepste sin van hul lewe: om soos Christus doodgewoon te leef vir ‘n lewe van gebed en ootmoed. Die Heilige Week, wys heilige Maandag, is nie ‘n tyd vir vroom praatjies nie. Jesus, sterk, vreesloos, dra die verskriklike las wat Hom opgelê is. Hy moet die tempel weer ‘n plek van gebed maak en daarvoor moet hy ly. Daarmee wys hy die weg aan. Só moet almal hierdie bestemming opsoek. Die Heilige Week is nie ‘n drama waarin mense Jesus se bittere lyding bekyk nie. Dit is die tydlose lewensdrama waaraan mense opgeneem word en waaraan hulle deel. Die lyding van Christus word die lyding van mense wat dieselfde keuses as Hy maak.

Mense dra dikwels swaar aan hul laste. Hul rue is krom onder hul stryd en veral onder hul eie swaar, donker gevoelens oor hul laste. Die lydenstyd wil mense presies die teenoorgestelde laat ervaar. Die reiniging van die tempel is ‘n verhaal wat wil transformeer. Soos Jesus, so dra alle mense, die mensheid hul laste – daag hulle die rowers uit om pad te gee uit God se gebedsruimte en soos Jesus bring hierdie stryd vervulling. Die laste wat ‘n mens dra bevry jou tot die teenwoordigheid van God. Jesus het dit bedoel toe hy op ‘n keer vir sy volgelinge nugter gesê het: Kom na my toe. My las is lig. En my juk is sag.

Sunday, April 17, 2011

Die onvervangbare waarde van 'n mens se lewe. Oor geweld en ons polisie.



Ek het al voorheen op hierdie blog oor die polisie geskryf en my kommer te kenne gegee oor die aggressiewe, selfs brutale optrede teenoor die gemeenskap.

Intussen het verskeie voorvalle van polisie-geweld mense geskok.

Maar niks kom by die gebeure in Ficksburg waar Andries Tetane, ongewapend, deur die polisie aangerand is nie en toe deur 'n polisielid wat 'n meter of twee van hom gestaan het, doodgeskiet is.

Hy is dood omdat hy vir die polisie geskreeu het om nie 'n ouer man met 'n waterkanon te spuit nie, maar eerder vir hom.

Selfs nadat hy geskiet is, op die grond neergeval het, het hy nog een keer opgestaan en moedig probeer regop bly. Hy was aan die voorpunt van die opmars, terwyl hy onvermoeid gestry het dat sy gemeenskap 'n menswaardige bestaan gegun word.

Om hom het alles ten hemele uitgeroep oor 'n gemeenskap wat in die aller-ellendigste omstandighede verwaarloos word en selfs die mees basiese geriewe ontbeer. En dit terwyl korrupte mense in ons land om elk hoek en draai bedrog pleeg - meestal ten koste van die armstes van armes. 

Sy laaste woorde aan sy vriend, Molefi Nonyane, was: "Ek het probeer veg. Nou is ek moeg. Help my."

Terwyl ek die toneel van hierdie onderwyser en gemeenskapsleier se dood voor my op die skerm sien afspeel, ervaar ek woede en teensin wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

Die polisie is in alle beskaafde lande die vriend van die gemeenskap, die beskermer van die weerloses, die hoeder van die reg. Met fermheid en dissipline word reg en orde bevorder, nie met geweld en brutaliteit nie. 

Dit is die etos wat diep in polisie-geledere ingegrein moet word. Dit is wat hulle moet dink, elke keer as hulle straat-op gaan, as hulle met die publiek te doen kry. 

Die optrede van die polisie in Ficksburg het niks met so 'n etos te doen nie. 


Dit het twee dae geneem voordat die polisie-lede wat vir hierdie daad verantwoordelik is, in hegtenis geneem is. Twee dae voordat iemand besef het dat dit krimineel is om 'n ongewapende mens wat vir die bestaanswaardigheid van gemeenskappe opkom, dood te skiet. 

Mense kan nie genoeg protesteer teen sulke dade nie. Met blydskap het ek daarom gelees dat die Suid-Afrikaanse Raad van kerke 'n verklaring uitgereik het waarin woede oor die voorval uitgespreek is. Dit is die soort van ding wat elke ordentlike mens nou behoort te doen - protesteer. Iewers behoort gelowige mense wat glo in die onvervangbare waarde van elke menselewe veral hul stem te laat hoor. 

Intussen is die vraag wat by mens bly opkom: watter soort mens word lid van die polisie en besluit sommer net om iemand naby hom dood te skiet wanneer hy dink die tyd is reg daarvoor? Of: nie minder belangrik nie: watter soort mense bestook ouer persone met 'n waterkanon terwyl hulle vreedsaam hul griewe rig? 

Wat is fout met ons mense?

Saturday, April 16, 2011

Blog Archive