Tuesday, November 22, 2011

Wilde lewensvreugde - oor Calvinistiese spiritualiteit


Sondagmiddag woon ek by die konferensie die bespreking by van Belden Lane se nuwe boek oor Calvinistiese spiritualiteit. Die titel is Ravished by Beauty. The Surprising Legacy of Reformed Spirituality.

Dit titel is veelseggend: Calvinistiese spiritualiteit gaan volgens die boek oor vervoering met skoonheid. En: dit is nogal ‘n ongewone perspektief waaroor mense verras sal wees.

Lane is ‘n ou bekende op hierdie terrein van Gerefomeerde Spiritualiteit en het al vele publikasies daaroor die lig laat skyn. Hy weet waarvan hy praat. Ek het reeds lank terug van sy artikels oor die onderwerp gelees. Hy ken die Hervormer en hy ken sy spiritualiteit. Hy is een van die mees gevestigde spesialiste oor die spiritualiteit van die gereformeerde wêreld.

Die groot saal sit vol met mense wat na die bespreking wil luister. Die paneel van vier sprekers, almal bekendes in eie reg, bied elkeen ‘n interessante respons aan. Ek is nogal verras oor die groot belangstelling.

Wat Lane so ‘n interessante figuur maak is dat hy as Gereformeerde denker en as deeglike kenner van Calvyn, (duidelik met die brein en die hart), ‘n dosent aan ‘n katolieke instelling is. Hy verwys uitdruklik in sy eie reaksie op die vier besprekings van sy boek wanneer hy vertel dat hy veel van sy geestelike groei en van sy belangstelling in die spiritualiteit te danke het aan hierdie blootstelling aan en betrokkenheid by ‘n Rooms-katolieke instelling (St. Louis University).

(Die omgekeerde gebeur nogal ook. Daar is voorbeelde van Rooms-Katolieke wat by Gereformeerde instellings spiritualiteit doseer – soos bv. Elizabeth Lietaert by die Presbeteriaanse seminarie in San Francisco. Sy speel ‘n prominente rol in die Vereniging van Christelike Spiritualiteit wat hierdie byeenkomste reel).

Ek merk ‘n deeglike apologetiese sub-teks aan Lane se werk. Hy beveg die stereotipiese opvatting dat Calvinistiese suurpruime is wat met knyp-lippe en –knieë die lewe vanuit ‘n swart bui sit en betreur. Daarom beklemtoon hy dat Calvyn sy wyntjie geniet het en beklemtoon hy met watter passie Calviniste altyd weer besef het hoe die natuur die lof van God besing.

Maar Lane is duidelik ingestel op ‘n belangrike fokuspunt in die kontemporêre Amerikaanse wêreld. Eintlik gaan die boek oor eko-spiritualiteit – en etlike van die sprekers verwys in hul reaksie op Lane na sy fokus op ekologie. Dit is duidelik dat ekologie tans in die hart van die belangstelling van die Amerikaanse godsdienstige wêreld staan.  

Maar wat my tref is hoe Lane sy boek vanuit ‘n persoonlike hoek benader – asof hy daardeur die motief van self-implikasie, so eie aan spiritualiteit, ekspisiet wil verwerk.. Hy vertel van al die afsonderingsgeleenthede wat hy oor die jare begelei het toe hy mense in die “wilde” omgewing van sy tuiste uitgeneem het om na te dink oor hul geestelike reis. Die gesprek is deurtrek met staaltjies oor die skoonheid van die natuur en die ervaring van mense wat in die woeste natuur te doene kry met wilde diere. In hierdie ervaring vind ‘n mens ‘n diepe begeerte na God en na die wildheid van die lewe. Die mens het ‘n sterk verlange om in die skoonheid van die natuur die heerlikheid van God se genade te vier. Lane deel hierdie vreugde in die natuur. Dit is sy ervarings oor jare heen wat hy in hierdie boek met ander deel.

Ek sit en dink hoe sterk hy twee keer beklemtoon: God is die heerlike God, wat in volle skoonheid in die natuur herken kan word. Maar steeds weer, voeg hy beslis by, moet ‘n mens in gedagte hou hou God in die kruis die vernedering en laagheid opneem. Daarom moet ‘n mens nie die wilde vreugde in die natuur beklemtoon ten koste van God se self-gawe in die dood nie.

Die “wildheid” van die natuur word nietemin by hom ‘n simbool van die “wildheid” van God. In plaas van ‘n suurpruim Calvinisme teken Lane ‘n prentjie van ‘n spiritualiteit wat soek om God te verheerlik weens en in die wilde skoonheid van die natuur. Hierdie begeerte is kenmerkend van Calvinisme, stel hy – maar altyd weer moet ook hierdie begeerte getem word sodat die nie omslaan in ongesonde drange en luste nie. Deur hierdie begeerte resoneer die geestelike mens dus met die natuur van God, maar onthou ‘n mens ook die kruis as die skadukant.

Lane, volgens een van die sprekers, ‘n befaamde prediker, skryf nie net ‘n teoretiese boek oor Calvinistiese spiritualiteit nie. Hy wissel elke hoofstuk, vol teorie, af met gedigte, vertelings of persoonlike anekdotes. Later in die bespreking word hy nog uitdrukliker ook waar hy as person in al die werk oor spiritualiteit staan. Deesdae, sê hy, is daar in hom ‘n behoefte om veel meer gedigte te lees as ooit voorheen. Hy begin al hoe meer besef hoe belangrike digters op ‘n indrukwekkende manier oor God praat – soveel so dat dit vir hom soveel net soveel leer as indrukwekkende teologiese tekste.

Toe ek die boek na die tyd wil koop, is dit uitverkoop. Jammer. Ek het veel uit die bespreking geleer, maar ek sou nog graag verder wou lees. Ek bly sit met ‘n paar goeie gevoelens. Dit is duidelik dat ons op nuwe maniere na Calvyn kan kyk. Dit was goed om te sien hoe indringend en diep mense uit die Calvinistiese tradisie met soveel nuanses oor Calvyn kan praat. Meer nog – ek hou daarvan dat die Calvinisme op hierdie manier van Lane met lewensdrif en lewensveugde verbind word. Maar veral boeiend is vir my om te sien en te luister hoe vele nie-Calviniste opdaag om te hoor hoe daar oor Calvinistiese spiritualiteit besin word.

Onwillekeurig dink ek terug aan die vergadering van die Wêreld-Alliansie van Gereformeerde Kerke waar ek enkele weke gelede ook oor Spiritualiteit gepraat het. Toe reeds het dit my geboei dat die Calvinistiese tradisie in Afrika so prominent bly voortleef. Nou ervaar ek in Amerika dieselfde lewenskrag van die tradisie.  Nog ‘n verdere rede om ‘n mens in jou wortels te verdiep.

Monday, November 21, 2011

Om oor verandering te praat. Of om verandering te beleef. Oor die karakter van Spiritualiteit.

Dit is nie verniet dat daar dikwels nagedink word oor wat spiritualiteit is nie. Nog steeds, na soveel eeue, wil skrywers vandag nog oor die identiteit daarvan worstel.

Die worsteling het met 'n paar sake te doen.

Eerstens beklemtoon feitlik almal dat spiritualiteit transformatief wil wees. Dit sien 'n mens wanneer jy kyk na hoe die groot mistici altyd weer nader aan God gekom het en in die proses radikale prosesse in hul lewens laat ontvlam het. Hulle kon nie keer dat hul transformasie baie kante van hul lewe vernietig nie. Maar hulle het geweet dat die venietiging 'n goeie ding was. Juis daarom het hulle die stroping as 'n reiniging gesien wat hulle struikelblokke in hul volwasse-wording in die geloof ui die weg geneem het.Hulle het herken dat die stroping terselfdertyd God se manier is om hulle te neem na die regte plek - al wou hulle nie eintlik altyd op daardie plek uitkom nie. En hulle het, te midde van die seerkry van die stroping, uiteindelik geweet dat dit goes was, dat dit die manier is waarop hul heel geraak het, hulle lewe bymekaar gekom het en hulle goedheid ervaar het

Reiniging, verligting, eenwording.

Hoe bepraat 'n mens hierdie lewegewende, hoogs intieme, unieke ervaring?

Ek dwaal deur die enorme boek-uitstalling van hierdie konferensie waar om en by 10 000 van die beste denkers in teologie en spiritualiteit bymekaar is. Ek loop verby die tientalle sale waar mense oor die mees gespesialiseerde onderwerpe in klein groepe ure lank reflekteer.

Dit is plekke en gepraat wat ligjare weg is van Jan van die Kruis se donker sel, van Simon Weil se mensonterende fabriekslewe, van die woestyn-veblyf van die monastieke vaders en moeders, van die baie ander plekke waar die soekende individu uitroep na God en soek om God se wil in sy of haar daaglikse bestaan te herken.

Ek hoor die debatte oor spirituliteit, oor die groot denkers, oor die inhoude van ons geloofsweg.

Dit is wonderlike, informatiewe momente hierdie - die worsteling om te verstaan hoe lyk ons geloofsreis wanneer ons dit in die lig van die geloofshelde van gister bekyk.

Maar ai. Hoe transformatief is al hierdie inligting? Watter verskil maak dit? Bring dit ons nader aan God?

Steeds weer, dus, moet die een wat oor spiritualiteit nadink die tweede groot voorwaarde in gedagte hou: hoe verander ek? Watter verskil maak dit aan my lewe? Daarom is die groot, miskien grootste eis wat spiritualiteit stel en wat dit onderskei van teologie en religie, dat die self-impliserend moet wees. Gedurigdeur word besin oor verandering, nuutword, transformasie van myself.

Daarom dat ek vandag die lang, lang reis huis toe begin, nogal aan die dink oor wie ek is na hierdie interessante paar dae.

Sunday, November 20, 2011

Om aandag te gee is die hoogste vorm van ontferming. Oor Simone Weil en Christus

By die konferensie hier in San Francisco, word ‘n voor-vertoning van ‘n nuwe film oor die steeds beroemder wordende Simone Weil gewys.

Simone Weil se boek, Waiting for God, met haar briewe, is uitdagende leesstof. In vele opsigte was sy, afkomstig uit ‘n begaafde gesin, ‘n hoogs onkonvensionele mens. Terwyl ek die boek die afgelope tyd gelees het, val dit my op hoe versigtig en deeglik sy nadink oor wat werklik die sin van die lewe is.

Ek is dus baie nuuskierig om die film by te woon, want dit is ‘n gelukkige meevaller vir my dat dit hier wys– juis terwyl ek dikwels aan die nadink is oor die lewe van hierdie vrou wat maar erg sieklik was en baie lyding geken het.

Die film self is nie net oor Weil nie, maar vertel die storie van die filmmaker wat probeer om al hoe meer van Weil te wete te kom en te verstaan. Die filmmaker se eie lewensverhaal met die dood van haar pa en broer, word die spil waarom Weil se lewensverhaal gedraai word. Ek is eers bietjie jammer hieroor. Maar ook oor die intervensie van die interpreteerder kry ek later meer gemoedsrus: duideik is die filmmaker iemand wat in Weil ook ‘n stuk onpeibaarheid raaksien, maar wat ook wil vra wat doen daardie onpeilbaarheid aan ons, die nuwe geslag, wat oor Weil se lewe moet nadink en ons eie lewe in die lig daarvan moet bekyk. Dit is die filmmaker se manier om te wys dat Weil ‘n spesiale lewe gehad het.

Tog is daar heelwat inligting oor Weil wat die film vir my ‘n kykervaring maak. Die plekke waar sy in New York (saam met haar ouers) en in Parys gewoon het, gesprekke met horingou tannies wat haar goed geken het en foto’s van haar  bied goeie perspektiewe. Daar is nie veel bespreking van die inhoud van haar werke nie, maar haar lewenspraktyk kom sterk na vore. Die fabrieke waar sy gewerk het, beelde oor werkers se optogte en flitse oor die omstandighede in Europa gee ‘n mens die gevoel van Weil se lewe.

Daar word gewys hoe sy haar met die ellende van die gewone werker vereenselwig het deurdat sy, die hoogs intellektuele vrou, self in ‘n fabriek as ‘n gewone werker gaan werk het. Niemand kan die ander een verstaan as ‘n mens nie die ander een se situasie beleef nie, bekemtoon Weil as die rede vir hierdie optrede.

Die film kom daarom herhaaldelik terug op ‘n sin wat Weil geskryf het:  Om aandag te gee is die hoogste vorm van ontferming. En dit beteken prakties dat ‘n mens aan ander aandag gee, deur jouself in hulle posisie te plaas. Ek het al hieroor in ‘n vorige blog oor Simone Weil geskryf – die sakramentele waarde wat sy heg aan die verhouding van ontferming wat ‘n mens met die naaste het.

De film bied dus by tye boeiende kykstof.  Simone Weil se bestaan was ingestel op mense, veral mense in nood. Om om te gee, aandag te skenk aan hulle, is om God se wil vir ‘n mens se lewe te gehoorsaam. Versigtig het sy oor Jesus se woorde in Matteus dat wie aan die hongeriges voed, Hom voed, nagedink. Op ‘n mistieke manier beklemtoon sy dat iemand wat vir ander omgee, eintik Christus is. En wanneer ‘n mens aan ander gee, gee ‘n mens aan Christus.

Hoe ver kan ‘n mens in jou “aandag” vir ander gaan? Ek sit en kyk hoe die film vertel dat Simone Weil in Engeland, in die tweede wêreldoorlog, voorgestel het dat verpleegsters na die oorlogsfront moet gaan en dat hulle op die slagveld as noodhulpspanne uitgestuur moet word waar hulle die soldate wat gewond word kan gaan help. En dit terwyl die bomme om hulle val. En sy wil as eerste self aanmeld vir hierdie lewensgevaarlike werk van omgee.

Waansin, masogisme, misplaasde heroïek? In die besprekingstyd wil iemand weet of Simone Weil nie dalk bietjie ongebalanseerd was nie. Sy het immers geweier om meer kos tee eet as wat gewone, arm werkers elke dag kon bekostig. Sy is ook weens haar uitgeteerde liggaamlike kondisie kort nadat sy die voorstel gemaak het om op die oorlogsfront te gaan werk, as ‘n 34 jarige vrou dood.

Ek luister na die vraag en, soos die dae aanloop, roep dit in my verset op. Weil ‘n ongebalanseerde egoïs?

Hoe antwoord ‘n mens hierop  -  want so ‘n vraag verdien ook ‘n antwoord? Waarom word Weil al hoe meer gelees deur mense wat intuïtief weet sy leef outentiek? Uiteraard oor baie redes. Sy het die mistiek in die daaglikse lewe ingetrek. Drie keer het sy mistieke ervarings gehad. Sy het later elke dag die Onse Vader in Grieks opgesê en vertel hoedat die opsê daarvan vir haar elke keer spesiale betekenis gehad het.

Maar hierdie 34 jarige vrou, wat die hoogste vorm van ontferming uitgeleef het in haar aandag vir die onbelangrikes en die ongeagtes, het die geheim van die Evangelie begryp: om Christovorm te leef. Soos Christus, as Christus en vir Christus.

Een van die spesiale oomblikke by die konferensie was toe ek in die film luister na Weil se begeerte om oorlogsfront toe te gaan. En op die doek flits daar tonele van sterwende soldate wat in die oorlog geneem is.

Onvergeetlik bly een toneel: ‘n priester wat in ‘n modderpoel by die swaargewonde liggaam van ‘n soldaat kniel: sy hande is voor hom gehou terwyl hy vir die sterwende man bid. Rondom hulle kring die oewerlose geweld van oorlog, van ellende, van lyding, van ons agterdogtige vrae, van ons onbegrip en van ons onbetrokkendheid oor die eeue uit.

Simone Weil is nie die eerste dertigjarige wat, betowerd deur die liefde en deur die teenwoordigheid van God, haar so met die lyding van die wêreld vereenselwig het dat dit haar dood gekos het nie.

Feilbaar

Ek het al De Lubac gelees en veel van hom gehoor. Hy was een van die belangrike kenners van die geskiedenis van spiritualiteit, maar ook, later, as kardinaal iemand wat in die kerk ‘n spesiale rol gespeel het. Bewondering het vele mense vir hierdie dinamiese skrywer.

Vandag woon ek hier by die konferensie van die SBL/AAR die sessie by waarin die werk van De Lubac se bekendste leerling, Michel de Certeau bespreek word – as herdenking van De Certeau se dood 25 jaar gelede.

De Certeau het feitlik ‘n kultus-figuur vir vele geword. By die byeenkoms vertel iemand my dat hy spesiaal Frans geleer het om De Certeau in die oorspronklike taal te kon lees.

De Certeau was, soos sy leermeester, ‘n formidabele kenner van die geskiedenis van spiritualiteit.

Maar anders as sy leermeester, het hy die geskiedenis met meer negatiwiteit beoordeel. 

De Lubac het steeds weer vertel hoedat daar ‘n goue, kontinue draad deur al die historiese fases te merk is. Steeds weer herken ‘n mens in al die fases sekere Christelike trekke.

Met verloop van tyd het De Certeau anders as sy leermeester, begin beklemtoon dat die geskiedenis van spiritualiteit gekenmerk word deur andersheid en fragmentasie. In elke fase probeer mense oor die mistieke te dink in terme van hul tyd. Hierdie fases verskil drasties van mekaar. Daar is geen goud draad wat deur die geskiedenis loop nie. Ons kan maar net terugkyk oor hoe vorige geslagte probeer het om sin aan hul lewens te vind. Ons kan nostaliges daaroor nadink, maar ons kan nie daaruit vir ons eie tyd leer nie.

De Lubac, die groot kenner van spiritualiteit, het nie hiervan gehou nie. Hy het sy leerling kwalik geneem en hom begin vermy. De Certeau moes agterkom van ander mense dat sy leermeester hom erg kritiseer oor sy standpunte.

De Certeau het verskeie kere probeer om met De Lubac te praat. Hy skryf aan hom dat hy hoor van kennisse dat De Lubac hom kritiseer.  Hy verseker sy leermeester dat hy groot bewondering vir hom het. Hy het van De Lubac veel geleer, beklemtoon hy, en sou graag van hom self wou hoor wat hy dan gefouteer het sodat hy nog verder van hom kan leer.

Die verhouding tussen hierdie twee groot kenners van spiritualiteit en van hierdie twee wat so naby aan mekaar was, het versuur.

De Certeau het op ‘n stadium vir De Lubac gebel om weer die bande op te tel. Die foon het volgens sy biograaf gelui en gelui. Later het De Certeau maar neergesit. De Lubac, wat nie dadelik die foon kon antwoord nie, het oomblikke nadat De Certeau die foon neergesit het, die gehoorstuk opgetel. Die gesprek tussen hulle het nie plaasgevind nie.

Kort daarna is De Certeau dood.

Twee groot kenners van die geskiedenis van spiritualiteit. Mense wat nagedink het oor hoe vroomheid en toewyding deur die eeu heen uitgeleef is. Mense wat nou verbonde was aan al die groot leermeesters in die geskiedenis.

Feilbare mense, al was hul deurdrenk met kennis van spiritualiteit.

Saturday, November 19, 2011

Spiritualiteit in die werksplek. Oor 'n nuwe tendens in die grootste sake-kompleks op aarde.

Vanmiddag van 15h30 tot 17h15 woon ek die byeenkoms van die SCS by. Dit is ‘n bespreking oor die aard van Spiritualiteit as ‘n dissipline.

Dit gaan oor die volgende vrae:

Kan ‘n mens spiritualiteit in dieselfde lig as teologie bekyk?  
Waar pas ‘n mens se eie ervaringe, behoeftes en vrae in?
Hoe beoordeel ‘n mens die persoonlike ervaringe van iemand wat ‘n kursus in Spiritualiteit volg?

Onder die sprekers is ‘n prominente figuur uit die besigheidswêreld wat kom praat oor sy werk met Spiritualiteit. Hy het al meer as 800 senior bestuurders opgelei oor sulke sake soos besluitneming deur uitvoerende bestuurders, organisatoriese ontwerp en bestuursinnovasie in vinnig groeiende omstandighede. Baie van die senior bestuurders kom uit die bekendste  firma’s in Sillicone  Valley. 

Hulle wil almal by hom ‘n kursus oor spiritualiteit en leierskap doen.

Op sy vraag aan hulle aan die begin van die kursus waarom hulle die kursus wil doen, antwoord die senior bestuurders dat hulle kennis soek, maar ook dat hulle ontnugter is met die donker kante van die besigheidswêreld.  Ook voel hulle hoedat hulle besighede  afgesny is van hul wortels in die gemeenskap.

Deur die kursus word mense bemoedig om weer sin in hul werk te ontdek, om konstruktiewe waardes na te jaag, om beter te presteer en om innerlike vervulling in hul werk te kry.
Hulle kan uitdagings beter hanteer, kry minder burnout en verbeter hul verhouding met hul personeel.

Hy vul sy kursus onder andere met material oor bekende leiers soos Ghandi, Eisenhower, Roosevelt en Oppenheimder, maar hy neem ook materiaal oor van bekende besigheidsfigure. Uit hulle geskiedenis leer hy byvoobeeld sy studente dat ‘n goeie leier rekening hou met terugslae en mislukkings, maar ook met ‘n kantoorlewe wat vol onverwagte draaie is. ‘n Leier koester dus by uitnemendheid die waardes van nederigheid en liefde. Dit is waardes wat 'n leier help om ook die moeilike tye en die groot teleurstellinge te kan hanteer.

Ek luister met verwondering na die aanhaling van Simeon, die Siriese kerkvader wat hy ophaal:

Ons belangrikste werk is nie ons daaglikse taak nie. Ons belangrikste werk is ons hart en hoe ons denke deel word van ons hart wanneer ons alles wat ons doen vir, in en tot God doen.

Dit is duidelik, besef ek terwyl hy die inhoude meedeel, dat die tyd ryp is om ook weer diep na te dink oor ‘n Spiritualiteit van werk. Ek onthou, terwyl ek na hom luister, opnuut weer hoe belangrik Blommestijn se werk hieroor is wat ek ‘n paar blogs gelede bespreek het. Die tyd is werklik reg hiervoor.

Dit is maar net enkele gedagtes uit die ryk toespraak van hierdie bekende deskundige.  Dit is indrukwekkend om te sien watter insigte hy met van die wêreld se bekendste sakeleiers deel.

En tog – ek bly knaag aan iets wat hy gesê het en wat vir my die hart van die saak aanraak. Die man is ‘n kundige en dink baie diep na oor sy belangrike taak. Iewers in al die belangrike ding wat in die kursus opgeneem is, val die klem ook op die uitdaging aan die senior bestuurder om God te midde van sy hardloop-program op te soek. Juis, besef ek, daarom is die werklik spiritualiteit en nie sommer ‘n lagie vernis van vroomheid wat met die dagtaak saamgeflans word nie. Daarom is duidelik: die bestuurder moet leer om vaste tye van die dag ruimte te maak om die teenwoordigheid van God te ervaar. 

Omgang met God, om te wees in die teenwoordigheid – dit is die sin van enige werk.

Friday, November 18, 2011

Tant Alie in Manhattan?

Dit is 'n grou herfsdag hier in New York se Manhattan. Ek is op pad na Mommsa, maar moet van die moltrein die pad deur Central Park loop, al langs die boonste reservoir.

Vaal, alles is grys en vaal, soos my eerste foto wys.  Die takkies op die voorgrond wys hoe naby die winter is. Oral loop ons op 'n mat van afgevalde blare - d.w.s. die blare wat nie deur die skoonmaakspanne bymekaar gehark en weggery is nie.

Hier is die foto met die gebou van Manhattan agter die reservoir op die horison:



Maar, soos alles in die lewe, is daar ook die briljante kant aan hierdie grou dag. Hier en daar staan daar nog 'n boom in wonder-geel kleur getooi en ek het gelukkig my kamera byderhand om die indrukke vir altyd met my saam te neem.

Ek verwonder my oor die skoonheid van die natuur, oor die enkele boom wat gloei van kleur, lewe en warmte.

En die boom maak my terugdink aan tant Alie se Dagboek waarin sy vertel hoe sy op Nuwejaarsdag die oggend vroeg 'n spesiale gebedstydjie deurgebring het om haar in te stel op God se wil wat in daardie jaar in haar lewe soveel nuwe dinge sou bring. Sy is terneergedruk. Die Boere-oorlog en die neerdrukkende gang daarvan, maak haar angstig.

En daarna, nadat sy berusting in haar gebedstyd gevind het en haarself, "in die Vaderskoot" oorgegee het, staan tant Alie op, te midde van die grou herfstyd wat die oorlog oor haar en haar mense gebring het en - sy gaan op die plaas rondloop. Die rus wat sy in die gebedstyd gevind het, vind sy deur haar pragtige plek op die plaas bevestig. Die natuur onderstreep die nabyheid van God in die grou tye.

Dit gebeur nie sommer net dat grou tye vir 'n mens deur 'n tower-oomblik opgeklaar word nie. Maar vir hulle wat in die geloof leef, is daar om een of ander verborge rede, altyd weer 'n rede te vind, iewers, onverwags, onaangekondigd, eenvoudig, om tot vrede te kom.

Sommige slim mense wat baie oor die dinge lees, vertel dat dit veral sterk in gereformeerde spiritualiteit is: om een of ander rede sien mense van die hervorming God se hand meer in die skepping raak. Hulle skryf dat daar iets inherents ekologies aan gereformeerde spiritualiteit is.

Ek herkou nogal dikwels hieraan. Tant Alie was toe nie so uniek nie....


Tuesday, November 15, 2011

Die vulgariteit van rykdom

In die vliegtuig, op pad na die konferensie, sit ek langs 'n vakbond-bestuurder. Hy is, vertel hy my, vele tye in die jaar maklik vier dae in die week aan die reis tussen al die sentra in ons land om na vakbondsake om te sien.

Hy vertel hoe verborge die armoede van werkers vir die bestuurslede van maatskappye is. Die bestuur is ongelukkig wanneer vakbonde looneise indien wat meer is as die inflasiekoers. Hulle besef nie dat 10 persent vir 'n werker wat R1000 verdien uitwerk op 'n fraksie van die verhoging wat beterbetaalde personeel met salarisse van bv. R20 000 verdien. R100 teenoor R2000.

Stap nou met hierdie twee mense na 'n winkel - die een met R100 en die ander met R2000 - en kyk hoe leef hulle...

Ek sit en dink aan die skandalige berig in die Sondagkoerant van Afrkaanse besigheidsmense wat vele pensioenarisse van hul aftreegeld beroof het waarmee hulle onder andere 'n seiljag van honderde miljoene gekoop het. Dit is verby enige vorm van vulgariteit.

Rahner, lees ek, het vir 'n baie vroom student wat meer sekerheid oor sy geloof wou kry en wat vir hom gaan vra het watter teologiese werke hy daarvoor kan lees, vertel: "Gaan werk onder die armes en jy sal spoedig jou geloofsekerheid terugkry."

Dit is 'n verhaal wat eintlik nie nuut is nie. Dink maar aan die ontmoeting van Christus met die Ryk Jongman.

Die armes, besef 'n mens, sien ons nie meer nie. Ons loop verby hulle met ons oogklappe op. Ons werkers sien ons agter die masjiene, die besems, die ploeg. Maar ons sien hulle nie wanneer hulle kos koop met 'n plat beursie, klere aanskaf van 'n derdehandse verkoper of wanneer hulle nie skoolgeld vir hul kinders of hospitaalgeld vir hul familie kan bekostig nie.

Dit is die gelaat tot gelaat-onmoeting waarvan Levinas so veel gemaak het, wat ons transformeer sodat ons meer kan gee, nog meer kan deel met hulle wat nie het nie.

Maar, aan die ander kant, skryf iemand, is daar 'n nog groter uitdaging. Ons is flambojant oor ons eie welvaart. Ontwerpershorlosies, motors, klere, seiljagte en vele ander luukses is ons hartsbeerte. Ons begeer dit. Dit is nog verdere oogklappe wat ons sig op die Ander verberg. Die luukses staan tussen ons en die gelaat van hulle wat min het.

'n Mens word tot stilstand geruk wanneer jy hoor van die miljoene wat 'n skelm belegger op 'n seiljag spandeer met swaarverdiende geld. Miskien is hulle maar net 'n ekstreme voorbeeld van 'n hebsug wat net so donker en verdorwe ons eie lewens verduister.

Waarom sit en mymer ek oor die ander opmerking van Christus: oor die ryke wat makliker deur die oog van 'n naald sal kom as.....?

Hoekom kry 'n mens jou geloofsekerheid terug as jy deel word van die armes?

Hoe vry kan 'n mens tog word as 'n mens alleen maar verknog is aan God - weg van al die vulgariteite van uiterlike, materiele dinge.

Valse sekerhede ontneem ons van die werklike sekerheid.

Monday, November 14, 2011

'n Mistikus se voete is in hierdie wêreld geplant


Dit is opvallend met watter insig van ons grootste denkers oor die mistiek skryf. Sommige van hulle name kry 'n mens in Cunningham se boeiende artikel oor die mistiek. Hier is 'n kort aanhaling daaruit - 'n aanhaling wat vir my belangrik is in die lig van soveel oningeligte opmerkings asof die mistiek ontvlugting is. Cunningham, dosent by Notre Dame, skryf met gesofistikeerde insig oor die onderwerp: 

All the mystics in the Christian tradition assumed that the person of prayer who sought a deep intimacy with God would participate in the ordinary means of holiness in the church: regular prayer, participation in the sacraments, a sensible approach to asceticism, and the works of charity. In fact, St. Teresa of Ávila’s The Interior Castle had a very simple criterion for judging whether someone had had an experience of the hidden love of God: Did that person love her sisters more? In one of his informal talks to young friars, Meister Eckhart said that if a person were lifted by rapturous prayer into the third heaven described by St. Paul and knew that a brother was sick, it would be better to climb down and bring that ailing brother a bowl of soup. It is care for the ordinary duties of life that motivated Evelyn Underhill to insist that those who were under her spiritual direction do good works for the poor, lest they think that progress in contemplative prayer was for the sake of the self and its own joys. The Swiss theologian Hans Urs von Balthasar said that the first proof of genuine mystical consciousness was that a person showed a definite love for both God and neighbor. In short, the mystical experience is not to be construed as some sort of Plotinian flight of the alone with the Alone.

Contrary to the popular image of the mystic as a recluse, St. John of the Cross traveled (that is, walked!) about fifteen hundred miles during his active ministry. He taught; he organized; he built an aqueduct still in use today. Nor did most mystics live under a cloud of suspicion by church authority. While it’s true that Meister Eckhart had his problems with the papacy and Teresa of Ávila had a scrape or two with the Inquisitors in Spain, for the most part the mystics were regarded, even in their own lifetimes, as reformers and leaders of what would become “schools of spirituality.” But it’s hard to erase the persistent cliché of mystics as persecuted rebels. Many still wish to believe that mystics stood apart from the community of ordinary Christians rather than at its heart.

Sunday, November 13, 2011

Gebed, die Woord en transformasie

Augustinus vertel in sy Belydenisse die volgende verhaal van die groot omkering wat in sy lewe plaasgevind het:

Ek het onder ‘n vyeboom neergeval met ‘n hartseer gemoed. Uit my oë het trane gestroom – ‘n offerande aan U. En ek het met U gepraat met hierdie een doel voor oë: Hoe lank nog, o Here, hoe lank, sal U vir altyd toornig wees? Dink tog nie aan ons vroeëre onreinhede nie, want ek het gevoel asof hulle my vasketting.

Ek het hierdie treurige woorde bly sê: Hoe lank, hoe lank, môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom kom my onreinheid nie op hierdie oomblik tot ‘n einde nie?

Op die manier het ek bly praat en huil met ‘n bittere hartsberou.

Toe, sowaar, hoor ek uit die huis langsaan ‘n kinderstem wat singend herhaal: “Neem en lees; neem en lees.”

Dadelik het ek begin wonder of kinders ooit sulke dinge sou sê. Ek kon nie onthou dat ek ooit so iets gehoor het nie. Ek het ophou huil en opgestaan, want ek het besef dit is niks anders as ‘n opdrag van God om die boek oop te maak en die eerste gedeelte te lees waar ek oopgemaak het.

Ek het van Antonius gehoor hoe hy op ‘n keer by sy lees van die Evangelie ‘n boodskap gekry het: “Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan en volg my.” En dit is deur so ‘n spreuk dat hy tot bekering gekom het. Ek is gretig terug na die plek waar Alupius gesit het; want daar het ek die tekste van die Apostel daar gelos toe ek opgestaan het.

Ek het dit gegryp, oopgemaak en die deel waarop my oog geval het, in stilte gelees: Daar moet geen dronkenskap en uitspattigheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.  

Ek het nie verder gelees nie; ek hoef ook nie verder te gelees het nie. Onmiddellik na ek gelees het, het, deur ‘n lig van ootmoed wat in my hart uitgestort is, al die donker twyfels in my verdwyn.
 

Saturday, November 12, 2011

Gebed en mantra’s (2)



Verrinneweerd, maar wagtend en gereed vir die Gas....


Gister het ek bietjie besin oor mantra’s wat ‘n mens op die eerste oogopslag kan herinner aan so iets soos die Jesus-gebed. Die Jesus-gebed is ‘n ou Christelike tradisie wat daarop neerkom dat ‘n mens ‘n frase soos Kyrie Eleison (Here, ontferm U oor my) aanmekaar herhaal sodat ‘n mens vanuit ‘n gebedshouding leef.

Mantra’s is vandag besonder gewild by baie Westerlinge as ‘n poging om innerlike vrede te midde van hul stormagtige en gejaagde bestaan te vind. ‘n Mantra is ‘n frase of woord wat met intense konsentrasie herhaal word en wat ‘n mens se innerlike op verskeie maniere staal en stut.

Wanneer ‘n mens na die Bybel kyk, kry ‘n mens soms gedeeltes wat aan mantra’s herinner. Daar is byvoorbeeld byna mantra-agtige Psalms. Dink maar aan Psalm 136 met sy herhaling (26 keer) van die frase: “aan sy liefde is daar geen einde nie” aan die einde van elke sin.

Die herhaling van die frase bewerk ‘n wonderlike en intense fokus op die Goddelike uitreiking in liefde na die mens. Wie aanmekaar op hierdie manier oor die liefde sing, kan ingetrek word in ‘n atmosfeer van geborgenheid. Dit is asof ‘n mens daarmee wil uitdruk dat jy nie genoeg daarvan kry dat God liefde is en dat ‘n mens gedurig in die bewussyn van hierdie liefde wil bly leef. ‘n Mens word deel van ‘n liefdesruimte wat soveel groter as ‘n mens is en wat ‘n mens se lewe vul met ‘n eindelose rykdom.

Hierdie Psalm wys egter op fundamentele verskille tussen Christelike gebed en Boeddhistiese mantra’s. Dit is, trouens, ‘n wesenlike verskil tussen mantra’s en Christelike gebed.

In die fokus van hierdie Psalm en in Christelike gebede lê die genade en die liefde wat van buite na die mens kom. God skenk die liefde. Anders as in ‘n mantra, reik die mens nie uit na God om hierdie liefde te bewerk nie en om daarby uit te kom nie. Deur die herhaling van die liefdesuiting in Psalm 136 besing die Psalmis juis hierdie liefde wat God sonder enige inisiatief van die mens se kant af uitgedeel en geskenk het.

Hiermee saam hang ‘n verdere insig: Die Christelike gebed is ‘n reaksie van die mens op die intimiteit wat gevind word in God se teenwoordigheid in mense se lewens. God self, bely die Christendom, is as “Persoon” by mense en kom ongevraagd om die mens in liefde aan te raak. God bly die een wat uitreik en handel. In Psalm 136 word byvoorbeeld ‘n klomp dinge opgenoem wat God gedoen het. Liefde het dus allereers te doen met ‘n verhouding tussen die persoon van God en die mens as persoon. Wat die mens ervaar is hoe Iemand hom of haar in ‘n intieme eenheid opsoek en Sy eie maak. God is nie een of ander onpersoonlike mag wat ‘n mens deurtrek en besiel nie. Steeds weer bly die bidder bewus van alles wat God altyd doen om vir mense die heil te skenk. Juis daarom kan die mens met God praat, by God in stilte wees en reken op God se intieme nabyheid. En juis daarom is dit ‘n liefdesverhouding.

‘n Verdere moment help ook om die verskil van gebed en mantra’s te verduidelik. Telkens weer word gebed binne ‘n Christelike konteks gedra deur die bewussyn van hoe afhanklik ‘n mens in sy of haar swakheid van die Goddelike bemoeienis is omdat ‘n mens self nie altyd orent kan bly nie. Die ondertoon is dat ‘n mens feilbaar voel en slegs in die teenwoordigheid van die Ewige Liefde krag ontvang en uitleef. Die belangrike is nou dat die menslike moment, die menslike swakheid nie in gebed ontsnap of agtergelaat word nie, maar die mens word in sy of haar swakheid word getransformeer en geheilig. In hierdie proses ontdek die mens ook al hoe sterker dat eenheid met God vra afstand van die kwaad. ‘n Mens word in swakheid gesteun om met nuwe momentum ‘n lewe vol sin en betekenis, sonder die kwaad, te voer. Dit sluit ook die liggaam in – met al die emosies, gevoelens, passies en innerlikhede wat deur of in die liggaam beleef word.

In die Christelike gebed verdwyn die bidder nie van die toneel af om opgeneem te word in die Oneindige nie en in totale niksheid weg te sink nie. Dit is wel waar dat die bidder “minder” word en God meer. Of dat die bidder nie meer leef nie, maar Christus in hom of haar. Dit beteken egter nie ‘n wegraak of verdwyn van die mens nie.

Uiteindelik is ‘n mens deur gebed aktief in die wêreld betrokke. Trouens, die bidder soek om vanuit sy of haar swakheid getransformeer te word tot aktiewe meelewing met ander en tot transformasie van die skepping van God. Deur een te word met die liefde van God, word die bidder ‘n agent vir verandering. Dit beteken ‘n stryd teen kwaad en ongeregtigheid, insette tot ‘n gemeenskap van liefde en bewaring van God se skepping.

Tog kan ‘n mens van die Boeddhisme bewonder dat dit die aandag vestig op verinnerliking en konsentrasie. Gebed is nie maar net ‘n gepraat met God nie. Dit is ‘n intieme beskikbaarstelling met alles wat in die mens is vir God om in die mens te werk. Daarmee word die hart van die mens met mag en mening, met ‘n innerlike verlange en konsentrasie oopgestel as woonplek vir God van waaruit alles wat ‘n mens dink en doen in die teken van die liefde te staan kom. 

Verder is die een wat bid nie bloot die passiewe ontvanger nie. Hy of sy soek aktief om vir die onverwagte koms van God gereed te wees. En van die mantra’s kan ‘n mens ook leer dat ons verlangende taal in ons ‘n verlangende, afwagtende lewenshouding skep wat ‘n oop ruimte word vir die koms van God. Wat tel is nie die oor en oor herhaling van woorde nie, maar wat tel is hoe die herhaling van woorde ons hart fokus op God, die bron van die liefde.  

Friday, November 11, 2011

Gebed en mantra’s (1)


Weg van die gedruis in die oop ruimte.....

Ons dolle gejaag laat die behoefte aan ‘n stressvrye bestaan net sterker word. Vandaar die ontvlugting oor ‘n naweek na ‘n stil plekkie waar ‘n mens “kan wegkom van alles,” die vakansie aan die einde van die jaar, die verlekkering in die tuiskoms na die lang werksdag.

Dit gebeur ook in godsdiens en in die kerk. In die kerk afsonderingsgeleenthede ook baie gewild. Maar meditasie kom ook, insiggewend genoeg, sterk na vore: die Boeddhisme bied aan vele belaste en gejaagde mense die oplossing vir hulle oorlaaide en frenetiese lewensstyl.

Die boodskap waaraan hulle vashou, is eenvoudig: ‘n Mens kan in die Boeddhistiese tradisie volmaakte vrede bereik en aan al die ellende in die wêreld ontvlug deur allerhande meditasie tegnieke. Een hiervan is om ‘n mantra te herhaal, maar met diepe konsentrasie en fokus.

In ‘n Christelike konteks word hierdie Boeddhistiese tradisie dikwels oorgeneem. Mense sou dus byvoorbeeld die Jesus-gebed (Kyrie Eleison) as ‘n soort mantra beskou.

Hoewel dit alles eenvoudig klink, is die tradisie waaruit mantra’s kom, baie kompleks. In die massiewe materiaal oor die Boeddhisme is die materiaal byna onoorsigtelik. Die Boeddhisme het immers in groot lande soos China en Indië, asook in ou tradisies soos Japan en Tibet baie vorme aangeneem en in vele tale voorgekom. Trouens, daar is groot dispute oor wat dan nou “eg” Boeddhisties is. Saam daarmee is daar dus vele mantra’s, terwyl daar allerhande dispute is oor of en hoe van hulle gebruik moet word. Daar is byvoorbeeld ‘n magdom van mantra’s wat volgens sommige kenners boonop op ‘n sekere toonhoogte voorgedra moet word en waarvan die woorde op ‘n spesifieke manier uitgespreek word.

In die handel merk ‘n mens spoedig op dat daar baie CD’s is waarop Boeddhistiese dreunsange opgeneem is.

‘n Mantra is ‘n kort formule wat ‘n mens oor en oor herhaal – dit kan in verskeie van die tale waarin hulle ontstaan het, gedoen word. Die opsê van mantra’s word deur baie mense in Westerse lande in ‘n vertaling gedoen, omdat hulle aanvaar dat die oorspronklike taal nie noodwendig magiese krag het nie. Maar hieroor bestaan daar verskil van menings omdat dit lyk of daar wel ‘n paar mense is wat dink daar is iets magies in die opsê van die oorspronklike woorde. Ander weer, reken dat die krag van ‘n mantra is te vind in die toewyding waarmee dit uitgespreek word: dit is so effektief soos die konsentrasie wat ‘n mens daarin sit. Die implikasie is duidelik: sommige mense wil mantra’s op  ‘n verligte manier as ‘n middel sien om innerlike gemoedsrus en vrede te vind. Ander, weer, sien in mantra’s ‘n eksotiese, spesiale manier om met ‘n goddelike gees verenig te word en so aan die uiterlike, materiële dinge te ontvlug.

Daar is baie mantras in Boeddhisme: van die bekendste “Om Ah Hum, Jetsun Guru Padma Siddhi Hum” wat sommige mense 21 keer sê met die doel om ‘n mens te reinig van negatiewe gedagtes. Ook gewild is “Om mani Padme Hum” wat ‘n mens onder andere bevry van lyding onder arrogante emosies, van jaloesie, van begeertes, van gierigheid en van aggressie. Die mantra vir vrede is “Om Santih, Santih, Santih.” Die mantra, “Om Tare, Tuttare, Ture Svaha” word gebruik om ‘n mens tot ontferming en meegevoel te inspireer, terwyl die mantra “Vajrapani Hum” moed gee. Daar is selfs ‘n sogenaamde “groen” mantra wat ‘n mens vir diere gebruik. Dit behels dat ‘n mens dit opsê by dierevleis wat in besighede verkoop word en wat deur slagting doodgemaak is. Die mantra beteken ongeveer iets soos: “Mag hulle wat siek is, gou van hul siekte bevry word. En mag die siekte nooit weer toeslaan nie.”

Sommige mense vertel dat hulle lewens fundamenteel verander word wanneer hulle mantra’s opsê. Hulle ontvang genesing, hulle finansiële probleme word opgelos of kry uitkoms uit ‘n krisis. Ander weer beweer dat sulke sieninge van mantra’s niks anders as bygelowigheid is nie.

Die bestudering van die Boeddhisme en dus ook van mantra’s is deesdae ‘n hoogs gesofistikeerde dissipline. Belangrike denkers uit die Weste is op die snykant van hierdie navorsing. In hierdie dissipline word daar ook diep nagedink oor mantra’s. Een van die maniere waarop hieroor nagedink word is om oor die aard van taal te dink: deur met ‘n mantra klank voor te bring en daardeur verskillende sillabusse te herhaal is in sommige kulture besonder spesiaal en bring vir mense van daardie kultuur vreugde en innerlike vervulling. Dit lyk asof moderne taalnavorsing besig is om te bevind dat sekere klanke inderdaad ‘n mens se geestelike ingesteldheid kan stabiliseer en bevorder.  Sekere klanke het ‘n bepaalde effek op mense. Wanneer ‘n mens dus ‘n mantra met spesifieke klanke en op ‘n sekere toonhoogte voordra, kan dit ‘n mens se liggaamlike kondisie beïnvloed.

Mantra’s kan dus ‘n sielkundige invloed op mense hê en ‘n verskil in hulle lewens maak.

Maar wat het dit nou alles met gebed te doen? En watter plek het ‘n mantra binne die Christendom.

Môre hopelik meer.

Blog Archive