Wednesday, December 19, 2012

Die poging om sonder God te leef. Oor die wêreld as wonder (2).


Die “mondige” mens maak al die afgelope eeu of twee die aanspraak dat mense braaf genoeg geword het om sonder God te leef. 

Hieroor skryf Versfeld in die boeiende slot van sy Philosopher's Cookbook.

Daar is in hierdie "grootmens"-tyd nie meer plek vir die buitengewone, die unieke, die andersheid, vir dit wat ons verstand te bowe gaan nie. Ons het sekere algemene insigte wat ons ‘n houvas op ons wêreld gee, redeneer ons.

Ons weet hoe die wêreld werk. Ons verstaan wat in die wêreld aan die gang is. Ons is die meesters van die aarde.

Hoeveel die mondige mens egter ook al van die wêreld weet en hoe netjies alles ook al in patroontjies uitgepak word, hoe minder kan ‘n mens verby die basiese insig kom dat die wêreld deurtrek is met die wonder-like, met die onverklaarbare, ja, selfs met die goddelike. Daar is aan ons aarde dinge wat nie strook met ons verklaring daarvan nie en wat in spanning staan met alles wat ons uitgewys het as die sin en werking van die aarde.

Daar sit iets arrogants in die mondige mens se aansprake dat ‘n mens sonder God, sonder die uitsonderlike, die anderse, kan regkom, asof ‘n mens se verstaan van die wêreld genoegsaam is. Asof ons alles kan reduseer tot wat vir ons werk en wat by ons insigte inpas.

Kyk maar hoeveel help ‘n mens se verstand jou as jy in die natuur kom. Sartre onthul in ‘n bekende verhaal die hulpeloosheid van die mens voor die wortel van ‘n boom wat bo die grond uitsteek en wat ryk is aan draaie, vorme, knoetse, bas en krulle.

Jy kan, skryf Sartre, maar min verklaar deur vir jouself aanhoudend te sê: “dit is ‘n wortel.” Hoe meer jy dit herhaal, hoe minder kry jy daardeur ‘n insig in wat die wortel is.

‘n Wortel, vertel die wetenskap ons, is ‘n kanaal wat water uit die grond na die boomtakke lei. Dit is die koue, nugtere, wetenskaplike funksie wat aan ‘n wortel toegeken word. Daar is nie ruimte vir die unieke en andersheid nie. 'n Boom "werk" nou maar eenmaal so. Dit is die funksie van bome.

Maar om na die wortel, oortrek met harde knoetse te kyk is veel meer as om te praat oor ‘n kanaal vir water.

Hoe verduidelik ‘n mens hierdie wortel met sy eie kleur, sy vorme, sy vasgelegde beweging? Hoe kan ‘n mens die ekstra’s, dit wat veel meer as ‘n waterkanaal is - die skilderagtige knoetse, die ongelyke, unieke patroontjies van die bas en die kunstige, oordadige rondinge – verduidelik?

Die wortel is veel meer as net om 'n waterkanaal te wees. 

Daar is oorvloedigheid in die wêreld waaarvan ‘n mens selfs naar kon word, skryf Sartre.

Dinge is veel meer as blote funksie. Ons kan nie ‘n ding verklaar in terme van wat hulle doen nie. Daar is unieke aspekte van dinge wat niks te doen het met hul werking nie.

Die unieke aan ons wêreld is oorweldigend, onverklaarbaar en bo alle verstand.

Wanneer ‘n mens ‘n ui optel om dit te skil en vir ‘n dis te gebruik, is daar in die hele proses iets spesiaals en uitsonderlik. Hierdie ui, ontdek die kok met plesier en genot wat dit in die hand vashou, het ‘n eie geur, tekstuur, smaak wat die kookproses ‘n avontuur maak.

Die ui is nie maar net 'n bestanddeel wat by 'n dis gegooi word om die smaak netjies te maak proe nie.

Die wêreld wat ons so goed verklaar en waaruit ons God weggeneem het, is egter groter en wonderlike oordadiger as ons god-lose teorieë en insigte.

Daar is iets aan die wêreld wat ons houvas ontglip, wat ons nie kan deurgrond nie, wat ons insigte transendeer, wat wonder-like is – selfs wanneer ‘n mens as “mondige” mens met al jou kennis die wêreld bekyk.

Hieroor môre meer.

Tuesday, December 18, 2012

Die wêreld as wonder.

Augustinus het op ‘n keer geskryf dat geloof in ‘n wonder nie so belangrik is soos die wete dat die hele wêreld ‘n wonder is nie. Daarmee wou hy nie wonders bevraagteken nie, maar 'n mens se herkenning van die grootste van alles beklemtoon.

Daar word veel en dikwels met trots geskryf oor die manier waarop geloof in God in vele van die hoogs ontwikkelde lande bestry is.

Daar is ook baie lofgesange op ‘n “mondige” wêreld wat nie meer die geloof in God nodig het nie.

Mense hoef, word uitgeroep, nie meer op die bonatuurlike, die wonderlike, die uitsonderlike terug te val nie.

Trots kyk die mense wat God laat sterf het, na hul eie, mondige aarde.

Maar, skryf Versfeld, die wêreld self, soos Augustinus geskryf het, bly die wonder.  Die mense wat so wetenskaplik van God ontslae geraak het, laat hom dink aan seuns wat groot plesier put wanneer hulle ‘n baksteen deur ‘n ruit gooi.

As ‘n mens verby daardie groot plesier is, is ‘n mens nog steeds met die spesiale gekonfronteer: Al is God verban en uitgesluit, bly selfs die wêreld sonder God wat mense oorgehou het, nog ‘n wonder.

Die sekulêre is boeiend, indrukwekkend, selfs mistiek. 

'n Mens staan steeds verbysterd oor ons wêreld as wonder-skoon. 

Hieroor môre meer.

Sunday, December 16, 2012

Wanneer Spiritualiteit verarm tot pligsbesef. Oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit.


Dag Hammarskjöld was Sekretaris-Generaal van die V.V.O. in New York. Hy was ‘n wêreldbekende figuur.  Hy was ook bekend en gewild in Suid-Afrika, maar meestal om politieke rede’s. 

Sy gewildheid is veel groter in Spiritualiteitskringe.

Hy is naamlik bekend as die skrywer van die bekende Spiritualiteitsboek, Merkstene (Markings).

Die boekie is tallose kere herdruk en baie navorsing word daaroor gedoen.

Dit bestaan uit kort stukkies. Sommige net ‘n reël of wat lank. Dit was sy persoonlike aantekeninge oor sy geloofslewe.

Dit is na sy dood gepubliseer, nadat dit in sy woonstel in New York gevind is. By die boek was ‘n brief waarin hy geskryf het dat hy net vir homself geskryf het, maar dat hy later begin dink het om dit te laat publiseer.

Hy skryf aan ‘n kennis: “Jy kan dit laat publiseer as onderhandelinge met myself – en met God.”

Maas skryf in sy artikel oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit oor Hammarskjöld. As ‘n mens Merkstene lees, skryf hy, kom jy agter watter groot rol geloof in Hammarskjöld se lewe gespeel het.

Sy geloof het ‘n mistieke karakter gehad, want hy het veral geskryf oor sy verlange na God as die Oneindige. God is vir hom die Lewe, Die Een wat Bo Alles is.

Deur die werking van die Oneindige, skryf Hammarskjöld, is hy verlei om ver verby die bereik van sy eie Ek te beweeg.

Deur sy Ego agter te laat het hy ‘n Mag ervaar wat sy eie beperkinge ver oortref het. Hierdie Mag het dinge moontlik gemaak wat menslik gesproke onmoontlik was. Dit was, in Bybelse taal, geloof wat berge versit.

Dit klink indrukwekkend mooi om so graag die eie Ek prys te gee.

Vir Hammarskjöld was dit nie eenvoudig nie. Hy was bewus van sy eie uitnemendheid. As ‘n veeleisende mens was hy gedrewe om sukses te behaal en was hy trots op wat hy bereik het. Hy het homself as beter as ander beskou. Hy het hom verlekker, skryf hy pynlik eerlik, in die mislukkings van ander mense.  

Maar sukses maak hom nie gelukkig nie. Hy is, skryf hy, soos ‘n groot, grys  rivier wat deur ‘n stad vloei. Sterk is die stroom, maar die water is vol vullis en weggooi-goed.

Hy verlang na intimiteit. Maas haal dan ‘n verwysing van Hammarskjöld na ‘n Sweedse digter aan:

“As ‘n mens in lig en lied omvorm kon word” (Erik Blomberg). Om jou beeld van jouself in die wêreld te laat gaan, om die beeld wat deur sosiale ambisie en gedrewe wilskrag gevorm is, te laat los. Om te laat gaan, te laat los en te val, te val – die vertroue van ‘n blinde oorgawe, die vertroue in iets anders, in iemand anders…”

Maas skryf: hierdie man wat homself met soveel verbetenheid dryf en ‘n beeld van homself skep sodat ander mense na hom kan opsien, hierdie man wil eintlik maar net laat gaan, laat los, homself oorgee, vertrou – nie in homself nie, maar op iets anders, iemand anders.

Dit alles is nog nie helder nie. Dit is nog net “iets” anders, “iemand” anders.

Veel later as hy ‘n nag in die berge deurbring, ontmoet hy egter die “iets” anders. Hammarskjöld skryf: “Liefde het deurgebreek en deur ‘n wegsmelting van die self in die lig, het liefde ‘n helder lig geword.”

Hammarskjöld word in lig en lied omvorm. Gevul deur die lig, word hy self ‘n kragbron.

Hammarskjöld skryf self oor die transformasie wat in hom plaasvind:

Nou. Toe ek my vrese oorwing het – vir ander, vir myself, vir die onderliggende duisternis:
by die grens van die ongehoorde.
Hier eindig die bekende. Maar, van ‘n bron anderkant die bekende, vul iets my wese met sy moontlikhede.

Sy ego, sy obsessies is verby. ‘n Krag van elders vul hom. Die krag bring hom tot sy volle potensiaal en selfs verby die potensiaal. Hy is meer as net die mens wat so ingelig, so spesiaal, so onafhanklik is. Hy glo, hy vertrou op iets anders. Dit word sy geloof.

Al die mens se groot, goeie dade, die verstandige mens, sou nie kon ontwikkel sonder geloof nie. Dit word gedurig gevoed deur die voedingsbron van die krag wat voortkom uit mense wat hulself verloor het in God.

Ons loop, skryf Hammarskjöld, oor ‘n afgrond op ‘n styfgespande tou. Die tou word styfgespan deur hulle wat getrou bly aan die geloof wat die grootste en diepste offer is. Hulle anker dit in die Hemel.

Maas se boeiende artikel oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit sluit dan af met die gedagte:

Dit is alleenlik in ‘n verhouding met God, in ‘n verhouding met “iemand anders” dat ‘n mens die krag kry om jou volle potensiaal te ontdek. Sonder hierdie verhouding met God, word Spiritualiteit bloedarm, word dit laf en soutloos. Dan is Spiritualiteit niks anders as maar net ‘n pligsbesef.

Saturday, December 15, 2012

Oor die Heilige Gees en Spiritualiteit. Wanneer 'n mens Spiritualiteit belemmer.


Wanneer 'n mens nadink oor die geloofslewe, word duidelik dat dit  ondenkbaar sonder Spiritualiteit is. 'n Mens kan baie dinge glo of doen, maar dit maak nog nie van iemand 'n spirituele mens nie. 

Tog is daar ook 'n ander kant van die saak:  'n mens kan allerhande geestelike dinge doen, selfs binne die terrein van Spiritualiteit. En tog kan 'n mens arm wees, op 'n geestelike hongerdieet.

Om die waarde van spiritualiteit te illustreer, verwys Maas in sy artikel na al die interessante geestelike praktyke wat Spiritualiteitstekste in ons tyd bespreek.

Geestelike praktyk funksioneer steeds weer om mense in hul geestelike reis te ondersteun. Daar word deur sommige Spiritualiteitskrywers gefokus op oefeninge om byvoorbeeld ‘n mens se vooroordele en bekrompthede te oorkom. Of ‘n mens word ondersteun om al die mooi waardes in Spiritualiteit na te streef en deel van ‘n mens se lewe te maak. Of daar is skrywers wat mense help om hulleself oop te stel vir ongekende nuwe dinge.

Hierdie fokus op die praktyk en op menslike vaardighede is nuttig en goed. Daar is niks fout daarmee nie.

Dit bly opvallend dat hierdie praktyke veral op die individu gerig is. Hulle word veral verbind met die enkeling se geestelike groei en volwasse-wording.

Op die manier, skryf Maas, word hierdie waardevolle geestelike praktyke egter ingeperk. Hulle funksioneer in ‘n klein, persoonlike ruimte van die enkele mens om hul probleme op te los en van hulle suksesvolle mense in hulle omstandighede te maak.

In die proses word misgekyk in watter groter, geestelike ruimte hierdie praktyke tuishoort. Hulle impak is kleiner. Hulle word ook in die magswêreld van die enkeling ingetrek, asof ‘n mens jou eie bestemming kan bepaal en self jou lewe kan reël en stuur.

Te min sien ‘n mens dan raak dat jou lewe deur die gawe van die Heilige Gees gevul en gestuur word. 

Jy word ‘n guru, ‘n geestelike leier, ‘n begaafde heilige. Die boodskap wat jy kry en uitstuur is: Wees net jouself. Jy kan dinge verander. Dit lê binne jou vermoë. As dinge nie uitwerk nie, is dit omdat jy foute maak.

Dit is op hierdie punt dat Maas oor Eckhart Tolle skryf. Hy sien die werke van hierdie besonder gewilde skrywer in 'n breeë verband.

Deur geestelike praktyke in te perk tot die klein ruimte van die persoonlike, perk ‘n mens die trefkrag daarvan in. Spiritualiteit word dan gereduseer tot veel minder as wat dit werklik is.

Natuurlik is daar iets spesiaals in Tolle se werk. Sy werke is ryk aan uitnemende en voortreflike hulpmiddels wat groot waarde in vele kontekste het. Hulle kan die geestelike gesondheid van vele mense bevorder.

Tog kry hierdie hulpmiddele soms ‘n voorskriftelike karakter. As jy "dit" doen, moet "dat" die resultaat wees en sal dinge regkom. 

Mens sou kon dink sulke metode’s is die groot oplossing vir  lewenskwessies. 

Maas skryf: Wanneer 'n mens Spiritualiteit so inperk, is dit nie die Heilige Gees nie, maar die geestelike begeleier wat dinge in ‘n rigting stuur.

Geestelike praktyke in die ryk geskiedenis van Spiritualiteit was nie bedoel om so ingeperk te word nie. Altyddeur was hulle deel van ‘n groter ruimte, waarin God in al die goddelike oneindigheid aan die stuur van sake was. 

Wat ‘n mens ook al doen, doen jy nie vir jouself nie, maar altyd weer vanuit die perspektief op die Oneindige.

Dit is op hierdie punt, voel ek terwyl ek Maas se opmerkings lees, dat die mistieke moment ‘n meer pertinente rol speel. Maas vertel dat ‘n mens spiritualiteit te funksioneel kan benader – asof die funksie daarvan is om mense te help tot self-verwerkliking en groei.

Spiritualiteit het so ‘n funksie. Mense sal sterker en volwasser word wanneer hulle ingetrek word in geestelike praktyke. Dit is egter nie die volle waarheid nie.

‘n Mens word sterker en volwasser wanneer ‘n mens toegewyd aan God is en die ruimte ooplaat vir die Heilige Gees om jou lewe te stuur. Hierdie dimensie van Spiritualiteit is wel nuttig. Maar dit is ‘n newe-kwessie. 

Veel belangriker is dat ons volwassenheid ons nader aan God bring. Ons geestelike praktyke gaan nie om onsself nie, maar dit het 'n mistieke dimense wat groter as onsself is.

Hoe meer ‘n mens van spiritualiteit reduseer tot self-verwerkliking, tot psigoterapeutiese uitwerkings, hoe meer is ‘n mens met randsake besig. Spiritualiteit is veel meer as om jouself netjies te bestuur.

As Spiritualiteit nie aan die eintlike lewensaar, aan die teenwoordigheid van God, verbind bly nie, verwelk dit en lei dit aan bloedarmoede.

Alle Spiritualiteit het dit in gemeen. Hulle soek om te kan deel in die teenwoordigheid van God in die skepping. Daarom kan ‘n mens nie maar net sommer enige iets in Spiritualiteit doen en verdra nie. Altyd weer moet ‘n mens se hart ingestel wees op God. Die ryk geskiedenis van Spiritualiteit wys daarom dat daar steeds weer na God gevra word. Hulle stem hieroor saam. En dit beteken dat Spiritualiteit nie sommer net enige mooi gevoel oor jouself kan wees nie. Spiritualiteit is teologies gelaai.

Die verlange moet wees om in die ruimte van die Gees opgeneem te word. Spiritualiteit sonder die werking van die Gees is ondenkbaar.

Hierdie opmerkings, opgeroep deur die belangrike artikel van Maas, vra nou ‘n verdere vraag: Hoe moet ‘n mens die werking van die Heilige Gees verstaan?

Môre meer hieroor.   


Friday, December 14, 2012

Waar is die gawe van die Heilige Gees? Spiritualiteit en nuttigheid

Hoe noodsaaklik is Spiritualiteit? Die antwoord, bespreek in die vorige blogs, is dat dit 'n noodsaaklik komponent van die geloofsweg is. 'n Mens kan baie geestelike feite ken, maar nie juis geestelik wees nie. 'n Mens kan ywerig met mooi dinge aan die gang bly, soos die Ryk Jongman, maar met 'n onaangeraakte hart  leef

Halfhartigheid is deel van die geestelike lewe. Louwarm gelowiges is beroemd deur die voorbeeld van die Laodisense in Openbaring (Op.3:16). 

Hoe lyk Spiritualiteit, wat so noodsaaklik is, in sy volheid, wanneer dit nie met 'n halwe hart of louwarm gemoed beleef word nie?

Hieroor dink ek terwyl ek Maas se boeiende artikel lees.

Dit is nou amper ‘n holruggeryde stelling dat daar baie vorme van spiritualiteite is. Dit word al hoe meer ‘n lieflingsstelling van navorsers wat op die terrein van spiritualiteit begin werk.

Dit is, soos ek onlangs op die blog geskryf het, ‘n insig wat globalisering oor ons pad gebring het. Ons het kennis gemaak, soos ons wêreld kleiner geword het, met baie godsdienstige tradisies en hul spiritualiteit wat ons wêreld vul en wat ons, dikwels sonder dat ons besef, op een of ander manier konfronteer of selfs beïnvloed.

Die verskeidenheid vind ‘n mens nie net in Spiritualiteite van wêreldgodsdienste nie. Selfs binne Christelike Spiritualiteit is daar groot verskille.

In die verband is daar ook ‘n tweede, dikwels herhaalde stelling in nuwere navorsing. Hierdie stelling beklemtoon dat in ons nuwe tyd Spiritualiteit nie met geloofsinhoude verwar moet word nie. Spiritualiteit, word herhaal, gaan om beleefde geloof eerder as oor kennis. ‘n Mens beleef jou geloof ver wyer as net deur oor sekere “waarhede” te praat.

In reaksie hierop, moet ‘n mens ten minste twee stellings maak.

1.  Spiritualiteit is nie iets wat relatief is nie. Spiritualiteit is nie ‘n naam wat ‘n klomp los dinge aanmekaar bind nie. ‘n Mens moet vra hoe al die verskillende spiritualiteite oorvleuel. Waar stem hulle met mekaar ooreen? Is daar iets waarop almal van hulle fokus?

2. Spiritualiteit is, tweedens, nie iets wat geen inhoud het nie. Wanneer spiritualiteite met mekaar verskil is dit nog lank nie asof elkeen sy eie inhoud het wat radikaal teenoor ander spirituele inhoude staan nie. Spiritualiteit wat net aan “belewing” en “ervaring” verbind word, kan maklik oppervlakkig raak. ‘n Mens moet dus onderskei tussen spirituele praktyke en spiritualiteit. Om geestelike belewenisse te kan herken en te kan ervaar, is nog lank nie Spiritualiteit nie. ‘n Mens moet byvoorbeeld, skryf Maas oor Christelike Spiritualiteit, gedurigdeur vra op watter manier ‘n mens in geestelike praktyke die verhouding tot God herken.  

Hierdie twee stellings kan ‘n mens op een manier benader deur te kyk na hoe alle spiritualiteit in die Christendom op een of ander manier van God praat. Elke mensehart, sal 'n mens in die studie van Spiritualiteit ontdek, is nie net op hom- of haarself gerig nie, maar op God. Steeds weer dink 'n mens na oor wat 'n mens se geestelike lewe behels en hoe dit mens in 'n verhouding met God stel

Dit is ‘n belangrike vraag omdat die vraag die waarde van spiritualiteit na vore bring. 

Hieroor môre meer.











Thursday, December 13, 2012

Hoe noodsaaklik is Spiritualiteit? (2)


Hoe noodsaaklik is spiritualiteit? Hieroor dink Maas na, soos in gister se blog bespreek. 

Maas vertel hoedat daar in onlangse tye al hoe meer aandag gegee is aan die menslike ervaring, aan die hart en aan die menslike verlange om by God te wees. Dit is 'n nuwe fase wat belangrike implikasies het. 

Vroeër het mense alles oor God mooi geweet en bely. En in ‘n sekere sin bly daardie geloofsinhoude nog tot vandag toe by ons. Hulle is nie regtig noodsaaklik nie. Wat ons met die brein weet, het mense al in die Psalms geweet. Die Onse Vader as gebed is bekend. Mense ken dit en kan die inhoud daarvan netjies uitspel. Al die groot verhale in die Ou Testament verskyn weer in die Psalms: hulle praat oor Abraham, Jakob, Josef, die uittog en oor David. Die bekende geskiedenisse word oor en oor ter sprake gebring, maar niks nuuts begevoeg nie.

Wanneer ‘n Psalmis uitroep: ag, sal ons tog uit Egipte uitgelei word, is dit op die oog af nuttelose informasie. Dit is bekende inligting. Exodus vertel tog al genoeg en alles van die uittog. Die Psalms bied nie veel nuwe en ander inligting nie.

Maak dit die Psalms as spiritualiteitstekste, as tekste waarin die geloofservaring na vore kom, nutteloos?

Ja, sou ‘n mens kon antwoord. As ‘n mens die Psalms bloot as inligting sien, is hulle nutteloos.

Maar as ‘n mens die Psalms uit ‘n ander perspektief bekyk, word dit ‘n ander saak. Dit gaan hier naamlik oor die oratiewe aard van die Psalms.

‘n Mens kan baie dinge weet oor God: God is anders as mense. God, ver bo die mens verhewe, tree in ‘n verhouding met die mens, God tree in vir die mens in of God bring die mens tot stilstand.

Maar wanneer ‘n mens hierdie “kennis”, “inhoude” of “feite” deel maak van jou lewe, word jou hart aangeraak. Dan ervaar ‘n mens God as anders, as God wat jou liefhet, wat vir jou intree of wat jou tot stilstand bring. Nou word ‘n mens betrokke. ‘n Mens weet nie net van God nie. ‘n Mens ervaar God. 

Die Psalms gee nie net bloot kennis van God nie. Hulle vertel hoe mense die God van die uittog in hul lewens ervaar het. 

‘n Mens kan nie net “toesien” wie God is of wat God doen nie. Wanneer ‘n mens bid, groei jy, verander jy, word jou lewe in ‘n proses opgeneem wat transformatief is. Sonder om te bid, om geestelik ingestel te wees, om jou hart oop te maak, gebeur niks.

Om te “weet” van God, is nog nie om in ‘n verhouding met God te leef nie. In spiritualiteit gaan dit om die transformatiewe verhouding met God wat gedurig weer in ‘n proses van groei ‘n verskil aan mense maak.

Spiritualiteit gaan om die verlange, die wens, die begeerte, om gebed. In die groot wëreld van die winkels, fabrieke, universiteit, sport tel hierdie oratiewe, optatiewe nie baie nie. Daar moet jy “weet” en “wys.”

In Spiritualiteit gaan dit om te voel, te ervaar, meegesleur te word. Die verlange om deel te word van ‘n proses word die proses. Sonder die hart, gebeur niks. As daar nie verlange is nie, is daar bloot net kennis (1 Kor. 13). Of bloot net aktivisme (1 Kor.13). Al die tale kan jy ken, al jou goed kan jy uitdeel, maar die hart kan nog onberoerd bly, ongeroer aanleef.

So eenvoudig, so gewoon is spiritualiteit. En, vanuit die hoek gesien, ongewoon, uniek en onontbeerlik.

Môre dan meer oor wat dit beteken as ‘n mens iemand soos Eckhart Tolle se werk lees.

Wednesday, December 12, 2012

Is spiritualiteit 'n luukse of is dit noodsaaklik?


Frans Maas skryf ‘n artikel oor die vraag of Spiritualiteit ‘n luukse of ‘n noodsaaklikheid is.

Hy antwoord deur eers te vra wat “noodsaaklik” is: In ‘n kompeterende wêreld waar ‘n mens moet uitstyg deur prestasie, is kennis en vermoë noodsaaklik.

Wat in hierdie prestasie-gedrewe maatskappy nodig is, is dat ‘n mens jou kop moet gebruik en dat jy dan hand aan die ploeg slaan om iets daaromtrent te doen.

Jou brein en jou werksvermoë is as noodsaaklik beskou.

Hy vertel dan die interessante verhaal van belangrike ontwikkelinge in die nadenke oor geloof. Voorheen is gedink ‘n slim, opgeleide en bekwame geestelike leier moes vir mense oor geloof ingelig het.

Dit het teen die eerste helfte van die twintigste eeu verander. Mense, is besef, het elkeen die innerlike vermoë om hul geloof uit te leef en te beleef. Al hoe meer is besef dat hierdie ervaring van mense en hul innerlike vermoë om sin te ervaar, aangevuur en gestimuleer moet word.

Prakties het dit gebeur dat wanneer groepe mense bymekaar gekom het om oor hul geloof na te dink en te mediteer, is daar gekyk wat in mense se harte geleef het en hoe dit hul daaglikse lewens ingrypend bepaal het.

Op die manier ontstaan by denkers van die tyd ‘n deurleefde, mymerende besinning oor hoe mense op die mees alledaagse vlak hul geloof beleef.

Die slim geestelike allesweter wat die waarheid aan ander moet verduidelik het nie meer die sentrum van die geloofslewe beheers nie. Die geestelike leiers het na hulself begin kyk en opgemerk dat hul eie geestelike lewens veel kan baat deur net saam met ander, “gewone” gelowiges te wees.

Klink reformerend, dink ek en kou weer aan die manier waarop in die reformasie op die amp van gelowige gehamer is. Die dominee, is destyds, eeue terug, al gesê, is ook ‘n ouderling en staan onder die toesig van die kerkraad.

Maas verduidelik die proses dan op ‘n ander manier en het ‘n pragtige beeld hiervoor:

‘n Mens glo, skryf hy, met jou kop. Dit is die indikatiewe modus. Jy weet van feite, gebeure en ervaringe. Dit ontdek ‘n mens in al die verhale van Ou en die Nuwe Testament oor God en mens se geskiedenis. Op die manier het ‘n mens se geloof te doen met wat destyds gebeur het.

Maar om te glo beteken ook om reg te doen en verkeerd af te wys. Dit is die imperatiewe modus. ‘n Gelowige mens lees dus die Tien Gebooie en die Bergrede om sy of haar geloof in te rig en te vorm. Hier gaan dit om “doen”, om jou hand aan die ploeg te slaan en konkreet te werk.

Maar daar is ook ‘n derde dimensie. Dit is hierdie dimensie wat verwaarloos is en wat in die vorige eeu herontdek is. Geloof sien ‘n mens byvoorbeeld ook raak in die Wysheidsboeke – veral die Psalms. Die “wysheid” het te doen met menslike versugting: Ag, om te kan glo! Dit is die optatiewe modus. Die geloofsverhale en die wet kom bymekaar in die mens se ervaringswêreld. Dit beteken dat geloof nie net om die brein en die hand gaan nie. Dit gaan ook om die hart. Dit het te doen met die mens se verlange, met gebed, met gevoelens soos angs, bekommernis, opstandigheid, dankbaarheid en lof.

Die drie dinge hoort bymekaar in een, hegte geheel: wanneer ‘n mens die inhoud van die Bybel bedink, sak dit in jou hart in. Wat gebeur het, begeer jy vir jou eie lewe. Wat ander gedoen het, verlang jy om ook te doen.

‘n Mens neig maklik om een van die drie te verwaarloos: Wanneer ‘n mens die verstand beklemtoon, word jy ‘n wysneus. Wanneer jy die hande beklemtoon, word jy ‘n letterkneg, en wanneer jy net die hart beklemtoon, word jy ‘n geesdrywer.

Wat beteken dit alles nou vir die vraag hoe noodsaaklik Spiritualiteit is? Môre meer hieroor en oor wat Maas dink hierdie insigte beteken vir ‘n evaluering van Eckhart Tolle se werke.

Tuesday, December 11, 2012

Wie my liggaam versorg, sorg vir my siel. Oor leke-spiritualiteit.

Versfeld skryf in sy The Philosopher’s Cookbook van hulle familie se Maleise werkster wat klokslag elke Woensdagoggend teen sonop by hulle huis vir werk opdaag.

Hierdie Maleier-vrou is die ewebeeld van goedheid. Sy weerspreek enige skeptisisme wat ‘n mens sou hê oor “goeie” mense.

Sy is, egter, nie iemand wat goed doen nie.

Die Maleise vrou is toegewyd: sy vas gereeld, sonder om te kla terwyl sy lang ure in die hitte van die dag werk sonder om te eet of te drink. Dit is ‘n manier van vas wat wys hoe gedissiplineerd sy is. Alles wat vereis word, doen sy en nog meer.

Sy, skryf Versfeld, is nie iemand wat goeie dade verrig nie.

Sy is, veel meer, ‘n goeie mens.

‘n Mens sien dit in haar werk: sy sal byvoorbeeld nie kla oor wasgoed was nie. As jy nog besig is om iets te doen, sal sy selfs dit by jou oorneem. En eintlik, as ‘n mens daaroor dink doen sy deur die waswerk iets heel besonders. Want iemand wat jou klere was, skryf Versfeld, was ook jou liggaam en wie jou liggaam was, was ook jou siel.

Ek verwonder my hieroor: wie het nou ooit oor wasgoed-was op die manier nagedink? As iemand jou klere was, versorg hy jou liggaam. En wie iemand se liggaam versorg, sorg vir daardie persoon se siel.

(Is dit hoe ons na mekaar kyk: ‘n pa of ‘n ma of ‘n kind wat jou liggaam en siel versorg?).

Geen wonder dat Versfeld skryf: as hul Maleier-werkster die dag in die huis was, voel almal goed. En dit is, voeg hy grappig by, meer as wat ‘n mens van ‘n wasmasjien kan sê.

Die Maleier-werkster se goedheid lê nie net in wat sy doen nie, in haar ywerige werkslus nie, maar in haar sorg vir die familie. Wat sy doen, is tot hulle welsyn. Dit bring in hul gemoed ‘n gevoel van goedheid.

Boonop, sluit Versfeld die beskrywing van die vrou af, kry hy dikwels van haar ‘n breë, vriendelike en toegeneë glimlag, en het hy nog nooit gehoor dat die werkster ooit iemand anders veroordeel of kritiseer nie.

En dit plaas haar in die kategorie van ‘n heilige – wat ver uitstyg wat ‘n mens van die predikante en geestelike leiers kan sê.

Leke-spiritualiteit. Eko-spiritualiteit. 

Ek dink aan die vrou, die vrou sommer van die straat af ingekom, nie 'n dissipel nie, net gedryf deur liefde, wat Jesus se voete gaan was het. En, lectio divina, aan die gesigte van die omstanders, die dissipels, die uitverkorenes, die kritikasters. En aan die Dankbare, die Een wat in goedheid rus vind, wat haar kant kies (Joh. 12:1-8).





Monday, December 10, 2012

Ons weet te maklik wat spiritualiteit is.

Al hoe meer groei die besef dat daar vele vorme van spiritualiteit is en dat dit vele implikasies het wanneer ‘n mens oor spiritualiteit praat. 

Ek lees en bedink twee artikels van Hensen en Van den Hoogen hieroor. 

Wanneer ‘n mens die groot toneel van die geskiedenis bekyk, maar ook sien wat in kerke en godsdienste aan die gang is, besef jy hoe moeilik dit is om ‘n “regte” definisie van spiritualiteit te gee.

Een rede is omdat spiritualiteit altyd deel is van ‘n bepaalde konteks. Mense het dikwels ‘n transendente oomblik in hul lewe: hul ervaar ‘n ingreep, ‘n breuk, ‘n oomblik waarin hul lewe feitlik tot stilstand kom. Skielik is die gewone sleurgang, ritme en patrone van die lewe onderbreek. Alles wat hulle gewoond is om te doen, word deur die oomblik gestop.

Die ervaring verander hul lewe. Hulle word getransformeer. In die res van hulle bestaan sal hulle dikwels terugdink aan daardie ervaring en besef hoe dit hulle ‘n nuwe rigting in hul lewensweg laat inslaan het.

Mense sal hierdie transendente, dinamiese oomblikke op baie verskillende maniere uitdruk. Die een sal vertel hoe Jesus aan hom verskyn het, soos Paulus op die Damaskus-pad. Die ander een sal vertel hoe God ‘n visioen met gediertes op ‘n dag laat gebeur het – soos Petrus in die Kornelius-verhaal. Pascal skryf neer hoe hy op ‘n nag vuur, vuur en vuur beleef het, met ‘n uitsinnige vrede wat oor hom gekom het.

Mense se beskrywing van die uitsonderlike, transendente oomblike verskil – nie net van tradisie tot tradisie nie, maar ook van individu tot individu.

Anglikane sal heel anders as charismatiese gelowiges oor hul ervarings praat. Asiate beleef hul beslissende oomblikke anders as Afrikane. Hul konteks en hul kultuur bied vir hulle die materiaal waarmee hulle vertel hoe God hulle aangeraak het en hul lewens sinvol omvorm het. Vrouens en mans, jongmense en middeljariges, getroudes en eensames sal elkeen op ‘n eie manier vertel hoe hulle hul “spesiale” transendente oomblikke beleef het.

‘n Mens se emosies wissel ook. Trane van aandoening word gestort. Sommige, weer, is onseker: wat wil God vir my sê deur hierdie vreemde oomblik? Ander word vurige getuies: die aanraking begeester hulle tot aksie, tot diens en tot getuienis.

In Spiritualiteitsnavorsing word dikwels gefokus op ‘n vaste “idee”, “patroon” of “definisie” van spiritualiteit en word die geestelike ervarings van mense “gemeet” aan die definisie.

Wanneer ‘n mens oor spiritualiteit praat, werk dit nie net so nie. Ja, ‘n mens het ‘n werkende beskrywing van wat spiritualiteit is. Maar altyd weer hou ‘n mens rekening met mense se belewing. En belewing is dinamies, individueel en uiteenlopend.

Vandag word, in die lig hiervan, lank nie meer net van spirtitualiteit in ‘n godsdienstige konteks gepraat nie. Daar word besef dat mense ver buite godsdiens om geestelike ervarings kan hê. Dit gebeur in ‘n dokter se praktyk, wanneer ‘n verpleegster na ‘n pasiënt omsien, in die werkplek en elke dag wanneer digters dig, kunstenaars skilder, komponiste liedere skryf wanneer onderwysers klasgee en wanneer ‘n argitek ‘n gebou ontwerp. Op die manier het spirtualiteit besonder ryk aan vorme en inhoud geword.

Wat saak maak, daarom, is nie of ons “weet” wat spiritualiteit is nie en of ons ‘n maatstaf het waaraan ons spiritualiteit kan “meet” nie. Dit is goed om ‘n beskrywing van spiritualiteit te hê. Tog moet ‘n mens hierdie voorlopige kennis nie gebruik om spiritualiteit vas te lê nie.

Mens moet besef dat die Gees waai op plekke wat mense nie voorsien nie. Dit, weer, gee ‘n openheid om God se werking te herken selfs buite mense se eie, klein spiritualiteitswêreldjie om.

Waar daar so ‘n vars openheid kom, kom nuuskierigheid, waaksaamheid, selfs verlange: Ons word soekers: op die mees onverwagte oomblikke, by die mees onwaarskynlike plekke kan die Gees aan die werk wees. Selfs dorstig word mense vir hierdie nuwe, onbekende werke van God. Saam met Paulus praat ‘n mens van die nuutheid van die tyd waarin ‘n mens leef: die ou dinge het verbygegaan. Laat ‘n mens uitkyk hoe God nuwe wyn in nuwe sakke giet.

Vandaar is dit nodig om Matteus 7:7 te onthou. Nie verniet nie het Thomas a Kempis telkens weer in sy Navolging beklemtoon dat ‘n mens traag moet wees om te oordeel (sien eergister se blog).

Veel gretiger moet ‘n mens wees om op te let, om uit te sien na God se werking: wie, in die woorde van Nouwen, ingestel is op ‘n verrassing, sal inderdaad nie teleurgestel word nie – die lewensreis word dan ryk, gevul met sin en deurdrenk met vreugde.

Alles net omdat ons nie so seker weet wat spiritualiteit is nie.

Op die manier leer die studie van spiritualiteit ons om beskeie te wees, om ander se geestelike ervarings te eerbiedig en so vryer en ryker te word.

Veral leer dit ons om ons plek as skepsels te herken: God skep die nuwe dinge. Wat van God is, kan ‘n mens nie keer nie.  

Wie op die Here wag, kry nuwe krag…

Sunday, December 09, 2012

Gebed vir die Kerse: Goddelik in trou.

 
Kersgebed

Goddelik in trou

God, altyd-deur is U met loftaal beskryf:
U vir Wie die wyses van solank af al besing as die Een
wat in die allerhoogste hemele woon,
U vir Wie mense magtig noem, wonderbaar en ewig,

U, weet ek, saam met hulle,
in die kerstyd beleef ek dit,
is sterk, getrou, bo verstaan, goddelik, deurdrenk
met nimmereindigende omgee en ontferming.

Soos voorgeslagte U geprys,
U telkens bly roem het,
wil ek ook, aangeraak, U loof:
Trou bly U aan die Liefde.

Trou bly U in die Liefde.

Ewig is U in U goedheid,
steeds verwonder ek my aan U wysheid,
ontdek ek U raadsplan bly werk ten beste,
magtig staan U in U verwerping van die kwaad.


Met Kerse, ervaar ek helderder, nuwer as ooit:
U, Here, die allerhoogste, die magtige, wonderbaar en ewig,
word klein kind, nederige skepsel, mens,
naby aan ons, een van ons.

Magteloos, in moedersarms, dorstig en in doeke,
ongereken, ver van paleise en mense-applous,
uitgelewer, vlugtend voor moorddadige magte
tot ook, later, soos ook ons, wonder-loos, gekruisig, oorgegee aan die duisternis.

Getrou het U, allerhoogste, hierdie gewone lydenspad saamgeloop.
Maar U weg het ons geboei, ons nadergetrek:
hoe U, ontfermend, ander se laste oorneem
en, wonderbaarlik, U Gees van Troue liefde onvoorwaardelik uitstort.

Allerhoogste wat die allerlaagste geword het,
Sterflike Skepsel wat slepende voete met nuwe krag sterk-maak,
in die stilte van die vredestyd loof ook ek U weer:
wonderlik is U weë, onvoorstelbaar U goddelike trou.






Saturday, December 08, 2012

Uiterlik

Hoe kom dit  tot die punt dat Christus so deel word van die menslike bestaan dat mense Christus uitbeeld?

Dit sal nie gebeur wanneer 'n mens se lewe aan uiterlike dinge verknog is nie.

Die lysie van dinge wat vir ons belangrik word, is in vele opsigte bekend. Hulle is almal dinge wat uiterlik is.

Reputasie, roem, erkenning, status, rykdom, kennis staan almal op die lys.

Wat ons miskyk, egter, is dat al hierdie dinge op een punt ooreenstem: ons soek na die uiterlike dinge omdat ons sensitief is oor wat ander mense van ons dink.

As ons ryk is, sal hulle ons respekteer en beny. Dink ons. As ons beroemd is, ook so. En as ons slim is, word ons ook bewonder. 

Gedurig op die uitkyk na wat buite jou aangaan en hoe dit jou lewe raak.

En steeds weer vergeet mense hoe leeg die erkenning van ander mense is. Beroemdes word veral beskinder. Rykes word aangeval en verag. Slimmes word bespot of uitgedaag. Geluk is nie te koop nie. Mot en roes vreet die blink dinge ook. Roem vergaan.

Diep in hulle binneste weet mense dat ander ook so na hulle kyk: hulle hou fyn dop wat jy van hulle dink. Hulle weet, soos jy, dat al is hulle ryk, slim, beroemd, dit niks waarborg nie. Elke oomblik is daar nuwe kritiek, ander maatstawwe, heftige teenkanting. Jy oordeel en jy word geoordeel. Die lewe word 'n spel van uitsprake oor ander.

En waar 'n mens so angstig bewus is van hoe wisselvallig ander se oordeel is, daar kom onrustigheid, onvrede, 'n gejaag na meer erkenning en roem - 'n groter en intenser greep na die uiterlike.

Innerlik word die mens wat van ander se oordeel afhanklik is, armsalig en angstig.

Jy is vreemd vir jouself. Ontuis in jou eie vel. 'n Dwalende, selfs in die heerlikheid van al jou uiterlike dinge.  

Christus woon nie in die innerlike van 'n mens wat gedurig die oog op uiterlike dinge het nie. 

Friday, December 07, 2012

Te lank het ons gedink: ons is beter, ons sal nooit so iets doen nie.

‘n Bitter smaak hou ‘n mens altyd oor wanneer jy aan die Nazi-tyd dink: die volksmoord op 6 miljoen Jode skud ‘n mens tot vandag toe nog.

Nou blyk dit, in ‘n nuwe boek met die titel “Cruel Britannia” dat Duitse gevangenes in die Tweede Wêreldoorlog wreedaardig gemartel is. Dit Britse “bevryders” van die Nazi-oorlogsugtiges, weet ons nou, was nie minder gewetenloos as die Duitsers nie. Hulle kan nie die morele hoë-grond eis nie.

Daarby kom dat hierdie swart kant van die Britse geskiedenis tot dusver deur blatante leuens ontken is. Dit moet weggesteek word. Ons masker mag tot nie afgeruk word nie. Die boosheid van geweld word aan die verdere boosheid van leuens en oneerlikheid geknoop.

Dit is nie waar dit geëindig het nie. Die Britte, onthul mense nou, het ‘n lang geskiedenis van wreedaardigheid teenoor hulle politieke opponente. Dit loop ver terug en dit loop wyd – oral waar die Britse Ryk wortel geskiet het en desperaat aan sy mag vasgehou het.

Dit blyk nou dat in Kenia, tydens die stryd teen die Mau-Mau, sommige mense, byvoorbeeld, lewendig verbrand is. En, ook, dat in hofsake oor sulke martelinge in ander lande, spitsvondige regsgronde aangevoer word waarom die Britte nie skadevergoeding wil betaal nie.

Die opskrif van die Nederlandse artikel waarin die geskiedenis bespreek word (sien hier onder) is: “Te lank het ons gedink: ons is beter as ander. Ons martel nie.”

Vingerwys. Neerkyk op ander. “So laag sal ons nie daal nie.”

Maar die wreedheid in eie hart en in ‘n mens se midde, in jou innerlike, is weggesteek en bly verborge.

Ek merk in die berig dat daar geen verwysing na Suid-Afrika is nie. Die wreedheid van die Britse weermag kom nie van die Tweede Wêreldoorlog nie. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis, veral die Boere-oorlog, is ‘n tasbare bewys dat die Britse gewelddadige kultuur ver terugloop. Soms wonder ‘n mens hoe diep dit in die diepte-struktuur van Europe ingebed geraak het – om in ons tye deur nuwe vorme van geweld vervang te word. Die berig praat juis van die rol van Engeland in die aanhou van mense wat van bomme-plant verdink is.

Vingerwys na Afrika en die wreedheid van Afrikane, dit kan die wêreldpers goed doen. Vingerwys na die wreedheid van die Oosterlinge in Afghanistan, Libië, Sirië en ander lande, dit word ook net so gretig gedoen.

Hoe lui die Wyse segging: steek die hand in eie boesem. Kyk die balk raak.

Diep in die menslike natuur sit, ingewortel, ‘n drang na doodmaak, vernietig, uitwis. Dit is ‘n gierige verlange wat gedurig in stryd staan met die wete, ook deel van die menslike innerlike, dat daar ander, uitnemender maniere is. Solank ‘n mens vingerwys, en nie na binne kyk, na die gierige vergeldingsdrang nid, sal die styd teen die kwaad futiel bly. Solank die self-verontskuldigende houding hoogty vier, sal die uitnemender maniere nie tot hul reg kom nie en sal ons in geweld bly vashaak.

Kwaad is nie in die eerste plek net êrens anders te vind nie. Dit is ook ‘n mens se hartsaak. Ons, wat weet wat die Britte in ons eie land aangevang het, wat nugter na hul morele superioriteitsaansprake kyk, weet ook, as ons eerlik is, wat in ons eie geskiedenis gebeur het. Die jare vyftigs, sestigs, sewentigs en tagtigs was deurtrek met geweld.

Die tyd vir vingerwys is verby. Dit is tyd vir self-ondersoek. Transformasie begin daar. Maar, word dit gedoen met ‘n sensitiwiteit vir eie feilbaarheid, vir foute wat ‘n mens self gemaak het, begin genesing en word die boustene vir ‘n maatskappy teen geweld gelê.

Hier is die artikel:

'Te lang is gedacht: wij zijn superieur, wij martelen niet'
Arjen van der Horst − 07/12/12, 15:00

© Linda Nylind. Journalist Ian Cobain: 'Het gaat om ons zelfbeeld'.
In uw boek 'Cruel Britannia' beschrijft u in detail hoe de Britten marteltechnieken gebruikten tegen Duitse gevangenen tijdens de Tweede Wereldoorlog. Waren de Britten pioniers op het gebied van martelen?

"Na 1945 ontwikkelden ze een systeem dat uniek Brits was en dat bekend zou worden als de 'vijf technieken'. De Britten leerden van experimenten die ze gezamenlijk hadden uitgevoerd met de Amerikanen en Canadezen tijdens de Koreaanse oorlog, maar ze putten ook uit hun eigen ervaringen in de Tweede Wereldoorlog. De vijf technieken waren uithongering, slaaponthouding, het bedekken van de hoofden met een kap, het gebruik van een sissend geluid en gevangenen voor lange periodes met gespreide armen en benen laten staan tegen een muur.

Het waren technieken die geen sporen achterlieten. De Britten experimenteerden bijvoorbeeld met geluiden om te ontdekken hoeveel decibels zouden leiden tot beschadiging van het trommelvlies. Ze stelden vervolgens het volume in net onder dat niveau. De vijf technieken werden in 1970 voltooid. In Noord-Ierland gebruikten we alle vijf tegen gevangen van de Ira."

In uw boek stelt u dat de Britten een martelbeleid hadden.

"Het was ook echt beleid! Het gebruik van de vijf technieken werd gestuurd door leden van de Britse regering. Het bewijs dat ik gevonden hebben in de staatsarchieven is overduidelijk."

Is er een verband tussen dit beleid en het uiteenvallen van het Britse rijk?

"De Britten moesten voortdurend opstanden in hun rijk onderdrukken en gebruikten daarbij veel geweld. In Aden (het huidige Jemen, red.) ging dat gepaard met de ergste wreedheden. De Britten hebben verder marteltechnieken gebruikt in Kenia, Cyprus, Brits Guyana, Kameroen, Swaziland en Noord-Ierland. Het is geen verrassing dat martelen hand in hand ging met de koloniale missie."

In de jaren vijftig sloegen de Britten de opstand van de Mau Mau in Kenia met harde hand neer. Vele gevangenen zijn toen gemarteld. Slachtoffers hebben nu de Britse staat aangeklaagd. Hoe belangrijk is deze rechtszaak?

"Dit heeft in potentie verstrekkende gevolgen. De Britten hebben de meest afschuwelijke dingen gedaan bij het onderdrukken van de Mau Mau-opstand. Sommige gevangenen werden levend geroosterd. Een van de slachtoffers die nu de Britse staat aanklaagt, heeft geen testikels meer. De Britse regering heeft dat nooit ontkend, ze heeft toegegeven dat ze ongekende wreedheden heeft begaan tegen de Mau Mau.

"Maar de Britse regering stelt wel dat het niet langer haar verantwoordelijkheid is en dat de slachtoffers de Keniaanse overheid moeten aanklagen, omdat die alle wettelijke verplichtingen heeft overgenomen van het koloniale bewind. De Britse rechter vond dat een schaamteloos argument en heeft het verworpen. Je snapt wel waarom de regering zich verzet, want dit kan een precedent scheppen. Londen zit niet te wachten op nog meer schadeclaims uit bijvoorbeeld Cyprus en Aden.

Gaat het dan puur om geld?

"Nee, het gaat niet om geld. Het gaat om ons zelfbeeld. Na de Tweede Wereldoorlog was Groot-Brittannië uitgeput en kapot gemaakt door de oorlog tegen het monstrueuze nazi-Duitsland. Maar we konden ons in ieder geval getroosten met de gedachte dat dat we moreel superieur waren. Wij waren de 'good guys'. Wij doen niet aan genocide, wij doen niet aan martelen. Dit zelfbeeld koesteren we nog steeds en daarom hebben opeenvolgende regeringen altijd gelogen over onze betrokkenheid bij marteling en andere wreedheden. Die leugens zijn klakkeloos en kritiekloos overgenomen door de media, die te vaak de andere kant op keken, waar ze mistanden hadden moeten onderzoeken. De kloof tussen het zelfbeeld en de werkelijkheid was te groot voor ons. Uiteraard heeft de Britse bevolking die leugens ook geloofd."

Hebben de Britten hun koloniale verleden verwerkt of moet dat proces nog beginnen?

"Als je ziet welke non-fictie boeken over ons koloniale verleden goed verkopen, dan zijn dat stuk voor stuk boeken die dat verleden rooskleurig beschrijven. Ja, hier en daar wordt melding gemaakt van een bloedbad dat de Britten aanrichtten. Maar geen van die boeken legt uit dat het Britse Rijk een proces was waarmee we de wereld uitbuitten. Het einde van het Britse Rijk was buitengewoon bloedig, omdat we vastbesloten waren aan elke rots of stuk zand vast te klampen waarvan we geloofden dat het van ons was."

Die houding bestaat nog steeds. Ex-premier Brown zei nog niet zo lang geleden dat de Britten trots kunnen zijn op het Britse Rijk.

"Ook vanwege ons zelfbeeld. Neem Jack Straw, de voormalige minister van justitie. Hij ontkende in het Lagerhuis dat de Britten na 11 september betrokken waren bij het geheime CIA-programma waarbij terreurverdachten over de wereld werden verplaatst. Hij verklaarde in het parlement dat dit niet meer dan complottheorieën waren. Nu weten we dat Straw loog. Die houding verklaart ook waarom de huidige regering zich verzet tegen de schadeclaims van de Mau Mau-slachtoffers. Niet omdat ze veel geld moet betalen, maar omdat deze rechtszaak de geschiedenisboeken over het Britse Rijk kan herschrijven. Ik denk dat dat proces nu is begonnen."

Wie is Ian Cobain?
Ian Cobain (1960) is onderzoeksjournalist van dagblad The Guardian. Sinds de aanslagen van 11 september verdiepte hij zich in Britse betrokkenheid bij martelpraktijken in Irak en Afghanistan. Voor zijn onderzoekswerk heeft hij verschillende journalistieke prijzen gewonnen zoals de Martha Gelhorn Prize en de Paul Foot Award. In zijn boek 'Cruel Britannia' beschrijft hij hoe de Britse geheime diensten de afgelopen zeventig jaar marteltechnieken systematisch en op grote schaal hebben gebruikt bij de vele conflicten waarbij het Verenigd Koninkrijk betrokken was. Cobain kreeg toegang tot geheime staatsdocumenten die onthullen hoe de Britse regering voortdurend loog over haar betrokkenheid bij martelingen.

Blog Archive