Tuesday, March 26, 2013

God en lyding. Oor Hebreërs 5:7. (2).


Daar is soveel te sê oor mense wat dink dat hulle tye van swaarkry en lyding die gevolg is van iets wat hulle verkeerd gedoen het.

Sekerlik is dit so dat ‘n mens soms slegte dinge doen en die gevolge daarvan moet dra. Maar in die Evangelie is die gedagte van ‘n oog om oog deur Jesus radikaal deurkruis.

Maar hoekom dink gelowige mens nog so? Dit is die gevolg van hulle beeld van God: Mense sien God as die “Regter” wat “kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat gesterf het. Hulle ervaar God as Iemand wat net reg staan om ‘n sondige mens te straf. Wanneer iemand vir God dien, en iets negatiefs gebeur, is hulle “logiese” afleiding hieruit dat hulle “gestraf” word.

In die afgelope paar dae dink ek na oor die volgende gedeelte in Hebreërs 5:7:

Hy (Jesus) het in sy lewensdae gebede en smeekgebede met harde krete en trane gebring na Hom wat Hom van die dood kon red, en Hy is verhoor vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.

Anders gesê: In die dae van sy liggaamlike bestaan (ἐν ταῖς ἡμέραις τῆς σαρκὸς αὐτοῦ), was dit vir Jesus ‘n tyd dat hy die dood en dus verganklikheid in die oë gestaar het. In die opsig was hy “tipies” mens, soos Hebreërs 5 impliseer.

Oor ‘n mens se bestaan op aarde hang dus immer die skadu van jou sterwe. ‘n Mens beleef kortstondigheid en dit bring lyding, vrees en akute angs met hom mee. Jy is op reis deur die “dal van doodskaduwee” soos Totius dit assonantief en digterlik uitgedruk het.

‘n Mens kan dit baie swart sien – soos baie mense hulle lewens as ‘n “aardse tranedal” beskou en as niks beters nie.

Maar dinge begin anders lyk wanneer ‘n mens ‘n ander beeld van God vind en vanuit ‘n ander hoek na Jesus kyk: Jesus se “lyding” word in die kerklike jaar veral met die kruis verbind. Lydenstyd is die tyd waarin Jesus se weg na die kruis bepeins word.

Maar dit is, soos ‘n mens hoog sou sê, heeltemal te reduksionisties. Dit “verskraal” die lydenstyd van Jesus sodat ‘n mens ‘n totaal “arm” beeld daarvan het.  In Hebreërs sien ons die meer realistiese gesig van lyding: dit is met die menslike toestand gegee. Wie mens is, staar die dood in die gesig. Die “lyding” van Jesus kan lank nie net tot die kruis verskraal word nie. Trouens, ‘n mens sou amper kon sê dat ons verskraalde siening van lyding as die kruisiging word hier fundamenteel bevraagteken. In die oë van die skrywer van die Hebreër-brief is Jesus se “aardse” lewe ‘n tyd van lyding, van akute angs en daarom van volhardende gebed.

So lyk ‘n mens: iemand wat smekend voor God staan, angstig oor sy of haar lydensbestaan.   

In die lydenstyd, in die heilige week, is dit wat Hebreërs eerste van alles wil onderstreep: lyding is nie jou lot omdat jy sondig is nie. Dit kom nie oor jou as straf nie. Dit is nie iets wat tussen jou en God hoef te staan nie.

God staan in die midde van die menslike lydensverhaal.

Juis die insig dat Jesus se aardse, liggaamlike lewe in die teken van doodsangs staan maak, vreemd genoeg, ‘n troosgebaar na die mens se kant: elke oomblik dat ons bewus raak van die dinge wat ons nie kan beheer en wat ons moed van ons wegneem, weet ‘n mens dat dit ‘n tipe bestaan is wat Christus ook gehad het. Hy ken dit.

Ons moet dus in die lydenstyd Christus-gelykvormig dink. Ons moet hierdie transformasie tot gelykvormigheid aan Christus as ‘n wesenlike moment in ons geestelike reis beleef. En gelykvormigheid aan Christus beteken dat ons die liggaamlike bestaan wat ons as genade ontvang, steeds weer realisties sal beleef: laat niemand daaroor illusies hê nie. Dit is deurdrenk met die donker tye. Christus se lewe herinner immers hieraan, vertel Hebreërs 5:7. Dit was deel van sy menslike bestaan, soos, by implikasie, dit ook van alle mense waar is.

Dit is ‘n “gebroke” werklikheid – so het ons altyd van die wêreld gepraat. Hoe anders? Dit is tydelik, verganklik, eindig, beperk, voorlopig en dit maak dikwels baie seer – want die dood werk daarin en bring dit tot ‘n einde. Niemand, hoe vroom ook al en hoe toegewyd aan God, kan hieraan ontkom nie.

Laat die mens dus realisties oor die lewe dink. En veral nie te triomfantalisties nie, asof alles net halleluja en loof die Heer is.

Dit is troos, konkrete troos, dat Jesus hierin aan die mens gelyk was: dit impliseer immers dat God wat ons in die lewe geroep en as mens geskep het, ook intiem by die gang van die mens se aardse lewe betrokke was. God ken die menslike bestaan nie net van “buite” af nie. God ken dit van “binne” uit.

Maar daar is ‘n baie dieper oomblik aan die feit dat die aardse bestaan in die skadu van die dood staan. Angstig treur Jesus sy lewe lank oor die onvolmaaktheid van die menslike bestaan. Dit is, vertel Hebreërs 5:7, nie wat God wil hê nie. God soek nie straf nie, gebruik nie die dood nie, verlustig God nie in lyding nie.

Verlangend, smekend, maar ook met innerlike sekerheid gee Jesus onmiskenbaar die boodskap: wees realisties, maar wees nie tevrede nie. Want anderkant die aardse bestaan met al sy harde realiteite, het die hart van God vir die mens die Grotere, die Verborgene berei in die wete: die dood is nie die einde nie. Iemand is sterker.

Hebreërs 5:7 wil die mens nie met ‘n aardse tranedal versoen nie. Die dieper waarheid is dat die teks ‘n mens aanmoedig om juis te midde van die aardse tranedal te weet en te bid tot God wat groter en sterker is.

Monday, March 25, 2013

Bestaan God of bestaan God nie? 'n Baie oninteressante vraag.

In vandag se Trouw is daar 'n onderhoud oor 'n nuwe boek van Frans de Waal waarin hy die evangeliese ywer van die neo-ateïste aanvat. Hulle maak asof almal wat gelowig is, per definisie onnosel is en marginaliseer enige iemand wat nie met hulle saamstem nie.

Nie dat hy self gelowig is nie.

Maar hy kan wel insien dat geloof 'n nuttige funksie kan hê. Hieroor praat hy sinnige dinge. Ook oor die verskillende dinge waaroor geloof en wetenskap nadink. En hy sê spesiale dinge oor die liefde wat 'n mens as ervaring moeilik kan peil en wetenskaplik kan uitlê. Ook effektief is sy uitlatings oor die godsdienstige en absolute karakter van die ateïsme.

Die bestaan-God debat interesseer my (soos vir hom) ook nie. En onlangs moes ek 'n vriend teleurstel wat my na 'n boekbespreking oor evolusie uitgenooi het: evolusie interesseer my nie, veral nie as 'n tema binne godsdiens nie. Ek neem mense nie kwalik as hulle graag daaaroor praat en skryf nie. Gelukkig verskil smaak.

Vir my as gelowige is daar kernsake wat my besig hou.

Net dit: Ek dink nie God bestaan omdat, in De Waal se woorde, daar wel 'n kans is dat dit moontlik is nie. Die mistieke skrywers van alle tye vertel in die mees onafhanklike kontekste dat hulle 'n direkte Godservaring gehad het wat hulle lewens tasbaar omgekeer het. Hieroor kan ek rasioneel nadink en rasioneel probeer om dit in woorde uit te druk. Maar iewers is daar 'n harde kern buite my begrip en spreke om: Hulle lewens en ervaring gee te kenne dat die bestaan van God vir hulle 'n werklikheid was.

Dit is, in die woorde van Rahner, wat saak maak. En dit is so 'n grootse saak binne 'n geloofskonteks met soveel ryk dimensies dat 'n mens menige dag jammer is die tyd is so min om daaroor te lees, om dit te probeer peil en om daaroor te gesels.

Hier is 'n deel van die onderhoud:



Moreel gedrag is 'ingebakken' door het leven in een groep, betoogt apenkenner Frans de Waal in zijn nieuwe boek. Religie is daarbij niet nodig. Maar hij vindt wel dat de Amerikaanse 'neo-atheïsten' overdrijven.
Elkaar troosten, de zwakkeren helpen, je aan regels houden en rechtvaardigheidsgevoel tonen - ook bij dieren komt gedrag voor dat wij als 'moreel' zouden bestempelen. Frans de Waal doet er al jaren onderzoek naar. In zijn nieuwste boek, 'The Bonobo and the Atheist' (vertaald als 'De bonobo en de tien geboden'), betoogt hij dat onze goedheid niet van God, maar uit ons groepsleven komt. Maar dat wil niet zeggen dat religie zinloos is.

U heeft al vele observaties van moreel gedrag beschreven bij dieren, vooral bij apen. Waarom nu weer een boek over die thematiek?
"Ik wilde de bevindingen uit de laatste onderzoeken naar empathie en samenwerking bij dieren presenteren. Maar vooral wilde ik dit keer ook de religie meenemen. Als je het thema moraliteit behandelt, kun je niet om religie heen."

U voert God op, om hem meteen weer af te voeren: voor onze moraal hebben we God niet nodig.
"Nee, de moraal zit al bij ons ingebakken. Die is gebaseerd op bepaalde neigingen - elkaar helpen, empathie, regels volgen - die we ook bij andere sociaal levende dieren zoals apen, olifanten en in basale vorm zelfs bij honden zien. Die neigingen en de bijbehorende emoties zijn een deel van onze natuur, en vanuit de evolutiebiologie verklaarbaar: ze maken het leven in groepen mogelijk. De moraal bestond al ver voordat we religie hadden, of filosofie. Beide beweren dat de mens niet weet hoe hij zich moet gedragen; God moet hem dat vertellen of hij moet het met zijn logisch verstand ontdekken."

Met dit boek mengt u zich ook in het evolutiedebat dat gevoerd wordt in met name de Verenigde Staten, waar u woont en werkt.
"Er is momenteel een strijd gaande tussen de zogenaamde neo-atheïsten en de religieuzen, die zich toespitst op het evolutiedebat. Daarin zijn de atheïsten op een bijna 'religieuze' manier dogmatisch: je bent gelovig of wetenschapper, er kan niets tussen zitten. Aan de andere kant zien sommige gelovigen de evolutietheorie als iets immoreels, dat God uitsluit. Het merendeel van de gelovige mensen in de VS staat er best voor open om na te denken over evolutie. Maar als de neo-atheïsten, onder aanvoering van schrijvers als Richard Dawkins en Christopher Hitchens, op ze afstappen met: 'U gelooft, dus u kunt niet kritisch denken, u bent een idioot, ik weet het beter', dan krijg je natuurlijk niets gedaan. Die verharding van het evolutiedebat is contraproductief en heeft de wetenschap niets geholpen."

Op de site whyevolutionistrue.com kijkt de schrijver van het gelijknamige boek met bezorgdheid uit naar uw nieuwste werk, omdat u religie niet stevig genoeg zou aanpakken.<
"Zulke neo-atheïsten willen niet dat mensen in het midden gaan zitten. Ze denken in termen van winnaars en verliezers en religie moet de verliezer zijn. Zo denk ik niet. Ik ben niet gelovig, ik hoef de godsdienst dus niet te verdedigen. Maar als mensen een gids in het leven hebben aan de godsdienst, wie ben ik dan om hen dat te ontzeggen. Wetenschap en religie houden zich bezig met verschillende domeinen. De wetenschap geeft antwoord op de vraag hoe iets werkt, hoe het in elkaar zit. Religie probeert antwoord te geven op vragen als: waarom zijn we hier, hoe moeten we leven."

In deze krant gaf een gelovige wetenschapper een tijdje terug ook een voorbeeld van zo'n vraag: 'waarom houd ik van mijn vrouw?' Maar daar kan de wetenschap toch best een antwoord op geven: uit de biologie kennen we de 'pair bond' en de biochemische aspecten van verliefdheid.
"Dat is waar, maar ik geloof niet dat de wetenschap kan zeggen van welke vrouw je zult gaan houden! De liefde is op chemisch niveau wel te verklaren, maar dat is natuurlijk niet de volledige menselijke ervaring van de liefde. Dus de wetenschap zegt er niet alles over. En dat geldt voor meer domeinen."

Is daar dan religie voor nodig?
"Voor veel mensen wel. Ikzelf heb de religie niet nodig, veel wetenschappers hebben die niet nodig, omdat de wetenschap hen zingeving biedt. We zoeken naar de waarheid, we onderzoeken de wereld, dat verbindt ons in zekere zin met het universum. De neo-atheïsten zeggen dat veel wetenschappers niet gelovig zijn omdat ze zo rationeel en slim zijn, maar daar ben ik niet van overtuigd. Wetenschappers kennen transcendente ervaringen die anderen ervaren in religieuze context."

Is het niet de taak van de wetenschap om de waarheidsclaims van religie te falsificeren?
"Wetenschap is niet per se antireligieus. We maken er wel eens grappen over, maar eigenlijk beschouwen de meeste wetenschappers religie als niet-relevant voor hun werk. Zo vind ik de vraag of God wel of niet bestaat totaal oninteressant. Je kunt niet bewijzen dat God bestaat en ook niet dat God niet bestaat. Kijk, als je de Bijbel letterlijk neemt, dan haken wetenschappers wel af. Het is echt onzin te beweren dat de Aarde pas zesduizend jaar oud is. We kunnen gewoon bewijzen dat dat niet zo is. Maar als mensen religie gebruiken om zin te geven aan hun leven, dan is dat voor de wetenschap gewoon niet relevant."

U ziet nog wel een rol voor religie weggelegd, ook al is die later aangehaakt bij een al bestaande moraal?
"Ik denk niet dat we religie zomaar moeten willen afschaffen. De communisten in Rusland hebben dat geprobeerd, maar dat liep zoals bekend niet goed af. Bovendien zorgden ze met hun vlagvertoon, parades en dogma's eigenlijk meteen voor een alternatieve godsdienst. Waar religie vermoedelijk een belangrijke rol heeft, is niet bij het ontstaan maar bij het instandhouden van de moraal in grote groepen. Toen we nog in kleine groepen leefden, ongeveer zoals chimpansees nu, konden we een oogje op elkaar houden en kenden we elkaars reputatie. Maar inmiddels leven we in groepen van miljoenen mensen en is het wellicht nodig dat we er een 'buitenwereldlijk wezen' bij halen dat op ons allemaal een oogje kan houden."

Sunday, March 24, 2013

Om mens te wees en te ly. Oor die trane van Jesus in die lydenstyd

  ‘n Mens praat maklik oor lyding wanneer dit jou nie raak nie. Vele mense sal vertel dat hulle eers simpatie kry met ander se lyding as dit oor hulle eie pad gekom het en dit aan hulle eie lyf ervaar het. Net so  kan ‘n mens ander se lyding onderskat, of selfs geringskat.

Dikwels hoor ‘n mens ander sê: noudat ek dit self ervaar, verstaan ek ander soveel beter. 

Dit is daarom waardevol wanneer ‘n insig uit die Bybel ‘n mens help om die ervaring van lyding te herbedink en met nuwe oë te bekyk.

Dit gebeur deur die opvallende gedeelte in Hebreërs 5:7.

Wat ‘n vers!

Dit is ‘n vers wat relatief ongebruik is. Dit word nie dikwels, sover ek weet, in die lydenstyd as teksvers gebruik nie, hoewel dit besonder passend is.

Miskien ontsnap  die vers ‘n mens se aandag omdat dit deur minder bekwame vertalings van sy trefkrag ontneem word. 

So lui die teks:

Hy (Jesus) het in sy lewensdae gebede en smeekgebede met harde krete en trane gebring na Hom wat Hom van die dood kon red, en Hy is verhoor vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.

‘n Mens kan die kern van die vers formuleer as : Uitkoms aan ‘n Jesus wat ernstig bid in sy lyding (let op die “sy”). Maar selfs  hierdie kriptiese formulering sny insiggewende momente uit die teks weg. ‘n Mens kan hierdie teks vanuit ‘n velerlei van perspektiewe bedink.

Ek wil uiteindelik by die sleutel tot die lydenstyd en tot hierdie teks uitkom deur eers ‘n ompad te loop. Die ompad begin deur aandag te gee aan die buitengewone menslikheid wat in die beskrywing van Jesus na vore kom. Maar selfs hierdie ompad verleen al diepsinnige insigte in die teks en in lyding.

Aan die een kant is daar die brute, byna té weerlose uitbeelding van die menslikheid van Jesus: Hy is die een wat met harde “krete” (Grieks), en nog meer, met trane uitroep, staan daar in die teks. Die worstelende gebede van Jesus word beskryf in terme van hewige emosies. Die begrippe is sterk: hy is huilende en skreeuende.

Daar is nie twyfel hieroor nie. Dat Jesus se weerlose menslikheid hier uitgebeel word, is nie ‘n glips nie. Die sterk “menslike” uitbeelding van Jesus se lewe is deel van die groter geheel van die hoofstuk: Die skrywer van die Hebreër-brief pas dit in in die groter gedeelte wat gaan oor die hoëpriester wat as mens uit die mense geneem word om vir hulle by God deur offers in te tree. Jesus, beklemtoon hy, is ook so ‘n hoëpriester. Hy het meegevoel met swak mense omdat hy self aan swakheid onderhewig is (verse 1-2). Die Griekse woord vir swakheid kan selfs as “tekortkoming” vertaal word.

In vers 8 kry ‘n mens dan daardie opvallende vers wat soveel eksegete al hoofbrekens gegee het: Jesus het “deur alles wat Hy gely het geleer wat gehoorsaamheid is.”

In die lydenstyd, herinner die teks ons, is ons in al ons eie swakhede bloot voor God. Dit is die tyd van weerloosheid, van uitgelewerd wees aan die onverklaarbaarheid van alles wat so donker oor ons lewens hang. Dit is die tyd wat ons herinner aan ons durende verlatenheid, aan die verduisterde uitsig op God, aan ons beperkte menslike visie op sin, betekenis en, nog meer, ons angstigheid oor ons gevoel dat God nie meer by ons is nie.

Dit alles kom na vore in die eintlike objek van die sin. Waarvoor bid en smeek en huil en skree Jesus?

Die antwoord kom indirek: Hy soek na redding. Die subtiele, “maar duidelike boodskap is verder nog meer menslik as wat ‘n mens jou kan indink: Jesus vrees die dood. Hy bid immers tot God wat Hom uit “die dood kan red.

In ‘n mens se swakheid is jy so swak, jy kan maar net bid. Al wat jy kan doen, is om aan God jou menslike krete te bring – dit, as hoëpriester, op die altaar as wierook neer te lê (Open.6).

Dit is hoe Jesus lyk: die een wat die dood vrees, wat die beker eintlik nie wil drink nie en wat smag dat dit by Hom verbygaan.

Dit is die rol wat God aan Hom toeken (vers 5). God maak Hom tot hoëpriester wat op ‘n eg menslike wyse biddend met sy doodsangste worstel.

Self het Jesus lyding ervaar – en daarom kan hy deernis hê (vers 2). Hy verstaan. Hy weet wat beteken dit om dag en nag, ‘n mens se lewe lank, met vrae, verlangens, onsekerhede, angstighede en tekortkominge te leef.   

Hieroor, en oor die eintlike punt van die vers, later meer.

Saturday, March 23, 2013

Riskante kerkgang...


Die predikant kom by die kerk aan en sien so ‘n opgeskote seuntjie uit die gemeente staan en ontsyfer die name op die monumentjie van die kerk vir die soldate wat in die oorlog gesterf het. 

Hy groet die outjie, wat met ‘n ernstige gesig en ‘n plooi op die voorkop al die name met sy vingertjie volg en met ‘n geprewel uitspreek.

Hy weet die leergierige en nuuskierig outjie is pas in die skool en het nou leer lees.

Die outjie, vol eerbied vir die herder van die kudde wat so vriendelik met hom praat, vra afwagtend vir sy predikant waarom die name op die plaatjie geskryf is. 

Hy is nog vars in die wêreld en wil weet.

Die predikant is nog uit die geslag van mooi en deftig praat. “My boeta,” vertel hy plegstatig, “dit is die name van al die seuns uit die gemeente wat in die diens dood is.”

Voor hy nog verder kan verduidelik, val die outjie 'n tree terug en vra benoud: “Was dit die oggend of aand-diens, dominee?”


Friday, March 22, 2013

Goeie Vrydag: In ontsag voor God.




Die laaste week van die lydenstyd lê voor. “Heilige week”, lui dit, vir ons nog bietjie taai op die tong, maar glad in sy Engelse “Holy Week.”

Ek is dankbaar dat ek op Goeie Vrydag kans gaan hê om te preek, want in vele opsigte is die dag vir my ‘n hoogtepunt in die kerklike jaar en ‘n impuls om oor die sin van geloof na te dink. Op die dag draai ‘n mens by die hart van die Evangelie.

Ek gaan oor die twee rowers aan die kruis praat. Maar, anders as in die vyf blogs wat ek daaroor geskryf het, wil ek net oor die mees essensiële boodskap van Lukas 23:39-43 nadink. Ek wil besin oor wat die punt van die verhaal is, oor dit waarsonder die gedeelte eintlik inmekaar sal val.

Om dit te kon vasstel, is ek onmiskenbaar gelei deur wat goeie navorsing oor Spiritualiteit skryf. Die boodskap van Lukas oor die rowers raak die hart van spiritualiteit. Kees Waaijman sonder vier kernwoorde uit wat die inhoud van spiritualiteit die beste weergee. En dit is hierdie woorde wat my lees van ‘n teks dikwels stuur en bepaal.

Die eerste van die kernwoorde is ontsag vir God. As ‘n mens oor die geestelike reis, oor die groot wendinge in ‘n mens se lewe, oor die diepste sin van alle dinge nadink, begin ‘n mens by ontsag vir God. Dit is die beginpunt, die saak wat aandag kry.

Dit is die woord wat my getref het toe ek in die lydenstyd oor die gedeelte van die twee rowers dieper begin nadink het.

Wanneer die “goeie” misdadiger deur ‘n sterwende Jesus in die teenwoordigheid van God verwelkom word, gebeur dit juis in die konteks van ontsag vir God as die kernwoord vir spiritualiteit.

Ontsag vir God is die hart van alle dinge. Die geestelike lewe draai om God: die mistieke oomblik is wanneer ‘n men voor God staan en jou lewenssin in ‘n intieme, nou vereniging met God ontdek.

Wanneer Jesus die rower die paradys inneem, onthul hy deur Lukas aan mense van die Evangelie die hart van God. Die hele verhaal kom tot rus by die punt waar Jesus en die mens in die vredestyd, die koninkryk, die paradys sal wees. Vandag nog.  

Daarmee word ons behepthede met soveel ander dinge in die geloofslewe totaal opgehef. As ons na ons lewens in die geloof kyk, sou ‘n mens maklik kon vra: Wat kan tog ooit groter wees as ‘n goeie lewe, ‘n lewe wat vir God aangenaam en goed is?  Wat is beter as dat mense vir hul ondankbare kwaaddoenery gestraf word en vir hul dade verantwoordelik gehou word? Wat is mooier as getrouheid, goedheid, dankbaarheid, heiligheid en vele ander kenmerke van die gelowige mens en sy/haar goeie lewe?

Daar is ‘n antwoord hierop en dit het ook te doen met die rowers aan die kruis.

Die antwoord kan ‘n mens by baie punte begin. Maar die rower het my, intertekstueel, laat dink aan Jesus se gelykenis oor die arbeiders in die winger.

Jesus vertel die gelykenis en skaar hom skynbaar aan die kant van daardie werkers wat net ‘n uur of wat gewerk het. Maar dit is fout. Die gelykenis wil nie op die werkers konsentreer nie.

Jesus neem ‘n mens na die grotere, die betere: Met die gelykenis wil Hy die soeklig op die Baas van die plaas laat val.  Daar is in die Baas, soos by God, iets Onpeilbaars skoon en goed. Dit is ‘n eienskap wat alle verstand te bowe gaan en alle konvensies deurbreek. God, wil Jesus sê, is groter as geregtigheid, as moraliteit, as ‘n goeie lewe. In die Ou Testament hoor ‘n mens gedurig hoe God nie vashou aan allerhande godsdienstighede nie – nie die offer en die kultus is belangrik nie, maar die liefde vir ander.

Die rower aan die kruis sou ‘n mens ook vanuit hierdie perspektief kon bekyk: die man wat deur die agterdeur geglip het en vertel dat God nie volgens ons maatstawwe meet nie.

Dit is sekerlik ook reg.

Maar daar is ‘n dieper, mistieke dimensie aan die gebeurtenis – en daarmee wil ek hierdie reeks oor die kwaaddoeners aan die kruis afsluit.  Dit is ‘n dimensie wat te doen het met God, en, wat, daarom, wegkyk van die mens. Ontsag voor God. Geboeid voor God. Verwonderd en in eerbied staan ‘n mens in die teenwoordigheid van die Volledig Verborgene. Die weë van die Ewige is nie die mens se weg nie. God gee vir almal, onverdiend, oorvloediglik.

Dit help ‘n mens om die rower te verstaan. Sy “inglip” by die agterdeur gebeur sommer nie net nie. As ‘n mens dit besef, begin die saak veel anders lyk.

Die man se smeekbede en sy oratiewe aanspreek van Jesus verduidelik dit so ‘n bietjie, soos ons gesien het. Hy verlang na God. En in sy verlange is die vrysprekende praesentia realis Dei teenwoordig – ‘n mistieke antifrase. Hoe kan ‘n mens dan verlang as God nie op een of ander manier in jou lewe is nie?

Maar selfs dit is nog te min. ‘n Smeekbede kan selfsugtig wees, kan op jouself gerig wees, op blote ontsnapping aan lyding, wegkom van wat jou bedruk of van wat vir jou swaar is. Dit kan jou verlossing van die kruis wees.

Lukas se verhaal het nie so ‘n karakter nie. Dit vertel nie die gebed van ‘n desperate, beangste mens nie.

Dit ontdek ‘n mens wanneer jy jou inleef in die gesprek tussen die twee kwaaddoeners en by die punt van die verhaal uitkom:

“Vrees jy nie God nie?” vra die “goeie” dief – die een sonder naam aan die ander kwaaddoener. En dan volg sy verduideliking: hulle twee as die kwaaddoeners word gestraf vir wat hulle gedoen het – teenoor Jesus wat onskuldig aan die kruis hang. Die goeie rower weet te goed hy is skuldig en word regverdiglik gestraf. Hy sien al die kwaad raak waarmee sy lewe deurtrek is.

Dit is maar vir hom ‘n vertrekpunt na die Grotere, die Belangriker. Langs hom herken hy die goeie, die onskuldige en, meer nog,  die goddelike. Hy ontdek langs hom, in die modderpoel van sy eie kwaad, die Lig van onskuld en goedheid.  Trouens, dit is wat hom die kwaad laat raaksien. Die herkenning van Jesus bring hom tot self-verstaan. Want die ander kwaaddoener “sien” nie regtig vir Jesus nie en sien nie homself vir wat hy is nie.

In die teenwoordigheid van die Onskuldige, oorval dan die “vrees” die goeie rower.

Dit is tegelyk ‘n onstuimige onrustigheid oor God wat die kwaad nie kan verdra nie. Hy herken meteens in sy ellende die vernietigende lewensstyl wat sy lewe tot daardie punt, tot die kruis gebring het.

Maar dit is veel, veel meer as net angs oor wat hy met sy lewe aangevang het en hoe verskriklik dit is om sonder God te wees.

In ‘n oomblik dring dit tot hom deur hoe lyk ‘n lewe sonder God en hoe kontrasteer dit, so ‘n “goddelose” lewe, met ‘n lewe in God. Deur net links te kyk, na die Man in die middel, sien hy volmaaktheid. En dit transformeer, omvorm en maak hom Christus-gelyk: iemand wat sonde herken en konfronteer. Dus transformasie in herskepping en transformasie in Christus-gelykvormigheid. Sy hart reik uit na die Onskuldige, sy verlange verteer hom om saam met die Goeie te wees. En, selfs al is sy vrees vir God so onstuimig sterk, bring hierdie verlange hom om sy bewussyn van sy sonde te oorkom met ‘n hulpkreet na die Lydende.

Dit is wat Jesus, te midde van sy lyding sien en hoor: ‘n man wat God vrees, iemand wat in eerbied en verwondering voor die Onskuldige, die Seun van God staan.

Vir so iemand is daar troos: God se teenwoordigheid is juis beskore vir hulle wat, selfs in die vernietigende tye, weg van hulself kyk en hul vertroue in eerbied en ontsag op God stel. Getrou, sal God hulle onthou en hulle nadertrek in ‘n intieme omhelsing as ‘n geliefde kind.

Nikolai Ge, die Russiese skilder, het ‘n aangrypende skildery gemaak van Jesus en die Rower. Ge het die menslike Jesus uitgebeeld: ons sien nie ‘n serene, stil Velasquez-tipe Jesus wat in gestroopte lig aan ‘n kruis hang nie. Op die doek is ‘n afgryslike Jesus, uitgestreke arms: woeste hare, verbryselde lyf, sy liggaam steier onder die lyding. Hy kan skaars sy oë oophou.

‘n Mens sien hom soos die slegte rower hom sien: ‘n vernielde, magtelose mens, sterwend in bloederige hulpeloosheid.

Daar val tog ‘n sagte, veer-grote ligglans op Jesus se voorkop. Dit neem niks weg van die lyding wat so brutaal op die doek vasgelê word nie. Maar dit is daar, die stralekrans om die voorkop. In lyn met die Christelike tradisie is die “goeie” dief altyd aan Jesus se regterhand geteken. In die antieke tyd was die linkerkant immers steeds die “verkeerde”, ongelukkig en donker kant. Op hierdie skildery is Jesus se kop daarom effens na regs gedraai. Dit is ‘n intense gebaar: die lyding is so intens dat Jesus dit net-net regkry.

Maar onmiskenbaar kyk Jesus die rower in die oë. Daar is nie ‘n teken van ‘n glimlag op Jesus se gesig nie. Hier is net ‘n kruis-verhaal. Maar Jesus sien hom raak. En, al met die horisontale balk van die kruis loop daar ‘n heldergeel lig wat hierdie twee stukkende mense op ‘n mistieke manier met mekaar verenig.  Lig, lig, is die aanraking van daardie blik van die Sterwende. En in daardie lig herken die goeie rower die ontsagwekkende teenwoordigheid van God.

Selfs, dalk veral, in tye van ‘n kruis, in die oomblikke van angs, in ‘n uitmergelende lydensweg is daar die evangelie, die stil, breekbare momente van lig wat die donker weghou en die sterwendes in ‘n opstanding na God toe bring. Net daardie een oomblik in die verhaal van ons lewe syfer die lig deur: waar ons God herken, in vrees, maar ook in hartstogtelike verlange.

In die oomblik sien ‘n mens goedheid – sien ‘n mens die Een wat homself gee, die Een wat oorvloediglik gee, selfs vir hulle wat nie veel het om op trots te wees nie.

Op Goeie Vrydag, in die teenwoordigheid van die sterwende Christus, staan ‘n mens, verstelpt voor die ellendige lyding oor die ontsagwekkende nabyheid van God. Niks is groter as hierdie nabyheid, hierdie onskuld, die stil, sagte lig van ‘n oog, van ‘n liefdesblik, wat, terwyl dit breek, nog liefdevol kan kyk, kan uitnooi en kan bemin.  Ontsagwekkend.

Thursday, March 21, 2013

Kleintyd al word jy vir die lewe ingedril... Oor volwassenheid en integriteit


Hy is fisiek ‘n groot ou. So groot dat hy sy stoel voor die kamera in die televisie-ateljee vol sit en die joernalis oorkant hom na ‘n dwergie laat lyk.

Hy was kaptein van een van die bekende rugby-spelende lande. Daarom ook by reputasie ‘n groot man. Oor die wêreld het mense hom geken.

Hy was by sommige opsienbarende insidente betrokke wat hom nog meer in die openbare oog laat uitstaan het. Dapper het hy besluite geneem wat hom hoogs ongewild gemaak het, maar wat hy gedink het reg is. 

Op die veld het mense wat hom voorheen as held besing het, hom uitgejou en verneder. Maar hy het sy man gestaan, by sy besluite gebly en vasgebyt. Later, sê hy vir die joernalis, het hy, al was hy innerlik angstig, besef dat sy besluite ter wille van ander se beswil ook was.

Wat hy gedoen het, verduidelik hy verder, was om gedurigdeur ingestel te wees om goeie verhoudinge met ander mense te onderhou. Dit het beteken dat hy nie net sy eie belang moes soek nie, maar ook die belang van mense om hom. Vir hom was die belangrikste dat ander mense hom moes verstaan. Eers dan sou hy met sy lewe kon aangaan.

Die groot man in die stoel, die ou van wêreldroem, vir wie die Ander eerste kom. Party mense sal praat van ‘n klein hartjie.

Die gesprek loop verder: Op die ouderdom van 36 jaar moet hy rugby groet. Hy tree uit.

Die joernalis vra hom: hoe het jy gevoel toe die gordyn geval het en die ligte afgeskakel is – toe al die dae van roem en eer verby is?

Ja, antwoord die gewese rugby-kaptein, dis nou nie dat hy met ‘n skok daardeur oorval is nie. Hy het eintlik die dag geantisipeer. Al sy vriende het na hulle uittrede uit sport, al hulle loopbane en gesinne aan die gang gehad, het hy opgelet. Hy, daarenteen, was nie so ver gevorder nie. Hy gaan ‘n onbekende niks-heid binne.

Vir hulle was daar met hulle uittrede en toe hulle op sy ouderdom was, reeds ‘n nuwe lewe aan die ontplooi. Hy, daarenteen, het geweet daardie dag van geen-kalklig kom en dat hy dan in ‘n groot leegheid instap.

Nou hoe hanteer ‘n mens so ‘n situasie? Met self-vertroue, maar sonder kordaat, vertel hy hoe hy vir homself gesê het dat ‘n mens die dag kan vrees dat jy uit die kalklig tree en dit kan jou verlamd laat.

Maar ‘n mens kan ook ‘n ander houding hê: jy kan dat die vrees jou tot opwinding aanspoor. En dit was die instelling waarmee hy die nuwe fase in sy lewe benader het. Opgewonde oor wat wag, aan die uitkyk vir geleenthede, want daarmee sou hy ‘n nuwe lewe bou.

Ek kyk na sy rustige, volwasse houding. Hy sit met sy groot hande ontspanne inmekaar gevou, asof hy met innerlike vrede sy lewenspad loop: dikwels het hy met die groot rugbybal in net een hand die veld-in gebeur om die game te speel. Teen die tawwe spel in, het hy kopgehou, volgens die reëls gespeel en wedstryde gewen.

Nou sit hy voor die kamera, rustig en ontspanne. Hy is in 'n nuwe fase van die lewensspel.

Kyk, vertel hy, ander mense in sy posisie, het agtergeraak, depressies beleef en uiteindelik die handdoek ingegooi. So erg kan dit word.

Maar so wil hy nie raak nie.

Later lees ek meer oor sy lewe: sy ouers het hulle streng groot gemaak. Hulle het nooit veel geld gehad nie. Eerlikheid, openheid en opregtheid was die groot deugde wat by hulle ingedril is. In hulle huis was daar een goue reël en almal moes daarby hou: as jy iets wil hê, vra jy daarvoor. Jy doen dinge eerlik, oop en sonder om draaie te loop.

Reeds van kleins af dus, het hierdie man die reguit pad geloop van vra en goedkeuring. As jy die lewenspad loop, is dit nie anders as in jou huis wanneer jy iets wil hê nie. Jy gaan praat en vra. 

Op jou lewenspad moet jy ook ander in ag neem. As dinge ‘n ander koers inloop as wat jy voorsien het, moet jy gaan vra, gaan praat.

Diep ingebed in ‘n mens se onderbewussyn word die reëls van die lewensreis. Dit kom van kleintyd af daar lê.

Dink ons ooit daaraan? Dat die mees gewone dinge in die lewe ‘n simpele huisreël, die indril van eerlikheid en integriteit, baie later, iemand kan orent hou, moed kan gee en rustig kan maak wanneer die waters troebel en die onweer dreigend raak.

Elke dag, elke oomblik is iets van die toekoms in ons hande. 

Ondenkbaar: uit die kleine, die ongerekende, kom die sagte, stil hart en 'n rustige lewe.  Volwassenheid en integriteit is die vrug van die klein, kosbare dinge.

Wednesday, March 20, 2013

By die kruis: Die goddelike aanraking in die middel van die stadsrumoer






'n Gedenkplaat in Louisville (oorgeneem van Spiritual Travels). 


In die lydenstyd, by die bepeinsing van die kruis en die betekenis daarvan, loop ek vandag 'n vreemde beginpunt raak.

Ek sien onverwags 'n foto van 'n plek in Amerika waarvan ek nou al 'n paar jaar bewus was. Dit het te doen met 'n beroemde verhaal uit die lewe van Thomas Merton, een van die bekendste spiritualiteitskrywers van die vorige eeu en 'n bekende mistikus.

Merton se lewe het ‘n groot wending geneem na ‘n doodgewone gebeurtenis in die besigste deel van ‘n groot Amerikaanse stad.

Op 18 Maart 1958 was hy op straat, tussen mense, toe hy skielik oorval is deur ‘n uitsonderlike ervaring wat hy en vele mense as ‘n mistieke oomblik beskryf.

Die gevoel wat hom oorval het, beskryf hy as volg: 

“In Louisville, op die hoek van Vierde en Walnut-straat is ek skielik oorweldig deur die besef dat ek al die mense om my lief het, dat hulle myne is en ek hulle s’n, dat ons nie vreemd vir mekaar moet wees nie, al ken ons mekaar nie. ...”   

Hy het op daardie oomblik ‘n oorweldigende, spesiale gevoel vir die ander mense in die straat om hom heen. Dit laat hom selfs radeloos voel, want hy kan nie vir hulle almal naasteby vertel hoeveel hy vir hulle omgee nie. Daar is geen manier dat hy vir hulle kan vertel dat hy dink dat hulle vir hom is asof hulle soos die son skyn.

Merton se ervaring vertel iets belangriks van die mistiek in die algemeen: hy was al 17 jaar lank ‘n monnik wat in een van die strengste godsdienstige gemeenskappe in sy kerklike tradisie gaan woon het na hy hom weggekeer het van sy wilde, vernietigende lewe.

Met die mistieke openbaring het hy besef dat die geestelike lewe nie in afsondering van die wêreld bestaan nie. Daar is eerder ‘n interkonneksie van die mistikus met die hele wêreld en met ander mense.  Die geestelike wêreld loop nie weg uit die wêreld nie, maar deur die weg van die wêreld en gerig op die wêreld. 

Hy ontdek met ander woorde sy eie menslikheid, die menslikheid van ander om hom en die besonder band wat daar tussen alle mense bestaan.

Skeppingsvreugde, mistieke ekstase oor wat God aan mense gee en oor die beeld van God wat 'n mens in die wêreld kan ontdek. 

Wat so boeiend is, is dat daar vandag in die baie besige stadskern van Louisville ‘n monument is op die plek waar Merton sy ervaring gehad het. Mense onderneem pelgrimstogte na die plek. Hulle het gehoor van Merton se lewensveranderende oomblik, kom kyk waar dit gebeur het en praat op daardie besige, raserige straathoek oor die dinge van God. Hier, midde in die stadsrumoer, vier hulle die eenvoud, maar ook menslikheid as 'n goddelike gawe.

Eensklaps op 'n dag kom daar 'n dieper ervaring van die God wat altyd in 'n mens se lewe woon. Hierdie God bind jou aan ander, skep in jou, wondergawe, 'n  aangetrokkenheid tot mense om jou. Op 'n dag dryf iets (Iemand) jou om ander  te herken as mense wat jou menslikheid met jou deel. 

Jy word deel van die mensdom. 

Die vreugde, het 'n ander spiritualiteitskrywer, Nouwen, geskryf, wat dit by jou wakker maak is die vreugde om saam met ander te wees as ‘n vriend, ‘n metgesel, ‘n medereisiger. “Dit is die vreugde van Jesus, wat Immanuel is – God met ons”!

Wat het dit met die lydenstyd te doen?

Lang paaie kan 'n mens hier loop: oor die Jesus wat aan die kruis vir 'n mens onthul wat menslik is tussen die dierlike: by sy eie slagting, is hy die bidder (vergewe hulle), die gasheer (jy sal saam met my in die paradys wees), die dorstige met al die te menslike behoeftes (ek het dors), die angstige mistikus met sy gebed as mistieke antifrase (waarom het U?), die getroue (dit is volbring) en die vertrouende (In U hande). Elke keer weer reik hy uit, wys hy God se gesig in die rumoer van verwerping om hom. Maar hy is ook die een wat mense se verbintenis met mekaar onderstreep. Seun - daar is jou ma. Ma, daar is jou seun. Aangewese op mekaar, verbind in 'n intieme verhouding - dit is die wens en die woord van die kruiseling.

Tuesday, March 19, 2013

Picasso skilder die kruisiging





In 1930 skilder Picasso hierdie hoogs engimatiese (en klein) skildery van die kruisiging.

Die skildery is op die oog af eenvoudig: Met die eerste oogopslag sien ‘n mens ‘n doek vol helder en geel kleure wat byna skril in toon is en ‘n besige, vol, krioelende indruk skep.

In die middel van die skildery, omraam deur die vele kleure, is daar ‘n kruis geteken met prominente figure in die voorgrond.

Daar is geen twyfel dat daar ‘n kruis is met ‘n kleinerige figuur op in die middel nie. Die kruis staan sterk uit omdat dit net in swart en wit kleure geteken is.

As ‘n mens mooi kyk, herken ‘n mens ander motiewe in die Bybelse kruisigingsverhaal: daar is ‘n leer teen die kruis, geteken in helderrooi, waarop die Romeinse soldaat staan en met spykers vir Jesus kruisig. Aan die linkerkant is ‘n figuur op ‘n perd – ook ‘n soldaat wat Christus in sy sy met ‘n spies deurboor. Voor, in die middel, werp twee soldate op ‘n drom die lot oor Christus se kleed wat die soldaat aan die linkerkant onder sy arm vashou. As ‘n mens baie mooi kyk, sien ‘n mens heel links en heel regs twee piepklein t-vormige, leë kruise van die twee rowers. Die twee rowers se opgefrommelde liggame lê links as ‘n klomp los ledemate voor op die grond (Joh.19:28031).

Aan weerskante van die kruis sien ‘n mens die maan en die son, weggesteek. Die son, aan die regterkant, beweeg reeds in die donker, die blou in, soos dit verduister word.

Picasso wil ‘n geestelike boodskap uitdra, eerder as ‘n toneel van die kruisiging weergee. Maar sy siening van die kruisiging het nie ‘n godsdienstige, Christelike karakter nie.

Die boodskap word visueel uitgewerk: Sy pynlik misvormde figure en die hoogs intense kleure waarin hulle geverf word, is terselfdertyd sy totale verwringing van die werklikheid. Daar is iets gewelddadigs aan hulle voorkoms. Hy teken die toneel heel anders as hoe ‘n mens dit normaalweg sou waarneem. Hierdie wêreld is deurtrek met misvormdheid. Trouens, wanneer ‘n mens die toneel nader bekyk, sien ‘n mens meer van die verwringing raak: Voor die kruis staan naamlik Maria, vol angs en smart oor die toneel wat voor haar afspeel.

Picasso wil deur die verwringing en die misvormdheid  ‘n wêreld vol lyding en pyn uitbeeld.

Hy neem daarmee die kruis van die Christendom oor en spel die sentrale boodskap daarvan uit. Maar terselfdertyd dekonstrueer hy dit: die figuur van die bul uit die kultuur van bulgevegte staan lewensgroot aan die linkerkant as ‘n teenpool van die Christus-figuur. En aan die regterkant van die kruis is daar ‘n grinnekende kakebeen.

By Picasso is die kruisigingstoneel nie eintlik ‘n godsdienstige tema nie. Hy sien hierdie lyding as ‘n menslike kondisie. Die dood en die angs wat dit oproep, is die tema wat deur hierdie teks loop.

Tog is dit nie ‘n fatalistiese toneel nie. Picasso skilder die doek om te wys dat ‘n mens deur kuns in die dood lewe kan skep: deur die skildery te teken, besweer hy die dood. Terwyl die skildery uitdrukking gee aan sy afgryse en skok oor die omvang van lyding, doen dit ook meer. Hy skep deur die skildery ‘n indrukwekkende, samehangende stuk skoonheid: ryk aan motiewe, aan intertekstualiteit, aan boeiende paradoksaliteit van kleure en aan enigmatiese figure. Die kyker staan voor die skildery, verstom oor hoe ‘n mens angs en lyding kan besweer deur skoonheid.

Soos iemand egter skryf: ‘n Mens is beïndruk deur die skildery, maar ‘n mens sal nie daarmee saam wil leef nie.

Ek is verwonderd by my nalees oor die skildery, dat iemand skryf oor die feit dat Picasso die skildery nooit verkoop het nie maar altyd in sy ateljee gehou het.

Kennelik was hierdie skildery vir hom waardevol.

Ek wil oor die kruisiging op dieselfde manier, maar tog ook drasties anders as Picasso dink. In die Christendom is lyding ook angwekkend en sinloos. Die kruheid en hardheid van pyn word in Bybelse tekste nooit gesublimeer of onderspeel nie. Die dood van Christus aan die kruis is ‘n daad van geweld en ‘n teken van die mens se angstige verwerping van die goeie. Naas die kruis is daar, inderdaad die grynsende kakebeen en die aantreklike, sterk bul van die kits-kultuur van ons tyd.

Picasso se meesterskap se meesterskap en die skoonheid van sy kuns dwing 'n mens se bewondering af.

Aangrypender egter, is dat daar in die Christendom ook ‘n diepte-struktuur is wat die dood wil besweer, soos wat Picasso dit in sy skildery wil doen. Dit vind 'n mens ook in Bybelse tekste, want, naas die kruisiging, gejukstaponeerd, sal ‘n mens die paradoks van die opstanding plaas. Die dood spreek nie die laaste woord nie. In die opstanding, die nuwe lewe, sien ‘n mens totale skoonheid. Dit is die skoonheid van die nuwe skepping, van 'n nuwe begin, van lewe. 

Daar is nie 'n brawe, sterk, aandagtrekkende bul wat met die figuur van Christus kompeteer nie. 

Heel eenvoudig, maar so sterk, is daar net 'n Lam wat Homself gee as 'n liefdesgebaar.

Monday, March 18, 2013

Voluit leef. Om nie die gawe van die lewe te mors nie.


Die vele mense wat fortuinsoekers opsoek en wat rubrieke soos "Die sterre voorspel" lees, is nie almal besig met onskuldige pret nie.

Sommige is ernstig om geheime uit hulle toekoms te ontdek. 

Asof dit moontlik is!

Oor een ding is 'n mens seker: niemand weet iets sekers omtrent die toekoms nie. 

Maar dit is ook weer nie heeltemal waar nie. Daar is ritme en patrone in ons lewens wat ons in ons toekoms besig hou. Ons weet maar te goed hoe ons die volgende paar dae gaan besig bly: hier sal wasgoed gedoen word, daar sal vir 'n toets geleer word, nog een sal in die werk wees. 

Behalwe hiervoor en die sekerheid hiervan, is daar niks wat 'n mens oor die geheime of onsekerhede van die toekoms kan weet of doen nie. 

Wat om te doen in die lig van 'n verborge toekoms?  

Die antwoord is heel konkreet: 'n Mens se energie moet op die hede toegespits wees. Wat saak maak is of 'n mens voluit en met vervulling leef. Dit is al 'n manier om die toekoms in te gaan.

Wanneer 'n mens so voluit leef en met vreugde die uur en dag van nou beleef, is 'n mens reeds met jou geestelike reis in die toekoms besig. Wat tel is om nou die pad te stap, om in die oomblik van die hier en die nou te vorder.    

Dit is lewenswysheid: om te wandel in die lig wat reeds op ons pad skyn sonder om heel futiel te probeer ontsyfer wat verder in die pad op ons wag.

Die lewe is heeltemal te kosbaar, en ook te spesiaal, om dit op leë bespiegelinge te mors.  

Sunday, March 17, 2013

Die kerk praat in raaisels...

Euronews (kanaal 414) is ‘n interessante kanaal. ‘n Mens sien daarop nuusitems wat nooit op ander kanale uitgesaai word nie. Boeiende berigte uit al die lande in Europa kom aan die buurt. Daar is boonop nie advertensies nie.

As ‘n mens ingelig wil wees oor wat in Europa aangaan, is dit die kanaal om te kyk.

Die kanaal bedien alle nasies en volke en is, dit is duidelik, sekulêr in sy uitkyk en benadering.

Tog het hulle veel aandag aan die verkiesing van die pous gegee. Wat my opgeval het, was die skalkse, half draakstekerige kommentaar van die omroepers. Hulle het op allerhande fyn maniertjies so af en toe laat deurskemer wat hulle van die skouspel eintlik dink. Nogtans het hulle dit ingeligd en goed gedoen.

Die dinge het hulle egter ingehaal toe hulle die dag na die verkiesing die pous se eerste mis uitgesaai het.

Terwyl die ander kanale net uittreksels gegee het, het hulle nogal die grootste deel van die mis bly uitsaai. En ook probeer om die pous se Taljaans te vertaal.

Dit is nou hier waar die fan geslaan is.

Want terwyl die pous praat het die omroeper, wat probeer vertaal het, lang tye stilgebly, of hy het vinnig ‘n paar sinne in Engels kwytgeraak om dan, duidelik radeloos, lank stil te bly.

Hy kon nie uitmaak wat die pous eintlik sê nie.

Radeloos, na ‘n paar probeerslae, raak hy aan die verduidelik: die pous, vertel hy, byna patroniserend, is besig om ‘n godsdientige toespraak te lewer. Hy doen dit in tipiese kerklike taal wat eie is aan veral die Rooms-Katolieke tradisie. Vir buitestaanders sal die toespraak nie altyd duidelik wees nie, want die taal van die pous is gerig op die kardinale en geestelikes by die mis.

Dit is die strekking van sy opmerkings.

Hy verstaan doodgewoon nie wat die pous vertel nie. Hoe eenvoudig die pous ookal praat oor die toewyding waarmee ‘n mens die weg agter Christus en sy kruis moet loop. Die kerk-taal is bo die omroeper se begrip.

Ek besef skielik wat hier gebeur: die kerklike taal met al sy vertroude simbole vir die binnestaanders beteken vir die volledig gesekulariseerde mens min, indien nie niks nie.

Dink ‘n mens ooit daaraan dat selfs die beeld van die kruis vir ‘n moderne mens niks sê nie?

Of ook: selfs die metafoor van die geestelike weg of die beeld van “Christus navolg.”

Dit kommunikeer nie.

En dit terwyl ek vanaand luister na van die mooiste Nederlandse geestelike liedere, ryk aan sy beelde, metafore, sy meesleurende melodieë, met pragtige orrelklanke gesing met oorgawe deur ‘n kerk vol mense. Dit is ontroerende oomblikke, vind ek, elke week weer as ek  na die program luister.

Ek wonder vir hoeveel mense dit ontroerende is?

En dan: hoe kan ‘n mens in ons tyd hierdie kerktaal en –sang vertaal sodat mense daarmee kan resoneer?

Of selfs: hoe kry 'n mens begrip vir die binnestaander-karakter van jou eie kerklike taal?


Blog Archive