Showing posts with label Aanbidding.. Show all posts
Showing posts with label Aanbidding.. Show all posts

Tuesday, December 28, 2010

Kerstyd as ‘n tyd van verwondering. Oor aanbidding.



Matteus 2:2 maak ‘n merkwaardige opmerking oor die magiërs uit die Ooste wat in Jerusalem aankom en sê dat hulle die koning van die Jode soek en gekom het om hom “hulde te bring.”So lui die Afrikaanse vertalings.

Die vertaling kan misverstaan word – so asof die magiërs maar net spesiale eer wou bewys.

 Eintlik staan daar dat hulle self sê dat hulle gekom het om hom te “aanbid.” Dit is ‘n baie sterk woord. Sterker as om net hulde te bring.

Dat Matteus duidelik wil sê dat hulle gekom het om hom te aanbid, blyk uit vers 11 waar hy dit nog sterker stel:  toe die magiërs by Jesus kom, het hulle op hul knieë geval en hom aanbid. 

Om op ‘n mens se knieë te val, is in Bybelse tye reeds ‘n simboliese aanduiding van aanbidding. Die engel in Openbaring sê vir Johannes, wat by sy voete kniel, om hom nie te aanbid nie. Hy is maar ook ‘n dienskneg van God (Open.22:8).

Vir Matteus het die verhaal van die magiërs te doen met nie-Jode, mense uit ‘n ver land, mense wat verborge dinge begryp, mense wat die goddelike kan herken. Hulle weet selfs wat mense in Jerusalem nie weet nie – van die geboorte van die Koning. En hulle kom van die begin af met net een doel voor oë: om God te aanbid vir wat hier gebeur. 

Ons trek dikwels die verhaal skeef deurdat al die aandag val op die presente wat hulle bring (goud, wierook en mirre). Die presente is bysaak. Wat vir die magiërs tel, is die aanbidding. Lank voordat hulle hul skate oopmaak, om ook iets te gee, aanbid hulle die kind wat as Koningsgeskenk aan God se nuwe volk gegee is.

So pas dit: geskenke van mense is hoogstens ‘n reaksie. Dit volg op wat God uitdeel.

Die verhaal van die magiërs is ‘n verhaal van aanbidding. Ver reis mense vir die voorreg om God aan te roep en met verwondering in God se teenwoordigheid te staan te kom.

Vir Matteus het hierdie magiërs vroeg-vroeg reeds gedoen wat geen Jood nog gedoen het nie. En daarmee het Matteus gewys hoedat die aanbidding van God oor alle grense sny. Maar ook wys hy hoedat die evangelie uiteindelik mense op hul knieë bring.

Die kersverhaal is ‘n verhaal van verwondering, ontsag, verering, aanbidding. Waar God mense aanraak, selfs deur ‘n ster, daar buig hulle die knie.  

Die geestelike reis begin by God, wat mense aanraak, selfs deur 'n ster. Maar dit eindig en vind ook sy hoogste vervulling in God. 

Monday, August 30, 2010

Hoe meer ons aanbid, hoe meer wil ons aanbid... Liturgiese gebed (2).

Die begin, Here, van alles wat ons wil dink en doen, wéét ons,
is om op te kyk,
weg van onsself, na U,
is om U raak te sien.


In U, die Alfa en Omega, die begin van alle dinge, die einde van alles,
verstil ons hartsverlange,
word ons innerlik vervul
en ervaar ons waarheen U met ons op pad is.


Ons wil U aanbid, vir U vereer,
ons wil met alles wat ons het op U fokus.


Ons kyk om ons, sien suiwer skoonheid by ons;
ons merk U op,
U verborge teenwoordigheid in die skepping.
Ons sien U kunstenaarshand in die plek waar ons bly, in die wydtes van U natuur.
Elke keer weer is dit vir ons eindeloos mooi,
geskep deur U, die Oneindige.
Altyd weer, Skepper, is U vir ons die Een wat alles gevorm het
en voel ons ons omring deur U, die Een wat volmaak mooi is.
Ons roep biddend uit van blydskap omdat ons só konkreet, so direk, so skoon
die Oneindige se oneindigheid kan ervaar,
omdat ons kan weet wat ons sien, is van U, is U.


Ook op ander maniere het ons U ontmoet,
raak U ons aan sodat ons harte ons aanspoor om U te besing, U lof te verkondig.
Ons het in U heilige boek die getuienis gelees, gehoor uit verre tye, lank terug en oor die eeue heen,
hoe getrou U gebly het aan dít wat U begin doen het in U skepping,
hoe U trou bly wys het aan hulle wat U op U wêreld laat woon.
Mense wat U van naby geken het, het met oorgawe oor U geskryf –
hoe goed U altyd vir hulle was.
Hulle het gesing oor U genade.
Hulle het verhale vertel van U volmaakte vriendelikheid,
hoe U hulle bevry het, die nuwe land vol rykdom gegee het.
U was vir die geslagte in die ou tyd die Verlosser, die Vriend.
Ook hulle boeke, hulle getuienis roer ons al en bring ons tot aanbidding.


Toe mense van alle tye ook donker paaie moes loop,
wanneer hulle alleen was,
in tye van verdrukking, in die somber tye van verlies,
was U ook vir hulle daar,
het hulle agter U ligkolom geloop
en in U voetspoor getrap.
U was vir ons voorouers ‘n goeie herder,
die Een wat hulle selfs in hul donker nag wou bly aanbid.


Ook in die blye oomblikke, in tye van vreugde, wanneer mense vir U feesgevier het,
het hulle U teenwoordigheid herken en erken.
By die geboorte van ‘n kind is U naam aangeroep, is offers van dank aan U geskenk, is die teken van die verbond oor hul jong lewens uitgekerf.
By die bind van die liefdesband, elke keer weer wanneer twee mense hul lewens vir mekaar gee, is diepe dank aan U gebring.
By die inbring van die oes, het U ook ‘n deel ontvang.
En altyd weer, selfs in die geringste gawes, is ‘n tiende aan U teruggeggee.


Só het U gedeel in die beste en mooiste van oomblikke van hulle wat die geestelike reis afgelê het,
só is U bly aanbid deur hulle wat U in hul bly tye herken het.


As ons dít alles bedink, hierdie skeppingskrag, U verlossersliefde, U hoedende ontferming, U wat saam met ons die mooiste dinge beleef,
dan wil ons U loof en prys.
Dan kyk ons op, verwonderd, in verering,
dat U wat alles begin het en alles in U hand hou,
dat U ons aanraak en ons U eie maak.
En ons kan nie ophou om U te prys nie.


Hoe skoon is U, God van goedheid, hoe oneindig skoon.
U is mooi, soos geen bruid ooit kan wees nie.


Ons kry nie woorde nie, ons taal is flou, ons gepraat so vaal as ons U naam wil besing.
Hoe vereer ons U? Hoe kan ons ooit die lof uitsing wat U verdien?
Ons besef, lank nadat ons woorde opgedroog het, ons taal verstil het, ons nog
gaan soek na maniere om U te prys, dat ons alleen maar stamelend kan prys, flou-weg kan loof.


Maar selfs al stamel ons, al soek ons na woorde, verlang ons om méér te kan sê,
is dit goed om U te aanbid, is ons pryslied gelaai met vreugde.


En wanneer ons U loof, hoe voorlopig en hoe onvoldoende ook al,
bring ons lof groter lof.
Want as ons U prys, ontdek ons in ons pryswoorde verdere skoonheid, ontdek ons verwonderd U grotere teenwoordigheid.
Want, Here, selfs die woorde wat ons vind om U te aanbid, is woorde wat U ons skenk.
Selfs die dank wat ons aan U bring, is dank wat ons van U ontvang.
Ons kyk op na U, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons laat opkyk.
Ons sing u lof, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons tong in beweging bring.
Verborge, so diep verborge is dit dat ons, die biddeloses, tog deur genade kan bid en aanbid.


Ons wéét, dit is U Gees wat die onuitspreeklike versugtinge in ons plant.
Dit is goed om by U te wees, om in aanbidding by U te kan woon.
Om te weet: hoe meer ons U aanbid, hoe meer verlang ons om U te aanbid.


Here, U is die Alfa en die Omega.
Deur U kom ons tot aanbidding


Tot U sal ons aanbidding wees, van nou af tot in alle ewigheid.


.

Blog Archive