Showing posts with label Advent.. Show all posts
Showing posts with label Advent.. Show all posts

Saturday, December 21, 2013

Die smagtende hart. Oor God en mens se koms.


Die lees van die Bybel is die begin van die pelgrim se geestelike reis in God se teenwoordigheid.

Wanneer 'n mens bewus daarvan word dat die Woord meer as net woorde is, gebeur iets besonders:

Die Woord word God se self-bekendstelling aan mense. God self is aan die praat en God onthul aan mense wie God is.

Dan beleef die gelowige die stem van God en hoor God as die Beminde wat tot die mens spreek. Dan ervaar mense vir God as die Een wat in die spreke die mens aanraak en omvorm.

Mensewoorde word God se liefdeswoorde wat in 'n mens se innerlike beleef word. 'n Boek word Lewend en word as lewe-gewend ervaar. Die boek word 'n liefdesgebaar, 'n liefdesverklaring wat tot in die hart en binnekant van die mens deurdring.

Die aanraking beteken dat die mens nie maar net nog 'n keer onder die indruk luister na wat "geskryf" is nie. Eerder bring die omgang met die bybel 'n mens in 'n ruimte in waarin God 'n mens aanraak en die mens, in reaksie, deur daardie aanraking geroer en omvorm word. God spreek as Beminde en die mens antwoord met liefdeswoorde.

Op die manier ontstaan 'n liefdesverhouding: God spreek en die mens antwoord in liefde. Dan lees 'n mens nie net 'n teks nie, of 'n mens luister nie net na 'n stem nie, maar dan hoor 'n mens woorde wat aanspreek en voel 'n mens innnerlik, in die hart, die waarheid van die teks. Dit roer 'n mens tot 'n reaksie. God spreek en die mens is haastig om te antwoord. Dit word 'n twee-gesprek, 'n dialoog. U/my, ek/U.

In adventstyd vind hierdie dinamiese gebeure by uitstek plaas. Dit is inderdaad "advents"tyd:  die koms van God in die lewe van 'n mens. Maria wat al die dinge in haar hart bewaar en bedink. Die lofliedere en bewondering van engele, skaapwagters en ander persone as liefdesreaksie op God se nabyheid. 

Hulle het almal in die gewone dinge soos die swangerskap en die geboorte, die verborge werking van God ervaar. En vir hulle was die gebeure en verhale tekens van die koms van God se vredestyd wat aangebreek het. Só het hulle dit beleef: te midde van al die geraas, die gepraat, die groot teologieë, die getroue wetsgehoorsaamheid, was daar iets groters en diepers te vind. Dit was die wete dat God in die stilte van die kerstyd nader aan die mensdom kom as ooit te vore. Al die kersverhale wou vertel dat God innerlike vrede bring wat mense se lippe in beroering bring - ywerig om van vrede te sing. Die paradys wat terugkeer. Die getroue God wat opnuut weer uitreik. 

En die adventstyd word meer as net God se koms. Dit word ook die mens se koms tot God. Daarom die ver reis uit verre lande na die Wysheid, die nagtelike tog uit die vlaktes na die krip in Bethelehem. As God kom, wil mense by God wees. 

Die aangeraakte, geroerde hart smag na die God was so liefdevol uitreik.

Monday, December 05, 2011

Die gewoonheid en alledaagsheid van Advent




Rembrandt se portrette van die Heilige Familie trek nie altyd baie aandag nie. Vir sommige is dit bietjie alledaags, sonder die opwinding van groot drama.
Die skildery teken die familie kort na die geboorte. Na al die opwinding van die herders en die wyse manne en die besoeke van vernames, is die toneel stil en eenvoudig. 

Die omgewing waarin die familie geskilder word, is ‘n tipiese sewentiende Hollandse huis. Rembrandt maak niks dramaties van die geboorte nie. Hy wil die "heilige" familie uitbeeld in terme van die gewone huislewe van sy tyd. So lees hy die Bybelse verhaal van advent. Dit is 'n familie-tyd.

Iets is wel bietjie spesiaal aan die skildery deur die vet engeltjies wat in die linkerhoek aan die bokant geskilder is. Maar die engele oorheers nie. Trouens, die res van die skildery is op die oog af heel doodgewoon. Iewers op die agtergrond is Josef aan die skaaf. Hy maak ‘n juk. Maria en Josef gaan voort met hulle lewe, in skynbare argeloosheid of onbewustheid van die teenwoordigheid van die engele.

Op die voorgrond is Maria. Sy hou ‘n boek in haar linkerhand vas. Rustig lees sy terwyl die baba langs haar in sy bedjie lê. Die lewe gaan voort. Die engele en die Messias-baba is deel van die gang van die gewone lewe. Moeder kry kans om haar tydjie by die boeke deur te bring. Vader, die skrynwerker, doen ook wat sy hand vind om te doen. Die Messias is by hulle in die die alledaagsheid van hulle bestaan.

Lekker gereformeerd: om doodgewoon elke dag te leef tot eer van God. ‘n Mens doen wat jou hand vind om te doen, met God wat by jou inwoon.

Maar dan begin ‘n mens se oog ‘n paar opmerklike dinge raaksien. Rembrandt is beroemd vir sy ligspel. Donker ruimtes word gebruik om die helder, sterk lig te aksentueer. Die lig val op Maria se gesig. Sy kyk beskermend, liefdevol en teer na die kindjie. Die lig val ook op haar boek. Sy sit en lees, maar nie so verdiep dat sy van die baba vergeet nie. Met warm aandag lig sy die kombersie oor die slapende gesig op om na hom te kyk.

Adventstyd is die tyd van die Liefde, wat so konkreet, so direk en so eenvoudig helder gewys en geleef word.  

‘n Moeder wat soos alle moeders van alle tye vir haar kind omgee en ingestel is op sy veiligheid en rustigheid.

Heel opmerklik is verder die helder rooi kombersie wat oor die baba getrek is. Die baba slaap warm, versorgd deur sy ma, met sy pa in die agtergrond. Rembrandt maak seker dat sy kykers weet: hierdie baba is baie goed versorg en warm in sy bedjie ingewoel.

So heel gewoon gaan dit. Die adventstyd is heel normaal. Die verhaal van ‘n geboorte, van blydskap oor gesinsvreugde, oor vrede van saam-wees. Die tyd van rustig boeke lees, van by die see weees, saam met die gesin, sommer net tuis in die huis.

Maar daar is tog twee verdere dinge wat in die skildery gesuggereer word. Die eerste is die donker kant: dom sou ‘n mens wees om die ondertone van die skildery te misken. Die helder, dieprooi, warm kombersie is in die lig van die Messias-verhaal ‘n stukkie ironie. Die rooi is nie sonder dieper betekenis nie: spoedig sou die baba ‘n jong man wees. En aan ‘n bloedbevlekte kruis, verworpe deur sy geloofsgesin, met sy treurende moeder sommer daar naby, sou hy, nakend, in die diepste donkerte, sonder enige vertroostende lig, met geen engel in die omtrek, selfs sonder God, in ‘n onvredige worstelstryd die gees gee. Nou is dit advenstyd, die goeie tyd, van blydskap. Maar altyd, in die agtergrond, is daar die donker ondertoon van die donkerte wat nouliks deur die lig verdryf word. Adventstyd, het die spiritualiteitsdenkers beklemtoon, staan ook in die teken van die kruis.

Laastens, nietemin, is daar ook iets diepers aan die ma se liefdevolle toewending na haar kindjie. Sy tel die doek op, bedagsaam oor haar seuntjie se welsyn. Bo haar is daar die uitgestrekte hande van die engeltjies. Hulle, met uitgestrekte gebaar, wink bo-oor die duisternis vir die kindjie seënende toe. Hulle staan by die plek waar die lig in die gewone huisie instraal – van Bo.

Die lig wys op die Oorspong, die Bron, die Fontein waaruit die liefde kom.

Uiteindelik, verby die donker, sal die Liefde wat van hoog anderkant al ons menslike alledaagsheid kom, tog uiteindelik die sterkste wees en warm seëvier.  In die ma se gewone liefde en omgee, weerkaats die goddelike lig van omgee, die beskermende teenwoordigheid van die engele. Sy, ‘n ma vir die baba, is beeld van God, die Ouer van alle mense, die een wat seënend uitreik na die swakste, die kleinste, die baba.

Die gesig van die baba, stil in donkerte gehul, word omraam deur Lig. Veilig.

Heel gewoon is dit: deur biddend in die lig te bly, kom uiteindelik die Vredesparadys, gaan die graf oop en word die tuin weer teruggevind. Advent is daarom die tyd waarin ons herinner word dat die goddelike Vrede by ons kom inwoon.

Blog Archive