Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts
Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts

Thursday, January 26, 2012

Dankbaarheid en God se nabyheid





Gelowiges verlang vanuit die dieptes van hul innerlike om naby aan God te wees.  Mense het ‘n behoefte na intimiteit, om volledig een met God te kan wees. 

Dit is ‘n spesiale ideaal waarna ‘n mens verlang. 

Maar die behoefte na eenwording met God begin by ‘n heel eenvoudige punt. 

Dit begin byvoorbeeld deur die dankbare manier waarop ‘n mens die lewe bekyk. 

Soms kan die dankbaarheid oor heel normale, gewone en alledaagse dinge gaan:  Ek bly byvoorbeel geboeid deur die manier waarop Paulus in Handelinge 24:3 vir Felix vertel hoedat mense gevul is met “diepe dankbaarheid” oor die manier waarop hy geregeer het – oor die rus en vrede in sy tyd en oor die verbeteringe wat vir die volk onder hom gekom het. 

Dankbaarheid oor sulke eenvoudige dinge kan 'n mens se lewe omkeer.

‘n Mens hoef nie veel te besit of te presteer om die gevoel te kry dat ‘n mens se lewe geseënd is nie. 

Die insig het weer op sy beurt sekere gevolge: Iemand wat weet hoeveel seëninge kom onverdiend na sy of haar kant, is ‘n dankbare mens. 

Dit is dan uit dankbaarheid dat ‘n mens se hart uitreik na God. ‘n Dankbare mens, ongeag sy of haar omstandighede, is iemand wat reageer op God se liefde. 

Dankbaarheid is nie ‘n goedkoop gevoel nie: ‘n Mens kan te midde van seerkry en swaarkry tog nog dankbaar bly. Selfs – of juis in teenspoed kan mens nog dankbaar wees vir God se liefdevolle teenwoordigheid. 

‘n Dankbare mens soek daarom met verlange na eenwording met God. Daar is die behoefte by ‘n dankbare mens om te reageer op al die seëninge wat God oor ‘n mens se pad laat kom en wat ‘n mens se lewe vul. Die dankbare mense soek God op en woon in God se liefde. 

Terwyl ek my leeswerk hieroor doen, tref dit my dat ons desperaatheid oor ons onvervulde lewens, ironies genoeg, groei uit ons onvermoë om dankbaar te wees. 

Deur dankbaar te wees, gebeur daar iets verborge met die mens: in dankbaarheid teenoor God vir alle seëninge wat die mens ervaar, gee die mens te kenne dat hy of sy nie die middelpunt van sy of haar bestaan is nie. Dankbaarheid beteken om vry van jouself te wees. Dit beteken dat ‘n mens sy of haar bestemming alleen in God raaksien. En daarmee begin die proses van eenwording: want wat die mens in dankbaarheid beleef, soek hy of sy om in sy of haar lewe al hoe meer te soek. 

Wie dus naby aan God wil wees, geborge in die intimiteit van God se teenwoordigheid, moet begin om met ‘n dankbare hart te leef.

Tuesday, November 01, 2011

Dankbaarheid


Meister Eckhart het op sy manier besef hoe sentraal dankbaarheid in die geestelike lewe van ‘n pelgrim is. Hy skryf:

“As “dankie” die enigste gebed is wat jy ooit in jou lewe gebid het, sal dit genoeg wees.”
Maar in die sleur van ons daaglikse bestaan kry dankbaarheid nie ‘n prominente plek nie. Trouens, ons leef in ‘n omgewing van onvergenoegdheid.

In die lig van ons lewens vol surigheid en onbehae, staan ‘n mens verbaas oor Meister Eckhart se opmerking. Dit ken aan dankbaarheid ‘n baie spesiale plek in die geestelike reis toe. 

Sy opmerking bring ‘n mens tot stilstand en laat ‘n mens na binne kyk oor iets belangriks wat in ‘n mens se lewe ontbreek.

Dit is tog iets as een van die grootste mistici van alle tye soveel klem op dankbaarheid plaas.  En, intuitief, weet ‘n mens hy is reg: om dankbaar te wees is ‘n teken van innerlike vervulling. ‘n Dankbare mens is ‘n gelukkige mens.

Dankbaarheid is ‘n deug wat ‘n mens kan soek. Dit is iets waarvoor ‘n mens in jou innerlike 'n ruimte kan soek en inruim.

Hoe kweek ‘n mens ‘n gesindheid van dankbaarheid?

Ek lees iewers vandag ‘n blog van iemand wat skryf dat hy ‘n sekere tyd van die jaar daarvan ‘n punt maak om ‘n lys op te stel van alles wat hy ontvang het en wat hom dankbaar maak.

Dit het nou al by hom ‘n ritueel geword, skryf hy. En dit is vir hom opvallend hoe dit sy lewe beïnvloed. Dit is asof hy met meer fokus op God leef, want hy begryp al hoe meer hoe sy dankbaarheid bepaal word deur die goeie dinge wat aan hom geskenk word sonder dat hy regtig daarop aanspraak kan maak.

Tog wonder ek: is dankbaarheid iets wat ons ervaar bloot net as ons goeie dinge ontvang? ‘n Mens kan, soos iemand skryf, soms dankbaar wees selfs oor gebede wat God nie verhoor het nie. Of jy kan dankbaar wees vir dinge wat jou nie beskore was nie. Dikwels hoor ‘n mens van persone wat dankbaar is oor teenspoed van hulle beter mense gemaak het. Wat tel dus is ook dat ons dankbaarheid ervaar oor alle dinge wat ons kan beleef en ons lewens vol maak – goed en sleg.

Juis daarom dat ‘n mens ‘n ritueel kan soek om die gevoel van dankbaarheid in ‘n mens se lewe wakker te hou.

Eintlik dus: dankbaarheid soek ‘n mens ter wille van dankbaarheid. Daarom kom daar tye in ‘n mens se lewe dat ‘n mens doodeenvoudig daarop fokus om dankie te sê. Asof dit ‘n Jesus-gebed is – ‘n gebed waarin ‘n mens oor en oor die woord “dankie” herhaal.

Deur so ‘n ritueel van dankbetuiging kan ‘n mens se lewe getransformeer word. ‘n Mens se lewe lyk immers op jou gebede. 

Blog Archive