Thursday, August 17, 2006

Die babawaentjie in die groot sinagoge van Budapest op 9 Augustus in Budapest

Ons laaste dag in Budapest: Elsje vertel vir ons die vorige aand dat Ruth beindruk was met die groot sinagoge in die stad. Ek is verbaas, want dit is my tweede besoek - en ek weet van niks. Met nog 'n halwe dag voordat ons die middag moet vlieg, sit ons twee toe af. Ons skoene is seker halfpad dunner gestap nadat ons die vorige dag die stad platgeloop het - vanaf die stasie al langs die indrukwekkende parlement (met die skoene-monument op die rivierwal!), oor die Donau na Buda se kerk op die heuwel en weer al die pad terug. Die pad voor die stasie af loop reguit op die sinagoge af. Voor ons doem 'n katedraal-agtige gebou op, die tweede grootste sinagoge in die wereld. Ek is onkant gevang, my hele lewe lank ken ek sinagoges as klein, normale gboue. Daar is 'n woelige klomp mense voor die gebou en binne in wemel dit van mense. Voor my loer 'n ortodokse Jood, in swart jas, in in die sinagoge, maar gaan nie in nie. Later hoor ek dit is omdat daar 'n orrel in die gebou is. En omdat 'n orrel ongewens is, word 'n nie-Jood gekry om dit te bespeel!
Ruimtes wat aanspraak maak op sakraliteit appelleer meestal op hoogs verskillende maniere. Hierdie gebou kom rus op jou oog. Die heiligdom voor is in ryk, dieprooi kleure. Reusekandelare hang van die dak af. Heel voor is 'n besoekersboek, byna onopvallend. Die opmerkings is hartverskeurend. Dit is nageslagte uit Amerika en Wes-Europa wat hierdie plek, onder kommunisme tot 'n pakhuis gedegradeer en grootliks beskadig, kom opsoek en vertel van hulle oupa's en ouma's, ma's en pa's. Hongary het een van die grootste Joodse bevolkings gehad en hul traumatiese geskiedenis staan in bloed geskryf.
Langsaan is die museum. Dit is kleinerig. Daar is meestal religieuse voorwerpe in. Heel agter, in 'n donker saal, is daar 'n kleinerig kamer waarin foto's van die tweede wereldoorlog uitgestal is. Groot groepe wat weggevoer word. Drie mense wat deur 'n dokter ondersoek word voordat hulle gehang word. 'n Bekende leier minute voor hy gehang is. Twee mans in nagklere. 'n Groep vroue wat iewers wag. 'n Klomp mense op pad iewers heen, met een vrou wat 'n baba stootwaentjie vashou. 'n Massagraf vol lyke.
Dit is die uitdrukkings op hul gesigte wat in my lewe inkom en ingebrand word: waardigheid, met net hier en daar iemand wat die trane nie kan bedwing nie. Die emosies word in 'n sterk greep vasgehou. Nie 'n enkele glimlag nie. Die gesigte is rou onder die kommer. Vir ewig in hierdie foto's vasgele is die skande van Christelike Europa se slagting van mense wat hul geloofsgoed met hulle deel.
Ek het 'n paar keer in my lewe dieselfde gevoel gekry van intense skaamte, wilde woede, 'n hart wat wil breek onder die skuld: die eerste keer was toe ek op 'n koue wintersdag in Desember 1969 Dachau besoek het en, in 'n dieptepunt, foto's gesien het van die mediese eksperimente wat op gevangenes uitgevoer is en van lyke in die gaskamers. Ek het dikwels daarna daaraan gedink dat dit daardie oomblik was waar ek die ideologie van apartheid herken het en geweet het ek kan nie daaraan deel nie. Die tweede keer was toe ek in Grahamstad by 'n aanddiens moes luister na die "getuienis" van 'n vrou oor die "herlewing" in haar gemeente, terwyl dieselfde gemeente juis in daardie tyd die leraar in die bruin gemeente se salaris te stop omdat hy in hulle oe 'n "onrusstoker" was. Hy het onder andere die bestuurder van Volkskas aangepraat omdat hy aparte toonbanke by sy bank behou het. Die derde keer was in Amsterdam, by 'n uitstalling in die Joodse museum van briefies wat ouers aan hul kinders geskryf het terwyl hulle weggevoer is na die kampe: hou moed, een van die dae is ons terug, was die strekking van die meeste briewe. En twee jaar terug, toe ek Bonhoeffer se briewe uit die tronk gelees het, het dieselfde emosies my geslaan. Dit is sulke tye dat ek die teodisee vraag akuut beleef: hoe gebeur dit dat mense, gelowiges, Christene, in een van die mees ontwikkelde lande tot sulke wreedhede in staat is. En in my verstaan van Openbaring het dit al hoe sterker tot my deurgedring - die rede waarom hierdie boek in die eerste plek vyf van die sewe gemeentes oproep tot bekering - dringende bekering. Dit is 'n boek wat praat van kwaad in die kerk, van die verborge, verligte, aantreklike gesig wat die antichris vir homself opsit om mense te verlei tot 'n aaklige, vernielsugtige godsdiens.
Ek staan in die donker kamer met sy klein uitstalling en dra in my hart blokke van beton.
Op pad uit is daar nog die tuin van herinnering. In die middel staan 'n reuse-beeld van 'n boom met silwer takke en blare. En op elke blaartjie, staan 'n naam geskrywe van 'n slagoffer. 'n Mens sal dit nie sommer raaksien nie. En wie sal nou al die name ooit gaan lees? En tog is dit 'n manier om te onthou. Jou naam, baba in daardie babawaentjie, gestoot deur jou Joodse mams op pad na die konsentrasiekamp, jou naam staan ook op 'n blaartjie. Ek ken nie jou naam nie. En ek weet soms nie of die geskiedenis wat jou babakarretjie vir ons uitwys, ons meer toelaat om te troos dat God jou naam wel ken nie. Of dat jou naam op die palm van God se hand getatoeer is nie. Hoe sal ons dit weet teen hierdie dier van die afgrond se werke in? Maar jou naam staan ook op 'n blaartjie en al die blare saam vorm hier in Budapest 'n silwer wolk van herinnering.
In die sinagoge se besoekersboek is daar op een bladsy 'n paar opmerkings waarin Jode gevra word om hulle eie geskiedenis te onthou wanneer dit by die Palestyne kom. Ek lees dit terwyl die bomme in Libanon ontplof en opnuut weer die kleinste, die kwesbaarste, die verwondbaarste onder ons nie ontsien nie. Iewers in my hart kan ek saamstem daarmee. Ek sug om vrede in die sinagoge in Budapest.
En as ek soms twyfel of God hoor, of sien, of iets voel, dan herinner die dwaasheid van die kruis my van beter. Te midde van al ons geweld, is daar die sterker band, die groter krag van die Liefde.
Ek wil nie praat nie en loop van die boom met sy silwer naamplaatjies na die winkeltjie. Ek koop vir my 'n swart Joodse katotjie met 'n Dawidster vir my kop. As ek die tweede kleinkind doop, gaan ek die katotjie op my kop sit. As 'n simbool van my geloof in die Seun van Dawid en sy doringkroon. Sy bloed wat in die donker gevloei het, word vir my die teken dat God in liefde teenwoordig is te midde van die donkerste geweld. Die baba stootwaentjie op die foto in die sinagoge in Budapest is iewers 'n afbeelding van die Bethelehemse krib. Die kind, die Kind wat op pad is na die dood, maar wat uiteindelik voortleef vir ewig - en ingebrand word in ons kollektiewe geheue.

Blog Archive