Monday, May 31, 2010

Wanneer mense doodgeskiet word omdat hulle kos wil voorsien aan die noodlydendes....

Ek onthou hoe ek enkele jare terug in Barcelona in die hotel waar ek gebly het terwyl ek ‘n kongres bygewoon het, ‘n pasgetroude paartjie uit Israel ontmoet het.Ons het gou-gou aan die gesels geraak. Hulle was veral nuuskierig om te hoor hoe lyk dinge in Suid-Afrika en ek was nuuskierig om te hoor hoe gaan dit met hulle in Israel.

My nuuskierigheid oor Israel het nie net met die plek van Israel in die Bybel te doen nie. Ek het maar altyd deur die jare die storie daar met kommer bekyk. Dit het ‘n heel vreemde begin – hierdie belangstelling van my. Toe ek lank terug in Duitsland in Schwäbisch Halle taalstudie gedoen het, het ek onder andere ‘n Arabiese Christen daar ontmoet. Ons het ook lekker oor baie dinge gesels. Op ‘n stadium het hy vir my gesê dat hy nie kan verstaan dat Christene dwarsoor die wêreld so simpatiek teenoor Israel kan staan nie, terwyl Israel Arabiese Christene uit hul huise en van hul land verdryf nie. Dit is lank nie net Arabiere wat onder die Joodse aanslae ly nie.

Daar het ek vir die eerste keer kennis gemaak met die onnoembare leed wat in die Midde-Ooste vir Christene aangedoen word. Hulle is nie Moeslims nie en hulle is ook nie Jode nie. Maar hulle staan dikwels alleen wanneer hulle Israeliese diskriminasie moet verduur. En sedertdien het ek steeds weer belang gestel in die menslike verhaal agter die taai en titaanse politiekery in die Midde-Ooste.

Wat in die Midde-Ooste aangaan, is ‘n tragedie verby alle proporsies.

Dus, in Barcelona praat ek versigtig met die Israeliese paartjie. Ek vertel hulle van die jare van opstand in ons townships, van die grensoorlog, van bomme in ons stede, van internasionale boikotte en van ons land wat die muishond van die wêreld was. En toe vertel ek hulle van die merkwaardige ommekeer wat deur onderhandelinge gekom het: die manier waarop mense in ons land hul mag begin deel het met swart inwoners wat voorheen nie stemreg gehad het nie. Dit alles het deur taai onderhandelinge gekom. En alles is seker nie rooskleurig nie, maar ons is onnoembaar ver gevorder by die allerellendigste jare wat soveel mense se lewens vernietig het.

Daar is nie meer bomme in ons stede nie. En daar is nie meer skoolkinders wat massief uit skole wegbly nie. En daar is nie meer oorlog aan ons grense nie. En daar is nie meer internasionale boikotte nie. En ons speel in alle lande in die wêreld ons sportwedstryde. En ons kan oral ter wêreld reis. En ons het genoeg kos om te eet. En ons het nog goeie universiteite. En ons land se ekonomie gaan vooruit.

Natuurlik is daar slegte dinge. Baie sleg. Maar as ons dankbaar is, sal ons almal erken dat ons ligjare ver verwyderd is van daardie donker jare van lyding en onreg.

Dus, sê ek vir hulle: dit is tyd dat julle praat en praat en praat. Julle moet druk uitoefen dat daar onderhandel word. Julle moet weet dat ‘n militêre oplossing vir ‘n politieke probleem nooit werk nie. En julle moet ook iewers besef dat daar nie een groep is wat moet wen nie. Dit werk nooit en nêrens so nie.

Hulle kyk my onbegrypend aan. Ek onthou tot vandag toe nog die leë kyk in hulle oë.

Vandag is ‘n klomp mense op ‘n boot deur Israeliese doldate in internasionale waters doodgeskiet omdat hulle kos aan die Palestyne wou geneem het – aan mense wat honger ly as gevolg van die blokkades van hul land. Mense wat rys in hulle vragruimtes gehad het, is van kant gemaak.

Die volle verhaal moet nog vertel word. Op die BBC-webwerf is daar ‘n video wat die Israeliese vrygestel het wat wys dat hulle deur die mense op die boot met geweld aangeval is.

Ander berigte weer vertel dat die boot ‘n wit vlag gehys het en dat mense uitgeroep het die Israeliese moet hulle nie skiet nie.

En dit alles omdat mense kos na die Palestyne wou neem.

Dit is ‘n menslike ramp. Dit gaan die temperatuur net weer hemelhoog laat styg. Dit bring ons nader aan groter konfrontasie, aan intenser haat en by meer ellende en swaarkry.

En intussen gaan ons ongesteurd met ons lewens voort en kla ons oor alles terwyl groot groepe mense in Palestina in groot onrus, uiterste swaarkry en ernstige ontbering leef.

Wanneer sal daar vrede in die Midde-Ooste kom?

Dona nobis pacem – my gebed vir Israel, Palestina en die Arabiese wêreld vandag.

Sunday, May 30, 2010

Ekstase en mistiek.

Die laaste aspek wat ek wou uithou van die Ou-Testamentiese mistiek is boeiend, maar terselfdertyd ook moeilik. Mistiek word dikwels as iets wat net eienaardigs of vreemds is – wat dit sekerlik nie is nie. Dit gaan immers in die mistiek om een van die mees intieme aspekte van God se verhouding met die mens. Hierdie verhouding behels uiteindelik ‘n besonder noue eenheid tussen God en mens. Ons is, sê Openbaring, tog op weg na daardie punt waar God alles in almal sal wees, wanneer daar volmaakte eenheid tussen God en mens sal wees.

Dikwels word mistiek verwar dus met ekstase. Mense dink dan dat mistiek te doen het met die mens wat in ‘n trance ingaan, alle bewussyn van hul eie identiteit verloor en volkome in die goddelike verdwyn.

Die groot mistici het nie so arrogant gedink oor hul verhouding met God nie, al het hulle geskryf of gepraat oor ‘n hoogs intieme en besondere ervaring van God se nabyheid. En baie wat soms taal gepraat het wat na ontiese mistiek lyk, het terselfdertyd ook duidelik gemaak dat die mens nie God kan word nie. Selfs mistici soos Eckhart het duidelike grense tussen God en mens getrek.

Maar dit neem nie weg dat daar soms in die mistiek ekstatiese verskynsels voorkom nie. Trouens, dit is juis merkwaardig dat die Ou Testament ook van hierdie ekstatiese verskynsels praat – verskynsels wat ‘n mens herinner aan die pinkstergebeurtenise in Handelinge. Kyk maar na die volgende tekste:

1 Samuel 10:5-6: Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op ‘n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree. Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en ‘n ander mens word” ! (“in ‘n ander mens verander word” – OAT).

In 1 Sam 19:20 – 24 word vertel hoe die Gees van God drie keer oor die boodskappers van Saul kom wat hy stuur om Dawid in die woonkwartiere van die profete te vang en hoe hulle “profete word” en in ekstase verval. As Saul self gaan, oorval die Gees hom ook. Hy trek sy klere uit en word self profeet. “Daardie hele dag en nag het Saul sonder klere op die grond gelê, sodat die mense gevra het: ‘Is Saul ook onder die profete?’”

Duidelik was daar in Israel profete wat in groepe bymekaar was en wat ekstatiese ervaringe gehad het (vgl bv ook 2 Kon.3:15).

Maar dit is net die een kant van die prentjie. Die verhaal van 1 Konings 18 vertel dat ook 450 profete van Baäl vir ‘n hele dag tot hul god geroep het. Toe Elia hul spottend uitdaag om harder te roep, “kerf hulle hul stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hul loop” (vers 28). Noort skryf dat in hierdie geval die heidense profete deur ritmiese danse, geskree en self-verwonding in ekstase raak. Hieruit kan ‘n mens aflei dat ekstatiese ervaringe ook in godsdienste buite Israel voorgekom het – en dat profete van die Here hierdie soort van ekstase skerp veroordeel het.

Dit is dus nie verbasend dat daar mettertyd allerhande reserwe’s oor ekstase uitgespreek is nie. Hosea 9:7 veroordeel ‘n profeet as dwaas as hy ‘n ekstatiese gees het. Maar dit is veral in Deuteronomium 18 waar ekstase krities bekyk word. Ekstatiese aanvalle en trances is nie tipies van ‘n profeet nie. ‘n Profeet is volgens die gedeelte iemand wat die woord van die Here verkondig. En vir die egtheid van hierdie goddelike woord is daar ‘n toets: “as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie.”

Maar dan is daar tog weer ook die bekende Joël 2:29-32 wat ook in Handelinge 2 aangehaal word. Alle mense word uiteindelik profete. En op pinksterdag is hierdie skrifgedeelte aangehaal op die mistieke ekstase van die gelowiges te verduidelik. Daar is net geen manier waarop ‘n Bybelleser verby die ekstatiese karakter van sommige mistieke ervarings in die Bybel kan lees nie.

Hierdie komplekse prentjie illustreer hoe mense oor eeue heen oor ekstatiese verskynsels gevoel het. Net gisteraand sit ek en kyk na ‘n DSTV program oor TBN waarin ‘n predikant sonder veel sensasie vertel van ‘n buitengewone ervaring wat hy ‘n jaar of 15 gelede gehad het. Hulle wys toe ‘n video van ‘n groot skare van mense, ten minste ‘n paar honderd, wat vir tien minute lank as groep ‘n ekstatiese belewenis gehad het. Hulle het aanhoudend op een toonhoogte gesing. Die prediker noem dit iets soos “the song of angels” – en die gesing was inderdaad ingetoë, harmonieus en heel ordelik. Die predikant self het voor op die verhoog gestaan, maar sonder om enige fratsagtige of sensasionele dinge te doen.

Bybellesers hoef dit nie vreemd te vind nie. Paulus skryf in 1 Korintiërs 12:10 en 28-29 oor al die verskillende werking van die Gees: kennis, wysheid, profesie, onderskeiding van die geeste, tale en uitleg van tale. Duidelik ruim hy plek in vir ekstatiese verskynsels. Maar hy lig nie een uit bo die ander nie en hy is verder nogal streng oor hoe hulle onder gelowiges moet funksioneer. Al hierdie gawes is daar om ‘n gemeente op te bou. Hy onderstreep in hoofstuk 14:5 en 12 dat al hierdie dinge tot stigting van die gemeente moet plaasvind. As sulke gawes opbouend is, het hulle ‘n plek in gelowiges se lewe. Maar Paulus is ook duidelik, al is hy in eerbied voor die werking van die Gees, ‘n man van gesonder verstand. Hy vertel hoe hy self “meer in tale spreek as” al die Korintiërs. Maar hy wil “liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tienduisend woorde in ‘n taal” (vers 19). Alles moet uiteindelik welvoeglik en ordelik verloop (vers 40).

‘n Mens kry verskillende vorme van ekstase. Die Baäl-profete se ekstase is ‘n mooi voorbeeld van ekstreme ekstase. Indrukwekkend dreunsang hulle – sommer ure lank – en kerf hulle hulself stukkend. Maar terwyl baie sal saamstem dat die wilde ekstase onaanvaarbaar is, is daar ander vorme van problematiese ekstase wat dikwels ons aandag ontglip. ‘n Mens sou kon praat van die meer “ordentlike” vorme van ekstase. Mense beweer dan byvoorbeeld dat die Here op ‘n direkte, spesiale, bonatuurlike manier vir hulle “sê” om spesiale dinge te doen. En gewoonlik kan niemand hulle daaroor kritiseer nie omdat die kritiek dan as sondig, oneerbiedig of ‘n teken van swak geloof beskou word. Dit is asof hulle direk van die Here opdragte ontvang wat vir hulle ongewone, abnormale dinge laat doen.

Dit kan soms heel dapper klink. Soos ‘n studente-maat van my wat vir ons destyds geesdriftig en met harstogtelike oortuiging vertel het dat die Here vir haar “gesê” het sy hoef nie vir haar Rekenaarwetenskap eindeksamen te studeer nie. Hy sal sorg dat sy slaag.

Sy het natuurlik gedop. En omdat sy in daardie tye in ‘n klein, ywerige groepie betrokke was wat links en regs van die Here bevele ontvang het, het sy haar drie-jarige graad eers na ses jaar kon behaal.

Daar is gloeiende ekstase, wat, soos Paulus laat blyk, ‘n mens die rooi ligte laat sien. Daar is die minder gloeiende, maar nie minder onskuldige ekstases nie. Hulle rig baie vernieling aan – nie net in die lewe van mense wat sulke mistieke ervarings opeis nie, maar ook in die lewens van ander mense wat die slagoffers word van sulke visioene en openbarings wat sommiges op aanspraak maak.

Juis daarom moet hierdie spesiale ervaringe steeds weer deur ander gelowiges beoordeel en geweeg word. Paulus skryf in 1 Korintiërs 14:29: “laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.” Hierdie uitspraak word ondersteun deur sy herhaalde klem daarop dat alle besondere ervaringe steeds weer die opbou en stigting van gelowiges moet dien. Wat tel is of hierdie dinge liefde stig (1 Kor.13).

Baie dikwels sal die egte mistikus besef dat die ekstatiese ervaring iets is wat sy of haar verhouding met God raak en daarom net in sy of haar eie lewe ‘n rol speel. Pascal het nooit met iemand oor sy ekstatiese ervaring gepraat nie – dit is eers na sy dood ontdek toe iemand ‘n rolletjie met die beskrywing daarvan in sy jas gekry het. Kyk juis ook hoe teensinnig praat Paulus oor sy eie spesiale ekstatiese ervaringe in 1 Korintiërs 12. Hy wil skaars daaroor praat, veral omdat mens maklik sou kon dink dat hy hom wat verbeel daaroor en daarop roem (vers 1). Hy kan selfs oor sommige dinge wat hy ervaar het, nie praat nie (vers 4).

Daar is die oorbekende verhaal van die prediker wat sy preek nie voorberei het nie omdat, het hy gesê, die Gees vir hom sou intree. Toe hy die Sondag op die kansel klim, toe sê die Gees vir hom hy was lui gewees.

Daardie unieke ervaringe, die kosbare ekstatiese oomblikke wat mense soos Pascal belewe het moet nie verwar word en ook nie met agterdog bejeën word oor goedkoop aansprake van mistieke ervarings nie. Die egte mistieke ervaring is so kosbaar dat die groot mistici eerder daaroor geswyg het – juis soos Pascal ook. Niemand kan die werking van God se Gees stuit of stuur nie. Maar waar die Gees oor mense kom, ook op vreemde, unieke maniere sal dit steeds weer helend, opbouend en tot stigting van die liefde werk.

Terug by daardie DSTV-program oor die tien minute van verrukking wat ‘n hele gemeente oorval het: dit is vir my ‘n buitengewone vreemde ervaring om daarna te kyk. Maar, wat my ook opval ten spyte van al my vrae, was hoe die predikant telkens weer vertel het dat dit ‘n jaar of tien gelede gebeur het. ‘n Absolute unieke ervaring vir hom. En dit het nie weer daarna gebeur nie. Intussen gaan die geestelike reis van daardie gelowige voort. Hulle moet elke dag opnuut weer die pad met God loop. Daar wag op hulle gewone kantoorure, normale familie-twiste, harde eksamen-voorbereiding, inspannende sport-oefeninge en wedstryde en alles wat die lewe normaalweg van alle mense, ook gelowiges vra. Daardie kortstondige tien minute is verby. As die tien minute met sy “sang van engele” maar vir hulle en vir almal wat die program sien, oortuig van die taal van die liefde kan dit sekerlik as werk van die Gees gesien word. Want ‘n mens kan die tale van mense en engele praat en tog nie die liefde, God se taal, praat nie. Daarom is egte mistiek liefdesmistiek. Wanneer God ons aanraak, is dit ‘n aanraking tot tot heling, tot binding, tot fluksheid, tot toewyding, tot onderskeiding, tot ontferming – tot, ten diepste, die liefde.

Saturday, May 29, 2010

Die mistieke ervaring om bemin te word. Oor die Ou Testament en die mistiek (3)

Spiritualiteit gaan om die steeds dieper wordende verhouding wat God met die mens aanknoop en wat die mens omvorm. In sommige tekste in die Ou Testament word hierdie verhouding in hartstogtelike liefdestaal uitgedruk. En in Spiritualiteit word dit gedurig deur weer en weer onderstreep.

In Hosea 11:1 vertel God dat “toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad.” En in Hosea 11:4 word die durende liefde uitgewerk: “Ek het hulle met sorg en liefde gelei” – of soos die Ou Vertaling dit poëties uitskryf: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.” (Wat is die 1983 Vertaling dikwels so vaal en verlep, tog). Hosea wil hiermee God se harstogtelike liefde vir Israel uitwerk – God se begeerte om voluit vir Israel as die geliefde te stry. “Goddelike liefde word deur die Ou-Testamentiese profete en die deuteronomistiese literatuur onuitwisbaar na vore gebring om trou en ontrou, kontinuïteit en breuk, verlede en toekoms te verklaar” skryf Noort om te wys watter sleutelposisie die liefde het (kyk maar bv na die programmatiese Deut.7:7-11). Daarmee word die Ou Testament as boek van liefde, van goddelike liefde uitgewys.

Maar die latere Joodse mistici, skryf Noort, het hulle mistieke verhouding met God eerder aan die hand van Hooglied beskryf as deur die Ou-Testamentiese tekste oor God se hartstogtelike liefde. Hooglied was, soos vele eksegete vandag skryf, oorspronklik alledaagse liefdesliedere – waarskynlik uit die tyd voor die ballingskap (587 v.C). Maar teen die eerste eeu n.C. is hulle lank nie meer as sulke sekulêre liedere deur Joodse en Christelike lesers gelees nie. Trouens, slegs ‘n klein groepie het hulle as nie-godsdienstige liedere gelees. Sommige dink dat Hooglied in die Bybel beland het, juis omdat menige gelowiges dit in ‘n geestelike sin as goddelike liefdesboek gelees het.


Verreweg die meerderheid Bybellesers het Hooglied allegories en tipologies gelees in Bybelse tye. “Die man wat ek liefhet, is vir my ‘n sakkie mirre wat tussen my borste lê” (Hoogl 1:13) is byvoorbeeld verstaan as die teenwoordigheid van die Here tussen die gerubs in die allerheiligste van die tempel. Christene het dit tipologies met Christus en sy verhouding met die kerk of die gelowige verbind.


Dit het in latere Joodse groepe ‘n diepe en belangrike simboliese betekenis gehad. Sekere Joodse groepe lees Hooglied op die vooraand van die sabbatsviering as herinnering aan God se liefde vir Israel. Ander weer lees dit tydens die pasga-vieringe. In die latere Joodse mistiek vanaf die 14e en 15e eeu (die kabbala) is die boek gelees as simbolies vir die skepping van die wêreld, die Sabbat, die verbond met Israel of die koms van die Messiaanse tyd. Die gawes van God aan Israel en die wêreld is daarmee gevier as deel van ‘n besonder intieme, self eroties gekleurde verhouding tussen God en die volk.


Hierdie liefdestaal van die Ou Testament en die erotiese taal van Hooglied veral, het vir latere gelowiges die boustene verskaf waarmee hulle iets wou beskryf van die noue, intieme verhouding wat God met mense aanknoop.


Die mistiek vertel hoe ‘n mens oorweldig word deur die Goddelike aanraking, soveel so dat ‘n mens jou gerigtheid op jouself verloor in die oorstelpende liefde wat van buite na jou toe kom. Die verhouding wat God met mense aanknoop is so besonder en uniek dat ‘n mens nie genoeg aan hierdie liefde kan kry nie. En van alle boeke in die Ou Testament is dit veral Hooglied wat die intense intimiteit van hierdie verhouding met God die beste kon uitbeeld vir die mistici. Die vuur, die gloed, die teerheid en die volheid van hierdie liefde was vir hulle versinnebeeld in die totale skoonheid van egte liefde tussen geliefdes wat hulle self in mekaar verloor.


Hoe moeilik is dit om te vertel wat beteken dit wanneer die suiwerheid van die Goddelike liefde in jou lewe binnekom. Hoe tastend, soekend en byna radeloos is ons om die taal te vind wat reg sal laat geskied aan dit was ons begrip te bowe gaan. En mense wat weet hoe vervullend en helend ‘n intieme liefdesverhouding kan wees, sal verstaan dat die mistici iets oor God se liefde aan die hand daarvan wou uitbeeld. So mooi soos die liefde tussen twee geliefdes, net duisend keer mooier, só mooi is God se liefde vir mense.


Ek het hierdie waarheid op ‘n spesiale manier begryp deur ‘n unieke ervaring wat ek in ‘n gemeente meegemaak het. Op ‘n dag het ‘n kru, siniese en growwe mens wat al lank tyd elke oomblik gebruik het om platvloers oor mense om hom se godsdiens te praat, weer iets kwetsend kwyt geraak voor ‘n vrou wat ‘n diep gelowige mens was en wat baie naby aan die Here geleef het. Sy was in sy winkel om iets by hom te koop. Sy woorde het haar so gekwets dat sy in trane voor hom gaan staan het en hom aangevat het. Op een of ander manier, het hy later uit eie beweging berouvol in die kerk voor die gemeente kom vertel om vir almal vergifnis te vra vir wat hy altyd so maklik kwyt geraak het, het sy soveel pyn getoon, was sy so seergemaak deur wat hy gesê het dat dit hom diep geraak het. Hy kon sien hoe sy God se liefde vir haar diep persoonlik ervaar het, sodat dit wat hy oor God voor haar gesê het vir haar soos geselhoue was.


Haar woorde van pyn was, het hy op sy manier oorvertel, vir hom ‘n mistieke ervaring wat sy lewe omgekeer het. Die vrou het só oor God se liefde vir haar gepraat dat hy deur haar woorde sy eie liefdeloosheid intens ervaar het. Dit was, het hy gesê, asof sy in die diepste van haar hart stukkend geslaan was. En haar wonde oor God se liefde wat so bespotlike gemaak word, het hom ook laat bloei onder die liefdeloosheid van wat hy so dikwels dag vir dag kwytgeraak het. In haar wonde het hy te staan gekom voor die merkwaardige feit dat God se liefde konkreet, maar sag in die harte van mense inwoon en deel word van waar hulle ook al gaan. En die liefde was so deel van haar bestaan, dat die een wat hierdie liefde gekwets het, haar self in die proses verwond het.


God is liefde, vertel ons, sing ons, skryf ons, getuig ons. Daar is pragtige ou, rooi kanselklede met die frase in sierskrif uitgeborduur deur eerbiedige hande, nou dalk gedump op die stofrakke van menige kerkkantoor, waarop hierdie kriptiese, maar kragtige frase Sondag vir Sondag die gemeente herinner het aan die mees kenmerkende aspek van spiritualiteit – God se liefdesverhouding met die mens.


Iewers bo ‘n mens se verstand heen, ervaar vele gelowiges hierdie woorde as baie meer as blote woorde of as ‘n goeie pligpleginkie. Daardie liefde word deur gelowiges merkwaardigerwyse op die geestelike lewensweg soms besonder intens beleef. Dit word vir hulle ‘n mistieke ervaring om bewus te word dat hulle deel in ‘n sfeer van oewerlose omgee en dat hulle bemin word op 'n onbegryplik diepe manier. En, soos die geestelike weg eenmaal is, wie leef uit hierdie mistieke ervaring, skep die ruimte vir ander om ook in hul lewens die verborge aanraking van die Liefde te voel – selfs wanneer hulle die Liefde verliederlik.

Friday, May 28, 2010

Om God te "sien." Nog 'n mistieke dinamika in die Ou Testament

In die vorige blog het ek so bietjie nagedink oor tradisies in die Ou Testament wat vormend ingewerk het op latere mistieke tekste en ervaringe. Daar is die voorbeelde van Henog en Elia wat in die hemel opgeneem is, of van die Psalmskrywers wat die mense se ervaring van God se teenwoordigheid besing het.

Maar dit is nie al tradisies wat die mistieke dinamiek in die Ou Testament onthul nie. In die Ou Testament was daar ook belangrike uitsprake oor mense wat God “gesien” het. Daar is mistieke dimensies aan hierdie “sien” van God.

Die blote frase: "sien" van God stel 'n mens reeds in op die buitengewone karakter van God se verhouding met die mens.

Daar is tekste in die Ou Testament wat iets meedeel wat ons normaalweg nie juis bedink nie: Wanneer God, die ontsaglike, met die mens in 'n verhouding tree, laat God toe dat die mens van aangesig tot aangesig tot God te staan kom.

In Eksodus 24: 1, 9-11 is daar byvoorbeeld die merkwaardige verhaal waarin die Here vir Moses sê om aan Sinaï-berg op te klim saam met Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van Israel. Dit is duidelik iets heel besonders, want hulle moet dit in ‘n gees van ontsag en verering doen. “As julle ver is, moet julle al voor My buig.” Hierdie opdrag word deur die leiers uitgevoer en hul “sien” van God word in verse 9-11 só beskryf: “Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gerig nie; hulle het God gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.”

Nog later word vertel dat vir die Israeliete, wat nie op die berg was nie, die magtige teenwoordigheid van die Here soos ‘n gloeiende vuur gelyk het.

Twee keer word dus in hierdie gedeelte vertel dat die leiers God “gesien” het. Hulle “sien” God, maar tog kry ons in hierdie gedeelte geen beskrywing van God self nie. Hulle sien eintlik net die voete van God. Noort skryf hieroor: As die plek waar God se voete rus, so heerlik is – vol glans en skittering – moet God self letterlik alle woorde te bowe gaan.

Dus vind ons in hierdie verhaal ‘n duidelike distansie, maar ook ‘n nabyheid. Hulle is by God, sien God, maar hulle sien tog ook net die plek waar God se voete rus. Om God te sien, is dus buitengewoon verborge en oorweldigend. Dit is ontsag, maar ook verwondering. Dit skep eerbied, maar ook nabyheid en intimiteit.

Dieselfde besondere beeld van die “sien” van God kry ‘n mens in Jesaja 6. In Jesaja 6:1 sien die profeet vir God sit op ‘n “baie hoë” troon, maar in die gedeelte vertel Jesaja ook dat die soom van die Goddelike kleed die tempel gevul het. Nog aangrypender is die stamelende beskrywing van ‘n visioen van God in Esegiël 1. Hierdie is seker een van die beroemdste tekste in die Ou Testament. Dit sou later in die Joodse mistiek ‘n uiters belangrike rol speel. Die Joodse Merkabah-mistiek (troonwa-mistiek) steun swaar op hierdie gedeelte.

Terwyl Esegiël in Eseg.10:1 net ‘n troon sien, sien hy in die eerste hoofstuk “iets soos saffier met die vorm van ‘n troon” en bo die troon “iets soos ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens.” En dan volg die beskrywing: “Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ‘n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ‘n helder glans daarom. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ‘n wolk van reën. Dit was die magtige verskyning van die Here." So dikwels sien 'n mens in latere mistieke literatuur hoedat die godservaring met gloeiende vuur beskryf word - wat ook hier gebeur. "Gloeiende metaal", "vuur" omring met "helder glans." So lyk die kabod - die magtige verskyning van God.


Esegiël sukkel duidelik om sy ervaring van sy goddelike skoue onder woorde te bring: wat hy sien “is” nie, maar het “gelyk” na. Dinge is “soos.” Noort sê tereg dat dit ‘n “tastende” spreke is. Die profeet soek om die onuitspreeklike teenwoordigheid in menslike woorde te probeer uitdruk. Wat Esegiël ervaar het, kan maar net by benadering verwoord word. Dit is taal wat terugstaan, wat versigtig is, wat terughoudend probeer vertel wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. Dit is distansie, afstand, andersheid.

Maar aan die ander kant word dit tog gekommunikeer. Die onuitspreeklikheid van God neem niks weg van God se teenwoordigheid by mense nie. Dit raak Esegiël diep, dit bring hom om in gehoorsaamheid aan God sy profetiese getuienis te lewer. Hy word deur die goddelike sien totaal omvorm. Wat hy sien, raak hom tot in die mees innerlike kante van sy bestaan. God het baie naby aan hom gekom. Die teenwoordigheid van God, die sien van God, het die kern van sy lewe gloeiend aangeraak en getransformeer.

Maar daar is ook ander gedeeltes waarin gepraat word oor ontmoetinge met God waarin mense direk vir God sien: Terwyl die volk in aanbidding is, het die Here van aangesig tot aangesig met Moses gepraat – soos ‘n vriend! (sê die nuwe vertaling; Ex.33:11). In Ex.34:29-35 kom Moses met die wet van die berg af, onbewus dat sy gesig geblink het terwyl die Here met hom gepraat het. Die heerlike glans van God oortrek hulle wat in God se teenwoordigheid is... Noort skryf: Moses word ‘n liggestalte deur sy ontmoeting met die Here. God in sy heerlikheid (kabod) raak Moses liggaamlik aan om God se heerlikheid af te gee.

En wie God “sien” word daardeur aangespoor tot immer meer verlange na God. As Moses in Exodus 33:18 smeek dat hy nog een keer die heerlikheid van die Here (die kabod) kan sien, word dit geweier. Hier tree die distansie weer in: Geen mens kan God sien en lewe nie – sê Ex.33:20. Maar tog skenk God aan Moses wel ‘n smakie van die Here se teenwoordigheid. God maak hom in ‘n rotskeur toe en hy mag God se rugkant sien! Hy is tog dan wel baie naby aan God - hy kan God ten minste sien.

Weer eens is daar afstand, skeiding, andersheid. Maar tog ook intimiteit.

Al hierdie gedeeltes deel 'n fundamentele veronderstelling: Ons word een met God, ervaar God se teenwoordigheid, maar word nooit goddelik nie. Mense word soos God, maar daar is altyd, altyd in die Ou Testament ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen God en mens. Die mens kan God se teenwoordigheid indirek ervaar en meemaak. Maar God word - dit kan nie in 'n Ou-Testamentiese konteks nie.


Daar is ook ander voorbeelde: Jakob worstel met God. Hy ervaar die teenwoordigheid van die Here. Hy word daardeur getransformeer en kry ‘n nuwe naam as teken van die transformasie. God het baie naby aan hom gekom. Maar dan besef hy ook hoe ondenkbaar dit is dat God self in sy lewe gekom het: “Ek het God gesien en ek lewe!” roep hy met ontsag uit (Gen.32:31). Hy is intens bewus van watter spanning sy ervaring skep deurdat dit werk oor die groot afstand wat bestaan tussen God en mens.

Eenwording met God – die mistieke ervaring van God se aanraking word in die Ou Testament reeds oorvertel. Latere gelowiges het diep hieroor nagedink. En in hul ontmoeting met hierdie tekste het daar in hul eie lewens soortgelyke ervarings ontstaan.

Die Ou Testament was nie om dowe neute ‘n voedingsbron vir die latere mistiek nie.

Thursday, May 27, 2010

Die Ou Testament en die mistiek

Die Ou Testament laat, anders as die Nuwe Testament, in die reël nie veel blyk van enige geloof in die mens se bestaan na die dood nie. Dit lyk asof die meeste Ou-Testamentiese tekste veronderstel dat die mens se lewe deur die dood tot ‘n einde gebring word. Daarmee is die menslike bestaan afgesluit en verby. Dit het finaal geëindig.

Noort, die Nederlandse Ou-Testamentikus skryf in die Encyclopedie van de Mystiek dat hierdie gebrek aan ‘n geloof in die lewe na die dood ‘n “basiese oortuiging” in Ou-Testamentiese boeke is.

En tog is daar vir hom sekere gedeeltes in die Ou Testament waarin die grens van die dood op ‘n mistieke manier oorgesteek word. Seker die bekendste gedeelte is Genesis 5:24 waar vertel word van Henog wat met God gewandel het en nie meer daar was nie omdat God hom na God toe weggeneem het. Hy word opgeneem in die hemel, in die teenwoordigheid van God. Hy is by God.

Hierdie vers het deur die eeue heen by baie Bybellesers vasgesteek en daar is diep daaroor nagedink. Een van die bekende pseudepigrafiese boeke, 2 Henog (of Etiopiese Henog), is later geskryf deur iemand wat voortborduur het op hierdie patriarg se reise deur die hemel. Maar daar was ook heelwat ander boeke wat in die naam van en oor Henog geskryf is. Judas 14 haal die Henog as profeet aan en skryf dan ‘n aanhaling uit die boek Henog oor. Henog word ook in Hebreërs 11:5 uitgebreid bespreek as ‘n geloofsheld.

Die ander bekende voorbeeld in die Ou Testament is Elia se hemelvaart in 2 Konings 2:1-18. Ook Elia word in God se teenwoordigheid opgeneem. En ook hy het daarom in latere mistieke tekste ‘n groot rol gespeel. En in Jesus se tyd het mense nog geglo dat Elia weer sou kom – sommiges het Jesus as die tweede Elia bespot. Kyk byvoorbeeld ook die boeiende Markus 9:11-12 oor die geloof in die tweede koms van Elia.

Mettertyd het in die latere Joodse mistiek allerhande verhale ontstaan van gelowiges wat na die hemel opvaar en wat dan deur die sewe hemele reis of die paradys binnegaan. Maar hierdie reise was nie maar net blote lawwe spekulasie nie. Hulle was mistieke tekste wat op die aanskouing van God ingestel was. Wat vir die skrywers saak gemaak het was dat die kernpunt van die reise was om uiteindelik die kabod, of heerlikheid van God op die troon te aanskou. Die tekste het daarom die mense se diepe behoefte na die intieme nabyheid van God weerspieël.

‘n Mens kry die nawerking hiervan in groter detail ook in die Nuwe Testament: Openbaring vertel van Johannes wat in die hemel opgaan en die ontsagwekkende troon van God met al sy heerlikheid te beleef (Open.3:1; 4-5). Openbaring is ‘n volledig mistieke boek: daarin vertel die skrywer aan sy lesers van sy visioene waarin hy die verborge heerlikheid van God ervaar en beskryf hy die geestelike weg wat uiteindelik sal uitloop op die finale openbaring van God se heerlikheid en God se ewige teenwoordigheid onder mense.

Paulus se mistieke ervaring op Damaskus was nie sy enigste spesiale geestelike belewenis nie. Hy vertel van sy hemelreise en van die besondere visioene wat hy gehad het. Hy is weggeruk na die derde hemel, skryf hy in 2 Kor.12:2 en hy herhaal in vers 4 dat hy weggeruk is in die paradys. Hy het woorde gehoor wat “’n mens nie mag uitspreek nie.” Dit was verhewe openbarings wat hy ontvang het (vers 7).

En moenie vergeet van die mistieke ervaring van Jesus op die berg van verheerliking nie (verheerliking!). In al hierdie tekste word die mens se intieme verhouding met God uitgebeeld – wat deur geen grense verhinder kan word nie.

Terug na die Ou Testament: die Ou Testament praat op ‘n mistieke manier oor die mens as “siel.” Die woord het eers bloot “keel” beteken – die liggaamsdeel waardeur ‘n mens eet, drink en asem haal. Later is die woord vereenselwig met die opvatting, skryf Noort, dat die siel van die regverdige mens nie in die doderyk sal bly nie of na die aarde terugkeer nie, maar in die Here se wêreld opgeneem sal word. Dit het beteken dat die siel in die hemel, naby God, in die teenwoordigheid van die Here, sal wees.

Hierdie gedagte kom voor in Psalm 73:24: “Aas die einde sal U my in ere by U opneem.” Wat ‘n teks! Vir die psalm-digter beteken die einde van die mens die oorgang in die heerlike teenwoordigheid van God. Om naby aan God te kan bly... Alles wat ons skei van God, sal verval. En kyk net hoe brei hy dit uit in die volgende vers en hoe is sy hart verbind aan God: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” Of selfs die volgende vers: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan God behoort ek vir altyd.” Vir altyd. Noort skryf: Werklike dood is om sonder die Here te wees. Werklike lewe is in die Here se nabyheid. Die grense van die biologiese dood en van die biologiese lewe word as ongeldig beskou.

Wat kan meer mistiek wees as dit: hierdie hartsoortuiging en hartslied dat ons vir altyd in die Here die lewe sal hê. Die lewe na die dood bring ‘n intieme eenheid met die goddelike.

En hoekom hoor ons ook so min van die ander soortgelyke teks – die aangrypende Psalm 49 wat vir ons vertel oor die verganklikheid van al die uiterlike dinge?: “as mense sterf, neem hulle niks saam nie; hulle besittings sal hulle nie volg nie” (kyk na verse 17-21 om te besef waar kom Thomas a Kempis vandaan). Maar vers 16 word ook heeltemal te min gepreek: “Maar vir my sal God loskoop uit die dood; ek sal aan Hom behoort.” Die dood sal oor ons pad kom, maar die dood sal nie die laaste woord spreek nie. Ons sal gestroop word van al die uiterlike dinge. Maar in die Here bly ons vir altyd. Ons sal woon in die goddelike nabyheid. Ons sal by God wees. En ‘n mens moet maar net 1 Thessalonisense 4:17 en 5:10 lees om te sien hoe hierdie gedagte ook in Paulus se geestelike reis voortgeleef het.

Net so sê Psalm 47:16 dit: ons sal aan die Here behoort. Net so eenvoudig. Dit is die goddelike waarheid wat ons verinnerlik, waarmee ons ons geestelike reis bewandel. Dit is die mistieke weg – die pad van eenwording met God, vir ewig en sonder enige grense sal ons in die nabyheid van God woon. Want kyk nou net hoe begin Psalm 49: “My mond gaan suiwer wysheid praat; wat ek gaan sê, sal van insig getuig, want ek hoor ‘n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek ‘n geheimenis verklaar.”

Hier sing die digter digterlik en liries oor ‘n verborge waarheid en geheimenis. “Suiwer wysheid,” is hierdie mistieke insig wat praat van rykdom wat nie in uiterlike weelde of besittings gevind word nie. Wyse mense sterwe.... en laat hulle besittings na aan ander (vers 11). Mense wat op hulleself vertrou en met hulleself ingenome is, sal soos diere vergaan. Maar die een wat van die Here se verborge geheimenis sing en daarop wag, vir die mens sal God loskoop uit die mag van die dood. Hulle sal by God wees. Die uiteindelike eenwording het gekom: die regverdige sal aan God behoort.

Die Ou Testament is nie ‘n mistieke boek nie, sê Noort. ‘n Mens sal nie daarin ‘n mistieke lewenshouding terugvind nie. “Die spiritualiteit, sowel in die offisiële as in die huis- en privaat-kultus het ‘n ander karakter as ‘n soektog na eenwording met die godheid. En tog, voeg hy by, vind ons in die Ou Testament seker boustene wat later ‘n mistieke betekenis sou kry. Een so ‘n bousteen is die motief van die Godsaanskouing – van die oortuiging dat die mens by God sal wees. Latere mistieke skrywers het hierdie bousteen oorgeneem en indrukwekkende gedagtes daarop gebou.

Ek dink nie Noort is reg nie. As ‘n mens Kees Waaijman se Mystiek in die Psalmen lees, kom ‘n heel ander prentjie na vore. En as ‘n mens die Nuwe Testament as resepsie van die Ou Testament verstaan, begin die mistieke karakter van die Ou Testament veel ryker lyk as wat Noort te kenne gee. Maar Noort se voorbeelde van mistieke boustene is sekerlik boeiend, selfs al bied hy ‘n minimale prentjie van mistieke momente in die Ou Testament.

Wednesday, May 26, 2010

Verinnerliking: om te leef van die goddelike waarheid

Vir Thomas a Kempis is gelykvormigheid aan Christus ‘n sleutel-begrip – vandaar die titel van sy werk: “Die navolging van Christus.”

God se lig, glo Thomas, moet in ons lewe beslag vind en deur ons lewe in die wêreld skyn. Dit beteken dat ‘n gelowige mens die koninkryk van God in sy eie, innerlike bestaan soek. Dit is die weg van verinnerliking waarop ons op reis is. Hierdie motief, skryf Inigo Bocken (in “Nuchtere mystiek”), is vandag nog ‘n sleutel-motief in spiritualiteit. Daar loop dus ‘n goue draad van die ervaringswêreld van Thomas na ons moderne situasie.

Maar wat beteken verinnerliking? Thomas sê dat mense op allerhande teoretiese maniere hieroor kan spekuleer. In werklikheid het verinnerliking te doen met gewone, alledaagse dinge (nugtere mistiek!).

Een van die eerste aspekte van verinnerliking by Thomas, skryf Bocken, het te doen met die wegkeer van uiterlike dinge en ‘n inkeer tot ‘n mens se eie innerlike.

Wanneer Christus in ‘n mens se innerlike ‘n teenwoordigheid word en ‘n mens aan die beeld van Christus gelykvormig word, beteken dit heel konkreet en eenvoudig dat ‘n mens se lewe nie langer bepaal word deur verganklike rykdomme, invloedryke posisies en liggaamlike begeertes nie. (Navolging I.1.13-18).

Maar, voeg Thomas by, dit behels ook ‘n afwending van ‘n buitensporige (!) verlange na intellektuele kennis. Op ons kennis-drang moet ons dus ook bedag wees – want deur sulke kennis wil mense soms vir hulself naam opbou en die bewondering van ander afdwing.

Die probleem hiermee is dat ‘n mens se lewe dan deur uiterlike dinge bepaal word. En dit beteken dat ‘n mens afhanklik word van wat ander mense van jou dink of sê. Gedurig is ‘n mens dan uitgelewer aan eindelose praatjies van ander mense oor jouself – ‘n glibberige regressiwiteit waardeur ‘n mens nooit veilig, gerus en in vrede kan leef nie.

Maar, ons moet nie net bedag wees op wat ander sê nie. Ons moet ook maar goed dink voordat ons rondgejaag word deur ons eie opinies oor onsself. Selfs ons eie siening oor onsself, gebaseer op wat ander van ons dink of sê, is maar glibberig en wankelrig. ‘n Mens wat leef uit hierdie dinge, word op dié manier vasgeklem deur die kloue van menslike oordele – of dit nou lof, bewondering, begeertes of aardse maatstawwe is. En daardeur word ‘n mens vervreemd van jouself. Jy leef nie eg nie.

En dit is op hierdie punt dat Thomas iets heel besonders kwyt raak: beter as om gedurig te wil konformeer aan uiterlike, menslike oordele, is dit om “geen vaste opinie oor jouself te hê nie” – iets wat my nogal laat dink aan die Bybelse wysheid dat ‘n mens jouself nie te hoog moet ag nie. Maar, dan voeg Thomas by: “en om oor ander goeie en diepe gevoelens te koester (I,2,17).

Om oor ander goeie en diepe gevoelens te koester!

Dit is so ‘n helder, eenvoudige lewenskuns. Maar so ver van wat ons as ons aldag-ervaring ken. Ons wat geknou word of bedwelm word deur applous of kritiek, wat angstig dophou wat dink ander van ons. En wat dan vir ons verder seermaak met ons eie harde self-kritiek omdat ons nie die wispelturigheid van ander menings kan kontroleer nie. Hoe onvry het ons nie geraak nie, hoe vervreemd van onsself tog nie.

Thomas skryf later hoe meer iemand met hom- of haarself één word en innerlik vereenvoudig raak, hoe meer sal hy of sy besef kry van die groter en dieper dinge wat werklik saak maak (I,3,13). Dis diep: die mens wat nie afhanklik word van ander se menings nie, of selfs van sy eie menings oor hom- of haarself nie, is ‘n mens wat ‘n innerlike ruimte oophou waar God aan die woord kan kom. En om tog by God te kan woon....

Verinnerliking is nie ‘n wegvlug van aardse dinge nie – om ‘n kloosterkoek te word nie. Dit is veel eerder 'n totale transformasie van die plek wat aardse dinge in ons lewe speel. Ons begin besef hoe die oordeel van ander mense en ook ons eie oordele oor onsself, ons vervreem van wie ons werklik is. Ons is onvry mense – gebind deur uiterlike dinge, deur ander mense se immer wisselvallige sê-goed oor ons.

Hoe meer ons van ander se opinies afhanklik raak, hoe minder ruimte is daar vir wat God tot ons sê.

‘n Volwasse mens verlang na ‘n eenvoudige bestaan. ‘n Volgroeide mens is iemand wat in sy innerlike eerder gehoorsaam is aan en senitief is vir die diepste, goddelike lig.

En dít is nou die groot uitdaging: om God se woord in ons innerlike te laat leef. Om God se lig te kan raaksien tussen al die donker skaduwees van wat ons meen belangrik is. Thomas noem hierdie woord die “ewige Woord.” As God se waarheid in ons woon, verenig is met wie ons in die sentrum van ons bestaan is, is ons wonderbaarlik en lig, lig, lig bevry van menslike oordele, lofprysinge, maatstawwe en verwagtinge. Geleerdheid, status en ydelheid het nie meer ‘n houvas op jou nie. Wat tel is die goddelike woord, dat God se liefdestem gehoor word.

Vir Thomas is dit belangrik dat ons nie ons eie insigte, oordeel en waarheid as die goddelike waarheid moet sien nie. Die volwasse gelowige is intens bewus van die menslikheid van sy of haar insigte en oordeel.

Ons leeef juis weg van wat ons dink en oordeel. Op hierdie punt kom die subtiele skuif aan die orde: Daarom soek die gelowige gedurig om die goddelike waarheid konkreet te ervaar.

Ons leef ook al hoe versigtiger en verder weg van ‘n beoordeling van ander. (Moenie oordeel nie.... !). Meer nog: ons groei dankbaar in 'n lewe van diepe, goeie gevoelens vir ander.

En al hoe meer loop ons dus die pad van navolging. Ons wegwyser na die ewige woord is Christus, die Een wat die goddelike waarheid so konkreet en prakties beliggaam het. Hy is die Een wat die goddelike waarheid veral verinnerlik het. Wie Hom sien, ontmoet God. In Hom herken ons hoe goddelike en menslike oordeel volmaak saamval – en besef ons hoe feilbaar ons eie oordeel is. Soos Christus word ons vry van uiterlikhede.

Hierdie navolging van Christus is ‘n oop saak. Daar is nie lekker, presiese reseppies met afgemete hoeveelhede nie wat op almal se lewens pas nie. Het Christus dan nie juis hierdie pad van die goddelike waarheid van dag tot dag opnuut moes stap nie? Was hy dan nie tastend, soekend ‘n pelgrim in die roeping wat God na hom toe laat kom het nie? Selfs nog tot die laaste oomblikke in sy beker-gebed in Getsemane nie?

Waarheen die navolging van Christus ons lei, kan ons nie sommer maar net weet nie. Elkeen loop die pad op sy of haar eie manier. Elkeen reflekteer die beeld van Christus in sy of haar lewe op ‘n unieke manier. Juis daarom oordeel ons nie oor ander nie, herken ons met vreugde hul unieke geestelike reis.

Juis daarom bly ons naby aan die Woord oor die ewige woord. Ons kan nie die reis loop met ons eie insigte en oordeel nie.

Ons weet hoe waar dit is - die nodigheid tot hierdie verinnerliking van die goddelike waarheid. Ons sien hierdie waarheid en ons merk die verinnerliking in die lewens van die mistici en die heiliges – hulle wat innerlik so heel was, so diep ingegroei in God se beeld, dat hulle direk, spontaan, onmiddellik, vanselfsprekend eg gelewe het.

Daar is sulke mense. Jy kry hulle nie altyd op die preekstoele en op die televisie nie. Jy vind hulle in Vryburg, in Kaapstad, in Grahamstad, in die kombuis, die siekeboeg, agter die lessenaar, in ‘n verpleegster uniform, in ‘n hawe-kantoor, op die plaas, in ‘n sinkplaat-huisie in ‘n township, agter die strykplank en in die kombuis. Die navolgers van Christus.

Hulle verstaan die kuns van lewe. Hulle maak daarom van die lewe ‘n kunswerk – ‘n goddelike kunswerk. Hulle lewens is “sieraad.” Sien jy hulle, al die baie mense wat so eg lewe, sien jy ‘n veelkleurige, multi-dimensionele beeld van God. Jy herken hulle as draers van die waarheid, jy weet dit sommer: hier is heiligheid. Die rykheid van God se aangesig breek op baie maniere, reënboogmaniere, in hul lewens deur. Hulle lewe ‘n lewe van eenvoud, ongerekend, maar hulle is gelukkig.

Sondagoggend, op pad terug van Prieska, luister ons oor die Engelse sender na die diens uit die Kongregasionalistiese kerk in Port Elizabeth. Die prediker lewer ‘n ryk getuienis. Hy verwys op ‘n stadium na ‘n gemeentelid van hom wat ‘n kranklike bestaan gehad het. Sy het in ‘n arm-mans-omgewing gewoon in ‘n eenvoudige huis waar sy ‘n paar hoenders en honde as geselskap gehad het. Die hoenders en honde het saans in die huis by haar gebly. Soms het die hoenders hul eiers gelê en het sy daarvan geëet. Een keer per maand moes sy met groot moeite haar karige pensioen gaan afhaal. Sy het aan suikersiekte gely en het ‘n septiese wond aan haar been gehad wat nie altyd lekker geruik het nie. Maar, sê die prediker, wat hom opgeval het was dat hierdie vrou ‘n lewende belangstelling in ander mense en in kerk-sake gehad het. En nog meer – wat hom bybly is hoe gelukkig sy was.

Hy vertel hierdie verhaal met ontroerende bedaardheid, want hy weet die eenvoud daarvan reflekteer die goddelike waarheid van lewensegtheid. Uiterlike dinge gee nie aan jou geluk nie. In lyding, swaarkry, karigheid kan ‘n mens innerlik so ryk wees, so na aan God dat ‘n mens altyddeur bly kan wees – spontaan, eg bly vanweë God se vredevolle teenwoordigheid daar waar jou hart stilweg klop in die sentrum van jou bestaan. Net soos Paulus in sy briewe vra en net soos ook Paulus daar in die Fillipi-tronk, pap-geslaan en toegekerker in stikdonker, blydskap geleef het.

Verinnerliking is 'n sleutel-woord in spiritualiteit.

Tuesday, May 25, 2010

Verlange na God. Oor oratio.

Ek is nog steeds geïnteresseerd in die wyse waarop meditasie ‘n sekere afstand skep tussen die Bybelleser en die Bybelteks. In die lectio divina model beteken “meditasie” (na lectio) dat ‘n mens ‘n bietjie terug staan en die teks van alle kante bekyk. Baie fasette kom in hierdie faset van die leesproses na vore: ‘n mens kyk na allerhande kontekstuele, historiese, literêre en sosio-kulturele inligting.

Maar hierdie mymerende nadenke het niks te doen met slim analise’s en ontledings nie. Al hierdie aspekte dien ‘n verdere doel. Hulle is almal blote heenwysers: hulle kom ter spreke sodat ‘n mens kan deurdring na die dieper, geestelike, selfs goddelike boodskap van die teks.

In die sin is daar afstand sodat 'n mens as leser kan herken wat groter as jy is. Daar is in die teks Iemand Anders teenwoordig en die teks spreek 'n dieper waarheid as blote mensetaal uit.

Paulus praat in 2 Korintiërs 5:7 van die “skatte in erdekruike.” Dit is waarna ‘n mens op soek is. Meditasie wil dus goddelike skatte in die teks ontsluit – skatte wat nie sommer net gevind word nie. Hulle moet gesoek word, bedink word en uitgespit word. Dit is verborge skatte.

Soos ‘n mens dieper delf na hierdie goddelike kante van die teks, gebeur daar egter iets merkwaardigs. Daar word ‘n transformatiewe proses in die leser aan die gang gesit. Die “lees” van die teks begin as te ware ‘n lewe van sy eie lei. Hierdie lesery, die meditatiewe herkou, begin die leser vasvang. Die mymerende leser wat skatte raakspit, raak emosioneel ingetrek in die lees van die teks. Die verborge skat het ‘n innerlike skoonheid wat betowerend werk. Betowerend begin dit ‘n mens in sy krag vasvang.

Dit is juis goddelik omdat dit ‘n greep op die leser begin kry. Stadig begin hierdie waarheid wat die leser as teks ontdek, sy of haar lewe oorneem en stuur. Terwyl hulle voorheen die Bybel “gelees” het, begin die Bybel hulle nou lees. Iets vat vlam en begin in die mens brand.

Ek het ‘n gedagte dit is hier waar ons ‘n groot leemte ervaar. Omdat ons die Bybel bloot histories, kultureel en kontekstueel lees sonder om reflekterend en gerigd, gefokusd, te vra na die goddelike kern daarvan, mis ons iets. Ons kom nie te staan voor dít wat die verlange na God in ons gebore laat word en ons harte laat ontvlam nie.

Hoe kan ‘n mens tog na God verlang as jy net vaskyk in allerhande interessante inligting?

Daar is iets so betowerends in die raaksien van God se werking in ‘n teks, dat wie dit eenmaal gevoel het en wie dit gedurig weer in meditasie bedink, steeds weer verlang om meer en meer van God te ervaar. Betowerend: “hoe meer ek U leer ken, des te meer verlang ek om U te ken” – soos Guigo dit stel.

Dit is hierdie woord – “verlange” – wat Waaijman uithaal as ‘n grondbeweging van die biddende lees van die Bybel.

Sonder hierdie verlange is die lees van die teks dodelik.

Ek werk vroeër vandag Waaijman se artikel oor intertekstualiteit weer deur en dit tref my hoedat hy uitwys dat die groot mistici se werke op vele maniere met die Bybel verweefd is. Hy noem byvoorbeeld hoe intens beide Thomas a Kempis en Johannes van die Kruis in Bybelse denke en taal geleef het. Johannes van die Kruis het in sy sel net die Bybel gehad. Thomas a Kempis het nie net die Bybel gememoriseer nie, maar ook gesorg dat dit oorgeskryf word en beskikbaar in sy gemeenskap was. Mistici leef naby aan die Bybel. Dit was ‘n deurslaggewende bron van hulle mistieke ervaring: om te kan dink oor God se aanraking, het hulle teruggeval op Bybelse taal. Maar hulle het die Bybel geestelik gelees.

Die Bybel was hulle grondteks. Maar die Bybel was ook baie meer as net ‘n klankbord en ‘n beginpunt. Hulle is in hul mistieke belewenis gedryf deur hulle diepe verlange om meer en meer van God te ervaar.

Dit is ‘n verlange wat ‘n mens soms ongeduldig oor die dood maak. Om by God te wees.

Die mistici se taal waarmee hul praat oor hulle ervaring van die teks, is hoogs intens. Hulle sien iets goddeliks in die teks raak. Dit het soveel skoonheid, maar terselfdertyd is dit verborge. Dit is selfs wat Paulus noem ‘n raaisel soos wanneer ‘n mens in die spieël kyk. Maar jy weet dit wys heen na volmaakte helderheid.

Wanneer die mistici oor verlange na God praat, is dit ‘n verlange wat soos gloeiende kole in hulle brand. Waaijman skryf oor die siel se brandende verlange na God, oor gebed wat aangevuur word deur verlange. Oor gebed wat verlange is.

En dit is ‘n emosionele verlange, voeg hy by: verlange is “gloeiende liefde,” “versugtinge,” “trane,” “dors,” “smartlike gemis.” Die mistikus smag na God. Verlange is om te vra en te soek na die Here, die toegewyde instelling van die hart op God, ‘n totale, volmaakte gerigtheid van die hart op God. Dit smeek verlangend om God te hoor praat.

Intense verlange, smagtende, vraende soeke na God. Alles wat ‘n mens mymerend bedink het, die meditatiewe betrokkenheid by die spreke van God, laat iets gebeur. Dit is ‘n rivier waarin ‘n mens stap vir stap in beweeg en waarin ‘n mens met mag en mening begin swem. Die stroom, egter, neem jou mee.

Maar dan is die eintlike punt wat met die verlangende mens gebeur: wat die soeker smekend vra vanuit sy of haar ontmoeting met die Bybel, is die oorgang na die grotere grootheid, na die diepste ervaring, die kontemplatiewe. Die nadenkende omgang met die teks en die biddende smeke na die diepere is nie die einde nie. Die diepere kom wanneer die bidder uiteindelik die verlange in God se teenwoordigheid versadig voel.

Om te dink dit alles begin wanneer ’n mens die Bybel geestelik lees....

Monday, May 24, 2010

Om die wil van die Here te onderskei.

Ek luister gisteraand na die indrukwekkende onderhoud met Van Zyl Slabbert oor Kyknet.

Een van sy stories bly my by. Hy vertel hoedat hy 'n briefie in die parlement na Pres. P.W. Botha gestuur het om hom te vra vir 'n afspraak.

Die bode lewer die brief af. Hy merk dat die president kort daarna omgekrap die parlement verlaat. 'n Ruk later word hy na die telefoon ontbied en vertel die sekretaris van die president vir hom dat die president met hom wil praat - maar hy wil vir hom waarsku dat hy baie kwaad is.

Toe die oproep deurgeskakel word, vra die woedende president vir hom hoe durf hy 'n briefie vir hom stuur sonder dat dit in 'n koevert gesit is!

Maar dit is van Zyl Slabbert se reaksie op hierdie voorval wat vir my boei: hy vertel dat hy vir die president onmiddellik gesê het: "Man, as jy so erg oor koeverte is, sal ek vir jou een gaan koop en dit vir jou stuur."

Maar dit is nie al nie. So in die verbygaan sê Slabbert: "en ek sit die foon net daar neer."

Hy vertel dit nie met bravado of met arrogansie nie. Eerder met die stem van iemand wat nie glo dat hy hom met so iets moet besig hou nie terwyl hy met 'n ernstige versoek na die president gegaan het nie. Hy het nie tyd vir beuselagtighede nie. En hy wys dit vreesloos.

Terwyl hy en pres.Botha darem vir mekaar gegroet het, was dit heeltemal anders in die geval van Vorster. Hy vertel dat hy vir Vorster in die gange van die parlement raakgeloop het. Dan het hy hom gegroet met "Goeie middag, meneer Eerste Minister." Vorster het hom eenvoudig nie geantwoord nie en net verbygestap.

Van Zyl Slabbert het ek as student leer ken toe hy die inwonende hoof van ons koshuis was. Hierdie vreeslose, maar nie-bakleierige, eerlike reaksie is wat hom toe reeds vir ons as tudente laat uitstaan het. Maar terselfdertyd 'n ordentlike mens wat steeds weer besef het dat jy ander se menslikheid moet erken en eerbiedig.

Hy vertel in die program hoedat hy sy teologiese studies opgegee het, onder andere omdat een van sy professore 'n boek geskryf het - "Apartheid, die wil van die Here." Om te dink, dat iemand so glibweg kan aanspraak maak om die wil van die Here te ken, sê hy.

Tydens Pinkster het ek weer nagedink oor die ontsagwekkendheid van God en ons eerbied wat die onvermydelike korrelaat daarvan is. Eerbied en ontsag pas ons wanneer ons deur God in 'n verhouding opgeneem word. En deel van ons eerbied is dat ons nie te gou moet aanspraak maak daarop dat ons die wil van die Here ken nie. Een van die deurlopende tema's in spiritualiteit is onderskeiding - om met insig en wysheid te peil wat God van ons vra. En, deur al die eeue het die mistici geweet hoe versigtig dit gedoen moet word.

Phillip vertel van 'n kollega wat, as mense vertel wat die Here vir hulle openbaar het, skepties opgemerk het: "Maar ek het dan niks gehoor nie." So bietjie common sense, met so bietjie humor om mense te herinner dat groot aansprake oor 'n mens se insig in wat die Here alles vir ons wil, maar bietjie eers getoets moet word. Eerder maar aanhou luister en luister as te vinnig vertel hoe dinge in die hemel besluit is en word.

Soos die geskiedenis hierdie belangrike les onderstreep - want wie sal nog vandag apartheid as die wil van die Here wou voorhou? En om te dink dat die professor, ook 'n leermeester van my, die professor in teologie was wat menige sinode in die waarheid moes lei...

Eerbied, eerbied....


Maar net 'n terugflits: op pad huis toe, is ons Witsand om. Dit is 70 kilometer suid van Olifantshoek. Ons ry langs 'n rowwe grondpad, maar kom die oggend so teen 12h00 daar aan. Rustig in ons chalet afgepak, om toe sommer dadelik die pad te vat na 'n uitkyk-punt met die wonderlike naam "Brulsand" toe. Die naam kom van die sand wat sekere tye van die jaar glo letterlik brul as jy daaroor loop. Hoewel die gebrul ons nie beskore was nie, was die gesig wat op ons gewag het onvoorstelbaar. In die middel van die Kalahari kry 'n mens hierdie klein stuk wit sandduine, omring deur grasland en kameeldoringbome. Daar is niks of niemand naby nie. Dit is net die skepping en jy - volledige stilte laaf jou waar jy ook al kyk of loop. Die volgende oggend stap ons deur die Botaniese tuin, 3.5 kilometer voetpad met 43 gemerkte spesies.

Die twee dae in Witsand het my op 'n ander manier die totale skoonheid van ons land en van die skepping laat herontdek.Dit was 'n spesiale ervaring wat ons Pinksteryd volmaak afgerond het.

Ons chalet het 'n heerlike stoepie waarop 'n mens kan kyk hoe die voels en die bokkies kom water drink:






Die katoenbossie sprei helder wit kolle in die Kalahari-landskap:





Die pad vanaf Witsand:






Watter kleure! Blou, groen, bossie en rooi grond....





'n Knewel, onntroerend mooi. Hoeveel jare het in sy leeftyd verbygegaan?





Die omgewing by Witsand is 'n betwowerende olyfgroen - bedeesd en sierlik:








My gunsteling foto - hierdie ragfyn, donserige grassprietjie :







Die witsand by Witsand word omring deur die tipiese Kalahari rooisand:


hoe


Toe seuntjie hierdie foto sien, roep hy, diep onder die indruk uit: "Huuuuuuumungus!" En hy sal weet - hy woon immers in Dallas....



Sunday, May 23, 2010

'n Week van verryking

Hierdie week met Pinkster by Phillip in Vryburg-Wes was vir my op baie manier 'n retreat, lafenis en leerskool. Maar die meeste van alles was dit so besonders omdat ons vir die eerste keer die Kalahari van naby beleef het.

Die natuur herinner my weer eens aan God se oneindigheid, maar dit is die stilte wat by my bly hang. Ons is uit die pad van groot vragmotors. Die aande is grafstil. 'n Mens word toegedraai in 'n kokon van eenvoud - wat tergelykertyd ook totale skoonheid is. Ek het omtrent 500 foto's geneem.

Estelle neem ons een oggend na die wildtuin, regs langs Vryburg.

Wat 'n landskap! Ons is die enigste mense in die 25 vierkante kilometer natuurpark:



"En wat kan ek vir julle vandag doen?" Ons moes eers uit die motor klim om seker te maak hulle is uit die pad voordat ons kon aanry.





En om die draai, kom ons op die ou grote af. Daar is ses van hulle in die wildtuin. Maar in hierdie pristiene plek is die mens se boosaardigheid ook te merke: Drie van die grotes is onlangs deur professionele stropers bedwelm en hul horings afgesny. Hierdie is een van die drie wat gelukkiger was. Hy het ons met 'n oog bekyk en toe stadig weggesuiker agter 'n bos in.




Op pad van die gradedag-plegtigheid in Bloemfontein, hou ons saam met Phillip en Sanette by die Bloemhof-dam stil. Dit is massa's water. Maar helaas, ook hier is daar 'n stuk teleurstelling: die pragtige blou water-kleur is erg misleidend. Die dam is oortrek met groen slyk, soos mens op die onderste deel van die foto kan sien. Die reis met sulke lekker geselskap was soos blits verby. Ons het na Pinkster vertrek en na 300 kilometer in Bloemfontein om 11 nm aangekom. En toe die volgende dag om 13h00 weer terug.






Pinkster 2010 staan vir my uit omdat ek inhoud kon gee aan my ervaring van my eie land. Ons het vir die eerste keer kante van die Kalahari-natuur gesien wat ons nog nooit beleef het nie. Maar dit was ook uniek en besonders om die gemeente van Phillip te kon meemaak.

Nie te vergeet nie: ek het in hierdie tyd weer sistematies die vier kernwoorde van Waaijman se spiritualiteit-siening deurgewerk. Ek het probeer om die Nuwe-Testamentiese kant daarvan sterker na vore te bring, maar het die heel tyd besef hoeveel werk wag daar om hierdie materiaal nog verder te deurdink. My meer algemene perspektief sal 'n mens moet fokus en verfyn deur hulle in meer detail in die verskillende tekste in die Nuwe Testament na te vors.

Saturday, May 22, 2010

Volmaaktheid

Ek het tydens Pinkster gefokus op die vier kernwoorde vir spiritualiteit. As ek nou daaraan terugdink, is dit veral die begrip "volmaaktheid" wat my bybly.

Wees dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is - vra Jesus van sy volgelinge in die bergrede (Mt.5).

En Paulus praat oor God wat ons geskep het om sonder gebrek en volmaak te wees - voor die grondlegging van die wereld (Efes.1:4).

Volmaaktheid is eintlik 'n eskatologiese begrip: dit praat oor die einde van die geestelike reis. Ons is op weg na volmaaktheid. Ons lewens raak so volledig ingestel op God dat ons uiteindelik in volkome eenwording met God sal bestaan.

Maar ons moet dit nie moraliseer asof dit beteken dat ons naderhand al wat 'n gebod is netjies sal kan nakom nie.

Eintlik gaan volmaaktheid om ons volkome, totale en onbeperkte liefde vir God, nie oor al ons mooi dade en prestasie nie.

Die ryk jongman kom na Jesus en praat met hom oor volmaaktheid. Hy vertel vir Jesus dat hy al die gebooie nakom. As Jesus hom dan vra om sy besittings te verkoop, sien hy nie kans nie. Sy liefde vir die gebooie is beperk deur sy liefde vir iets anders. Hy doen pragtige dinge, presteer mooi, maar verstaan nie eintlik waarom dit gaan nie.

Verkoop alles - vra Jesus. Gee alles prys. Wees bereid om niks te laat staan tussen jou en God nie.

Dit is tog radikaal.

En tog is dit so normaal: dikwels sal ons met passie alles opoffer om iets te doen wat vir ons belangrik is.

As daar voorbehoude aan die werk is in ons verhouding tot God, probeer ons twee Here dien. En dit werk nie uit nie. Erger as ons nee vir God is die lou-warm response wat nie die een is of die ander nie. Openbaring vertel ons dat ook God dan uiteindelik opgee op die verhouding met ons. Die opmerking is kras: God sal hulle uit sy mond spuug.

Liefde tot God moet so diep loop, dat dit volmaak sal wees.

En eintlik het hierdie volmaaktheid wel 'n etiese kant. Wie God lief het, sal leef om God volmaak te dien. Ons sal uit liefde vir God baie meer doen as wat van ons verwag word. Anders as vir die Fariseers word dit 'n vrywillige, spontane, ywerig soeke na die Woord

Thursday, May 20, 2010

Tye van verkwikking

Ons is gisteraand Bloemfontein toe vir die gradedag-plegtigheid wat vanoggend gehou is. Dit was 'n besondere geleentheid in 'n mooi saal en met pragtige musiek. Smaakvol aangebied.

By die gradedag het die studente wat in 2008 ingeskryf het vir ons nuwe kursus, hulle grade verwerf. Dit is die eerste groep studente wat met hierdie gradedag-plegtigheid hulle studie afrond.

Dit was 'n groot uitdaging wat ons destyds aangevat het. Daar was op geen plek elders 'n kursus wat ons as model kon gebruik nie. Alles moes van nuuts, ex nihilo, bedink word.

Daar is allerhande kursusse in Spiritualiteit, maar nie in Bybelse Spiritualiteit nie.

Ek onthou hoe ons reeds 'n jaar of twee voor die eerste inname begin beplan het: daar moes eers 'n kursus goedgekeur word. Daarvoor moes ons 'n jaarboek-inskrywing afhandel. Die vyf modules moes 'n naam kry en die inhoud beskryf word. Francois Tolmie het al hierdie uitgewerkte voorstelle verder geneem en die administratiewe werk vir die goedkeuring daarvan met sy kenmerkende deeglikheid afgehandel, ondersteun deur Hermie van Zyl, wat toe die dekaan was. Sonder hulle sou die kursus nooit 'n werklikheid geword het nie.

En toe die kursus in 2008 sou begin, was ons dankbaar oor die positiewe reaksie. Ons het nie net veel meer studente gekry as wat ons verwag het nie, maar hulle was ook studente met 'n besondere kwaliteit.

En vir hulle moes daar toe inhoude voorberei word. Dit is een ding om 'n kursus breedweg te beplan. Dit is 'n ander ding om die kursus handleiding saam te stel. Daarvoor moes voorgeskrewe werke, leeslyste, bloemlesings, werkstukke, toetse en eksamens uitgewerk word. Daar was nie 'n president nie. Alles moes nuut bedink word. Maar dit is ook gedoen en uiteindelik het alles 'n goeie afloop gehad.

Ons was besonder bevoorreg dat ons vir Waaijman en Schneiders as besoekende dosente aan boord gekry het. Hulle is sekerlik twee van die mees gerekende spesialiste op die veld van Spiritualiteit. En hulle besoeke het 'n diep indruk op ons almal gelaat.

En so het ons oor twee jaar heen deur vyf module's gewerk. En ons het nie met die vlakkige dinge gewerk nie.

Dit was interessante tye, met groot uitdagings.

Ek kyk terug op daardie twee jaar as van die mees vormende jare in my lewe.

En ek hou in herinneringe baie spesiale ervarings wat op baie maniere met hierdie kursus verbind kan word.

Die eerste groep het nou klaar gemaak. Terwyl hulle hul grade op die verhoog afhaal, dink ek aan al die kere dat ek hulle materiaal moes lees, aan al die gesprekke wat ons oor twee jaar gehad het, aan al die eposse, navrae, telefoon-gesprekke, besoeke en selfs vriendskappe wat uit ons ontmoetings gevloei het.

En iewers, terwyl ek hulle so sit en bekyk, het ek 'n spesiale gevoel in my.

Dis nie die kursus wat tel nie, voel ek aan. Of die grade nie. Of al die tye van vorming nie. Ek sien ook die baie ander grade wat toegeken word - die baie ander besige dinge wat mense bedink en nagevors het. Daar is so baie dinge wat ons dink is belangrik.

Vir my was hierdie jare tye waarin ek besef het hoe verganklik al hierdie dinge is. Thomas van Kempis se opmerkings oor die groot manne van net 'n paar jaar terug wat niemand meer onthou sodra hulle van die toneel verdwyn nie, het nogal diep by my kom skuil.

Vanaand met Pinkster, terwyl ek oor die hartsgebed praat, tref dit my hoe Paulus praat van kennis wat sal vergaan. Al ons slimmighede sal ophou bestaan. En dit is asof my ervaring tydens vanoggend se gradedag-plegtigheid profiel kry, vir my helderder word.

Die twee jaar het per slot van sake so vinnig geloop.

En al die werk wat ons in die kursus gesit het?

Wat sal daarvan bly?

Hoe sal ons tog kan bepaal watter saad op die vrugbare aarde geval het?

Alles sal vergaan. Ook ons mooi uitgedinkte kursusse met al hul troppe leeswerk.

Maar die liefde sal nooit vergaan nie. - 1 Kor. 13:8.

En dit is nie sommer liefde nie. Dit is daardie verborge, dieper, mistieke liefde wat geduldig op ons wag, uitnodigend, vriendelik. Die liefde wat ons moet innooi, wat ons moet proe en ervaar, die liefde waarin ons moet kan wegraak. Die liefde wat ons moet gaan soek. Wat deur die eeue in spiritualiteit en mistiek as die diepste ervaring van die verlangende hart uigespel is.

'n Kursus in Bybelse Spiritualiteit?

Die akademiese werk het iewers in die grein van my bestaan ingetrek: Dit was werk wat op akademiese manier oor wesenlike ervaringe gegaan het - oor daardie Liefde wat aanraak, eers met 'n skok, met 'n vuurgloed. Nooit weer kan die een wat geraak is, daarsonder nie. Dan begin 'n unieke lewenslange groei-proses - weg van jouself, om uiteindelik totaal deel te word van die Liefde wat die volmaaktheid sal gee.

Maar die groot en finale vereniging met die goddelike Liefde wag nog op ons. Dit is 'n moeilike reis wat ons intussen moet afhandel, dikwels gevul met ons verraad van die Liefde, dikwels verduister deur die Liefde wat na ons gevoel vir ons wegkruip, wat na ons gevoel skuil agter die gordyn van ontoeganklikheid. Dit is 'n reis met vallei-tye - dikwels veel meer as die piek-tye.

En tog bly 'n mens al reisende op soek na die Liefde. Dit is 'n vreemde liefde - hierdie liefde wat so anders is as alles wat ons gewoonlik as liefde verstaan, hierdie liefde wat so verborge, so uitgelewer, so ongerekend op ons wag.

Die liefde is so vreemd omdat dit nie foute uitwys nie, omdat dit won in 'n hart wat stukkend geskeur word wanneer dit onreg ervaar, omdat dit nie eie-belang soek nie, omdat dit nie al die kwaad wat jou aangedoen is, onthou en weerwraak beplan nie, omdat dit nie onwaardig optree nie. En juis daarom so goddelike en so aantreklik is.

En tog - dit is wat ek vir my in alles waarmee ons besig was oor die twee jaar, vanaand wil oorhou: verby die graad-sertifikaat, die goeie punte, die intense besprekings, is daar die dieper vraag en soeke na wat werklik saak maak. Die akademiese werk is 'n heenwyser hierna.

Ek besef ook weer hoe klinies akademiese studie kan word as dit nie telkens weer in wissel-werking met die ervaringe van mense staan nie. Aan die einde van hierdie Pinkstertyd, is daar een groot indruk wat by my bly uit alles wat ek ervaar: die lewensreis is 'n reis waarin ons telkens weer tot op die been verwond word. Die pyn van mense wat God se pad loop, kan soms ondraaglik groot wees - veral omdat ons hoor van die goddelike liefde en verlangend vra dat ons tog 'n smakie van daardie liefde gegun sal word - en dan gebeur dit vir ons gevoel nie.

Al die kursusse op die aardbol kan hierdie liefde nie vir ons bewerk nie. Maar ons kan tog uit die ervaring van die groot mistici en spiritualiteitskrywers hoor hoe die lewensreis van verwonding 'n geestelike reis kan word.

En telkens weer, telkens weer, vertel hulle vir ons dat ons op pad is na die Liefde. Ons verstaan soms, as ons hulle lees, hoe reg hulle is: die wonde van ons lewensreis kan nie die helder oomblikke verduister nie - daardie oomblikke wanneer ons God se aanraking ervaar. Of ons hoor hulle vertel dat die tye van verwonding en verduistering vir ons laat besef hoe naby ons aan God moet bly. Of dat die wonde ons laat vashou aan die hoop op die tye van verkwikking wat moet kom. Of dat ons wonde uiteindelik ons laat groei...

In Bybelse spiritualiteit is ons op reis met mense wat soos ons deur 'n spieel in 'n raaisel gesien het....

Tuesday, May 18, 2010

Die broosheid van ons kommunikasie

Hy vertel my hoedat die mense in sy kantoor ingekom het en sommer op die stoel gaan sit het. Om alles te kroon, vou hulle hul arms arrogant en kyk hom nie in die oë nie.

Dikwels het hy hulle sommer net daar gepak en vertel hulle moet opstaan, niemand het hulle die reg gegee om sommer in die stoel plat te val nie. En, sê hy vir hulle, hulle moet nie so skelm hulle oë afslaan nie. Hy wil hê hulle moet hom reguit in die oë kyk. Maar, voeg hy vir oulaas by, as julle dan wel in my stoel gaan sit, moenie so arrogant met toegevoude hande sit nie.

Later, veel later, het hy tot sy ontnugtering ontdek dat hy hulle optrede nie verstaan het nie. In hulle kultuur staan ‘n mens nie regop voor iemand vir wie jy respek het nie. Jy gaan sit en dan sit jy so dat die een vir wie jy respek het, se kop bokant joune is. En uit eerbied vir die persoon kyk jy hom nie in die oë nie. Laastens, vou jy jou hande onder jou arms in om te wys dat jy kom in vrede. Jy wil nie baklei nie. Daarom steek jy jou vuiste onder jou arms weg.

Hy het nie verstaan dat sy besoekers hom presies gegee het waarna hy gesoek het. En terwyl hy gedink het hulle dit nie doen nie, het hulle hom inderdaad op ‘n eerbiedwaardige manier behandel. Terwyl hy geglo het hulle is arrogant en onbeskof, het hulle in werklikheid aan hom respek betoon.

Dis nie so nuut om dit te hoor nie. Maar die persoon wat dit vir my vertel, deel met my ‘n begeerte om beter te kan kommunikeer. Hy sou wou dat die misverstand nooit gebeur het nie. En hy weet hoedat baie van die erge konflik tussen mense ontstaan omdat ons mekaar nie regtig ken nie. In een land, in een gemeenskap leef ons so ver van mekaar dat ons die mees basiese vorme van kommunikasie nie deel nie. En die gebrek aan kommunikasie maak die afsondering, die verwydering en die wantroue net soveel erger.

Ek is geboeid deur die manier waarop hy oor sy eie gedrag praat – die nugtere self-ondersoek, die sensitiwiteit vir sy eie gebreke, die frustrasie oor sy eie onvermoë om kulturele verskille te waardeer. Dié man is groot in die manier waarop hy soek om verby sy beperkthede te groei tot groter volwassenheid.

Maar, besef ek verder nog ook terwyl ek na hom luister en verryk word deur die kennis wat hy opgedoen het, hoe spesiaal is mense tog nie: op watter klein maniere kan ons tog vir mekaar tekens gee wat ons van mekaar dink. Net die manier waarop ons sit en die manier waarop ons na mekaar kyk, kan wêrelde van betekenis ontsluit.

Ons besoek hier oorweldig my aan indrukke. Ek word verryk deur die mense wat ek ontmoet. Ek is geseënd en verras deur die mense-skatte in ons land. En hoe mense elke dag maar weer tog meer kan verander as wat ons dink – en volwasser, sterker mense word.

Monday, May 17, 2010

Om te leef uit God se ontferming

Ek dink vanaand verder oor God se ontferming. Uit my leeswerk loop ek op die spoor van die motief van ontferming in die Bybel. Ek het reeds daaroor geskryf. Maar wat my vanaand tref is dat ontferming niks met jammerte te doen het nie.

En, besef ek, toe ek Nouwen verder hieroor lees, hoedat goddelike ontferming tot gebroke mense kom.

Dit kom nie maklik nie.

Ons maak dikwels aanspraak op God se ontferming asof ons daarop geregtig is weens ons tragiese lot. Dan sien ons onsself as slagoffers van pyn wat ander oor ons bring of wat deur die noodlot oor ons pad gekom het. Ons kla oor alles wat in die wêreld fout gegaan het, oor die verskriklike tye waarin ons lewe en hoe boos ons wêreld is.

Ons steek soms vas in diepe self-bejammering. En God deel ontferming uit, nie simpatie of jammerte nie.

God skenk nie ontferming aan die trotses en self-bejammerendes nie.

As ons wil leef uit God se ontferming, moet ons besef dat wat fout is in ons lewens en in ons wêreld, ons skuld is en dat ons daarvoor verantwoordelikheid moet neem. Ons kan nie op goddelike ontferming aanspraak maak as ons nie ons skuld erken nie en die mens se keuse vir die kwaad miskyk. Ons is skuldig daaraan dat ons God in ons lewens verloor het, maar weet ook die wêreld lyk soos dit lyk omdat mense nee vir God se liefde sê.

Die tollenaar wat uitgeroep het: “Kurie eleison,” “Here, ontferm U oor my,” was ‘n ryk, bevoorregte mens wat ‘n welvaartslewe sonder God gelei het. Op ‘n stadium het hy besef dat God nie in sy lewe het nie. Hy kon die Fariseërs se hardvogtigheid teenoor hom blameer het. Of die Romeine wat hom in diens geneem het. Of allerhande maklike redes.

Maar hy het sy skuld ingesien, ervaar en bely. Hy het verantwoordelik aanvaar vir sy eie pyn. Hy speel nie die blameer-trom nie.

Ons lewe so hard, so genadeloos – net soos wat hierdie wêreld vir God nee gesê het. Ons moet daarom ons verantwoordelikheid aanvaar vir die pyn in die wêreld. Ons doen dit deur ‘n lewe van vergifnis, vrede en liefde te soek. Daarom kyk ons ons gemeenskappe en ons wêreld in die oë en soek in ontferming na God se nuwe wêreld.Ons erken ons eie aandeel in die sondigheid van die wêreld en word dan gereed om God se genade en ontferming te ontvang.

Evagrius van Pontus het reeds in die vierde eeu n.C. vir jongmense wat die geestelike weg begin aangeraai om deur die trane-gebed, die besef van eie gebrokenheid en sondigheid te soek om sodoende te kan roep om God se ontferming. God se ontferming kom tot hulle wat in berou hul aandeel aan sonde erken.

Dit gaan oor self-implikasie. Oor die regte ingesteldheid. Oor die besef dat die verhouding word aangeknoop met hulle wat biddend, verlangend oop is vir die goddelike aanraking en liefde.

Ons geestelike verlamming is dus nie 'n verrassing nie. Dit kom onvermydelik oor die pad van mense wat nie weet wat ontferming is nie.

En as ons nie God se genadige ontferming ervaar nie - hoe kan ons ons dan oor hierdie aarde ontferm? Wie kan ontferming leef as hy of sy nie ontferming ken nie?

Sunday, May 16, 2010

Van die wingerde tot afval.

Op pad vanaf Stellenbosch na Vryburg om by Phillip Pinkster te hou, ry ons deur die mooiste dele van ons land. Die geografiese reis word 'n geestelike reis.

By De Doorns is die goud van die rotsformasies en die groen van die wingerde met so 'n rapsie reenboog, sag op 'n mens se oog. Jy wil dit byhou, bedink en saam met jou neem:







Duskant Beaufort-Wes sien ons toe hoe Moedhou toe nie gewerk het nie.....





Die Karoo is ene ruimtes, wyd, uitgestrek, oneindig - wat my herinner aan Kierkegaard se bankie waar hy gaan sit het om uit te kyk oor die see, want, het hy geskryf, dit is dan dat hy bewus word van God se oneindigheid.







Duskant Hopetown hou ons stil om hierdie vet skape af te neem. Wat 'n boer! En skaap se kind is nie net goed gemes nie, hy het ook 'n interessante nuwe skeerstyl. Ek bewonder, soos ons al langs die Oranje-rivier ry, die vernuf van ons boere-gemeenskap. Dit is lekker om te weet hulle kyk goed na die land en na hul diere. So in die ry, bid ek dat die Here hulle sal seën. Dit is vir hulle nie maklike tye nie.








Duskant Vryburg, by Taung, hou ons stil by Tebiso se stalletjie. Hy nooi my uit om African Food te geniet. Dit is afval, met harsings. Hy hou dit in 'n groot emmer, wat hy in die driepoot-pot uitgooi toe ons daar is. Hy doen duidelik goeie besigheid. Die klandisie staan al en wag, al is die vuur pas eers aangesteek. Tebiso vertel vir my trots hy is nou al 7 jaar in die bedryf.

Later vertel Phillip van die dominee wat tydens die afkondigings dat die tannies van die ouetehuis afval verkoop, skalks bevoeg dat hy hoop hy word nooit so honger dat hy afval hoef te eet nie. Die tannies was glo nie met hom tevrede nie.

Ek dink Tebiso was ook maar teleurgesteld in my....











Ek besef met hierdie reis hoe my hart hier woon - in hierdie plek van ons. Ons ontvang mildelik en mildadig.

Blog Archive