Friday, May 14, 2010

Wat is kontemplasie?

Bede Griffiths skryf in sy outobiografie hoe hy sy geestelike reis geloop het – vanaf sy jeugervaring toe hy op ‘n dag in die natuur was en bewus geraak het van iets diepers en besonders (sien vorige blog). Hy vertel hoe hy gegroei het van iemand wat een of ander spesiale belewenis in sy natuur-ervaring gehad het, maar feitlik niks aan die Christendom en aan geloofsinhoude gehad het nie. Met die tyd het hy begin groei. Hy het byvoorbeeld op ‘n stadium die Bybel begin verslind en die skoonheid daarvan as ‘n deurwinterde, gelouterde heilige boek van die geloof besef. Nog later het hy, wat min gebid het, die spesiale rol van gebed besef. Soveel so, dat hy maklik twee uur op ‘n keer gebid het. Een van die heel spesiale ervarings in sy lewe skryf hy, was toe hy die oggend begin bid het, intens bewus geraak het van God se teenwoordigheid by hom en eers teen vier uur die middag sy gebed voltooi het. En mettertyd het hy ook die spesiale rol van die kerk begin insien en waardeer. Daar was dus konstante groei en verdieping in sy geloof.

Ek is nou besig met hoofstuk nege wat hy skryf oor “die werk van God.” Daar is iets dringends in my gemoed oor wat hy in hierdie hoofstuk skryf wat my besig hou en boei.

Hy skryf naamlik dat die monastieke bestaan (hy het by ‘n klooster aangesluit), normaalweg as ‘n “kontemplatiewe lewe” beskryf is. Kontemplasie is deesdae ‘n sentrale begrip in spiritualiteit en mistiek. En daar is baie mense wat intens daarin geïnteresseerd is – veral in Protestantse kring waar kontemplasie nooit bewustelik as lewenswyse of as geestelike bestaanswyse onder bespreking is nie. Onder Protestante is ons naby aan kontemplasie in dinge soos heiligmaking, maar ons ken nie eintlik begrippe soos kontemplasie nie.

Daar is mense wat kontemplasie as een of ander ekstatiese toestand beskou waar ‘n mens in ‘n trance ingaan. Hulle dink aan kontemplasie in die Oosterse sin as ‘n toestand van volmaakte stil-wees of kalmte. Skryf Griffiths, wat later in Indië ‘n Christelike ashram sou begin (die Engels-Afrikaanse woordeboek het nie eers die woord Ashram nie), die teendeel is waar van kontemplasie: die kontemplatiewe lewe is gelaai met onophoudelike aktiwiteite. In sy klooster was die kontemplatiewe lewe gelaai met duisende dagtake in die huis, die tuin, die werkswinkels, selfs die kerk en ander plekke. En mense wat die film Into Great Silence gesien het, sal onthou dat in daardie uiters streng monastieke orde, die monnikke inderdaad besonder aktief in hul handewerk was, al het hulle dit alles in stilte gedoen.

Dit het hom ‘n rukkie geneem, skryf Griffiths, om die ware aard van kontemplasie te leer ken – al het hy deel geword van ‘n kontemplatiewe leefstyl. Hy skryf:

“Kontemplasie is ‘n dinkgewoonte wat die mens in staat stel om gedurig bewus te bly van God se teenwoordigheid. En die mens is ingestel op hierdie bewussyn van God waar hy of sy ook al werk of is. In hierdie sin is kontemplasie die ware doel van die Christelike lewe.”

Die geestelike reis, dus, is om gedurig oop en ingestel te wees vir God se teenwoordigheid. “Maar,” voeg Griffiths by, dit is duidelik dat ‘n mens dit nie sonder oefening kan doen nie. Die kloosterlewe wil daarom die monnik help hiermee deur die monnik se lewensstyl op ‘n bepaalde manier te organiseer. Alles wat in ‘n klooster gebeur is daarom ingestel daarop om die gelowige by te staan om God voor oë te hou.

En hierdie styl het homself oor en oor bewys: Dit is ‘n eeu-oue leefstyl wat tot in die vroegste tye teruggaan en ‘n baie eenvoudige karakter het.

Griffiths beskryf dan die verskillende godsdienstige geleenthede wat in die klooster georganiseer word om mense in hul kontemplatiewe lewe te ondersteun. Die hele dag word in drie-uur eenhede verdeel met ‘n gebedsdiens wat hierdie eenhede aanmekaar bind en stuur. Ses-uur, nege-uur, twaalf uur, drie-uur, ses-uur en nege-uur word daar sulke dienste gehou. Daarbenewens is daar tussen vier en vyf in die oggende die Waak-diens.

Die dienste is Bybelgerig. Hulle fokus op die Psalms en die hele boek van die Psalms word in ‘n week se tyd deurgewerk.

Die dag van ‘n monnik vloei dus tussen gebedsdiens rondom die Woord en gewone aktiwiteit.

Griffiths skryf: “Die leidende beginsel van die lewe in die klooster is dat daar niks is wat nie heilig is nie. ‘n Mens dien God net soveel wanneer ‘n mens eet, werk of studeer as wanneer ‘n mens aan ‘n gebedsdiens deelneem.” Die eenvoudigste handelinge van eet, drink, was, opwas, loop, sit, gaan rus en opstaan het ‘n sakramentele karakter. Al hierdie handelinge wys heen na iets diepers. ‘n Mens ontwikkel op die manier ‘n harmonie met jou omgewing en met die wette van God wat in die natuur weggelê is.

Terwyl ek hierdie opmerkings van Bede Griffiths lees, bedink ek die begrip van kontemplasie. Dit het duidelik te doen met die belewing van God te midde van alles wat ‘n mens mee te doen kry. Maar – hierdie belewing val nie sommer uit die lug nie. ‘n Mens moet ‘n lewensstyl hê wat ‘n mens aanhelp hiermee. Daar moet ‘n patroon en ‘n ritme wees wat ‘n mens in die gewoonte bring om te soek om elke oomblik te heilig. Dit word dus ‘n meditatiewe, oratiewe lewensstyl. Gedurig dink ‘n mens na oor waarmee ‘n mens besig is, bid ‘n mens terwyl jy besig is. En altyd weer doen ‘n mens dit om oop te wees vir daardie oomblik, kosbare tye, dat God in genade uitreik en ‘n mens aanraak.

Die bekende Jesus-gebed is een van die praktiese maniere waarop, vanuit ‘n oratiewe hoek, die bewussyn en openheid vir God se binnekoms in ‘n mens se lewe gekweek word. Dit is ‘n variasie op die baie ou Kurie eleison-gebed wat gebid word juis te midde van die besigste tye van die dag. ‘n Mens wil in die alledaagse lewe waar ‘n mens nie die ondersteuning van ‘n kloosterlewe het nie, sulke stutpunte inbou wat ‘n mens help om jou bestaan te heilig. Die Jesus-gebed is ‘n baie eenvoudige manier om vir ‘n oomblik vir die kontemplatiewe sfeer oop te word.

En tog, as ek Bede Griffiths lees, veral sy fel kritiek teen ons Westerse lewensstyl waarin die menslike gesig al hoe meer verduister word en alles gemeganiseerd word, wonder ek of die Jesus-gebed nie dalk ook ‘n kits-oplossing word nie. Terwyl dit waar is dat ons te midde van ons gejaagde programme alles moet vashou wat hierdie program kan heilig, is dit ook waar dat ons uiteindelik alleen maar vrede vind wanneer ons dit met al ons kragte najaag. En tyd maak daarvoor. En ons besige programme afskaal. En eenvoudiger leef. En gesonder eet. En nie toe te laat dat ons werk ons lewe bepaal nie, maar dat ons soeke na God ons werk bepaal. En tyd maak vir ons soeke en oop-wees vir God.

Bede Griffiths vertel op ‘n plek hoe hy die waarde van gebed herontdek het, maar voeg dan by dat hy besef het hoe belangrik dit is om te kniel terwyl ‘n mens bid. Terwyl ek dit gelees het, dink ek aan die goedkoop raad wat ‘n mens soms hoor: in ons besige program, word dan gesê, kan ‘n mens net sowel agter die stuur van jou motor bid of wanneer jy skottelgoed was. Daarom gaan dit vir my nie net om hoe lank jy bid nie, maar ook hoe ‘n mens bid – met watter houding, instelling, gerigtheid. Ons kan nooit genoeg doen om ons lewe op God in te stel nie. Trouens, vir die kontemplatiewe mens het die wêreld spesiale betekenis omdat dit aan God behoort.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive