Thursday, May 13, 2010

Volmaaktheid as praksis. Oor die teenwoordigheid van God in 'n polisie-sel in Kaapstad op 'n koue wintersdag

In vanoggend se Burger is daar ‘n artikel van Franklin Sonn oor Aartsbiskop Tutu. Hy reageer op ‘n onlangse onderhoud met Tutu in die koerant. Ons moet krities staan, het die aartsbiskop gesê, oor wat in ons land fout gaan. Maar ons moet ook steeds weer onthou dat nie alles in ons land verkeerd gaan nie. Ons moet steeds weer dankbaar wees oor die goeie dinge. En ons kritiek moet in daardie konteks funksioneer.

Ons leef in ‘n tyd van diepe onvergenoegdheid. Daar is diepe ongelukkigheid, selfs woede en opstandigheid. Die emosies loop hoog.

Ek was nou ‘n week in Engeland. In hierdie kort tydjie het ek agtergekom dat dinge baie skeef loop in Europa. Griekeland is bankrot. Daar is grootskaalse en woedende betogings waarin mens sterf. Spanje en Portugal is in groot moeilikheid. Ierland is ook op ‘n gevaarlys, Europese lande leef ver verby hul vermoë. Daar is kommer oor Engeland se geldsake. Daar is korrupsie selfs tot in die Engelse parlement. In gesprekke vertel mense van die ellende in skole en universiteite. Die kilheid en onverskilligheid van mense in Europa is ‘n herhalende gespreksonderwerp. Xenofobie, groepvorming, opstand teen leiers, gemaksug is aan die orde van die dag. En hierdie lysie kan nog baie langer gemaak word.

En dan dink ons dit gaan sleg met ons.

Ek lees dus die artikel in die koerant met instemming. Ons oë is toe vir ons seëninge. Ons is besig om harde mense met kil harte te word.

Die ou Halleluja kom deesdae dikwels by my op: tel jou seëning, tel hul een vir een. Seëninge jou deur God verleen. Tel hul almal, tel hul een vir een. En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk.

Ons ingesteldheid is fout.

Hoe nou gemaak? In die berig vertel Sonn die volgende anekdote: Aarstbiskop Tutu, vertel Sonn, is in die laat tagtigerjare in ‘n groot, onwettige optog in hegtenis geneem en saam met Sonn opgesluit in die Kaapstadse polisieselle. Op die koue wintersdag trek hy sy jas oor sy kop en begin prewelend te bid.

Skryf Sonn: “Dit was ‘n lang en smartlike dag waarop die polisie hulself klaaglik vergryp het. Bitterheid teenoor ‘n staat wat hom so buitensporig gedra, het soos ‘n donker wolk oor ons gehang.”

Maar, vertel Sonn verby hierdie polisie-vergrype en bitterheid dan: “Ná ‘n lang tyd word met polisieverlof verversings aan ons uitgedeel. Ek tik eerbiedig op die skouer van die steeds prewelende aartsbiskop om hom mee te deel dat daar iets te ete is. Hy kyk op en vra tot my verstomming of die bewaarders en polisie ook bedien is, waarna hy ook sal eet.”

Stel jou voor, hierdie toneel: Die aartsbiskop wat met die Here praat, kop onder sy jas, in polisie-selle, in wintertyd, na ‘n lang dag van geweld, opstand, vergrype en lewensgevaar. Hy moet uit sy gebed gehaal word. Hy praat met die Here in winterkoue wat tot in die harte van mense deurdring.

En, as hy dan opkyk, is die eerste ding wat hy doen, tot “verstomming” van Sonn, om vir die polisie om te gee. Hy is meer ingestel op die polisie as vir homself. Meer bewus van hulle as van sy eie honger en koue. Hy sal nie eet, skryf Sonn, voordat die polisie nie bedien is nie!

Ontferming. Om jouself te vergeet, selfs ter wille van jou vyande. En, dink ek later, watter menslikheid sit daar ook in die optrede van die polisie dat hulle bereid is om kos te laat uitdeel.

Maar Sonn se verhaal is nie klaar nie. Na ‘n lang tyd word Tutu en die ander vrygelaat, maar hy vra om eers met die polisiehoof te praat. “In ‘n bedaarde stem” bedank Tutu hom omdat hy billik in die uitvoering van sy pligte was. Hy het immers toegelaat dat hulle iets te ete kry.

Maar dan volg die sin: nadat hy gepraat het, het Tutu oor die polisiehoof en - nota bene - sy gesin die seën uitgespreek.

Ek hoor in my stilligheid Tutu se stem in die tronk in Kaapstad in die koue wintersdag na ‘n harde dag vol lewensgevaar: “May the Lord bless and keep you....” Terwyl almal seker net huis toe wou gaan... Ek hoor dit, want in my kontak met mense uit die Anglikaanse tradisie, het ek dikwels hierdie ervaring gehad.

Seën hulle wat jou vervolg.

In tye van boosheid, kwaad, woede, opstandigheid moet ons herinner word aan die menslikheid agter al hierdie dinge.

Ek sou graag wou weet wie die polisiehoof was en wat die gebeurtenis aan hom gedoen het.

Maar dit is nie regtig die belangrikste nie. Terwyl ek die berig lees en sien hoe hierdie biddende man al sy eie ellende kan transendeer om die Ander raak te sien, gebeur iets met my.

Die woorde van Jesus: jy moet jou vyande lief hê, kry nuwe betekenis. En heel prakties – jy moet vir hulle bid. Seën dié wat jou vervolg.

Ek sien hoe mense daardie opdrag wél kan uitvoer. Dit is moontlik om volmaak te wees. Soos ons Vader in die Hemel – en ons Leermeester en Here. Vandag nog, eeue nadat die goue woorde uitgespreek is, kan hulle met krag ‘n verskil maak aan mense se lewens.

En hoe merkwaardig - dat 'n leeftyd nadat jy as godsdienstige leier jou Here gehoorsaam deur die Wet van die Here na te kom, die getuienis daarvan in vele huise weerklink. Wat daardie bitter dag in die Kaapstadse polisie-selle gebeur het, is nie meer net Sonn se geestesgoed nie. Dit word 'n inspirasie, maar veral ook 'n teregwysing aan ons as die volmaakte kritikasters. Dit word 'n oproep tot volmaakte liefde. En des te meer omdat ons sien hoe 'n geestelike leier nie net praat nie, maar uitleef - in praktiese gehoorsaamheid. God vra, en ons moet doen. Teen ons beterwete in.

Maar waar so iets gebeur, weet ons, is, op 'n boeiende, mistieke wyse, God teenwoordig in ons lewens en op ons aarde.

Dit is goed om die dag só te begin. Al lesende, in die koerant van alle plekke, van die krag van die Woord oor eeue heen. Ek is geseënd.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive