Tuesday, May 18, 2010

Die broosheid van ons kommunikasie

Hy vertel my hoedat die mense in sy kantoor ingekom het en sommer op die stoel gaan sit het. Om alles te kroon, vou hulle hul arms arrogant en kyk hom nie in die oë nie.

Dikwels het hy hulle sommer net daar gepak en vertel hulle moet opstaan, niemand het hulle die reg gegee om sommer in die stoel plat te val nie. En, sê hy vir hulle, hulle moet nie so skelm hulle oë afslaan nie. Hy wil hê hulle moet hom reguit in die oë kyk. Maar, voeg hy vir oulaas by, as julle dan wel in my stoel gaan sit, moenie so arrogant met toegevoude hande sit nie.

Later, veel later, het hy tot sy ontnugtering ontdek dat hy hulle optrede nie verstaan het nie. In hulle kultuur staan ‘n mens nie regop voor iemand vir wie jy respek het nie. Jy gaan sit en dan sit jy so dat die een vir wie jy respek het, se kop bokant joune is. En uit eerbied vir die persoon kyk jy hom nie in die oë nie. Laastens, vou jy jou hande onder jou arms in om te wys dat jy kom in vrede. Jy wil nie baklei nie. Daarom steek jy jou vuiste onder jou arms weg.

Hy het nie verstaan dat sy besoekers hom presies gegee het waarna hy gesoek het. En terwyl hy gedink het hulle dit nie doen nie, het hulle hom inderdaad op ‘n eerbiedwaardige manier behandel. Terwyl hy geglo het hulle is arrogant en onbeskof, het hulle in werklikheid aan hom respek betoon.

Dis nie so nuut om dit te hoor nie. Maar die persoon wat dit vir my vertel, deel met my ‘n begeerte om beter te kan kommunikeer. Hy sou wou dat die misverstand nooit gebeur het nie. En hy weet hoedat baie van die erge konflik tussen mense ontstaan omdat ons mekaar nie regtig ken nie. In een land, in een gemeenskap leef ons so ver van mekaar dat ons die mees basiese vorme van kommunikasie nie deel nie. En die gebrek aan kommunikasie maak die afsondering, die verwydering en die wantroue net soveel erger.

Ek is geboeid deur die manier waarop hy oor sy eie gedrag praat – die nugtere self-ondersoek, die sensitiwiteit vir sy eie gebreke, die frustrasie oor sy eie onvermoë om kulturele verskille te waardeer. Dié man is groot in die manier waarop hy soek om verby sy beperkthede te groei tot groter volwassenheid.

Maar, besef ek verder nog ook terwyl ek na hom luister en verryk word deur die kennis wat hy opgedoen het, hoe spesiaal is mense tog nie: op watter klein maniere kan ons tog vir mekaar tekens gee wat ons van mekaar dink. Net die manier waarop ons sit en die manier waarop ons na mekaar kyk, kan wêrelde van betekenis ontsluit.

Ons besoek hier oorweldig my aan indrukke. Ek word verryk deur die mense wat ek ontmoet. Ek is geseënd en verras deur die mense-skatte in ons land. En hoe mense elke dag maar weer tog meer kan verander as wat ons dink – en volwasser, sterker mense word.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive