Monday, October 30, 2006

Spiritualiteit: Jan van die Kruis - kommentaar: inleiding (1)

Vertaling van die inleiding tot die kommentaar op Jan van die Kruis se Stansas van die siel:

"Hier begin die verklaring van die stansas wat handel oor die houding en die handelswyse van die siel op die weg van die vereniging in liefde met God. Deur Jan van die Kruis, 'n broeder van die ongeskoeide karmeliete.

"Voordat ons begin met die verklaring van hierdie stansas, is dit goed om te weet dat die siel hulle sing wanneer hy hom reeds in die volmaaktheid bevind. En die volmaaktheid is die vereniging in liefde met God. Die siel het reeds al deur kwellende beproewinge en benouenisse gegaan deur die geestelike inoefening van die smalle weg na die ewige lewe waaroor ons Verlosser in die evangelie praat (Mt.7:14). Dit is die weg wat die siel gewoonlik bewandel om te kom tot hierdie besondere en vreugdevolle vereniging met God. Omdat die weg so smal is en so weinig lang hierdie weg binnegaan - soos die Here ook meld (Mt.7:14) -, ervaar die siel dit as 'n groot vreugde en groot voorspoed dat hy langs hierdie weg tot hierdie volmaakte liefde gekom het, soos dit in die eerste lied besing word. Daarbenewens noem die siel hierdie nou pad heel gepas "donker nag," soos dit ook later in die verse van hierdie lied verklaar sal word.
Verheug dat hy hierdie pad geloop het wat soveel goed vir hom opgelewer het, praat die siel as volg."

Notas:
In hierdie kommentaar word uitdrukking gegee aan 'n spesiale ervaring wat die komponis van die stansas gehad het. Met die stansas wil hy die leser inspireer om ook vir so 'n belewenis oop te wees. Dit is 'n spesifieke en gefokusde ervaring van "volmaaktheid" wat op 'n spesiale manier beskryf word as die vereniging in liefde met God - en ook, 'n paar sinne later as die "volmaakte liefde." Hier gaan dit dus om 'n unieke, besondere liefde wat buite die normale is, wat daarom goddelik is in karakter. Uiteindelik is dit wat vreugde gee, dit wat uniek is, dit wat die hart van die mistiek uitmaak, om "in liefde" by God te wees.

Dit is ook verder nie 'n goedkoop, maklike ervaring nie, want die reis na die liefde van God loop 'n moeilike, berg-op paadjie. Dit is ook nie 'n gewilde, sensasionele ervaring nie, want nie baie mense begeer dit nie. Min hou vol op hierdie kronkelende, uitmergelende reis - dit is iewers soos om in die donker op pad te wees. Die ervaring word net deel van hulle wat as gelowiges bereid is om 'n moeilike, ongewone en ongewilde pad te loop.

Die reis is taai, maar die uitkoms spesiaal: as 'n mens dit goed bedink, besef jy dit gee vreugde en voorspoed.

Van spesiale belang is die aanhaling van Matteus 7:14: dit is 'n gedeelte uit die bergrede as beskrywing van Jesus se program vir sy bediening. Met hierdie interpretasie verbind die gedeelte Jesus se bediening met die ervaring van God se unieke liefde waarna die mens hom of haar moet uitstrek. Dit is nie 'n boodskap oor moralisme nie, dit is nie 'n harde, moeisame pad omdat 'n mens jou so inspan nie. Dit is eerder 'n donker reis omdat dit al die menslike vergroeisels wat die verskynsel van egte liefde bedek, moet wegsny en stroop om ons die ander, volmaakte ervaring van die liefde te laat beleef. Dit is in lyn met Jesus se boodskap dat 'n mens jou bekeer van al jou gevestigde norme en sekerhede om in lyn te kom met wie God is en wat God aan 'n mens gee. En juis daarin gee jy jou oor aan die onsekerheid van die donker, onbekende reis waarheen God jou wil neem en waarvan jy as mens nie die uitkoms kan voorsien nie - alleen maar dat dit 'n reis na die egte, volmaakte liefde is. Die liefde kom nie na 'n mens sonder risiko's nie!

Daar is wonderlike kontraste in die gedeelte: Die pyn van die reis, (kwellende beproewinge en benouenisse) word verbind met vreugde, voorspoed, liefde. Die Christelike reis is nooit triomfantlik nie, 'n spoggerige optog van uitstallerigheid nie. Dit is baie duurder en duursamer - daarom maak dit 'n mens dikwels eensaam, word dit pynlik, maar is dit juis nie sonder vreugde en geluk nie. Die pyn is dus 'n genesende pyn en die vreugde is 'n geluk wat in God gevind word. Daarmee word 'n mens gestroop van wie jy nie behoort te wees nie en omvorm om te deel in die liefdevolle karakter van God.


Hierdie vertaling volg die Nederlandse teks waarna voorheen verwys is. (c) Pieter G R de Villiers

Lyding: Henri de Lubac

"As their refinement and humaneness increase, men invent more and more new ways of making one another suffer - or of tormenting themselves. So, always, is suffering reborn, keener still, from all that tends to extirpate it."
Henri de Lubac, Uit Paradoxes of Faith (San Francisco: Ignatius, 1987, p.171).

Hoe verder ons ontwikkel en hoe mensliker ons raak, hoe meer kreatief en vindingryk word ons in die kuns om ander te laat ly of om onsself te tormenteer. Op die manier word lyding keer op keer herbore, net 'n bietjie meer kragtiger, uit alles wat neig om dit uit te wis.

God, dit wat juis bedoel is om my verby die kwaad te laat beweeg, dit wat my meer na mens laat lyk, dit is ook die voedingsbodem van die pyn wat ek in ander en in my veroorsaak. Terwyl ek smag daarna om lyding te ontsnap, te keer, te oorwin deur sensitief daarvoor te wees, vind ek steeds maar net weer nuwe maniere uit om houe uit te deel. Ek soek dus nie na meer menslikheid nie, na meer groei nie, want hoeveel ek ook daarvan sou besit, sou dit my nie bevry van my inherente drif om seer te maak nie. Meer verstand, kennis, insig, gebed, preke, niks sal my ooit daarvan bevry nie. Die lyding is in my kyk, my blik, my sagte strelende woord, my liefderike woorde.

Hoe, Here, hoe gemaak? Hoe raak ek ooit van hierdie onvryheid bevry? Neem my saam met U as U met my op reis na die plek van vryheid neem.

Neem my saam met U deur hierdie donker nag van die siel.

Thursday, October 26, 2006

Die donker nag


Ek lees Jan van die Kruis, die Spaanse Karmeliet se klassieke en beroemde "Donker Nag" op die oomblik. Hy het geleef in die tweede helfte van die sestiende eeu, was 'n vriend van die ewe bekende spiritualiteitskrywer Teresa van Avila. Na 'n wrede inkerkering deur sy opsieners omdat hy die Karmelitiese orde wou hervorm, sit hy sy hervormingsbeweging voort en stig hy die ongeskoeide Karmeliete-orde.

Die nuutste Nederlandse vertaling van die Donker Nag is 'n teks wat in 2001 gepubliseer is deur SUN / Carmelitana. Die vertaling self is deur Cees Bartels, Marika Meijer en Kees Waaijman met 'n inleiding deur Hein Blommestijn.

Maar hier in die eerste mededeling wil ek net eers die "Stansas van die Siel" wat die uitgangspunt van die kommentaar neerskryf voordat ek dit van naderby bekyk. Die Engelse weergawe kry ek by http://www.karmel.at/ics/john/dn.html uit THE COLLECTED WORKS OF ST. JOHN OF THE CROSS, translated by Kieran Kavanaugh, OCD, and Otilio Rodriguez, OCD, revised edition (1991). Copyright 1991 ICS Publications. Die Afrikaans is my weergawe, met gebruik van die Nederlandse vertaling.


Stanzas Of The Soul
1. One dark night,
fired with love's urgent longings
- ah, the sheer grace! -
I went out unseen,
my house being now all stilled.

Op 'n donker nag
aangevuur deur liefde se diep hunkeringe
- o suiwer genade! -
het ek ongemerk uitgeglip
toe alles in my huis tot rus gekom het.

2. In darkness, and secure,
by the secret ladder, disguised,
- ah, the sheer grace! -
in darkness and concealment,
my house being now all stilled.

In donkerte,
veilig by die geheime leer, vermom
- o suiwer genade! -
in donkerte en verborgenheid
toe alles in my huis tot rus gekom het.

3. On that glad night,
in secret, for no one saw me,
nor did I look at anything,
with no other light or guide
than the one that burned in my heart.

Op hierdie blye nag
in die geheim, want niemand let op my nie,
en ek let op niks nie,
met geen ander lig of gids
as wat in my hart gloei nie.

4. This guided me
more surely than the light of noon
to where he was awaiting me
- him I knew so well -
there in a place where no one appeared.

Dit het my gelei,
helderder as die son op die middaguur,
na waar hy op my gewag het
hy met wie ek so vertroud was,
op 'n plek waar niemand ooit kom.

5. O guiding night!
O night more lovely than the dawn!
O night that has united
the Lover with his beloved,
transforming the beloved in her Lover.

O nag, jy wat my gids is!
O nag, skoner as die oggendstond!
O nag, jy skep 'n band van eenheid
tussen beminde en beminde,
en omtower beminde in beminde.

6. Upon my flowering breast
which I kept wholly for him alone,
there he lay sleeping,
and I caressing him
there in a breeze from the fanning cedars.

Aan my bors, in volle bloei,
wat ek uitsluitlik vir hom behou het
het hy aan die slaap geraak,
en ek streel hom,
'n waaier van seders bring koelte.

7. When the breeze blew from the turret,
as I parted his hair,
it wounded my neck
with its gentle hand,
suspending all my senses.

Die koel bries het van omhoog gekom,
terwyl ek sy hare oopvleg,
my nek verwond
met 'n sagte hand
ver verby al my sinne heen.

8. I abandoned and forgot myself,
laying my face on my Beloved;
all things ceased; I went out from myself,
leaving my cares
forgotten among the lilies.

Ek verloor en vergeet myself,
my gesig teen my beminde aangevlei.
Alles kom tot stilstand; ek het my verlaat,
my sorge agtergelaat -
tussen die lelies vergete.

Monday, October 23, 2006

Titiaan se Christus dra die kruis

Tydens my besoek aan die Hermitage vang my oog, in 'n heel ander deel van die museum as waar die Verlore Seun skildery hang, die skildery van Titian waarin Christus die kruis dra en met 'n doringkruis op, al kykende na die toeskouer, uitgebeeld word. Titiaan, Renaissance skilder wat groot invloed uitgeoefen het op iemand soos El Greco, se skildery hang in die Hermitage. Daar is geen bloed nie... En Christus se kyk.

Dit is 'n deurdringende kyk, trek die toeskouer in met die vraag - waar staan jy t.o.v. my lydensreis?

Die skildery bly hang in my gedagtes - asof Christus na my, op hierdie stadium van my lewe, op 'n spesiale manier kyk en van my iets vra wat ek nog nie helder peil nie. En ek onthou, onlangs, merk iemand op: die evangelie vra bekering, betekenende opoffering, transformasie.

Sunday, October 22, 2006

Rembrandt en lectio divina


Vanaf 30 September tot Maandag 9 Oktober besoek ek Rusland om 'n meestersgraad-kursus aan hoofsaaklik Protestantse studente (meestal predikante) in Sint Pietersburg aan te bied. Elke dag is 'n vol en gelaaid met lesings vanaf 9vm tot 16h00/17h00. Ek doen in die paar dae lekker baie werk met die studente, veral die teologie van die boek Openbaring. Hulle is leergierig en betrokke.

Die kursus is lekker, want ek kom self ook nader aan die teks, veral in die spiritualiteit van die boek. Dit is asof ek hierdie keer meer onder die indruk is van hoe die boek die kerk aanspreek oor die kwaad in sy midde. Jezebel, die vals profeet is 'n leier van die gemeente in Thiatire, maar 'n bron van erge kwaad. Pas maar deeglik op vir hulle wat "in die boesem" van die gemeente gekoester word, skryf Johannes. Ons wat na aan die kerk is, is ook naby, verskriklik naby aan die kwaad. Met die tyd moet ek hard keer dat die idee van die kerk vir my nie totaal ontluister word deur my ervaring van die kerk vanuit 'n menslike hoek nie.

En tog, mooier en aangrypender, ontdek ek gedurende die kursus onverwags die impak van Openbaring 1:5 waar lof aan God gebring word as die Een wat ons "liefgehad" het en ons van ons sondes gewas het. Hoe het ek hierdie sleutelvers tot dusver dan misgelees? Ek wil meer werk aan die motief van die liefde in Openbaring - 'n boek wat te veel met oordeel verbind word, besluit ek summier as ek die teks vir my self toeeien. Juis om die transformatiewe krag van die teks te ontwikkel het ek tydens die week 'n spesifieke sessie met die studente afgesonder waarin ek met hulle praat oor vreugde in Openbaring - 'n egte spiritualiteitsonderwerp. Ek geniet die tema van vreugde, nadat ek in Hongary in Julie daaroor 'n aanbieding gehou het en opnuut weer getref word deur die manier waarop vreugde met liturgie in Openbaring 19 verbind word. Ek kontrasteer die perverse vreugde van hulle wat die evangelie verwerp (Open.11) met die intense vreugde (aggellomai) van hulle wat God se lof besing.Die afgelope tyd bly ek besig met die motief van geluk en vreugde.

Vrydag kry ek 'n kans om weer 'n keer die Hermitage in Sint Pietersburg te gaan besoek, waar ek vir die derde keer by Rembrandt se skildery van die Verlore Seun uitkom, maar ook geboei word deur sy uitbeelding van Abraham se offer van Isak en die afhaal van die liggaam van Jesus aan die kruis. Dit is die sober, ryk kleure waarnee die karakters in die kruisigingstoneel uitgebeel word wat my lank besig hou en diep laat nadink oor die magdom van emosies wat hierdie toneel by die geskilderde karakters oproep. Hulle verslaentheid en rou is groot en intens. Watter ontnugtering, verdwasing en vernietiging moes die dood van die Here nie in hulle lewens meegebring het nie... En as 'n mens jou, a la lectio divina, inleef in elke karakter, dan kan jy indink hoe die boodskap van die opstanding hulle moes getref het. Kan daar groter, sterker intimiteit wees as tussen die een wat Jesus se liggaam versigtig, draend, naby, troosteloos vashou terwyl dit van die kruis afgehaal word? Selfs in U dood, wil ek naby aan U wees...

Die skildery van Rembrand bied 'n goue kans tot sinvolle lectio divina: wie is die karakters? hoe reageer elkeen? watter aspek van die kruisiging word uitgebeeld? waar word dit geskilder? wat is in die kollig en waarom? En soos 'n mens daardeur werk is die opdrag: hoe vereenselwig ek my met die karakter? op watter manier is die karakter 'n uitbeelding van my en my geloofservaring?

Thursday, October 19, 2006

"It's all about life." Moskou en spiritualiteit

Sint Pietersburg, waar ek nou die derde keer kuier (die tweede keer om die M-kursus aan te bied) is 'n mooi stad, maar die Westerse kultuur, die kitskosrestaurante, die jonges se hipperige kleredrag, die selfone wat alomteenwoordig om elke hoek en draai bebel word, die westerse musiek het finaal oorgeneem. Globalisering is nerens meer sigbaar as in Rusland 2006 nie: behalwe dat die Engels gebroke is en die kommunikasie nie altyd vlot nie. Ek begin al tuis raak - ek smelt weg op die moltrein tussen die menigtes en begin al stasies herken al sukkel ek met die Sirillies. Die besoek loop dus gladder as in die verlede.

Dit is eers as ek vir die naweek in Moskou is, dat ek daardie een definierende oomblik van my besoek aan Rusland beleef: Wat staan uit, nadat mens tuis is, in jou gedagtes van 'n besoek aan so 'n ander, vreemde werelddeel? Vir my was dit op hierdie, derde besoek, 'n oomblik in 'n ruimte by God, 'n tydjie in 'n klein Oosterse-Ortodokse kerk in die hart van Moskou se middestad. Moskou is indrukwekkend, met 12 tot 15 miljoen inwoners, reusagtige geboue al is hulle nie lugkliewers nie. Eerder massief in omvang as in hoogte. Rondom die stad hang hierdie reusagtige blokke woonstelle soos die oerske trosse soetdruiwe in Karoo-Hanover se versengende hitte van my kinderdae, diep ingeprent as massief elke keer as ons as gesin gekuier het by tannie Kitty van Poortjiesfontein. Die geboue is klein stede, waar honderde gesinne gehuisves word. My verstand staan stil by die gedagte aan al die mikrokosmosse wat in daardie massiewe plekke bestaan en funksioneer. Hoe leef die massas mense in sulke plekke? Watter lewenskwaliteit kan hulle hoegenaamd handhaaf? Teenoor hulle is die ou kerkie in die middestad minuskuul: by die ingangsportaal 'n tafel met artikels soos ikone. En dan die volledige kontras: Hierdie kerkie self, soos die baie ander ortodokse kerke in die omgewing, gelaai met ikone, oral in 'n oop ruimtetjie ingedruk, staan verdwerg, oordonderd in die groot stad, verwelgd deur die polsende, jaende, maniese lewenspas. Daar is in die kerkies elke dag gereelde dienste en ek stap elke keer weer by een in, asof my siel smag na God. Ek is die Saterdagmiddag 17h00 daar toe die diens begin. Ortodokse gelowiges sit nie op banke nie. Hulle staan so op 'n lot voor die heiligdom waarbinne die priester sy rituele uitvoer. Ek verstaan geen snars van die taal van die sang en die ritueel nie. Reg agter 'n skerm, verskuild in anonimiteit, staan 'n viertal sangers weggesteek en begelei die diens a capella met 'n gesingde ritueel, terwyl die priester dikwels ook self met sy stukke sang deelneem. Daar is 'n paar helder, musikale vrouestemme, maar die basso profundo se ryk klanke vul die hoogs effektiewe akoestieke ruimte en die klanke rol in ryk lae om die ruimte buite en binne jou te vul. Hulle sing die liturgie duidelik, vinnig, maklik, glad geolie. Dit is nietemin 'n gedraagde liturgie, die eeue het een stempel na die ander daarop afgedruk. Musiek is God se manier om ons harte op te tel. Die Oosters-Ortodokse liturgie het 'n manier om treurigheid te besweer en rustigheid te genereer. Ek, Stellenbosse Nuwe-Testamentikus, Westerling, breinkind, voel hoe die vloeiende note by my inkom, insak in donker hoeke van my bestaan en sagte lig maak. Die priesters, almal mans en in pragtige goue klede aangetrek, rond die visualiteit van ikone af, met die wierook wat die sintuig van reuk intrek in die ervaring van God.

Maar vanaand tref 'n verdere stuk visualiteit my: die versameldes is 'n wonderlike potpourri van 'n gemeente. Hier en daar 'n ou vroutjie, maar meestal jongerige mense. Hulle is doodgewone burgers van die land, geen opsigtelikes wat noodwendig aandag trek nie. Hulle loop nou en dan in en uit, maar staan meestal stil en slaan in volledige deelname aan die liturgie elke paar sekondes hewig 'n groot kruis terwyl hulle hul liggame vorentoe buig in gebed of erkenning. Dis duidelik 'n liturgie waarvan hulle deel is en waaraan hulle deel neem. Oorkant my staan 'n jongman met 'n afbeen en leun op 'n kruk: is hy 'n oorlogsveteraan? Hy is alleen daar, verlore in 'n kerk, en sy geskiedenis 'n geslote storieboek wat God aan die lees is.

Na die tyd wil ek 'n ikoon koop. Ek vra een van die teenwoordiges om hulp: hy is jongerig, neig na 'n yupperige voorkoms en help my om uit te vind wat pryse is. Sy Ingels is beperk, maar dis beter as waaraan 'n mens gewoond is in die land. Hy vertel my dat dit verwag word van Ortodokse lidmate om ten minste een keer elke twee weke kerk toe te kom. En toe vra ek hom: But is this important to you? Hy kyk my vinnig aan, duidelik onvoorbereid op die vraag (waarom is jy dan hier, vreemdeling?). En dan, vinnig, oortuigd en met innerlike gedrewenheid antwoord hy: Of course it is important to me, it is all about life.

Ek dink aan die duisende motors wat die lug van Moskou so besoedel dat ek aan die hoes geraak het in die kort tydjie dat ek daar was, die blinkigheid van die nuwe winkels met as hoogtepunt die ongelooflike winkelkompleks vol Westerse top ontwerperswinkels in die beautiful winkelkompleks nogal op die Rooi Plein van alle plekke. Ek dink aan die Westerse hotelkettings wat in massas oral in die binnestad opgerig word, ek dink aan die korrupsie wat in die koerante onthul word, die moorde van donkerkleurige buitelandse studente. Ek dink aan die geweldige pas, die miljoene mense op straat wat van alle dele van Rusland kom om hier werk en geld te soek. Maar eerder hier, op hierdie plek, tussen die ikone, eeue-oud, met a capella sang wat jou hart optel en verhef, vind 'n mens die lewe. Hoe anders dan? It's all about life. Vir my is dit die definierende oomblik van my besoek aan Rusland.

Hoe meer ons sisteme tot stand bring en toelaat dat hulle ons lewens lei, hoe meer gaan ons ontdek waarom die lewe werklik gaan. Daardie stil oomblikke in die klein Plek voor God met ons afbeen en seer binnekant waar die klank van die eeue-oue, vertroude woord en Woord ons gejaagde harte tot stilstand kan bring. Die ruimte, eindig, maar ook eindeloos, waar God woon en gehoor kan word. Die liturgie kan 'n formaliteit wees, ons kan buig en kruise slaan, wierook swaai dat die wolke die kerk vol hang, ons kan ikone aanraak en soen. Dit hoef egter nie alles ydel te wees nie. Iewers, as dit ons maar selfs net vir 'n oomblik bewus maak van die egte, werklike lewe, selfs net vir die kort, eindige moment van herkenning, is dit sinvol, het ons die geestelike lewe, die werklike lewe, ontdek.

Moskou is 'n massiewe stad. Die groot sisteme het gekom en gegaan, met nuwes wat hul plek vul. MacDonalds sit gepak met jongmense wat burgers verorber en oor hul selfone praat. Motors jaag dampe deur die strate. Maar dit is in die sakrale ruimtes, stil van alle tye af net bloot daar vir hulle wat soek, met hul durende musiek, draende klanke, waar ons die egte lewe ontdek, waar die lieflike geur van die Gees om ons hang.

Terug op Stellenbosch kry ek seer, opnuut weer onder houe, onverdiend, voel ek, my toegedien. En nou, laataand, skryf ek hierdie blog in herinnering aan my besoek aan 'n ou, eeuoue, kerkie in die hart van groot Moskou, waar ek deur klank en oog iets van die lewe ontdek het in 'n poging om opnuut weer te peil hoe my geloof my orent hou in sulke omstandighede. Wat is die lewe?, vra ek my die afgelope tyd af, want 'n mens word in jou spiritualiteitsreis deur die kwaad wat so onvermydelik en so onversetlik oor jou pad kom, onverbiddellik teruggevoer na wat werklik saak behoort te maak. En my hart gee al hoe meer die antwoord - wat saak maak is die lewe by God. En dit is die lewe waarin die liefde sentraal staan. Want elkeen wat in daardie Moskou-kerkie op daardie Saterdagmiddag gestaan het, het iewers 'n liefdesband beleef, sou dit minder of meer intens wees. O God, ek staan voor U - vermink. Ek kan skaars regop bly. Maar U ken my verhaal wanneer niemand anders dit wil hoor nie. U luister na my selfs al praat nog net my lyftaal van my wanhoop. U kom na my op die stil Saterdag as alles om my na die dood ruik. As ek die liggaam van Christus in my hande hou, gekruisig, vermink, hoor ek U Gees vir my vertel van die egte lewe, die liefde wat U het, die liefde wat nuut maak, wat optel. In plekke van eenvoud, tussen al die massiewe geboue in, met al die groot aansprake van die groot sisteme, vind ek hierdie liefde, weggesteek, ontroerend aangegee in die suiwer klank van die ewige woord oor 'n God wat ons liefhet. Daar is niks groters as die liefde nie. Dit gee egte lewe.

Blog Archive