Saturday, August 31, 2013

Oor die avontuur van geestelike oefeninge.


Om stiltetyd te hou is in 'n protestantse konteks 'n belangrike geestelike oefening. Dit is 'n tyd wat mense in die oggend en in die aand hou wanneer 'n mens 'n bybelteks of geestelike boek lees en dan bid.

Hierdie geestelike oefening kan heel bepland gedoen word: mense kan sistematies deur die bybel lees. Of aan die hand van 'n geestelike werk 'n bybelboek of 'n tema deurwerk.

'n Ander manier is om spontaan 'n teks te neem. Deur die oefening van lectio divina, of geestelike lees, kan 'n mens dan die teks deurlees en op 'n frase of 'n woord fokus. Hierdie woord word uitgelig en bedink: 'n mens kan die woord iewers neerskryf, teken, op 'n stukkie hout uitkerf, op 'n doek verf en dan vir 'n paar dae saam met jou dra of iewers neersit waar 'n mens dit kan raaksien.

Tog verloop die lees van 'n teks nie altyd so vas  en gedissiplineerd nie.

'n Mens kan 'n bybelteks lees bloot net vir die vreugde daarvan en dan heel spontaan deur die teks geboei word. Boeke soos Spreuke, teksgedeeltes soos 1 Korintiërs 13, die bergrede en gelykenisse van Jesus lees 'n mens nooit dieselfde nie. In een teks kan 'n mens verskeie dinge raaksien. Een oomblik val dit 'n mens by die lees van die gelykenis van die verlore seun op dat die verlore seun "tot homself gekom" het. Dan weer lees 'n mens op 'n ander dag dieselfde gelykenis met verwondering oor die pa wat die seun spontaan gaan terug verwelkom en hom aanmekaar bly soen. Of, op 'n dag val dit 'n mens op dat die oudste seun "buite in die donker"  bly staan het.

Nooit lees 'n mens dieselfde teks op dieselfde manier nie.

Maar daar is 'n nog oper kant van die proses. 'n Mens lees die teks, herken 'n woord of frase daarin en sal dit bedink. Maar dit gebeur ook dat die teks iets met die leser doen.

Wanneer 'n mens lees van die oudste seun in die donker, kan dit allerhande ervarings by 'n mens oproep. Soms sal mense dink aan godsdiens wat 'n mens so maklik trots maak en wat 'n mens hard laat word teenoor ander wat nie so getrou en goed soos "goeie"  Christene is nie.  Die vromes het 'n inherente neiging om "trots" te wees op eie vroomheid ten koste van hulle wat tussen varke beland het.

Of 'n mens kan dink aan hoe vreugdeloos godsdiens kan word: om by die Vader te wees laat 'n mens maklik fokus op harde werk, op getrouheid of op gehoorsaamheid - die drang om te presteer sit vlak onder die oppervlakte van 'n gelowige lewe.  En in die proses verdwyn vreugde en feesviering van die toneel.

Hierdie ontdekking kan 'n mens aanspoor om jouself in te stel op 'n spiritualiteit wat bevrydend is.

Op so 'n manier kan die gelykenis 'n mens op 'n nuwe soektog stuur: Watter geestelike oefeninge kan 'n mens van die swaarheid en las van godsdiens bevry?  Die geestelike oefening van bybellees stuur 'n mens se lewe onverwags in 'n nuwe rigting.

En dit is 'n geheim van geestelike oefeninge: 'n mens kan soek daarna en daarmee begin, maar iewers kan dit 'n mens neem in 'n rigting wat jy nooit voorsien het nie. Geestelike oefeninge is dinamies, oop en dus 'n avontuur. 'n Mens is dus altyd oop daarvoor dat jy nie in kontrole is nie. Trouens, egte geestelike oefening reken juis daarmee dat dit in 'n mens se lewe 'n ruimte skep waarin 'n mens nooit self in beheer is nie.

Friday, August 30, 2013

Kind of kneg.

Nicolaas Hofmeyr was aan die begin van die vorige eeu 'n professor van Stellenbosch wat groot invloed op studente en op die kerk gehad het.  Daar word vertel dat die professor gereeld elke week Bybelstudie-byeenkomste gehou het in 'n lokaal waar 'n mens lank voor die tyd moes wees as jy nog plek wou kry. Die bekende Hofmeyr-saal op Stellenbosch (Kerkstraat), is spesiaal gebou om plek te kry waar die weeklikse byeenkomste gehou kon word.

Ek lees tans 'n nuwe boek van Brummer waarin hy skryf oor Hofmeyr as een van die oorsponklikste en skerpsinnigste teoloë wat die N.G.Kerk ooit voortgebring het. Brummer het teologie as 'n liefdesverhouding gesien. Wat tel is nie of 'n mens al jou feite agter mekaar het nie, wat saak maak is of 'n mens in 'n liefdesverhouding met God leef.

Vir hom as teoloog was die hart van 'n mens se geloof die ervaring van kindskap. Hofmeyr vertel dat hy reeds as 16 of 17 jarige  'n spesiale ervaring gehad het dat hy 'n kind en erfgenaam van God was. Hy het nooit daaraan getwyfel nie. Maar hy het eers in sy veertigerjare begin besef wat dit beteken om 'n kind of erfgenaam van God te wees en hoe anders dit is as om 'n kneg van God te wees.

'n Kind, verduidelik hy, leef in 'n liefdesverhouding met sy Vader.  'n Mens verstaan wat dit beteken wanneer 'n mens die metafoor van "kind" vergelyk met die metafoor van "kneg." 'n Kneg werk vir 'n baas en het 'n ooreenkoms om 'n prestasie te lewer waarvoor hy vergoed word. Baas gebruik 'n slaaf of kneg om sekere take uit te voer. 

Galasiërs 4:7 kontrasteer hierdie twee metafore: "Daarom is jy nie meer 'n dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan is jy ook erfgenaam van God deur Christus."

Die verhouding tussen God en mens in die geloof is eerder soos 'n verhouding van 'n pa met 'n kind. Die kind is nie maar net iemand wat luister wat die baas wil hê nie. 'n Kind het dieselfde begeertes as sy pa. Wat vir die pa belangrik is, is ook vir die kind belangrik. Daarom is dit vir 'n kind so belangrik dat sy pa gelukkig sal wees. Net soos 'n pa graag wil sien dat sy kind gelukkig sal wees. 

Maar dit is Hofmeyr se verduidelik van hierdie liefdesverhouding wat my boei: Oor en weer is pa en kind deel van 'n verhouding waarin hulle mekaar vertrou en vir mekaar omgee. Hulle weet dat hulle in liefde aan mekaar verbonde is.  Hofmeyr praat van "wedersydse identifikasie." Vader en kind identifiseer in liefde met mekaar deur elkeen die belange van die ander sy eie te maak. Hulle is dus een in liefde omdat hulle belange een en dieselfde is. 

Maar Hofmeyr beklemtoon dat vader en kind ook van dieselfde wil is. Die kind dien die vader vrywillig. 'n Kind begeer om 'n pa se wil te doen. 

Daar is dus die allernouste band tussen vader en kind, tussen God en gelowige.


Thursday, August 29, 2013

Wraak neem.

'n Mens moet bereid wees om die gevolge van jou dade te dra. 

Dit is kenmerkend van onvolwassenheid wanneer 'n mens dit nog nie insien nie.

Dit sien 'n mens nou weer met Sirië: wanneer 'n land op 'n gruwelike manier sy burgers met chemiese wapens aanval, maak dit sin dat daardie land verantwoordelik gehou word en selfs gestraf word. Dieselfde geld vir iemand wat steel, roof en moor. 

Die vraag is net: hoe straf 'n mens persone wat onverantwoordelik en misdadig opgetree het? 

Dit is 'n teken van 'n land se beskawingspeil hoe gevangenes beoordeel word. In vele lande word daarop gefokus om gevangenes deur hul verbly in die tronk steeds weer in hul menswaardigheid te bevestig en te laat groei. Dit is lank reeds in beskaafde lande gevestigde beleid dat 'n mens iemand straf op 'n manier wat daardie persoon help om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hulle doen. Straf moet dus iemand hervorm en ophef. In vele tronke sal 'n mens dus sien hoe gevangenes gehelp word om ambagte te leer, verder te studeer en aan aktiwiteite deel te neem wat van hulle beter mense maak. Daarom mag gevangenes stem, moet hulle kans kry om te kan oefen en om sekere voorregte te geniet. Dit is waarom gevangenes wat terminaal siek is, vrygelaat word. Dit is, word al hoe meer besef, al erg genoeg dat iemand se vryheid drasties ingeperk word. 

Die gemeenskap laat iemand tronkstraf uitdien as straf - om so 'n persoon te laat besef dat 'n kriminele gedrag nie geduld word nie. Maar die straf is steeds weer tot beswil van die persoon. 

Dit bly daarom altyd weer 'n skok om te hoor hoe mense hul tronke sien as plekke van weerwraak waar iemand so sleg as moontlik behandel moet word vir wat hulle gedoen het.

Ek lees 'n sin in 'n berig oor die gevolge van tronkstraf op mense wat my die afgelope paar dae bybly:  tronkstraf is nie bedoel om wraak te neem nie.

Mense dink nie aan gevangenes wat as ou, bejaarde en uiters siek mense in die tronk sit nie. Mense wat nie meer helder is nie, wat aan Alzheimers lei, wat nie meer kan loop nie, of wat nie meer vir hulleself kan sorg nie. Hulle weet dikwels nie meer waar of selfs wie hulle is nie. Hulle het lank nie meer die vermoë om kriminele dade te pleeg nie. En tog bly hulle in tronke aan om hul vonnis uit te dien. 

Hulle leef in tronke waar hul versorging minimaal is. Om na hulle te kyk kos meer tyd en geld as om hulle uit ontferming vry te laat. 

Ons sien dit elke dag in vele tehuise vir ouer mense: hulle lê op beddens of sit op hulle rystoele met uitdrukkingslose gesigte, sonder belangstelling in hulle omgewing, sonder om ander te herken, sonder om vir hulleself te kan versorg. 'n Mens kan jou nouliks indink dat sulke mense ook in tronke aangehou word bloot net omdat hulle 'n sekere klomp jare gevonnis is. Hoe sinvol is dit dat sulke mense in tronke moet bly? 





Wednesday, August 28, 2013

Kil of net anders? Hoe anders beleef mense die dieper dinge...


Sy was ‘n ongeskoolde werker wat, getrou, nie ‘n dag se werk gemis het nie. Oor jare het sy huis skoon gemaak, saam met haar werkgewer tee gedrink, rondom die etenstafel, familie groot gemaak, lewenservaringe gedeel en lewenswysheid uitgeruil.

Ons het haar ook op ‘n keer van naderby leer ken. Sy het met die huiswerk aangegaan soos sy gewoond was en nie soos ons noodwendig verkies het nie. Sy het saam aan tafel tee gedrink en saam-saam het ons spoedig ‘n stukkie van ons lewensreis ook met haar gedeel.

Sy was toe pas terug van haar eerste reis na Israel. Jare lank wou sy al gaan, maar die finansies was nie so oorvloedig dat sy net in ‘n vliegtuig kon klim en afsit na die Here se geboorteland nie.

Uiteindelik was dit so ver. Saam met haar landsburgers vlieg sy en saam met hulle klim sy op ‘n bus om die land plat te ry. Sy praat hulle taal, deel hulle kultuur, maar was van herkoms ‘n vreemdeling, ‘n buitestaander:  haar wortels was eers in ‘n ander land met ‘n warm, gevoelvoller kultuur van emosies wys en vrome toewyding.

Nou reis sy met die serebrale, nugtere, kritiese en afstandelike landgenote. Deel van hulle, maar tog nie deel van hulle nie.

En toe kom hulle almal uiteindelik aan in Jerusalem. Dit was vir haar die hoogtepunt van die reis. ‘n Lewe lank het sy met die evangelies saamgeleef: sy het haar ingeleef in die voetspore van die Here. Met die hele hart en hartstogtelik. Nou, uiteindelik, naby die plek waar Hy gesterf het, het sy ook in haar meelewende gees naby aan Hom gekom, veral in sy donker laaste dae en sy oomblikke aan die kruis.

Dus, met intense emosies het sy die plek beleef wat die gids aan hulle as ‘n moontlike graf van Christus uitgewys het. Daar het sy gestaan, vol meelewing, haar gemoed wat oorloop.  Sy kon eintlik nie praat nie, vertel sy ons. ‘n Vol gemoed.

Wat haar toe vang, vertel sy, was die onverskillige houding van haar landgenote. In haar oomblik van intense ervaring, het hulle praterig en vol beduie die plek volgestaan. Kil is die woord wat sy gebruik het om hul houding te beskryf.

Later het die gids na haar gekom en sy hand om haar skouers gesit. Dit val hom, Israeli, altyd op dat toergroepe van haar landgenote almal dieselfde reageer. Ongeërgd, praterig, afstandelik kykend.

Die pelgrimstog, ‘n eeu-oue geestelike oefening van mense wat soekend na dieper vervulling op resi gaan, was vir haar van groot belang. Jare lank het sy uitgesien om die plek waar Hy geleef het, gepraat het en uiteindelik alles gegee het te ervaar. En sy was nie teleurgestel nie. Die vertellings oor wat eeue terug gebeur het, het vir haar meer werklik geword. Sy kon in die plek met ‘n nuwe, ander begrip na die kruiswoorde luister, die brood en wyn proe, die helder son voor die verduistering beleef.

Juis daarom was die kilheid van haar mede-reisigers vir haar so opvallend.

Ek dink nog dikwels terug aan haar vertelling. Hoe moet ‘n mens daardie “kilheid” beoordeel wat sy ervaar het? Want, per slot van sake, was almal wat saam met haar gereis het, pelgrims wat ten spyte van uiterlikheid, tog ook wou reis, ook van naderby wou ervaar. Deur bloot te gaan, deur die land te besoek, gee hulle iets te kenne. En verskillende mense beleef dieselfde ervaring heel verskillend. Die een sal in trane aangegryp wees. Die volgende een sal probeer verstaan, ontleed, inligting insamel en die kloutjie van die hede by die oortjie van die verlede wil uitbring. Nog een sal waardering hê, tevrede om te kon gesien het en nugter daaroor kon praat.

Wie is ons, immers, om aan ander voor te skryf hoe hulle moet reageer?

Te veel het ek in my lewe gesien dat mense wat skynbaar onaangeraak is, dikwels nie weet hoe om hul innerlike ervaring te verwerk nie. En dit dan met ‘n ongeërgdheid probeer hanteer. ‘n Mens hoef nie trane in jou oë te hê as teken dat iets in jou losgekom het nie.

Immers, het ek oor jare heen haar landgenote, meestal sulke nugtere, realistiese mense, leer ken as mense wat intens omgee vir ander. En dit konkreet, sonder veel emosies wys. Dit is, het ek ook besef, so bietjie in die kultuur ingegee, nogal gevoed deur ‘n goeie skeutjie gereformeerdheid: nie te veel van ‘n ophef maak nie. Nie te emosioneel nie. Bly verstandig, maar ook betrokke.

Op die manier dink ek na oor geestelike oefeninge: pelgrimgstogte, soos baie ander oefeninge, gebed, vas, stiltetyd, bybellees, rituele, koorsang, musiek-maak, word deur vele mense beoefen. Maar elkeen doen dit op sy eie manier, gevoed deur wie hy of sy as mens is. Tussen geestelike oefening as tradisies en geestelike oefeninge van die individu is daar ‘n dinamiese verhouding: elke mens wat bid, doen dit op sy of haar manier. Elke mens wat op ‘n pelgrimstog gaan as ‘n soeke na vernuwing en geloofsversterking, sal dit anders beleef.

Soos Perrin skryf: ‘n oefening word pas eers geestelik wanneer dit deur ‘n lewende persoon oorgeneem en beoefen word. Die potensiaal in ‘n geestelike oefening word eers verwerklik wanneer dit met die potensiaal van die individu saamsmelt.

Dus: nie te vinnig rondkyk nie. Of meet nie. Of oordeel nie. Dit is bevrydend om te kan weet dat selfs ‘n oënskynlike kil mens dalk net op sy of haar ander manier reageer op ‘n aanraking.


Tuesday, August 27, 2013

Harde hout tot donker stompe. Oor transformasie.






Seker een van die mees effektiewe beelde in spiritualiteit is die beeld van hout wat met vuur aan die brand gesteek word. Dit is ‘n beroemde ou beeld wat vertel waarom die geestelike lewe gaan.


Vuur dring die hout binne en droog heel eers die nat hout van binne af uit. Alle vogtigheid wat in die pad van die vuur staan en sy werking teenhou, wat rook afgee en verstikkend is, word droog gebrand. Die droogbrand maak die pad oop dat die vuur orals in die hout kan intrek.


Dit is nog lank nie al nie. Die vuur wat in die hout brand, begin om dit weg te vreet. Al hoe meer sien ‘n mens hoe die hout heeltemal getransformeer word. Dit word verkool en word swart, begin stukkies afbreek en raak onaantreklik en lelik.


Maar dan begin die vuur die hout aan die brand steek as dit vanself begin vlamvat. Die hout self word nou vuur. Dit lyk soos die vuur en brand met die krag en die warmte van vuur. Lank nie meer is dit koud en hard nie. Weggebrand word die swart hout nou ‘n ewebeeld van die vuur wat in die hout ingekom en dit verteer het. Die hout word, ondenkbaar, self vuur.


Terwyl ek sit en lees aan hierdie veel-dimensionele beskrywing van die beeld van hout en die implikasies daarvan vir die verstaan van spiritualiteit, val my aandag veral op die hout wat swart, onaantreklik en lelik word.


Die vuur vreet aan ‘n mens se ou bestaan: wat voorheen vir jou belangrik was, word deur die verterende teenwoordigheid van God, die heiligende Gees, onbelangrik – selfs lelik. Transformasie doen dit aan ‘n mens: dit omvorm die mooie tot die lelike. Dit wat soos ‘n helder son in mense se lewens vir hulle geskyn het, word in die lig van God se helder vuur, tot as gebrand. Keer op keer sien ‘n mens dit by die groot mistici: Franciskus wat sy rykdom en aansien herken het vir die leegheid daarvan.


Dit is die “swartheid” van die ou bestaan wat my bybly: dit is nie dat ‘n mens verby ‘n fase in jou lewe beweeg en nou in ‘n nuwer, beter fase ingaan nie. Die swartheid impliseer die Umwertung aller Werte. Dit is Paulus se lewe na die vlees en lewe na die Gees:  iewers begryp jy hoe radikaal die houvas van die tydelike bestaan op ‘n mens se lewe is. Jy is ‘n slaaf van die donker bestaan.


Dit kos vuur om jou te reinig, tot die lewe te bring – om in te sien hoe donker daardie eerste manier van lewe was. Só wil ‘n mens nie lewe nie.


Swart en donker ervaar ‘n mens dit. Die tronk van ‘n lewelose tyd. En dan, daardie oneindige bevryding, die wete dat ‘n mens genadiglik die vuur ontvang het. Wat op sy beurt vervulling en blydskap gee. 





Monday, August 26, 2013

Spiritualiteit as omvorming en die geestelike oefening van self-ondersoek




Sonder die begrip omvorming of transformasie kan 'n mens spiritualiteit nie verstaan nie. 

Wanneer 'n mens 'n nuwe lewe soek, beteken dit altyd dat jy afsterf aan die oue, aan wat jou vasbind en onvry hou. 

Omvorming beteken immers dat die ou vorme in nuwe's omgesit word. Ou wynsakke word nie gelap nie.

Dit klink alles goed en mooi: almal wil tog van 'n wurm tot 'n skoenlapper ontwikkel. Almal droom van vlinder-word.

Maar wat 'n mens nie bereken nie, is die inspanning wat dit kos. 

Net so graag soos wat mense mooi, anders en nuut wil word, net so graag hou hulle aan die bekende vas. Hulle weet immers wat verkeerd is en hou daarby. 

Min besef mense dat transformasie beteken dat 'n mens soms radikaal van oortuigings verander.  Dit is die Paulus-verskynsel: wat vroeër vir jou vyande van God was wat met goed en bloed uitgeroei word, word ewe skielik vir jou 'n broer en 'n suster wat saam met jou die nuwe familie van God vorm.  

Maar Paulus se omkering staan naas Petrus se verdiepingservaring:  hy het teen sy neus afgestaar na mense wat wel in die familie van God opgeneem is, maar hy wou hulle op sy voorwaardes aanvaar. En toe verander God hom soos die hoenderhaan hierbo: die partytjie, die vrolike geniet van God se genade, die gemeste kalf in die Vaderhuis het hom taamlik verniel. Byna byna het hy soos die verlore seun diklippe in die buitenste duisternis gemor omdat God aan "onwaardiges" soveel genade betoon het.

Maar Petrus het uiteindelik wel partytjie toe gekom: en uiteindelik ook, in Handelinge 15, die evangelie van bevryding tot in sy radikale konsekwensies begryp en verkondig.

Hy is getransformeer van 'n apostel wat God se genade wou inkort tot 'n apostel wat God se genade bly gevier het. 

Dit was vir hom pynlik. Maar dit het hom vrygemaak. 

Spiritualiteit gaan om bevryding, om verandering, om te word wat jy eintlik nie wou wees nie. Wie die geestelike weg loop moet hom of haar regmaak om verander te word. Dit beteken miskien dat 'n mens baie ou, vertroude posisies moet prysgee en nuwe dinge moet doen - 'n Nuwe Testament naas die Ou Testament. Om groter dinge as Jesus te doen, soos Johannes-Evangelie beloof. 

'n Waagstuk, 'n avontuur wat, so sal die vrugte uitwys, altyd vir 'n mens vry maak, volwasser maak en nader aan God bring.

Altyd, altyd gaan dit om transformasie. Die vreugde van groter nabyheid aan wat saak maak - deur  reiniging en suiwering.

Dus: 'n belangrike geestelike oefening is hierop ingestel: om elke dag self-toetsing toe te pas, a la Ignatius - met die vraag: wat, in my, het vandag in die pad gestaan van God se transformerende werking? 

Sunday, August 25, 2013

Die kanker het na onverwagte plekke gemetastiseer.








Die verskriklike stories oor die verkragtings van vroue in Bredasdorp, van kinders in Ceres en van vroue in Indië in die afgelope tyd het in vroue-maand nog meer as gewone aandag getrek. Die woede en verontwaardiging loop wyd oor die dierlike optrede teenoor weerlose mense.

In 'n merkwaardige artikel in die Dailymaverick skryf Paul Berkowitz dat dit maklik is om verontwaardig te word oor geweld om 'n mens.

Maar, voeg hy dan by, hoe blind is 'n mens vir die geweld in jou teenoor mense die naaste aan jou. Nie net wat hy skryf nie, maar hoe hy dit skryf raak 'n rou senuwees aan.

Terwyl ek dit lees, dink ek watter belangrike preekstof in hierdie materiaal opgesluit is.

Meer nog: Ek besef hoe hierdie intieme bekendmaking die skrywer se manier is om eienaarskap te neem van sy innerlike woede en die geweld waartoe hy lei.  Deur dit jou eie te maak, begin die genesing - en vee jy jou voor jou eie deur. 

Die Franse skrywer, Girard, het veel gemaak van die gemeenskap se neiging om sondebokke te soek en hulle te blameer. Dit lê diep in 'n mens se gene om die skuld buite jouself te soek. Dit is daarom al 'n belangrike stap vorentoe wanneer 'n mens na binne kan kyk, hand in eie boesem steek en skuld kan raaksien by jouself. 

Dit is om van te leer.  

Hy skryf:
"I have never raped anyone or physically assaulted a woman, but I have committed violence against pretty much every woman I’ve been close to. I have fed my anger and allowed it to fill many relationships. I have taken out my own fears and inadequacies on my partners with harsh criticism and judgement, amplifying their shortcomings to avoid having to deal with mine.

I have belittled, ignored and silently judged instead of speaking openly and honestly. I have built a wall around my ego and spent more time strengthening its foundations than trying to broker an honest peace. I have made my moods, opinions, feelings and desires the only things that counted.

I have screamed and sworn. I used my position as the breadwinner to threaten and to silence. I have been too impatient to listen, too tired, too angry, too scared, too ashamed to talk.

I did those things, and still do some of those things, for many reasons. Some of it I learned from the men in my family, like all other men do. Some of it, hopefully, was done out of ignorance because I didn’t even try to empathise with the women in my life for a long time.

Mostly, basically, I did those things because I could. I still can, if I want to. Society allows me, like all men, to normalise physical, emotional, financial and structural violence against women. I commit my violence in my home, away from prying eyes, like most of the men who beat and rape women.

The women in my life learned to be lightning rods that could earth the anger, absorbing the damage for themselves. Much of their time in the relationship was spent appeasing and trying to please, leaving not much time for their needs.

I suffer from road rage. I can’t count how many other drivers I’ve sworn at, shown the finger, flashed brights, or hooted at. I’ve been involved in one physical altercation as a result. I am lucky that I haven’t been seriously injured or killed as a result of my stupidity.

The structures that allow me to act in the way I choose also allow most rapists and beaters enough leeway to do what they do with impunity, if they are rich enough or smart enough. Jub-Jub, Charlie Sheen, Chris Brown, Mel Gibson, Tommy Lee and Sean Penn have all been trouble with the law for various things but bashing the women in their lives hasn’t ended their careers.

The anger and violence in our society is toxic. As men we aren’t given many tools for effective communication and conflict resolution. Many men stumble through their lives half-aware, approaching every problem with a hammer made of stereotypes and indoctrination. I am struggling myself. The work is difficult and the results are gradual.

Quick fixes are so tempting when the problem is big and the process of self-reflection is painful, but there is no other way. If we want to stop violence against women then we must create a society that values women, not one that makes it harder to rape women.

Putting up adequate lighting in the Western Cape might be very effective in curbing violent rape by strangers but it does nothing to dismantle the structures that reward sexual prowess in men and punish it in women, that view women as worth less than men, that punish the victim, that normalise and discount women’s pain.

Whatever the DA does or does not do at the moment, at this point it’s still streets ahead of the Zuma administration. From building special homes to protect grannies in KwaZulu-Natal from rape to creating a department for women that sounds like a list of people denied the vote in ancient Greece, the current lot have it spectacularly wrong. The delusion that a new ministry could solve the problems of women everywhere by ticking a lot of employment equity boxes and also cunningly house useless ministers that can’t be demoted is a delusion on an epic scale.

Anyway, politicians will not cure rape. Finger pointing will not cure rape. Handing out Real Men badges will not cure rape.

Not committing the very worst abuses of power does not make me a real man. Real men take responsibility for their actions. Real men take ownership of their anger and their pain. Real men don’t confuse power with strength.

Some days I feel more real than others. I am trying really hard to keep real, and to keep it real. I try to see occupant of the car ahead of me as my neighbour and not my enemy. My partner is not my adversary; she is the woman who was brave enough and strong enough to help me through my worst.

The men who rape must be prosecuted and convicted but they cannot serve as the scapegoats for my own anger. As a society, we cannot pretend that this is a cancer we can sacrifice a limb for, because we will soon find that the cancer has metastasised." 


Saturday, August 24, 2013

Uit die larwe 'n vlinder. Oor transformasie.



Wanneer mense deur God aangeraak word, bly hulle nie dieselfde nie. 

In 'n lewenslange proses word hulle omvorm. Steeds weer word hulle deur hul verhouding met God op een of ander manier gevorm sodat hulle meer en meer van God se beeld vertoon.

Die proses word 'n reis deur valleie en pieke. 

Die "reis" word 'n belangrik metafoor vir die hierdie omvormingsproses. Mense gebruik dikwels hierdie beeld en dit help om hieroor na te dink.

Daar is heelwat ander beelde wat 'n mens help om te verstaan wat hier gebeur.

Sommige praat van 'n larwe waaruit 'n skoenlapper ontwikkel. Dit is wat transformasie beteken.

Of ook baie gewild is die beeld van vuur wat 'n hout aansteek, binnedring, verteer sodat die hout self begin brand en kole word. Dit is 'n beeld van hoe die verhouding met God 'n mens se lewe beïnvloed.

Waaijman noem ook ander beelde: daar is die beeld van die rivier wat van sy oorsprong al kronkelende sy weg na die see vind.

Of daar is die beeld van 'n liefdesverhouding waarin 'n minnaar al hoe meer opgaan in die beminde. Of van 'n koringland waarvan die saad in die braakgrond inplant en uiteindelik die oes oplewer.

Waaijman noem ook 'n die voorbeeld van 'n skildery wat 'n lewe van sy eie begin voer. Die kunstenaar teken iets wat so besonders in sy weergawe word dat dit self 'n voorwerp van bewondering word.

Beelde om te bedink. En wat almal vir 'n mens vertel hoe spesiaal dit is dat God 'n verhouding met mense aanknoop.

Friday, August 23, 2013

Op 'n bankie naby die oneindige God. Oor geestelike inoefening in onmiddellikheid en nabyheid





Keer op keer ontdek ‘n mens hoe vindingryk en met watter verbeeldingskrag mense ontdek het dat hul lewe, wat so vaal en doods geword het, deur dieper dinge verryk kan word. Op baie maniere kan ‘n mens sterker, volwasser, gelukkiger en meer vervuld raak – as jy maar net daarvoor kies. Dit is ‘n kwessie van besluite neem, van doen en dan van intense betrokkenheid.

Ons leef te veel met ‘n oorlewingsmentaliteit waardeur ons bloot deur die dag wil kom en daarom ‘n ingeperkte idee het van alles wat ons gelukkig sal maak. Dit alles is deel van ons lewe, al voel ‘n mens intuïtief aan dat ‘n mens gelukkiger kan wees – ons weet nie net hoe nie.

Hier moet ‘n mens dadelik byvoeg dat die “gelukkiger” nie die normale ding is wat mense as geluk beskou nie.

Geestelike mense het dikwels alles wat minder-bevoorregte mense graag wil hê omdat die minderbevoorregtes dink daardie dinge sal hulle beter laat voel. Hulle het alles wat mooi is, hulle bly besig, het ‘n gelukkige gesin en goeie werk.

Hulle ontdek mettertyd dat die lewe uit veel meer bestaan as net hierdie “seëninge.” Soms vind hulle tot hulle ontnugtering uit dat hulle deur al hierdie dinge vasgevang word. 

En dan begin hulle soek na die diepere dinge.

En dit is hier waar ek al meer verbaas staan oor die baie, baie geestelike oefeninge waarmee mense op soek na vervulling is. Juis omdat hulle besef het dat al die dinge wat ‘n mens kan begeer wat jou nie werklik vervuld laat nie, juis daarom soek hulle met drif en verlange na wat ‘n mens werklik ‘n outentieke lewe laat lei. En in die drif ontdek hulle hoeveel dinge 'n mens innerlik vervuld kan maak.

Neem nou maar sommige van die orde’s in die Rooms-Katolieke tradisie: in sulke orde’s kry ‘n mens al ‘n gevorderde geestelike lewe, want hier kom ‘n groep mense saam om as gemeenskap geestelik te groei. Dit is mense wat al reeds ‘n keuse gemaak het om nie vir hulle self te leef nie, maar om God saam met ander in ‘n gereguleerde, patroonmatige bestaan te soek. Hulle het ‘n ent weg gevorder, maar hulle soek na dieper vervulling.

Hulle leef dus in afsondering: elke lid van die orde kry ‘n woonplek, ‘n sel, of ‘n bed. Hier volg hulle ‘n ritueel en vaste gebruike. Hulle eet saam. Soms in totale stilte, terwyl iemand uit die Skrif of uit die werk van ‘n spiritualiteitsskrywer voorlees. Hulle neem deel aan die nagmaal, het ‘n vaste gebede-program, deel hulle besittings, het ‘n geestelike vriend met wie hulle hul geestelike reis kan deel en van wie hulle ondersteuning kry. Bieg, vas, gebede, sakramente, rituele, harde werk, gemeenskaplikheid en vele ander geestelike oefeninge help hulle om van ou gewoontes ontslae te raak, om hulle vir God oop te stel en om in die teenwoordigheid van God te kom. Hulle kloosterlewe word verryk deur vele praktyke wat hulle help om ‘n ruimte binne te gaan waar hulle die goddelike van nader ervaar.

Dit klink swaar. En dit is seker so dat hier baie “inspanning” is. Tog kan daar aan ‘n kloosterlewe ook die uitsonderlik eenvoudige en direkte ervarings wees. Ek herinner my‘n toneel uit The Great Silence oor die strenge lewe in die Franse Trappiste Klooster. Die priesters leef ‘n baie presiese en veeleisende bestaan van stilte. Vir hulle is die leefwyse ‘n lewenskeuse wat sin maak.

Maar op ‘n dag gaan hulle uit in die natuur. Dan, wys die rolprent, lag hulle, hardloop hulle rond, praat hulle uitbundig en stap sommer net rond.

Dit bly my altyd by: gereeld, deel van hul lewenspatroon, het hierdie monnikke hul spontane uitstappies in die natuur gehad. 'n Gewoonheid. 

En dit kan ook ‘n geestelike oefening wees: om sommer net in God se skepping te wees. Miskien is dit ‘n geestelike oefening wat in ons tyd meer en meer gesoek kan word. Ons is vasgeklem en vasgevang in ons kantore en huise. Ons besef nie hoe wonderskoon ons planeet is nie. Ons kyk graag, al hoe meer, na natuurvideo’s, na wildtuine en wilde diere. Maar ons beleef min daarvan. Daar is te veel afstand tussen ons en die aarde, God se skepping. Of daar is te veel minagting, misbruik en mishandeling wanneer mense die skepping soos 'n vuilgoeddrom besoedel of uitbuit soos 'n stuk vleis wat verorber moet word.

In ons tyd waarin ons liggaamlikheid as ‘n gawe beskou en veel waardering het vir wat ons gesond maak, is dit nodig om die goedheid van liggaam en van skepping te leer ken en ‘n mens in te oefen om die skepping te eer en ons liggame met versigtigheid en met verstandigheid te geniet.

Ek het die allerpragtigste foto’s van Keukenhof wat ek op ‘n keer besoek het. Op my besondere helder rekenaarsskerm langs my woordverwerker, wys die foto’s keer op keer as agtergrond. 

En die merkwaardige is vir my watter detail ‘n mens raaksien wat jy nie merk wanneer jy deur die tuin vol tulpe self loop nie. Dit is asof jy kniel langs die blom en dit van nader sien soos nog nooit tevore nie.

Dit word vir my ‘n geestelike oefening waarmee ek die skoonheid van die skepping kan vier om na hierdie foto’s te kyk – ter wille van hulle self, maar ook ter voorbereiding van wat ‘n mens gereeld moet doen: om met ‘n akute sin vir waarneming elke keer weer in die oop natuur raak te kyk. Soos iemand in ‘n mediaberig van die week skryf: gaan kyk na die blomme in Namakwaland. Maar kniel tussen die blomme en kyk van naby.  Kyk, kyk en nogmaals kyk – digby, van alle kante, met afwagting. Dit is wanneer ‘n mens besef skoonheid is juis skoonheid omdat dit so uitbundig oordadig kan wees: selfs die eenvoudigste blom, ‘n tulp met ‘n blaar of twee word ‘n skatkis van skoonheid. Wat jy van 'n afstand skaars raaksien, word deur nabyheid 'n geestelike ervaring.

‘n Mens is sommer net daar, in God se tuin, in ‘n liefdesomhelsing, bewus van die intimiteit wat moontlik is, van hoe die natuur ons van oneindigheid wil vertel. Amper soos Kierkegaard wat aan die kus van Denemarke ‘n bankie op ‘n koppie gehad het om, soos hy vertel het, uit te kyk oor die uitgestrekte oseaan tot in die oneindige horison wat hom keer op keer aan die oneindigheid van God herinner en oorweldig het. 

‘n Mens se vaal lewe kan deur eenvoud, deur ‘n oefening in die natuur, ‘n geestelike ervaring word – oor die rykdom van die omgewing, oor die direktheid en oombliklikheid van ‘n mens se ervaring, asof ‘n liefdesomhelsing wat, intiem, anker-oomblikke in jou bestaan word.

Dit alles gebeur nie sommer net nie. ‘n Mens moet jou inoefen daarin.









Thursday, August 22, 2013

Om jouself vir God te gesel?



Geestelike oefeninge kan soms met “geestelike” dinge soos gebed, afsondering en meditasie verbind word en dan word vergeet dat sulke oefening dikwels heel konkreet en liggaamlik is. Dit is duidelik byvoorbeeld wanneer ‘n mens vas – ‘n oefening wat sterk op die liggaam ingestel is of wanneer ‘n mens deur gebedskrale met jou hande fokus op gebede.

Maar selfs afsondering het te doen met ‘n mens se liggaam en met fisieke omstandighede, soos om jou fisiek in die natuur en in stilte terug te trek om innerlike balans te vind en van die geraas in jou lewe ontslae te raak.

Die konkrete en die liggaamlike word ook duidelik wanneer mense praat van geestelike oefeninge as die “dissiplinering” van ‘n mens se liggaam. Die woord klink nie altyd so goed op die oor nie. “Dissiplinering” kan negatief bedoel word asof die liggaam ‘n bron van kwaad is wat in die pad van geestelike volwassenheid staan wat ‘n mens onder bedwang moet kry. Des te meer omdat dissiplinering as woord ‘n perverse betekenis binne ‘n sado-masogistiese konteks het.

Dit is egter nie waaroor dissipline gaan nie, juis nie in ‘n geestelike konteks waar die liggaam as God se skepping bewonder en gevier word nie. Veral in ons tyd word beklemtoon dat die liggaam ‘n gesonde, belangrike gawe is wat ten volle gewaardeer en beleef word.

Die negatiewe siening van dissipline kom veral in sekere oefeninge na vore. ‘n Bekende voorbeeld is wanneer sommige mense hulleself gesel. Dit is ‘n baie ou vorm van geestelike oefening. Hoewel dit op ‘n stadium ‘n gewilde praktyk in kerke was, is dit later verbied en mense wat dit beoefen het is getug. Dit het veral sedert die tweede Vatikaanse konsilie in die Rooms-Katolieke kerk grootliks in onbruik geraak. Tog bly dit nog voortleef. In die Sistersiaanse orde is self-geseling dikwels as ‘n gereelde oefening op ‘n Vrydag gedoen. In sekere hoogs konserwatiewe ordes (soos die Opus Dei) slaan monnike tydens hulle stiltetyd vandag nog hulleself steeds met swepe op die rug. In 2010 het die self-geseling en vloer-slapery van Pous Johannes Paulus 2 mense geskok, toe Slawomir Oder dit in ‘n boek vir die eerste keer bekend gemaak het en dit wêreldwyd sensasionele nuus in die media was. 

Die voorstanders van die praktyke van geseling en self-opoffering het allerhande argumente om die positiewe aspekte daarvan uit te wys. Hulle sê dat dit nie sommer ‘n oefening is waarmee jy jouself stukkend slaan nie. Dit is veronderstel om nie wonde te veroorsaak of ‘n mens te laat bloei nie. Die simboliek van die oefening kom byvoorbeeld na vore al klaar in die manier waarop die gesel gemaak word. Spesiale swepe, latte of takke word daarvoor gevleg, die geseling vind byvoorbeeld op die rug plaas en dit word nou met gebed verbind. Die gesel is in vele gevalle nie bedoel om ‘n mens stukkend te slaan nie – daarom is die gesel self slegs knope wat in toue aan ‘n handstuk vasgemaak word. Soms word dit vir ‘n minuut of twee gedoen met ‘n sagte gesel wat ‘n mens ongemaklik laat voel, maar nie pyn veroorsaak nie. Hulle beklemtoon dat die geseling ‘n mens ongemak laat ervaar, maar nie jou liggaam vermink of seermaak nie. Dit moet ook nie letsels veroorsaak nie. In die meeste ordes was geseling voorts slegs moontlik in gesprek met ‘n geestelike begeleier wat besonder volwasse en sensitief is. Sulke geestelike oefening is ‘n private saak wat nie uitgestal word nie en wat nooit alleen, ter wille van bewondering of tot nadeel van jou liggaam gedoen mag word nie. Dit word ook nie gedoen om goed te voel nie.

Daar word nou verder geargumenteer dat mense hulle self gesel as teken van berou, omdat hulle die voorbeeld van Christus volg, hulle solidariteit met sy lyding beleef of omdat hulle ‘n intense stryd teen vleeslike begeertes voer. Ander weer beklemtoon dat dit ‘n manier is om heiligmaking na te jaag. Dit gaan vir hulle nie om ‘n prestasie nie, om ‘n goeie daad of om te doen wat reg is nie. Dit is ‘n manier waarop hulle lyding op ‘n simboliese wyse kan uitdruk en beleef. Verder glo mense ook dat ‘n mens se blootstelling aan lyding vir jou sensitief maak vir die lyding van ander mense en jou aanspoor om daarteen in opstand te kom.

‘n Mens hoef nie ver te gaan soek om uit te vind dat hierdie argumente groot opslae veroorsaak nie. Die meeste mense reageer ontsteld dat sulke stellings ‘n praktyk wil regverdig wat gevaarlik vir iemand se geestesgesondheid kan wees. Mense is gou om hierdie oefening te kritiseer, veral omdat hulle bekommerd is dat dit ‘n geestesafwyking kan wees en mense dit misbruik om hulle eie liggame op ‘n masogistiese manier te skend. Ander weer dink dat dit ‘n vorm van geweld is, waardeur ‘n mens die goedheid en skoonheid van jou liggaam ontken en skade aandoen. Nog ander wys daarop dat sulke oefeninge dikwels ‘n vorm van seksuele perversie is en kan veroorsaak.

Daar is goeie redes vir sulke argumente. Vele grusame voorbeelde kan genoem word waar mense inderdaad op ‘n perverse manier hul liggame in die naam van godsdiens vermink.

En tog, dit is nodig om te vra wat die onderliggende boodskap is wat deur die “sagte” weergawe van self-geseling gekommunikeer word. Wat wou godsdienstige mense, self bewus van die gevare, met die oefeninge sê?

Dit is sekerlik waar dat ‘n mens sekere inherente begeertes en drange het wat jou kan benadeel en skade veroorsaak. Dit is dikwels ‘n verleiding om ander mense te misbruik of selfs te mishandel. Ons liggaamlike begeertes na voedsel, drank, plesier en gemak kan ons lewe oorneem en daardeur verwring word. Wanneer ‘n mens hierteen wil waak en stry, gaan dit om self-beheersing. Met self-beheersing is ‘n mens ingestel daarop om nie selfsugtig op te tree nie of om jouself skade aan te doen nie.

Sommige mense sou daarom ‘n “simboliese” manier van dissiplinering kan ontdek in ‘n heel eenvoudige gebaar wanneer ‘n mens ‘n pakkie sigarette weggooi wat jy wou gerook het. Of om nie ‘n sjokolade te eet wanneer jy oorgewig is nie. Een sigaret, een soet lekker kan jou liggaam weer sus. Om dit dan juis nie te eet of te rook nie, kan jou hoogs ongemaklik laat voel. En, as iemand wat steeds dieper nadink oor die geestelike lewenskuns, kan ‘n mens hierdie keuse vir die pyn van onttrekking nog dieper anker deur die geld wat jy aan rookgoed of sjokolade sou spandeer het, aan mense te gee wat honger ly. Jy kasty jouself, om bevry te kan word van jou eie verslaafdheid en gebondenheid tot ‘n lewe van vryheid en diens.

Sou ‘n mens dit ‘n “nuwe” geestelike oefening kan noem? ‘n Oefening waarin jy die ongemak van ‘n sober leefstyl jou eie maak ter wille van die groter goed wat daaruit sal voortvloei? Watter moontlikhede is daar in nuwe vorme van geestelike oefeninge soos wanneer mense op ‘n koue vloer slaap sonder matras of kombers, net koue water gebruik om te was, klere van growwe materiaal dra (soos wat pous Paulus 6 onder sy hemp en Moeder Teresa gedra het) en om te voet pelgrimstogte te onderneem? 


Hoe vergelyk ‘n sober lewensstyl, om eenvoudige klere te dra, om in allereenvoudigste omstandighede te woon, om net die basiese lewensmiddele te gebruik, met ons moderne praktyke: Dieselfde mense wat geskok is oor “middeleeuse” praktyke, laat self hulle liggame tattoëer, hul ore en spiere vir ringe deurboor, botox inspuit, op hoë hakke loop, terwyl hulle vele ander nare dinge aan hul liggame doen wat dikwels dissipline van jou liggaam na iets onskuldigs laat lyk.

Een ding staan soos ‘n paal bo water – en in vele opsigte is ons moderne gemeenskap hieroor gelukkig goed ingelig. Die liggaam is nie sleg nie. Ons liggame, as ons dit oppas as ‘n gawe van God, is ‘n bron van ‘n vervullende en gelukkige lewe en iets om te vier. Ons liggaam is ook nie vyand van ons geloof wat ‘n mens afsterf nie. Om ‘n mens se liggaam aandag te gee, kan gedryf word deur die wete dat ‘n mens se liggaam ‘n tempel is, ‘n heilige ruimte is waar God wil woon en daarom ‘n plek is waar die kwaad nie pas nie en wat ook nie verwaarloos moet word nie. ‘n Mens ontdek hoe ‘n liggaam, goed opgepas en versorg, die lewe op ‘n spesiale manier plesierig en goed maak. ‘n Mens se liggaam, leer ‘n mens dan deur geestelike oefening, is nie daar bloot net vir jouself en vir jou eie plesier nie. Dit is ook ‘n gawe aan jou om in verhouding met Ander geniet te word – in ‘n verhouding met iemand anders, in familie-verband wanneer pa, ma en kinders in die branders baljaar of saam in die veld gaan stap, of wanneer hulle swoeg in sweet met grassny vir ‘n mooi tuin. Die dissiplinering van ‘n mens se liggaam, in watter vorm ook al, kan self ‘n manier word om die greep van dwelms op ‘n mens se lewe te breek.

Kan die dissipline van self-kastyding hierdie soort van persoonlike en sosiale lewensstyl inburger en inoefen sodat dit ‘n lewenskuns word?

Die uitdaging is om ons bewussyn van die wonderbaarlikheid van die liggaamlike, deur te trek om ook die geestelike implikasies van liggaamlikheid te besef, te soek en na te jaag. En om te ontdek watter goed ‘n mens deur die wonder van ‘n liggaam vir en in diens van ander kan doen.

Soms sal dit disspline vra om te sterf aan jou eie belang. ‘n Mens kan deur geestelike oefeninge steeds weer in gesprek tree met jou liggaam en sy onredelike, soms banale eise en jou dan inspan om “nee” te sê vir wat afbreek en skade kan doen. So kan ‘n mens stilweg, sonder dat ander dit hoef te weet, op ‘n simboliese manier, al biddende, maar ook as ‘n nie-gewelddadige ritueel jouself dissiplineer en kasty. Dit alles doen ‘n mens nie om jou liggaam af te breek nie. Steeds weer is dit daarop ingestel dat God se bedoeling met die liggaam as ruimte waar die heilige inwoon, ‘n werklikheid sal word. Dit is ‘n geestelike oefening, wat ‘n mens om God se wil doen.

Wednesday, August 21, 2013

Om geestelike oefeninge nie te vergoddelik nie.

Geestelike oefeninge maak nie van iemand ‘n meer indrukwekkende gelowige of selfs ‘n goeie mens nie. Sulke oefeninge word eerder deur mense gedoen wat op soek is om in hul geloofslewe te groei tot groter volwassenheid en heelheid, wat reeds hul geloof as ‘n omvormende krag ervaar en wat die sin van ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God vind.

‘n Mens kan geestelike oefening as ‘n intensiewe bemoeienis om nog dieper in jou geloof te groei, onderskei van sekere kernsake of van deugde. Om lief te hê is ‘n eienskap, ‘n noodsaaklikheid en ‘n deug. Mense wat omgee vir ander en soek om liefdesbande aan te knoop en te verdiep, is toegewyde, deugsame mense. Hulle soek byvoorbeeld om regverdig, nederig, ordelik, sorgsaam, ontfermend, eerlik, betroubaar, opreg, getrou of sober te wees.

Hoe belangrik hierdie kernsake is, word duidelik wanneer ‘n mens na die teenoorgestelde daarvan kyk. ‘n Samelewing val uitmekaar wanneer mense nie meer ‘n lewe van toewyding en deugsaamheid soek nie. Hulle is nie regverdig nie, maar geneig tot korrupsie. Hulle raak arrogant en ag nederigheid nie. Hulle is selfsugtig en voel min vir ander. Hulle is onbetroubaar en ‘n mens kan nie meer op hulle reken nie. Hulle is ontrou en gee nie om om hulle woord te breek nie. Hulle is uitspattig, dink dit is laf om lekker gesuip te wees en verlekker hulle in hul lewens van oordaad en luuksheid.

Hierdie dinge is dus noodsaaklik vir ‘n gemeenskap en vir ‘n mens se geloof. Dit kan nou, verder, ‘n belangrike geestelike oefening word om ‘n mens se lewe te toets aan die hand van die vraag hoe ‘n mens in hierdie kernsake en deugde ingroei.

Tog is dit nie die begin en einde van alles om geestelike oefening te doen nie. Gelowige mense kan sekerlik sonder geestelike oefeninge klaarkom. ‘n Mens hoef nie heeldag stiltetyd te hou nie. Om jou uit jou omgewing te onttrek vir ‘n afsonderingsgeleentheid kan waardevol wees, maar daarsonder val ‘n mens se geestelike lewe nie noodwendig uitmekaar nie. Om te vas, kan geestelike groei bring. Minder televisie kyk, byvoorbeeld, kan ‘n manier van vas word wat ‘n mens vry van verslawing aan vermaak maak. Om op te hou rook met al die stryd wat dit inhou, kan ‘n belangrike geestelike oefening word waardeur ‘n mens jou liggaam skoonmaak en weghou van ‘n gewoonte wat ‘n gesondheidsgevaar is. Maar vas bly ‘n opsie, ‘n moontlikheid, soms selfs ‘n aantreklike geleentheid, al is dit nie te vergelyk met ‘n kernsaak soos liefde en regverdigheid nie – dinge waarsonder geloof nie kan bestaan nie.

Met sulke kernsake en eienskappe soos liefde, ontferming, regverdigheid en eerlikheid is dit dus anders. Hulle kan ‘n mens nie as ‘n opsie beskou nie. ‘n Mens se lewe doen skade op waar ‘n mens dit verwaarloos.

En tog, benewens die inspanning om eerlik, regverdig, liefdevol en ontfermend te wees, kan ‘n mens jou deur allerhande liggaamlike oefeninge verder in hierdie noodsaaklikhede inoefen. Deur vas, gebed, afsondering, rituele, sakramente, Bybelstudie en vele ander oefeninge kan ‘n mens dieper in die liefde groei, liewer vir die waarheid word en al hoe meer omgee vir ander.

Geestelike oefeninge waardeur ‘n mens konkreet jouself inoefen om sterker in jou geloof te groei, is nie ‘n doel in sigself nie. Hulle doel lê juis buite hulself: om ‘n mens se verhouding met God sterker te maak en om uiteindelik God se stem en nabyheid noukeuriger en beter as ooit te beleef. Om ‘n mens af te sonder, om te vas, om te bid, om die Bybel te lees en om die sakramente te gebruik wil ‘n mens steeds meer in die beeld van God vorm en ‘n mens Christusgelykvormig maak. Dit wil ‘n mens bring om so liefdevol, regverdig, betroubaar en ontferemend soos God te wees.

Die insig verryk ‘n mens se siening van geestelike oefeninge. Gedurig kan ‘n mens by sulke oefeninge vra hoe hulle ‘n mens bring om die vrug van die Gees (Gal.5-6) in ‘n mens se lewe te kan dra. En dit kan ‘n mens ook waaksaam maak om nie geestelike oefeninge self belangrik te maak nie. So ‘n veruiterliking kan dodelik vir gees en liggaam wees.

Geestelike oefeninge maak nie van ‘n mens ‘n goeie mens nie. Hulle is bedoel om in ‘n mens se lewe ‘n steeds groter ruimte vir God se inwoning te skep.

Blog Archive