Saturday, August 24, 2013

Uit die larwe 'n vlinder. Oor transformasie.



Wanneer mense deur God aangeraak word, bly hulle nie dieselfde nie. 

In 'n lewenslange proses word hulle omvorm. Steeds weer word hulle deur hul verhouding met God op een of ander manier gevorm sodat hulle meer en meer van God se beeld vertoon.

Die proses word 'n reis deur valleie en pieke. 

Die "reis" word 'n belangrik metafoor vir die hierdie omvormingsproses. Mense gebruik dikwels hierdie beeld en dit help om hieroor na te dink.

Daar is heelwat ander beelde wat 'n mens help om te verstaan wat hier gebeur.

Sommige praat van 'n larwe waaruit 'n skoenlapper ontwikkel. Dit is wat transformasie beteken.

Of ook baie gewild is die beeld van vuur wat 'n hout aansteek, binnedring, verteer sodat die hout self begin brand en kole word. Dit is 'n beeld van hoe die verhouding met God 'n mens se lewe beïnvloed.

Waaijman noem ook ander beelde: daar is die beeld van die rivier wat van sy oorsprong al kronkelende sy weg na die see vind.

Of daar is die beeld van 'n liefdesverhouding waarin 'n minnaar al hoe meer opgaan in die beminde. Of van 'n koringland waarvan die saad in die braakgrond inplant en uiteindelik die oes oplewer.

Waaijman noem ook 'n die voorbeeld van 'n skildery wat 'n lewe van sy eie begin voer. Die kunstenaar teken iets wat so besonders in sy weergawe word dat dit self 'n voorwerp van bewondering word.

Beelde om te bedink. En wat almal vir 'n mens vertel hoe spesiaal dit is dat God 'n verhouding met mense aanknoop.

Blog Archive