Monday, August 05, 2013

Oor die doodsvonnis. Die spiritualiteit van 'n suster.

In Amerika is daar nou 'n debat aan die gang omdat die staat Florida Maandag 'n paranoïese skisofreen wat agt mense verskriklik wreed vermoor het, gaan teregstel nadat hy 34 jaar lank in die dodesel aangehou is. 

Die teenstanders van die teregstelling wys daarop dat die staat blatant die grondwet van Amerika met die teregstelling skend.

Dit is 'n heftige debat, soos dit altyd gaan wanneer die doodstraf ter sprake is.

Ek was verras omdat selfs in Amerika met sy diepe eerbied vir die grondwet, mense dit in sommige gevalle net van die tafel kan afvee. Wat my egter veral opval in die debat was een kort opmerking van 'n teenstander van die doodstraf. Sy wys daarop dat vele mense redeneer dat die man aaklige misdade gepleeg het. En dit is waar: mense wat in Amerika in die dodesel sit, is meestal skuldig aan die slegste van wrede moorde. 

Die vrou, Suster Helen Prejean, sê egter: 

Die vraag is nie of die man verdien om doodgemaak te word nie. Die vraag is of ons verdien om iemand dood te maak. 

Een kort opmerking wat in 'n neutedop 'n diep spiritualiteit raakvat. Nie net bevraagteken dit die mens se reg om oor lewe en dood te besluit nie. Dit reflekteer ook 'n raaiselagtige, maar heel konkrete oortuiging wat reeds tweeduisend jaar gelede mense geboei het: dat selfs moordenaars, skuldig aan die allerwreedste van moorde, op 'n keer kan verstaan wat genade is - soos die Bybelskrywers dit versigtig aangeteken het. 

Dit is daardie "suster" wat dus eintlik boei.

 

Blog Archive