Sunday, August 11, 2013

Wanneer God weggaan... Oor die verloop van die geestelike reis


In spiritualiteit word dikwels gepraat van daardie eerste fase van geestelike verrukking en opwinding. Dit is 'n tyd van entoesiasme, blydskap en opwinding. Mense beleef met verwondering al die seëninge wat in die fase so veelvuldig oor hulle pad kom. Dit is 'n goeie tyd waarin hulle verstom staan oor al die vrugte van geloof.

Hulle voel naby aan God te oor al die sukses-stories wat hulle beleef en die vreugde wat hul lewens goed en mooi maak.  God voel hulle, oorlaai hulle met seëninge, beantwoord hulle gebede en is oral te ervaar.

Onvermydelik gebeur dit dan op 'n dag dat dinge verkeerd loop. Die glans is af wanneer dinge nie meer so goed en mooi loop nie. Dit beïnvloed hulle geloofslewe. Mense voel hullle bid "teen die plafon vas."  Die entoesiasme word minder. Hulle kan nie meer bid nie.

Wie nie dan wegval nie, ontdek een of ander tyd dat daar sin is in die onverwagte teenspoed. Dit gebeur, ontdek hulle dikwels, om van hulle beter mense te maak. Die nuwe fase in hul geestelike lewe vorm hulle en maak hulle tot beter mense.

Hulle ontdek nou dat hulle in die nuwe fase dat die geestelike reis 'n proses is waarin 'n mens gedurig nuut gevorm word. En dit kan ook deur teleurstelling en pyn gebeur. Daarom word dit 'n fase om nie aan dinge vas te hou nie en om te besef dat seëninge van gebedsverhoring 'n las kan word: 'n mens stel naderhand net belang in wat jy uit jou verhouding met God kan kry. Wanneer dit opdroog, daar dor tye kom, is dit 'n manier waarop God 'n mens wil lei om verder te groei en geestelik sterker te word. Dit kom dus deur verby alles te kyk wat nie om God self gaan nie, maar wat 'n mens eerder verlei om op God se gawes konsentreer. 

Maar dan kom die derde fase in hierdie groot patroon wanneer dinge nie net verkeerd loop nie, maar mense verder begin voel asof God nie meer in hul lewens teenwoordig is nie. Hul blik op God word verduister. Dit is die tyd van God se weggaan.

Hier ook ontdek die soekende mens dat sy geestelike reis op 'n nuwe manier ontwikkel. Al hoe meer bring die nuwe fase 'n groter volwassenheid deurdat 'n mens besef die aandag val lank nie meer op die eie behoeftes nie. Dit word nie meer 'n kwessie van wat 'n mens self ervaar nie of watter opwinding in jou eie lewe is nie. Langsamerhand weet hulle dat God inderdaad op 'n ander manier in hul lewens teenwoordig is.

Gebed neem 'n nuwe vorm aan: 'n mens bid, so vertel die wyses, om te kan vry word, om die ego prys te gee. En dit bring 'n nuwe vryheid met 'n dieper, deurleefde vreugde: wat saak maak, is om deel te wees van die groter skepping en familie van God en al die sin wat dit aan die lewe gee.  'n Mens leer om God op 'n ander manier en in 'n nuwe verhouding te ontdek.

Blog Archive