Friday, March 05, 2021

Dankbaar vir elke oomblik. Oor totale verdriet.

Die radio omroepers parkeer voor 'n hospitaal in België. Hulle gesels met die werkers in die hospitaal. Die een na die ander kom vertel wat hulle in die tyd vir Covid-pasiënte doen. En hoe hulle dit beleef. 

Die Persiese vrou is 19 jaar gelede weg uit haar land. Sy is met 'n Belg getroud. Haar familie bly nog steeds daar. 

Sy het verpleging gestudeer en werk nou in die hospitaal. Om haar man nie aan te steek nie, bly sy in haar Persiese kamer: 'n matras en Persiese matte wat die kamer versier. Sy en haar man praat oor die foon met mekaar. 

Sy wil hom nie aansteek nie. En intussen werk sy lang ure onder pasiënte. Die virus saai verwoesting - ook onder haar familie. Haar ouers en susters/broers het almal in haar land siek geraak. Sy praat darem met haar ouers oor die foon.

Wat hou haar aan die gang, vra die omroepers, as sy vertel van die uiterste vorme van lyding?

Mens bly aan die gang, oorleef, omdat jy weet dit sal ook verbygaan. Maar wat haar eintlik orent hou, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir elke dag wat sy nog kan leef en beleef - en vir ander kan help. Maar sê sy,  die dankbaarheid herinner haar telkens daaraan om elke oomblik voluit te waardeer. Want, het sy besef, die lewe is kosbaar. Terwyl jy dit het, moet jy bewustelik weet elke oomblik is goed en goud. En dit maak 'n mens dankbaar. 

Ek kyk verwonderd na die program, na die vrou en die baie ander mense wat elk op hul manier lyding bestry. Dit roer 'n mens diep om te sien hoe, selfs in hoogs sekulêre België, die enorme goedheid van mense deur lyding uitdy. En hoe mense omgee vir ander.

Te maklik? Is die goedheid sommer so uit die mou geklits, asof maklik, asof vanselfsprekend?

Die Persiese vrou sit later in haar "persiese" kamer met die matras en die tapyte - daar waar sy in afsondering van haar man in dieselfde huis woon - om hom nie aan te steek nie.  Die radiomanne neem haar af waar sy sit, 'n stil, rustige, maar tog deurdronge mens. 

Sy praat oor haar ouers en haar familie wat tuis in haar land in haglike omstandighede woon. Sy is dankbaar, dankbaar dat sy nog met hulle kan gesels. 

Maar as die gesprek einde se kant toe staan, begin sy vir die eerste keer oor haar self praat. En sy sê hoe sy verlang om net weer 'n slag haar geboortestad te besoek. "Ek verlang so..." begin sy. 

Sy bly lank stil. Die kameraman hou die kamera vas op haar gesig gefokus  -  die minute snel verby. Maar sy kan nie verder praat nie. Dit is totale verdriet, so skrynend onder haar ingehoude pyn. Intenser gemaak deur die dankbaarheid. So bly oor al die seëninge, maar so stukkend, tog, van die pyn. 

Dis (byna) soos daardie kruiswoorde - die een wat praat van die liefdevolle oorgawe aan die Vader, veral van sy sterk hande. 

Maar wat tog, in 'n volgende oomblik, in 'n ander woord vertel van totale verlatenheid. 

Dit is ons lewensverhaal - die weg van tydelikheid, maar waarin die laaste woord tog die oorgawe-woord is. 



Blog Archive