Saturday, June 30, 2012

Ongemaklik om oor die dood te praat.

Hier is 'n interessante skrywe in vandag se NYT. 


Die skrywer praat oor haar terughoudendheid om te skryf oor haar pa se onlangse dood. Dit maak mense ongemaklik, vertel sy. Haar skrywe is self 'n uitroep om haar rou te kan deel, om ook in haar skryfwerk wat so 'n groot deel van haar lewe uitmaak, oor 'n groot gebeurtenis in haar lewe te kan praat. En haar rubriek is in sigself 'n boeiende insig in die pyn wat sy voel sy wil met ander deel na die trauma wat haar getref het. 


Dit is, wat my betref, egter waar van alle verhale wat 'n mens met ander wil deel oor jou innerlike gevoelens na 'n persoonlike verlies - ook in persoonlike omgang: jy hou terug omdat dit ander ongemaklik kan laat voel. Ek weet nie of sy reg is dat mense makliker met mekaar in die gewone lewe, weg van die openbare oog, oor hul persoonlike gevoelens na verlies praat nie. Mense vermy begrafnisse, sterwendes en rouendes as hulle kan. Gesprekke oor die dood is self in die gewone lewe iets wat 'n mens wil systap. 


Ek het van 'n kollega die kosbare les geleer dat vele mense eintlik graag sulke gevoelens met jou wil deel. Maar hulle is versigtig om dit te doen. 'n Mens moet meestal eers vir hulle uitnooi. Ek vermoed dit is gedeeltelik omdat mense dink hulle maak ander ongemaklik met hulle verhale oor hul intieme reaksies op verlies. Ek dink dit is ook omdat mense die gewoonte aanleer dat persoonlike rou nie uitgestal moet word nie. Daarom is ons begrafnisse waardige, stil en stemmige geleenthede.


En, wanneer ons self in so 'n situasie kom en terughou om te deel, is ons besig om 'n goue geleentheid te laat verbygaan. Want die hart bly swaar. Die rou bly donker. En om die vensters oop te maak, kan ander ryker, ligter, sagter maak wanneer hulle dieselfde gevoelens uit ordentlikheid moet wegsteek. 


Eintlik wil mense in die meeste gevalle iets oor hul intense belewing deel. Dit is ook vir my opvallend hoe intens en waardig hulle dit kan doen wanneer hulle die kan gegun word om dit te doen. 


En, het ek ontdek, daar ontstaan 'n besondere band met ander wanneer hulle die kans kry om vir jou te vertel wat hulle ervaar. 


'n Tydjie terug sit ek saam met 'n gesin met wie ek gesels nadat een van hul ouers op 'n baie jong ouderdom onverwags dood is. Ek verwonder my aan die sagte gesprek waarin hulle vertel hoe hulle die tyd van afskeid beleef het. Hul taal is besadigd, sonder sentimentaliteit, maar deurtrek met 'n ingehoude hartseer. 


Hul kind, skaars elf jaar oud, sit saam en luister na die gesprek. Uit die bloute, duidelik gretig om ook sy ervaring te deel, merk die kind stilweg op: die ervaring het van ons almal ander mense gemaak. In 'n enkele opmerking deel die kind die impak van die dood - selfs op die kleines onder ons: verandering, transformasie, sensitiwiteit vir die gevolge van verlies, 'n groter omgee vir ander wat daarmee in 'n mens se lewe wortel skiet. 


Ek onthou die kind se opmerking nou, lank na die tyd nog. 'n Kykie in die hart van iemand wat groei in groter menslikheid deur trauma wat oor jou pad kom. Om oor verlies te praat, laat die hart vry en verryk ander. 


Jammer dat ons ongemaklik voel om hieroor te praat. Hoeveel verloor ons deur ons swye. En hoe ryk word ons lewens as ons uit die mond van ander kan sien met watter self-insig en rypheid hulle selfs so 'n verskrikking soos die dood sinvol en volwasse kan hanteer. 


Hier is Wortham se artikel: 



Here’s a shortlist of the things I post about on the Internet on any given day of the week: the latest Rihanna remix, excerpts from interesting bits of writing around the Web, GIFs that made me crack up at my desk.

Here’s an even shorter list of the things I don’t post about online: death, or to be more specific, the recent death of my father.

Why is that? We know that the Internet loves a good death hoax (RIP Boo) and has become the medium of choice for mourning the passing of a celebrity or famous figure. The night Steve Jobs died, for example, all of my feeds quickly transformed into a virtual wake, attended by thousands, flooded with fond words, video clips, tributes rendered in GIF and Photoshop, a loving remembrance created and shared by Mr. Jobs’s admirers in their native mediums. When Whitney Houston died suddenly, we gathered online, stunned, taking comfort in knowing that others just like us were struggling to make sense of the loss.

As Rick Webb pointed out in, the death of a public figure can bring out our oversharing tendencies in full force — often to other people’s discomfort.

“Many Americans believe strongly that grieving should be private or at least subdued,” he wrote. “We should be respectful of those who were closer and are in more pain than us. Social media throws a monkey wrench into this, and it can look ugly.”

However, when it comes to talking about death and grief in a non-abstract way — that is, when dealing with the loss of a family member, a partner or close friend — it gets much, much trickier. It doesn’t have an appropriate reaction face, a photo that you can reblog, a hashtag.

That’s because posting about a more personal loss makes people — both the poster and the readers — uncomfortable. It’s awkward enough to figure out whether to like, favorite or respond to tweets and status updates bemoaning a bad day, a breakup or a tragic news article. When it comes to death, it’s even harder. No one wants to see morbid thoughts and ruminations about death sandwiched between cheery updates about last night’s party and celebrity chatter.

The problem lies partially in the types of social sites and services that Internet entrepreneurs tend to build. There’s no Instagram to remember deceased loved ones, no Tumblr tag for death. There’s no GroupMe-like service for strangers to commiserate about sleepless nights and recurring nightmares. That shouldn’t be a surprise – what entrepreneur wants to pitch a venture capitalist on that app? What advertiser wants their products and brands sitting alongside a weepy comment or video about bereavement?

It’s endemic of a larger problem in the way we are encouraged – and discouraged – to express and present ourselves online. This is more than trying to decide how carefully polished you want your online image to be. It’s about the way social software is slyly engineered to get us to participate – we are encouraged to brag about our lives, and present ourselves as living our best lives each day and year. It’s not built to handle sadness or any deeper or more complex emotion than that. Which, in a way, makes sense — could a 140-character tweet ever fully convey the full extent of the emotion we’re trying to share? At best, we could look tasteless, thoughtless for taking to the Web instead of a more traditional outlet — like a phone call, e-mail or handwritten letter — to talk about tragedy and sympathy.

In other words, death is heavy; it’s a topic best reserved for offline conversations, in-the-flesh interactions with friends, therapists, counselors.

What the Web did have to offer me was outdated at best: archaic online forums and dusty chat boards. So in order to talk about grief, I have to do it the old-fashioned way — in a small, dimly lit office surrounded by other strangers plucked from the world. And as someone who lives out most of her life online and revels in the Web, I can tell you it feels very weird not to have an outlet for one of the biggest events of my life to date, right up there with graduating from college, getting jobs, moving to New York, all of which were shared, celebrated, praised on the Internet.

And not only does it feel weird: it gives the impression, at times mistaken, that all is well behind your screen. More than once, a friend remarked to me that it seemed things were fine based on my Instagram feed, tweets and Tumblr. That’s not their fault, far from it. It’s a perfectly adequate assumption to make — but one that reveals that we’re increasingly linking how we present ourselves online with how we are offline, even if we ourselves see the chasm between the two.

All of it has made me think: What is lost when we’re building a social Web that only caters to a select few options in the vast, vast catalog of human emotions?


Friday, June 29, 2012

Geluk kom nooit ten koste van ander nie…




Spinoza, een van die invloedrykste figure van die sewentiende eeu, was ‘n fel omstrede figuur.


Hy is as jongmens deur sy eie mense uit die Joodse sinagoge van sy kinderdae verban en totaal deur sy eie geloofsgenote verwerp.


Hy sou later oor die hele Europa nog meer ly onder die felle kritiek wat sommige teoloë en filosowe teen hom geuiter het en onder die verdagmakery van sy standpunte. 


Tog het Spinoza 'n besondere eerbied vir godsdiens gehad. Boonop het hy vele Christen-vriende gehad wat vir hom, in die destyds "verligte" Amsterdam ondersteun en bewonder het. Dit is ook merkwaardig om sy verhouding met die Christendom na te gaan. In sy boeke skryf hy dikwels oor die Nuwe Testament, en veral ook met groot ontsag en bewondering oor Christus. Hy het die Bybel soos die palm van sy hand geken. Bladsy na bladsy van sy werke is ‘n geduldige, eerlike en eerbare gesprek met die Ou en die Nuwe Testament. Vele van sy opmerkings is vandag vanselfsprekende insigte in die Bybewetenskappe. 


Uiteindelik het hy, na intense debatte en lewensbedreigende kritiek, in ‘n eenvoudige huisie gaan woon, waar hy 'n asketiese lewe doelbewus opgesoek het en lense geslyp het om 'n bestaan te maak. Hier het hy sy boeke geskryf wat later die geestesgeskiedenis van Europa beslissend sou beïnvloed. Hy is hier ook deur baie van die groot denkers van sy tyd besoek, omdat sy roem oor die hele Europa versprei het en mense met insig meer van hom wou hoor. Onder die besoekers was van die bekendste filosowe en teoloë van daardie tyd.  


Sy ernstige Bybelstudie waarin hy op allerhande moeilike kwessies gewys het, was een van die redes waarom mense hom gekritiseer het. Dit is veral sy Godsbegrip wat vele as problematies beskou. Hy word daarvan beskuldig dat hy ‘n panteïs was wat die gesag van die Bybel hartgrondiglik aangetas het. Ander beskou hom as ‘n volslae rasionalis wat die mens die regter van die Bybel gemaak het aan die hand van die rede as maatstaf. Hy het homself veral ongewild gemaak omdat hy hom fel en vreesloos verset het teen die magsmisbruik van die kerk en die bygelowigheid wat hoogty in die kerk gevier het.


Hy het magtige vyande gemaak wat nie gehuiwer het om hom eindeloos te treiter en te bedreig nie – al wou hy uitdruklik met sy geskrifte nie godsdiens aanval of uitwis nie.


Spinoza skryf soms merkwaardige dinge oor God, oor godsdiens en oor die rol van verstaan in geloof. 


Hy ag in werklikheid godsdiens hoog omdat dit mense transformeer tot ‘n outentieke lewe. Die grondtoon van sy geskrifte is duidelik: ‘n Mens kan baie stry oor al die dogmatiese inhoude van godsdiens en die Bybel vertel baie, baie uiteenlopende en selfs teenstrydige dinge oor God. Maar‘n mens kan volgens hom oor een ding nie stry nie: godsdiens is waardevol. Dit het 'n belangrike plek in enige samelewing. Die staat se taak is selfs om ruimte te skep vir sinvolle beoefening van godsdiens. 


Godsdiens, beklemtoon Spinoza, kan mense bevry tot ‘n lewe van goedheid, geregtigheid en ontferming. Al is daar baie teenstrydighede in die Bybel en al kan ‘n mens vele probleme in die Bybel uitwys, is die Bybel helder en duidelik in sy morele boodskap. Trouens, die waarde van die Bybel en godsdiens vind Spinoza in die goeie lewe waarin dit die mens wil inlei. Hiervan kan 'n mens uit Spinoza se boeke baie voorbeelde gee. Terwyl ek Spinoza lees om volgende maand oor hom as mistikus te praat, kom ek af op die mooiste insigte. 


Kyk, as voorbeeld, wat skryf Spinoza oor die tema van vreugde en geluk. Vir hom kan geluk nooit op 'n selfsugtige, immorele manier beleef word nie:

Die enigste rede waarom elke mens waarlik gelukkig en geseënd is, is omdat ‘n mens die goeie kan geniet. Nooit kan ‘n mens egter gelukkig en tevrede wees omdat net jy alleen die goeie kan geniet nie en terwyl jy dink dat ander mense nie so gelukkig soos jy is nie. ‘n Mens kan nie egte geluk ervaar as jy reken dat ander mense volgens jou opinie nie so gelukkig is nie.


Iemand wat dink sy/hy is gelukkig omdat sy/hy seëninge geniet wat ander nie het nie, of wat meen dat hy gelukkiger as ander mense is, weet nie wat ware geluk is nie.


So iemand se vreugde is kinderagtig, jaloers of kwaadwillig. Byvoorbeeld: iemand is waarlik gelukkig aleen maar in wysheid en in kennis van die waarheid, nie omdat hy of sy wyser as ander is nie of dat ander mense sulke insig nie het  nie. Wie so dink, is nie wyser of gelukkiger as ander nie. Iemand wat dus oor sulke rede’s bly is, is bly in ander mense se teenspoed en is daarom kwaadwillig en sleg. So ‘n persoon weet nie wat geluk of vrede is wat ‘n mens in die egte lewe ervaar nie.

'n Mens wat op ander neersien en hulle geluk ontken of misgun, weet nie wat egte vreugde is nie. 


Ek lees hierdie gedeelte as 'n hoogs morele uitspraak wat wys hoedat Spinoza ander mense se integriteit en geluk respecteer. Ek verwonder my oor hierdie morele karakter van sy morele lees van die Bybel. 


Ek verwonder my ook dat ‘n mens wat met soveel ontsag oor die Bybel se morele boodskap kan praat, so omstrede kon wees. Ek het ook my reserwes oor Spinoza se Godsbeeld en oor die verabsolutering van die begrip “moraliteit”.  Maar as ek sulke dele lees, kan ek verstaan dat sommige mense hom as 'n diepsinnige, selfs edele mens ervaar het. Juis daarom sien ek uit om meer te lees waarom sommige mense hom ‘n mistikus by uitnemendheid noem. Maar daaroor later meer.  

Thursday, June 28, 2012

Nie 'n amp nie, nie status nie, maar toewyding is tot eer van God...

As 'n mens Spurgeon se tekste lees, moet 'n mens verby die tipiese Victoriaanse taal-oorvloed en uithangerigheid kyk na die onderliggende geestelike instelling.


Die volgende boeiende stukkie bevestig 'n eeu-oue insig van menige Spiritualiteittekste. Dit bevat 'n hele reeks van wyshede.


Terwyl ek hierdie leeswerk hier opneem, val dit my op hoe die inhoud daarvan aansluit by die opmerkings van Spinoza wat ek gister hier gedeel het. Wat 'n stuk ironie - want daar is wêrelde wat Spinoza en Spurgeon van mekaar skei.


'n Mens, gee albei hierdie stukke te kenne, is in diens van God, ongeag of jy 'n hoë kerklik amp beklee. Dit is nie die amp wat tel nie. Wat tel is of 'n mens die Here dien, waar jy ook al is, en 'n instrument van God in jou eie konteks word.


Anders gestel: die kerkleier is nie die enigste "gesalfde van die Here" nie. Die kerkleier se geloofwaardigheid word nie deur haar/sy amp bepaal nie, maar deur haar/sy getrouheid. 


Aldus ook in die sekulêre wêreld: 'n mens dien Here nie net as 'n predikant nie. Dit kan met enige een in vele plekke buite die kerk gebeur wanneer 'n mens met integriteit en in gehoorsaamheid, God se wil vir jou lewe uitleef. 


Oral, oral, kan 'n mens 'n geroepene wees. 


Hier is die stuk van Spurgeon:


"Let every man abide in the same calling wherein he was called."
1 Corinthians 7:20


Some persons have the foolish notion that the only way in which they can live for God is by becoming ministers, missionaries, or Bible women. Alas! how many would be shut out from any opportunity of magnifying the Most High if this were the case.


Beloved, it is not office, it is earnestness; it is not position, it is grace which will enable us to glorify God.


God is most surely glorified in that cobbler's stall, where the godly worker, as he plies the awl, sings of the Saviour's love, aye, glorified far more than in many a prebendal stall where official religiousness performs its scanty duties.


The name of Jesus is glorified by the poor unlearned carter as he drives his horse, and blesses his God, or speaks to his fellow labourer by the roadside, as much as by the popular divine who, throughout the country, like Boanerges, is thundering out the gospel.


God is glorified by our serving him in our proper vocations. Take care, dear reader, that you do not forsake the path of duty by leaving your occupation, and take care you do not dishonour your profession while in it.


Think little of yourselves, but do not think too little of your callings. Every lawful trade may be sanctified by the gospel to noblest ends.


Turn to the Bible, and you will find the most menial forms of labour connected either with most daring deeds of faith, or with persons whose lives have been illustrious for holiness.


Therefore be not discontented with your calling. Whatever God has made your position, or your work, abide in that, unless you are quite sure that he calls you to something else.


Let your first care be to glorify God to the utmost of your power where you are. Fill your present sphere to his praise, and if he needs you in another he will show it you.


This evening lay aside vexatious ambition, and embrace peaceful content.

Wednesday, June 27, 2012

Die keer dat die kerk hoog gerespekteer word....

Hierdie stuk lees ek vanoggend - geskryf deur 'n bekende onder bekendes:
Ek was nog altyd verwonderd daaroor dat mense wat daarop roem dat hulle Christene is en wat baie te sê het oor liefde, vreugde, vrede, self-beheersing en ontferming met soveel vurige vyandigheid aan die baklei kan raak en mekaar so bitter kan haat. 
Dit lyk asof hierdie hatigheid teenoor ander hul geloofslewe meer aanvuur as al die deugde waarop hulle so roem. 
Dinge het nou al tot so ‘n punt gekom dat ‘n mens iemand se godsdienstigheid koppel aan sy voorkoms en kleredrag, aan die gebou waar hy of sy aanbid of aan die soort taal wat hy of sy gebruik as lidmaat van sy / haar geloofsgemeenskap. 
Iewers het hierdie dinge begin skeef loop toe die gewone gelowige na kerkleiers as hoogwaardigheidsbekleërs opgesien het. Dit is eie aan die godsdiens van ons tyd dat mense kerklike ampsbekleërs hoog ag.
Dit is waarom elke Jan rap en sy maat nou ‘n kerkleier wil word. Die liefde waarmee mense hulle voorheen in diens van God gestel het, het op die agtergrond verdwyn. Nare gierigheid en ambisie het die plek daarvan ingeneem. Elke kerk word ‘n teater waar sterre optree in plaas van bedienaars van die Woord. Hulle soek applous en bewondering, kraak mense wat van hulle verskil af, maak hulle verdag en jaag daarna om allerhande nuutjies uit te probeer waarmee hulle hulle gemeentelede vermaak. 
Geloof is lank nie meer wat dit oorspronklik was nie. Dit gaan nog op die oppervlakte om godsdienstige vorme, maar godsdiens het niks anders as liggelowigheid geword wat met nare bevooroordeeldheid en verwerping gekoppel is.
 
Nee, die stuk is nie ‘n eietydse skrywe nie. Dit gaan nie oor ons land en oor ons tyd nie.

So het Spinoza (1632-1677), die beroemde filosoof, oor sy tyd geskryf.

Byna vierhonderd jaar gelede.

Maar waarom bly die gedeelte al heeldag my by?

Monday, June 25, 2012

Paulus die liefdevolle, Paulus die liefdelose


Tydens ons byeenkoms in Gloucestershire praat ek oor die opvallende verskynsel dat Paulus se kwaai brief aan die Galasiërs tog ook belangrike uitsprake oor die liefde het.

In die akademiese skrywes oor die brief aan die Galasiërs word die perspektief oor die liefde nie altyd so sterk uitgewerk nie. Daar is ook, interessant genoeg, nie enige akademiese artikel net oor die begrip van die liefde in Galasiërs geskryf nie.  

As ‘n mens die brief vanuit die perspektief van die liefde lees, is die resultaat verrassend. Die brief kry ‘n heel ander kleur. Die liefde is so sterk daarin uitgewerk dat die genade, daardie kernmoment in die teks, maar net ‘n uitwerking van die liefde is. Die diepste moment in die verhouding tussen God en mens is nie soseer die genade nie, maar die liefde waaruit die genade gebore is.

Op sekere sleutelmomente in die teks vertel Paulus daarom in sterk taal van God se liefde vir die mens: Byvoorbeeld: in Galasiërs 2:20 skryf Paulus hoedat die Seun van God sy liefde vir Paulus bewys het deur sy lewe vir hom af te lê.

Vir Paulus is, dus nie die genade alleen nie, maar die liefde wat ten grondslag van die genade lê, die belangrikste. ‘n Mens word gered, deur die geloof, sonder verdienste bloot omdat God ‘n mens lief het.

Die liefde is vir Paulus die begin van alle dinge. Dit is die oorsprong van alles, die bron waaruit die lewe vloei. Uit die liefde wil God ‘n verhouding met die mens aanknoop wat nie aan verdienste gekoppel is nie, maar aan God se behoefte aan ‘n intieme verhouding met die mens.

Paulus skryf uit sy hart uit hieroor. Hy het immers al in Galasiërs 1:13-14 eerlik sy eie, haatdraende houding teenoor die “kerk van God” gewys toe hy, ‘n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van sy voorvaders hulle tot die uiterste vervolg en probeer uitroei het. Paulus, die dogmaties suiwer en regsinnige gelowige ontsien niks om sy teenstanders uit te roei nie. Maar, voeg hy dan by in Galasiërs 1:15, God het hom in genade geroep en in sy goedheid sy Seun aan hom geopenbaar. En dwarsdeur hierdie brief onderstreep hy telkens hoe die genade van God onverdiend, buite die wet om, tot mense gekom het en hulle tot die liefde bring. Die genade kom uit die liefde. Hy sal weet, hy, die een wat so kon haat.

Paulus, die haatdraende yweraar, die vyand van God se kerk, word deur die liefde getransformeer tot navolger van Christus.

Mooi werk Paulus die gevolge hiervan uit. As die Gees van God in mense vrug dra, sal ‘n mens dit heel eerste herken in die liefde, skryf hy in Galasiërs 5:22. Waar God inwoon, waar God se Gees bly, is die veral en eerstens in die liefde te merk.

Meer nog: In Galasiërs 5:13 skryf hy dat ‘n mens in liefde aan mekaar “verslaaf” is. ‘n Mens het geen keuse nie. Jou verhouding met ander mense word bepaal daardeur dat jy hulle slaaf is in die liefde. Liefde skep liefde. Goddelike liefde wek wederliefde. ‘n Geestelike mens blink eerstens en veral uit in die liefde – net soos God.

Aan die einde van my referaat wonder ek hoe dit kan gebeur dat Paulus wat die liefde so hoog ag, tog terselfdertyd sulke hardvogtige en skerp taal teenoor sy teenstanders kan gebruik. Hy noem hulle onnosel (Gal.3:1). Hy wens dat sy teenstanders hulleself sal ontman (Gal.5:12)  en hy beskuldig hulle dat hulle mekaar byt, verskeur en verslind (Gal.5:15). Daar is ‘n sterk toon van irritasie, verwerping, beskuldiging en geraas.

In die bespreking van my referaat kom iemand hierop terug. Die bespreking loop daarna in die volgende rigting. Paulus gebruik skerp taal, ja, maar… Paulus is ‘n kind van sy tyd. ‘n Mens moet die taal in terme van sy omstandighede verstaan. So het mense nou maar met mekaar omgegaan – veral wanneer hulle in ‘n polemiek betrokke was.

Ek is bewus hiervan, want die retoriese beginsel van vilifikasie is sterk aanwesig in die brief. Wanneer mense in die antieke mekaar gepak het, was een van hul werkswyses om mekaar behoorlik sleg te sê en verdag te maak. Ek verstaan die opmerking dus goed.

Maar is dit hoe ons met die Bybel omgaan? Verstaan ons die Bybel as ons historiese opmerkings maak? Is daar in die Bybel ook ander woorde, ander insigte wat vir ons laat dink dat Paulus iewers die liefde gefaal het?

Des te meer is dit ‘n kwessie omdat haat ‘n wesenlike kenmerk van ons tydsgees is. Vilifikasie in ons tyd nie juis verdwyn het nie. Trouens, in ‘n sekere sin is dit tydloos. In die regswêreld gaan advokate/prokureurs uit hul pad om hul teenstanders se integriteit te bevraagteken. Die doel is duidelik: wie kan ‘n mens met ‘n slegte reputasie vertrou?

Ek ken al die redenasies.

As iemand hierdie argument wel aanvoer, is dit vir my alleen maar ‘n vertrekpunt. ‘n Mens sou kon sê: ja, in Paulus se tyd het mense nog so met mekaar omgegaan. In ons tyd werk dit nie meer so nie. Selfs in ‘n hofsaak is daar ‘n regter wat met wysheid en volgens regsnorme weeg of getuienis oor die ander se integriteit oortuigend is.

Paulus het nie so ‘n regter gehad nie.

En in die kerk, onder gelowiges, weet mens te goed, is vilifkasie ewig teenwoordig. Dit is juis waarom ons moet begin om die aandag daarop te vestig. En dit kan ons goed doen deur uit te wys hoe Paulus, die apostel van liefde, nie heeltemal daarin slaag om uit die liefde teenoor sy teenstanders te leef nie.

Ons moet begin om stil te word wanneer mense gewelddadige taal gebruik. Ons kan nie maar net die taal “verstaan” en kontekstueel begryp nie. Ons moet sulke taal beoordeel.

Daar is immers alternatiewe. Dink maar aan die wysheidsliteratuur – soos Spreuke – met die beklemtoning dat ‘n sagte antwoord die grimmigheid afkeer.

Ek sit na die bespreking hieroor en nadink oor die aard van die gehoor wat juis die punt in my referaat wou uitlig. In ‘n ander konteks waar mense sensitiwiteit gehad het vir die verskynsel van verbale geweld, was, interessant genoeg, daardie deel van my referaat nie eers ‘n kwessie nie. Maar die gehoor in Gloucestershire het ‘n eie samestelling en ‘n eie kulturele konteks. Die krag van taal om te kwets, te verteken en te kleineer is dalk in hierdie eerste-wêreldse omgewing nie so ‘n sterk kwessie nie.

Dit alles roep weereens by my die kwessie op van voldoende Bybel-uitleg op. Wanneer die Ou Testament praat van volke wat op groot skaal uitgeroei is, wanneer die Nuwe Testament van slawe en vroue as besittings praat, is dit nie genoeg om te reageer met die opmerking dat dit maar is soos dinge destyds gebeur het nie. Mens moet verder gaan: al is dinge destyds so gedoen, weet ons vandag van beter. En net deur so ‘n opmerking toon ons ‘n bewustheid van ‘n ander, uitnemender weg as om ander te vermink en te verneder met taal.

Ek verwonder my nog steeds dat Paulus wat so spesiaal oor die liefde kon praat (1 Kor.13), so liefdeloos met sy teenstanders kon omgaan.


Sunday, June 24, 2012

Toe vurke van die duiwel was...





Tydens my besoek in Indië sien ek hoe my gashere soms ‘n oog laat val op ons nie-Indiërs se geëtery met vurke.

In hul restaurants, eetsale en tuis om die tafel, smul hulle spontaan en soos hulle gemeenskappe oor eeue heen gewoond is, aan hulle kos met hul vingers.  

Daar is darem, gegewe hulle ordentlikheid teenoor hulle gaste en as ‘n hoflike gebaar, ‘n vurk langs ons eetplekke. Maar ek mis nie die sydelingse, vinnige blik nie...

Daarom lees ek seker met meer as gewone belangstelling ‘n paragrafie in die F.T. van vanoggend:

In die artikel oor hoe presies en pynlik netjies tafels in Michelin Restaurants in Europa gedek word, word vertel dat vurke eers in die sestiende eeu via Italiaanse adel na Engeland gekom het. Die Italianers het dit, op hulle beurt, uit Bisantië se koninklike kringe oorgeneem.

As jy kyk na lyste van tafelgereedskap en toebehore in antieke tye voor hierdie tyd, skitter vurke in hulle afwesigheid.

Van die vroegste tye het mense hul kos wel met messe gesny, maar origens met hulle vingers geëet.

Die Italianers, lees ek verder, het vurke in die elfde eeu begin gebruik omdat hulle gegril het vir vuil vingers. Volgens oorlewering het die Bisantynse prinses wat haar kos in klein stukkies gesny het en vir die eerste keer voor Italianers met ‘n tweetand-vurkie van goud geëet het, die gewone mense die hoenders ingejaagd. Die gewone mense het mettertyd die voorbeeld van die adel begin volg.



Hoogs deftig kan so 'n vurk lyk - aanvanklik met twee tande. Later, meer algemeen, met vier tande.

Toeriste in Italië het egter gedink dit is pure aansit. Daar is mooi verhale van reisigers oor die mense wat aan tafel hul kos met die mes sny en dan terselfdertyd die vurk met hul regterhand in dieselfde stuk vleis indruk om die kos in hul mond te bring. Oop-mond sit hierdie reisigers die nuwe gewoonte en bekyk, om die aand 'n hele inskrywing daaroor in hul verhale neer te pen. 

En tog was die vurk se opkoms onstuitbaar.

In vanoggend se artikel in die FT is dit die volgende brokkie historiese inligting wat my belangstelling veral prikkel:

Die Italiaanse kerkleiers in die tyd van die Bisantynse prinses was dadelik by om hul teologiese uitsprake oor haar en haar vriende se nuwe gebruike te lewer. Kyk, was hulle verontwaardigde uitsprake, God het vir die mens vingers as ‘n natuurlike vurk gegee. Daarom beledig ‘n mens God deur met kunsmatige metaal-vurke te eet.

Die kardinaal van Ostia het, na die prinses uit Bizantië se vroeë dood, smalend en met leedvermaak opgemerk dat haar liggaam besig was om, na haar oordadige gesmul, heeltemal te verrot.

Die kerk  in ander tye en plekke het ook teen die gebruik van vurke te velde getrek. Omdat prostitute nie taai souse of souse wat hulle hande vlek wou eet nie en dus vurke gebruik het, het die kerk die gebruik van vurke verbied. Of, erger, vertel sommige bronne: die vurk is heftige teengestaan omdat prostitute hul poeding met vurke geëet het.  Dadelik het die kerk die praktyk veroordeel omdat dit so ‘n ongure konnotasie het.

Maar niks kon die vurk-kultuur keer nie. Teen die sestiende eeu het handelaars in Engeland die adel begin na-aap en ook vurke gebruik. En nie lank daarna nie, het dit ‘n algemene gebruik geword, veral toe, met die industriële revolusie in die agtiende eeu, fabrieke op groot skaal vurke kon maak en dit ‘n gewone kombuis-voorwerp geword het.

Ironie der ironieë. Vandag is dit eerder ‘n sonde om nie met ‘n vurk te eet nie. In vele huise en in baie tye hoor ons oor die etenstafel:  eet met jou vurk, my kind. Waar is jou maniere dan?

En, oor die see, in Indië met sy cuisine en sy ou kulture, sien 'n mens, in die hoë geselskap van akademici en bevoorregtes die vinnige blik as jy jou vurk optel terwyl hulle met die hand eet en selfs die heerlike souse aan die vingers aflek...

Om te dink: in vele plekke en tye het die kerk die gebruik van vurke in Europa verbied gekry…

Die geskiedenis kan, soos niks anders, mag en gesag ontluister en is ‘n wyse leermeester.





Saturday, June 23, 2012

Wanneer 'n mens iemand nie kan verdra nie...





Langenhoven het dikwels, in pittige en gevatte vorm, rype lewenswysheid kwytgeraak.


Hier is een wat my bybly die week, veral waar ek besig was met nadink oor vriendelikheid. Hy skryf:


As jy nie van iemand hou nie, doen hom 'n weldaad. Daarna sal jy hom liefhê.


Goedheid, dus, transformeer in die eerste plek die een wat teenoor ander goed is. 


Opvallend is die fokus van die aforisme:  om 'n weldaad aan ander te doen, is nie om hom/haar van jou te laat hou nie. 'n Mens doen die goeie ter wille van jouself. Dit is jyself, eerder as die ander, wat op die spel is. 


Daar sit 'n stuk volwassendheid in hierdie aforisme. Dit vertel van die onvergenoegdheid wat 'n sterk, geïntegreerde mens ervaar wanneer 'n mens in jou eie gemoed negatiewe gevoelens omdra en vertroetel: hoekom en hoe gebeur dit dat mense met die eerste oogopslag deur 'n ander geïrriteerd en afgesit word of wanneer 'n mens nie "vat" aan iemand anders kan kry nie?  


Wat is goeie, wyse (boere)raat vir sulke onpeilbare en negatiewe houdings wat mens oorval? 


Die wyse mens wil nie slagoffer van sy of haar eie sinlose emosies wees nie. 'n Gesonde mens is een wat nie laste van slegte emosies ronddra nie. 


Hieroor dink die volkswyse Langenhoven. En weet, wyslik, dat 'n egte mens soek om uit die valkuil van negatiwiteit te ontkom. 


Weet ons dit dan nie uit ons eie ervaring nie? Dikwels ontstaan hegte vriendskappe juis tussen mense wat mekaar aanvanklik nie kan verdra nie. 


En na baie jare van onmin en onvergenoegdheid, kan 'n enkele woord 'n slegte verhouding in 'n ommesientjie transformeer.


Bewys dus die ander 'n guns, 'n "weldaad", laat weet ons volksguru met sy aforistiese wysheid. Doen iets goeds aan die ander. En jy word die een wat wen. 


Hy weet te goed: Dit is daardie teken van welwillendheid wat rykdom in mens se lewe kan indra. 

Friday, June 22, 2012

Selfs pasifisme kan obseen wees...


In my leeswerk oor Simone Weil kom ek af op ‘n aanhaling oor pasifisme wat nou al dae lank by my bly.

Weil het haarself so ver as moontlik van bevoorregting wat nou saamhang met mag en geweld gedistansieer.

Sy het dit skerp gekontrasteer met die sfeer van genade wat ‘n mens in verset teen geweld moet soek. Sy het aangrypend geskryf oor die liefde wat hierdie sfeer van genade kenmerk. Wanneer ‘n mens die sfeer van genade bewoon en gedryf word deur die liefde, is ‘n mens altyd aan die sy van die magteloses aan die onderkant van die samelewing.

Sy het so sterk hieroor gevoel dat sy, skryf Simone de Beauvoir op ‘n keer, bitterlik gehuil het toe sy gehoor het van ‘n hongersnood in China. Liefde, het sy geskryf, moet oor alle ruimtes uitdein. Dit moet uitgedeel word, tot in die kleinste porsies, net soos die son oor alles en almal skyn. Christus, skryf sy, gaan ons hierin voor: God laat die son skyn oor almal – of hulle goed of kwaad doen. En hierin stel God die Vader vir ons ‘n volmaakte voorbeeld.

Ons moet onvoorwaardelik aan almal, sonder uitsondering, liefde betoon. Ons is in eenheid aan alle mense verbonde. As skepsels van God is ons een, beeld van God se liefde. Niemand is groter as die ander nie. Wie probeer mag uitoefen oor ander, ander mens uitbuit of hulself meer ag as ander mense, is arrogant. Hulle sal wel met ‘n skok ontdek dat hulle verganklik is, dat hulle mag hulle nie kan vrywaar teen die dood nie en dat hulle maar net soos alle ander mense skepsels is. God onderskei nie tussen mense nie. In Christus is daar nie man/vrou, slaaf/vrymens nie.

Weil voel haar dus een met alle mense. Mag van mense oor mekaar is heeltemal uit. Mag lei tot geweld. Daarom moet mag ten alle koste vermy word. ‘n Mens sou Weil dus as ‘n pasifis kon beskryf.  

Dit is op hierdie punt dat ek die volgende opmerking lees, gemaak deur David Hart: pasifisme kan naïef wees wanneer voorstanders daarvan op ‘n obsene manier martelaarskap vir ander mense kies en voorskryf.

Dit kan maklik gebeur: die drang van vrede kan ‘n mens bring om op ‘n goedkoop manier van mense te vra dat hulle die hoogste offer moet bring.

Dit is obseen – want daar sit weer ‘n magsgreep in ‘n mens se voorskryf aan ander, in jou propagering van wat jou idee van die goeie is.

Hierdie obseniteit sal 'n mens nie by Weil vind nie. 


Soms verwyt mense Weil dat sy nie oor die dinge helder genoeg is nie. Kan mag, vra hulle, summier afgeskryf word soos dit lyk asof sy doen? Moet die mag wat afbreek, heers en manipuleer dan nie eerder gekontrasteer word met ‘n mag wat bekragtig – die mag tot liefde en die mag tot geregtigheid nie?

Maar mag is so naby aan geweld dat ‘n mens Weil nie kan kwalik neem dat sy niks daarmee te doen wou hê nie. Die goeie van pasifisme as beweging teen geweld, kan dan juis gekontamineer word deur 'n obsene naïwiteit wat ander in jou denkgrepe wil vasvag.  

Daarom het Weil eerder ‘n ander woordeskat gehad: ‘n mens vuur nie die "mag" tot liefde aan nie. 


Liefde is iets anders. ‘n Mens wag geduldig, volhardend, luisterend op die koms van die genade deurdat ‘n mens soekend uitreik om te bemin, om lief te hê.

Hierdie woorde vertel iets anders as mag, as grepe van die een mens op die ander. 


Dit vra verwondering, nabyheid, uitreik, omhelsing. 


En van hierdie woorde is mag ver verwyderd. 

Thursday, June 21, 2012

Wanneer 'n mens genade vind.


Simone Weil, die mistikus, is sonder twyfel ‘n invloedryke figuur wat tans feitlik kultus-status geniet. Sy word deur sommige van die bekendste en ernstige skrywers van ons tyd as van die helderste denkers van die twintigste eeu, indien nie van die moderne tyd nie, beskou.

Sy was nie sonder haar ekstreme, koue, vreemde en eksentrieke kante nie. Sommige mense verdink haar van sielkundige afwykings.

Ander weer wys op haar integriteit: hoedat sy alles waarin sy so radikaal geglo het, letterlik in haar eie lewe uitgeleef het. As iemand wat solidêr was met die arbeider en die arme, het sy, byna meer as hulle, as ‘n arbeider en ‘n arme geleef, en, eintlik, ook as gevolg daarvan gesterf.

Weil, het ek gister geskryf, het haar van die maghebbers gedistansieer. Sy was een met en wou uitdruklik aan die kant wees van mense aan die onderkant van die samelewing. Deur by hierdie mense te wees, na hulle te luister en nie “namens” hulle te wil praat nie, erken en deel ‘n mens hulle menslikheid – iets wat ander hulle dikwels (minagtend/paternalisties) ontsê.

Weil het hierdie uitgangspunt gehandhaaf in haar groter verset teen allerhand magsgrepe van ons geweldskultuur. Dit is deur teenwoordigheid by die vertraptes en die verminktes, dat ‘n mens die greep van dodelike mag deurbreek. ‘n Mens, skryf sy, ervaar ‘n hemelse oomblik as ‘n mens jou eie siel besit” en nie deur magstrukture gemanipuleer word nie. Die harde  greep van mag in oorlog word stukkend gebreek en gestuit deur die mens se weiering om daaraan toe te gee. Deur vir die vertraptes te kies en by hulle te wees, in volle aandag, in ‘n toestand van luister, bevraagteken ‘n mens die magspel van die status quo en die magshebbers.

Weil verset haar dus met mag en mening teen mag en oorlog. Maar hier moet ‘n mens mooi onderskei: Mense is soms jammer vir hulle wat oorwin word en wat die slagoffers van geweld is. Hulle besef nie: die oorwinnaar is net so ‘n slagoffer van geweld. En albei die geweldenaar en die slagoffer is lafaards. Ook die oorwinnaar, die geweldenaar is ‘n lafaard.

Weil skryf hieroor ‘n merkwaardige verhaal: beide die geweldenaar en die een wat stilswyend onder die geweld ly en dit verduur, is deel van ‘n sfeer van lafhartigheid.

Daar is iets dieps in hierdie insig: want as ‘n mens beide die geweldenaar en die slagoffer van geweld laat deel in ‘n sfeer van lafhartigheid, is die vraag: wat is moed? Hoe word jy ontslae van jou lafhartige gewelddadigheid of van jou lafhartige verduur van geweld?

‘n Mens, is die antwoord, het moed wanneer jy van alle vorme van mag en geweld afstand doen en afstand neem.

‘n Mens moet die moed hê om radikaal anders te leef en om deur ‘n transformatiewe geestelike instelling ‘n ander manier van leef op te soek. Deur geestelike toewyding soek ‘n mens ‘n totale ander vorm van bestaan: dit gaan dan vir ‘n mens om ‘n soeke na genade, na ‘n sfeer wat aweregs staan op die sfeer van lafhartigheid.

Dit gebeur sodra ‘n mens besef, in die oomblik van stille solidariteit met ander, wat werklik op die spel is. Weil, sê Poole in sy komplekse bespreking van haar werk, beklemtoon dat daar ‘n oomblik van stilte moet kom waarin die verskriklike bose sirkelgang van geweld en mag deurbreek word. Dit gebeur wanneer ‘n mens nie langer vaskyk op mag as iets vanselfsprekends nie, as ‘n eenvoudige bestaansfeer nie. Die stilte is wanneer ‘n mens weet van ‘n alternatief wat reg teenoor geweld en mag staan.

‘n Mens moet op ‘n punt kom dat jy die sinloosheid van geweld herken. Jy weet: die geweldenaar word ook uiteindelik deur geweld vernietig. Dit is net die mens wat terugstaan, wat geweld bevraagteken, wat die geraas van geweld ontglip, wat daaroor kan seëvier.

Wat tel is dus of ons ons lewensgang krities, stil en ondersoekend kan betrag en as vernietigend herken/erken. ‘n Mens moet kan dieper dink, onder die oppervlakte kan deurdring, die geestelike prosesse kan herken en insien wat werklike vryheid vir ‘n mens gee. ‘n Mens moet die moed hê om die boosheid in ander mense te herken en te verwerp, maar veral ook in jou eie lewe. Jy moet kan weet dat jy as slagoffer van ‘n magswêreld daardie wêreld kan legitimeer en kontinueer.

Wanneer ‘n mens dit insien en jou begin verset teen ‘n gewelddadige sfeer van mag, word ‘n mens vry daarvan. Meer nog: Dan word ‘n mens deel van die sfeer van genade. Wie in hierdie sfeer woon, kan mag en geweld weerstaan.

Die oorgang kom deur stilte, maar kom ook nie sonder  ‘n mens se inspanning nie. ‘n Mens wag en streef geduldig, volhardend om hierdie genade. 'n Mens wag dat die genade transformatief jou lewe nuut sal rig. 

Maar hoe lyk hierdie genade nou presies? Genade breek helder en oorweldigend deur waar mense ontdek hoe werklik die liefde is. Uit die wêreldliteratuur wys Weil hoe mense liefde ontdek: ouers teenoor kinders en kinders teenoor ouers, weldoener teenoor behoeftige, gasheer teenoor gas, selfs die oorwinnaar teenoor die oorwonne mens.

Wanneer ‘n mens solidêr is met die ander, is ‘n mens in die genade. Wanneer ‘n mens mag prysgee en in stilte by ander bly, woon ‘n mens in genade. Die een wat alles verloor, wen alles. Die een wat volledig mens word, wat weerloos is, wat feilbaar raak, het genade gevind. 

Wednesday, June 20, 2012

Om na onuitspreekbare pyn te luister.





Die Franse skrywer, Simone Weil, uit die eerste helfte van die twintigste eeu, is in vele opsigte ‘n onortodokse persoon met unieke en diepsinnige insigte. Sy is, soos ek al voorheen geskryf het, bekend vir haar solidariteit met mense wat veel moes ontbeer.

Sy het hierdie solidariteit nie net teoreties vertel nie. Sy het byvoorbeeld haar eie dieet aangepas aan die hongerdieet van die arbeiders van haar tyd, al kon sy ‘n gemaklike bestaan voer en goed eet. Sy het ook haar werk in die onderwys bedank en as ‘n arbeider in ‘n fabriek gaan werk om haar met die arbeiders te vereenselwig.

Weil is ook bekend as ‘n mistikus. Daar word dikwels in boeke oor haar vertel van die paar besondere ervarings toe sy van God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier bewus geword het. Sy, eers die Jodin, toe die agnostikus, het uiteindelik Christen geword. Haar godsdiens was vir haar ‘n beleefde saak wat haar lewe getransformeer het.

Dit is heel opvallend hoe sy haar hegte band met die Christendom beleef het. Sy het met Nietsche se beroemde uitspraak saamgestem dat die Christendom die godsdiens van die slawe was. Maar, anders as met Nietsche, was dit vir haar juis rede om deel van die Christendom te word.  

Weil het ‘n akute bewussyn van haar eie onwaardigheid gehad. Maar dit het haar nie na mag laat verlang nie of om ‘n gerekende persoon te wees nie. Sy het juis ‘n argwaan aan bevoorregting gehad en enige indruk dat dit iets is om na te streef, verwerp. Vir haar was ‘n situasie van mag en invloed in werklikheid ‘n bedreiging. 

Sy skryf aan Vader Perrin, haar vertroueling-priester, hoe bang sy was dat sy deel van magstrukture sal wees. Sy wou nie aan die bo-punt van die samelewing wees nie. Sy was nie iemand vir ‘n situasie waarin ‘n mens jouself ten koste van ander kan laat geld nie, namens ander praat of ander se lewens stuur nie. Sy wou nie in die kring van die gelukkiges, die bevoorregtes en die invloedrykes wees nie. Veral nie wanneer dit sou beteken dat ‘n mens die mindere groepe van die samelewing sou opgee nie, of die gekwelde mense, die verlorenes in die steek sou laat nie. Vir haar tel die slagoffers.

Dit is ook nie die “goeie”mense onder die eenvoudiges wat haar interesseer nie. Sy het veral vir die stemloses gekies. By hulle wou sy wees. Die dom mense, die naamlose massas, die mense sonder enige stem, wat nooit gehoor word nie, was vir haar belangrik.

Weil het gedink aan die mense wat in eindelose ellende leef, ongeagd en ongereken deur ander groepe. En sy het veral na hulle uitgereik omdat hulle die dommes was: hulle kon nie in woorde hul ervaring van hul uitsigloosheid uitdruk nie. Hulle was nie in staat om uiting the gee aan hul instinktiewe gevoel dat hul in ellende leef en dat daar vir hulle nie hoop is nie.

Sy skryf dat dit dikwels lyk of mense wat telkens weer deur boosheid oorrompel word en wat deur die een hou na die ander verpletter en verneder word, nie meer ‘n hart oor het nie en gevoelloos of domweg eenvoudig bestaan. Dit lyk of hulle nie meer verras kan word deur die ellende waaraan hulle uitgelewer word nie. Hulle lyk lewend dood.

Maar dit is nie heeltemal so nie: sulke mense kan eenvoudig nie meer uitroep onder die houe nie. Hulle het nie meer ‘n stem oor nie. Hulle het vasgeval in ‘n toestand van dom, onophoudelike jammerte. Hulle is in stomheid gebind aan hulle pyn - maar die pyn oor hul eie situasie en hulself is daar en hulle weet daarvan.

Dit is die groot uitdaging wat wag: om te kan luister na mense wat nie meer hulle pyn kan verwoord nie. Hier wou sy, in navolging van Christus, wees. 

Die Christendom was die godsdiens van hierdie mense aan die ontvangkant van naamloosheid, ongerekendheid, onbekendheid. God het sulke mense lief. Dit is waarom die Christendom gaan. Dit is aan hierdie Christendom van die slawe wat Weil wou deel hê en waar sy tuis was. As God sulke mense lief het, skryf sy, het sy, met haar eie intense gevoelens van onwaardigheid, ook ‘n plek in die liefde van God. 

Haar solidariteit met die armes is gestroop van enige pretensie en messianisme: Weil, radikaal, solidêr, skryf: moenie probeer om namens die "dommes", die “slawe” te praat nie.  Moenie te gou hulle saak deur jou woorde probeer te verteenwoordig nie. 

Doen eerder die enigste moontlike ding wanneer ‘n mens by ‘n “slaaf” in sy of haar pyn is: luister na hom of haar. Wees by iemand wat pyn het wat nie in woorde vasgevang kan word nie.

Meer nog: as ‘n mens nie te maklik namens ander oor hul pyn moet praat nie, moet ‘n mens steeds weer geduldig, volhardend, luisterend, probeer om aan hierdie solidariteit met die pyn uitdrukking te gee. Wanneer ‘n mens met pyn saam met die stemloses waak, word jy aan hulle gebind deur ‘n intieme band wat na vore kom in mededeelsaamheid en in gulle ondersteuning.  Of deur te besef hoeveel waardevolle dinge ‘n mens met die stemloses kan deel en hoeveel ‘n mens kwytgeraak het deur toe te laat dat hulle pyn aangedoen word. Of deur net by hulle te wees, geduldig, wakend, volhardend. 

Tuesday, June 19, 2012

Suiwer genade in die Ou Testament:: oor wysheid as ontsag vir God


In die teologie, sê Moberley tydens ons byeenkoms oor spiritualiteit in Gloucestershire, word dikwels gepraat oor “wysheidsliteratuur” waarin die motief van “wysheid” sentraal staan. Dan word allerhande ondersoeke oor die inhoude van die wysheidsboeke (bv Spreuke, Prediker) gedoen.

Maar, ‘n wysheidsboek is ook verbind met ‘n werklike situasie en met mense wat wys is. Dink byvoorbeeld aan Salomo, die een mens wat veral bekend is as ‘n wyse mens onder wyses.

En as ‘n mens so oor wysheid begin dink, kan ‘n mens nogal verras word.

Neem byvoorbeeld die boek Job, ook bekend as “wysheidsliteratuur.” Dikwels dink lesers van die  Ou Testament aan Job as die man van namelose lyding en ellende.  Volgens die eerste twee hoofstukke van die boek Job, was Job ‘n inwoner van Uz. Hy was sonder blaam en ‘n opregte mens wat ontsag gehad het vir God en sy rug op die kwaad gedraai het.

Moberley vertel vir ons by die konferensie dat hierdie sterk, viervoudige beskrywing van Job as sonder blaam, opreg, Godvresend en as mens wat van die kwaad afgewend is, die gloeiendste en mees positiewe beskrywing van enige karakter in die Ou Testament is.

Die enigste ander vergelykbare, hoewel minder gloeiende beskrywing, is van Noag. Volgens die positiewe beeld van hom in Genesis 6:9 was Moses  ‘n regverdige mens, sonder blaam en iemand wat met God gewandel het.

Veral opvallend bly dit dat Job ‘n “Godvresende” mens genoem word. Dit is ‘n veelseggende beskrywing. In die Ou Testament is godvresendheid die belangrikste reaksie op God se ingryping. Job is dus iemand wat in ‘n besondere verhouding met God staan. Daaroor kan ‘n mens nie twyfel nie

Maar wat dit nog meer opvallend maak is dat Job nie van Israel is nie, maar van Uz, buite Israel. Job is dus nie deel van God se uitverkore volk nie.

Wat tel, is dus nie soseer dat iemand deel is van die volk met wie God ‘n verhouding het nie en met wie God ‘n lang pad geloop het nie. God kan ‘n verhouding met mense ook buite Israel aanknoop. Ook buite die familie van God, die “natuurlike” kring van gelowiges, is God aan die werk. En ook buite die tradisionele mense van God is daar vroom, opregte, Godvresende mense wat die kwaad nie duld nie.

Mense soos Job, die vroomste mens in die Ou Testament...

God gee vir mense om. En mense kan op God se liefdevolle verhouding gepas en reg reageer.  Dit is nie altyd noodwendig ‘n saak van die wet, van die verbond, van die uitverkiesing nie. God kan, merkwaardigerwyse, ook buite die gewone, normale om God se liefde toon.  

Job is nou nie ‘n Israeliet nie. Hy blink nie uit omdat hy deel is van die uitverkore verbondsvolk nie. Hy is ‘n spesiale mens wat uitstyg bo vele ander omdat God met hom ‘n verhouding aangeknoop het.

Dit wys maar net. Ook die Ou Testament ken onbegrensde genade en dankbare toewyding.

Blog Archive