Wednesday, June 13, 2012

Oor die privatisering van Spiritualiteit


Sielkunde speel ‘n groot rol in ons tye. Dit het ook op Spiritualiteit sy spoor gelaat.

Met die sielkundige fokus op die mens se welsyn, word veel aandag bestee aan self-help middels en literatuur. Dit het ook op die terrein van Spiritualiteit oorgespoel. Lesniak noem in haar artikel oor kontemporêre spiritualiteit drie sulke sielkundig-georienteerde self-help boeke wat ‘n geestelike karakter het en wat veel aandag getrek het. Hulle is Thomas Moore se Care of the soul: a guide for cultivating depth and sacredness in everyday life.  Dan is daar Scott Peck se The road less traveled: a new psychology of love, traditional values and spiritual growth, asook Gerald May se Addiction and Grace: Love and spirituality in the healing of addictions.

Die titels van hierdie werke is al veelseggend en wys hoedat geestelike groei verbind word met die versorging van die mens se innerlike. Hulle beklemtoon dat die mens verantwoordelikheid vir sy of haar eie lewe moet neem.  Geluk vind ‘n mens alleen maar as jy daarna soek, word daar geredeneer.

In hierdie gewilde boeke word baie verskillende benaderings saamgegooi in een groot hutspot van self-werksaamheid en self-vervulling. Daar word aandag gegee aan drome – met ‘n skeutjie Jungiaanse insigte daarby. Mense word aangemoedig om kreatief te wees deur te skryf, veral ook oor hul eie lewe en op ‘n daaglikse basis. ‘n Groot klomp tema’s word aangeraak, soos uitreik na ander, nie-gewelddadigheid, verslawing, liefde, pyn, gebed, genesing, vergifnis, self-vertroue, omgewingsbewussyn, ‘n gesonde emosionele lewe, sorg vir die liggaam, die enneagram, persoonlikheidstipe’s en vele ander.

Al hierdie dinge dien die individu se welsyn. Wat uiteindelik tel is om gelukkig te wees, om in aanraking met jou innerlike lewe te wees, om ‘n gebalanseerde lewe te voer, om genesing te soek en om na volwassenheid te streef.

Hierdie fokus op sielkundige perspektiewe speel inderdaad in geestelike groei ‘n groot rol. Die mens wat in vervullende verhoudinge leef, is iemand wat volwasse en sterk is. Maar Spiritualiteit gaan om veel meer as net innerlike vrede en balans. Hoewel ‘n mens ‘n vervullende bestaan moet kan voer, is die lewe veel groter as net ‘n mens se eie, innerlike lewe.

Daarom is dit nodig om steeds weer te beklemtoon dat ‘n mens deel is van groter strukture – van die familie, die gemeenskap en die samelewing. Spiritualiteit het ook te doen met hierdie groter sfere.

Spiritualiteit kan nie verskraal word tot ‘n private belewenis nie. 

Blog Archive