Sunday, June 24, 2012

Toe vurke van die duiwel was...





Tydens my besoek in Indië sien ek hoe my gashere soms ‘n oog laat val op ons nie-Indiërs se geëtery met vurke.

In hul restaurants, eetsale en tuis om die tafel, smul hulle spontaan en soos hulle gemeenskappe oor eeue heen gewoond is, aan hulle kos met hul vingers.  

Daar is darem, gegewe hulle ordentlikheid teenoor hulle gaste en as ‘n hoflike gebaar, ‘n vurk langs ons eetplekke. Maar ek mis nie die sydelingse, vinnige blik nie...

Daarom lees ek seker met meer as gewone belangstelling ‘n paragrafie in die F.T. van vanoggend:

In die artikel oor hoe presies en pynlik netjies tafels in Michelin Restaurants in Europa gedek word, word vertel dat vurke eers in die sestiende eeu via Italiaanse adel na Engeland gekom het. Die Italianers het dit, op hulle beurt, uit Bisantië se koninklike kringe oorgeneem.

As jy kyk na lyste van tafelgereedskap en toebehore in antieke tye voor hierdie tyd, skitter vurke in hulle afwesigheid.

Van die vroegste tye het mense hul kos wel met messe gesny, maar origens met hulle vingers geëet.

Die Italianers, lees ek verder, het vurke in die elfde eeu begin gebruik omdat hulle gegril het vir vuil vingers. Volgens oorlewering het die Bisantynse prinses wat haar kos in klein stukkies gesny het en vir die eerste keer voor Italianers met ‘n tweetand-vurkie van goud geëet het, die gewone mense die hoenders ingejaagd. Die gewone mense het mettertyd die voorbeeld van die adel begin volg.



Hoogs deftig kan so 'n vurk lyk - aanvanklik met twee tande. Later, meer algemeen, met vier tande.

Toeriste in Italië het egter gedink dit is pure aansit. Daar is mooi verhale van reisigers oor die mense wat aan tafel hul kos met die mes sny en dan terselfdertyd die vurk met hul regterhand in dieselfde stuk vleis indruk om die kos in hul mond te bring. Oop-mond sit hierdie reisigers die nuwe gewoonte en bekyk, om die aand 'n hele inskrywing daaroor in hul verhale neer te pen. 

En tog was die vurk se opkoms onstuitbaar.

In vanoggend se artikel in die FT is dit die volgende brokkie historiese inligting wat my belangstelling veral prikkel:

Die Italiaanse kerkleiers in die tyd van die Bisantynse prinses was dadelik by om hul teologiese uitsprake oor haar en haar vriende se nuwe gebruike te lewer. Kyk, was hulle verontwaardigde uitsprake, God het vir die mens vingers as ‘n natuurlike vurk gegee. Daarom beledig ‘n mens God deur met kunsmatige metaal-vurke te eet.

Die kardinaal van Ostia het, na die prinses uit Bizantië se vroeë dood, smalend en met leedvermaak opgemerk dat haar liggaam besig was om, na haar oordadige gesmul, heeltemal te verrot.

Die kerk  in ander tye en plekke het ook teen die gebruik van vurke te velde getrek. Omdat prostitute nie taai souse of souse wat hulle hande vlek wou eet nie en dus vurke gebruik het, het die kerk die gebruik van vurke verbied. Of, erger, vertel sommige bronne: die vurk is heftige teengestaan omdat prostitute hul poeding met vurke geëet het.  Dadelik het die kerk die praktyk veroordeel omdat dit so ‘n ongure konnotasie het.

Maar niks kon die vurk-kultuur keer nie. Teen die sestiende eeu het handelaars in Engeland die adel begin na-aap en ook vurke gebruik. En nie lank daarna nie, het dit ‘n algemene gebruik geword, veral toe, met die industriële revolusie in die agtiende eeu, fabrieke op groot skaal vurke kon maak en dit ‘n gewone kombuis-voorwerp geword het.

Ironie der ironieë. Vandag is dit eerder ‘n sonde om nie met ‘n vurk te eet nie. In vele huise en in baie tye hoor ons oor die etenstafel:  eet met jou vurk, my kind. Waar is jou maniere dan?

En, oor die see, in Indië met sy cuisine en sy ou kulture, sien 'n mens, in die hoë geselskap van akademici en bevoorregtes die vinnige blik as jy jou vurk optel terwyl hulle met die hand eet en selfs die heerlike souse aan die vingers aflek...

Om te dink: in vele plekke en tye het die kerk die gebruik van vurke in Europa verbied gekry…

Die geskiedenis kan, soos niks anders, mag en gesag ontluister en is ‘n wyse leermeester.





Blog Archive