Saturday, June 16, 2012

'n Warm kopmus, maar veral tog my Hebreeuse Bybel. Oor Spiritualiteit en die tronk...



My leeswerk oor William Tyndale (gister se blog) is aan die gang gesit deur ‘n brief wat ek van hom gelees het. 



Die briljante, toegewyde Tyndale, gevang op aandrang van die koning van Engeland, sy verbete teenstander, en sonder enige ondersteuning van sy kerklike kollega's sit in ‘n barre tronk in Vilvorde. Hy sou te goed weet dat, in sy tyd, sy lewe op die spel was. Hy het immers nie verniet padgegee uit Engeland nie. 

Aan die begin van die koue, vriesende winter, skryf hy aan die goewerneur van die tronk ‘n respekvolle brief. Hy kry swaar in die tronk, soos blyk uit sy versoek om warmer klere:

Ek meen, U edele, dat u nie onbewus is van die besluit oor my nie. Daarom smeek ek U edele, selfs by die Here Jesus, dat as ek die winter hier moet bly, u die kommissaris versoek om, as dit hom behaag, uit my besittings wat hy bewaar, vir my ‘n warmer mus te stuur want ek ly erg van die koue op my kop en van ‘n kroniese slymvliesontsteking wat deur die tronksel vererger word. Ook ‘n warmer jas, want die een wat ek het is baie dun. En ook materiaal om my broek te lap. My oorjas is verslete en ook my hemde. Hy het ‘n wolhemp van my – of hy dit asb vir my sal stuur. Hy het ook dikker kouse van my en ook ‘n warmer nagmus.

Dan kom die versoek van die man van studie. In die barre, koue, donker  tronk is sy ander groot verlange om selfs in die wintertyd die Bybel te kan vertaal (kyk veral na die "veral"):

Ek vra ook of ek saans ‘n lamp kan kry, want dit is uitputtend om alleen in die donker te wees. Maar ek smeek veral dat u vir my sal intree by die kommissaris sodat hy sal oorweeg om my my Hebreeuse Bybel, Hebreeuse Grammatika en Hebreeuse Lexicon te laat gebruik dat ek my tyd aan hierdie studie kan bestee.

Die afsluiting van sy brief wys wat hom in die tronk werklik aan die gang hou:
  
Mag u wense ook almal vervul word veral as dit die heil van u siel sal bevorder. Maar as ‘n ander besluit voor die einde van die winter oor my geneem word, sal ek geduldig wees en die wil van God aanvaar tot eer van die genade van die Here Jesus Christus my Here, wie se Gees u hart mag rig. Amen.

 ‘n Jaar later is Tyndale verwurg, geïmpaleer en op die brandstapel oor sy geloofsoortuiginge verbrand. 

Hy, die briljante, toegewyde, vreeslose man wat die Bybel vir die eerste keer uit Hebreeus/Grieks in Engels vertaal het en wie se vertaling weergalose invloed op Bybelvertalings en die Engelse taal uitgeoefen het, was 42 jaar oud….



Blog Archive