Sunday, June 03, 2012

Oor 'n kakebeen en verganklikheid.




Caravaggio het in 1607 hierdie skildery in Malta gemaak.

Dit is van die groot Bybelvertaler, Hieronymus wat in die vyfde eeu geleef het en een van die bekendste kerkvaders geword het. Hy het die Bybel in Latyns vertaal – en die vertaling het as die Vulgaat een van die bekendste tekste in die geskiedenis van die mensdom geword.

In Malta hang die skildery aan die oorkant van Caravaggion se onthoofding van Johannes die Doper in die oratorium van die museum en Sint Jan Kerk.

Caravaggio teken in hierdie skildery die wapen van Malaspina, die Grootmeester van die Ridders op Malta aan die onderkant van die regterkantse hoek van die skildery. Hy was ‘n besonder magtige figuur wat Caravaggio as sy beskermling beskou het. Caravaggio, die bakleier-kunstenaar, beroemd en berug, was in die geselskap van die grotes en magtiges van sy tyd.

Dit is nie duidelik waarom die skildery vir Hieronymus as tema gehad het nie. Malaspina was uit die aard van sy posisie en sy posisie as die belangrikste ridder op Malta, ‘n baie godsdienstige figuur. Hy was ook bekend as iemand wat omgegee het vir die armes, al was hy veral beroemd vir sy militêre geskiedenis. Hoekom sou hy Caravaggio hierdie tema laat teken het?

Hoe mooi is die uitbeelding: In die skildery van Caravaggio is Hieronymus ‘n fisiek indrukwekkende figuur. Die skildery is ryk aan die kenmerkende spel van lig en donker, maar ook vol al die detail waarvoor Caravaggio bekend is. Die volrooi kleed om sy onderlyf vorm ‘n sterk kontras met die donker agtergrond. Voor op die tafel s daar byvoorbeeld die tipiese kruis en klip wat met Hieronymus geassosieer word. Die klip is volgens die tradisie deur hom tydens sy verblyf van vier jaar in die woestyn gebruik om op sy bors te slaan as ‘n teken van rou.   

Ek staan en bekyk die skildery met sy poëtiese vorm in die ewe skilderagtige oratorium. Dit is moeilik om jou los te skeur van die werk met sy kwaliteit van oneindigheid. Dit is min dat ‘n mens weet jy is in die teenwoordgheid van meesterskap in sy suiwerste vorm.

Maar wat bly my by van hierdie besoek aan die oratorium en die twee skilderye van Caravaggio?

Op die tafel teken Caravaggio voor Hieronymus die baie bekende voorwerp van die kakebeen. Dit is nie die eerste keer dat ek die simbool op die dag van ons rondreis sien nie. In Malta se ko-katedraal van sint Jan, verbysterend mooi en oortrek met 24 karaat goud op die mure, is daar in die kerkvloer vele grafstene ingemessel- almal van die bekendste ridders. Op die grafstene is daar telkens ‘n kakebeen geteken. Dit herinner aan die dood, aan tydelikheid, aan verganklikheid. Die ridders van Malta was almal ryk, veral ook weens hul adellike bevoorregting.

En, nou, na al die eeue, is daar min van hulle teenwoordigheid te merk. Die leë kerke vertel van hulle verganklikheid. Hulle roem het weggesterf. Al wat oorbly, is herinneringe – en ook maar vaag.

Caravaggio se skildery is self ‘n gestolde oomblik van roem: ‘n roerende weergawe van ‘n peinsende Hieronymus. So spesiaal as wat dit is, so staan ook daarop onteenseglik uitgespreek hoe verganklik alles is. Roem, mag, sierlikheid is tydelik, is uitgelewer aan die mot en die roes.

Tydloos, egter, is die boodskap wat van die verganklikheid van roem vertel. Want langs die kakebeen is daar die kruis, die teken van die Ewige. En van die klip: die teken van boetedoening wat 'n mens toon oor sy/haar verknogtheid aan die uiterlike.


Blog Archive