Wednesday, June 20, 2012

Om na onuitspreekbare pyn te luister.





Die Franse skrywer, Simone Weil, uit die eerste helfte van die twintigste eeu, is in vele opsigte ‘n onortodokse persoon met unieke en diepsinnige insigte. Sy is, soos ek al voorheen geskryf het, bekend vir haar solidariteit met mense wat veel moes ontbeer.

Sy het hierdie solidariteit nie net teoreties vertel nie. Sy het byvoorbeeld haar eie dieet aangepas aan die hongerdieet van die arbeiders van haar tyd, al kon sy ‘n gemaklike bestaan voer en goed eet. Sy het ook haar werk in die onderwys bedank en as ‘n arbeider in ‘n fabriek gaan werk om haar met die arbeiders te vereenselwig.

Weil is ook bekend as ‘n mistikus. Daar word dikwels in boeke oor haar vertel van die paar besondere ervarings toe sy van God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier bewus geword het. Sy, eers die Jodin, toe die agnostikus, het uiteindelik Christen geword. Haar godsdiens was vir haar ‘n beleefde saak wat haar lewe getransformeer het.

Dit is heel opvallend hoe sy haar hegte band met die Christendom beleef het. Sy het met Nietsche se beroemde uitspraak saamgestem dat die Christendom die godsdiens van die slawe was. Maar, anders as met Nietsche, was dit vir haar juis rede om deel van die Christendom te word.  

Weil het ‘n akute bewussyn van haar eie onwaardigheid gehad. Maar dit het haar nie na mag laat verlang nie of om ‘n gerekende persoon te wees nie. Sy het juis ‘n argwaan aan bevoorregting gehad en enige indruk dat dit iets is om na te streef, verwerp. Vir haar was ‘n situasie van mag en invloed in werklikheid ‘n bedreiging. 

Sy skryf aan Vader Perrin, haar vertroueling-priester, hoe bang sy was dat sy deel van magstrukture sal wees. Sy wou nie aan die bo-punt van die samelewing wees nie. Sy was nie iemand vir ‘n situasie waarin ‘n mens jouself ten koste van ander kan laat geld nie, namens ander praat of ander se lewens stuur nie. Sy wou nie in die kring van die gelukkiges, die bevoorregtes en die invloedrykes wees nie. Veral nie wanneer dit sou beteken dat ‘n mens die mindere groepe van die samelewing sou opgee nie, of die gekwelde mense, die verlorenes in die steek sou laat nie. Vir haar tel die slagoffers.

Dit is ook nie die “goeie”mense onder die eenvoudiges wat haar interesseer nie. Sy het veral vir die stemloses gekies. By hulle wou sy wees. Die dom mense, die naamlose massas, die mense sonder enige stem, wat nooit gehoor word nie, was vir haar belangrik.

Weil het gedink aan die mense wat in eindelose ellende leef, ongeagd en ongereken deur ander groepe. En sy het veral na hulle uitgereik omdat hulle die dommes was: hulle kon nie in woorde hul ervaring van hul uitsigloosheid uitdruk nie. Hulle was nie in staat om uiting the gee aan hul instinktiewe gevoel dat hul in ellende leef en dat daar vir hulle nie hoop is nie.

Sy skryf dat dit dikwels lyk of mense wat telkens weer deur boosheid oorrompel word en wat deur die een hou na die ander verpletter en verneder word, nie meer ‘n hart oor het nie en gevoelloos of domweg eenvoudig bestaan. Dit lyk of hulle nie meer verras kan word deur die ellende waaraan hulle uitgelewer word nie. Hulle lyk lewend dood.

Maar dit is nie heeltemal so nie: sulke mense kan eenvoudig nie meer uitroep onder die houe nie. Hulle het nie meer ‘n stem oor nie. Hulle het vasgeval in ‘n toestand van dom, onophoudelike jammerte. Hulle is in stomheid gebind aan hulle pyn - maar die pyn oor hul eie situasie en hulself is daar en hulle weet daarvan.

Dit is die groot uitdaging wat wag: om te kan luister na mense wat nie meer hulle pyn kan verwoord nie. Hier wou sy, in navolging van Christus, wees. 

Die Christendom was die godsdiens van hierdie mense aan die ontvangkant van naamloosheid, ongerekendheid, onbekendheid. God het sulke mense lief. Dit is waarom die Christendom gaan. Dit is aan hierdie Christendom van die slawe wat Weil wou deel hê en waar sy tuis was. As God sulke mense lief het, skryf sy, het sy, met haar eie intense gevoelens van onwaardigheid, ook ‘n plek in die liefde van God. 

Haar solidariteit met die armes is gestroop van enige pretensie en messianisme: Weil, radikaal, solidêr, skryf: moenie probeer om namens die "dommes", die “slawe” te praat nie.  Moenie te gou hulle saak deur jou woorde probeer te verteenwoordig nie. 

Doen eerder die enigste moontlike ding wanneer ‘n mens by ‘n “slaaf” in sy of haar pyn is: luister na hom of haar. Wees by iemand wat pyn het wat nie in woorde vasgevang kan word nie.

Meer nog: as ‘n mens nie te maklik namens ander oor hul pyn moet praat nie, moet ‘n mens steeds weer geduldig, volhardend, luisterend, probeer om aan hierdie solidariteit met die pyn uitdrukking te gee. Wanneer ‘n mens met pyn saam met die stemloses waak, word jy aan hulle gebind deur ‘n intieme band wat na vore kom in mededeelsaamheid en in gulle ondersteuning.  Of deur te besef hoeveel waardevolle dinge ‘n mens met die stemloses kan deel en hoeveel ‘n mens kwytgeraak het deur toe te laat dat hulle pyn aangedoen word. Of deur net by hulle te wees, geduldig, wakend, volhardend. 

Blog Archive