Sunday, June 29, 2014

Lewensblydskap met of sonder gedans


Die wêreldbeker blink uit deur die baie doelskoppe wat spelers reeds geskiet het (136 in die eerste rondte).

En dan vier die manne grootliks.

Een vertel watter ekstase dit bring: ‘n mens weet nie altyd jy het die doel ingeskiet nie. Dit dring eers daarna tot jou deur. En dan, in so ‘n wêreldtoernooi, met al die drama van oordonderende lawaai deur die skare en met die wete van watter prestasie dit is, loop die adrenalien hoog.

Ongebreideld is die feesviering na so ‘n doel.

Iemand skryf in vandag se NYT hoe anders dit is as in die stywe, bedeesde Amerika en hoe verfrissend ‘n mens die spelers uit alle wêrelddele se passie in Suid-Amerika ervaar.

In Amerika moet jy nie te veel feesvier nie:

“Lyk asof jy dit al vantevore reggekry het”,  lui die berig.

Die Hollanders sal sê: Doen maar gewoon. Hulle kan net so styf soos Amerikaners en Afrikaners wees.

Ek dink onwillekeurig aan hoe ons gradedagplegtighede altyd verloop het: stil, stemmig, ordentlik, in orde en alles mooi beleef en ingetoë.

En toe kom die demokrasie en nuwe administrateurs van universiteite en die “nuwe” Suid-Afrika se gradeplegtighede met ouers wat jodel en opspring en hul kinders luidkeels besing.

Hoe verontwaardig was sommiges nie.

Kulturele verskille. Skryf die NYT: toe die bekende Amerikaanse sportster, Tim Duncan, vir die vyfde keer deel was van ‘n groot sport-oorwinning, het hy skaars geglimlag.

Dit is deel van die kultuur in daardie sportwêreld. Uitbundige vieringe is bietjie verdag. Trouens, die beheerliggaam van een sport beboet hulle spelers met R5000 as hulle te wild aangaan: dit word dan, volgens hulle sining, uitdagende gedrag en oordadige feesvierings.

Dit is reëls, skryf die artikel, wat die Puriteine sou waardeer.

Puriteine het nie ‘n goeie naam nie. En ‘n Puriteinse streep loop inderdaad sterk deur vele kulture in die Weste.

Hier is ‘n paragraaf uit die artikel:

The N.F.L. probably has the most celebrations in American sports, but the rule book discourages nearly all of them. It is considered excessive celebration if “two or more players engage in prolonged, excessive, premeditated or choreographed celebrations.” Individual players are strictly barred from “prolonged gyrations.”

Sommige van ons minder beheersdes sal van suurvye praat as hulle sulke reëls lees. Daar is ander leliker woorde vir mense wat nie in staat is om blydskap aan die lewe te hê nie.

Mense het immers ‘n groot behoefte aan blydskap.

Maar hoe nou? Lewensvreugde kan uitbundig beleef word. Met groot gestorm na ‘n doel, met danspassies van die span, met gebare van die speler aan sy geliefde en sy vrou.

Wat dit so interessant maak, is hoe die vreugde uitgedruk word. En dit is dan dat die dieper dinge na vore kom. Die Argentynse sokker-ikoon, Messi, suig na sy doelpunte aan sy duim ter erkenning van sy kinders. Ander spelers soen hulle ringvingers as erkenning van hulle vroue.

Uitbundige lewensvreugde, blydskap oor prestasie, maar ook ‘n interessante openbaring wat vir ‘n speler werklike belangrik is. Op een van jou blyste oomblikke, met een van jou topprestasies, neem jy jou familie saam met jou.

Dit is lewensvreugde wat oor jou kom in ‘n gevoel van blydskap, verbintenis met en liefde vir mense om jou en naby aan jou. Gedeelde vreugde. Gerig op ander, ‘n gawe van jou prestasie vir hulle wat vir jou belangrik is.

En tog, is dit ook weer ‘n vraag of uitbundigheid noodwendig vreugde wys. Neem maar hoe “stiller” die rugby in ons midde loop. En tog:  wat van die speler wat sierlik sy drie gaan druk – onnodig meters deur die lug duik om sy punte aan te teken? Dit is tog ‘n mooi, bedekte manier om die afronding te vier? Of die speler wat stil-weg ‘n vinger in die lug steek, erkentelik?

Lewensvreugde kan op baie maniere beleef word. Ook op  ‘n gradeplegtigheid waar daar nie gejodel word nie. Waar daar ‘n foto geneem word en in die sitkamer sy plekkie kry, of, die familie-ete daarna, of die sertifikaat teen die muur – netjies geraam…

Wat dus tel is dat ‘n mens daardie blydskap sal soek en beleef – hoe maak nie saak nie. Daardie innerlike, stil blydskap is immers durend. Die wete moet gesoek, verlang word: om alles met vreugde te ontvang: Soms miskien uitbundig, soms selfs met ‘n hartseer – maar altyd bewustelik beleef word oor die wonder van die lewe. 

Dit kan suiwer vreugde, puriteinse blydskap word…


Saturday, June 28, 2014

Sokker en die lewenskuns...


Die Amerikaners is hoog opgetel met die wêreldbeker-sokker. Hulle span doen goed.
Hulle het vir Jürgen Klinsmann as afrigter aangestel. Hy was deel van die Duitse span wat die wêreldbeker in 1990 gewen het en, saam met die vroeëre Oos-Duitse span, die Europese beker.
Dus het hy ‘n indrukwekkende rekord as sokkerspeler. Hy word as een van die beste sokkerspelers ooit beskou.
Klinsmann het in 2006 sy merk as afrigter gemaak, toe sy Duitse span uitstekend gevaar het en derde geëindig het nadat hulle net-net in die semi-finaal in die laaste minute teen Italië verloor het.
Die Amerikaners ontleed nou elke woord van Klinsmann soos die reeks vorder: hulle wil byvoorbeeld nie hê hy, pure realistiese Duitser, moet sê dat ‘n mens nie juis moet verwag dat die Amerikaners die beker gaan wen nie. Klinsmann is versigtig: elke wedstryd het ‘n dinamiek van sy eie en dinge kan vir die beste span op ‘n dag net verkeerd loop. Boonop speel hulle teen die beste’s.
Maar dan is daar darem ook die ligte, makliker oomblikke wat sport in perspektief plaas.
Soos sokker bekender raak, raak voorheen totaal onbekende mense skielik super-bekend. Twee van hulle is twee ouerige, kaalkop-Britte wat in New York bly, ene Bennett en Davies, wat hulle self Mans in Blazers noem en op hulle podgooie ‘n piesang as mikrofoon vashou terwyl hulle allerhande witty kommentaar oor sokker lewer.
 Hulle praat meer oor sokker as kultuurverskynsel as oor sokker as ‘n sport, skryf die NYT vandag (sien die link hier onder).
‘n Mooi voorbeeld wat my bybly is hoe hulle oor Mexico se afrigter gesels. Die afrigter raak so opgewerk in totale ekstase as sy span punte aanteken, dat hy selfs sy spelers in ‘n omhelsing op die grond bestorm.
En toe die kommentaar oor die man se uitbundige, ekstatiese vreugde in sy sokker-hemel:
“There it is, more happiness than any Englishmen has felt in my entire generation,” Mr. Bennett said during a recent broadcast.
Sokker kan ons leer om te leef.
Hier is die skakel na die berig en 'n foto:
http://www.nytimes.com/2014/06/26/arts/television/men-in-blazers-a-whimsical-soccer-show-on-espn.html?hp&action=click&pgtype=Homepage&version=HpSumSmallMedia&module=second-column-region&region=top-news&WT.nav=top-news&_r=1

Friday, June 27, 2014

Sport, teologie en die kerk: oor onderskeiding van gawes.

Ek onthou die student in my klas as 'n sportman in die ware sin van die woord: hy het op nasionale vlak deelgeneem, met al die voorbereiding, harde werk en toewyding wat met so ‘n prestasie verbind word.

Daar was by hom ‘n afkerigheid aan sy studie wat my dadelik opgeval het, byna asof hy bloot net bygebly het sonder om werklik ywerig te voel oor wat hy in sy teologiese studies bygewerk het. 

En tog was hy ‘n teologiese student, het ek gedink, wat ‘n roeping gehad het en dus ernstig daaroor gevoel het.

En, het ek bygedink, watter geleentheid is daar nie vir die kerk as so ‘n jongman in die bediening beland en net ‘n normale, goeie simbool vir ander mense kan word: dat geloof en sport nie net saamgaan nie, maar dat geloof in sport ‘n mens tot hoogtes kan inspireer, vir jou nederig, normaal en betrokken kan maak. 

En, het ek besef, die goeie sportman is gewoonlik ‘n gedissiplineerde mens wat hard werk – ‘n skaars objek waarvan die kerk nie genoeg kan kry nie.

Ek het besef dat hy opoffering moet maak wat sy studie in gedrag sou bring, dat hy tye sou moes wegwees wat hy dalk werk moet inhaal of nie ‘n toets kan skryf nie.

Elke keer weer het ons twee bymekaar gekom en ‘n oplossing bedink. Hy sou nie anders as ander studente behandel word nie. Hy sou nie ligter beoordeel word nie. Hy sou dieselfde werk afhandel en hy sou alle inligting oor die kursus moet bywerk – op sy eie of in raadpleging met my.

Mettertyd het ons ‘n verstandhouding ontwikkel waardeur hy sy sportideale saam met sy akademiese doelwitte kon paar en uitwerk. Hy het besef dat hy nie gunste ontvang nie en hy kon respek vir sy kursus behou. 

Hy het uiteindelik knap gepresteer. Ek kon later sien dat hy ook in die akademiese werk meer as net plig raaksien.

Lank daarna het hy met my kom praat en vertel hoedat daar by hom spanning geskep is tussen sy sport en akademie. Vir sportmense was sy sport belangrik, terwyl akademici nie altyd erkenning gegee het aan die groot eise wat sy sportbedrywighede aan hom gestel het nie. Hy het hom vasgevang gevoel deur die afstandelike, ongeïnteresseerde eise en suspisies wat hy van albei kante ervaar het. 

***

Hoe oordeel ‘n mens oor so 'n saak wat eintlik ‘n tydlose verskynsel is? Baie sportmense staan onder druk van kerklike kant om nie hul sport eerste te stel nie. Hulle word dan met ‘n skuldgevoel oorlaai.

Hierdie debat het nou in Amerika ook weer opgevlam toe ‘n Mormoonse kerklidmaat ‘n baie belangrike sportposisie berei het en dus nie die Mormoonse sendingwerk vir twee jaar lank wou doen nie. Dit is boeiend om die reaksies van mense op die jongman se besluit te lees.

Met die lees van die artikel het ek onwillekeurig teruggedink aan my oud-student, die knap atleet, maar ook die gevoelige jongman. 

En aan watter wonderlike gawe die kerk ontvang wanneer so iemand die bediening wil ingaan. 

Die kerk moet die geestelike gawe van onderskeiding met groot versigtigheid soek in sulke uitsonderlike gevalle: hoe om te maak dat die persoon nie net deur sy sport ‘n gawe vir die kerk word nie, maar ook deur sy geestelike toerusting in sy teologiese studies bybly. 

Want sport gaan nie die gemeente voed nie, terwyl die preek op ‘n Sondagoggend of die besoek aan jong lidmate van ‘n bekende sportman soveel waardevoller is as daardie sportster-predikant met geestelike insig en bekwaamheid die geestelike weg met sy lidmate kan loop. Hy gaan sy teologie, goeie teologie nodig hê, en moet dit nie vrygeskeld word nie. 

Dit vra egter onderskeiding van die kerk, wat sal beteken dat niemand met ‘n  skuldgevoel belaai sal word nie, dat die kerk geseën word met ‘n begaafde bediening en dat die sportwêreld ook ‘n slag ervaar hoe ‘n gelowige mens sy sport uitleef.

Hier is die berig:



Thursday, June 26, 2014

Sakemense en die kerk. Oor finansiële nood en spiritualiteit

Twee besoekers in twee dae vertel vir my uiters tragiese verhale oor die gevolge van die roekelose beleggingsbesigheid van 'n Kaapse sakeman wat verlede jaar in 'n skietvoorval dood is en wie se bedenklike praktyke daarna as groot skandaal in die media onthul is. 

Sy optrede het 'n groot klomp mense finansiëel geruïneer. Een van hulle het verlede week nie meer lig gesien nie en hom in ons omgewing om die lewe gebring. Hy het, vertel een van my besoekers, alles verloor deur die skema van die zakenman. 

Die ander een, heeltemal onafhanklik, se verhaal die volgende dag gaan oor 'n baie ryk boer wat 'n ongehoorde groot klomp geld saam met al die rente daarop, verloor het en totaal verarm is. Sy vrou het verlede jaar ook nie meer kans gesien vir wat voorlê nie.

Dit breek 'n mens se hart. 

Wat 'n mens ontstel, is dat die sakeman by wyse van spreke met die Bybel onder die arm mense se geld by hulle gaan haal het. En toe in ongekende weelde homself gieriglik verryk het. 

Dit is nie die eerste keer dat mense die Bybel inspan vir gierigheid nie. Trouens, dit is een van die bekende streke om goedgelowige mense deur godsdienstige praaitjies vir sulke skema's te vang. 

Uiteraard vra ingeligte kerkleiers wat hulle in sulke omstandighede kan maak. Dit is immers nie net lidmate wat val vir mooi praatjies nie. Ook gemeentes het deur hul oningeligte leiders geld by die Kaapse sakeman se skema verloor. 

Ek dink hieraan toe ek vandag 'n berig oor die Anglikaanse kerk in Engeland lees. 

Dit was vir my 'n verrassing dat 'n finansiële kundige kort gelede tot nuwe aartsbiskop van Kantelberg verkies is. 

Hy is 'n ervare besigheidsmens wat elf jaar lank in die olie-industrie gewerk het. 

Hoe kom dit? 

Sy betrokkenheid is veral gestuur deur die tragiese dood van sy sewe-maande oue dogter in 'n motor-ongeluk in Frankryk toe hy al 'n suksesvolle besigheidsman was. Kort daarn het hy teologie gaan studeer. 

Op 'n boeiende manier het hy sy ondervinding as sakeman tot groot voordeel vir die kerk gebruik. Hy het veral in etiek gewerk en onder ander 'n boek geskryf oor die vraag of maatskappye kan zondig. 

Maar hy was ook aktief in konflik-bemiddeling. Toe hy deken geword het van die grootste bisdom in Engeland (Liverpool) het hy die kerk veral gelei om in die gemeenskap betrokke te raak, onder andere by asielsoekers. Hy het ook in Irak belangrike werk gedoen om die kerk daar te ondersteun. Sy bande met die wêreld en met mense se gewone lewens is sterk.  

Dit het besonder positiewe gevolge. Uiteraard doen hy weens sy hoë amp invloedryke werk en kan hy meepraat met die magte in die politiek. Wat opval is hoe sterk hy in parlementêre ondersoeke help om finansiële misstande aan te spreek. Hy het onlangs in die nuus geraak oor sy kritiek op instellings wat geld aan mense teen roekelose rente leen en hulle wreed uitbuit.

Dit is in Engeland 'n groot probleem - soos by ons. Mense is weerloos as hulle geld nodig het of as hulle aan die leen-skurke uitgelewer word.  

Hy kritiseer nie net nie. Hy praat ook nie vroom praatjies nie en smous nie met goedkoop godsdienstigheid nie. Hy is ingelig en werk daar waar dit werklik saak maak. Hy bring die kerk in die wêreld in en maak dit 'n actiewe rolspeler in een van die mees korrupte samelewingstrukture van ons tyd. 

Wat veral betekenisvol is, is hoedat hy die infrastruktuur van die kerk gebruik om mense finansiëel by te staan.  Die kerk gaan 16,000 gemeentes in Engeland gebruik om krediet-unies op te rig wat mense kan help met raad oor geldsake. Hulle gaan mense oplei wat kan keer dat lidmate prooi word van onetiese leen-instellings.

'n Belangrike persoon in die finansiële wêreld en vorige hoof van die Finansiële Diensteburo, noem die Anglikaanse kerk nou die beste takke-netwerk in die land. 

Is dit die werk van die kerk, sou 'n mens kon vra? In 'n nuwe tyd, in nuwe omstandighede sou 'n mens seker kon dink hoe 'n groot finansiële diens die kerk kan lewer vir kwesbare mense. In 'n sekere sin doen die kerk dit al: voorheen bekend as armsorg, toe barmhartigheidsdiens en nou ook gedoen as opheffingwerk. Maar dit is alles remediërend, werk teen skade wat reeds gedoen is, teen armoed wat ingetree het. 

Die werk kan sinvol uitgebreid word as voorkomende optrede - om te keer dat mense verarm. Op 'n sekere manier gedoen, kan dit 'n belangrike deel van die kerklike werk word in 'n samelewing waar mense harteloos uitgebuit word. 

Trouens, eerder as om hulle geld in die beurs en sake-eiendom te belê, kan die kerk maar ook 'n keer begin nadink om daardie geld vir mense te leen (eerder as te gee) of om saam met etiese sake-instellings met bewese ervaring hieroor te werk.  

Daar is goeie rede's om dit te doen, al vra dit van die kerk om dit met moeite en kundigheid te doen. Dit is 'n mynveld met baie risiko's. Nie net lidmate of gemeente's kan baat nie. Ook die sake-wêreld kan baat as die kerk met 'n etiese instelling en 'n spirituele passie in samewerking tree om uitbuiting van mense te voorkom, om finansiële advies binne gemeentes te ko-ordineer, om sakemense aktief in te span op gemeente-vlak en om belangrike berigte in die media oor sakebedrog onder gemeentelede se aandag te bring. 

Dit kan 'n kragtige transformatiewe inwerking hê, 'n getuienis vir die kerk se omgee vir mense se gewone behoeftes word en die kerk 'n gesig gee in die sakewêreld se slegste omgewing. So 'n betrokkenheid is in ons tyd 'n teken van die gees van Christus, die Een wat  soveel omgegee het vir die weerloses en die uitgebuites van sy tyd. 

Die tyd is inderdaad ryp vir die kerk om hieroor met die sakemense te begin praat, om in vergaderings hieroor te besin, maar ook, dalk, om die aartsbiskop van Kantelberg uit te nooi om sy siening oor die kerk en finansies te deel. 

Die kerk se geestelike instelling hou nie op by bekeringsprediking en aalmoese uitdeel nie. Die teologie het lankal ontdek dat die samelewingstrukture, veral dié wat die armes veronreg, ook vanuit die evangelie aangespreek moet word. Aalmoese is 'n tydelike oplossing. Dit is veel sinvoller om ook te werk aan strukture wat mens in hul armoede verder  seermaak. 

"Aanspreek," leer ons van die aartsbiskop, beteken meer as vinger--swaai op die preekstoel. Dit beteken ook om konkreet daaraan te werk en iets daaromtrent te doen. Die kerk kan inderdaad 'n hoogs effektiewe takke-netwerk vir 'n regverdige finansiële bestel word - sonder dat dit die wese van die kerk as geestelike instelling hoef aan te tas. Trouens, so 'n betrokkenheid kan 'n getuie wees van hoe ernstig die kerk sy verstaan van die evangelie uitleef. Daar is in elke gemeente sekerlik bekwame mense met 'n Geesgedrewe lewe wat kan meedoen en 'n lewensbepalende verskil in die opsig kan maak. Die grafte van goeie, gelowige mense wat die prooi wat gewetenlose gierigaards word, roep vir oplossingen. Meer nog: die evangelie van ontferming en omvorming eis dit. 

http://www.ft.com/cms/s/0/e810b98c-fc84-11e3-81f5-00144feab7de.html#ixzz35in1UY1S



Wednesday, June 25, 2014

Die pes, Openbaring en 'n deurbraak vir die Christendom.

Wat het alles bygedra tot die opmars van die Christendom?

Een van die  rede's is soms heel gewoon: 'n plaag onder die bevolking van die wêreld en die boek Openbaring kan 'n deurslaggewende rol speel.

En die argeologie help soms om hierdie groeiproses beter te verstaan.

Hier onder is 'n berig uit vandag se Trouw wat hoogs interessant is.

Heelwat stof tot nadenke.


Onderzoekers hebben in de Egyptische stad Luxor lichamen van slachtoffers van de 'pest van Cyprianus' gevonden. De pandemie die in de derde eeuw het Romeinse Rijk teisterde, is een belangrijk hoofdstuk in de geschiedenis van het christendom.
  • © ONLUS / F. Tiradritti.
    Schedels en aardewerk op de opgraaflocatie.
In een artikel in de nieuwe editie van het tijdschrift Egyptian Archeologybeschrijft de onderzoeksgroep Italiaanse Archeologische Missie in Luxor (MAIL) hoe ze onder meer is gestuit op menselijke stoffelijke overschotten die zijn bedekt in een dikke laag kalk. Dat materiaal werd in vroeger tijden gebruikt als desinfecterend middel.

In de buurt van de vindplaats troffen ze sporen aan van een groot vuur waarin lijken van slachtoffers zijn verbrand en aardewerk dat uit het midden van de derde eeuw stamt.

De pest van Cyprianus (250-271) zaaide in grote delen van het rijk dood en verderf. Volgens sommige historici eiste de pokken- of mazelenuitbraak alleen al in Rome dagelijks honderden tot duizenden levens. Ook de keizers Hostilianus en Claudius Gothicus bezweken eraan.

In de Egyptische stad Alexandrië zou tweederde van de bevolking zijn overleden. In veel plaatsen lagen straten bezaaid met lijken. Wie besmet raakte, was voortdurend aan het overgeven; velen werden blind en doof.

De graftombe waarin de archeologen onderzoek deden is gebouwd door de oude Egyptenaren, schrijft onderzoeksleider Francesco Tiradritti in Egyptian Archeology. Hij was eeuwenlang in gebruik, maar werd ten tijde van de pest in de ban gedaan. De geïnfecteerde lijken gaven het complex blijvend een slechte reputatie. Het lijkt er zelfs op dat er geen religieuze begrafenisrites op de lichamen zijn uitgevoerd. Pas in de 19e eeuw werd het complex herondekt.

'Christenen hadden niets te vrezen'
Veel historici houden er rekening mee dat de pandemie een belangrijk historisch kantelpunt was. Volgens hen deed de ziekte wonderen gedaan voor de populariteit van het christendom.

Bisschop Cyprianus van Carthago, wiens schriftelijke verslag een van de belangrijkste historische bronnen over de plaag is, schreef destijds dat christenen niets te vrezen hadden. Ja, ook zij vielen ten prooi aan de ziekte, maar als ze bezweken was dat niet het einde.

Bovendien zagen christenen de pandemie als een teken dat het einde der tijden was aangebroken. Al die ellende, al die schier onverklaarbare overlijdens - dat moest wel de donkere periode zijn die het bijbelboek Openbaring beschreef. Volgens de bisschop van Alexandrië stonden keizers en heidense priesters met lege handen: dat ze de plaag niet theologisch konden duiden, zou de positie van het christendom alleen maar versterken.

Meer lijden, meer martelaars
Ook waren christenen eerder geneigd tot martelaarschap. Als de kans op vroegtijdig overlijden zo groot was, konden ze maar beter zorgen dat dat hun dood er toe deed. Daarmee gaven ze het signaal af dat het christendom de moeite van het sterven waard was. Tegelijk verzwakte de ziekte de positie van het Romeinse Rijk, dat destijds toch al in verval was.
De vondsten in het grafcomplex lijken de verslagen van de christelijke schrijvers te bevestigen. Luxor had in de derde eeuw inderdaad te maken had met een ernstige medische calamiteit, menen de archeologen van MAIL. De doodgravers werkten waarschijnlijk zelfs 's nachts door. Hoe hard ze ook werkten, de lijken bleven maar komen. 

Dracula op die sportveld. Oor soet en skande op ons sokker-skerm.

Dit het vir my ook gelyk of Suarez gisteraand sy Italiaanse teenstander op die skouer gebyt het en as 'n mens die video bekyk, kan jy nouliks anders dink.

En nog 'n fiasko breek los. Die wêreld praat die volgende paar dae hieroor.

Die heiligheid van die spel is aangetas, voel hulle vies. 

Maar hulle staan ook verslae voor die verskynsel dat 'n sokker-genie wat 'n spel so subliem kan speel, wat in een doelskop 'n klein volkie se bors laat swel omdat magtige Engeland se sokker-drome verpletter is, tot so 'n vlak kan daal. 

Die mees simpatieke opmerking wat ek raaklees, nou, na al daardie briljantheid, grootliks vergete, is dat ook sokker-genieë feilbare mense is.  

Die manne is aan die beduie.

Die wêreldbeker is ongekend in sy invloed op mense. Dekade's na hul roemryke prestasies, onthou liefhebbers nog hoe 'n speler 'n doel geskiet het. Jou plekkie in sportgeskiedenis bly groot wanneer daardie bal oor die wit streep van die doelhokkie rol. Of oor daardie stompsinnige sotterny wat jy aangevang het. Soos gisteraand.

Mense vergeet nie. Hulle onthou byvoorbeeld hoe Suarez reeds twee keer sy teenstanders gebyt het. En hulle ruk dadelik daardie snitte uit hul argiefie en sit dit op die net. Of hulle onthou hoe hy Patrice Evra op 'n rassistiese manier behandel het en later geweier het om sy hand te skud. 

Watter wonderskone sport kan sokker nie wees nie, veral as 'n span bedrewe is, saamspeel, 'n strategie het en boonop topfiks is. Nederland is een van my gunstelinge: as Arjen Robben of Schneiders op spoed is, is dit sport op sy beste. 



Maar dit is nie net spoed, vloeiendheid, strategie en styl wat 'n mens laat vergeet jy moet ook ander dinge doen nie - daar waar jy vasgenael voor die kassie sit.

Daar is die sweet wat die spelers se hemde sopnat het en vertel van top-inspanning. Die stampery en stoeiery laat jou besef dit is harde stryd, ongenaakbaar, taai, aggressief, bruut en gedrewe. 

Daar is die futiele, woedende, hande-swaaiende onderonse met die skeidsregter - elke keer weer tevergeefs. Hoeveel keer flits dit deur 'n mens se gedagtes: "Dink jy nou werklik jy gaan deur jou beduiery keer dat daardie man sy geel kaartjie uit sy agtersakkie gaan pluk? Vergeet jy dan wat mag is?"

Dit is op 'n keertje  dink jy, weer die meer wyse speler wat die skeidsregter vriendelik op die skouer klop of vir hom 'n  ontwapenende glimlag gee. Skeidsregters is immers ook mense wat vriendelik behandel wil word (en dan vriendelik optree...). 

En die sportmangees, die wete dat 'n spel is, sien 'n mens in die handskud aan die begin en einde van die wedstryd, in die uitruil van truie en hoor jy in die kameraderie wat sokkerspelers dikwels oor die wêreld heen met mekaar deel. 

Jy sien die dieper dinge in die hartjie wat die speler met sy hande vorm, opgedra aan die geliefde, na die skop van die bal.  

En deel van hierdie maalkolk van sokker-wees, is daar die verbysterende invloed van die spel, die ongekende voordele wat dit vir die topspelers meebring:

In 2001 woon Robben nog as 16-jarige in Bedum by sy ouers in Bedum, Nederland. Toe droom hy nog oor die toekoms. Vandag speel hy vir Bayern Bayern München en sit R50 miljoen in sy beursie.... 

Maar alles is so vlugtig, die roem. Onderstreep deur die byna paniekerige pogings van spelers om die vreugde van daardie doelskop nog langer te beleef: die inloer in die kamera, die vreugdekringe  na die fans se sitplekke en die hande-swaai om die skare nog harder te laat juig. 

Maar dan, meedoënloos, sekondes later, begin alles van voor af. Wat agter is, is verby. Hier word weer vorentoe uitgestrekt. 

Tyd rol aan. Byna niks is blywend nie. 

Uiteindelik, as 'n mens alles agtergelaat het, bly alleen maar die wete van goedheid en guns. En hoe dit na 'n mens kom in die tye van soet en skande op dikwels onverwagte maniere.  

Hoe kan 'n mens anders om by al die mooi- en donker-kante maar humor te behou. Hier is twee mooi voorbeelde:


Suarez volgende seisoen:


https://twitter.com/JonesMartyn/status/481494189377851392/photo/1




Embedded image permalink





"Dit kon nie ek gewees het nie..."  Suarez aan die skeidsregter:


https://twitter.com/HuffPostUKPics/status/481503995291525120/photo/1



Embedded image permalink


Sunday, June 22, 2014

In lewensgevaar weens sy bekering

Die lot van mense wat in Moslem-lande Christene word, is onvoorstelbaar: in die berig hier onder word vertel van 'n man wie se familie hom wil doodmaak omdat hy Christen geword het.

Hy het gevlug na Europa, maar daar is hy op grond van 'n tegniese punt weggewys. Hy leef nou in lewensgevaar.

'n Aangrypende artikel, wat nie net vertel hoe onverdraagsaam godsdienstige mense is nie, maar ook hoe in beskaafde Westerse lande die lot van die individu dikwels min saak maak.

http://www.nytimes.com/2014/06/22/world/asia/afghanistan-a-christian-convert-on-the-run.html?emc=edit_th_20140622&nl=todaysheadlines&nlid=55992893&_r=0

Saturday, June 21, 2014

Wanneer die slagoffer die boelie word. Oor die kerk en Israel

Hier in Suid-Afrika en in die kerklik wêreld sal ‘n mens gou die dieper emosies herken ten grondslag van die besluit van die Amerikaanse Presbiteriaanse kerk (VSA) om te disinvesteer van maatskappye wat Israel indirek help in hul besetting van Palestynse gebiede.
Die situasie in Palestina is hoogs emosioneel en plofbaar. Israel het met die oorlog in 1948 begin om sekere gebiede te beset. Tot so ‘n mate dat die inwoners na Jordanië moes uitwyk, waar hulle helfte van die bevolking uitmaak en dikwels in haglike omstandighede leef. In 1967 se oorlog is hierdie besetting sterk uitgebrei, hoewel Israel later sekere dele aan Egipte teruggegee het.
Die Israeli’s se onmenslike hantering en mishandeling van Palestyne is alombekend. Dit ontstel beskaafde mense oor die hele wêreld.
Aan die ander kant is daar Arabiese groepe wat daarop ingestel is om Israel as staat van die gesig van die aarde te verwyder. Israel leef daagliks onder die swaard van aanvalle. In die lig van Israel en Jode se geskiedenis, begryp vele mense waarom Israel so heftig en verbete is in onderhandelinge oor vrede en oor die toekoms van Israel as staat.
Min mense sal Israel se voortbestaan as staat bevraagteken. Maar hulle keur dit ook nie goed dat die Palestyne steeds veronreg word en aan eindelose lyding blootgestel word nie. Hulle is ontheemd, van hul land ontneem en leef in haglike omstandighede as vlugtelinge.
Dit is ‘n hoogs komplekse situasie. Wat egter deesdae uitstaan en begin om ongeduld te genereer, is dat Israel op ‘n aggressiewe manier nedersettings oprig in die besette gebiede. Dit roep woede, agterdog en verbittering by die vlugtelinge op en ontstel mense wat soek na vrede in die gebiede.
Oor die wêreld heen is mense gefrustreerd omdat die situasie nie verbeter nie. Die lyding van miljoene mense lyk of dit soms net erger word.
In die lig van hierdie gesloer en selfs verslegting van die situasie, neem mense hulle toevlug tot ekonomiese sanksies teen Israel.
Die Presbiteriaanse Kerk het wel nie aangesluit by ‘n internasionale beweging bekend as BDS: boikot, disinvestering en sanksies nie, al is hul besluit, so pas geneem by hul sinode, om hul beleggings van R210 miljoen rand in drie belangrike en groot maatskappye (Caterpillar, Motorola en Hewlett-Packard) op te sê.
Die kerke neem die besluit omdat die maatskappy aan Israel produkte verskaf wat Israel se besetting van Palestynse gebiede ondersteun.
Die debat was hoogs intens en die besluit is met ‘n meerderheid van 7 stemme (310/307) aanvaar. Soortgelyke voorstelle is in die verlede verwerp.
Die Presbiteriaanse kerk is invloedryk weens sy geskiedenis en die lidmaatskap van verskeie Amerikaanse presidente. Dus het Joodse leiers en meningsvormers die debat goed dopgehou en probeer beïnvloed.  Hulle herken in die proses die toenemende druk op Israel om hul beleid in die besette gebiede te hersien. 
Die besluit is nie net negatief nie. Die kerk het, heel versigtig, beklemtoon dat Israel alle reg het om as staat te bestaan. Maar dit wil ook ‘n Palestynse staat naas Israel sien. Die kerk moedig sy lidmate aan om na Israel te reis, maar ook om in gesprek met ander godsdienste te tree. 
Wat so opvallend is en sterk na vore kom in vandag se NYT-berig oor die saak, is dat die kerk beïnvloed is deur Joodse gelowiges. Hulle was ook by die sinode en het as Jode beklemtoon dat Israel deur sulke besluite gedwing moet word om dieper na te dink oor sy besetting van Palestynse gebiede.

Waarom is die berig vir my so belangrik?

‘n Mens sien en hoor daagliks van mense wat Israel besoek en diep godsdienstige gevoelens daar ervaar. Hulle besoek al die bekende en hoogs belangrike plekke wat besondere betekenis vir gelowiges het.

Hulle kom terug en deel graag die indrukwekkende getuienis.

Maar hulle is dikwels onbewus van die menslike tragedie wat in Israel aan die afspeel is: die lot van miljoene ontheemde mense, die landvergrype van die Israeliese regering deur hul nedersettingsbeleid, die bedreiging wat so ‘n beleid vir vrede inhou en die ongekende hardhandigheid waarmee Palestyne behandel word.

Die kerk in ons land sal ook hieroor ‘n woord moet spreek. Al is dit net omdat ons uit ‘n verlede kom wat gewys het dat ‘n beleid van verontregting tot almal se nadeel en vernietiging strek. Nie net die slagoffers nie, maar ook die maghebbers verloor hul menslikheid en waardigheid solank as wat onreg geperpetreer word.

Terwyl lidmate so sterk voel oor besoeke aan Israel, het die kerk ‘n taak om hulle op die groter, strukturele probleme in die land te wys. Elke keer as hulle die heilige land besoek of oor Israel praat, moet hulle weet van miljoene mense wat deur Israel se optrede in ellende en in ‘n situasie van onreg gehou word.

Daarmee sal die kerk nie Jode loslaat nie. Die verskriklike geskiedenis van die Jodedom en die vernietigende rol van anti-Semitisme kan nie vergeet word nie. In vele opsigte het dit tot die huidige stemming in Israel bygedra.

Maar die kerk sal ‘n profetiese woord spreek juis om te keer dat die staat Israel, ook as bewaarder van die Joodse erfenis, verval tot ‘n rol van uitbuiter en pleger van onreg.

Dit word dan ‘n besluit wat nie teen Jode gerig is nie, maar juis aansluit by wat vele Jode toenemend vra. Dit word ‘n besluit wat juis baie Jode ondersteun wat bekommerd is oor die rol van die staat in hul land.

Lees die interesante berig hier:



Blog Archive