Sunday, August 04, 2013

Weerstandigheid


Die gesprek gaan oor bekommernisse in die lig van die bybelse teks dat 'n mens jou nie sorge moet maak nie.

Sekerlik, beklemtoon die spreker, is een van die rede's waarom 'n mens bekommerd raak dat 'n mens nie rekening hou met die voorsienigheid en sorg van God nie.

Wanneer 'n mens jou deel gedoen het, jou verantwoordelikheid nagekom het, sal God nie onbetrokke in jou lewe bly nie.  Dit is waaroor die bybelteks gaan. En bybelse geloof beteken ook dat 'n mens kan vertrou daarop dat God betroubaar is.

Maar daar is meer: hoe doen jy jou deel?

Een manier waarop 'n mens jou deel doen is om te vra op watter manier 'n mens in Christus se wil gebly het.

Die opmerking bly vanselfsprekend. En tog: hoe bly 'n mens in die wil van Christus, wonder ek nadat die gesprek op die noot eindig?  

Heel prakties antwoord die geestelike oefening van self-ondersoek dat 'n mens in Christus se wil bly wanneer 'n mens gereeld in tye van stilte nadink oor die verloop van die dag. 'n Mens bedink die gebeure met, daarna, die vraag op watter manier 'n mens God se teenwoordigheid daarin herken het en op watter manier 'n mens ingestem op God se werking in jou lewe gebly het.

So werk die praktyk van geestelike self-ondersoek.

Of: 'n mens moet ook kan probeer insien op watter manier jy weerstandig teen die teenwoordigheid van God in 'n mens se lewe was.

Met ander woorde:  steeds weer moet 'n mens oor die diepere sin kan nadink. Ongestoord en onnadenkend kan 'n mens eenvoudig voortstoom met alles waarmee jy besig bly en nooit agterkom waarom en waartoe nie.

Tog is die dieper insink in Christus se wil  meer as net nadink.

Of oor soek.

Soms, leer die praktiese examen,  weet 'n mens te goed van die teenwoordigheid van God en van skoonheid wat in 'n mens se lewe teenwoordig is.  Maar 'n mens is weerstandig.

En deur en na die weerstandigheid, kom die groter verwyt, die dieper, knaende bekommernis: dat 'n mens dit daar gelaat het.

Die geestelike self-ondersoek weet van baie woorde en gepraat waarin 'n mens kan vasval. Sonder om te besef Wie die woorde praat en dat die woorde 'n uitnodiging tot 'n verhouding is. En hoe weerstandig mense teen die verhouding kan wees. Die sorgvryheid is te vind in die intrede en bly in hierdie verhouding. Dit is 'n geestelike oefening.


Blog Archive