Monday, October 30, 2006

Spiritualiteit: Jan van die Kruis - kommentaar: inleiding (1)

Vertaling van die inleiding tot die kommentaar op Jan van die Kruis se Stansas van die siel:

"Hier begin die verklaring van die stansas wat handel oor die houding en die handelswyse van die siel op die weg van die vereniging in liefde met God. Deur Jan van die Kruis, 'n broeder van die ongeskoeide karmeliete.

"Voordat ons begin met die verklaring van hierdie stansas, is dit goed om te weet dat die siel hulle sing wanneer hy hom reeds in die volmaaktheid bevind. En die volmaaktheid is die vereniging in liefde met God. Die siel het reeds al deur kwellende beproewinge en benouenisse gegaan deur die geestelike inoefening van die smalle weg na die ewige lewe waaroor ons Verlosser in die evangelie praat (Mt.7:14). Dit is die weg wat die siel gewoonlik bewandel om te kom tot hierdie besondere en vreugdevolle vereniging met God. Omdat die weg so smal is en so weinig lang hierdie weg binnegaan - soos die Here ook meld (Mt.7:14) -, ervaar die siel dit as 'n groot vreugde en groot voorspoed dat hy langs hierdie weg tot hierdie volmaakte liefde gekom het, soos dit in die eerste lied besing word. Daarbenewens noem die siel hierdie nou pad heel gepas "donker nag," soos dit ook later in die verse van hierdie lied verklaar sal word.
Verheug dat hy hierdie pad geloop het wat soveel goed vir hom opgelewer het, praat die siel as volg."

Notas:
In hierdie kommentaar word uitdrukking gegee aan 'n spesiale ervaring wat die komponis van die stansas gehad het. Met die stansas wil hy die leser inspireer om ook vir so 'n belewenis oop te wees. Dit is 'n spesifieke en gefokusde ervaring van "volmaaktheid" wat op 'n spesiale manier beskryf word as die vereniging in liefde met God - en ook, 'n paar sinne later as die "volmaakte liefde." Hier gaan dit dus om 'n unieke, besondere liefde wat buite die normale is, wat daarom goddelik is in karakter. Uiteindelik is dit wat vreugde gee, dit wat uniek is, dit wat die hart van die mistiek uitmaak, om "in liefde" by God te wees.

Dit is ook verder nie 'n goedkoop, maklike ervaring nie, want die reis na die liefde van God loop 'n moeilike, berg-op paadjie. Dit is ook nie 'n gewilde, sensasionele ervaring nie, want nie baie mense begeer dit nie. Min hou vol op hierdie kronkelende, uitmergelende reis - dit is iewers soos om in die donker op pad te wees. Die ervaring word net deel van hulle wat as gelowiges bereid is om 'n moeilike, ongewone en ongewilde pad te loop.

Die reis is taai, maar die uitkoms spesiaal: as 'n mens dit goed bedink, besef jy dit gee vreugde en voorspoed.

Van spesiale belang is die aanhaling van Matteus 7:14: dit is 'n gedeelte uit die bergrede as beskrywing van Jesus se program vir sy bediening. Met hierdie interpretasie verbind die gedeelte Jesus se bediening met die ervaring van God se unieke liefde waarna die mens hom of haar moet uitstrek. Dit is nie 'n boodskap oor moralisme nie, dit is nie 'n harde, moeisame pad omdat 'n mens jou so inspan nie. Dit is eerder 'n donker reis omdat dit al die menslike vergroeisels wat die verskynsel van egte liefde bedek, moet wegsny en stroop om ons die ander, volmaakte ervaring van die liefde te laat beleef. Dit is in lyn met Jesus se boodskap dat 'n mens jou bekeer van al jou gevestigde norme en sekerhede om in lyn te kom met wie God is en wat God aan 'n mens gee. En juis daarin gee jy jou oor aan die onsekerheid van die donker, onbekende reis waarheen God jou wil neem en waarvan jy as mens nie die uitkoms kan voorsien nie - alleen maar dat dit 'n reis na die egte, volmaakte liefde is. Die liefde kom nie na 'n mens sonder risiko's nie!

Daar is wonderlike kontraste in die gedeelte: Die pyn van die reis, (kwellende beproewinge en benouenisse) word verbind met vreugde, voorspoed, liefde. Die Christelike reis is nooit triomfantlik nie, 'n spoggerige optog van uitstallerigheid nie. Dit is baie duurder en duursamer - daarom maak dit 'n mens dikwels eensaam, word dit pynlik, maar is dit juis nie sonder vreugde en geluk nie. Die pyn is dus 'n genesende pyn en die vreugde is 'n geluk wat in God gevind word. Daarmee word 'n mens gestroop van wie jy nie behoort te wees nie en omvorm om te deel in die liefdevolle karakter van God.


Hierdie vertaling volg die Nederlandse teks waarna voorheen verwys is. (c) Pieter G R de Villiers

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive