Saturday, November 04, 2006

SPIRITUALITEIT: JAN VAN DIE KRUIS (2)

SPIRITUALITEIT: JAN VAN DIE KRUIS (2)

(Johannes van die Kruis)

Vervolg van die vertaling en bespreking van hierdie publikasie (cf. vorige blog).

Boek1

Afrikaanse Vertaling van die Verklaring

“1. In hierdie eerste stansa vertel die siel met watter houding en op watter manier hy moet loskom van sy gehegtheid aan homself en aan alle dinge, en deur werklike afsterwe te sterf aan homself en aan alle dinge, om dan in ‘n lewe van soet en kosbare liefde met God te gaan lewe. Hy vertel hoe hierdie loskom van jouself en alle dinge ‘n donker nag was. Aldus bemerk hy hierdie suiwere aanskouing (kontemplasie), soos later sal blyk, wat in die siel op passiewe manier veroorsaak dat ‘n mens nee sê vir jouself en alle dinge.

“2. Hy vertel hier dat hy die loskom kon volbring danksy die krag en die warmte wat die liefde tot die bruidegom vir hom in hierdie donker nag geskenk het. Hy loof die geluk wat op die weg na God vir hom deur hierdie donker nag ten deel val. Dit het so voorspoedig gegaan dat nie een van die drie vyande (die wêreld, duiwel en die vlees) wat altyd probeer om hierdie weg te versper, hom kon stuit nie. Want die nag van suiwer aanskouing laat alle hartstogte en passies in die huis van sy sinlikheid inslaap en tot stilstand kom, ten minste dan daardie passies en roeringe wat die weg versper. Dit vers lui dan ook:

In ‘n donker nag.

Nota’s

Om hierdie gedeelte reg te verstaan, moet ‘n mens veral let op die “passiewe manier” waarop die mens tot die liefde met God verenig word. Die donker nag wat ‘n mens moet beleef, dra vrug. God bewerk daardeur in die mens die liefde. Die mens het nie hierdie gawe op enige manier in beheer nie. Dit val hom “ten deel” en word nie deur hom sy deel gemaak nie.

Let op hoe die liefde as soet en kosbaar beskryf word. Dit bring “krag” – nie eers die drie groot vyande kan ‘n mens van God se liefde skei nie. Maar dit gee ook warmte.” Die sterk beskrywing word ook verbind met die vreugde/geluk wat die uiteindelike uitkoms van die donker reis meebring. God word hier met die beeld van die “bruidegom” verbind. Daarom kan die reis ook as “voorspoedig” beskryf word – ten spyte van die feit dat dit ‘n gevaarlike, donker reis is waarin ‘n mens intens worstel met jou mees primêre innerlike drange en begeertes.



(c) Pieter G R de Villiers, sien erkenning van bronne in vorige publikasie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive