Thursday, November 16, 2006

Spiritualiteit en Nouwen : Verrassing

Uit:
3 Minute stilte by God. ’n Jaar se gedagtes oor wysheid en geloof. Vertaal deur Pieter G R de Villiers. Gepubliseer deur Lux Verbi in 2000. Vir bestelling van 'n kopie, skryf aan pgdevilliers@mweb.co.za

Ek het dikwels gepuzzle oor die eerste dagstukkie in Nouwen se indrukwekkende Dagboek. Die Afrikaanse vertaling lui so:

1 Januarie

Verwag ’n verrassing!

In elke dag is daar ’n verrassing.

Maar net wanneer ons dit te wagte is, sal ons dit kan sien – of hoor of voel – wanneer dit oor ons pad kom.

Laat ons nie huiwer om ons oop te stel vir elke dag se verrassing nie, of dit nou tot ons kom as hartseer of as blydskap.

Met so ’n instelling maak ons nuwe ruimte in ons harte oop, skep ons ’n plek waar ons nuwe vriende kan innooi en waar ons ons gedeelde menslikheid met groter oorgawe kan vier.

En mettertyd het ek besef dat daar sekere sleutelwoorde in hierdie gedeelte is: "ons moet dit te wagte wees," "ons moet ons oopstel," ons moet 'n "instelling" hê. Waarom dit hier gaan is die ons innerlike gereedheid vir God se werking in ons lewe.

Ek het vanmiddag 'n lekker muurbal wedstryd gehad: dit was taai, 'n tweestryd want altwee van ons is ernstig om te wen. Ons onthou elke punt, ons praat oor ons foute en ons fiksheid, oor ons inspanning om gesond te bly, oor die terugslae wat oor ons lywe kom, oor ouderdom, oor opwarming. Ons is ingestel op die sport muurbal, want ons weet dit gee aan ons lewe kwaliteit, dit help ons om druk te hanteer, om die skadukante van die lewe te oorleef - ons instelling kweek 'n hele kultuur van gesond bly en skep allerhande sosiale kontakte en verhoudinge.

Maar toe ek terug ry huis toe in hierdie lentetyd, terwyl die lentelug, die sagte son van die bloeityd in die natuur as 'n bietjie van God se wonder-teenwoordigheid oor my tuisdorp hang, kon ek my instel op iets heel anders. By die swembad aangeland, kom daar drie studente uit. Een van hulle is 'n parapleeg, in 'n rystoel. 'n Jong man met twee pelle wat daarop ingestel is om ook hierdie lentetyd in die koel water te baljaar. Hy het sy lyf sekerlik leer aanvaar. Hy geniet normaalweg bloot sy swempie op hierdie laat lentedag, al is sy lewe dikwels sekerlik gelaai met vrae en opstand omdat hy "anders" (?) moet leef as ons wat sommer so maklik in 'n motor kan klim, ons klere kan aantrek, ons muurbalraket kan optel en 'n game gaan speel (of patroniseer ek hom nou? Mense kan ongelooflik naby aan God lewe juis in sulke omstandighede en het nie nodig om jammer gekry te word nie).

Maar tog: Vir 'n oomblik stel ek my in op die ongelooflike voorreg wat ek het om te kan hardloop op die muurbalbaan, die balletjie kan rondjaag, byna my binnegoed kan uitwoel.

Ek moet baie meer dankbaar wees, baie, baie meer, dryf ek weg in my gedagtes. En dan besef ek: Ek is ingestel op my middag, hierdie wonderskone tyd van liggaamlike verkwikking, op wat ek sien, wat ek doen en beleef. Dit beteken dubbele genot, en, die ontdekking, die groeiende insig, die verrassende blootlê van die simpel wete van hoe geseënd ek is. Die instelling self, om op wag te wees, om uit te kyk, die bewyssyn wat 'n mens moet koester - dit is wat eintlik tel, wat jou jou dankbaarheid laat terugvind - selfs al het jy jou muurbalgame (onnodiglik) verloor!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive