Sunday, November 12, 2006

Innerlike skoonheid: Aap-lelik


Joekie e-pos ‘n foto van ‘n pasgebore bybie van vriende. Die kindjie is skreeulelik, maar duidelik dierbaar en in elk geval diep geliefde deur sy moeder en vader en os en esel en almal wat in hul poorte is, want die foto’s word die wêreld ingestuur. Wat my laat dink aan die ou clichee dat jou kind in jou oë altyd vir jou die mooiste is. Wat my weer laat dink het aan die grappie, in Engeland opgetel vroeër vanjaar toe ‘n Ingelse koerant die funnieste jokes in die wêreld gepubliseer het (hul bron: British Association for the Advancement of Science Laughlab Survey). Volgens hulle is een van die snaakste grappe ooit die volgende een:

‘n Vrou klim met haar baba op die bus. Die bestuurder sê: “Sjoe, dit is darem die lelikste kind wat ek nog ooit gesien het.” Die vrou gaan woedend en diep gebelgd op haar sitplek sit. Sy sê vir die man langs haar: “Daardie bestuurder het my nou net beledig.” Die man antwoord: “Gaan sien hom reg. Dan hou ek solank jou bobbejaan vir jou vas.”

Wat my weer laat dink het aan wat ek nie meer weet waar ek dit iewers gehoor het nie: lelikheid het niks met die uiterlike te doen nie. En dan – die punt: Wéét ons dit tog nie: ons ken hoeveel mense wat eers vir ons lelik was, maar soos ons hulle leer ken en liefkry het, hoe mooier het hulle vir ons geword.

Dis waar, dis waar. Innerlike skoonheid maak mense uiterlik mooi.

(Darem ‘n troos: die drie van ons, skreeulelik met geboorte, was darem toe op die ou end almal mooi kinders). Maar ook dit sien ‘n mens uiteindelik nie raak nie – ‘n mens vra net een ding van die Here, dat hulle naby aan jou innerlik vervuld sal wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive