Sunday, November 12, 2006

Spiritualiteit: Salvador Dali en Jan (Johannes) van die Kruis

Die flambojante surrealistiese Spaanse kunstenaar, Salvador Dali, merk in ‘n televisie-onderhoud wat ek ‘n paar jaar gelede gesien het, op sy tipiese manier op dat daar net drie groot kunstenaars in die geskiedenis is – “natuurlik” die sewentiende eeuse skilder Velazquez, Picasso en dan hyself. (Velazquez se skildery van die Kruisiging verdien self ‘n eie bespreking wat hopelik nog hier volg). Sy ekstroverte en omstrede lewensstyl (hy het onder ander snorre versamel - afgesien van sy netjies gekrulde eie snor wat sy uitstaande kenmerk was!) maak dat ‘n mens sy briljantheid, maar veral ook sy “mistieke klassieke fase” (sien http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm) miskyk.

Vir Dali was die mistieke in die gewone sin van die woord al intens aan kunstenaarskap gekoppel. Hy het in sy unieke werk van 1948 oor die skilderkuns vertel van tipiese dinge wat iemand tot 'n groot kunstenaar maak: tegniek, kleur, aanbieding, komposisie, oorspronklikheid. Maar dan voeg hy by, 'n kunstenaar moet nie te eksplisiet wees nie. Daar moet altyd 'n geheimsinnigheid oorbly. Hierdie werk van Dali oor sy eie kunstenaarskap en kuns in die algemeen het die Engelse titel: “The Fifty Magic Secrets of Painting”! Iemand wat só oor die skilderkuns dink, het ‘n besef van die groter, die andere, die transenderende as net dit wat voor hande lê. As 'n mens dink jy het "iets" verstaan, ontdek jy maar altyd dat die egte, die werklike is dat "verstaan" juis so moeilik is omdat ons nooit beheer het nie. Daar is altyd die diepere wat 'n mens nooit ten volle kan vasvat nie. Dit is waarom kuns gaan en - kuns kan hierin juis van die mistieke leer.

Dali is ‘n meester in komposisie. Hy werk met die fynste besonderhede, beplan in detail en skep met besondere presiesheid. Sy skilderye is versigtig opgebou en gelaai met simboliek. Daar is twee baie bekende skilderye met die kruisigingstoneel van hom. Die een (hierbo afgebeeld) wat ook seker een van sy gewildste werke is, het die titel, “Christus van die Heilige Jan (Johannes) van die Kruis.” Hy het dit as gevestigde, bedrewe kunstenaar in 1951 geskilder. Dit hang, van alle plekke, in Glasgow se kunsgalery. Mens moet dus 'n draai ry om dit te kan kom (gelukkige Skotte!).

Dali het, soos die titel duidelik maak, sy werk gebou op ‘n skildery wat Jan van die Kruis gemaak het. Jan van die Kruis het duidelik 'n estetiese kant aan sy lewe gehad. Sy tekening het ongekende invloed uitgeoefen. In die Nederlandse vertaling van sy Donker Nag is hierdie tekening op bladsy 52 opgeneem: Daarop hang Jesus ook kop onderstebo aan die kruis en is van bo-af geteken. Die Nederlandse onderskrif lui dat die tekening opval deur sy groot mistieke simboliek. "Dit vorm 'n nuwigheid in sowel die geskiedenis van die kuns as in die teologiese opvatting van die Gekruisigde." Die tekening is te sien in die karmeliete klooster (La Encarnacion) in Avila.

Vir sommige is dit vreemd dat Dali so sterk op die tekening gesteun het – hy het dan self oorspronklikheid so hoog aangeprys. Maar Dali het het sedert die veertigerjare van die eeu ‘n mistieke fase gehad en daarom is bronne wat hom hierin sou inspireer, te verwagte, te meer omdat Jan van die Kruis 'n Spaanse katoliek was wie se werke so bekend en diepsinning was. Wie Jan van die Kruis ken, kan begryp dat Dali by hom inspirasie gevind het.

Die skildery is reeds al in sy komposisie boeiend en mistiek. Dali, wat deur Picasso die enigste oorblywende Renaissance skilder in die wêreld genoem is, neem hier in sy skildery die Renaissance se wet op goddelike proporsie oor (sien http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm - Dali was ‘n groot bewonderaar van Rafael, die Renaissance skilder). Dink: Leonarda da Vinci se allerberoemde tekening van die Veruviaanse man (die goedgeboude man met die welige bos swart hare wat met uitgestrekte hande in ‘n sirkel pas), om te verstaan dat hierdie beginsel werk met die veronderstelling dat God alles geometries perfek geskape het.

As ‘n mens na Dali se skildery vanuit hierdie hoek kyk, sien ‘n mens die Chistus figuur, ook met uitgestrekte hande( !) uitgestrek op ‘n baie lang, byna uitgerekte kruis wat parallel met die aarde hang, oor meer onder ‘n oop, oneindige hemelruim. Die manier waarop Dali die kruis deur boeiende komposisie in die lug laat "hang" skep die gevoel van oneindigheid, van ruimte wat eindeloos uitbrei, van tyd wat gaan stil staan. Die ligspel, die skaduwee van Jesus se regerhand op die horisontale dwarsbalk, die prominensie van Jesus se skouers, die liggaamlikheid, so sterk en esteties so bevredigend, die oopgevlekte handpalms, die briefie met sy skaduwees bo aan die kruis - alles fyn, presiese detail wat 'n mens van die besondere, die voorhandliggende verplaas na die ondeursigtige, die ewige. Dit bied ‘n boeiende oefening vir nadenke oor die goddelikheid van die Gekruisigde – uitgebeeld met sereniteit as ‘n mistieke, figuur, kop na onder (na die wereld vir wie Hy so lief was?). Daar is suiwer, presiese, argetipiese, skone menslikheid wat juis daarom so goddelik is.

Dit oorweldig mens oor die lig, helder, helder lig wat van bo af op die geboë, sterk, donkerharige hoof van ‘n sterk liggaamlik uitgebeelde Jesus val. Die lig is soveel helderder omdat dit omring word deur ‘n pikswart hemel as agtergrond. Die lig word weer onder die skildery opgetel deur ‘n idilliese, vreedsame prentjie van ‘n hawe met vissers met mistieke, sagte wolke in die hemel bo die meer. Op die oog af wil dit ‘n mens onwillekeurig terugvat na die Meer van Galilea, daar by die vissersdorpie Nasaret. Maar, wie dieper, presieser kyk, sal ontdek dat die toneel ‘n presiese weergawe is van die Lligat hawe, die stil, rustieke vissersdorpie aan die Costa Brava in Katalonië waar Dali gebly het in ‘n huis (mettertyd vergroot deur dit te verbind met buurhuise - hy wou sy paradys daar skep) wat vandag ‘n beroemde museum is. Dali het ook twee skilderye van die Madonna van Lligat Hawe geskilder – en die destydse pous gevra om een te seën. Duidelik dan was die plek, die lokaliteit, die hawe, vir hom ‘n inspirasie, ‘n serene plek, die konteks van sy skeppende werk.

Hier in die skildery word Jesus aan die kruis op Golgota dus getransformeer: daar is harmonieuse kontradiksie, want Golgota is nou Lligat. Deur die skildery só aan te bied dat dit sy oorspronklike konteks transendeer, kom die mistieke, tydloosheid van die kruisgebeure verder los. Die Woord het vlees geword, in ‘n jong, Palestynse man en onder ons, in ‘n vissersdorpie aan ‘n meer kom woon. Hoe nader kan God aan ons kom? Jesus van Nasaret, die kusdorpie aan die meer, is ook by/in Lligat en by/in Gouritsmond. “Saam met die stilte, die sereniteit wat uit die skildery straal word Christus se teenwoordigheid oor die hele wêreld daarmee uitgebeeld” (http://www.spanisharts.com/reinasofia/dali.htm). Per slot van sake dan: God self het onder ons kom woon....

As ‘n mens die skildery bekyk, tref dit jou dat, soos in Titiaan se Christus wat die kruis dra, die skildery vry is van enige uitbeelding van lyding: Daar word nie bloed, spykers en vernieling geteken nie - opvallend anders as in Jan van die Kruis se tekening waarop die spykers in Jesus se hande prominent geteken is en amper eerste van alles die oog vang. By Dali is die spykers weg, Jesus is gesuspendeer voor die kruis. Sy hande, sy handpalms wat saam met sy skouers 'n sirkel vorm, is in 'n baie stil, teruggetrokke gebaar seenend uitgestrek oor hulle wat op aarde woon. Iets anders is in hierdie skildery aan die gebeur as om die swartheid en swaarheid van die kruis uit te beeld. Die aandag val nie meer bloot net op wat tóé in lyding aan Christus gedoen is nie - die kruis is wel nog daar. ‘n Mens sien nou eerder ‘n ander Jesus, post sy lyding. Dit is die lewende Jesus, wat by ons kom woon, daar op die stil plek waar ons ons lewe elke dag met eenvoud voer, maar ook in gedurige nadenke oor die dieper dinge wat regtig saak maak. Hier is die mistieke, dit wat so inherent deel van Jan van die Kruis se denke was. Jesus, die mooie, maar ook die hemelse, leef sereen-weg by ons in ons dorpie aan die see. Hy weet, Hy kan, omdat Hy self 'n see-mens was.

“The only model that Dalí acknowledges himself to have had is Velázquez, of whom Léon-Paul Fargue has said: “in this universe of affirmed feelings and dreams that is painting, Velázquez symbolises a soul as it should be, violent and meticulous in its forms; it is the art of living serenely”. This art is also Dalí’s art.” (sien http://www.salvador-dali.org/serveis/ced/articles/en_article1.html).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive