Thursday, November 23, 2006

Die vleuels van die dageraad: Oor spiritualiteit en God se nabyheid

Simon Schoon: “De Ganse Aarde is van Zijn Heerlikheid Vol” (Jes.6:3). Enkele gedachten over joods mystiek. (uit J.Beumer red. Als de Hemel de Aarde Raakt. Spiritualiteit en Mystiek – ervaringen - . Kampen: Kok.

Schoon vertel van die groot belangstelling in die jodedom in Nederland – iets wat ook by ons in Suid-Afrika onder sekere groepe aan die gebeur is. Dink maar aan Christene wat die loofhuttefees oorneem. Hy noem van “bloempjes”, blommetjies wat selektief uit die ruiker van die joodse tradisie oorgeneem word en eenvoudig uit ‘n Christelike hoek gelees word. Ons kan in die proses die Joodsheid en andersheid van die joodse tradisie maklik uit die oog verloor. Dit geld veral wanneer Christene na die Joodse tradisie kyk om die mistiek te verstaan. Belangrike tradisies soos die merkabah, hekhalot, kabbalah en debekoet is eintlik deel van ‘n baie ánder wêreld as die Christendom s’n. Die joodse tradisie het oor baie eeue ‘n eie bestaan gevoer wat verskil van die geloof van Israel wat ons as Christene gemeenskaplik daarmee deel.

Sommige Jode beklemtoon sterk dat die Bybelse siening van ‘n persoonlike God radikaal verskil met ander wêreldgodsdienste met hul beklemtoning van mistiek en panteïsme. Daar sal in die Jodedom dus nie sprake wees van die mens se vereniging met die godheid soos in die panteïsme nie. Schoon dink die joodse mistiek, om nou maar die naam oor te neem, het drie kenmerke: Dit word in Joodse gemeenskappe beoefen, dit is veral in hebreeuse tekste oorgelewer en joodse tradisies speel ‘n rol daarin. Vir my is die belangrike wat hy dan skryf (p.27):

Daar is in alle vorme van die joodse mistiek ‘n diepe besef aanwesig van die hoogheid en verhewenheid van God. Daarnaas speel die oortuiging dat God naby is en dat God se uitstraling in die skepping gemerk kan word, ‘n groot rol. Albei aspekte merk ‘n mens in Jesaja se roepingsvisioen (Jes.6). Die profeet aanskou God op ‘n hoë en verhewe troon en engele wat mekaar toeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare” (Jes.6:3). Maar van hierdie hoë God word ook gesê: “Die hele aarde is vol van sy heerlikheid,” of: “die volheid van die hele aarde is God se luister.” God se eer en glans is waarneembaar in die wêreld van die mens en die natuur.

Behalwe vir die heerlike Hollands, het hierdie gedeelte by my bly vassteek omdat dit intuïtief vir my die hart van die mistiek aanraak. Die hoogheid, verhewenheid van God wat ons besing met ‘n lied waarin ‘n driemalige heilig die volmaaktheid van God se andersheid onderstreep. Maar aan die anderkant, die nabyheid van God in die skepping (Als de Hemel de Aarde Raakt!). Híér, nóú, in die wêreld woon God in luister, maar ook naby aan ons. Hoogheid, maar ook intimiteit is kenmerkend van God se karakter. Die wêreld is die ruimte vir God se luisterryke teenwoordigheid, die wêreld word juis op die manier geheilig. Dit word daarom die lewensruimte waar ons gelowig en vreugdevol op reis is na die ewige lewe. Psalm 139, wat nie sonder goeie rede oor baie eeue so diep in gelowiges se bestaan ingesypel het nie, sê (onder andere!) in vers 9 in die digterlike ou vertaling:

Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

En vers 17 vertel hoe dit ‘n mens oorrompel:

Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

God van Heiligheid, God van nabyheid – lei my op die ewige weg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive