Sunday, November 19, 2006

Spiritualiteit: Jan van die Kruis 3: Hoe lyk iemand aan die begin van die geestelike reis? Die noodsaaklikheid van self-erkenning.

Hoofstuk 1 van die Donker Nag handel oor die onvolmaakthede van die “beginners.” ‘n “Beginner” in die oë van Jan van die Kruis is iemand wat ‘n eerste, unieke ervaring met God ondervind het. So ‘n persoon het nog ‘n groot stuk van haar of sy eerste lewe in hom – die gefokusdheid op jouself, op wat jou lewe makliker en gemakliker kan maak. Dieselfde fokus word geplaas op die besonderheid van die eie godsdienstige werke: hoe gereeld ek bid, hoe gereeld ek stiltetyd hou, hoe vroom my lewe ingerig is, hoeveel ek doen om God te volg. So ‘n persoon is ook sterk gefokus op “sonde”, op mislukkings, gebreke, op eie fale.

‘n Mens moet iewers soos ‘n vlieg op ‘n dak kan sit en na jouself kyk – veral wanneer jy die oorweldigende ervaring van ‘n ontmoeting met God gehad het. Wat het God aan my gedoen? Hoe reageer ek hierop? Hoe lyk die geestelike reis waaraan ek deel begin kry het? is vrae wat ‘n mens nadenkend en stil moet vrae. Dit is ‘n manier om selfondersoek te doen.

Om God te sien! Hoe keer dit ‘n mens se lewe nie om nie. Hierdie aanskoue van wat so totaal anders as ons gewone lewe, die normale is, van die Heilige, die Een wat Volmaak is. Die profete het daarvoor gesidder (Jesaja 6) en gevoel hoedat dit alles in hulle omkeer. Om hierdie God te kan ontmoet, is om geroep te voel, om ‘n getuienis opgelê, ja, selfs opgedwing te word. Niemand kan God teenkom en dieselfde bly nie. Daardie geheimnisvolle, oorweldigende oomblik, die verborge moment, die oomblik van ekstase, wat jy skaars in woorde kan uitdruk, wat jou hart uit jou lyf skeur, wat vir ewig ‘n merk op jou sal laat – die merk van daardie wedergeboorte tot wat jy moet wees en word. In die moederskoot het God my gevorm en my tot nuwe lewe geskep.

Wat ‘n mens moet word in die reaksie op die oorweldigende moment: die entoesiasme van ‘n pas bekeerde kan ongebreideld wees. Dit is pragtig, hierdie nuwe energie en drif wat in ‘n mens losgelaat word. Maar dit is ‘n energie wat jou tot ‘n skokkende self-herkenning dwing. Hoe groot is God, maar ek, hoe kan ek myself in die oë kyk. Vandaar ons innerlike ondersoek – ons fynkam van ons binneste, ons begeerte om met God te praat, om oor God na te dink, om weer en meer by God te wees. Laat die oomblik van ontmoeting, ‘n voortdurende lewensreis word, saam en by U.

In reaksie op ons ontmoeting met God kan ons “ongebreideld” raak. God sien dit raak – en weer eens, is God daar, mistiek en onbepaalbaar, om ons aan die hand te vat en te neem op die reis wat God weet vir ons sal bring waar ons moet wees. En daardie reis is ‘n suiwering, ‘n stroping, ‘n wegneem van alles wat ons dink vir ons goed en gunstig is. Dit is ‘n reis vol onverwagte draaie. Voordat en terwyl ons daardie reis aanpak, wil God dat ons stil terugsit. Soos ‘n vlieg aan die dak, en ons self raaksien. Jan van die Kruis gaan ons daarmee help. Die Donker Nag begin daarom by ‘n beskrywing van wie ons as geestelike entoesiaste is.


Vertaling van Hoofstuk 1:

1. Hierdie donker nag begin siele ingaan wanneer God hulle weghaal uit die staat van die beginners – d.w.s. van die mense wat stil nadink en mediteer oor die geestelike weg. God begin om hulle oor te plaas in die staat van die gevorderdes – d.w.s. die wat reeds aanskou – sodat hulle ook daardeur gaan en kom tot die staat van die volmaakte van die goddelike vereniging van die siel met God.

Om beter te verstaan en te verklaar wat die nag is waardeur die siel gaan en waarom God die siel in die nag plaas, is dit goed om eers enkele kenmerke van beginners uit te spel. Dit word so kort moontlik gedoen, maar dit sal ongetwyfeld vir beginners self nuttig wees. Want wanneer hulle insien hoe hoe swak die staat is waarin hulle hul bevind, sal hulle ter wille van die onskatbare genot van God se liefde, moed skep en verlang dat God hulle in die nag sal plaas – daardie nag waarin die siel versterk en gevestig in die deugde word. Ons staan kortliks hierby stil, maar nie langer as wat nodig is nie om daarna dan oor te gaan tot die behandeling van die donker nag.

Dat 'n mens kan verlang om in die nag geplaas te word! Dat 'n mens kan bid om God se donker nag in te gaan!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive