Sunday, October 22, 2006

Rembrandt en lectio divina


Vanaf 30 September tot Maandag 9 Oktober besoek ek Rusland om 'n meestersgraad-kursus aan hoofsaaklik Protestantse studente (meestal predikante) in Sint Pietersburg aan te bied. Elke dag is 'n vol en gelaaid met lesings vanaf 9vm tot 16h00/17h00. Ek doen in die paar dae lekker baie werk met die studente, veral die teologie van die boek Openbaring. Hulle is leergierig en betrokke.

Die kursus is lekker, want ek kom self ook nader aan die teks, veral in die spiritualiteit van die boek. Dit is asof ek hierdie keer meer onder die indruk is van hoe die boek die kerk aanspreek oor die kwaad in sy midde. Jezebel, die vals profeet is 'n leier van die gemeente in Thiatire, maar 'n bron van erge kwaad. Pas maar deeglik op vir hulle wat "in die boesem" van die gemeente gekoester word, skryf Johannes. Ons wat na aan die kerk is, is ook naby, verskriklik naby aan die kwaad. Met die tyd moet ek hard keer dat die idee van die kerk vir my nie totaal ontluister word deur my ervaring van die kerk vanuit 'n menslike hoek nie.

En tog, mooier en aangrypender, ontdek ek gedurende die kursus onverwags die impak van Openbaring 1:5 waar lof aan God gebring word as die Een wat ons "liefgehad" het en ons van ons sondes gewas het. Hoe het ek hierdie sleutelvers tot dusver dan misgelees? Ek wil meer werk aan die motief van die liefde in Openbaring - 'n boek wat te veel met oordeel verbind word, besluit ek summier as ek die teks vir my self toeeien. Juis om die transformatiewe krag van die teks te ontwikkel het ek tydens die week 'n spesifieke sessie met die studente afgesonder waarin ek met hulle praat oor vreugde in Openbaring - 'n egte spiritualiteitsonderwerp. Ek geniet die tema van vreugde, nadat ek in Hongary in Julie daaroor 'n aanbieding gehou het en opnuut weer getref word deur die manier waarop vreugde met liturgie in Openbaring 19 verbind word. Ek kontrasteer die perverse vreugde van hulle wat die evangelie verwerp (Open.11) met die intense vreugde (aggellomai) van hulle wat God se lof besing.Die afgelope tyd bly ek besig met die motief van geluk en vreugde.

Vrydag kry ek 'n kans om weer 'n keer die Hermitage in Sint Pietersburg te gaan besoek, waar ek vir die derde keer by Rembrandt se skildery van die Verlore Seun uitkom, maar ook geboei word deur sy uitbeelding van Abraham se offer van Isak en die afhaal van die liggaam van Jesus aan die kruis. Dit is die sober, ryk kleure waarnee die karakters in die kruisigingstoneel uitgebeel word wat my lank besig hou en diep laat nadink oor die magdom van emosies wat hierdie toneel by die geskilderde karakters oproep. Hulle verslaentheid en rou is groot en intens. Watter ontnugtering, verdwasing en vernietiging moes die dood van die Here nie in hulle lewens meegebring het nie... En as 'n mens jou, a la lectio divina, inleef in elke karakter, dan kan jy indink hoe die boodskap van die opstanding hulle moes getref het. Kan daar groter, sterker intimiteit wees as tussen die een wat Jesus se liggaam versigtig, draend, naby, troosteloos vashou terwyl dit van die kruis afgehaal word? Selfs in U dood, wil ek naby aan U wees...

Die skildery van Rembrand bied 'n goue kans tot sinvolle lectio divina: wie is die karakters? hoe reageer elkeen? watter aspek van die kruisiging word uitgebeeld? waar word dit geskilder? wat is in die kollig en waarom? En soos 'n mens daardeur werk is die opdrag: hoe vereenselwig ek my met die karakter? op watter manier is die karakter 'n uitbeelding van my en my geloofservaring?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive