Thursday, May 27, 2010

Die Ou Testament en die mistiek

Die Ou Testament laat, anders as die Nuwe Testament, in die reël nie veel blyk van enige geloof in die mens se bestaan na die dood nie. Dit lyk asof die meeste Ou-Testamentiese tekste veronderstel dat die mens se lewe deur die dood tot ‘n einde gebring word. Daarmee is die menslike bestaan afgesluit en verby. Dit het finaal geëindig.

Noort, die Nederlandse Ou-Testamentikus skryf in die Encyclopedie van de Mystiek dat hierdie gebrek aan ‘n geloof in die lewe na die dood ‘n “basiese oortuiging” in Ou-Testamentiese boeke is.

En tog is daar vir hom sekere gedeeltes in die Ou Testament waarin die grens van die dood op ‘n mistieke manier oorgesteek word. Seker die bekendste gedeelte is Genesis 5:24 waar vertel word van Henog wat met God gewandel het en nie meer daar was nie omdat God hom na God toe weggeneem het. Hy word opgeneem in die hemel, in die teenwoordigheid van God. Hy is by God.

Hierdie vers het deur die eeue heen by baie Bybellesers vasgesteek en daar is diep daaroor nagedink. Een van die bekende pseudepigrafiese boeke, 2 Henog (of Etiopiese Henog), is later geskryf deur iemand wat voortborduur het op hierdie patriarg se reise deur die hemel. Maar daar was ook heelwat ander boeke wat in die naam van en oor Henog geskryf is. Judas 14 haal die Henog as profeet aan en skryf dan ‘n aanhaling uit die boek Henog oor. Henog word ook in Hebreërs 11:5 uitgebreid bespreek as ‘n geloofsheld.

Die ander bekende voorbeeld in die Ou Testament is Elia se hemelvaart in 2 Konings 2:1-18. Ook Elia word in God se teenwoordigheid opgeneem. En ook hy het daarom in latere mistieke tekste ‘n groot rol gespeel. En in Jesus se tyd het mense nog geglo dat Elia weer sou kom – sommiges het Jesus as die tweede Elia bespot. Kyk byvoorbeeld ook die boeiende Markus 9:11-12 oor die geloof in die tweede koms van Elia.

Mettertyd het in die latere Joodse mistiek allerhande verhale ontstaan van gelowiges wat na die hemel opvaar en wat dan deur die sewe hemele reis of die paradys binnegaan. Maar hierdie reise was nie maar net blote lawwe spekulasie nie. Hulle was mistieke tekste wat op die aanskouing van God ingestel was. Wat vir die skrywers saak gemaak het was dat die kernpunt van die reise was om uiteindelik die kabod, of heerlikheid van God op die troon te aanskou. Die tekste het daarom die mense se diepe behoefte na die intieme nabyheid van God weerspieël.

‘n Mens kry die nawerking hiervan in groter detail ook in die Nuwe Testament: Openbaring vertel van Johannes wat in die hemel opgaan en die ontsagwekkende troon van God met al sy heerlikheid te beleef (Open.3:1; 4-5). Openbaring is ‘n volledig mistieke boek: daarin vertel die skrywer aan sy lesers van sy visioene waarin hy die verborge heerlikheid van God ervaar en beskryf hy die geestelike weg wat uiteindelik sal uitloop op die finale openbaring van God se heerlikheid en God se ewige teenwoordigheid onder mense.

Paulus se mistieke ervaring op Damaskus was nie sy enigste spesiale geestelike belewenis nie. Hy vertel van sy hemelreise en van die besondere visioene wat hy gehad het. Hy is weggeruk na die derde hemel, skryf hy in 2 Kor.12:2 en hy herhaal in vers 4 dat hy weggeruk is in die paradys. Hy het woorde gehoor wat “’n mens nie mag uitspreek nie.” Dit was verhewe openbarings wat hy ontvang het (vers 7).

En moenie vergeet van die mistieke ervaring van Jesus op die berg van verheerliking nie (verheerliking!). In al hierdie tekste word die mens se intieme verhouding met God uitgebeeld – wat deur geen grense verhinder kan word nie.

Terug na die Ou Testament: die Ou Testament praat op ‘n mistieke manier oor die mens as “siel.” Die woord het eers bloot “keel” beteken – die liggaamsdeel waardeur ‘n mens eet, drink en asem haal. Later is die woord vereenselwig met die opvatting, skryf Noort, dat die siel van die regverdige mens nie in die doderyk sal bly nie of na die aarde terugkeer nie, maar in die Here se wêreld opgeneem sal word. Dit het beteken dat die siel in die hemel, naby God, in die teenwoordigheid van die Here, sal wees.

Hierdie gedagte kom voor in Psalm 73:24: “Aas die einde sal U my in ere by U opneem.” Wat ‘n teks! Vir die psalm-digter beteken die einde van die mens die oorgang in die heerlike teenwoordigheid van God. Om naby aan God te kan bly... Alles wat ons skei van God, sal verval. En kyk net hoe brei hy dit uit in die volgende vers en hoe is sy hart verbind aan God: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” Of selfs die volgende vers: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan God behoort ek vir altyd.” Vir altyd. Noort skryf: Werklike dood is om sonder die Here te wees. Werklike lewe is in die Here se nabyheid. Die grense van die biologiese dood en van die biologiese lewe word as ongeldig beskou.

Wat kan meer mistiek wees as dit: hierdie hartsoortuiging en hartslied dat ons vir altyd in die Here die lewe sal hê. Die lewe na die dood bring ‘n intieme eenheid met die goddelike.

En hoekom hoor ons ook so min van die ander soortgelyke teks – die aangrypende Psalm 49 wat vir ons vertel oor die verganklikheid van al die uiterlike dinge?: “as mense sterf, neem hulle niks saam nie; hulle besittings sal hulle nie volg nie” (kyk na verse 17-21 om te besef waar kom Thomas a Kempis vandaan). Maar vers 16 word ook heeltemal te min gepreek: “Maar vir my sal God loskoop uit die dood; ek sal aan Hom behoort.” Die dood sal oor ons pad kom, maar die dood sal nie die laaste woord spreek nie. Ons sal gestroop word van al die uiterlike dinge. Maar in die Here bly ons vir altyd. Ons sal woon in die goddelike nabyheid. Ons sal by God wees. En ‘n mens moet maar net 1 Thessalonisense 4:17 en 5:10 lees om te sien hoe hierdie gedagte ook in Paulus se geestelike reis voortgeleef het.

Net so sê Psalm 47:16 dit: ons sal aan die Here behoort. Net so eenvoudig. Dit is die goddelike waarheid wat ons verinnerlik, waarmee ons ons geestelike reis bewandel. Dit is die mistieke weg – die pad van eenwording met God, vir ewig en sonder enige grense sal ons in die nabyheid van God woon. Want kyk nou net hoe begin Psalm 49: “My mond gaan suiwer wysheid praat; wat ek gaan sê, sal van insig getuig, want ek hoor ‘n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek ‘n geheimenis verklaar.”

Hier sing die digter digterlik en liries oor ‘n verborge waarheid en geheimenis. “Suiwer wysheid,” is hierdie mistieke insig wat praat van rykdom wat nie in uiterlike weelde of besittings gevind word nie. Wyse mense sterwe.... en laat hulle besittings na aan ander (vers 11). Mense wat op hulleself vertrou en met hulleself ingenome is, sal soos diere vergaan. Maar die een wat van die Here se verborge geheimenis sing en daarop wag, vir die mens sal God loskoop uit die mag van die dood. Hulle sal by God wees. Die uiteindelike eenwording het gekom: die regverdige sal aan God behoort.

Die Ou Testament is nie ‘n mistieke boek nie, sê Noort. ‘n Mens sal nie daarin ‘n mistieke lewenshouding terugvind nie. “Die spiritualiteit, sowel in die offisiële as in die huis- en privaat-kultus het ‘n ander karakter as ‘n soektog na eenwording met die godheid. En tog, voeg hy by, vind ons in die Ou Testament seker boustene wat later ‘n mistieke betekenis sou kry. Een so ‘n bousteen is die motief van die Godsaanskouing – van die oortuiging dat die mens by God sal wees. Latere mistieke skrywers het hierdie bousteen oorgeneem en indrukwekkende gedagtes daarop gebou.

Ek dink nie Noort is reg nie. As ‘n mens Kees Waaijman se Mystiek in die Psalmen lees, kom ‘n heel ander prentjie na vore. En as ‘n mens die Nuwe Testament as resepsie van die Ou Testament verstaan, begin die mistieke karakter van die Ou Testament veel ryker lyk as wat Noort te kenne gee. Maar Noort se voorbeelde van mistieke boustene is sekerlik boeiend, selfs al bied hy ‘n minimale prentjie van mistieke momente in die Ou Testament.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive