Wednesday, May 26, 2010

Verinnerliking: om te leef van die goddelike waarheid

Vir Thomas a Kempis is gelykvormigheid aan Christus ‘n sleutel-begrip – vandaar die titel van sy werk: “Die navolging van Christus.”

God se lig, glo Thomas, moet in ons lewe beslag vind en deur ons lewe in die wêreld skyn. Dit beteken dat ‘n gelowige mens die koninkryk van God in sy eie, innerlike bestaan soek. Dit is die weg van verinnerliking waarop ons op reis is. Hierdie motief, skryf Inigo Bocken (in “Nuchtere mystiek”), is vandag nog ‘n sleutel-motief in spiritualiteit. Daar loop dus ‘n goue draad van die ervaringswêreld van Thomas na ons moderne situasie.

Maar wat beteken verinnerliking? Thomas sê dat mense op allerhande teoretiese maniere hieroor kan spekuleer. In werklikheid het verinnerliking te doen met gewone, alledaagse dinge (nugtere mistiek!).

Een van die eerste aspekte van verinnerliking by Thomas, skryf Bocken, het te doen met die wegkeer van uiterlike dinge en ‘n inkeer tot ‘n mens se eie innerlike.

Wanneer Christus in ‘n mens se innerlike ‘n teenwoordigheid word en ‘n mens aan die beeld van Christus gelykvormig word, beteken dit heel konkreet en eenvoudig dat ‘n mens se lewe nie langer bepaal word deur verganklike rykdomme, invloedryke posisies en liggaamlike begeertes nie. (Navolging I.1.13-18).

Maar, voeg Thomas by, dit behels ook ‘n afwending van ‘n buitensporige (!) verlange na intellektuele kennis. Op ons kennis-drang moet ons dus ook bedag wees – want deur sulke kennis wil mense soms vir hulself naam opbou en die bewondering van ander afdwing.

Die probleem hiermee is dat ‘n mens se lewe dan deur uiterlike dinge bepaal word. En dit beteken dat ‘n mens afhanklik word van wat ander mense van jou dink of sê. Gedurig is ‘n mens dan uitgelewer aan eindelose praatjies van ander mense oor jouself – ‘n glibberige regressiwiteit waardeur ‘n mens nooit veilig, gerus en in vrede kan leef nie.

Maar, ons moet nie net bedag wees op wat ander sê nie. Ons moet ook maar goed dink voordat ons rondgejaag word deur ons eie opinies oor onsself. Selfs ons eie siening oor onsself, gebaseer op wat ander van ons dink of sê, is maar glibberig en wankelrig. ‘n Mens wat leef uit hierdie dinge, word op dié manier vasgeklem deur die kloue van menslike oordele – of dit nou lof, bewondering, begeertes of aardse maatstawwe is. En daardeur word ‘n mens vervreemd van jouself. Jy leef nie eg nie.

En dit is op hierdie punt dat Thomas iets heel besonders kwyt raak: beter as om gedurig te wil konformeer aan uiterlike, menslike oordele, is dit om “geen vaste opinie oor jouself te hê nie” – iets wat my nogal laat dink aan die Bybelse wysheid dat ‘n mens jouself nie te hoog moet ag nie. Maar, dan voeg Thomas by: “en om oor ander goeie en diepe gevoelens te koester (I,2,17).

Om oor ander goeie en diepe gevoelens te koester!

Dit is so ‘n helder, eenvoudige lewenskuns. Maar so ver van wat ons as ons aldag-ervaring ken. Ons wat geknou word of bedwelm word deur applous of kritiek, wat angstig dophou wat dink ander van ons. En wat dan vir ons verder seermaak met ons eie harde self-kritiek omdat ons nie die wispelturigheid van ander menings kan kontroleer nie. Hoe onvry het ons nie geraak nie, hoe vervreemd van onsself tog nie.

Thomas skryf later hoe meer iemand met hom- of haarself één word en innerlik vereenvoudig raak, hoe meer sal hy of sy besef kry van die groter en dieper dinge wat werklik saak maak (I,3,13). Dis diep: die mens wat nie afhanklik word van ander se menings nie, of selfs van sy eie menings oor hom- of haarself nie, is ‘n mens wat ‘n innerlike ruimte oophou waar God aan die woord kan kom. En om tog by God te kan woon....

Verinnerliking is nie ‘n wegvlug van aardse dinge nie – om ‘n kloosterkoek te word nie. Dit is veel eerder 'n totale transformasie van die plek wat aardse dinge in ons lewe speel. Ons begin besef hoe die oordeel van ander mense en ook ons eie oordele oor onsself, ons vervreem van wie ons werklik is. Ons is onvry mense – gebind deur uiterlike dinge, deur ander mense se immer wisselvallige sê-goed oor ons.

Hoe meer ons van ander se opinies afhanklik raak, hoe minder ruimte is daar vir wat God tot ons sê.

‘n Volwasse mens verlang na ‘n eenvoudige bestaan. ‘n Volgroeide mens is iemand wat in sy innerlike eerder gehoorsaam is aan en senitief is vir die diepste, goddelike lig.

En dít is nou die groot uitdaging: om God se woord in ons innerlike te laat leef. Om God se lig te kan raaksien tussen al die donker skaduwees van wat ons meen belangrik is. Thomas noem hierdie woord die “ewige Woord.” As God se waarheid in ons woon, verenig is met wie ons in die sentrum van ons bestaan is, is ons wonderbaarlik en lig, lig, lig bevry van menslike oordele, lofprysinge, maatstawwe en verwagtinge. Geleerdheid, status en ydelheid het nie meer ‘n houvas op jou nie. Wat tel is die goddelike woord, dat God se liefdestem gehoor word.

Vir Thomas is dit belangrik dat ons nie ons eie insigte, oordeel en waarheid as die goddelike waarheid moet sien nie. Die volwasse gelowige is intens bewus van die menslikheid van sy of haar insigte en oordeel.

Ons leeef juis weg van wat ons dink en oordeel. Op hierdie punt kom die subtiele skuif aan die orde: Daarom soek die gelowige gedurig om die goddelike waarheid konkreet te ervaar.

Ons leef ook al hoe versigtiger en verder weg van ‘n beoordeling van ander. (Moenie oordeel nie.... !). Meer nog: ons groei dankbaar in 'n lewe van diepe, goeie gevoelens vir ander.

En al hoe meer loop ons dus die pad van navolging. Ons wegwyser na die ewige woord is Christus, die Een wat die goddelike waarheid so konkreet en prakties beliggaam het. Hy is die Een wat die goddelike waarheid veral verinnerlik het. Wie Hom sien, ontmoet God. In Hom herken ons hoe goddelike en menslike oordeel volmaak saamval – en besef ons hoe feilbaar ons eie oordeel is. Soos Christus word ons vry van uiterlikhede.

Hierdie navolging van Christus is ‘n oop saak. Daar is nie lekker, presiese reseppies met afgemete hoeveelhede nie wat op almal se lewens pas nie. Het Christus dan nie juis hierdie pad van die goddelike waarheid van dag tot dag opnuut moes stap nie? Was hy dan nie tastend, soekend ‘n pelgrim in die roeping wat God na hom toe laat kom het nie? Selfs nog tot die laaste oomblikke in sy beker-gebed in Getsemane nie?

Waarheen die navolging van Christus ons lei, kan ons nie sommer maar net weet nie. Elkeen loop die pad op sy of haar eie manier. Elkeen reflekteer die beeld van Christus in sy of haar lewe op ‘n unieke manier. Juis daarom oordeel ons nie oor ander nie, herken ons met vreugde hul unieke geestelike reis.

Juis daarom bly ons naby aan die Woord oor die ewige woord. Ons kan nie die reis loop met ons eie insigte en oordeel nie.

Ons weet hoe waar dit is - die nodigheid tot hierdie verinnerliking van die goddelike waarheid. Ons sien hierdie waarheid en ons merk die verinnerliking in die lewens van die mistici en die heiliges – hulle wat innerlik so heel was, so diep ingegroei in God se beeld, dat hulle direk, spontaan, onmiddellik, vanselfsprekend eg gelewe het.

Daar is sulke mense. Jy kry hulle nie altyd op die preekstoele en op die televisie nie. Jy vind hulle in Vryburg, in Kaapstad, in Grahamstad, in die kombuis, die siekeboeg, agter die lessenaar, in ‘n verpleegster uniform, in ‘n hawe-kantoor, op die plaas, in ‘n sinkplaat-huisie in ‘n township, agter die strykplank en in die kombuis. Die navolgers van Christus.

Hulle verstaan die kuns van lewe. Hulle maak daarom van die lewe ‘n kunswerk – ‘n goddelike kunswerk. Hulle lewens is “sieraad.” Sien jy hulle, al die baie mense wat so eg lewe, sien jy ‘n veelkleurige, multi-dimensionele beeld van God. Jy herken hulle as draers van die waarheid, jy weet dit sommer: hier is heiligheid. Die rykheid van God se aangesig breek op baie maniere, reënboogmaniere, in hul lewens deur. Hulle lewe ‘n lewe van eenvoud, ongerekend, maar hulle is gelukkig.

Sondagoggend, op pad terug van Prieska, luister ons oor die Engelse sender na die diens uit die Kongregasionalistiese kerk in Port Elizabeth. Die prediker lewer ‘n ryk getuienis. Hy verwys op ‘n stadium na ‘n gemeentelid van hom wat ‘n kranklike bestaan gehad het. Sy het in ‘n arm-mans-omgewing gewoon in ‘n eenvoudige huis waar sy ‘n paar hoenders en honde as geselskap gehad het. Die hoenders en honde het saans in die huis by haar gebly. Soms het die hoenders hul eiers gelê en het sy daarvan geëet. Een keer per maand moes sy met groot moeite haar karige pensioen gaan afhaal. Sy het aan suikersiekte gely en het ‘n septiese wond aan haar been gehad wat nie altyd lekker geruik het nie. Maar, sê die prediker, wat hom opgeval het was dat hierdie vrou ‘n lewende belangstelling in ander mense en in kerk-sake gehad het. En nog meer – wat hom bybly is hoe gelukkig sy was.

Hy vertel hierdie verhaal met ontroerende bedaardheid, want hy weet die eenvoud daarvan reflekteer die goddelike waarheid van lewensegtheid. Uiterlike dinge gee nie aan jou geluk nie. In lyding, swaarkry, karigheid kan ‘n mens innerlik so ryk wees, so na aan God dat ‘n mens altyddeur bly kan wees – spontaan, eg bly vanweë God se vredevolle teenwoordigheid daar waar jou hart stilweg klop in die sentrum van jou bestaan. Net soos Paulus in sy briewe vra en net soos ook Paulus daar in die Fillipi-tronk, pap-geslaan en toegekerker in stikdonker, blydskap geleef het.

Verinnerliking is 'n sleutel-woord in spiritualiteit.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive