Monday, May 10, 2010

Ontferming: om duwweltjie en glas drie handbreedtes te begrawe

Tydens ons simposium praat ons oor spiritualiteit wat deur sekere kernwoorde belig word. Een so 'n woord is ontferming. In Lukas 1:78 word God se ontferming onderstreep: Johannes sal die boodskap van sonde-vergifnis verkondig "danksy die genadige ontferming van God."

Aldus leer ken ons God vanaf die eerste oomblikke van die Jesus-verhaal as 'n God van ontferming. Wie met God 'n verhouding aanknoop, word opgeneem in teerheid.

Dit is nie 'n nuwe beeld vir God nie. Lukas staan in 'n baie ou tradisie met hierdie klem op God se teerheid. Die Ou Testament loop oor van God se ontferming, God se teerheid of barmhartigheid.

Teerheid hou daarom nie by God op nie. Dit is 'n kern-eienskap van mense wat aan God behoort. Wie God volg, lyk soos God.

In my voorbereiding vir Pinkster lees ek daarom met aandag die opmerking van Waaijman oor die vroegste vromes, of te wel die “chassidim” – mense wat in die vroeĆ« rabbiniese geskrifte beskryf is as uiters toegewyd, welwillend, suiwer en vol berou.

Voordat hulle met gebed begin, stel hulle hul hart vir ‘n uur lank op God in. En as hulle eers in gebed versonke was, het hulle nooit hul gebed onderbreek nie. Nooit.


Maar dan voeg Waaijman by: Hulle het duwweltjies en glasstukke drie handbreedtes in die grond begrawe sodat niemand daardeur vewond sou word nie.


Vroomheid en ontferming gaan hand aan hand.


Later kom daar naas hierdie vroomheid en ontferming ook uiterste geduld by: ‘n Vrome, word vertel, is iemand wat selfs wanneer hy of sy vervloek word, tog swyg.

Sommiges, weet ek, sal sulke vroomheid aflag. Dit is ook nie nuut nie. Die Pinksterdag, toe mense op 'n heel vreemde manier begin praat het oor 'n God wat nuwe dinge doen en die aarde gaan omkeer, was daar ook die wat gelag en gejil het. En hulle was nogal vroom Jode.

Die beeld van die duwweltjie en glas bly hang by my: iemand wat God ken, ontsien niks om ander van seerkry te beskerm nie. Dit is egte teerheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive