Thursday, May 20, 2010

Tye van verkwikking

Ons is gisteraand Bloemfontein toe vir die gradedag-plegtigheid wat vanoggend gehou is. Dit was 'n besondere geleentheid in 'n mooi saal en met pragtige musiek. Smaakvol aangebied.

By die gradedag het die studente wat in 2008 ingeskryf het vir ons nuwe kursus, hulle grade verwerf. Dit is die eerste groep studente wat met hierdie gradedag-plegtigheid hulle studie afrond.

Dit was 'n groot uitdaging wat ons destyds aangevat het. Daar was op geen plek elders 'n kursus wat ons as model kon gebruik nie. Alles moes van nuuts, ex nihilo, bedink word.

Daar is allerhande kursusse in Spiritualiteit, maar nie in Bybelse Spiritualiteit nie.

Ek onthou hoe ons reeds 'n jaar of twee voor die eerste inname begin beplan het: daar moes eers 'n kursus goedgekeur word. Daarvoor moes ons 'n jaarboek-inskrywing afhandel. Die vyf modules moes 'n naam kry en die inhoud beskryf word. Francois Tolmie het al hierdie uitgewerkte voorstelle verder geneem en die administratiewe werk vir die goedkeuring daarvan met sy kenmerkende deeglikheid afgehandel, ondersteun deur Hermie van Zyl, wat toe die dekaan was. Sonder hulle sou die kursus nooit 'n werklikheid geword het nie.

En toe die kursus in 2008 sou begin, was ons dankbaar oor die positiewe reaksie. Ons het nie net veel meer studente gekry as wat ons verwag het nie, maar hulle was ook studente met 'n besondere kwaliteit.

En vir hulle moes daar toe inhoude voorberei word. Dit is een ding om 'n kursus breedweg te beplan. Dit is 'n ander ding om die kursus handleiding saam te stel. Daarvoor moes voorgeskrewe werke, leeslyste, bloemlesings, werkstukke, toetse en eksamens uitgewerk word. Daar was nie 'n president nie. Alles moes nuut bedink word. Maar dit is ook gedoen en uiteindelik het alles 'n goeie afloop gehad.

Ons was besonder bevoorreg dat ons vir Waaijman en Schneiders as besoekende dosente aan boord gekry het. Hulle is sekerlik twee van die mees gerekende spesialiste op die veld van Spiritualiteit. En hulle besoeke het 'n diep indruk op ons almal gelaat.

En so het ons oor twee jaar heen deur vyf module's gewerk. En ons het nie met die vlakkige dinge gewerk nie.

Dit was interessante tye, met groot uitdagings.

Ek kyk terug op daardie twee jaar as van die mees vormende jare in my lewe.

En ek hou in herinneringe baie spesiale ervarings wat op baie maniere met hierdie kursus verbind kan word.

Die eerste groep het nou klaar gemaak. Terwyl hulle hul grade op die verhoog afhaal, dink ek aan al die kere dat ek hulle materiaal moes lees, aan al die gesprekke wat ons oor twee jaar gehad het, aan al die eposse, navrae, telefoon-gesprekke, besoeke en selfs vriendskappe wat uit ons ontmoetings gevloei het.

En iewers, terwyl ek hulle so sit en bekyk, het ek 'n spesiale gevoel in my.

Dis nie die kursus wat tel nie, voel ek aan. Of die grade nie. Of al die tye van vorming nie. Ek sien ook die baie ander grade wat toegeken word - die baie ander besige dinge wat mense bedink en nagevors het. Daar is so baie dinge wat ons dink is belangrik.

Vir my was hierdie jare tye waarin ek besef het hoe verganklik al hierdie dinge is. Thomas van Kempis se opmerkings oor die groot manne van net 'n paar jaar terug wat niemand meer onthou sodra hulle van die toneel verdwyn nie, het nogal diep by my kom skuil.

Vanaand met Pinkster, terwyl ek oor die hartsgebed praat, tref dit my hoe Paulus praat van kennis wat sal vergaan. Al ons slimmighede sal ophou bestaan. En dit is asof my ervaring tydens vanoggend se gradedag-plegtigheid profiel kry, vir my helderder word.

Die twee jaar het per slot van sake so vinnig geloop.

En al die werk wat ons in die kursus gesit het?

Wat sal daarvan bly?

Hoe sal ons tog kan bepaal watter saad op die vrugbare aarde geval het?

Alles sal vergaan. Ook ons mooi uitgedinkte kursusse met al hul troppe leeswerk.

Maar die liefde sal nooit vergaan nie. - 1 Kor. 13:8.

En dit is nie sommer liefde nie. Dit is daardie verborge, dieper, mistieke liefde wat geduldig op ons wag, uitnodigend, vriendelik. Die liefde wat ons moet innooi, wat ons moet proe en ervaar, die liefde waarin ons moet kan wegraak. Die liefde wat ons moet gaan soek. Wat deur die eeue in spiritualiteit en mistiek as die diepste ervaring van die verlangende hart uigespel is.

'n Kursus in Bybelse Spiritualiteit?

Die akademiese werk het iewers in die grein van my bestaan ingetrek: Dit was werk wat op akademiese manier oor wesenlike ervaringe gegaan het - oor daardie Liefde wat aanraak, eers met 'n skok, met 'n vuurgloed. Nooit weer kan die een wat geraak is, daarsonder nie. Dan begin 'n unieke lewenslange groei-proses - weg van jouself, om uiteindelik totaal deel te word van die Liefde wat die volmaaktheid sal gee.

Maar die groot en finale vereniging met die goddelike Liefde wag nog op ons. Dit is 'n moeilike reis wat ons intussen moet afhandel, dikwels gevul met ons verraad van die Liefde, dikwels verduister deur die Liefde wat na ons gevoel vir ons wegkruip, wat na ons gevoel skuil agter die gordyn van ontoeganklikheid. Dit is 'n reis met vallei-tye - dikwels veel meer as die piek-tye.

En tog bly 'n mens al reisende op soek na die Liefde. Dit is 'n vreemde liefde - hierdie liefde wat so anders is as alles wat ons gewoonlik as liefde verstaan, hierdie liefde wat so verborge, so uitgelewer, so ongerekend op ons wag.

Die liefde is so vreemd omdat dit nie foute uitwys nie, omdat dit won in 'n hart wat stukkend geskeur word wanneer dit onreg ervaar, omdat dit nie eie-belang soek nie, omdat dit nie al die kwaad wat jou aangedoen is, onthou en weerwraak beplan nie, omdat dit nie onwaardig optree nie. En juis daarom so goddelike en so aantreklik is.

En tog - dit is wat ek vir my in alles waarmee ons besig was oor die twee jaar, vanaand wil oorhou: verby die graad-sertifikaat, die goeie punte, die intense besprekings, is daar die dieper vraag en soeke na wat werklik saak maak. Die akademiese werk is 'n heenwyser hierna.

Ek besef ook weer hoe klinies akademiese studie kan word as dit nie telkens weer in wissel-werking met die ervaringe van mense staan nie. Aan die einde van hierdie Pinkstertyd, is daar een groot indruk wat by my bly uit alles wat ek ervaar: die lewensreis is 'n reis waarin ons telkens weer tot op die been verwond word. Die pyn van mense wat God se pad loop, kan soms ondraaglik groot wees - veral omdat ons hoor van die goddelike liefde en verlangend vra dat ons tog 'n smakie van daardie liefde gegun sal word - en dan gebeur dit vir ons gevoel nie.

Al die kursusse op die aardbol kan hierdie liefde nie vir ons bewerk nie. Maar ons kan tog uit die ervaring van die groot mistici en spiritualiteitskrywers hoor hoe die lewensreis van verwonding 'n geestelike reis kan word.

En telkens weer, telkens weer, vertel hulle vir ons dat ons op pad is na die Liefde. Ons verstaan soms, as ons hulle lees, hoe reg hulle is: die wonde van ons lewensreis kan nie die helder oomblikke verduister nie - daardie oomblikke wanneer ons God se aanraking ervaar. Of ons hoor hulle vertel dat die tye van verwonding en verduistering vir ons laat besef hoe naby ons aan God moet bly. Of dat die wonde ons laat vashou aan die hoop op die tye van verkwikking wat moet kom. Of dat ons wonde uiteindelik ons laat groei...

In Bybelse spiritualiteit is ons op reis met mense wat soos ons deur 'n spieel in 'n raaisel gesien het....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive