Monday, May 10, 2010

Ontferming as 'n kernwoord in spiritualiteit

Die woord ontferming is ‘n kernwoord in Christelike spiritualiteit. Ons taal is ryk aan verskillende woorde wat vir ons vertel wat ontferming eintlik beteken. Dit sluit woorde in soos bewoëndheid, medelye, ontferming, barmhartigheid, meegevoel, simpatie, mededoë en vertroosting. Ek is verwonderd dat ons taal so ryk is aan begrippe van ontferming. Dit is die woordeskat van spiritualiteit. In die geestelike ruimte woon ons onder begrippe wat oorloop van ontferming.

Oor elkeen van hierdie woorde sou ‘n mens iets spesiaals kon skryf. Neem maar die woord “medelye” wat al as woord heel besonders is: om ontfermend, vol medelye te wees, beteken om iemand anders se pyn jou pyn te maak. ‘n Mens laat iemand anders nie alleen ly nie. Jy ly saam met hulle, jy is ‘n “medelyer” van iemand in pyn.

Agter hierdie woord skuil daar ‘n spesiale lewenshouding: daar kom tye in jou lewe dat jy jou so kan inleef in die lewe en lot van ander dat hulle pyn jou pyn word en hulle lyding jou laat ly. En dit is wat God van ons vra: ons word uitgedaag om, soos Nouwen skryf, te gaan woon in plekke waar pyn woon, om te gaan deel in mense se gebrokenheid, vrees, verwarring en angs. Ons reik uit na hulle wat hartseer rou, wat eensaam treur en wat trane van seerkry stort. Ontferming beteken dat ons ingaan in die wêreld van die swakstes onder swakkes, dat ons verwond word saam met die verwondes en dat ons magteloos word saam met hulle wat nie mag het nie. Ons leef ons totaal in in die situasie van mens-wees.

Reeds die Ou Testament gee ons insig in ontferming: Psalm 69 vertel van iemand wat intense pyn en verwerping ervaar. “Ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs, op mense om te troos, maar daar was nie een nie” (vers 21). Daar het in hierdie mens se lewe ‘n tyd gekom dat medelye totaal ontbreek het. Niemand is daar om ‘n bietjie ontferming te wys nie.

En tog, in die Psalm word dinge anders wanneer die Psalmis aan God dink. In vers 30 roep die digter uit: “Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm.” Die mens in pyn bid om medelye van God, want God bly by die lydendes lank nadat almal in die samelewing hul eie paadjie geloop het en van die lyding van ander vergeet het. Die moment van oratio in vers 30 verteenwoordig ‘n smeekbede tot God om die goddelike teenwoordigheid in ‘n tyd van totale, allesoorheersende pyn van verlatenheid.

En die Psalmis word nie teleurgestel nie. Daar volg inderdaad oomblikke waarin God se ontferming ervaar en bly gevier word. Die digter kan dit deel met ander wat ook sulke lyding ervaar en smag na medelye: In vers 33-34 hoor die verdruktes die danklied van die Psalmis en is bly en dankbaar, “want die Here slaan ag op die armes.”

Só ken ons God en so wil God geken word: God slaan ag op die armes.

Daar is baie gedeeltes in die Bybel wat God se ontferming vier. En Jesus is self die verpersoonliking van Goddelike ontferming. Hy wat die Barmhartige Samaritaan se storie vir sy dissipels vertel het, is die Een wat, soos God, die verdruktes opgesoek het en in ontferming ‘n “ligte” las en ‘n “sagte” juk in plaas van die onbarmhartigheid op sy volgelinge gelaai het.

Die laaste beelde in Openbaring hou vir ons God se ontferming voor: die ou dinge, skryf hierdie boek oor die nuwe hemel, het verbygegaan: God sal trane afdroog, die dood sal daar nie wees nie, lyding, smart en pyn sal ook oor wees. En dit gebeur omdat God self by mens sal wees as hulle God (21:4). God woon in mededoë is en in vertroosting onder mense.

God is ondenkbaar sonder ontferming. Wie aan God dink, dink aan medelye. Wie van God hoor, hoor van bewoënheid, meelewing, van omgee en uitreik. God is met ons, vir altyd, in al ons pyn – God laat ons nooit alleen nie. God is bewoë, God dink ontferming, God leef medelye.

Lank nadat ons in die steek gelaat is, ook deur hulle wat naby aan ons is, bly God by ons. Lank nadat mense hulle simpatie met ons betuig het en weer hulle loop gekry het, is God in groot welwillendheid by ons. God is, soos Waaijman skryf, uiters welwillend, ekstreem behulpsaam, onbegrens vergewensgesind, onbeperkt bewoë. God wat in liefde met ons een is, bewys aan ons dag na dag herhaaldelik goddelike dade van barmhartigheid. God is nie maar net “uit ordentlikheid” bewoë oor ons nie. Dit is nie maar net ‘n “goeie gewoonte” van God om vir mense om te gee nie. God is ver bo alle ordentlikheid en gewoontes om ‘n God wat oorvloediglik uitreik na mense.

En, nog merkwaardiger, God doen dit deur ons. Daarom kan ons oorvloediglik ontfermend wees. Daarom kan ons uiters welwillend bly.

In ons houding, gedrag, denke en in ons hele lewe wil God na almal in ontferming uitreik.

Pinkster is 'n tyd van bekragtiging tot 'n nuwe lewe. Die Gees laat die lewe en woorde van Christus, die Ontfermer, ons lewens deurdrenk. Ons leef nou, soos Paulus vra, in die gesindheid van Christus - die gesindheid van ontferming.

Maar vanaand is selfs dit vir my nog te veel gesê: lank voordat ek gaan nadink oor die implikasies van God se ontferming, wil ek my bly verwonder oor hoe konkreet, hoe dikwels en hoe konsekwent die Bybel eenvoudig net praat oor God wat vir ons in ontferming omgee.

Des te meer omdat ons in 'n harde tyd leef, arm aan ontferming en beroof van geloof in 'n God wat met medelye na ons vra en by ons bly.

Ons kan nie genoeg hieraan dink nie. Hoe meer ons die God van ontferming ontdek, hoe meer brand daar in ons eie kil harte 'n vlam van ontferming.

As ons taal ryk is aan ontferming en arm aan kilheid, sal ons lewens vanself volg...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive