Tuesday, May 25, 2010

Verlange na God. Oor oratio.

Ek is nog steeds geïnteresseerd in die wyse waarop meditasie ‘n sekere afstand skep tussen die Bybelleser en die Bybelteks. In die lectio divina model beteken “meditasie” (na lectio) dat ‘n mens ‘n bietjie terug staan en die teks van alle kante bekyk. Baie fasette kom in hierdie faset van die leesproses na vore: ‘n mens kyk na allerhande kontekstuele, historiese, literêre en sosio-kulturele inligting.

Maar hierdie mymerende nadenke het niks te doen met slim analise’s en ontledings nie. Al hierdie aspekte dien ‘n verdere doel. Hulle is almal blote heenwysers: hulle kom ter spreke sodat ‘n mens kan deurdring na die dieper, geestelike, selfs goddelike boodskap van die teks.

In die sin is daar afstand sodat 'n mens as leser kan herken wat groter as jy is. Daar is in die teks Iemand Anders teenwoordig en die teks spreek 'n dieper waarheid as blote mensetaal uit.

Paulus praat in 2 Korintiërs 5:7 van die “skatte in erdekruike.” Dit is waarna ‘n mens op soek is. Meditasie wil dus goddelike skatte in die teks ontsluit – skatte wat nie sommer net gevind word nie. Hulle moet gesoek word, bedink word en uitgespit word. Dit is verborge skatte.

Soos ‘n mens dieper delf na hierdie goddelike kante van die teks, gebeur daar egter iets merkwaardigs. Daar word ‘n transformatiewe proses in die leser aan die gang gesit. Die “lees” van die teks begin as te ware ‘n lewe van sy eie lei. Hierdie lesery, die meditatiewe herkou, begin die leser vasvang. Die mymerende leser wat skatte raakspit, raak emosioneel ingetrek in die lees van die teks. Die verborge skat het ‘n innerlike skoonheid wat betowerend werk. Betowerend begin dit ‘n mens in sy krag vasvang.

Dit is juis goddelik omdat dit ‘n greep op die leser begin kry. Stadig begin hierdie waarheid wat die leser as teks ontdek, sy of haar lewe oorneem en stuur. Terwyl hulle voorheen die Bybel “gelees” het, begin die Bybel hulle nou lees. Iets vat vlam en begin in die mens brand.

Ek het ‘n gedagte dit is hier waar ons ‘n groot leemte ervaar. Omdat ons die Bybel bloot histories, kultureel en kontekstueel lees sonder om reflekterend en gerigd, gefokusd, te vra na die goddelike kern daarvan, mis ons iets. Ons kom nie te staan voor dít wat die verlange na God in ons gebore laat word en ons harte laat ontvlam nie.

Hoe kan ‘n mens tog na God verlang as jy net vaskyk in allerhande interessante inligting?

Daar is iets so betowerends in die raaksien van God se werking in ‘n teks, dat wie dit eenmaal gevoel het en wie dit gedurig weer in meditasie bedink, steeds weer verlang om meer en meer van God te ervaar. Betowerend: “hoe meer ek U leer ken, des te meer verlang ek om U te ken” – soos Guigo dit stel.

Dit is hierdie woord – “verlange” – wat Waaijman uithaal as ‘n grondbeweging van die biddende lees van die Bybel.

Sonder hierdie verlange is die lees van die teks dodelik.

Ek werk vroeër vandag Waaijman se artikel oor intertekstualiteit weer deur en dit tref my hoedat hy uitwys dat die groot mistici se werke op vele maniere met die Bybel verweefd is. Hy noem byvoorbeeld hoe intens beide Thomas a Kempis en Johannes van die Kruis in Bybelse denke en taal geleef het. Johannes van die Kruis het in sy sel net die Bybel gehad. Thomas a Kempis het nie net die Bybel gememoriseer nie, maar ook gesorg dat dit oorgeskryf word en beskikbaar in sy gemeenskap was. Mistici leef naby aan die Bybel. Dit was ‘n deurslaggewende bron van hulle mistieke ervaring: om te kan dink oor God se aanraking, het hulle teruggeval op Bybelse taal. Maar hulle het die Bybel geestelik gelees.

Die Bybel was hulle grondteks. Maar die Bybel was ook baie meer as net ‘n klankbord en ‘n beginpunt. Hulle is in hul mistieke belewenis gedryf deur hulle diepe verlange om meer en meer van God te ervaar.

Dit is ‘n verlange wat ‘n mens soms ongeduldig oor die dood maak. Om by God te wees.

Die mistici se taal waarmee hul praat oor hulle ervaring van die teks, is hoogs intens. Hulle sien iets goddeliks in die teks raak. Dit het soveel skoonheid, maar terselfdertyd is dit verborge. Dit is selfs wat Paulus noem ‘n raaisel soos wanneer ‘n mens in die spieël kyk. Maar jy weet dit wys heen na volmaakte helderheid.

Wanneer die mistici oor verlange na God praat, is dit ‘n verlange wat soos gloeiende kole in hulle brand. Waaijman skryf oor die siel se brandende verlange na God, oor gebed wat aangevuur word deur verlange. Oor gebed wat verlange is.

En dit is ‘n emosionele verlange, voeg hy by: verlange is “gloeiende liefde,” “versugtinge,” “trane,” “dors,” “smartlike gemis.” Die mistikus smag na God. Verlange is om te vra en te soek na die Here, die toegewyde instelling van die hart op God, ‘n totale, volmaakte gerigtheid van die hart op God. Dit smeek verlangend om God te hoor praat.

Intense verlange, smagtende, vraende soeke na God. Alles wat ‘n mens mymerend bedink het, die meditatiewe betrokkenheid by die spreke van God, laat iets gebeur. Dit is ‘n rivier waarin ‘n mens stap vir stap in beweeg en waarin ‘n mens met mag en mening begin swem. Die stroom, egter, neem jou mee.

Maar dan is die eintlike punt wat met die verlangende mens gebeur: wat die soeker smekend vra vanuit sy of haar ontmoeting met die Bybel, is die oorgang na die grotere grootheid, na die diepste ervaring, die kontemplatiewe. Die nadenkende omgang met die teks en die biddende smeke na die diepere is nie die einde nie. Die diepere kom wanneer die bidder uiteindelik die verlange in God se teenwoordigheid versadig voel.

Om te dink dit alles begin wanneer ’n mens die Bybel geestelik lees....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive