Friday, July 17, 2009

Die soekers maak die soektog mooi.... Oor die mistiek van die aarde....



Kerk in Vosburg in die Karoo. Kyk die swewers in die lug!

Die Kyknet program, “Boer soek vrou” begin sy tweede reeks. Die eerste program het die land in vervoering gehad. Vanaand besef ‘n mens opnuut waarom dit so gewild was as jy kyk na die inleidende program oor die tien boere van oor die hele land wat vir die volgende maande groot aandag met hul liefdesafari gaan trek.

Ek kyk só na hierdie boer-kinders en dink by myselwers dat ek glad nie sal omgee as een van hulle my skoonseun sou wou word nie. Watter indrukwekkende mense is nie op ons plase aan die boer nie! Dit is lekker om te hoor hoe hulle praat oor hul boerdery. Daar word duidelik gewerk op die plase, hard gewerk. Boer het nie tyd vir twak of kleilat gooi nie. En daar word kundig gewerk. Die beeste en vee is spekvet, uitsoek diere, goed versorg en pragtig, pragtig op die oog. Die boere laat glip allerhande indrukwekkende uitheemse name van die beesrasse sommer so losweg van hulle tong af – so asof hulle oor laas week se rugby praat. En daar is groot, blink trekkers op die werf. Duidelik nie die ou dae se poer-poer slepertjies van ploeë nie. Die dae van dinky toys is verby. Hier praat ons van bulle van trekkers met allerhande tegnologiese blou linte op hul borste. Hulle blink en hulle beïndruk. Ek dink, daardie girls wat op die plase opdaag moet liewers nie die trekkers sien nie. ‘n Man wil mos nou nie dat iemand jou vat oor jou perd of jou trekker nie. Laat my dink oor my gasheer op Prieska wat vertel sy paar miljoen rand stroper hardloop op sy eie deur die oes, gestuur deur ‘n rekenaar en ‘n satelliet-navigasie sisteem. En al wat die een werker in die stuurkajuit min of meer doen is om te kyk dat die liggies brand. Broer masjien sorg vir homself.

En die boere praat die mooiste Afrikaans, is mense wat soek na die ideale dinge en wat duidelik vol romantiese afwagting is op die vroulike weergawe van die ridder op die perd wat die werf sal inry en liefde bring waar daar groot ruimtes daarvoor ingerig is. Dis uitsoek-mense op hierdie program. Hulle weet wat hulle wil hê.

Solidariteit moet die program stuur aan elkeen wat uit Suid-Afrika geëmigreer het as hulle ons mense wil terugbring na hul land toe. Ek is breëbors oor die mense van my land en oor die Afrikaansheid wat met so ‘n mooi gesig in die program uitgebeeld word.

Toevallig is die Amerikaanse program, Bachelorette waarin ‘n terterige meisie met geverfde lippe en geplukte broue iemand uit ‘n klomp terterige, kreatien-gelaaide Amerikaanse mans moet soek, net langs Kyknet se kanaal aan die gang. Gelukkig hoef ‘n mens net tydens die advertensie-gleuwe daarna te kyk. Wat ‘n kontras is die boerseuns van die volk nie teenoor die Amerikaans glitz en bling nie.

Ek het dus ‘n lekker aandjie gehad, ‘n goeie beloning op ‘n artikel wat ek vandag klaar geskryf het. Nogal oor die liefde in Filemon.


Ek onthou, terwyl ek so kyk, hoe ek altyd graag by die boere gaan kuier het en huisbesoek gedoen het. Daar is iets aantrekliks aan mense wat met die aarde werk, in die sweet van hul aanskyn. Dit kom vir my die mooiste vanaand uit in die jong boer, skaars dertig jaar oud, wat met die wysheid van afhanklikheid en ontbering, vertel hoedat hy elke oggend vroeg opstaan en buite toe gaan. Die eerste ding wat hy dan doen is om te kyk hoe die wind waai. “My dag is sommer mooi as die wind reg waai. Want dan weet ek die reën is aan die kom.” Weerloos voor die weer. Dankbaar as die elemente seën bring. Afwagting op die goeie. Opwinding oor die lafenis en die uitkoms. Die aarde hou jou voete plat op die grond.

“Ja,” sê die ander een, “daar is wel tye wat ‘n mens swaarkry. Maar jy doen maar jou deel. Jy werk hard. Gee jou helfte. En dan weet jy die ander helfte sal kom. Van bo-af”, voeg hy spontaan, natuurlik by. En dit word ‘n refrein, hierdie geestelike instelling (“sy moet my waardes deel,” “sy moet gelowig wees”). Jou hart reik uit na hierdie mense. Jy weet van die groot druk, die politieke spanninge. Jy weet hoe die landbouers die toekoms van die wêreld in hulle hande hou. Hulle moet ‘n ontploffende wêreldbevolking kos gee. En daarom, oor al hierdie dinge, gun jy hulle die liefde, die geselskap, die ideale maat waarna hulle verlang. Maar jy gun dit ook aan hulle omdat hulle sulke mense is.

Dis mense wat soek na liefde, na gesels, na goeie tye saam. “Wat op aarde kan jy hier in die uithoeke van die aarde, weg van nêrens doen vir ‘n meisie?,” vra die mooie Elma Postma, vroeër van Sewende Laan se blink Stefaans-familie. Boer dink na. “Ek sal my bottel wyn wat ek self gemaak het, in ‘n piekniekmandjie pak, saam met haar na die rivier gaan en by die dadelbome kuier en net lekker, lekker gesels.” Dit plekke is ver, die ruimtes is groot, die son is genadeloos, die elemente doen hul eie ding. En op hierdie woelige aarde, wat oor ons heers, kry hulle ‘n holte vir hulle voet. Mense wat so na an die natuur leef, kry iets van die aardse skoonheid in hulle bloed.

Watter ongelooflike land is dit nie wat ons van Bo gekry het nie en watter mense het hierdie land en ons taal en ons kultuur en ons godsdiens nie opgelewer nie. Ek kry pure nostalgie na ons winterreis verlede Junie deur die Karoo. Carnarvon toe, waar my oupa op ‘n plaas groot geword het. Loxton toe, daarna ‘n tydjie in Prieska. Die land is wyd, bar, groot, oneindig. En die mense is indrukwekkend. Laat my dink aan ons gesegde, “So wyd soos die Heer se genade...” Die land en die geestelikheid. Vermengd en verenig.

Wat my laat dink aan die aand toe ons naby Hanover op ‘n plaas oornag en ‘n plaasete met die boer-familie deel. Die boer het met olywe begin boer. Maar op ‘n hoogs wetenskaplike manier word die dinge beplan. Hier word nie net geboer nie. Hy is ‘n man wat opgelei is en wat met ‘n besigheidsin en vernuf sy ding doen in die groot, bar Karoo. En sy vrou, wat in Bloemfontein grootgeword het en haar beeldende kunste daar gestudeer het, ‘n volledige stadsmens, woon nou in hierdie niks by nêrens plek. In die eetkamer is daar ‘n beeld van ‘n vrou wat op haar rug lê en die lug in staar. Maar die beeld se voete is heeltemal uit proporsie te groot. Ek vra haar terwyl ons aansit daarna. En sy vertel dat sy vir jare op die plaas met ‘n ontstuimige gemoed rondgeloop het. Moeilik om aan te pas by die afstande en die afgeleë leefstyl. En toe het sy eendat in die veld ingestap en op haar rug gaan lê, net hemel toe gestaar. En terwyl sy daar lê het daar ‘n stilte in haar kom lê toe die besef by haar insink dat sy nou daar, in die oop vlaktes, wortel geskiet het. Sy leef nou met albei haar voete plat op die Karoo-aarde. Dit was haar oomblik van waarheid, van omkeer, van tuis-koms, van nes-skop.





‘n Ekstatiese oomblik. En sy giet daardie oomblik vas in ‘n beeld van ‘n vrou met groot voete, plat op die aarde. Om haar te herinner aan die mistiek van ons bestaan. Ons kan waar wees, op watter eensaam plek, hoe bar en hard ook al. Maar ons kan tog daar wortelskiet. Want wat saak maak is wat ons van die plek maak, nie wat die plek aan ons doen nie.

Ons is almal soekers. Die jong boere, soekers na liefde. Die wegtrekkers en ontheemdes, soekers na ‘n tuiste. En hoe mooi maak die soekers nie die soektog nie. Ons reis haal die beste uit ons uit, laat ons vra na wat ons regtig gelukkig maak. Ons lewensreis leer ons sif, leer ons liefhê, bind ons aan mekaar. Reisgenote in ‘n Kanaänsland. Hoe geseënd is ons nie, in hierdie land van ons met sy mooi mense.

Thursday, July 16, 2009

'n Mistieke lees van Efesiers 3:14-21. Oor die verborgenheid van God se liefde

Ek loop nou al twee dae my en verwonder oor Efesiërs 3:14-21. Paulus skryf as volg in die gedeelte:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van ons Here Jesus Christus, aan wie elke familie / gemeenskap van gelowiges in die hemele en op die aarde sy bestaan te danke het,
• dat God aan jule mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur die Gees in die innerlike mens,
o sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,
• en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en die lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref,
o sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.
Aan God wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan God die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!


Dit klink bietjie drogerig, maar as 'n mens dit in jou gedagte opneem en daaroor begin nadink, dit begin bedink en herkou, is dit 'n gebed, 'n oratiewe teks, wat jou gemoed vol laat skiet.

Paulus praat diep sake in hierdie brief. Hy skryf in Efesiërs 2 oor die boodskap van God se liefdevolle genade: ons is van ons slegte verlede (Efes.2:2-3) vrygemaak deur “die grote liefde waarmee God ons liefgehad het” (Efes.2:4). Ons lewe staan in die teken van transformasie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Iets radikaals het met ons gebeur. Ons verhoudinge is totaal omgekeer. God het ons aangeraak. Wat aleg was, wat ons verniel het, is nou verby. Ons armoed kan ons agter ons laat. Ons word ryk gemaak: Ons, die heiden-nasies, ons wat altyd buite in die koue moes staan, wat op die rand van die liefde gewoon het, word nou saam met die Jode deel van God se nuwe familie (Efes.2:19).Ons is God se nuwe familie, opgeneem in God se nuwe liefdeskring.

Hoe kan ons dit begryp, vra Paulus eintlik daarna. Dit is ‘n misterie, ‘n geheimenis, ‘n verborgenheid, skryf hy ‘n paar keer in Efesiërs 3. Ons, die heidene, hoor by Paulus, God se apostel, van God se ontsaglike, “onnaspeurlike” rykdom wat vir ons as gawe gegee word. Hoe bevoorreg is ons nie. Die volk wat in duisternis woon, het 'n lig gesien.

Dit alles beteken heel eenvoudig dat ons heeltemal anders na die lewe kyk. Omdat ons hierdie verborgenheid ontvang en leerk ken het, daarom kan ons nie moedeloos word in verdrukking nie. Ons verdrukking is ons eer! Om te ly, is niks. Want ons is by God. (Efes.3:13). Die nietiging! Alles wat ons ervaar wat altyd vir ons so swaar lyk, is niks, is nietig, in die lig van die groot liefde wat oor ons uitgestort word.

En dan, na hierdie verborgenheid, volg Paulus se gebed oor God se ryke heerlikheid (die kabod – die teken van God se mistieke teenwoordigheid) wat ons innerlik sterk maak. Paulus kan nie meer stilweg oor hierdie groot, diep dinge skryf nie. Hy breek uit in gebed, lofgebed. God se heerlikheid gee ons mag, skryf hy in sy gebed.

Die vereniging, die wederkerigheid! God, die heerlike, word deel van ons, die kragteloses, die verdruktes, die eerloses. Dit is hoogste intimiteit: God se Gees gee ons die krag. Die asem van God kom blaas krag in ons. God is naby aan ons, in ons “innerlike mens,” ons is met God in ons diepste wese verenig (vers 16).

Ons ontvang nou geloof – en dit beteken; Christus kom woon in ons harte (vers 17!). Weer eens die intieme, vervullende, inwonende vereniging van die goddelike met die binneste deel van ons lewe, ons hart. Hierdie keer nie die Gees nie, maar Jesus. Dubbele inwoning...

Ons ontstuimige hart kom tot bedaring. Ons dra in ons, diep in die sentrum van ons bestaan, in ons hart, die Gesalfde, die Messias, die Christus (vers 17).Die een wat aan Joodse gelowiges beloof het, kom woon nou ook onder hulle wat eenkant geleef het.


Paulus kan hieroor nie ophou nie: dit alles beteken dat ons nou in die liefde gewortel en gegrond is. Die Grieks stel dit presies so: die liefde het in ons wortel geskiet, die liefde het die fondament van ons bestaan geword. Liefdesmistiek! Ons eenheid met Christus in die geloof, plant ons in die liefde in, laat ons rus op vaste fondamente van liefde. As ons groei, groei ons liefdesvrugte. As ons bou, bou ons liefdeswonings. (Vers 17) Om by God in Christus te wees, beteken dat die liefde in my woon.

En dan uiteindelik Paulus se diepste uitspraak (verse 18-19). Wanneer ons glo en in die liefde is, staan ons verstom daaroor: die liefde is wyd, lank, diep en hoog, ver bo ons verstand. Dit is mooi, dit is pure skoonheid.

Ons is verlief op die liefde. Dit oortref alle kennis. Dit vervul ons tot die volheid van God (vers 18-19). (Hadewych, Bernard van Clairvaux!). Die volheid van God vervul ons heeltemal! Ons vind verruking in totale eenwording met God.


Dit is eintlik te groot, te veel. Sal dit werk? Ons sal moet strek en kreun en groei. Maar God se liefde stuit vir niks. God wil ons so groot maak soos wat God ook is - ons moet God se beeld dra. Ons sal die volheid van die liefde uiteindelik smaak.

Wednesday, July 15, 2009

Ons soek die liefde omdat dit liefde so mooi is. Oor die mistiek van die liefde en Bernard van Clairvaux



‘n Mens kan baie oor die mistieke liefde praat terwyl jy dit nie leef nie. Hadewych van Antwerpen sê ‘n mens moet die grammatika van liefde aanleer as jy in liefde wil leef. Dit is swoeg en sweet om jou in die liefde in te oefen. Weldra ontbrand egter dan ‘n liefde vir die liefde. En dan ontdek jy dat dit deel word van jou natuur en dat jy dan die liefde natuurlik leef. Soos asem vir die liggaam, so word liefde dan vir jou gees.

Die lewe in liefde is die hoogste sin van ons geestelike lewensreis. Om geestelik te groei is baie meer as om netjies deur breingimnastiek geestelike dinge uit te pluis. Ons verlang daarna om God met ons hart te bemin en te aanbid. Wat saak maak is dat ons harte uitgestrek raak, wyd, wyd uitgerek word dat ons liefde so wyd sal reik soos wat die hemel oor ons uitmekaar gespan is. Ons liefde moet so oorrrompelend mooi soos die skoonheid van die hemel wees, skryf Bernard van Clairvaux, die mistikus van die liefde.

Ek bedink na aanleiding hiervan vandag ‘n verder vraag: maar waarom soek ons hierdie liefde? Bernard skryf ‘n boek “Oor die liefde vir God,” waarin hy uitspel dat ons aan die begin van ons geestelike reis dikwels uit blote selfsugtigheid vir God soek. Ons verwag van God belonings. (Ek gee ‘n tiende, God sal vir my geldsake sorg....). Of ons is bang vir die hel. Of ons wil graag eendag weer ons geliefdes in die hemel ontmoet. Of, soms is dit bloot net omdat God ons troos wanneer ons God soek.

Deur meditasie, gebed, Bybelstudie en goeie dade dien ons dan vir God. Maar, amper soos Hadewych, sê Bernard, word ons naderhand met vreugde gevul deur ons soeke na God. Ons ontdek die vreugde van by God wees. Uiteindelik leer ons naderhand om God self lief te hê sonder enige selfsugtige oorwegings.

Grace Jantzen (in haar uitstekende boek met die titel Power, Gender and Christian Mysticism) skryf dat Bernard hiermee eintlik verder gaan as om die liefde as die hoogste doel van die mistiek uit te wys. Waarom soek ons liefde? Nie bloot net omdat dit liefde is nie. Ons soek dit omdat dit ons so oorrompel in sy skoonheid. Die liefde bring vreugde en genot. As ‘n mens vir God lief is, ervaar jy skoonheid, aantreklikheid, begeerlikheid, onweerstaanbaarheid, onmeetlike heerlikheid. Dit bring jou in verwondering. Ons soek die liefde, omdat die liefde so mooi is!

Dit is soos ‘n pa of ‘n ma wat vir die eerste keer hul pasgebore baba in die hande neem: jou liefde is oorweldigend, want hierdie baba is so kosbaar, so mooi, so onskuldig, so hartroerend kwesbaar. Dis nie net die liefde wat alles in jou omkeer nie, maar dit is die liefde vir hierdie pragtige, onskuldige klein wese wat jou in beslag neem.

Om God in liefde te sien, is, skryf Bernard, soos om die koning in sy prag en skoonheid in die oase in ‘n woestyn te sien binnegaan. Daar is koel, lafende tuine vol rose in volle bloei, vol lelies langs rustig vloeiende waterstrome. Die tuin is vol geure en orals kan die koning die heerlikste voedsel vind. En daar is ook ‘n plek waar die koning in stilte, in afsondering ‘n rustige nag kan deurbring. Die liefde betower. (Sien en bedink die foto hierby...).

Waarom het ‘n mens lief? Omdat dit vervullend is. Dit laat jou vol word met die allermooiste van skoonheid, met oneindige aantreklikheid.

Eintlik weet ons dit uit ons daaglikse ervaring: om altyd in die geselskap van ‘n liefdevolle mens te wees, is ‘n heerlike ervaring.

Hier moet ‘n mens ‘n dieper punt verstaan: Bernard het in liefdestaal oor God gepraat, maar telkens weer gewys dat ‘n mens nooit deur taal reg kan laat geskied aan wie God werklik is nie. Uiteindelik is taal te swak en te beperk om God se skoonheid in liefde te peil. Ons probeer en ons staan verstom voor die heerlike liefde van God. En as dit goed en mooi klink wanneer ons dit so in woorde oorvertel, hoeveel groter en mooier is die liefde nie werklik nie! Die skoonheid van die liefde is groter en heerliker as wat ons ooit in taal kan uitdruk.

Ek bemin die liefde, want die liefde is betowerend.

Tuesday, July 14, 2009

Leef die mistiek in liefde. Oor Hadewych van Antwerpen



Maria Magdalena se huwelik (die liefde!)
Oorgeneem van: http://www.lebanonart.com/eng/mary_magdalen2.htm




Ek lees so bietjie oor die mistiek van die dertiende eeuse vroue mistikus, Hadewych van Antwerpen. Sy was afkomstig uit ‘n welgestelde familie, maar het deel geword van ‘n groep vroue wat hulle toegespits het op hande arbeid, sorg vir die armes en siekes en ‘n gebedslewe. Hulle is, soos wat ‘n mens seker maar moet verwag, weens hul oortuigings vervolg, maar het later as “Begyne” amptelike verlof gekry om hul werk te doen. Sy het 45 gedigte, 16 briewe in digvorm, 32 briewe in prosa-vorm en 14 visoene neergeskryf, in besonder passievolle vorm en diep gekleur deur liefdestaal. Haar werke is diepsinnig en het veral groot invloed op Jan van Ruusbroec, een van haar leerlinge en ‘n beroemde mistikus, gehad.

Ek is geboeid deur haar mistieke van liefde. Teenoor die groot manlike mistici soos Dionusios en Eckhart met hul klem op eenheid met God as die hoogste doel waarna die mens kan streef, bring sy ‘n hoogs uitdagende klem-verskuiwing in die mistieke tradisie. Wat, vra sy, behels die vereniging met God? Verenig met God – en wat nou? Eckhart sou sê ‘n mens vra nie eers so ‘n vraag nie. Die vereniging met God is dit waaroor alles gaan: die begin en einde van jou lewensoektog. Hadewych dink uniek en antwoord die vraag vanuit die mistiek van die liefde. Met passievolle, gelaaide taal, skets sy die liefde as ‘n hoogs intieme, vervullende, praktiese verhouding. Jy word in intense, intieme ervaring opgeneem in ‘n liefdes-eenheid met God. Maar: die liefde hou nie op as ‘n mens met God verenig is nie. As ‘n mens in passievolle liefde met God verenig is, op so ‘n manier dat dit jou hele wese, jou liggaam, jou totale bestaan in beslag neem, dan leef jy hierdie liefde uit in meelewing en diens aan ander. Eenheid met God beëindig nooit die liefde nie. Ek soek, skryf sy, “na niks anders as Liefde, werk niks anders as Liefde, beskerm niks anders as Liefde en jaag niks anders as die Liefde nie.” En vind jy die liefde, vul dit jou so sterk dat dit jou uitdryf om dit verder te gaan uitleef.

In die groot mistici soos Dionusios en Eckhart bring die vereniging met God ‘n mens tot die punt om soos God te wees, om die dinge van God te bedink. Dit is ‘n manlike, rasionele, intellektuele aanpak van die mistiek. Hadewych as vrou se liefdesmistiek laat haar sê dat ‘n mistikus ontmoet as hele mens die Liefde van God sodat ‘n mens die werke van God kan doen. En as ‘n mens die liefde wil ontdek, skryf sy, bedink jy wie die aardse Jesus was en wat Hy gedoen het. Jesus wys ons wat liefde is. Liefde is baie konkreet, tasbaar, voelbaar. Liefde is nooit spekulatief nie, dit is geïnkarneerd. Net soos Christus dryf ‘n mens nie weg van die ellende in die wêreld as jy met God verenig word nie. Soos Christus giet jy jouself uit in ontferming teenoor die ellendiges. ‘n Mens deel dus in liefde Christus se lyding. ‘n Mens omhels die ellende in solidariteit van liefde met die mensdom.

Hieroor sou ‘n mens nog veel meer kon skryf. Maar ek wonder die laaste tyd dikwels oor hoe ‘n mens die mistiek naby aan jou lyf kan bring. Die groot probleem is dat ‘n mens altyd teoreties daaroor kan praat sonder dat dit deel van jou bestaan word. En vandag kry ek nogal hulp in my leeswerk oor Hadewych. Hier is die voorbeeld: Bitter is dit om ‘n taal aan te leer. Jy sukkel en sukkel om die spel- en taalreëls aan te leer, om jou woordskat op te bou. En dan, op ‘n dag, kan jy Duits praat. Jy kan na gedigte luister, Mozart se oratoria in hul oorspronklike weergawes gaan luister. En dan word jy verlief op die taal, want dit bring skoonheid in jou lewe.

Dit is, sê Hadewych, wat met ons en die liefde moet gebeur. Ons moet leer om die liefde lief te hê. Daar moet in ons ‘n begeerte wees (biddende verlange) om die liefde te leer ken. Mettertyd gebeur dit ook dat jy op ‘n dag, in ‘n ekstatiese oomblik, besef dat jou bemoeienis vrug dra. Jy verloor jou in die liefde, jy is op die liefde verlief. Jy besef op ‘n dag hoe kragtig, hoe mooi, hoe lewegewend, hoe oorwinnend, hoe genesend, hoe menslik, hoe goddelik die liefde is. En dan volg die verdere fase: jy doen die werke van die liefde. Die Liefde het so deel van jou natuur geword dat jy die Liefde van nature begin doen. Nou word jou lewe geïntegreer: wat jy dink, wat jy begeer, wat jy ervaar, wat jy doen kom alles saam in die krag van die Liefde. Jy is ‘n “heel” mens, jy het die beeld van God wat Liefde is en Liefde doen in jou.

‘n Mens kan slim praat oor die liefde. Jy kan allerhande debatte daaroor voer. Dit fyn ontleed. En tog kan ‘n mens nie die liefde leef nie. Dit is die mistieke: om so oor die liefde te dink, dat dit deel word van jou bestaan en jou lei waar jy nooit gedink het jy sal kom nie.

Hadewyk het my diep laat nadink.

Monday, July 13, 2009

Geluk in duisternis; oor sondebewoëndheid



Hierdie skildery is in 1607 deur Carvaggio geskilder onder die titel: die geseling van Christus. Dit is 'n aangrypende, ryk uitbeelding van Jesus se uitlewering aan lyding en verwerping.


Spiritualiteit word dikwels geassosieer met “geluk”, ‘n gevoel van innerlike vervulling, geestelike groei, transformasie en ‘n intieme verhouding met God.

Mense wat soek na innerlike vervulling, wil ervaar dat hulle potensiaal tot volle ontplooing kom. Hulle ware mens-wees moet na vore kom.

Daarom dink ons dikwels die dae van die hel-en-verdoemenis preke is verby. Ons gaan kerk toe, nie om verder in die grond geboor te word en te hoor ons is so sleg nie. Ons is verslae, vernield en wanhopig genoeg om nog verder afgebreek te word.

En dit is goed dat ons in verset kom teen ‘n tipe boodskap wat moralisties vir mense as goed of sleg uitmaak. Dit is soms afgryslik om te hoor hoe predikers vinger-swaaiend vir mense vertel presies hoe sleg hulle is.

Maar tog is ons geestelike lewe kinderagtig as dit dink ‘n mens moet die sonde ignoreer deur versigtig daarby verby te stuur. In die vorige blog het ons juis daaroor gepraat dat ‘n mens die erns van sonde moet begryp en die greep daarvan op ons lewens nie moet miskyk nie.

Dit is waar van ons eie lewens, maar ook van ons wêreld. Jesus se bergrede is deurtrek met ‘n liefdevolle ontferming vir almal in die wêreld wat arm is, wat na vrede soek, wat treur, wat met stil, sagte harte leef, wat vir ander omgee, wat rein van binne is... En tog praat Jesus met dieselfde mense oor egskeiding, moord, doodslag, onreinheid en ander donker skaduwees in ons lewens. En later sou Jesus, ontsteld, ook die sondes van die hele volk vreesloos aanvat toe hy die spekulante uit die tempel verjaag het omdat hulle van God se gebedsplek ‘n rowerspelonk gemaak het. Met swepe.

Die wêreld is die plek waar ons God vereer, met God verenig word, uitroep na God wat heilig in die hoogste hemele, maar ook heilig in ons midde woon. Maar watter rowerspelonk het ons nie van God se aarde gemaak nie. In ons eie lewens, maar ook in Zimbabwe, in Rwanda, Afghanistan, New York, Hollywood en plekke van afgodery oor die aardbol heen is dit vir ons asof ons vir God nie meer kan vind nie. Daar hang ‘n donker wolk oor ons wêreld wat ons uitsig op God verdoof. In so ‘n wêreld kan niemand gelukkig wees, sy of haar volle potensiaal ontwikkel nie. Ons kan dit nie ignoreer dat ons in duisternis woon nie. Wie dit wil doen, ontvlug sy verantwoordelikheid, is liefdeloos, verstaan nie God se hart nie en leef met ‘n dooie hart.

‘n Geestelike mens, iemand wat naby aan God leef, huil saam met Jesus oor Jerusalem wat ‘n tempel vir God het, maar wat God daaruit verdryf het. ‘n Mistikus is nie iemand wat mooi vroom kan bid dat God ‘n mens pyn en lyding spaar nie. Want hoe kan ons sonder pyn wees as ons wêreld deursuur is met lyding? Elke keer as ‘n mens nuus kyk en hoor van lyding, is ‘n mens verpletter deur wat jy hoor en sien. Die pyn van ander kom lê in jou hart. Hulle pyn word joune. As ons gedink het sonde is om allerhande reëls te oortree, skraap ons net aan die oppervlakte. Sonde is om jou af te vee aan die pyn in hierdie wêreld, om daarvan weg te vlug en jou rug daarop te draai. Want, dit is die diepe verborgenheid, wanneer ‘n mens dit doen, draai jy jou rug op God. Deur sonde te onderskat of te wil systap, sondig ‘n mens.

Jesus, hoor ons, het as Kneg van God, in die wêreld en sy duisternis ingegaan. Die Seun van God, vertel die Evangelies, het in die ure van duisternis, uitgeroep van sy verlatenheid van God. Maar sy uitroep was nie, soos sy mede-gekruisgde, ‘n hoon-roep nie. Dit was ‘n gebed. In die duisternis, in die tyd van sy diepste lyding, het hy nog vir God geëer, na God geroep.

As ons dink dat ons nie in die wêreld se duisternis hoef in te haan nie, word ons tot bekering geroep. Want as ons nie ons kruis opneem, soos Jesus nie, dan kan ons nie een word met God nie. Juis daarom word ons tot rou en boete-doening geroep en staan ons voor God met die belydenis: ons is arm, arm aan medelye, arm aan ontferming, arm aan sagmoedigheid. Ons is nie honger nie, het nie dors nie, kyk weg as ander ly, vermy ‘n sondige wêreld. Maar ons het nie innerlike vrede nie en is ons nie gelukkig nie.

Ons kyk na ons wêreld en ons sien donkerte. Ons kan deur die digte duisternis nie meer vir God raaksien nie, dink ons. Die armoede, die hongersnood, die droogtes, die hardheid, die lyding. Maar tog is God in die duisternis teenwoordig, roep Jesus in die bergrede uit. Wie treur oor God se afwesigheid, wie uitroep oor die hongersnood, oor die hardheid, moet weet: God is daar! En daarom kan hulle gelukkig wees! God is by die armes, stilles, treurendes, hongeriges, dorsendes. Salig, salig, salig, salig, salig is julle wat in die duisternis gedompel is, wat arm is, treur, honger en dors het. Julle wat in hierdie duisternis woon en hierdie duisternis deel met al God se ander kinders, julle ontvang God se koninkryk, julle word deur God geregeer, God is julle koning. Dit is die mistieke antifrase. Ons gru vir armoede en ontbering, en tog, God gru nie daarvoor nie. Ons is sku vir lyding en ellende. Maar God woon daar.

Kyk maar na die eenvoudigste voorbeeld hiervan, in Jesus se lewe. ‘n Kruis in die duisternis, stik-donker, maar dan die gelowige uitroep: Waarom het U my verlaat, my God? Die Kneg, die Seun van God sal die gelowige mens aantref in die donker van ‘n kruis.

My hart smag na God. Ek sien U nie! Maar ek hoor die Gees sê: luister die verborge woorde en weet: U is daar! Hierdie wêreld wys nie vir my U gesig nie. Maar hoor God se antwoord: die wêreld behoort aan U! Ek wil nie weghardloop van die donkerte nie. Ek wil daarna kyk, dit selfs geboeid omhels. Want hier, in die donkerte, is U.

Hoe word ons volledig mens? Hoe kom ons tot ons ware potensiaal? Hoe vind ons vervulling? Hoe word ons gelukkig?

Deur in die duisternis in te stap en by God in die verborgene te woon. As ons dit kan doen, het ons ons volle potensiaal bereik. Ons vind vervulling in hierdie verborgenheid.

Dit het Jesus gedoen. Die klein, bruin Jood, die aardse, vervloekte een (a la Cussons), wat terselfdertyd juis daarom die kosmiese, volmaakte Christus is. ‘n Verborgenheid. 'n Mistieke antifrase.

Ons geloof is nie vulgêr nie. Dit rus nie op oppervlakkighede nie. Dit vind sy volmaaktheid in solidariteit met die plek van leegheid. Dit vind sy grootheid in sy fokus op die geringste.

Wie die verheerlikte Jesus wil vind, moet maar die waagstuk aanvat en kruis toe gaan, die donkerte in. Wat ‘n skoonheid.

(Met dank aan Merton, The Inner Experience).

Sunday, July 12, 2009

Sonde



(Satan, sonde en die dood - William Blake, 1808)

‘n Mens kan skuldig voel oor iets waarvoor iemand jou dalk sou kon uitvang en straf. Dan vrees jy iets uiterliks en is jy bang vir iemand wat na jou kyk en jou dade as verkeerd veroordeel. Jy voel skuldig daaroor.

Sonde is veel erger as so ‘n skuldgevoel. Dit sluit sekerlik 'n skuldgevoel in dat 'n mens aan God ongehoorsaam is. Maar ‘n egte sonde-besef (teenoor ‘n skuldgevoel) is ‘n verslae, knaende gevoel en gewetenswroeging dat ek my diepste, innerlike wese aangetas het. Hier waar God wil woon, op die intiemste van intieme plekke, hier waar alles begin wat vir my innerlike vrede gee en wat my lewe in helder lig laat skyn, hier het ek donker ingedra wat God se lig, God se beeld in my uitgedoof het.

In ons moderne godsdienstige konteks het ons nie meer 'n benul van hoe erg sonde is nie. Dit is juis die diepe bedreiging van sonde – dit doof 'n gelowige se gevoeligheid vir dit wat verkeerd is, uit of dit begatelliseer sonde deur die destruktiwiteit daarvan te verberg.

Sonde beteken dat ek my innerlike lewe, die wortel van my bestaan, daar waar my hart klop, waar ek skoon water van die lewe moet indrink, dat ek dit vergif, verkrag en vernietig. As ek volhard in die sonde, kan ek uiteindelik selfs my gees tot niet maak. Dan is ek, in Bybelse sin,“geestelik dood.” En dit beteken eintlik 'n vorm van self-doding.

Sonde is, soos Luther dit al gestel het, 'n self-ingekeerdheid. Dit is wanneer ek uit selfsug leef, ‘n valse bestaan voer, wanneer ek voorgee wat ek nie werklik diep in my is nie, wanneer ek ‘n dubbele lewe leef. Ek is dus deurtrek met valsheid. Ek gehoorsaam nie meer my gewete nie. My gewete pla my eintlik nie meer nie.

Eintlik beteken sonde dan dat ek myself tot niet maak – of in die ergste vorm – myself tot niet gemaak het. In my woon die "Heilige" Gees nie meer nie. Ek doen nie net slegte dinge nie, ek het boonoop sleg geword en is sleg.

Sonde is ‘n dodelike mag wat my in ‘n greep het waaruit ek nie kan losbreek nie en waardeur ek my herhaaldelik tot niet maak. Elke keer weer steek ek ‘n dolk in my eie hart. Ek het ter helle neergedaal.

Ons het dus nie regtig meer ‘n idee van sonde nie. Ons wil nie regtig weet dat ons sleg is nie, ons tyd vra self-respek en 'n gevoel van eie waardigheid. Dit is afwykend, dink ons, as ons deur 'n sondebewussyn ons eie onwaardigheid bely. Ons godsdiens praat eerder van voorspoed, van vergifnis, van foutjies en glipsies. Ons praat van sonde soms selfs ligtelik as stoutigheid. Ons weet nie eintlik meer wat berou is nie en ons bedink nie meer die sonde teen die Heilige Gees nie. Ons vrees sonde nie meer as daardie donker, dreigende, vernietigende, verborge mag wat sataniese houvas op on het nie.

En dit terwyl ons eintlik elke dag by herhaling verslae staan oor wat om ons aan die gang is: Die korrupsie, selfsug, ongevoeligheid, hardheid, self-verryking, materialisme, omgewingsbesoedling, hatigheid, jaloesie, misdaad, moord, diefstal en ander sondes sien ons, maar ons eien dit nie as ons s'n toe nie. Dit is die ander een se probleem en foute. Of ons het daarmee leer saamleef, sonder om te besef dit sypel ons eie bestaan ook binne. Laat ons maar net rondom ons kyk as ons ‘n slag tot ons sinne wil kom.

Ons godsdiens het deur ons saamleef met sonde en ons onderskatting daarvan, ‘n soort ruilhandel geword: ons doen allerhande vroom dinge, soos bid en kerk toe gaan. En met dieselfde voete stap ons in die sonde in en uit dieselfde mond peul die sondetaal. Ons skrik nie meer terug voor wat verkeerd is nie. Ons gee dit ‘n aparte “plekkie” in ons lewe waarvoor ons “goeie” vroomheid kompenseer. Ons godsdiens self sirkel om ons eie voorspoed, wil ons gewetens sus en maak ons veroordelend en beterweterig teenoor ander wat sondig is in vergelyking met ons goeie pogings tot vroomheid.

In die Cloud of Unknowing word van ons gevra om baie realisties te wees oor onsself. In nederigheid moet ons nie oor onsself dink soos baie idols-kandidate wat met hul totale vals note vir hulle verbeel hulle is unieke, talentvolle sangkunstenaars nie.

As ons realisties na onsself kyk, neem ons ‘n beslissende stap tot genesing. Hand in eie boesem. Balk in eie oog. Vee voor die eie deur. As ons eerlik na ons aarde kyk, kan ons nie anders as om ook onsself in te sluit in die verval nie.

Hoe bevrydend word die Evangelie tog nie, as ons deur ‘n diepe sonde-besef oorweldig word nie. Ons smag dan om uit die moeras te kom. En ons vind dit in alles wat die Bybel vir ons as God se liefde voorhou. Om te dink dat God met ons ‘n liefdevolle verhouding wil aanknoop sodat ons innerlik gereinig kan word en egte lewe in ons kan voel ontkiem. God wil ons kom haal, weg van hierdie verskriklike self-vernietigingsproses waarmee ons besig is. God wil ons hand kom gryp, vasgryp, sodat ons nie langer onsself so tot niet maak nie. En God wil ons omdraai, in liefde vir ons as sy eiendom vashou, in ons kom woon en ons bevry van al die donker wat ons in ons lewe in gedra het. Dit is nooit te laat en dit is nooit te veel nie.

Hoe bevrydend is die Evangelie nie. ‘n Krag tot redding, ver bo wat ons ooit kan dink. Die weg tot die ware lewe, ‘n lewe van vervulling en vrede.

Die mistikus se ervaring van God is juis so oorweldigend omdat dit gebeur in 'n konteks van intense bewussyn van eie onheiligheid en God se suiwer heiligheid. En dit is so vreugdevol omdat God ons wil heilig, reinig en tot die volle lewe wil herstel.

Verras ontdek ons juis hoedat ons aarde wat so verderflik lyk, ook in die tyd van die eerste Christene diepe wanhoop opgeroep het: Kyk na 2 Timoteus 3:

Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. (Let veral op hoedat vroom godsdienstige mense hier ingesluit word).

Die gelowige van alle tye, verslae voor die mag van die sonde, hoor in die Evangelie van 'n groter mag, die mag van die Liefde wat ons van onsself bevry.

Saturday, July 11, 2009

Altyd nuut: oor die mistiek, vaalheid en piña coladas



Ek luister vanoggend weer “Escape” van Rupert Holmes wat in Desember 1979 wêreldwyd ‘n treffer was en wat vandag een van die groot simbole van musiek in die tagtis is. Ons glimlag as ons dit hoor: ja! so het ons toe musiek gemaak.

Holmes is ‘n bekende musiekskrywer, ook van musicals en het ‘n klassieke musiek-opleiding gehad. Hy spot self met die ongelooflike sukses van “Escape” wat hom wêreldbekend en skatryk gemaak het. Hy sê sy grafsteen sal eendag in die vorm van ‘n pynappel wees, terwyl niemand iets van sy ander werk sal onthou nie.

Soos in ander liedjies van Holmes, vertel hy met Escape ook ‘n verhaal. Dit gaan oor ‘n paartjie wie se verhouding in ‘n vaal en vervelige roetine verval. Hy is moeg vir sy “lady” – soos vir ‘n flou-gespeelde plaat van ‘n trefferliedjie. Die man lees een dag ‘n persoonlike advertensie in die koerant van iemand wat ‘n onkonvensionele date soek – ‘n persoon wat van piña coladas hou (Spaanse drankie van pynappel en klapper-sap gemeng met rum), van loop in die reën, wat ‘n halwe brein het, wat nie van gesondheidskos hou nie, mal is oor die see en sjampanje en wat op die onmoontlikste tye en plekke passievol kan wees. Hy maak dan ‘n afspraak by ‘n kroeg genaamd O'Malley's en vind daar uit dat die een wat die advertensie geplaas het, eintlik sy maat was. Hulle besef hulle hoef nie verder te soek as mekaar nie: “You're the love that I've looked for, come with me, and escape."

Lekker humor, maar ook ‘n heerlike, maklike liedjie met ‘n meesleurende beat. Dit bly maal in jou kop en jy wil net lyf swaai as jy dit hoor.

Om een of ander rede het dit mense se verbeelding aangegryp. Die treffer word kort-kort in flieks gebruik, onder andere in Shrek. Soms word dit selfs gebruik vir gesprekke oor dieper vrae. In ‘n Amerikaanse komedie-reeks is daar gespot oor die liedjie se boodskap dat twee mense wat in ‘n verhouding is nie eers weet die ander een hou van pina coladas.

Kyk: http://www.youtube.com/watch?v=Hl0xLTXxOhM.

En op intertekstuele vlak leef die liedjie voort in skreeusnaakse advertensies:

Kyk bv. http://www.youtube.com/watch?v=bV2XphGofCE

Dis waar: ons leef saam met ander mense vir tye wat vir ons soms na eeue kan voel, dodelik in afgesaagdheid. Ons moet net rondom ons kyk om te sien hoe sulke vaal, vasgeloopte verhoudings dodelike, slegte gevolge kan hê.

“I was tired of my lady, we'd been together too long.
Like a worn-out recording, of a favorite song.”

Moeg van die ander een. Keelvol.

En tog ontdek ons dan weeer op 'n dag steeds weer nuwe dinge oor mense wat ons al jare goed ken. Soms skokkende dinge. Soms teleurstellend. Maar ek het ook agtergekom dat as ‘n mens mooi oplet en goed na ander mense kyk, jy steeds weer sien hoe mense jou verras met die goed waartoe hulle in staat kan wees of sommer net hoe hulle die lewe geniet. Dit hoef nie groot wyshede te wees wat ons nou raakhoor nie. Blykbaar onthou die meeste mense hierdie liedjie van Holmes nie as “Escape” nie, maar as die liedjie oor piña coladas. Dit word ook deesdae “Escape (the piña coladas song)” genoem. Wat ‘n verrassing: my maat hou van piña coladas! Sy is minder vervelig as wat ek gedink het. Sy het ‘n eksotiese kleurtjie. Sy is minder vaal en oninteressant as wat ek begin vermoed het.

En nog dieper: ons soek na iets wat ons lewe kleurvol kan maak, wat ons lewe transendeer, wat ons vreugde gee, veral by hulle met wie ons in ‘n intieme verhouding leef. Diep in ons soek ons om die vaalheid, die geroetineerdheid, die groef waarin ‘n mens vasval te ontvlug. Ons soek na iets spesiaals, iets wat ons verweerde lewens opkikker, wat nuwe kleur gee. Bietjie anders is. Dit is ook waarom spiritualiteit en veral mistiek gaan: om die verlange na die diepste transendensie en die diepste integrasie. Waar ek die diepere ontdek - hoe eenvoudig ook al (die liefde!), daar kom heelwording, integrasie, versoening, kompassie.

En as dit gebeur – as ons die ruimte van verrassings binnestap, doen dit iets aan my, maar veral ook aan die ander een. Daardie nuwigheid, andersheid, verrassing help mens om die ander een as mens weer raak te sien en die ander groei uit tot 'n heel mens oor die ruimte wat ek vir hom of haar skep.

Die wese van godsdiens is dat dit altyd nuut maak (die ou mens....) Deur die eeue sal jy nie een mistikus vind wat presies dieselfde geestelike ervaringe as ander het nie. Elke mens is uniek en die verhouding met God wys daardie uniekheid te duidelik. En boonop is elke dag ‘n verrassing. Die mistikus leef aards, want die aarde is God se leefplek, God se speelruimte, God se liefdesoord. Wanneer die ou, vertroude teks en die mistikus mekaar ontmoet, broei nuwe lewe, nuwe insigte, nuwe ervaring en lewensvreugde. Die simbiose van teks en leser kan nie in vaalheid verval nie.

En dit terwyl die Bybel steeds dieselfde gesig het, dieselfde tekste, dieselfde boodskap. Vol plooie, ‘n bekende lied wat oor en oor gespeel word, ‘n lady met wie ‘n mens ‘n lang pad geloop het. Maar elke dag ontdek jy iets nuuts, word jy verras hoe God die ou verhaal omtower in nuwe belewenisse. Hoedat mense met wie jy ‘n lang pad loop, iets onverwags sê en doen wat jou betower, moed gee, goed laat voel, verras juis omdat hulle in hul lewens ‘n liefdesverhouding met God het wat na ander toe deurwerk.

Die probleem lê nie by die lady nie. Die probleem lê by die lady se kêrel wat blind is vir wat hy reeds het. Wat te min gees het, wat nie die Gees van liefde wil toelaat om die nuwe dinge vir hom te wys nie.

Om selfs net na hierdie song te luister, so eenvoudig, so lekker lig, so hups, en te weet dat dit vertel eintlik ‘n ou waarheid op ‘n nuwe manier: ons het skatte in erdekruike. Moet hulle maar net skink, proe en verras ervaar.

Friday, July 10, 2009

Om te lees is om te waag. Oor die geestelike lees van die Bybel as resonansie




Ons beskerm ons kinders teen boeke wat ons dink hulle kwaad kan aandoen. En ons wil graag hê dat hulle die Bybel lees, in die hoop dat dit hulle lewens vol en ryk sal maak.

Maar ons sensoreer ook onsself as dit by die Bybel kom. Ons lees byvoorbeeld nie “sektaries” of “liberale” teoloë of skrywers nie, want ons dink hulle idee’s sou ons kan laat dwaal.

Die Bybel self, voel ons, is ‘n boek wat ons met veiligheid kan lees. Ons ervaar immers hoe die Bybel ons kan inspireer en vir ons baie kan beteken. Ons dink: die probleem is nie om die Bybel te lees nie. Die probleem is eerder wanneer ons verkeerde interpretasies van die Bybel lees.

Maar die blote lees van die Bybel is tog al 'n waagstuk. Dit kan selfs gevaarlik wees. 'n Enkele woord van die Here kan 'n mens neem waar 'n mens nooit gedink het jy sal beland nie.

Hoekom gebeur dit dan dat die Bybel nie maar net "vryblywend" of skadeloos is nie? Dit het alles met die leeshandeling of die leesproses te doen. Wanneer ‘n mens die Bybel optel en dit lees, vloei die teks en die leser inmekaar: ‘n egte geestelike lees van die teks, raak die mens op baie maniere en op 'n omvattende manier aan. 'n Mens kan bly moeilik onbetrokke en neutraal by die lees van die Bybel. Deurdat ‘n mens die teks lees, word jy in 'n proses opgeneem wat jou onmiddellik verander. Jy hoor jouself lees, jy voel die teks, dit raak jou aan. Maar jy sien ook die teks terwyl jy dit lees - merke op papier. En jy sien hoe hulle betekenis vorm. En veral wanneer jy dit, in 'n geestelike lees, hardop doen, werk hierdie leesproses op jou in.

Op die manier vloei die teks in jou in en jy verloor jouself in die teks. Daar vind ‘n simbiose tussen teks en leser plaas. ‘n Geestelike lees van die Bybel is daarom altyd ook ‘n leeshandeling, ‘n lees-daad. Die teks praat met jou. Soms verloor jy jou so in die gesprek dat jy nie agterkom die tyd gaan verby nie. As jy jou kom kry, is dit al laat. Jy doen dus met jou gelees iets wat jou intrek in ‘n gesprek en wat jou lewe daarom kan verander.

Hierdie lees van die Bybel en hierdie hoor van die Here se woord kan baie ingrypend wees. Dit is ‘n leeshandeling wat ‘n klomp dimensies van die mens aanraak. Mense wat die woord van die Here oor Ananias en Saffira se bedrog hoor (Hand. 5:5 en 11) is deur ‘n groot vrees oorval. Toeskouers wat die dade van apostels gesien het, het die Here “baie geëer” (Hand. 5:13). Dit laat ‘n mens dink aan Psalm 119:120 waar die Psalmdigter vertel: “My vlees sider van skrik vir U; en ek vrees vir u oordele,” met Psalm 119:161 wat sê: “my hart vrees vir u woord.” En tog kan dieselfde digter sing: “Ek sal my verlustig in U insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.” Dinge wat die Here se of doen, kan jou hart laat smag na meer. Waar ‘n mens die Bybel geestelik lees is daar dus dikwels ook verlange teenwoordig: “My siel smag na U heil” (Ps.119:81).

Terwyl Jesus saam met sy dissipels die pasga volgens die voorgeskrewe tradisie vier, sê Hy: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat ek ly” (Luk.22:15). Hy vier saam met sy dissipels die uittog uit Egipte - hulle heilige geskiedenis.

Wanneer ons by die nagmaalstafel sit as die Here se “sigbare” Woord aan ons, kan dit ons byvoorbeeld oorrompel as ‘n geskenk van God, aanvuur om ons lewe in orde te kry, help om vrede met ander mense te maak of inspireer om die gemeenskap van gelowiges na te jaag. Baie is nogal op die spel as ons eers die Here toelaat om met ons te praat.

Wanneer ‘n mens die woord van die Here hoor, vier, gedenk en beleef, vind daar ‘n vereniging tussen die goddelike en menslike plaas. Die woord van die Here en die luisteraar word saamgebind in ‘n eenheid, 'n simbiose vind plaas. Maar terselfdertyd kring dit uit om baie ander dimensies van ‘n mens se bestaan in te sluit. Jou ervaringe in die hoor van die Woord het diep, wye emosionele implikasies. Die Here se woord resoneer met jou hele wese. ‘n Geestelike lees van die Bybel kan nooit net die verstand aanraak nie. Dit roep ‘n hele reeks van ervaringe, reaksies, belewenisse en gevoelens op.

Wanneer dit gebeur, word die mistieke proses voltrek, want hierdie resonansie beteken dat Iemand van buite jou in jou innerlike bestaan inkom en jou omvorm. Daar gebeur iets met jou wat nie uit jou binneste opgekom het nie, maar wat van Buite op jou inwerk. Die Woord word jou woord. Jy het dit gelees en dit kom lê nou in jou hart, in jou binneste as deel van jou. Dit steek ‘n lig aan die brand. “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig” (Ps.119:130). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps.119:105). Jou binneste word ruimer, groter, gevul deur ‘n Mistieke Teenwoordigheid wat in jou skyn: “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart” (Ps.119:32). En ons leef, droom, reageer en rig ons lewe in op grond van ons ervaringe.

Hoe onthou ons tog nie die teks wat by ‘n begrafnis gelees is nie, of by ons troue, of die gesang wat gesing is nie, of die versie wat by ons geloofsbelydenis aan ons gegee is. Dit bly klink en klink jare na die tyd nog by ons. Dit roep aangename, troostende, blye of soms negatiewe gevoelens by ons op. Die Here se woord kan diep in die menslike lewe insny.

Die geestelike lees van die Bybel behels ‘n leeshandeling waardeur ‘n mens die teks hardop lees, hoor, sien en tas. En daardeur kan jy nie onaangeraak bly nie. Want as ‘n mens die Woord so beleef, is dit soos ‘n klip wat ‘n venster tref: die krake loop deur die hele ruit.

Mense wat weet, besef waarmee hulle te doen het as hulle die Bybel optel en lees. Eintlik maak ‘n mens ‘n lewensdeur oop wat onstuitbare kragte in jou kan losmaak. “Ek staan by die deur en klop....” Ek tel die Bybel op, bewus daarvan dit is God se woord. Ek lees die Bybel en dit raak my hele wese aan. Want, uiteindelik, is dit nie ‘n Bybelteks wat ek lees nie, maar God self wat met my praat, wat in my innerlike bestaan toegelaat word en lig opsteek wat donkerte verdryf en vrese tot niet maak. Om net die Bybel te lees is al ‘n groot saak....

Wanneer ek die Bybel lees is ek dus eintlik besig om met God te praat - en al pratende kom God nader en nader aan my, om uiteindelik in my te kom woon. Die woord word so vlees en kom woon in ons...

Thursday, July 09, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: oor die simbiose tussen Bybelteks en Bybelleser





‘n Vorige geslag van kinders moes in hulle “sondagskool” elke keer ‘n “versie” uit die Bybel uit hul kop leer en vir die “meneer” of die “juffrou” die versie opsê om ‘n punt op die klasregister te verdien. Natuurlik het die gewoonte ook uitgesterf, want daar was kinders wat óf nie die versies wou leer nie óf die nie kon leer nie – dan het hulle “dom” gelyk voor die ander. Of hulle het die einde van die jaar nie ‘n diploma of ‘n seël gekry nie. En menige dominee of onderwyser is deur vies ouers uitgetrap as hulle kinders nie daardie seël by die “prysuitdeling” gekry het nie.

Joodse en Moslem seuns in godsdienstige skole moet enorme teksgedeeltes leer memoriseer – juis omdat besef word watter invloed dit uiteindelik op hul lewens sou kon hê. Ek onthou hoe die ouer geslag maklik groot teksgedeeltes uit die Bybel opgesê het. En dit was in die meeste gevalle nie ‘n kwessie van slimmigheid of afwys nie. Die Bybel was vir sulke mense ‘n leefwyse, nie ‘n ou boek wat op die rak gelê het nie. In die dienste kon ‘n mens dikwels sien hoe mense geliefde gesange en psalms uit hul kop saamgesing het. Prys die Heer met bly galme; O goedheid Gods hier nooit volprese; Op berge en in dale en baie gesange was deel van jou lewe en jou kon enige plek en enige tyd groot dele daarvan sommer maar net so uit geheue gesing het.

Wat ons in die kerk so bietjie verloor het, kontrasteer met wat in die sekulêre lewe gebeur. Ek staan natuurlik verstom oor die jongmense se vermoë om liedjies te onthou en saam te sing (laat staan maar hoeveel flieks hulle ken en watter filmsterre hulle in detail kan bespreek). Kyk maar net na enige popkonsert en jy sien hoe hul lippe die woorde saamsing, van a tot by z en van z terug tot by a. Daar is nie ‘n probleem om versies te onthou nie. En jou mond hang oop, noudat Michael Jackson dood is, hoe sy liedjies die besit van ‘n hele geslag van mense was. Hulle leer nie die liedjies nie, memoriseer dit nie. Hulle leef dit.

Dit was hoe Bybeltekste ook gewerk het. Kyk maar nou net na Petrus se pinksterpreek in Handelinge 2. Groot dele daarvan, vertel Lukas, neem Petrus net so oor uit die Psalms. As hy oor Jesus praat, haal hy lang verse uit Psalm 16 en 110 aan. Hy begin sy preek met ‘n lang gedeelte uit Joël 2:28-32.

Nie net Petrus nie. Toe Dawid self Psalm 16 geskryf het, was hy hart en siel daarin. God “leer” hom die paaie van die lewe, hoor ons. Hy het dus God se wil vir sy lewe ontdek. Nou, wanneer hy oor hierdie wil van God skryf, raak dit hom as mens diep. Hy is met sy hele wese daarby betrokke. Die teks is vir hom nie bloot ‘n leë vorm nie. Of ‘n vervelige teksie wat gememoriseer moet word nie. Wat God leer, bring lewensverwagting (vers 26). Dit verander ‘n mens totaal van wanhoop tot hoop. Die wil van die Here gryp diep in jou lewe in en draai dit volledig om. Kyk veral na Psalm 16:8-11: dit is ‘n psalm waarin die skrywer met hart en siel in sy lof van die Here betrokke is. “Daarom is my hart bly en my tong jubel.” Hier praat ons nie van kop-godsdiens nie. Ons praat van hart-sake en lied-gesange. ‘n Tong wat jubel en ‘n hart wat van vreugde sing. En die aanhaling sluit met die aangrypende rede vir die Psalmis se blydskap: “u teenwoordigheid sal my met vreugde vul” (Hand.2:28). Die Psalmis leef in God se teenwoordigheid en dit raak hom hart en siel en tong.

Petrus sing nou na wat die Psalmis oor God sing. Hy dra hierdie Psalm voor aan die Pinksterskare. “Luister na hierdie woorde!” sê hy in Handelinge 2:22. Duidelik leef Petrus uit die Bybel. Dit is waar hy sy preekstof vandaan kry.

Petrus het duidelik hierdie teks dikwels gelees. Saam met die eerste Christene het hulle gereeld die Psalms bedink. Vir hulle was die Psalms boeke wat in Jesus lewe gekry het. Petrus sing dus die Psalm wat Dawid gesing het. Dubbele vreugde – Dawid s’n word Petrus se vreugde! En Petrus se vreugde was so aansteeklik dat mense wat hom hoor praat het, “diep getref” was (vers 37). Die Ou Vertaling vertaal die meer presies: hulle was “diep in die hart getref.” En toe vra hulle, “wat moet ons doen.” Hulle harte en hulle lywe en hulle lewens is deur Petrus se Skrif-uitleg vasgevang in ‘n onomkeerbare proses van vernuwing. Hulle is deur God se woord getransformeer. Só het hulle die Bybel aangehoor: nie as ‘n teksie wat opgesê moes word nie en waarvoor hulle ‘n diploma of ‘n seëltjie moet verdien nie. Maar as ‘n teks wat op hulle beslag gelê het en hulle lewens in ‘n nuwe koers gestuur het. Petrus, staan daar in Handelinge 2:40 het hulle met baie ander “woorde” besweer en vermaan.” “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Dawid se ontmoeting van God, word Petrus se ontmoeting met God, word die Pinksterskare se ontmoeting met die opgestane Here en Messias.

Ons praat in spirituele hermeneutiek van die simbiose tussen teks en leser. Deur die Woord van die Here vir ‘n pinksterskare te lees en te wys hoedat daardie woord in Jesus se lewe ingetrek was, het Petrus die groot geestelike reis aan die gang gesit. Daarom begin hy sy preek met die asemrowende aanhaling uit Joël: die laaste dae is hier. En nou is die tyd om te profeteer, roep Petrus uit. Om die Woord van die Here te spreek, dit is wat hier op die dag van die Heilige Gees gebeur. En almal sal hierdie profesie bring. Nie net die profete nie. Ook die oues en die jonges, die vrouens en die mans. Die Woord van die Here sal in ‘n lewegewende simbiose met alle mense opgeneem word. Hier word die Woord gelees, geprofeteer, gepraat, bedink, ingeneem, herken, toegeëien en uitgeleef. Alles begin waar mense die Bybel lees, dit hardop doen, in ‘n magtige geluid wat die skares van alle kante laat saamstroom (Hand.2:4, 6, 8) en waar hierdie leeshandeling hulle harte diep raak en hulle lewens vir altyd omkeer. Hier sal jy nie ‘n vreesagtige, soekende Bybelstudie (wat beteken die teks nou?) kry nie. Hier is lewe, transformasie, simbiose, toeëiening.

Ek onthou dat ek op ‘n keer iewers gelees het hoedat iemand wat in ‘n tronk gesmyt is omdat hy geweier het om sy geloof te verraai, vir dae lank wreed mishandel is en in eensame aanhouding opgesluit is. Hy vertel na sy vrylating dat hy in daardie donker sel in groot pyn net by sy verstand kon bly omdat hy aanmekaar vir homself gedeeltes wat hy uit die Skrif gememoriseer het, ook as kind, opgesê het.

Dit is eintlik nie so vreemd nie. Paulus, vertel Lukas ons, het in die tronk in Filippi in die middel van die nag Psalms gesing. Die Woord van die Here kan ‘n stukkende lyf en ‘n gebroke gees nuwe lewe gee. Want wie die Bybelteks geestelik lees, word liggaamlik en geestelik deur daardie Woord begeesterd.

Dalk is dit nie so onsinnig om ons kinders “Bybelversies” te laat memoriseer nie. Dit sal hulle dalk eendag meer lewenskrag bring as Michael Jackson se liedjies.

Wednesday, July 08, 2009

Bitterheid.



Ek het gereeld by die voordeur van die kerk mense voor die diens verwelkom wanneer ek nie die diens gelei het nie. Dit was altyd lekker om op die manier met iemand wat jy normaalweg nie sommer raakloop, hand te skud en vinnig ‘n woordjie van geselligheid uit te ruil. En dit is tog altyd ‘n ervaring om te sien hoeveel welwillendhied kom los wanneer ‘n mens tyd gee vir mekaar, selfs vir ‘n paar sekondes by so ‘n eenvoudige ruimte soos die voordeur van ‘n kerk.

Op so ‘n Sondag-oggend kom twee vroue verby my gestap, al pratende. Die een sê vir die ander een, terwyl hulle al geselsende in die kerk instap, met ‘n helder, besonder bitter stem terwyl sy na iemand anders verwys en terwyl ek nog elke woord kan hoor: “Wat daardie vrou aan my gedoen het, is iets waaroor ek haar nooit ooit in my lewe sal vergewe nie.” En met die woorde verdwyn sy die kerk in waar sy die Naam van die Here gaan aanroep, gaan vereer, dankbaar juig oor haar verlossing, die vergifnis van sonde wat sy genadiglik ontvang het en die nuwe lewe van vergewensgesindheid wat God aan die gemeente skenk, in ontvangs gaan neem.

Om een of ander rede is dit woorde wat sedert daardie tyd, nou reeds seker meer as tien jaar terug, gedurig by my spook. Kan ‘n mens in ‘n kerk loop om in ‘n erediens te gaan sit terwyl jy openlik uitroep dat jy willen en wetens ‘n lewe van keiharde onvergewensgesinde bitterheid leef?

Ek dra hierdie voorval in my om, omdat ek dikwels in myself sulke teenstrydighede koester. Gelowiges het die vermoë om ‘n skisofreniese geloofslewe te voer: ons vra om vergewe te word, maar ons skenk nie vergifnis nie. Ons kom na God as mense wat niks het om oor trots te wees nie, maar ons sien neer op ander wat nie aan ons standaarde voldoen nie. Ons sien die splinter, maar mis die balk. Ons verlang daarna om met ontferming behandel te word, maar ons spaar dikwels ander nie ons bitterheid nie.

Jesus het oor die noodsaaklikheid van vergifnis van ander baie helder gepraat. Moenie eers bid as jy weet iemand het iets teen jou nie. Gaan praat die saak uit en dien daarna die Here. En een van sy mooiste spreuke: julle moet bereid wees om sewentig keer sewe te vergewe.

En die Bybel weet dat bitterheid die vrug is van onvergewensgesindheid. Hebreërs 12:15 lui, “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” Efesiërs 4:31, “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedende word nie.” In Romeine 3:14 teken Paulus die onverloste mense as iemand wie se mond vol vervloeking en bitterheid is.

En toe, die week, hoor ek wat Nelson Mandela gesê het: “Die bitterheid wat ons in ons omdra is die gif wat ons dink ander mense sal doodmaak.” Dit het my diep geraak, omdat dit so helder verduidelik waarom bitterheid dodelik is.

Bitterheid is so erg omdat dit self-vernietigend is – en dit terwyl ‘n mens, ironies genoeg, met jou bitterheid die ander persoon wil straf. Bitterhheid kweek by mense griewe en wrokke, terwyl dit in ekstreme gevalle tot wraak-aanvalle lei.

Bitterheid is ‘n bitter swaar vrag wat jy saam met jou sleep.

Bitterheid maak van ‘n mens ‘n onvrye persoon, dit skep in jou gemoed ‘n doodsheid. Jy word ‘n dor mens.

Bitterheid is so 'n sweer in ons tyd dat sommige kliniese sielkundiges al daarvoor pleit dat dit as 'n geestessiekte gediagnoseer behoort te word.

Om nie bitter te wees nie, om niks teen jou naaste te hou nie, is ‘n teken dat jou lewe so vol van God se teenwoordigheid, van God se genesende liefde is, dat daar nie ruimte vir die broei van bitterhede kan wees nie.

Tuesday, July 07, 2009

Die mistiek van vriendskap



Soms wil jy net die pad vat want almal in die huis vryf jou teen die verkeerde kant op. Jou vrou het jou moedeloos, want sy kou en klou vas aan sekere dingetjies en jou kinders jaag jou teen die dakke uit. Nie eers jou ou getroue hond kan jou uit jou bui kry nie. Dis sulke dae dat jy wonder waarom jy dit ooit in jou kop gekry het om te trou, al weet jy goed waarom.

Dit is dan die tyd om met jou goeie vriend te kuier. Jy bel hom, jy los jou vrou, kinders en hond by die huis, klim haastig in jou motor. Julle gaan speel ‘n potjie muurbal of sit op die dorpshotel se stoep en drink ‘n opfrissertjie. En julle praat eers oor vrouens en kinders wat die vrede in jou lewe ernstig bedreig. En as jy stoom afgeblaas het en jy voel al stukke beter, begin julle bietjie ander goed gesels, want dis nou kuiertyd: geldsake, sportsake, politieke dinge, internet dinge en sommer net alles wat in die gedagtes opkom. Vir ‘n salige uur of twee laai jy die batterye voordat jy gedwee en weer met goeie moed huiswaarts keer om jou gesinslewe van vooraf in die oë te kyk.

Wat sal jy sonder jou vriende doen, dink jy soms.

Wilhelm Jordaan skryf in sy Van Alle Kante-rubriek vanoggend oor vriendskap, hoewel bietjie meer bedaard en mooier. Daar is glo mense op Facebook, skryf hy, wat aanspraak maak dat hulle tot 24 000 vriende het.

Hulle moet hulle koppe laas lees, voel ek saam met Willem.

Hoe kan ‘n mens 24 000 vriende hê, behawe in ‘n wêreld wat nie meer weet wat intimiteit is nie?

Deur die eeue, ook in Bybelse tye, was vriendskap een van die hartare van die menslike lewe. Vir die Grieke en Romeine was dit ‘n uitsonderlike ideaal. Van die mooiste boeke in die geskiedenis is oor vriendskap geskryf.

‘n Mens ag vriendskap soos jy hoog dink oor die huwelik of ‘n ouer-kind verhouding. Elkeen van hierdie drie verhoudinge het sy eie intimiteit: Vriendskap het nie die liggaamlike intimiteit van ‘n huwelik of die vertrouensvolle intimiteit van ‘n familieband nie. ‘n Ma is intiem verbind aan haar seun soos met geen van haar vriendinne nie. En ‘n pa se unieke verhouding met sy seun kan in geen ander relasie teruggevind word nie.

Daar is ‘n intimiteit tussen vriende wat nooit in ‘n huwelik gevind kan word nie. Dit is ‘n intimiteit wat gevoed word deur die deel van ‘n gemeenskaplike perspektief, deur wedersydse aanvaarding, deur ontspanne saamwees, maar wat tog ook gedy op tye van afwesigheid, afstand, selfs objektiwiteit. Dit is juis die gereelde afstand, die nie-onder-dieselfde-dak-woon wat perspektief in ‘n vriendskap bring, wat maak dat ‘n goeie vriend met jou kan praat soos niemand anders kan nie. ‘n Vriend kan saam met jou jou irriterende bure of kollega’s by die werk onder hulle dinges skop. Hy bedink soms saam met jou die lang pad van die tyd, van julle ervaringe saam, die sake wat jy nie met ‘n vrou kan uitpraat nie, die kwellinge waarvan jou kinders nie wil weet nie. En met ‘n vriend kan jy die safari aanpak, die jagtog onderneem, die staptog doen of die wedstryd gaan speel.

‘n Vriend is ‘n vriend wanneer hy sommer net by jou kan kom kuier, sonder om eers te bel om te hoor of jy tyd het. ‘n Vriendin is iemand wat die telefoon optel en die dak oor jou kop afpraat sonder om vir ‘n oomblik te dink sy mors jou tyd. En jy is haar vriendin omdat jy bly gesels al hou jou een oog die horlosie teen die muur so af en toe dop.

‘n Vriend is iemand vir wie jy een woord kan sê en julle verstaan dadelik hoeveel wêrelde word deur so ‘n woord opgeroep. ‘n Vriendin is iemand wat vir jou ‘n kort SMS boodskap stuur met jou verjaardag en jy loop weke daarna nog en glimlag daaroor. ‘n Vriend is iemand wat heimlik dink jy koop die verkeerde motor, maar wat jou desondanks en ten spyte van sulke “foute” nogtans bly aanvaar. Vriende is mense van wie jy wil hoor, by wie jy wil kuier, by wie jy gelukkig is, onbedreigd voel, aanvaar word, waardeer word, kortom, by wie jy ‘n soort liefde optel wat die liefde met jou maat of met jou ouers en kinders of jou broers en susters merkwaardig aanvul.

Niks is so lekker as om by vriende te wees, ‘n aandjie te kuier, om die ditte en datte van die lewe en die ditjies en datjies van die dag met mekaar deur te praat nie. Jy hoef nie jou woorde te tel nie, want dieper dinge as woorde borg jul vriendskap. En jy praat ook nie leë taal, slaan-taal nie, want jul word aan mekaar gebind deur goedheid en omgee. Al sê jou woorde soms inhoudelik min en al kan woorde nie altyd groot dinge doen nie, praat hulle van vreugde oor die saam-wees, oor die gedeelde lewe, oor die ervaring van dieselfde gedagtes, die frisheid van nuwe idee’s, die optel in dae van onmoed en swaarkry.

Vir ‘n vriend kan jy jou hart oopmaak sonder om te voel jy waag iets. Jy kan die masker laat sak, die praatjies maar praat. Jy kan verspot wees, die humor diep loop haal, maar steeds met respek, selfs oor die allerheiligste dinge. Jy kan kritiek gee, sonder dat die bloed loop, jy kan ‘n hou op die ken kry sonder dat jy uitpass. Juis omdat vriendskap eerlik is, is dit genesend en blywend.

‘n Goeie vriend kan ‘n mens gelukkig maak. Dit kan soms selfs ‘n huwelik red!

So ‘n vriendskap is skaars en daarom kosbaar. Daarom is die band tussen Dawid en Jonatan, Jesus en Johannes, Jakobus en Petrus, Paulus en Timoteus so opvallend. Dit is selfs in die Bybel duidelik sigbaar dat twee mense nou en liefdevol met mekaar ‘n lewensreis deel wat anders as ‘n huwelik en gesinsverhoudinge is.

‘n Verlore vriendskap is iewers soos ‘n egskeiding. Dit is ‘n kosbare band wat verbreek is. Soms is jy ‘n vriend kwyt om ‘n onskuldige rede – dalk omdat jy op ‘n ander plek gaan woon. Dan dryf omstandighede jou uitmekaar. Soms verloor ‘n mens ‘n vriend omdat hy of sy trou met ‘n maat wat selfsugtig en besitlik is.

Maar soms verloor jy ‘n vriend weens ‘n onbedagsaamheid wat jou in jou hart verwond. Terwyl kennisse en vreemde mense jou kan teleurstel, kan niemand jou verwond soos ‘n goeie vriend dit kan doen nie. Maar uiteindelik sal die vriendskap iewers op ‘n dag begin waar dit opgehou het. Die wonde sal heel en dalk nog die vriendskap verdiep. Kyk maar na Johannes, die man wat saam met die ander dissipels ook van Jesus in verraad weggevlug het. Maar sy vriendskap met Jesus lei uiteindelik tot daardie mistieke, aangrypende evangelie van hom, geskryf deur die “een wat Jesus liefgehad het.” En hy skryf die onvergeetlike Johannes 15: 13-15: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”

Daarmee vertel Jesus ons iets van die mistieke dimensie van vriendskap: in ons vriendskappe, in ons daar-wees vir mekaar, is ons eintlik iewers soos God wat in mense se lewens inwoon. Vriendskap is ‘n gawe van God. Maar vriendskap is meer as dit, ook die teenwoordigheid van God. Want deurdat ons so beskikbaar is vir die ander, doen ons wat God ook doen. Daarom is vriendskap goddelik.

Monday, July 06, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: Oor hardop lees (lectio)

By skoolkonserte en eisteddfodd’s word gedigte “voorgedra” of opgesê. En dit bly boeiend om te sien hoe verskillende mense dieselfde gedig verskillend kan aanbied.

Iemand wat ‘n geskrewe gedig goed kan voordra, help nie net om so ‘n gedig makliker te verstaan nie, maar maak dit ook vir ‘n mens ‘n spesiale ervaring. Rietfontein se leidam is ‘n pragtige voorbeeld van ‘n gewilde gedig wat iemand dan spook-agtig voordra om by die inhoud te pas. Dit word ‘n lekker, “angsaanjaende” ervaring om daarna te luister. As dit baie goed gedoen word, loop jy maar vinnig na die konsert in die donker saam met jou pa en jou ma na die motor. Die gedig se spokerigheid bly jou nog so bietjie bang maak.

Met spesiale geleenthede soos Pase of Kersfees geniet ‘n mens dit net so om na ‘n pragtige stem te luister wat Bybel-gedeeltes voorlees. Om nie te vergeet van musiek wat dit nog mooier maak nie. Dit maak die dag spesialer as ons met woorde, musiek en deesdae selfs met beelde ons kan inleef in die Bybelse teks.

Die Bybel was oorspronklik bedoel om gehoor te word. Min mense kon in Bybelse tye lees. Hulle moes daarom luister na hoe die enkelinge wat kon lees, die gedeeltes vir hulle voorlees. Joodse lesers van die Bybel het meestal in ‘n kring gesit en dan is Bybeltekste hardop aan hulle voorgelees. Jesus se luisteraars in die sinagoge in Lukas 4 het nie Bybels gehad nie. Jesus het ‘n rol geneem en vir hulle hardop daaruit voorgelees. Net so vertel Openbaring 1 vir ons dat dit ‘n boek is wat voorgelees moes word. Dit beteken dat die Bybel eintlik geskryf is om mondelings aangebied te word. As ‘n mens dus die Bybel “hoor”, ontvang jy dit in die medium waarin dit bedink is.

Selfs mense wat wel kon lees, het ook nie stil gelees nie. Hulle het eintlik die teks vir hulself half hardop gelees. Vandag kyk ‘n mens vreemd op as iemand ‘n teks half hardop lees. Ons sien dit eintlik nog net by kinders. Dit is jammer, want op die manier het “lees” dikwels vir ons ‘n brein-saak geword. Dit gebeur daarom nie maklik dat ons “hart” aangeraak word nie.

‘n Teks kry besondere betekenis wanneer ‘n mens dit hardop vir jouself voorlees. ‘n Mens is in die eerste plek daardeur meer betrokke by wat jy doen. Deur ‘n teks te lees, word ‘n mens se brein, tong, mond en jou hele liggaam betrek. Daarom maak dit sin om partykeer die Bybelse teks eers vir jouself hardop te lees. Dit help vir konsentrasie, maar dit help ook om die teks se betekenis uit te lig. Soos ‘n mens lees, moet jy die woorde weeg voordat jy hulle uitspreek. Kyk byvoorbeeld die sinnetjie: Ek loop deur die huis. Vyf mense kan die sin verskillend lees – “ek” loop deur die huis, ek “loop” deur die huis, ek loop “deur” die huis, ek loop deur “die” huis, ek loop deur die “huis” gee iets van die effek deur: elkeen van die vyf sou eintlik iets anders kon sê deur die klem te plaas op die woord wat tussen aanhalingstekens is. En dit alles gebeur net omdat die teks hardop gelees word.

Bybellees is daarom nie so eenvoudig soos wat dit klink nie. ‘n Mens moet maar goed oplet hoe jy “lees.” Dit kan nogal ‘n wêreldse verskil aan jou godsdiens maak. Dit kan ‘n Bybelse teks op ‘n spesiale manier vir ‘n mens laat lewe.

Ek het voorheen hier geskryf oor die leeshouding wat pas by 'n geestelike lees van die Bybel. As 'n mens die regte instelling het, naamlik dat die Bybel 'n transformerende godsdienstige boek is, is die vraag wat dan? 'n Regte leeshouding word opgevolg deur die eenvoudigste leeshandeling: naamlik om die teks reg te "lees". Lank voordat 'n mens die teks begin verstaan, moet jy dit eers goed hoor. En om dit goed te hoor, moet jy dit hardop lees.

Dit is interessant dat hierdie eerste stap later weer oorgedoen kan word. Dikwels gebeur dit dat 'n mens die Bybel oordink en beter verstaan. As 'n mens dan teruggaan na die teks, sal dit soms beteken jy lees dit anders as wat jy dit aan die begin gedoen het. Maar waar hierdie stap ook al inpas, die verstaan van die Bybel begin altyd eers by die eenvoudigste van alle stappe: om dit duidelik te lees.

Sunday, July 05, 2009

Belangriker as God se gawes

Ons verhouding tot ander mense word dikwels bepaal deur wat hulle vir ons kan “doen.” Ons maak veral moeite om met mense vriende te bly wat vir ons iets voordeligs kan inbring. Ons kan lank vriende met iemand wees, saam met iemand in ‘n kantoor werk, in ‘n span speel, sonder dat ons daardie persoon werklik ken.

Op ‘n dag word iemand vir ons ‘n persoon wanneer ons iets van hom of haar self raaksien. Gewoonlik kom dit as ‘n verrassing, ‘n onthulling en word ons eintlik lief vir daardie een.

Ek dink hieroor na nadat ek in die Cloud of Unknowing ‘n gedeelte oor ons godsdiens lees (sien vorige blog). Ons dink dikwels oor God se seëninge. Ons kyk na die mooi natuur, geniet dit en dink, “God is goed.” Dit gaan goed in ons gesin, ons voel dankbaar oor ons voorspeod en ons dink: “God seën ons ryklik.” Ons dink aan al God se toekomsbeloftes, aan God se genade, aan Bybelse beelde soos die engele, die paradys, die hemel.

Ons kan God se seëninge raaksien. Maar ons kan God miskyk en misleef.

Hierdie insig in the Cloud of Unknowing tref my en bring ‘n verdieping in my geestelike reis: Hoe kom ek op die punt dat ek voor God en voor God alleen te staan kom? Ek wil nie net oor al die goeie dinge van God dink nie. As ek alles wat mooi is onthou en raaksien en begin bepeins, dan moet dit my verder neem na die Een wat agter die mooi is en leef. Ek moet van die goeie gawes na die Gewer self kan beweeg. Ek kan sing oor al die goeie gawes wat van die hemel neerdaal, maar dan is my aandag by die gawes. En vergeet ek dalk die belangrikste: dat ek eintlik God moet aanbid.

Die is soos liefde vir jou ouers. Jy kan dankbaar wees vir alles wat hulle vir jou gedoen het. Al die opofferings wat hulle gemaak het om jou te bring waar jy is, waar jy ‘n eie salarissie verdien, ‘n eie huis besit, ‘n motor kan koop, jou kinders kan grootmaak. Maar al hierdie goed maak nog nie jou pa of jou ma nie. As jy op jou eie bene staan en jou eie lewe voer, dan het jy in elk geval al die gawes wat jou pa of jou ma vir jou kon gee. Maar as jy hulle nie meer het nie, dan mis jy hulle. Want dit is nie soseer wat hulle vir jou gegee het wat saak maak nie, maar wie hulle in jou lewe is. Hulle liefde, belangstelling, geduld, maar veral net eenvoudig hulle daar-wees vir jou. Ag, dink ons, as ek maar net nog ‘n keer by my pa of my ma self kan wees. Net hulle teenwoordigheid kan beleef.

Ons moet oor God op dieselfde manier dink. Ons moet verby al God se gawes kan kyk na wie God self is. En ons moet weet dat sonder God is al God se gawes eintlik sinloos. As ons so verlang na ons ouers, feilbaar en maar menslik, omdat ons by hulle tuis, veilig en geborge gevoel het, hoeveel te meer nie by God nie.

Wat ons moet soek, is die teenwoordigheid van God. Soms is dit daarom ook goed as ons sonder al die goeie dinge moet klaarkom. Want dan ontdek ons dat ons nog baie, baie oor het.

Paulus het dit duidelik vir ons uitgewerk: wat tel is nie wat ons het of wat ons het or alles wat ons verloor nie. Wat tel is God se liefde. As ons by God is, in die liefde, by God self, is ons veilig. Niks, hoe hoog, hoe diep, wie ook al, sal ons kan wegvat van die God van Liefde nie.

Die mistikus soek nie meer na gawes nie. Die mistikus sal selfs die goeie dinge prysgee as hulle die teenwoordigheid van God verduister.

Wat saak maak is nie wat God aan ons gee nie, maar wat God is. Niks mag ons hiervan wegneem nie. Ons mag nie eers toelaat dat God se seëninge ons oë wegneem van God self nie.

The Cloud of Unknowing 5 sluit so af: “Hoewel dit goed is om na te dink oor God se goedheid en God daarvoor te loof en prys, is dit veel beter om oor God te dink oor wie God is en om God te loof en te prys omdat God God is.”

Om oor God te dink, te bly dink, verby al die goeie gawes en seëninge, het ‘n duidelike geestelike invloed op ons. Ek kyk nie meer na God se hande, wat ek uit daardie hande kan ontvang nie, soos ‘n bedelaar nie. Ek kyk in God se oë. Ek staan voor God, van gelaat tot gelaat. En ek woon dan in volmaakte liefde, met niks wat tussen God en my skeiding maak nie.

Saturday, July 04, 2009

Die belangrikste van alles




In hierdie tyd word iemand wat sewe maande swanger skielik siek. Sy verloor vog en moet nou vir twee maande tot met die geboorte van die baba in die bed bly. Sy mag nie beweeg nie. Sy moet uit die werk bly, haar salaris prysgee en met groot pyn saamleef om die kindjie se lewe te beskerm. Al die duisende dinge wat haar aan die gang gehou het, word nou tot stilstand gebring ter wille van die kwesbare lewe van ‘n ongebore kindjie. En dit doen sy met totale toewyding. Wat nou vir haar as die moeder regtig saak maak, is dat die kindjie veilig en gesond gebore word. Die diepste begeerte in haar lewe is nou die wonderbare lewe wat sy in haar omdra.

‘n Mens staan verwonderd voor hierdie groot verborgenheid: hoe kosbaar die lewe is en hoeveel mense sal opoffer ter wille van so ‘n kindjie se lewe. Die ma se verlange om die kindjie veilig te versorg, transendeer nou alle ander dinge waarmee sy besig sou kon wees. Haar hele lewe word geïntegreer deur die welsyn van die baba. Al haar behoeftes, begeertes en belangstellings word nou saamgebind deur haar moedersinstink en haar moederliefde. Sy gee alles prys en stel haar nou totaal op net een ding in.

So gaan dit met ons lewens: alles wat ons in ons daaglikse besige program doen word deur sekere diepere behoeftes en verlange getransendeer. Alles wat ons doen word saamgebind deur hierdie diep verlange. Sekere dinge is maar net belangriker as ander. Ons verlange na God is vir mense so ‘n alleroorheersende saak. Ons hele lewe, voel ons, vind net rus wanneer ons in verlange na God kan gaan en deur God se liefde heelgemaak word – al kos dit soms pyn en al moet ons soms baie dinge prysgee. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar hierdie verlange bly by ons spook. Dit is die verlange na die Lewe en die Liefde. Daarsonder kan ons nie. Wie sonder liefde is, verloor sy of haar menslikheid en word hard soos ‘n klip, leweloos en ongevoelig.

Dit is die groot verborgenheid: God woon in liefde in ons, soos ‘n fetus in die moeder. Net soos ‘n biologiese ma alles prysgee en alles inrig op die baba, net so vind ons alleen vrede as ons ons verlange na God kan stil en ons hele lewe deur God se liefde vervul kan word. Net soos wat ‘n ma pyn verduur solank as wat die baba maar veilig is, so kan ons ook baie dinge prysgee as ons maar net by God kan wees.

Hoe weet ons dat ons lewens alleen tot rus kan kom as ons na God uitreik? Ons hart sê dit vir ons: ons bly onrustig, maar as ons in stilte en eenvoud by God is, dan kom ons hart tot rus. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar ons kan nie sonder die Liefde leef nie.

Dit is dan mistiek: dat ons menslike gees verlang na dit wat werklik saak maak en dit wat al ons begeertes tot vervulling bring – na die hoogste transendensie en die hoogste integrasie. Ons staan verwonderd en met eerbied voor hierdie totale verborgenheid wat ons nie met ons verstand kan peil nie. Ons ervaar hoe ons in eenheid met ‘n liefdevolle God verbind word en ons wéét alles wat ons het en wat ons ervaar wil ons prysgee om naby God te kan wees. Ons wy ons hele lewe aan God en ons word deel van en deursyfer van die Liefde. Dit maak van ons mense, mense met warm, kloppende harte van liefde wat omgee.

Heel eenvoudig gestel: die mistieke ervaring is wanneer ons in eerbied en met ‘n diepe vrede voor die wonder van alle wonders staan – dat God in ons woon. Ons staan voor God, die Liefde, en ons wil ons wy, volkome oorgee aan die Liefde sodat die Liefde in ons kan woon en deur ons stroom. Hoe aaklik sou die wêreld nie sonder hierdie Liefde wees nie! Dit sien ons baie keer. Maar net so dikwels, gelukkig, sien ons ook hoedat hulle wat in die Liefde woon, die onmenslikheid op ons wêreld verdryf.

'n Pa en 'n seun



Ek raak onlangs geïnteresseerd om meer te weet van Ricardo Izecson dos Santos Leite, die Brasiliaanse sokkerspeler, of, beter bekend as Kaka wat lank vir AC Milaan sokker gespeel het en nou gaa aansluit by Real Madrid (vir 59 miljoen pond!). Ons was aan sy voete toe ons die wêreldbeker in Duitsland gereeld gekyk het.

Hy is seker een van die beroemdste mense op die planeet want hy word deur vele mense as die beste sokkerspeler gereken. Hy het in 2007 juis Fifa se toekenning as sokker speler van die jaar ontvang. En, word vertel, nadat hy dit ontvang het, het hy op die vliegtuig geklim, na Sao Paulo in Brasilië teruggevlieg en die beker in sy kerk se hoofkantoor laat uitstal.

Kaka het ‘n eenvoudige lewensstyl. Hy is getroud met sy jeugliefde en hulle het ‘n kindjie. Hy jaag nie vroue nie en geld is blykbaar vir hom nie ‘n obsessie nie. Trouens, hy gee ‘n tiende aan die kerk. En hy bly beskeie: hy wil, sê hy, nie die nommer 5 trui by Real Madrid dra nie, want dit was Zidane s’n en dit word te groot verantwoordelikheid op hom as hy dit nommer gaan dra.




Net so indrukwekkend eenvoudig is speelstyl wat mense liries maak. Niks se fieterjassies en aansittery op die veld nie, bewonder die kenners hom. Hy is daar om sokker te speel en doen dit met oorgawe. Anders as Cristiano Ronaldo probeer hy nie allerhande slim bewegings, truuks en draaitjies nie. Hy speel vinnig, op die man af en met waagmoed. Mense sê daar is niks onnodigs en ekstra in sy spel nie. Maar dit is veral sy intelligente spel wat beïndruk. Die man is duidelik ‘n stuk goue talent.

Maar wat hom veral beroemd maak is sy openlike getuienis oor sy geloof voor skares van toeskouers en televisie-kykers. Hy is ‘n toegewyde Christen wat nie skaam is om openlik op die veld te bid of op sy hemp godsdienstige spreuke te dra nie – soos bv. “Jesus loves you.” Elke keer as hy ‘n doel skop, weet die toeskouers teen die tyd al, beduie hy boontoe as ‘n teken van dankbaarheid aan God. En almal weet ook goed dat op albei sy skoene geskryf is “God is getrou.”

En dit is vir hom duidelik nie net vroom praatjies nie. Hy dink blykbaar nogal diep oor die goed. Toe ‘n bekende joernalis hom vroeër vanjaar vra of sy lewe nie maar vervelig lyk in vergelyking met die vinnige lewensstyl van die ander sokkerspelers nie, het hy geantwoord dat dit nie vir ‘n oomblik vir hom ‘n kwessie is nie. Hy dink eerder hy is die een wat ‘n radikale lewensstyl het. Hy het, sê hy, waardes en sy geloof – en in sokker en in ons wêreld, voeg hy by, is dit ‘n radikale ding!

Die groot omwenteling, vertel Kaka self, het vroeg in sy lewe gekom. Hy het in Oktober 2000 as ‘n agtienjarige seun in ‘n watergeut in ‘n swembad afgegly en teen die bodem vasgeduik. Hy het ‘n rugwerwel gekraak, maar tog ten volle herstel. Hy vertel graag dat die dokters gesê het hy was “gelukkig” om dit te oorleef. Hy self skryf dit toe aan God se ingryping in sy lewe. Sedertdien gee hy ‘n tiende aan die kerk.

Ek wonder tog by myselwers of ‘n mens uit sy gepraat nie ‘n bietjie dieper moet kyk nie. Hy vertel self dat dit sy pa was wat gepraat het van God se genade in sy herstel na die swembad-ongeluk. En as ‘n mens sy lewe nagaan, sien jy die groot teenwoordigheid van sy pa, ‘n ingenieur, in sy lewe. Oral wanneer belangrike dinge met hom gebeur, is sy pa daar om raad te geen en hom by te staan.

Miskien is die grootste gawe wat hy van God ontvang het, ‘n pa wat sy seun liefhet. En hier sien ‘n mens hoe iemand wat in ‘n gesonde, liefdevolle omgewing groot word, ‘n lewe van eenvoud kan voer – selfs al is hy die grootste naam in wêreld sokker.


Friday, July 03, 2009

The cloud of unknowing. Oor 'n klasieke teks met 'n mistieke liefdesfokus

Wanneer word ‘n mistieke teks ‘n klassieke teks? As mense van geslag tot geslag dit bly lees. Die Navolging van Christus deur Thomas a Kempis is klassiek omdat dit nog steeds vertaal en gelees word. Nog so ‘n werk is The Cloud of Unknowing (Die Wolk van Nie-kennis of On-kennis) geskryf tussen 1350 en 1380. Ons weet nie wie die skrywer is van hierdie boek wat so ‘n reuse-invloed in die geskiedenis van spiritualiteit gehad nie.

Dit is ‘n boek wat treffend oor gebed praat. Die skrywer moedig mense aan tot gebed sonder woorde – wat ‘n mens amper aan die beroemde Jesus-gebed laat dink. In hoofstuk 8 van die boek skryf hy dat ‘n mens jou hart moet ophef in verlange na God. Daarvoor moet ‘n mens ‘n kort woord kies. Hoe korter hoe beter. Eintlik moet so ‘n woord nie langer as een lettergreep wees nie, byvoorbeeld “God”. Of ‘n kort woord soos “liefde” (in Engels “love”). ‘n Mens moet hierdie woord gedurig in jou hart vashou. Die woord inspireer jou, beskerm jou, herinner jou en gee jou die antwoord waarna jy hunker. Dit word amper ‘n skild teen alles wat jou gedagtes oor God afbreek. Dit is nie ‘n woord wat jy kies omdat jy oor die woord wil nadink nie. Jy ontleed nie die woord met allerhande slimmighede nie. Jy hou vas aan die woord om alles wat negatief op jou wil inwerk uit te ban. Op die manier word gebed jou brug na God, jou oop-wees vir God se ervaring en is ‘n gebed meer as iets wat jy doen net ter wille van gebed. Dit is 'n belangrike korreksie op 'n houding dat 'n mens God met baie woorde moet ompraat om vir ons goeie dinge te gee.

In hierdie boek is twee dinge belangrik:

1. Die hoogste van alles in mens se lewe is om met God in liefde verenig te word. Vereniging met God beteken nie vir hom dat die mens vergoddelik word nie. Hy verstaan dit eerder in Bybelse sin dat jy deur God in jou innerlike aangeraak word. Vir hom is ons eenheid met God nie ‘n verstandelike ding nie, hoe belangrik ook al kennis is en hoe dit ook al ‘n gawe van God is. God is juis dan ver bo ons verstand verhewe. Waar God is, kan ons verstand nie bykom nie. God woon in die wolk van nie-kennis, van nie-wetendheid. Ons moet met God verenig word deur in hierdie wolk van nie-wetendheid in te gaan.

2. Ten nouste hang hiermee die ander aspek saam wat hy in hoofstuk 43 beskryf: om met God een te word, beteken dat ‘n mens in God se liefde moet bly. Liefde word in genade aan ‘n mens deur God gegee. Juis daarom wil ‘n mens alles afsterwe en jou alleen op God instel. ‘n Mens moet dus in ‘n wolk van vergetelheid intrek deur alle aardse bindinge af te sterwe en te ontgroei. Al jou kennis en ervaring oor jouself is eintlik nietig en staan net in die pad van jou ervaring van God se liefde. Hoe kan jy God in liefde ontmoet as jy gedurig oor jou eie dinge nadink of daarmee besig bly? Sterk skryf hy: ‘n Mens moet eintlik jou aardse bande onder jou voete vertrap. ‘n Mens moet, skryf hy, selfs die dinge wat jy vir God gedoen het, vergeet. Pragtig, eenvoudig en prakties voeg hy by: “Die mens wat volmaak lief het, het dit wat hy lief het meer lief as wat hy homself lief het. ‘n Mens haat jouself in ‘n sekere sin ter wille van dit wat jy lief het.” ‘n Mens moet alle gedagtes en begeertes in jou verag as dit nie God is nie. ‘n Mens moet nie eers toelaat dat gedagtes oor jou eie bestaan tussen jou en God te staan kom nie.

The Cloud of Unknowing staan in die tradisie van die "apofatiese mistiek" van Dionusios die Areogpagiet. In hierdie vorm van mistiek wat "verby woorde" beweeg, beklemtoon die mistikus veral dat mense God nie kan ken nie. God is ver verhewe bo ons menslike verstand en ons beperkte menslike taal kan God nooit in woorde vasvang nie. God is immers die Skepper en daar is ‘n radikale verskil tussen God as Skepper en die mens as die geskapene. In hierdie boek kry ons ‘n vorm van mistiek wat die transendensie van God ernstig opneem (God wat verhewe is en uitgaan bo die menslike bestaan).

Dit beteken glad nie dat ons van God afgesny is nie. Ons kan juis een word met God. In die geval van die Cloud of Unknowing word, aangrypend, geskryf dat die mens God deur die roeringe van die liefde kan ervaar. Hier leer ons ‘n vorm van liefdesmistiek ken. Dit is juis wat hierdie mistiek so aantreklik maak. Dit vertel vir ons van die onoortreflike liefde van God wat, soos in die Verlore Seun gelykenis, liefdevolle verhoudings moontlik maak.

‘n Mens moet die Cloud of Unknowing in sy tyd lees as ‘n boek wat die kontemplatiewe mens wil begelei om die eenwording met God eg te beleef. Dit waarsku teen misplaaste vroomheid wat in die ekstatiese en in allerhande emosies belangstel en dan die belangriker dinge mis. Dit leerweer 1 Kor.13 se uitsprake dat die taal van die liefde groter is as die taal van glosssolalie of selfs van engele.

Dit is nie ‘n boek wat vir die gewone mens ‘n program vir die lewe wil uitwerk nie. Daarom praat dit nie oor die ligaam, oor ‘n mens se natuurlike begeertes en seksualiteit nie. By sommige mense kan hierdie fokus ‘n negatiewe houding teenoor jou liggaam bevorder. Die skrywer wil juis nie die daaglikse praktyk afmaak of as minderwaardig skets nie. Maar hy besef iewers te goed hoe verganklik die liggaam is, hoe gou is die materiele verby. Hy weet, in die lig van God se ewige liefde, dat daar dinge is wat baie groter en dieper is as al ons aardse bedrywighede. Dit is sy fokus. En dit is 'n boodskap wat vir ons tyd baie kan beteken.

Die skrywer is wel ‘n kind van sy tyd, maar hy stel eintlik veral belang in aanskouing van God, in heiligmaking en in gebed. Hy kom uit ‘n tyd van die Engelse mistiek uit die veertiende eeu toe mistieke skrywers gewaarsku het teen ‘n tendens dat liefde tot die ander ‘n mens se liefde tot God kan aantas. Hierteenoor fokus hy baie sterk op liefde tot God wat so ver bo ons verhewe is. Dit is ‘n belangrike fokus en in lyn met die Bybelse boodskap oor God. Ek het dikwels die gevoel dat ons hierdie boodskap dringend vir ons geloofsreis vandag nodig het.

Thursday, July 02, 2009

Om nou voluit te leef...

In ‘n meningsopname het meer as 60% mense gesê hulle glo aan wesens uit die buitenste ruimtes. Onder die terugvoer was daar ‘n opmerking van iemand dat niemand kan twyfel aan die bestaan van wesens uit die buitenste ruimtes as hulle eers van sy kollega’s by die werk ontmoet het nie....

Lekker so ‘n sin vir humor. ‘n Ander meer aardse gesegde tel ek onlangs op by Shuttleworth, ons eie bekende miljardêr wat so met albei sy voete op die grond staan. Dit boei my om te sien hoe hy hom instel om mense te bemagtig deur allerhande vindingryke dinge. Sy werk by die oopbron-sagteware is ook indrukwekkend. (The Free High School Science Texts project is funded by the Shuttleworth Foundation and run by a committed team of volunteers. It is aimed at developing and disseminating free and open textbooks and supporting materials for use in the teaching of Science and Maths for grades 10-12, based on the South African school curriculum. Kyk o.a. die webwerf: http://www.shuttleworthfoundation.org/our-work/open-and-collaborative-resources/projects/free-high-school-science-texts.)

Een van die kosbaarste geskenke wat ‘n mens aan jou kinders kan gee en een van die edelste dinge wat ‘n mens kan doen is opvoeding – en dit is duidelik ‘n groot droom van die Shuttleworth Stigting. Ek is daarom geïnspireer deur Mark Shuttleworth se manier van dinge doen.

Maar my eintlike punt is dit: Shuttleworth sê iewers in ‘n onderhoud dat hy nie groot drome het vir ‘n indrukwekkende nalatenskap nie. Hy motiveer dit heel eenvouding: oor honderd jaar weet niemand meer wie Shuttleworth is nie.

Wat my laat wonder: selfs al het ‘n mens ‘n reuse nalatenskap, ‘n roemryke naam, ‘n Moeder Teresa-reputasie, wat baat dit?

Wat my laat besef hoe kosbaar die lewe nou is. Watter verskil maak jy nou – hier, in mense se lewens.

Miskien is die humor oor jou werkskollega’s iets om oor na te dink. Ons hoor van ondraaglike spanning tussen mense in die werk, onderlinge kompetisie, korrupsie, jaloesie en baie ander negatiewe dinge. Mense sien uit na die “goue jare” van hulle aftrede omdat hulle so keelvol is vir die swart jare van hul werk saam met ander.

Kan ‘n mens so na ‘n leë toekoms leef? Moet ‘n mens nie juis dan ‘n edele doelwit jaag hier en nou waardeur ‘n mens ander se lewens verryk eerder as vermy nie?

Ons toekoms is uiteindelik by God en by God alleen. Ons hoef nie ‘n reputasie te hê om uiteindelik in God se liefde te rus nie. Maar wie nie God se liefde nou beleef en uitleef nie, gaan mos nie God se liefde kan herken as dit in die stil toekoms van die groot herontmoeting aan hulle gegee word nie?

Daarom is die mistiek so belangrik: dit leer ‘n mens om ingeënt te bly in God se oorweldigende liefde wat ‘n mens laat uitreik na ander in liefde.

Miskien sê Shuttleworth op ‘n nie-godsdienstige manier iets waaraan godsdienstige mense bietjie meer moet kou. Tyd om dan dieper na te dink en nader te leef aan die Buite-ruimtelike Wese, een wat Liefde is, wat ons besiel om met al die “marsmannetjies,” die lelike skepsels in ons werk en in ons huise in ‘n liefdesverhouding te leef.

Wednesday, July 01, 2009

Die mistieke liefde inspireer en transformeer

Die hart van die mistiek is die liefde. ‘n Mistikus is iemand wat deel kry aan die opwindende liefdesverhouding van God met die mensdom. ‘n Mens staan in verwondering voor God wat liefde aan jou skenk en wat jou in staat stel om lief te hê. Watter voorreg om te voel jy word bemin en met watter verbasing kom ‘n mens agter hoe jy deur liefde self teenoor ander kan leef.

Dit klink alles goed. Maar om van die liefde te weet is nog nie om uit die liefde te leef nie. ‘n Mens moet jou oorgee aan God se oorweldigende liefde, want dit is waaroor die lewe werklik gaan. Ons bestaan is te danke aan die goddelike liefde. Ek moet my hart instort in God se liefde, dit oopstel dat hierdie liefde volledig in my kan kom woon. Ek moet my verlustig in wat God aan my gee.

As ek die liefde my eie maak, doen dit iets radikaals aan my. Dit is deur die goddelike liefde dat mense en gemeenskappe radikaal getransformeer word. As ‘n mens jou in God se liefde verloor, wanneer ‘n mens besef God in sy grootheid stort liefde oor jou uit, dan verbind dit jou op ‘n intieme manier met ander mense. Die groot mistici van alle tye was mense wat in liefde uitgereik het na ander. Andrew Murray wat ‘n lewe van eenheid met God gesoek het, was terselfdertyd iemand wat op Wellington belangrike onderwys-kolleges opgerig het en wat sterk betrokke was by die verkondiging van die evangelie. Andrew Murray was nie net iemand wat iewers in ‘n kamertjie mistieke boeke gesit en skryf het nie. Wat in sy binnekamer gebeur het, het sy omgewing drasties verander.

Ons kan nie God se liefde opsluit in ons hart nie, in ons kerke, in ons binnekamer of in ons gedigte of liedere nie. God se liefde neem ons saam in die wêreld in.

‘n Mistikus staan verwonder oor die krag van God se liefde in sy of haar lewe. In my, met al my beperktheid, my gebreke en my eenvoudigheid, wil God innige liefdesgemeenskap hou. En God wil my insluit in die groot liefdesgemeenskap wat God onder alle mense en in hierdie wêreld wil oprig. Die mistiek maak van my nie ‘n selfsugtige, hooghartige mense wat liefde in my opsluit nie. Dit maak my ‘n mens van liefde wat deel word van ‘n omvattende liefdesbeweging.

Daarom kan ‘n mens elke dag net iewers verbaas bly staan: om te dink, om te dink dat God mý lief het, óns lief het en dat hierdie mense rondom my aan my gebind is deur God se eindelose liefde!

Blog Archive