Friday, July 16, 2010
'n Boekvol genade. Bybelstudie oor Openbaring (5)
Openbaring, ontdek ons sommer aan die begin, is ‘n boek wat die sleutel tot geluk hou.
Dit is ‘n boek wat “gelees” en “gehoor” word. Dit is woorde wat daarop wys dat die boek binne die byeenkomse van gelowiges geplaas word: mense gaan op ‘n Sondagoggend, die dag van die Here, as deel van die eredienste van die gelowiges sien hoe die boek oopgemaak en gelees word.
Sewe gemeentes sal daarna luister. En herhaaldelik weer daaraan aandag gee. Soos die ander boeke van die Bybel wat keer op keer beluister word, is hierdie ook ‘n “profesie” wat heilig is en in die versameling van die heiliges aangehoor word.
Die boek hoort in die liturgie, in die erediens. Daar waar mense bymekaar is rondom God se woord, lees en luister hulle ook hierdie woord. En neem hulle dit ter harte...
Deur dit in hierdie ruimte van die heiliges te plaas, kry die boek ‘n spesiale karakter. Dit word ‘n heilige boek.
Johannes het groot drome vir sy profesie. Hier, in sy boek, praat God met gelowiges in die plek van aanbidding. Daarom sou hy die boek ekstra versigtig skryf: hy het geweet mense gaan daarna luister en hy wou gehad het hulle moet dit goed verstaan.
Hoe versigtig hy is, merk ons selfs uit die manier waarop hy in hierdie inleidende opmerking oor sy eie boek praat. Hy doen dit as ‘n saligspreking: “Salig is hy wat lees en hulle wat hoor...” In Johannes se boek is sewe as simbool belangrik (seëls, trompette, bakke, engele). En hierdie saligspreking is een van sewe wat op belangrike plekke voorkom (sien ook Open.14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7, 14). As die eerste een van die klomp, is hierdie een spesiaal. Sewe keer, dus, wil Johannes met sy lesers oor geluk praat. En die eerste keer wil hy hulle daarop wys dat geluk in sy boek te vinde is.
Johannes het op ‘n dag sy visioene gehad. God het toe met hom die verborge dinge oor wat moet gebeur, gedeel. Nou skryf hy die visoene neer. Versigtig, nadenkend, beplannend bring hy sy boodskap na mense. Maar hy wil ook sorg dat dit reg ontvang word. Hy stel sy lesers in op wat vir hulle wag. Hulle ingesteldheid, weet hy goed, is deurslaggewend. As julle, skryf hy eintlik, hierdie boek optel, gaan dit om ‘n lewensbelangrike saak. Hy weet dat hulle sal besef dat hulle daarom met spesiale aandag moet luister.
Maar hoe verstaan ‘n mens die saligspreking inhoudelik?
Deur die saligspreking word die leser en die hoorder direk by die boek betrek. Die boek is nie sommer in die algemeen geskryf vir mense se vermaak nie. Dit is nie ‘n vryblywende boek nie. Dit gaan om ‘n boek wat ‘n verskil maak aan hulle wat dit lees en hoor. Die leser word by die teks ingetrek. Die boek met die profesie, met God se woorde, is ‘n transformatiewe boek. As ‘n mens daarmee te doen kry, sal dit jou lewe omkeer.
‘n Mens wat God hoor en fyn luister, sal nie onaangeraak kan bly nie.
Maar méér gebeur, want Johannes maak duidelik waartoe ‘n mens getransformeer word: die leser en die hoorder word getransformeer tot geluk. Hulle ervaar God se genade. Die hartseer, onsekerheid, vyandigheid en twyfel van die tye waarin hulle hul bevind, word deur die boek omgekeer. Daar is nie twyfel nie – hierdie profesie wil mense in God se sfeer van genade intrek. Wie sy hart aan God skenk, sal genade en vrede ontvang.
‘n Mens kan jou indink hoe mense in daardie eerste dienste hulle ore gespits het. Ons trane vloei, ons harte is stukkend, ons vra wanneer gaan God gehoor gee. En dan hoor ons op so ‘n somber Sondagoggend: gelukkig kan julle wees.... God is naby met ‘n boekvol genade.
Thursday, July 15, 2010
Nuwe tye bring 'n nuwe verstaan van God? Oor die godsbeeld in spiritualiteit
Kees gee vir my vanmiddag die boek “De Spiritualiteit van Titus Brandsma”, geredigeer deur hom en Frans Maas. Die sub-titel is “Hoe de tijd ons Godsbeeld bepaal.” Dit is ‘n boek waarin Titus Brandsma, Piet Schoonenberg, Frans Maas en Kees Waaijman nadink oor hoe ons beeld van God ten nouste saamhang met die tyd waarin ons leef.
Brandsma wys byvoorbeeld hoedat God in die vyftiende eeu veral deur uiterlike vertoon gehuldig en vereer is. Dit is, wat hy noem, ‘n “sosiale godsbeeld.” Mense wou God heel positief uitbeeld op ‘n mooi en verhewe manier. Oral is voorstellings van God uitgestal en sien ‘n mens beelde van God – in die kerk, in huise, maar ook op straat. Die samelewing is verchristelik op so ‘n manier dat almal God van God kennis moes neem, vir God moes dien en deur God beïndruk moes word. Dit was die tyd van die aflate en van bedevaarte, van allerhande uiterlike handelinge waarmee mense hulle godsdiens ingeklee het. Hierdie dinge het soms wonderlike bedoelings en funksies gehad. Daarmee het egter langsamerhand die innerlike band met God, die verinnerliking van die mens se verhouding met God op die agtergrond geraak.
Met verloop van tyd het mense die Godsbeeld se beperkinge begin aanvoel. As ‘n mens God op sulke uiterlike maniere vereer, het mense begin besef, moet dit gedurig gekoppel bly met geloof en vroomheid. As gevolg hiervan word God nou al hoe meer gesien as die God wat gees en waarheid is en as God wat in gees en in waarheid gedien wil word. Klem word nou gelê op die mens se diens van toewyding aan God. God is die Bruidegom wat aan die kom is na die mens en vir wie se koms die mens gereed moet wees. Navolging word ‘n belangrike begrip (soos in die moderne toewyding).
Nog later, met die Protestantisme, verdwyn die fokus van God wat gedien moet word en word God uitgebeeld as die Een wat die mens uitverkies, begenadig en bekragtig tot die goeie. Wanneer iemand die goeie doen, is dit ‘n teken van die uitverkiesing. God word nou ‘n strenge, verhewe Regter wat ontsag by die mens oproep. Terwyl die mens nietig en klein is, is God die verhewene.
Dit is maar enkele opmerkings uit Brandsma se heelwat langer bespreking. Ek sit terug en wonder hieroor: Brandsma begin sy bespreking deur te vertel hoe besorgd hy is oor die toenemende verwerping en uitbanning van God (en dit in 1932!). Mense wil al hoe minder van God weet en is doelbewus daarop uit om alle spreke oor God uit die maatskappy te verban. ‘n Mens, sê hy, kan nou probeer om die Godsbeeld te verdedig en allerhande apologieë daarvoor aan te voer.
In só ‘n tyd moet ons eerder bloot net nadink oor wie God is, sonder om te apologeties te wees. Het ons genoeg oor God nagedink? En dink ons genoeg daaraan om só oor God te praat dat mense wat “sieklik verblind” is vir God dalk deur ons nadenke en ons verstaan van God aangespreek sal voel?
Die beeld van God kan nie maar in een tyd gefinaliseer word nie. Daar is ‘n rykdom in die baie maniere waarop ons oor God kan praat. Al die wysheid van die verlede kan ons denke oor God nie uitput nie. “Nuwe tye vra nuwe vorme.”
Hierop kan ons nou terugsit en redeneer: ons tyd sal wel op een of ander manier nuut oor God dink. Ons moet maar net geduldig wees en dinge in daardie rigting laat ontwikkel. Kom tyd, kom raad.
Die beter manier is om eerder bewustelik hieroor na te dink en in gesprek te tree oor dit wat intuïtief in ons tyd aan die gebeur is. Dit kan ‘n mens juis doen deur byvoorbeeld na te dink oor hoe God deur die eeue heen bely, ervaar en verstaan is. Dit is juis boeiend dat deur die tyd heen ‘n sekere verstaan van God deur ‘n volgende geslag van gelowiges aangepas word omdat hulle bewus geraak het van eensydighede of gebreke in die manier waarop ‘n vorige geslag oor God gepraat het. Die geskiedenis kan ‘n nuttige verstaansinstrument word.
Ek lees hierdie opstel van Brandsma met belangstelling. Aan die een kant herken ek baie van wat hy skryf reeds in Bybelse tekste. Die afstandelik (gebrek aan?) verstaan van God in Prediker is duidelik die teenpool van byvoorbeeld God wat Immanuel in Christus is in Matteus. Die Bybel bied ‘n magdom van Godsbeelde. Dit is ‘n ryke skat waardeur geïllustreer word hoe in baie verskillende tye en deur baie verskillende mense God op ‘n nuwe manier beleef en aanbid is. Reeds maar die skepping en herskepping, die Ou en die Nuwe Testament, die tyd van Moses en die tyd van Jesus vertel van die radikale nuwe maniere waarop God deur die eeue onder mense bekend word.
God, besef ek weer, toe ek hieroor nadink, kan ons nie in ons menslike taal en in ons menslike kategorieë vasvang nie. Elke keer weer as ons God netjies in ons hokkies opgesluit het, ontdek ons hoe God op nuwe maniere beleef en ervaar word en dat ‘n nuwe hokkie maar ontwerp moet word.
Wat sou die Godsbeeld van ons tyd wees?
Die mens het ‘n stewige greep op die wêreld. Ons verken die ruimtes, oorwin die ellendes, ontwerp verstommende tegnologieë. Hoe dink ons oor God in só ‘n tyd? Ons wat alles beheer, wat mondig geraak het, wat so fyn dink, wat so progressief dink, wat God se seën oor ons self-ontwerpte lewensstyl buikspreek – hoe dink ons oor God? Ons wat deur ‘n televisiestel die armoede in Indië, die oorlog in Afghanistan en die vernieting van ons aarde so helder kan raaksien – hoe dink ons oor God? Ons wat die eindelose lyding van mense in allle wêrelddele raaksien, hoe raak dit ons verstaan van God? Ons wat apartheid beleef het – wat doen dit aan ons aanbidding van God?
Hoe bepaal ons tyd ons beeld van God? Wat is opwindende van ons tyd se denke oor God? En wat is eensydig aan hierdie beeld van God?
Hoe het teologie tog alles mooi oor God uitgepluis? En hoe gebeur dit dat spiritualiteit al hoe meer praat oor hoe onuitspreeklik God is?
Ek wil hieroor nadink. En die feit dat Spiritualiteit ‘n mens by hierdie vraag uitbring, spreek boekdele. Titus Brandsma, die man wat deur die Nazi’s vermoor is omdat hy die katolieke pers beïnvloed het om nie advertensies van die Nazi’s te plaas nie, het in sy voordrag in hierdie boek boeiend aangetoon dat ons nie ‘n statiese, oer-verstaan van God het nie. Ons verstaan van God hang saam met die tyd waarin ons leef.
Dit kan ongelooflik verrykend wees, want dit beteken dat God steeds weer op nuwe maniere in nuwe tye werk. Op ‘n dinamiese manier leef God met ons mee en gee God vir ons telkens weer op nuwe maniere ‘n transformerende ervaring van die goddelike teenwoordigheid. Dit was deel van Brandsma se spiritualiteit dat hy kon insien wat Jesus so duidelik beloof het: die Gees sal ons in nuwe dinge inlei en ons sal groter dinge doen as Jesus.
Spiritualiteit gaan om ons verhouding met God wat telkens verdiep en ons gedurigdeur op nuwe wyse transformeer. Ons word ook getransformeer in ons verstaan van God.
Hierdie telkens nuwe beeld van God kan uiteraard ook ‘n probleem wees. Ons beeld van God is nie die produk van die tyd nie. Ons praat hier nie van afgode nie. Oor die eeue heen het mense en gelowiges afgode gehad, wanneer hul idee van God deur hul tyd bepaal is.
Ons praat hier van God wat telkens weer gelowig nuut beleef en gehoorsaam word. Op die manier het ons ontdek dat God as die bevryder onvrye, verdrukkende strukture wat voorheen deur die kerk verdra en soms selfs bevorder is, eintlik beveg en uit die weg ruim (slawe, vroue, armes, rassisme). En kyk maar na die groot aandag wat publike teologie in ons tyd geniet, wat tog sekerlik ‘n korrelaat is van die manier waarop ons God se bevryding van mense wat uitgebuit en tot die rand uitgeskuif is, herken het.
Die vraag bly dus: hoe wys God gesig vir ons in ‘n spesifieke tyd? En, wanneer het ons by die ou dinge vasgeval toe dit tyd geword het vir die nuwe dinge? Of: selfs moeiliker: wanneer is ons spreke oor God nie meer spreke oor God nie?
Geloof is ‘n avontuur.
Wednesday, July 14, 2010
Die nimmereindigende soektog na God
Sekerlik, ja. Wanneer ons ons koppe vir altyd neerlê en afskeid neem van ons tydelike bestaan. Dan sal ons nie meer in ‘n spieël soos ‘n raaisel sien nie. Maar van aangesig tot aangesig.
Maar tot op daardie dag sal ons soektog na God bly voortduur. Ons kom nooit "tuis" tydens ons aardse bestaan nie.
Gregorius van Nissa bedink Filippense 3:13:
Ek strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry.
Gregorius skryf in die verband oor Moses wat die berg bestyg het en nooit die spits bereik nie. Elke fase van heerlikheid is deur ‘n volgende een oortref. Sodra hy ‘n plek van skoonheid bereik, sien hy op die gesigseinder nuwe skoonheid. Na die een spits, is daar ‘n volgende spits.
Hoe spesiaal die ervaring van goddelike skoonheid ook al was, glo ‘n mens dat dit minder was as waarop ons gehoop het. Hoewel die genade groter was as wat ons voorheen ontvang het, kan dit nie op enige manier ons uiteindelik strewe inperk nie.
Ons reis met en na God kom nooit tot ‘n einde nie. Ons kan nie ‘n perk op ons geestelike groei plaas nie.
Hiervoor is daar veral twee redes:
Eerstens kan ‘n mens geen perk op skoonheid plaas nie. Dit is iets wat eindeloos, oneindig is. Skoonheid bly ‘n mens betower en neem jou steeds weer en weer in beslag.
En, tweedens, die groei in ons verlange na skoonheid kan nie deur enige gevoel van tevredenheid gestop word nie. Hoe meer ons skoonheid sien, ervaar en bewonder, hoe meer begeer ons dit. God is so oneindig dat ons nooit vir God sal ken nie. En hoe meer ons van God ervaar, hoe meer begeer ons om by God te wees.
Ons geestelike reis is nimmereindigend.
Tuesday, July 13, 2010
Reis in die Onbekende: Oor volmaakte geluk
Gregorius van Nissa het sy werk “Die lewe van Moses” oor die mens se geestelike reis geskryf. Hy interpreteer Moses se lewe as ‘n model of patroon vir ‘n mens se lewe.
Die verhaal van Gregorius oor Moses laat my dink aan die ryk jongman wat vir Jesus gevra het hoe om volmaak te wees en Jesus se poging om hom tot volmaaktheid te bring. Dit laat 'n mens dink oor wat volmaaktheid is.
Vir Gregorius van Nyssa was volmaaktheid nie om in alles perfek en sondeloos te wees nie. Vir hom gaan volmaaktheid om steeds weer dieper en dieper te groei in goeie dade en in goed wees. En as ‘n mens wil verstaan wat beteken die volmaakte lewe, is Moses ‘n goeie illustrasie.
‘n Mens se geestelike reis bestaan uit ‘n gepaste lewensstyl en ‘n ware geloof. As ‘n mens daarna streef, verwerf jy die lewe van ware goedheid. Deur selfbeheersing en deur ‘n sober lewe te kombineer met ‘n verdiepende spiritualiteit word ‘n mens gereinig van alles wat ‘n goeie lewe in die pad staan. En ‘n mens groei in jou spiritualiteit wanneer jy soek om God beter te verstaan. Jou lewe en jou aanbidding van God word deur hierdie reiniging gevorm.
Maar, en hiermee maak Gregorius van Nyssa sy eintlike punt, ons geestelike reis het ‘n bepaalde patroon: aan die begin sien ons die lig. Ons verstaan en begryp. Die donker van onkunde en kwaad word verdryf. Maar mettertyd begin ons al hoe meer verstaan dat God onsigbaar en ontoeganklik is. God is ook ver bo ons verstand verhewe. Ons besef dat ons nie regtig sien nie. En dan word ons bewus van hoe belangrik sekere bybelgedeeltes soos Eksodus 33:20 is:
Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.
Moses, skryf Gregorius, word self op ‘n spesiale manier getransformeer. God raak hom aan, sodat hy ‘n sluier moet dra dat niemand na hom kyk nie, vertel Eksodus 34:29-35:
En toe Moses van die berg Sinai afdaal — die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal — het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie. En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom. Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek. En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here met hom gespreek het op die berg Sinai. Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek.Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.
En tog, Moses kan nie vir God sien nie, al is hy so naby aan God! Selfs al praat hy met God soos wat vriende met mekaar praat, soos Exodus 33:11 vertel:
Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man wat met sy vriend spreek.
Maar tog kan Moses nie vir God sien nie. Volgens Exodus 33:23-24 sê God vir hom:
En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.
Moses leer hoe ‘n mens God kan sien: deur God te volg waar God ‘n mens ook al lei, deur God van agter te sien en deur nie af te dwaal nie.
Elke keer, skryf Gregorius, as God met Moses praat, gaan Moses in ‘n wolkkolom in (Ex.33:9). Vir Gregorius beteken dit dat ‘n mens wat nader en nader aan God kom, in die onbekende en onverstaanbare ingaan. Wat ons werklik sien en weet, bestaan juis uit dit wat ons nie kan sien nie. Ons is op pad na ‘n eindpunt wat in donkerte gehul is.
Met al hierdie opmerkings belig Gregorius van Nyssa ‘n fundamentele aspek van ons geloof. God is ander kant alles wat ons kan begryp. Ons kan God nie in ons woorde en in ons taal vaspen nie. Ons sien, soos Paulus dit uitdruk, in ‘n spieel. Ons staar in ‘n raaisel. Ons sien nog nie van aangesig tot aangesig nie (1 Kor. 13). Of soos Johannes dit stel: niemand het God gesien nie.
Ons wat in ‘n tasbare wêreld leef, wat gewoond is aan wat ons sien en hoor en tas, het in ons geloofsreis te doen met die onsigbare, die ontasbare. Ons geestelike reis is die voortbeweeg van een rusplek na die volgende: net wanneer ons dink dat ons aangekom het, kom ons agter dat ons God nie kan peil nie en dat ons reis van God eindeloos nog voor ons uitgestrek lê. Elke keer weer, beklemtoon Gregorius, moet ons opnuut weer begin reis, moet ons weer ons roete verander, word ons nuut gebore in ons soeke na die goddelike. Dit is ons geestelike groei. Ons word al hoe meer in die gesindheid van God ingebore, soos Paulus dit stel. Om volmaak te wees, is dus om volmaak uitgelewer te wees in ons navolging van God. Volmaaktheid is om jou uit te strek, in die woorde van Filippense 3:13 na wat voor is. Ons beweeg van die een ontmoeting met God tot die volgende, elke keer weer opnuut bewus van hoe oneindig groot en hoe veelvuldig meer God is as wat ons ooit kan droom of dink. Dit is ‘n wonderlike belonende reis – soos ons al hoe dieper in die skoonheid van God inreis. Nooit sal ons tydens ons aardse reis kan sê dat ons God in alle volkomenheid gesien het nie.
Terwyl ek hierdie perspektief op Gregorius van Nyssa in Young se boek lees en sien hoe sy dit in haar Britse agnositiese konteks ter sake probeer maak, wonder ek oor hoe dit vir my waarde kry.
In ‘n konteks waarin ons God vereenselwig met Iemand wat vir ons met die goeie dinge beloon, waarin ons geloof vereenselwig met bedingingsvermoë en waarin ons godsdiens ‘n voorspoedskarakter het, is dit nogal ‘n gedaanteverwisseling wat ‘n mens moet ondergaan om reg te laat geskied aan hierdie diepsinnige aspekte van Bybelse denke oor God, die Onpeilbare.
Terwyl ons ons klein eilandjies van geluk wil beleef, is die groter skoonheid en die dieper vervulling te soek in ons reis met die ewige en onpeilbare en ondeurgrondelike God. Ons harte kom immers nie tot rus as ons al ons banksake so netjies in orde het en ons veilige huise bewoon nie. Daarvan is ons samelewing vrot van voorbeelde.
Ons harte kom tot rus in die God van alle ewigheid wat ons in ewige Vaderhande vashou, ver bo al ons insig en verstand om.
Ons is volmaak in ons soektog na wat werklik goed en vervullend is, na die eintlike skoonheid.
En dit alles bring my weer uit by die verhaal van die ryk jongman. Om volmaak te wees is, vir Jesus, om alle aardse norme en waardes te transender. Verkoop alles. Relativeer die hele klomp aardse ankers. Kyk verby dit. Volg Jesus, die rondwandelende prediker wat nie 'n plekkie het om sy kop neer te lê nie. Volg Jesus, die een wat in die duisternis gehang het en tog na God geroep het. Om God te kan sien in die kruis, om God se opstanding te kan ervaar - dit is wonderskoon.
Monday, July 12, 2010
Oor kaasland en 'n koei
Buite in die strate was daar nie 'n kar te sien of te hoor nie.
En toe daardie doel, kort voor die einde van die wedstryd aangeteken word, was dit eenvoudig net doodstil, soos in dood-stil.
Nie 'n enkele stem was te hoor nie. En, met die stil strate daarby, het ek Nederland nog nooit so stil beleef nie.
Nederland was 'n enorme grafkelder.
Dit was 'n hartseer-saak.
Maar vandag het een en elk erken die Spanjole het verdien om te wen.
Ek dink nog dit is 'n harde, selfs vuil wedstryd gewees. Dit was nie sokker se mooiste aand nie. Maar dit was dik van die spanning.
Nietemin, dit is 'n treurige dag hier in Kaasland.
Daarom 'n opwekker:

My gunsteling in hierdie prentjie is "defeat." En op hierdie dag moes ek onwillekeurig na 'n ander betekenis van defeat gaan soek vir so bietjie oplugting...
Darem ook baie lekker was die groot lof wat ons op verskeie senders gehoor het vir Suid-Afrika se sukses met die organisasie van die geleentheid. Dit was werklik indrukwekkend om te sien hoe man en muis net goeie woorde vir ons gehad het. Ons gaan nog in die toekoms agterkom hoe deurslaggewend hierdie paar weke was in die geskiedenis van ons land. Dit is lekker om Suid-Afrikaner te wees.
Sunday, July 11, 2010
'n Mens kan nie jou demone ontvlug nie.
Hy gaan bly toe in ‘n grot. Op ‘n dag gaan haal hy water en toe hy die bottel neersit, slaan dit om. Hy het toe maar weer water gaan haal, maar presies dieselfde gebeur. Toe hy die derde keer water gaan haal het en die bottel sowaar weer omslaan, raak hy so woedend dat hy dit net daar stukkend slaan.
Toe hy tot bedaring kom, besef hy hoe hy deur ‘n gesindheid van woede bemeester word.
Hy sê toe vir homself dat hy sal teruggaan na sy gemeenskap toe. Oral, of ‘n mens nou alleen in ‘n grot bly of onder mense, word ‘n mens gedurig op jou swakheid getoets. Orals is die lewe dus ‘n worstelstryd waarvoor ‘n mens geduld moet hê en afhanklik moet wees van God om daardeur gehelp te word.
‘n Mens kan nie jou demone ontvlug nie. Hulle moet aangepak word.
Saturday, July 10, 2010
Sokker en die lewe
Sokker is inderdaad eenvoudig: ‘n klomp mense skop ‘n bal heen en weer om dit tussen die doelpale in die net vas te kry.
En die beste is - hulle moet dit met die voet doen.
Wat kan meer eenvoudig wees? Dit is so eenvoudig soos die geestelike reis: ‘n mens is eenvoudigweg op pad na God.
Maar as jy dit van naderby bekyk, lyk sake nogal anders:
Eerstens is daar ‘n formasie wat deel is van die plan met die spel: is dit ‘n aanvallende of ‘n verdedigende wedstryd? Die meer algemene 4-4-2, die meer defensiewe 4-5-1 (waarvoor Mourinho by Chelsea bekend is), die meer aanvallende 4-3-3, die diamant formasie van 4-3-1-2 wat in die geval van die Brasiliaan Kaka suksesvol was en dan die defensiewe 4-3-2 formasie? Net om al uit te werk wat op die veld in terme van strategie aan die gang is, is al ‘n ondervinding.
Maar dan is daar die individuele uitblinker. Messi, of Kaka, of Sneijder, of Suarez – die spelers wat ‘n wedstryd kan wen. Hulle hanteer die bal of hulle daarmee gebore is, hou besit, skep geleenthede, speel met ritme, hardloop hulle asem uit, skop akkuraat, speel takties, tackle vreesloos, lees die spel perfek. Dis al ‘n vreugde om te kan sien hoe die meesters die spel versier en stuur.
En dan is daar die goue oomblikke: wanneer ‘n speler met ‘n kopskoot ‘n doel skiet, of met netjiese bewegings ‘n paar teenstanders ontduik, of van nêrens te voorskyn kom om ‘n doel te skiet. Dit is die oomblikke wat jy van alles vergeet en opspring in jou stoel of lekker skree van plesier.
Of die absolute legendes van die spel: Johan Cruijf, Pele, Maradonna. Of die goeie afrigter wat ‘n span kan inspireer. Die goue gedagtes in ‘n mens se geheue – en die raamwerk waarbinne die nuwe sterre gemeet en bespreek word.
En daar is die binne-gevegte of die vuil spel. Dit is nou wanneer jy die teenstander se knie of maermerrie raakskop. ‘n Mens moet net kyk wat Robben van die Nederlandse span alles moes verduur om te besef hoe taai en selfs vuil sokker kan wees. Sokker is nie vir die sissies nie. Dis hard. ‘n Man baklei om te kry.
En moenie vergeet van die skeidsregter wat vir niks ‘n rooi kaart uitpluk nie, of die speler wat selfsugtig die bal mis skop eerder as om aan te gee na sy spanmaat.
En die voorvalle wanneer ‘n mens die doel deur jou eie pale skop of laat glip. Of wanneer die spelers die skare beledig, of die skare hul eie span uitjou.
Daar is die onbekende faktore: die geestestoestand van jou mede spanspelers, van jou teenstanders, die elemente soos die wind, die toestand van die speelveld, die bal, die waansin van die toeskouers.
Daar is, skryf iemand, so baie onbekende faktore in sokker dat dit al met die heelal vergelyk het: ‘n mens het te doen met ‘n verborge, onvoorspelbare situasie.
Sokker het vele gesigte, baie oomblikke, die hoogtepunte wat ‘n skare soos een man kan laat opspring of die laagtepunte wat mense vir dae lank sad kan maak.
Na een van die wêreldbeker-wedstryde loop ‘n pa en ‘n seuntjie van so ses jaar huis toe. Die kamera vang die pa se afgehaalde gesig en die seuntjie wat met oë vol trane teen sy skouer leun. Sê die kommentator: die seuntjie het vir die eerste keer in sy lewe agtergekom dat sokker ‘n mens se hart ook kan breek. Hy leer, vroeg-vroeg, dat die lewe maar taai kan wees.
Sokker, soos enige sport, kan ‘n mens ryke lewenservaring gee. Dit is ‘n spel wat hoogs kompleks is, al lyk dit asof ‘n mens eintlik maar net ‘n bal deur die pale wil skop.
Deel van hierdie kompleksiteit is die geestelike waarde wat sokker kan hê: vir ‘n kind kan dit waardevolle lesse leer. As deel van ‘n sokkerspan, speel ‘n mens die spel vir mekaar. Dit gaan nie om jou eie prestasies nie, of jou eie roem nie. Dit vat nogal van ‘n mens om eerder die bal aan te gee na jou spanmaat om die doel te skop. Dit is ook ‘n plek waar ‘n mens ten nouste saam met ander mense lewe: hier leer jy nie net jou maats se sportvaardighede ken nie, maar jy weet ook van hul liefdes en hul teleurstellings, hul drome en hul mislukkings. Jy ken die een wat die roem kan hanteer, wat nee kan sê vir omkoop, wat getrou kan bly aan ‘n lewensmaat, wat sober en liefdevol teenoor ander is. In ‘n sokkerspan ervaar ‘n mens, soos in alle spansporte, die band van vrienskap en mede-stryders soos op min ander plekke. Hier leer ‘n mens wat beteken dit om deel van ‘n span, deel van ‘n gemeenskap te wees.
Sokker bring ‘n mens in aanraking met sulke wonderlike waardes soos respek. Selfs as jy ‘n wedstryd verloor en jy het nie tyd vir jou teenstanders nie, skud jy nog hoflik hand na die tyd. En jy leer ken durf en moed: as dinge teen jou draai, bly jy stry. Die Nederlanders wat agtergeloop het in die eerste helfte van die kwarteindstryd het met moed vasgebyt om in die tweede helfte terug te veg en te wen.
En dan is daar die groot wedstryd tussen wat jy wil doen en wat deur die spel op jou pad gebring word. ‘n Mens kan wonderlike drome hê om te wen, jy kan onder die beste spelers in die wêreld wees, maar as jy op die veld is, is jy aan die speel teen baie onbekende faktore. Jy kan nie voorspel wat gaan gebeur nie. Jy moet bloot maar met wysheid doen wat jou hand vind om te doen.
En dan kom daar die een, transendente oomblik – die enkele keer dat daardie bal deur die pale gaan. En jy iets koesters wat jou baie lank, soms jou hele lewe lank bybly.
Vreugde kom op baie maniere tot ons.
Friday, July 09, 2010
Van teensin tot verwondering. Om met God se oë te kan sien
Die eerste keer het was dit vir haar weersinwekkend toe sy met Edith aan tafel sit en sien hoe kos op haar gemors word terwyl sy gevoed is. Young was verleë oor haar eie reaksie van afkeer en teensin.
Twee jaar later was sy weer op besoek aan die gemeenskap en weer aan tafel met Edith. Hierdie keer het sy ‘n gevoel van ontferming gehad toe sy vir Edith bygestaan het, haar hand vasgehou het en haar gehelp het om haar te help sodat sy nie haar self so sleg bemors en aftakel nie.
Young noem in hierdie vertelling dat sy vir die leier van die L’Arche-gemeenskappe, Jean Vanier, gehoor praat het oor Moeder Teresa en haar opmerkings oor dieselfde gevoelens wat ‘n mens telkens kry in jou kontak met sulke mense: weersin en ontferming, maar dan, daarna, verwondering. Dit is die drie fases wat ‘n mens het.
Sy vertel dan hoe sy op ‘n latere besoek was net nadat Edith gesterf het. Sy het haar begrafnisdiens bygewoon. Haar lyk is in die voorportaal uitgelê. Haar misvormde liggaam was duidelik sigbaar, maar haar gesig was in vrede gehul. Met verwondering het Young gehoor hoe lede van die gemeenskap allerhande verhale oor Edith vertel en getuig hoe sy hulle geïnspireer het en baie vir hulle beteken het. Dit was die oomblikke dat sy in trane verwondering beleef het. Hierdie gestremde vrou was in die hart van die hele gemeenskap.
Hoe vloei skoonheid nie hier op verskillende vlakke in mekaar nie: aan die een kant kan ‘n verwronge liggaam ‘n tuiste vind by mense wat omgee en dieper dink. Maar daar is ook ‘n gemeenskap wat wegbeweeg van die norme van ons samelewing en teen alle verwagting in juis na die verwronges en die afgesonderdes uitreik om hulle te omhels.
Maar dan is daar ook die skoonheid van ‘n mens se eie geestelike reis: ‘n mens kan self jou kru, slegte ervaringe te bowe kom en wegbeweeg van alles wat in jou vir jou wil weghou van die skoonheid wat in alle mense, wie hulle ook al is, iewers verborge is. Afkeer kan omslaan in verwondering.
Maar dit is die spiritualiteit wat vir my hier bybly: spiritualiteit ontken nie ‘n mens se rouste emosies nie. ‘n Mens maak die donker kolle van jou hart oop. Jy erken die afkeer en teensin wat dikwels in jou hart leef en mense van jou weg stoot. Maar in die erkenning begin jy juis ‘n pad met daardie emosies stap: om deur die slegte te loop totdat jy op die plek is waar God jou wil hê – in verwondering oor die skoonheid wat God uit niks, uit verwrongendheid kan skep.
Om daardie spirituele weg te kan loop, is ‘n groot uitdaging.
Thursday, July 08, 2010
'n Geestelike begeleier is iemand wat gedurig self-ondersoek doen. Oor die mistagogie (11)
Terwyl ek hom so kyk, verstom ek my aan die behendigheid waarmee hy die laaigraaf bestuur. Soms sit hy selfs met sy bene gekruis, asof hy koerant sit en lees – en dit alles terwyl daardie laaigraaf gate graaf, sementblaaie oplig, gate boor, sandhope verskuif en materiaal van mekaar sif.
Hierdie man ken die laaigraaf. Dit is sy werksinstrument. Dit lyk asof hy die werk met sy eie hande doen – asof die skopgraaf verlengings van sy vingers en hande is.
Dit is die beeld wat by my opkom toe ek vandag verder lees oor die mistagoog wat iemand is met ‘n gesonde self-kennis. Net soos die operateur sy laaigraaf het, so het die mistagoog eintlik net homself as instrument. En as ‘n mens effektief wil wees, moet jy die instrument waarmee jy werk van binne-uit ken. Maar jy moet ook sorg dat jy die masjien effektief kan gebruik.
Self-kennis is dus ‘n belangrike aspek van die mistagogie. ‘n Fundamentele aspek van die mistagogie is die verhouding wat die mistagoog tot homself het.
In die mistagogie het ‘n mens byvoorbeeld ‘n insig in wie jy is, of jy met mense kan werk, of jy die nodige opleiding het, of jy die Bybel kan uitlê, teologies sterk is, as liturg effektief kan wees, weet wat ‘n ritueel is en hoe om met rituele om te gaan. Die mistagoog is iemand wat kan luister, wat aandag aan ander kan gee, wat respek het vir die ander een. Hy moet dus bewus wees van sy vaardighede en sensitief wees om hierdie vaardighede optimaal te ontwikkel.
Soms kom die mistagoog agter dat ‘n onderdeel van hierdie instrument nie goed werk nie. En juis daarom maak hy of sy werk daarvan. Dit sou beteken dat ‘n mens verdere opleiding ondergaan en dat jy jou vaardighede aanpas en opskerp.
Sonder dat ‘n mens ‘n gesonde en deeglike kennis van jouself het, kan ‘n mens nie ‘n effektiewe mistagoog wees nie.
Hoe kry ‘n mens dan nou hierdie noodsaaklike self-kennis? Dit kom deur goed self-ondersoek te doen. ‘n Mens oefen jou in introspeksie. Waaijman praat van ‘n “deurleefde” self-verstaan wat hier nodig is.
Iewers moet ‘n mens dus tyd inruim om na te dink oor wie jy is en hoe jy inpas in die geestelike begeleidingsproses. Dit beteken ‘n oopheid om nie net na te dink oor wat jy alles nog nodig het en watter vaardighede jy moet verwerf nie, maar dit is ook ‘n openheid om te besef jy is iemand wat groei, wat ontwikkel, wat nie volmaak is nie.
‘n Mistagoog is iemand wat tyd neem om na hom- of haarself te kyk as iemand wat reg moet wees vir ‘n proses van geestelike begeleiding.
Voordat ‘n mens iemand anders kan begelei, moet ‘n mens ‘n gesonde self-kennis hê en moet 'n mens hierdie self-kennis met sensitiwiteit soek en vertroetel.
Die geestelike weg wat ‘n mens met ander mense loop, vra van jou om geestelik volwasse genoeg te wees om te let op wie jy is en wat jy nodig het.
Wednesday, July 07, 2010
'n Kerk wat aanbid... Bybelstudie oor Openbaring (4).
Openbaring 1:4
Johannes "skryf" sy boek aan sewe kerke in die Romeinse provinsie van Asië - 'n belangrike en bekende deel van die Romeinse Ryk.
Sy boek gaan “gelees” word en dit gaan beluister word - duidelik en uitdruklik wanneer hierdie kerke vir hulle byeenkomste bymekaar is.
Johannes dink nie klein nie. Hy skryf vir kerke. Sewe kerke.
Sewe kerke wie se name een vir een aan ons genoem word: “Efese, Smirna, Pergamum, Tiatire, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
Sommige van hierdie stede verwag ‘n mens op ‘n lys van kerke in die gebied omdat hulle so bekend was. Efese was byvoorbeeld een van die bekendste stede in die antieke tyd, met die tempel van Artemis as een van die sewe wonders van die wêreld. Pergamum was ook een van die magtigste stede met die groot altaar van Zeus en die biblioteek as twee van sy pronkstukke. Ander weer was maar relatief onbekend. Dan weer was daar ander bekende stede wat nie in hierdie lys opgeneem is nie. Ons weet nie hoekom nie.
Bekend en onbekend. Groot en klein. Magtig en sonder aansien. Die hoës en die laes. Almal word vertel van God se verborge dinge. Niemand word uitgesluit nie. Die belangrikes mag hoor en die ongerekendes is sekerlik nie uitgesluit nie.
Paulus noem hulle “kerke.” Die wat aan God behoort, dra ‘n naam. Hulle is meer as net ‘n sosiale groep. In ander dele van die boek sal hulle ook byvoorbeeld “heiliges” genoem word. Hulle het ‘n eie identiteit en ‘n eie karakter. Hulle is nou wel nie so hoog soos die Romeinse keiser of soos die politieke leiers in die provinsie nie. Maar hulle is hoog op God se ranglys. God reik juis uit na mense wat saamkom om die Woord van God te lees, te hoor en in hul lewens ernstig op te neem en uit te leef. God se Woord hoort tuis in ‘n plek van aanbidding waar gelowiges as kerk bymekaar is en saam met mekaar hulle getuienis uitleef.
Johannes sal later verduidelik wat in elke kerk aan die gang was en waarom hy vir elkeen van hulle ‘n brief skryf. Maar hier wil hy beklemtoon dat sy boek, die profesie, aan die sewe kerke saam gestuur word. Dit is ook nie sommer net toevallig dat daar “sewe” boeke is nie. Sewe, sien ons dikwels in Openbaring, is ‘n belangrike simboliese getal. Daar is sewe lampe (Open.4:5), sewe seëls (Open.5:1), sewe trompette (Open.8:2) en nog vele ander. Sewe is die getal vir ‘n eenheid en veral vir volmaaktheid. Johannes skryf aan die sewe kerke as ‘n groep, as ‘n eenheid, as ‘n sewe-tal. Hy praat met die kerke afsonderlik maar ook as kerke wat saam die volmaakte nuwe volk van God sal uitmaak. Die kerk is oor die aarde versprei, maar die kerk is terselfdertyd ook één. Die kerk het die boek daarom later as deel van die Bybel opgeneem omdat die kerk geredeneer het dat dit ook tot die kerk van latere tye spreek.
God werk nie sommer net losweg en van mens tot mens nie. God raak wel elke mensehart individueel aan en verander mense se persoonlike lewens radikaal. Maar in die proses raak God die hele mensdom aan as groep. God wil nie maar net die private “eiendom” van hoog-heilige mense wees nie. Dit moet juis anders om verstaan word: God deel die belangrikste sake met mense wat God lief het, gehoorsaam en volg. Mense word dan God se eiendom. Die mense saam, die mensdom, word God se kinders en deel van God se familie. Hulle deel ‘n band met mekaar.
Wanneer God mense se harte aanraak, maak hulle hul harte vir God oop. Maar terselfdertyd maak hul hul harte vir God se kinders, vir God se kerk oop. En die kerk moet dan in hierdie wêreld leef as die suurdeeg. Die kerk word God se ewebeeld, die liggaam van Christus wat ‘n verskil in die wêreld maak.
Spiritualiteit is nie bloot maar net ‘n private saak wat ons hart verander nie. Dit het te doen met ons lidmaatskap van die kerk en ons getuienis in die wêreld. Beroemd of ongerekend, hoog of laag, ryk of arm, slim of minder begaafd – God snoer mense saam in ‘n volmaakte eenheid wat ‘n verskil in die wêreld maak.
Johannes skryf sy Openbaring aan sewe kerke wat hy op een of ander manier uitkies om eenvoudig te sê: lesers van my profesie, van my boek, is deel van God se familie wat saam deur God bemin, vertroos en geïnspireer word. Hulle kom bymekaar in die erediens, in die kerk, in aanbidding waar hulle God se Woord beluister. God maak hierdie feilbare mense volmaak een en stuur hulle om ‘n volmaakte getuienis te lewer.
Die kerk mag dalk vir baie om ons nie belangrik wees nie. Trouens, soms lyk dit vir my of die kerk selfs deur kerkmense gering geag word. Johannes laat geen twyfel nie: solank as wat die kerk in aanbidding naby aan God en God se Woord bly, sal God aan die kerk die dieper, verborge, troostende en lewegewende lewe skenk. God praat – met die Kerk.
Waarom voel dit vir my asof die hermeneutiese sleutel tot die gedeelte te vind is in die :"solank as wat die kerk in aanbidding naby aan God en God se Woord bly"?
Gelukkig, dan, die kerk(e) wat die Woord van God, die profesie, luister, lees en in die hart opneem...
Tuesday, July 06, 2010
Wanneer woorde jou faal. Die sokkerkoors en die dieper dinge....
Vreemd hoe ‘n groepsgevoel oorneem wanneer mense weet iets spesiaals is aan die kom. Sestigduisend mense is op die museumplein in Amsterdam byeen om al staande op ‘n afstand op ‘n reuse-skerm die wedstryd dop te hou.
En daarna wil die televisie gedurig teruggaan na die groot jolkolle om te wys hoe die mense en masse opspring en soos kinders op en af ruk van vreugde wanneer ‘n doel geskop word.
Dit is waansin.
Nou, twee uur na die einde, is daar tromme wat opklink, toeters wat blaas, mense wat sing.
Intens.
Op pad terug van ons aand uit, so net na die rustyd, teken Nederland ‘n doel aan terwyl ons nog op straat is, vinnig aan die loop om die tweede helfte in ons woonstel te kan kyk.
Dit dreun letterlik soos oor die hele stad van Nijmegene ‘n gejuig opgaan.
Die tonele wat hulle hier afspeel is net so ongewoon soos oor die televisie. Uit Kaapstad word ‘n onderhoud gevoer met al wat ‘n spanspeler en afrigter is. Mense wil nie laat gaan nie. Hulle hou die oomblik vas asof dit nooit tog moet verbygaan nie. Wil dit bepraat en met mekaar deel. Te meer nog: Nederland was nog net drie keer in ‘n finaal vir die wêreldbeker. En selfs meer nog: Hulle was voor die tyd maar nooit oor-opgewonde oor hul span nie.
Maar nou dans hulle in die strate van die stede, staan in die stadion in Kaapstad en sit voor die kamera’s van die televisie om te vier.
Dit is amper soos ons euforie oor die sukses van die wêreld-beker aanbieding in Suid-Afrika. Maar nog intenser, as jou span die kollig betree.
Maar wat my opval is hoe flou taal is om hierdie intense tyd te verwoord. Dit is duidelik dat die vreugde onbeperk is. Maar die woorde is beperk en mense sukkel om te beskryf: ongelooflik, geweldig, ongelooflik, geweldig, hoor jy as ‘n refrein. En dan twee ander maniere van praat oor hierdie groot oomblik: byna almal vertel hulle het hoendervleis (kippenvel op zijn Hollands). En dan is daar trane van aandoening. En die mans is vrymoedig om te erken dat hulle aangedaan is, soveel so dat hulle die trane nie kan bedwing nie. Hoendervel en trane - die vreugde word lyflik ervaar, soos die skares wat kinderlik op en af spring as 'n doel aangeteken word.
Maar al hierdie emosies kan die wat met vreugde vier, moeilik in woorde verwerk.
As mense só oor sokker voel, maar só sukkel om die onvoorstelbare sukses van hul sokker-ervaring uit te druk, hoe moet ‘n mens dan praat oor dit wat nog baie dieper en nog baie groter is....
Monday, July 05, 2010
Drie maniere om God lief te hê. Oor liefde om liefdesontwil.
Eerstens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n slaaf. Dan het ’n mens God “lief” uit angs. Jy speel maar eerder veilig en gee aan God die “liefde” wat jy dink God as die baas toekom.
Ons moenie te vinnig dink dit is maar ’n slegte liefde nie. Selfs hulle wat al ’n ver pad geloop het, val soms nog terug in hierdie serviele, of slaafse liefde. Dit hoef selfs nie noodwendig as ’n waardelose liefde afgeskryf te word nie. Soms moet ons deur hierdie angstige, onderdanige, selfs kruipende liefde gaan om gedwing te word om dieper na te dink oor die liefde in sy mees egte vorme. Die serviele, slaafse liefde is ’n eerste vorm van liefde wat moet groei tot ’n meer volwasse, ryper liefde. ’n Mens ontgroei hierdie liefde deur te besef dat angs nie ’n rede is om God te bemin nie. ’n Mens hoef God nie te vrees nie. Die liefde gaan nie om jou eie bas te red nie.
Tweedens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n werker of arbeider. Op hierdie vlak het ’n mens God lief omdat jy dink dit is tot jou eie voordeel en in jou eie belang. Ook hierdie liefde is onvolmaak en moet steeds weer groei in iets anders en iets diepers.
Ook hier het mens te doen met ’n soort liefde wat dikwels nog oor jou pad kom, selfs al het ’n mens ’n pad met God geloop. Ons kan maklik in een dag beweeg van ’n slawe-liefde na ’n angs liefde en dan na die dieper vorme van liefde. En as jy terugval in hierdie vorme van liefde, kom jy gou agter hoe dit jou onvervuld laat en hoe dit jou dryf om dieper oor die liefde na te dink. ’n Mens ontdek dan hoe bevrydend dit is om jou eie belang op te offer, om die minste te wees, om prys te gee. Dan ontdek ’n mens jy het nie ’n werkskontrak wat jou en God in ’n oor-en-weer lys van verpligtinge bind nie. Deur gedurig ingestel te wees op wat ’n mens uit jou verhouding met God kan kry, op wat jou toekom, word jou geestelike reis vaal en onplesierig. Dit draai maar steeds om jouself. Jy weet maar steeds: As jy jou eie belang laat gaan, kom daar ryker en ryper dinge in jou lewe los wat dieper dimensies van jou bestaan ontsluit.
Derdens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n seun. Dan het jy God onselfsugtig lief. Dit is die hoogste vorm van liefde. Dan draai dinge nie meer om jouself nie. Dan het jy God lief bloot omdat God daar is, ’n vader is, jou lewe volmaak. Jou verlange is nie gerig op die vervulling van jou begeertes nie, maar op God. Dan het jy nie lief omdat jy keer vir jou wickets nie of omdat jy iets te wen het nie, maar bloot omdat liefde so mooi is. Sonder om enige iets terug te verwag, soek ’n mens die liefde. En dan word die lewe op ’n merkwaardige manier onbegrensd belonend. Om God te ontdek, is om die hoogste vorm van liefde te vind.
En só beweeg ons dikwels in ’n gedurige siklusgang tydens ons geestelike reis. Ons moenie gou ’n vinger wys na hulle wat agterbly en nie so hoog soos ons lief het nie. Spiritualiteit is die reis vanaf die beperkte, selfgerigte liefde na die belangelose, vierende liefde vir God wat daagliks ons ervaring is. Die geestelike reis is die inspanning, die bewuswording, die gryp na dit wat waardevolste van alles is. Dit is om volwasse in die liefde te word, om al hoe onselfsugtiger te word, om jouself al hoe meer vervelig te vind, om agter te kom hoe ryk die liefde ter wille van die liefde is.
Dit is ontnugterend om gedurig weer te ontdek hoe verskuild die selfgerigte vorme van liefde in ons teenwoordig is. Bernard help ons, mistagogies, om as mistagoë, onsself dop te hou vir wie ons is en om ander in hul geestelike reis hiervoor skerp te hou. Die sikliese gang van die liefdesfases in ons lewe. Spiritualiteit is nie verniet die soeke na groter integriteit, volwassenheid, heelheid nie. Die Gees woel en werskaf. Drie keer toe word ons gekonfronteer – het jy my werklik lief?
Dikwels dink ons, heel onskuldig en selfs heel vroom – as ek tog maar net my verlange na God kan stil. En dan val die klem op die “ek” en op die “gestilde” verlange wat my dan nou so tevrede sal kry. Geestelike groei neem ons weg van hierdie instelling op onsself. Later in jou lewe leef ’n mens intuïtief al hoe meer net met die verlange om lief te hê. “As ek maar net kan lief hê.” Of dalk eerder: “As daar maar net ruimte in my lewe vir liefde is.” Of miskien dan ook uiteindelik hierdie mistieke, onpeilbare gebed: “Liefde, grootste van alle dinge, God, woon ook in my.” Woon soveel in my dat daar vir my verlange, my begeertes nie plek sal wees nie. Want dán, dán, sal ek waarlik vry wees. Vry vir God. Vir die liefde.” Om die liefde ontwil.
Sunday, July 04, 2010
Bybelstudie oor Openbaring (3)
Openbaring 1:3: Geseënd is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
“Dinge loop na ‘n einde toe.” Die tyd is naby.
Dít is Johannes se boodskap aan sy gemeentes. Hulle kry swaar en soek na antwoorde, na God se nabyheid. Dinge loop vir hulle nie reg nie. Hulle word van baie kante kwaai houe geslaan. Sy profesie wat die gemeentes gaan lees, luister en toe-eien, is 'n profesie oor God wat die swaar tyd ongedaan maak (let op die teenwoordige tyd).
Die luisteraars wat hoor van hierdie indrukwekkende profesie, besef sommer aan die begin van die boek dat God van alles weet. God ken van. God is bewus van hul lewenslot, lank voordat hulle dit aan God vertel. God weet:
• Daar is die politieke magshebbers, die mense wat in beheer van wêreldse dinge is, wat nie van hulle hou nie en wat hulle by tye hard (selfs dood)slaan – tot aan hulle liggame toe. Hulle is onder swaar druk van buite.
• Maar daar is ook die mense wat op geestelike gebied hulle teenstanders is: hulle deel dieselfde geloof in die God wat alles geskep het en met die volk Israel in ‘n verhouding getree het. Hierdie mense het nie gehou van die pad wat die gelowiges agter Christus gestap het nie en hulle daarom bitter teengestaan. Hulle word deur hul naaste geloofsgenote veroordeel, verwerp en uitgesluit uit die sinagoges.
• Dan is daar in hulle eie geledere ook twis. Sommige binne die Jesus-gemeenskap het hul eie idees oor hul geloof gehad en het nou as “vals” profete die gemeenskap van die gelowiges opgebreek. In die hart van die kerk leef daar verdeeldheid en onenigheid. Wanneer sal daar tog 'n einde kom aan die kerk se selfvernietigende lewe?
Dinge loop oraloor nie reg vir die lesers nie.
Maar, vertel Johannes, die tyd is naby dat dit alles tot ‘n einde sal kom. Johannes “openbaar” aan die gelowiges dat God nie die kerk alleen laat in sy worsteling nie. Dit is, sê hy, wat God vir hulle belowe. Of dit nou in die kerk se stryd teen die owerhede, teen godsdienstige vooroordele of onder interne twis is, is God nie afsydig nie. God gryp in om dit stop te sit. God gaan dinge verander.
Die vraag is sekerlik nou: hoe gaan God dit doen? Die antwoorde hierop gaan Johannes in sy openbaring in detail vertel. Maar uit Johannes se eerste woorde kry ons al ‘n aanduiding of twee:
Daar kom ‘n tyd dat die stryd finaal verby sal wees – dit is die teneur van die hele boek.
Dit kan wees wanneer gelowiges hul lewensverhaal eendag by die uitsug van die laaste asem afsluit, maar dan met ‘n goeie gewete dat hulle getrou aan God vir Jesus as die Lam wat geslag is, gevolg het. Hulle sal onder die altaar van God, daar waar God woon, geborgenheid vind.
Of dit kan wees wanneer God eendag die groot einde sal bring wanneer die mensdom en die skepping in die geheimenis van God se onbegryplike ewigheid en onpeilbare aanwesigheid sal ingaan en durende rus sal vind.
Maar Openbaring vertel vir ons véél meer as bloot net oor dinge wat met tyd (en veral ons westerse verstaan van tyd) te doen het.
Want, skryf Johannes, sy boek se geluk sal almal ervaar wat die boek lees en in hul harte opneem. Nóú reeds, in tye van konflik, teenspoed en verwerping, kan die een wat glo tot volkome rus kom.
Nóú reeds beëindig God ons soektog en neem ons na die einde toe, daar waar ons ervaring van God groter is as ons ervaring van ons laste.
Die antwoord is dan ook in die vers helder en duidelik: die einde is dáár te vind waar Johannes se boek Openbaring gehóór word, waar, in die eredienste, sy boek gelees en gevier word. Waar een of twee in die Naam byeen is.
Wie glo, hoef nie te wag op ‘n einde aan hul ellende eers een maal in die toekoms nie. Die einde op ons verlange het aangebreek by die hoor van ‘n stem wat in God se naam tot ons kom. Wie God se woorde hoor, ook in hierdie boek, se hart kom tot volkome geluk en rus.
Ons sien soms verlangend uit na ‘n toekoms op so 'n manier dat ons blywend ongelukkig in die hede is. Johannes leer vir ons dat die einde nie net met die tyd te doen het nie. Die einde het ook met ons huidige situasie te doen.
Johannes keer ons wêreldvreemdheid en ons toekomsbeheptheid op sy kop. Die einde van ons soeke lê sommer om die draai – daar waar God aan die praat is wanneer ons as soekers, as pelgrims, as luisteraars van die woord, as Emmausgangers, op weg is.
Dit is ‘n verrassing. ‘n Aangename verrassing. Hierdie vrede wat ons vind in die liturgie, in die stiltetyd, in die afsondering op Patmos, in die viering van God se nabyheid, in die toeëiening van God se stem, in die luister na God wat praat, in die lectio. Dit is kontemplasie, reeds in lectio. God is ook daar. God raak ons nou al aan.
Volkomendheid in God se spreke.
Saturday, July 03, 2010
Haarstyle vertel die hele storie... Oor metal bands
Ek sit en wonder wat hierdie dag, vlak langs die poorte van die fees, vir ons sal oplewer. Ek wil-wil apokaliptiese verwagtinge koester. Maar niks in die soel rustigheid van hierdie omgewing gee enige suggestie van ‘n komende ondergang van die wêreld deur hierdie fees nie. Nêrens is ‘n weermag, of ‘n polisiemag of onluste-eenhede in sig nie.
Die prentjie is amper die teenoorgestelde: Vanoggend vroeg toe ek op die balkon die geparkeerde busse van die bands bekyk, staan ‘n ou langs die bus en kam sy hare asof hy op pad is om in ‘n ballet te gaan dans.
En die hare is lank – dit hang agter sy rug af. So lank, slap, reguit. Hy staan homself en bekam soos my susters op ouderdom 7 toe hulle gedink het hoe meer ‘n mens jou hare kam, hoe sagter en blinker en gesonder en onweerstaanbaarder sal dit wees.
Dit vang my oog, hierdie gekammery. En ek neem ‘n foto of drie.
Middag se kant kom die mense drupsgewys aan. En die klandisie kan jy op ‘n paar myl weg herken – selfs deur ‘n ignoramus van metal musiek soos ek. Die swart klere, baard, t-hemde met hul wilde prente. En hier en daar ‘n stewel of ‘n silwer skoen. Dis die kwaai manne hierdie.
Ons hoor die fees is van 12 uur die middag en sal strek tot 12 uur vanaand. Dit help nogal om te weet wanneer dit tot ‘n eind sal kom. Jy is voorbereid vir enige pyn omdat dit kort termyn is.
Ek sit later af om te gaan foto’s neem. ‘n Mens word in die park toegelaat, maar die area waar die bands optree is omhein. Ek loop al langs die heining, want ‘n mens kan oral insien en kry nogal ‘n idee wat aangaan. Langs my agter die omheining staan ‘n outjie wat ook deur die openinge loer. Hy vra my waarvandaan ek kom. Toe ek sê Suid-Afrika toe lag hy – “too much soccer, so you escape to Europe?” is sy terstondse reaksie. Hier is dit nou baie in om uit Suid-Afrika te kom. Ons is nou die middelpunt van die wêreld.
Maar op die stadium is ek meer geïnteresseerd in die fees. Ek neem foto’s en verkyk my. Dit is my eerste lewendige blootstelling aan metal musiek, laat staan nou maar ‘n metal fees.
Dit is Kreator wat aan die beurt is as ek foto’s neem– vertel iemand my. Hulle is ‘n Duitse Metal-band wat alles in hul vermoë doen om die skare aan die gang te kry en op te sweep. Die hoofsanger wat lyk of hy kole op ‘n stoomskip laai, is wild aan die sing. Langs hom staan twee ander bandlede wat behoorlik op hul kitare perform.
Elke keer as die sanger klaar gebulder is, laat sak die band hul koppe asof dit sementblokke is en ruk hulle koppe op so ‘n manier dat die lang hare heen en weer oor hulle gesigte waai, soos propellors. Dit is asof hulle beserk gaan. (Ek lees in Wikipedia: “Many metal musicians when performing live engage in headbanging, which involves rhythmically beating time with the head, often emphasized by long hair.” En, vind ek later uit, dit is nie sommer net vir jou kop ruk nie: “There are various styles of headbanging. Various styles are often mixed together according to taste and to the tempo and heaviness of the music. They can also be performed with eyes closed and/or in combination with hand gestures such as the sign of the horns. singing, yelling, and lip syncing. Headbangers' bodies usually bang with the head, reducing the strain on the neck and making the body move in a serpentine, up-and-down fashion to the music. There are a number of different stances a headbanger can adopt.”
Ek staan en verkyk my. Dit is nou die kinders van die sub-kultuur wat deur mense soos die berugte Black Sabbath verteenwoordig is. Hulle is die ikone van die anti-establishment beweging wat saam met die hippies begin het. Dit is nou die klein Metaltjies wat hier aan die gang is.
Vandaar blykbaar die lang hare. Want die drie van Kreator se hare is lank. En blinkskoon. En glansend blinkend. Dit lyk asof hulle kort voor hul optrede in hul luukse-busse nog gepoeier, gepaint en geblow-dry is.
Ek lees dat daar streng reëls vir Metal Bands geld. Enige een van hulle wat maar net ‘n bietjie van ‘n knikkie na die establishment se kant gee, oombliklik uit is. Die aanhangers is genadeloos. As jy Metal is, is jy teen. Dit is ‘n nuwe establishment in hierdie sub-kultuur.
Maar dit is daardie hare wat my gedagtes besig hou. Nie net daardie ou wat so sy hare gestaan en kam het soos my sustertjies destyds nie, maar ook die twee bandlede van Kreator wat hul lang hare oor hul gesigte gepropel het asof hulle in ‘n dik trance is.
Ek loop die volgende opmerking op wikipedia raak:
The heavy metal hair of the 80's and 90's symbolised the hate, angst and disenchantment of a generation that seemingly never felt at home. Like Samson their long hair provided them with the power they needed to rebel against nothing in general. They were a generation of absurdists without even knowing it; their attempts to find meaning in life inevitably led them to the belief that nothing was true or worth living for. Albert Camus famously talked of a “conscious revolt” against trying to dodge the absurdity of the universe and for the youth of the heavy metal era, their lifestyle, fashion and hair were all they could express their hopelessness through. Their “conscious revolt” has in a way resulted in unconscious stereotyping. Long hair on any man now is still associated with heavy metal and their “all is lost so why bother doing anything” attitude.
Simson het krag in sy hare gehad. Hierdie ouens het ook krag in hul lang hare, ontdek ek, maar om te wys dat hulle alles om hulle kragtig verwerp. Niks en dan ook niks maak sin nie, wys hulle al hare-kammende en al kop-swaaiende. “Alles is gemors. Waarom nou sukkel.”
Laat my dink aan prediker se “alles is vergeefs,” maar sonder die subtiliteit en die boeiende einde van Prediker.
Dis net dat hierdie Metal Bands op hierdie somer-aand in Nijmegen so vaal is. Deur die dag is daar die sangers wat hees met stemme van die dood wrede klanke uit hul kele probeer wurg. Die musiek is wild, polsend – tipies Metal. Die gitaarklanke is verwronge. Die klanke is bietjie heavy en donker. Maar die toneel bly vaal en verlep. Die hoofsanger van Kreator sukkel nie verniet om sy gehoor op te werk nie.
Dit lyk ook nie asof die skare baie opgepomp is nie. Elfuur is almal se stoom afgeblaas. Die mense begin om die pad vat. Dit is ‘n stroom van stilles wat koers kry van die fees af. Die show het toe maar so ‘n uurtjie vroeër opgehou.
Ek sien dit: Wanhoop kan nie inspireer nie.
In hierdie park (langs ons blyplek) sal die bees geslag word....
Die bands
Die bands se lorries staan al van vroegoggend af:
Die manne daag op:
Hare
Nog so bietjie hare regmaak:
Die gehoor gaan mal:
Hier is die manne nog aan die tokkel:
Die manne gaan toe mal:
Die manne hou aan mal gaan:
Die koolstoker:
Deur die dag, terwyl die lot hul fees in die park hou, het hierdie lugballon stil bo Nijmegen gesweef. Asof verhewe bo al ons menslike gebrousels...
Friday, July 02, 2010
Wanneer sokker liefde maak....
Maar ek het kennelik nie hiermee rekening gehou nie: Vanmiddag, toe ons sien Nederland loop 1-0 teen Brasilië agter, sit ons vinnig af winkel toe. Ek bedoel, ons weet mos Brasilië is bo.
Ons moet ook voor 18h00 ons inkopies doen anders sit ons vandag sonder voorraad.
Geen mens op straat nie. Ons het in die halfuur wat ons buite was net twee mense raakgeloop. Nederland het leeg geloop. Kaal. Zilch. Nie ‘n kaas in blik nie.
Dis soos ‘n lykhuis. Selfs die lyk is missing.
Op pad terug, oorval daar skielik ‘n gejuig ons. En blaas daar ‘n vuvuzela asof dit die laaste trompet is. Aan die ander kant van die buurt antwoord nog ‘n vuvuzela, aangevuurd en vol vreugde.
Die kaaskoppe het ‘n doel gescore.
En voor ons nog by die huis kom, is daar weer ‘n aardbewing. Dis 2-1. Ons kan nie glo nie.
Na die game, moet ons stasie toe. Maar as ‘n mens gedink het Suid-Afrika is in ‘n good mood, het jy nog nie die Hollanders gesien nie. Dit krioel en dis kostuums en vrolike, happy mense.
Dis pure fees. En vriendelikheid.
En oral waar jy kom is daar ten minste een siel wat ‘n vuvuzela onder sy blad saamkarring.
Daar is iets merkwaardigs omtrent die wêreldbeker-sokker.
Vuvuzela’s in Nijmegen! Sokker maak liefde.