Sunday, January 14, 2007

Hoe vinnig sou ‘n mens kon vergewe? Onmiddellike vergifnis?

Sommige mense kan in ‘n oogwink vergewe. Hulle leef eenvoudig maklik en vinnig verby kwaad wat hulle aangedoen is. Dit is asof hulle nie die kwaad ‘n vatplek in hulle lewe wil gee nie. Vanuit diep uit hulle hart leef hulle vorentoe, verby enige iets wat hulle aan donker kolle van die verlede vasbind. Om die waarheid te sê, soms kry jy met mense te doen wat byna nie die woord onreg in hul woordeskat hanteer nie.

Ek sit vanaand met so ‘n persoon en gesels. Hy en sy vrou is besig om te skei. Hy wil nie skei nie, want hy het haar lief. Intussen het sy ‘n verhouding met ‘n ander man aangegaan. Ons praat oor die nuwe man in haar lewe en hy laat byvoorbaat weet: hy kan niks negatiefs oor die man sê nie. Die een persoon wat sy huwelik potensieel permanent tot niet kan maak, is iemand van wie hy eintlik nie kwaad wil praat nie. Hy praat andersins van die goor oomblikke in sy lewe, van die regtig slegte tye wat oor sy pad kom. Maar dit is asof hy van oomblik tot oomblik ingestel is – nie op die slegtheid daarvan nie, maar daarop om met sy lewe aan te gaan.

‘n Mens beny sulke mense omdat jy jou kwel dat jy so sukkel met vergifinis. Gewoonlik kom geestelike leiers ons hierin tegemoet en sê vir ons dat ‘n mens nie moet dink vergifnis is maklik nie en dat ‘n mens eers deeglik en oor tyd heen aan jou woede uiting moet gee voordat jy probeer om te vergewe.

Dit is waar. ‘n Té maklik vergifnis kan dalk ‘n teken wees daarvoor dat ‘n mens oppervlakkig is of dat jy dan die dader van die onreg te maklik laat wegkom.
En tóg hoef dit ook nie waar te wees nie. Daar is werklik mense wat weet hoe erg hulle veronreg is, maar eenvoudig daarmee saamleef en verby dit leef. Hulle kan dit vergewe, en hulle kan dit onmiddellik doen.

Hoe word ‘n mens só? Dit is tog ‘n sterk uitdaging aan die kwaad – om dit in die gesig te kyk en dit onmiddellik uit jou lewe te weer.

Jy kan dit doen deur vir jou te sê: ek sien weer hoe erg mense kan wees en ek leer hieruit om nie so te wees nie – en ek wil dit sterk en dadelik doen.

Jy kan dit doen deur vir jou te sê: as ek toelaat dat dit my gaan vernietig, laat ek die kosbare oomblikke wat ek het om te lewe, verlore gaan aan eksterne magte. En ek wil nie een sekonde daardeur verloor nie.

Maar die meeste kan jy tot vergifnis haas as jy by God gaan skuil. Om by God te bly, om in vrede te woon, om te weet dat God groter as die onreg is, om aan God te behoort, dít is wat saak maak. (Ps.49:16). Met ander woorde, om in tye van onreg oor te stap in die teenwoordigheid van God help jou om te vergewe. Want as ‘n mens by God is en die vrede van God ervaar, dan wéét jy jy kan nie vaskyk in onreg nie. Want onreg is die dade van mense wat nie vir God ken nie. As ‘n mens werklik elke dag naby aan God leef, ingeoefen is in die wag op God, kan vergifnis verstommend gouer oor jou pad kom as wat ‘n mens ooit sou dink. Bloot net omdat jy niemand wil voorrang gee bo of laat inmeng op jou by-God-wees nie.

My vriend met wie ek vanaand oor die trauma van sy huwelik gesels, glad nie ‘n uitstallerige mens nie, het my onlangs heel terloops vertel hoedat hy elke dag genoeg tyd inruim om te mediteer. Dit is sy tyd waarin hy by God wil wees.... Wat my laat besef - vergifnis is nie 'n daad nie. Dit is 'n lewensstyl van mense wat by God lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive