Saturday, February 21, 2009

Die deug van deeglikheid, van lewe: oor bewuswording en spiritualiteit


Ek sit op ‘n keer in St Pietersburg by Rembrandt se skildery van die Verlore Seun. Dit is ‘n reuse skildery wat in ‘n kamer van sy eie hang. Daar is net ‘n enkele stoel of twee in die kamer, verder is dit 'n oop ruimte waarin die skildery tot sy volle reg kom. Ek sit ‘n uur, twee, selfs meer daar. Loop deur die museum en kom weer terug voordat ek finaal teruggaan universiteit toe.

Die vaal Oktober herfslig wat in hierdie beroemde Russiese stad deur die vensters val is goed vir die skildery. Dit bring die ryk kleure in ‘n boeiende ligsspel sterk uit. Dit is boonop nie, soos die nagwag, ‘n besige skildery met baie mense nie. Of soos die skildery oor die afhaal van Christus se liggaam van die kruis, wat in die volgende kamer net om die draai hang. Al daardie mense wat Rembrandt om die kruis geskilder het, is ook al weer ‘n toneel om te aanskou en om op sy eie te bly bedink. Die Verlore Seun skildery is eerder stiller, met eintlik net die pa en sy wonderlike bly-droewe gesig wat die seun, verteerd van bleekheid en moegheid, liefdevol teen sy bors druk en dan, prominent langsaan die stroewe ouer broer met sy stokkerige afstandelikheid. Hier en daar in die agtergrond skadu-karakters, maar weggesteek en vir my meer 'n raam vir die drievoudige middelpaneel van karakters.

Maar dis nie net die skildery wat ek, al sittende, met al die tyd van die wêreld kan bekyk nie. Ek moet ook onvermydelik kort-kort 'n klomp mense bekyk wat op 'n streep deur die kamer tou. Steurend veral is die groot toergroepe wat deur die kamer stap op pad na die groot saal langsaan. Nou en dan sal ‘n groep stilstaan as ‘n gids besluit hulle moet meer van die skildery weet. Maar dit gebeur nie te baie nie. Hulle streep meestal op 'n taamlike vinnige pas verby die skildery.

Die Hermitage is een van die beroemdste onder beroemde wereld-museums. Daar is te veel om te sien. Die grootstes van die groot kunstenaars wag op die besoeker. Net om die draai hang byvoorbeeld Rembrandt se ewe onvergeetlike uitbeelding van die slagting van Isak deur sy pa Abraham. [Ek het dit in 2004 gesien in die Alte Pinakothek in München waar dit langs die Duitse weergawe gehang het, maar dit is ‘n ander verhaal (sien voorlopig http://www.codart.nl/exhibitions/details/668/)]. En dan is daar ook ander klassieke en bekende werke.

‘n Mens moet dus bitter keuses tydens jou besoek maak: eers ‘n spoedbesoek om te sien wat daar alles is, of andersins vooraf besluit wat om te sien, of eenvoudig maar net meer as een keer gaan. En onvermydelik moet jy maar 'n pas handhaaf. Jy kan nie verteer wat jy sien nie.

Maar vanoggend lees ek in Trouw ‘n artikel oor wat die kaaaskoppe "traagheid" noem. Die deug van dinge "stadig" doen. ‘n Nederlandse skilder voel ons jaag deur ons lewe en hy wil doelbewus alles stadiger, deegliker doen. Ons moet “proe”, sê hy, wat ons sien. En rondom hierdie gedagte word dan allerhande goeie dinge uitgewerk.

Wat my aan spiritualiteit laat dink: Dit is waarom lectio divina so ‘n nuttige instrument is: die “geestelike” oftewel, goddelike lees van dinge. Dit sluit in om ordentlik te lees (lectio), om na te dink (meditatio), om te bid (hier is iets groters as ek wat my in beslag neem) en dan om in vervoering te raak (contemplatio – ek raak meegesleur). Dit is 'n berekende lees, reflekterend gedoen. Om in die teks self opgeneem te word, dat jou gees met die gees daarvan eenstemmig word.

‘n Trae, langsamer lewensgang, dus, is wat ons soek. ‘n Nadenkende lewensstyl. Skaal af. Hou terug. Doen dit stadig. Proe wat jy sien. Sien wat jy eet.

Die deug van deeglikheid is 'n lament oor ons tyd. Ons maatskappy met sy vinnige, besige gejaag bedrieg ons op ‘n vernietigende manier. Selfs ons geestelike lewe is quick fix, spoed-georienteerd. Ons spoor mekaar selfs godsdienstig aan: moenie skuldig voel oor jou lewensstyl nie. Sorg net dat jy kwaliteitstyd inbou vir God (‘n uurtjie op ‘n Sondag, nie meer nie, ‘n snelvuur-gebed agter die stuurwiel) en vir jou familie (lekker saameet vir die tien minute saans, huisgodsdiens nie regtig in sons tyd nodig nie, maar sorg darem dat die kinders ‘n gebedjie opsê voordat jy (verlig) die lig afskakel).

Miskien het die tyd gekom dat ons weer skuldig moet voel en moet verander. As ons die dag uitgespoeg word deur die groot kapitaal-masjien, deur die liegfabriek, is hulle weg: ons dierbares, ons kinders, ons vriende. Vir altyd of in verre lande of in ander plekke of net weg sonder dat ons weet waar.

Ons kon nie geestelike begeleiers en vriende maak nie. Ons het nie geeestelike diepgang deur gesprekke met hulle wat nadink of skryf gesoek nie.

En dan slaan die “waarheid” toe: wie alles aan hierdie aarde wen, wie weet, het terselfdertyd sy siel verloor....

Die hardloop na nêrens, die reis na niks moet tot stilstand kom.

Dit raak bewuswording wat in spiritualiteit 'n groot motief is. 'n Mens moet jou kan inleef, jou verplaas in wat jy waarneem. Op die manier word dit vir jou 'n ervaringswerklikheid. En eers dan leer jy werklik, vind verandering plaas, word jy omvom. Maar daarvoor het 'n mens deeglikheid, stilte, tyd nodig.

Ons moet leer kies om in een kamer te sit, een doek te bekyk, die grootheid daarvan te kan inneem. Hier is tyd nodig, spoed oorbodig en selfs gevaarlik.

Om dan baie jare daarna na te bly dink oor dit wat by jou bly draal uit daardie gestolde, gevuld oomblik. Dit word 'n "ervaring" wat op sy eie weer nuwe ervarings skep, vir jou orenthou wanneer die troebel tye kom.

Ek dink na, weer, oor Rembrandt: Die grootsheid van hierdie geniale kunstenaar wat roem en faam verwerf het, bankrot geraak het, as ‘n drifsel deur die vloedwaters van ellende op die wal uitgesmyt is en toe in die stilte van die laaste jare sy pyn op die doek in Bybelse taal uitgeskree het.

En vandag, terwyl ek my inleef in wat ek sien, die besef wat in my groei: laat daardie beker my gespaar bly. Ek proe sy pyn, ek sien die seun se tam, vernielde gesig, ek lees as interteks Rembrandt se verbygeleefde jare. My oë volg die donker lyne van die seun se uitgetrapte skoene (die reis na die Vaderhuis was ver, baie ver). En dan weer terug na die ryk rooi mantel van liefde wat oor die skouer hang van die Pa, die trane nog in sy oë – van blydskap, maar ook van pyn oor gemorste jare, die skouer wat afbuig om die seun te omhels en vas te hou.

Die gelykenis sê die pa het sy kind gesoen en bly soen.

Laat, maar nie te laat nie.

Terwyl die toeriste verby hardloop, ‘n vinnige kyk op ‘n skildery wat iets van die Bybel teken, is daar die enkeling wat moet leer om te gaan stilstaan. Om te proe wat hulle hier sien. Om die liefde te ontdek wat hier verskuild so warm klop in die hart van die Vader. Hierdie liefde wat ons so verbyhardloop op pad na al ons ander afsprake elke dag. Soms is dit regtig te laat.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive