Thursday, May 07, 2009

Mistieke ervaring: ekstase

‘n Mens is dikwels “in ekstase” oor dinge wat jou aangryp en vir jou besonder is. Dit is ook gewoonlik iets wat ‘n mens bly onthou en as spesiaal koester.

Ons verbind nie ekstase juis met ons godsdiens of in die kerk nie. Veral nie in die tradisionele kerke nie. Ons is bietjie skepties, met ons goeie boerebloed en nugter calvinisme, vir dit wat ‘n show is of wat opsweperig klink. Ons dink ekstasie is wanneer mense lights out in ‘n kerkdiens op die grond val of in beswyming gaan of in tale spreek.

Wat dit ook soms wel is. Paulus het veral in 1 Korintiërs gesukkel met ‘n gemeente waar sulke ekstatiese verskynsels handuit geruk het. Paulus was nie daarteen nie. Hy was maar net skepties waar sulke buitengewone verskynsels in die pad van die liefde gestaan het. Dit bly immers vreemd dat die Korintiërs wat so opgesweep in hul godsdiens kon raak, bitterbekke en twiskoppe was. Hulle het allerhande groepies gevorm en mekaar lelik opgekeil.

Ekstase hoef nie altyd met die buitengewone en abnormale te doen hê nie. Wanneer ‘n mens bid kan dit gebeur dat jy jouself volledig verloor in die gebed. Wanneer God op die voorgrond tree, tree die mens terug – en verdwyn selfs van die toneel af. In God se teenwoordigheid is daar helder lig, straal iets anders, groters en oorweldigends jou lewe so binne dat ‘n mens jouself kwyt is. Dit is niks anders as ‘n ekstatiese belewenis nie. Al jou aandag is by God, by wat voor jou afspeel. Jy is in ‘n verrukking oor wat jy ervaar. Wanneer dit met jou gebeur, het jy deel aan mistieke gebed.

‘n Mens lees soms ‘n boek sonder dat jy weet jy blaai die bladsye om. Of jy kyk op jou horlosie en jy besef jy is nou al ‘n uur aan die gang om iets te doen terwyl dit vir jou na ‘n minuut gevoel het. Jy het alle sin vir tyd verloor. Of jy sit soms vasgenael, besig om iets te doen en kom dan na ‘n ruk agter jy het jou skoon seer gesit sonder om dit agter te kom. Jy was onbewus van jou eie omstandighede terwyl jy jou ingeleef het. Dit is dus ‘n ekstatiese belewenis.

Dit gebeur soms in die kerk, soms. Dan word ‘n mens so deel van die erediens, van ‘n gebed, ‘n gesang, ‘n preek dat jy onbewus raak van jouself, dat jy jouself verloor en ervaar dat jy deur God aangeraak word. Jy verloor kontrole, jy weet nie van ‘n horlosie wat die tyd omtik nie, jy wens dit wil nie ophou nie. Jy het kontrole verloor oor jou lewe. Iets gebeur met jou wat jou beheer en naby God wil hou.

Eintlik word ‘n mens in so ‘n ekstatiese ervaring met God verenig. Soms gebeur dit vuriglik. Dit bly by jou draal. Jy sal nooit weer met dieselfde oë na die wêreld kyk nie.

God, weet ons, kan my so boei dat my hart vuriglik vir ‘n nuwe lewe brand. En, dikwels, volg na ekstase die donkerte van teleurstelling en mislukking. Maar dit is asof die donkerte en mislukking ‘n mens dryf om opnuut weer vir God te soek. Dit is asof ek dan hongeriger as ooit is om by God te wees.

Selfs die nugterste Calvinis weet van hierdie ekstase. Trouens, die Calvinis met geloof in die sola gratia, die ekslusiewe genade, besef juis hoedat God genadiglik in jou lewe inkom en jou so aanraak dat jy buite jou sinne raak. Die skares wat na Jesus geluister het, het dae lank sonder kos gebly. Hulle het aan die voete van die Leermeester van die Lewe gesit, verstom oor wat hulle uit sy mond kon gehoor het. Hongeriger as ooit het hulle aan sy lippe bly hang. Waar God genadiglik in ‘n bidder se bestaan instap, skyn die lig so helder dat niemand wil teruggaan na die donkerte sonder God nie.

Wanneer ons biddend na God verlang en God vir ons in ons gebed kom aanraak lank voor ons klaar gebid het, word ons in ekstase opgeneem. God vul ons sodat ons buite onsself van verrukking raak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive