Saturday, December 26, 2009

Om bewus te bly van hoe God ons transformeer.

Negatiewe gevoelens oorheers soms mense se lewens, veral wanneer hulle hulself met ander mense vergelyk. Dit maak hulle morbied en depressief.

Aan die ander kant is sommige onder die indruk van hul eie prestasies en die moontlikhede wat hulle het om bo alle ander mense uit te styg.

In Spiritualiteit word beklemtoon dat die mens deur God in die skepping getransformeer word uit niks. Ons praat van die transformasie in die skepping. ‘n Mens is gevorm deur God na die Beeld van God. God is die pottebakker wat ‘n mens bedink, ontwerp, vorm en maak.

‘n Belangrike deel van die mistieke ervaring is die oomblik dat ‘n mens besef dat God die Een is aan wie jy jou bestaan te danke het. God as Skepper is die een wat jou geskep het, net soos wat God die wêreld gevorm het. Dit dring tot jou deur en word 'n fokuspunt van jou lewe en iets waaraan 'n mens vashou. Dit is iets wat ‘n mens gedurig bedink soos ‘n mens deur God meer en meer in heiligmaking gevorm word. En ‘n mens bly vashou aan die “wete” – aan daardie oomblik dat jy tot die besef gekom het van God se allesbepalende rol in jou lewe.

Hierdie proses van vormgewing gaan dus gedurig voort en ons oefen onsself om nie hierdie transformasie te “vergeet” nie. Ons word gedurig, ook in die proses van heiligmaking, opnuut weer deur God gevorm en herskep. En daardie een beslissende oomblik dat ons God in ons lewe ontdek het, word ‘n lewenslange ketting van oomblikke van herinneringe aan wat God in ons lewens is en doen.

Wanneer hierdie besef tot ons deurdring, ook by herhaling, ervaar ons in ons innerlike dat ons eintlik niks sonder God is nie. Alles wat ons is, het ons aan God te danke. Die sentrum van ons bestaan skuif weg van ons na God.

Om te dink dat ons die beeld van God dra, nie maar net ‘n intellektuele insig nie. Dit is ‘n oorweldigende ervaring. Elke keer as ons dit bedink, raak ons bewus daarvan dat ons ‘n stuk ewigheid in ons omdra en dit doen iets aan ons. Die ontsaglike, oneindige God vorm ons om soos God te lyk. Daarom, ervaar ons verder, word ons uiteindelik ook in God se ewigheid opgeneem.

Wanneer ons besef dat ons niks is sonder God nie, dat ons totaal onbelangrik is, dat ons eintlik nikswerd is, gaan dit nie om ‘n afbrekende minderwaardigheidsgevoel nie.

En as ons so naby aan God leef met die wete dat ons niks sonder God is nie, is ons eie prestasies iets wat ons nie “bo ander” laat uitstyg nie. Dan is ons deur God geseënd met gawes wat ons gebruik om ander mense te dien, lief te hê en deel te maak van God se familie. Want hierdie gawes is God s’n en ons moet God se gawes gebruik soos God dit bedoel het – om te transformeer.

Die oomblik dat ons bewus raak van ons eie klein-heid in vergelyking met ons Skepper se grootheid, word ons bevry van grootheidswaan. Ons verstaan dat ons nie onsself geskep het nie, dat ons niks is sonder God nie. Maar die keersy hiervan is die onbegryplike, oorweldigende gevoel dat hierdie Skepper ons in die hand neem en ons ‘n goddelike beeld gee. Geborge in die liefdevolle omvorming van God kan ‘n mens nie minderwaardig wees nie. Wat saak maak is nie hoe ons presteer in ander se oë nie, maar om naby aan God se liefde te bly. Wanneer ‘n mens so naby aan God voel, word ons identiteit nie gevorm deur hoe ons met ander mense vergelyk of wat ander mense van ons dink nie.

Om na te dink hoe God ons transformeer in en deur skepping het ‘n verdere mistieke werking. Wat God aan ons doen, gebeur ook deur ons lewens. Soos God, is ons lewe ook transformatief in sy werking. Waar ons in menselewens teenwoordig is, word hulle deur God se teenwoordigheid in ons aangeraak en omvorm.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive